Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking, soos die ander besprekings in die reeks, spesiaal vir leeskringe. Hy kies die boeke self. Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hier onder gedeeltes van die intrige verklap.
Titel: Van vaders en vlugtelinge
Skrywer: SJ Naudé
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798183949
Van vaders en vlugtelinge bestaan uit vyf kortverhale, en tog word dit op die voorblad as “roman” getipeer. Die rede is dat die struktuur iets tussen dié van kortverhale en van ’n roman is. Elkeen van die verhale kan uit eie reg, onafhanklik van die ander, gelees word; maar daar is soveel bindende skakels dat baie verlore gaan as hulle nie met mekaar verbind word nie. Ek sal elkeen van die verhale eers apart bespreek en ten slotte op die bindende skakels wys.
1. Waar die wolwe paar
Daniël is die fokalisator van die storie, soos in drie van die ander verhale; met ander woorde, die leser neem alles vanuit sy perspektief waar. Dit is belangrik om te let op die wisseling in Daniël se houding teenoor die twee Serwiërs wat sy lewe binnekom, en gepaard daarmee, die veranderinge in die leser se siening van die twee.
Die eerste indruk wat hulle maak, is nie gunstig nie. Oliver kom nie betroubaar voor nie – hy vertel hoekom hy in Londen is, en skep ’n ongeloofwaardige beeld van homself as vlugteling vir sy vryheid: “Alles opgeoffer vir ons vryheid.” Jugo, sy metgesel, glo kennelik nie die storie nie, maar speel laggend saam: “Jugo grinnik. ‘Alles,’ eggo hy” (11). Daar is ’n duidelike suggestie dat die Serwiërs op Daniël wil parasiteer. Hulle gee hom gereelde seks, maar hy betaal vir alle uitgawes. Hulle verras hom telkens: Oliver en Jugo verdwyn plotseling sonder om ’n boodskap te laat, maar kort daarna kry Daniël uit die bloute ’n e-pos van Oliver met die voorstel dat hulle ’n “reünie” in Duitsland hou. Oliver reël alles, maar Daniel is die een wat betaal – Oliver het dit “meesterlik uitgewerk” (24).
Die teenstelling tussen die welgestelde Daniël en die Serwiërs wat geen geld het nie, kom al hoe sterker na vore. Reeds in Londen is daar ’n suggestie dat hulle armoedig is – wanneer Jugo inkopies gaan doen, bly hy lank weg, want hy het nog nooit so ’n verskeidenheid kossoorte gesien nie. Waar hy vandaan kom, is dit ongekend: “Hy straal. ‘Daar is eenvoudig soveel interessante produkte en mense! ’n Mens kan heeldag tussen die rakke rondloop!’” (17) In Duitsland laat blyk Jugo sy afkeer van die bevoorregte Daniël: “‘Jy’s ’n snaakse een, Daniël,’ sê Jugo. ‘Met al jou maniere. Al jou priveleges.’” Tydens die drie se verblyf in die Serwiërs se woonstel in Belgrado word die afstand tussen hulle en Daniël bevestig. Hulle maak nie vir hom, soos vroeër, plek in hulle bed nie; Oliver tree beskermend teenoor Jugo op en afstandelik teenoor Daniël. Oliver se leuentaal word nou ontbloot, want dit blyk dat hulle nie vir hul vryheid na Londen gevlug het soos Oliver vroeër beweer het nie, maar uit armoede, met die hoop om op rykes te teer. Die front wat hulle vir Daniël voorgehou het, verdwyn.
Die besoek aan Belgrado skep ’n somber beeld van die stad waarin hulle woon en wat hulle gevorm het. “Hier staan ons almal pa,” sê Jugo (36), maar die waarheid is dat daar geen pa’s is nie – die seuns leef in bendes en die jonger seuns word deur ouer seuns grootgemaak (44). Dis ’n samelewing van armoede, diefstal, wanhoop en woede. Die opgekropte woede blyk onder meer uit Jugo se gewelddadige reaksie wanneer ’n seun per ongeluk ’n sokkerbal teen Daniël se kop skop. Die Serwiërs se wanhoop bereik ’n krisispunt wanneer dit blyk dat hulle uit hul woonstel gesit gaan word omdat hulle nie die huur kan betaal nie. Toe Daniël weier om die woonstel vir hulle te koop, beëindig hulle gesamentlik hul lewens. Daniël kom op ’n somber toneel af: Hulle het hulself opgehang met twee van sy gordels, en dit blyk dat hulle mekaar omhels het voordat een van hulle die stoel onder hulle uitgeskop het.
Hulle is deerniswekkende karakters – mense wat alle hoop verloor het, maar tog die liefde vir mekaar behou het. Dit titel van die verhaal verbind hulle met wolwe, maar hulle is meer as roofdiere; hulle is ook menslik. Albei het ’n maat gevind om lief te hê en om mee te “paar”. Die natuurtoneel waarna hulle op die televisie kyk, van die twee wolwe wat van ’n donkie wegvlug, suggereer ook ’n mate van deernis. Die twee is vlugtende “wolwe” wat nêrens ’n tuiste het nie; roofdiere gevorm deur ontbering en deur die genadelose omgewing waarin hulle grootgeword het.
