Titel: Dinge van ’n hond
Skrywer: SP Benjamin
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485903314
Wat het ’n voormalige boer, oudpersfotograaf, polisiesuperintendent en ’n gestremde man wat ’n bestaan vanaf ’n vullishoop maak gemeen?
Grond.
Oor die eeue en oor vele geslagte heen is oorlog gemaak, moord gepleeg en onmin tussen familielede gesaai as gevolg van grond. Binne die konteks van die Suid-Afrikaanse geskiedenis des te meer nog, met grondhervorming wat gemoedere aan beide kante van die politieke spektrum laat opvlam. Met die beoogde verandering van die grondklousule in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika wat tans in die parlementêre ad hoc-komitee gedebatteer word, verskyn SP Benjamin se nuutste roman Dinge van ’n hond op ’n tyd wanneer moeilike besluite met verreikende gevolge geneem moet word.
Benjamin debuteer in 1997 met Die reuk van steenkool, waarvoor hy die Sanlam/De Kat-debuutprys ontvang, gevolg deur ’n kortverhaalbundel, Die lewe is ’n halwe roman, in 1999 wat in 2000 met die gesogte Eugène Marais-prys bekroon is. Na ’n stilswye van meer as twee dekades verras Benjamin met ’n post-1994 plaasroman wat skrywers soos CM van den Heever, DF Malherbe en Jan van Melle se tradisionele plaasroman op sy spreekwoordelike kop keer.
Alhoewel die titel van die roman heel onskuldig mag voorkom, is dit allesbehalwe die geval. Na afloop van die eerste demokratiese verkiesing in 1994 word die Fouries se familieplaas, Gatlek, deur die staat aangekoop as deel van die grondhervormingsproses. Die nuwe eienaars woon egter nie lank op die plaas nie en die plaas verval in onbruik met die grond wat braak lê. Terwyl die eertydse plaaseienaar, Dawid Fourie (of Druiwe, soos die plaaswerkers na hom verwys het), van die verlede probeer ontvlug deur grafstene in sy agterplaas te maak, kan sy seun, Jan-Vlok, nie aanvaar dat hy van sy erfporsie ontneem is nie. Jan-Vlok se donker verlede en sadistiese dade spook by hom. Hy moet dit wat op Gatlek gebeur het, ten alle koste geheim hou. Sy oom, Outa, is vasbeslote dat die waarheid moet seëvier. Die leser word met indringende vrae gekonfronteer: Het Sunshine Solani in die plaasdam verdrink? Waarom sal iemand honde doodslaan en jong meisies seksueel misbruik? Wat het tydens die laaste groot vleisbraai op Gatlek gebeur? En waarom lê daar ’n swart plastieksak met ’n dooie seun daarin op die vullishoop? Sulke vrae laat die spanning stelselmatig opbou totdat Gatlek se geheime ontbloot word.
Klippies, Jan-Vlok se eertydse jeugvriend van Gatlek, is ’n sagmoedige man wat ten spyte van sy gebrek, armoede en weerloosheid die stem van rede en vergifnis in die roman is. Sy empatie met sy medemens en die roerende liefdesverhaal tussen hom en Bettie Rondganger skep lig in die spreekwoordelike donker van die narratief. In die proses moet Bettie haar eie duiwels uit haar verlede konfronteer wanneer Abie onverwags met haar vervreemde suster en susterskind by Klippies se huis opdaag. Ook sy moet, soos Jan-Vlok, haar gevoelens van woede en verontwaardiging teenoor haar familie, maar veral haar pa, verwerk.
Met Dinge van ’n hond ondersoek Benjamin die baas-klaas-verhouding wat kenmerkend is van talle Suid-Afrikaanse plaasgemeenskappe. Die roman bied ’n perspektief op die verlede en dwing die leser om krities te besin oor onregte wat gepleeg is en steeds gepleeg word. Dit is egter nie ’n politiese teks nie, maar eerder ’n roman wat die sosiopolitieke gebeure van die verlede op ’n eerlike wyse ontleed sonder om vingers te wys of te blameer.
Benjamin beskik oor die vermoë om deur middel van sy taalgebruik, geloofwaardige karakterisering en die gebruik van verskillende vertelperspektiewe ’n narratief weer te gee wat lesers tot selfrefleksie dwing te midde van die sensitiewe en soms omstrede onderwerpe wat in die roman aan bod kom. Dinge van ’n hond neem bestek op van Suid-Afrika se geskiedkundige verlede. Gatlek was nie net ’n plaas nie – die sleutels tot die slotte van die verlede lê in die grond opgesluit en soos Druiwe, Outa, Klippies en Bettie moet ons nog baie gesprekke oor grond asook die onregte van die verlede voer. Miskien was NP Van Wyk Louw se woorde profeties toe hy in “Klipwerk” (1954:43) opgemerk het:
die swart klip waar jou vuur was
is byna dood gereën
hierdie grond was nie gekoop nie
sommer maar geleen
Bronnelys:
Louw, NP Van Wyk. 1954. Nuwe verse. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.