Die feit dat hulle hulself met Daniël se gordels om die lewe gebring het, suggereer dat hy betrokke by hul dood is. Op ’n manier is dit wel die geval. Subtiel kom die rede na vore waarom Daniël steeds nie sy rug op hulle gekeer het nie, hoewel dit vir hom duidelik moes geword het dat hulle hom misbruik. Die rede is dat Daniël hulle as stof vir ’n verhaal wou gebruik. Hy sukkel met ’n skrywersblok (17) en hoop dat die Serwiërs hom weer aan die skryf sal kry: “Maar hoofsaaklik het hy gereken – gehoop – hulle sou kleur aan sy dae kom verleen en sy fiksie in ’n nuwe rigting skok. Dat hy hulle sou kon rondskuif soos pionne. Of rekwisiete” (47).
Ná die Serwiërs se dood dink Daniël terug aan die fantasieë wat hy gekoester het. Hy het gehoop dat hulle allerlei verskriklike dinge sou beplan wat kleur aan sy vervelige bestaan sou verleen en dramatiese gegewens vir ’n verhaal sou verskaf:
Sy gedagtes werp ’n soeklig op die onlangse verlede. Watter fantasieë van risiko het hy gekoester? Watter onheil het hy van die Serwiërs verwag? Dat hulle beplan het om hom dronk te maak op goedkoop bier daar in die Duitse kampterrein ten einde hom dan gruwelik te vermoor? (46)
Soos die Serwiërs hom gebruik het, het hy hulle ook gebruik, maar vir ’n ander doel. Hulle nood was materieel, syne was van ’n geestelike aard – verveeldheid en skrywersfrustrasie. Oliver se ma bars ná haar seun se dood teen Daniël los met ’n irrasionele tirade, maar haar beskuldigings is nie van alle waarheid ontbloot nie: “Hulle was jou prooi! Jy het hulle opgevreet” (49). Daniël het gewonder waarom hulle gesterf het, en kom tot die gevolgtrekking: “Hulle is dood [...] om my te bevry. Soos Jesus, het hulle vir my gesterf” (48–9). Dit is asof die rolle van oortreder en slagoffer nou omgeruil word: Die Serwiërs, wat van allerlei oortredings beskuldig word, is die slagoffers van ’n somber werklikheid en verdien ons simpatie; en Daniël is die verveelde egoïs wat hulle vir sy eie doeleindes gebruik het.
Wanneer Daniël ten slotte na Londen terugkeer, hervat hy sy vroeëre lewe, maar tog met ’n verskil. Die herinnering aan die dooie liggame van die Serwiërs is soos ’n “koors” wat in hom gestook word, en hy begin soos ’n besetene aan ’n verhaal te tik. “So word ’n mens opgewek uit die dood,” dink hy (50). Die “opwekking” uit die dood geld vir hom sowel as vir die Serwiërs. Sy skryfwerk het hom uit sy leë, doodse bestaan gered; en die gestorwe Serwiërs het in sy verhaal herleef.
2. Verlore in Maleisië
In hierdie storie word ’n aantal van die sentrale temas in die roman saamgetrek. Prominent is die tema van die verhouding van die seun met die vader en, gepaard daarmee, die onvermoë van die seun om ’n veilige tuiste te vind. Daniël het uit Londen na Kaapstad gekom om sy vader te versorg wat sterwend is en aan demensie ly. Hy is ’n pendelaar tussen verskillende plekke, sy weë gerig deur die vader, aangetrek en afgestoot deur hom. Die liggaamlike aftakeling en afsterwe van sy vader bring ook die tema van die mens se sterflikheid na vore. Verder is die tema van Daniël se skryfwerk aanwesig – ál hierdie temas kom deur die hele roman voor. Daarby is die skerp ironie wat hier aanwesig is, ’n kenmerk van die roman in sy geheel.
........
Prominent is die tema van die verhouding van die seun met die vader en, gepaard daarmee, die onvermoë van die seun om ’n veilige tuiste te vind.
........
Daniël en sy pa is saam in Daniël se woonstel. Omdat sy pa dement is, kan Daniël vir die eerste keer openlik met hom praat en hom al die dinge vertel wat sy pa sou veroordeel het as hy by sy volle verstand was. Hy vertel van sy gaylewe en sy mislukte verhoudings. Hy kla selfs sy vader aan, en suggereer dat sy pa die oorsaak van die mislukkings was (60). Dit is ironies dat Daniël openhartig kan wees slegs as sy pa nie sy woorde begryp nie; in die vader se enkele helder oomblikke praat hy net oor mense en dinge wat Daniël uitsluit (58). En tog, ondanks die swak verhouding tussen vader en seun, is Daniël vol deernis teenoor die sterwende man, en versorg hy hom pligsgetrou tot die einde.
’n Visioen (of droom?) wat hy kry, gee op ontroerende wyse die kern weer van sy verhouding met sy vader. Hy droom dat hy as kind ’n woud binnestap, en in sy hand is ’n spoel met kilometers garing. Van êrens skyn daar ’n lig, en hy hoor die stem van sy pa: “Dit maak nie saak hoe ver jy gaan nie, Daniël, ek sal die garingspoor kan volg, dit al die pad deur my vingers voer. Aan die ander punt sal ek jou altyd vind” (76).
Dit voel vir Daniël of hy nog steeds daardie spoel in sy hand het. Maar as hy om hom rondkyk, sien hy net ’n kraaines van garing, “verstrengel om die stamme van duisend bome – die resultaat van dae, of dalk weke of jare, se sirkelroetes” (77). Die pa was nooit aan die ander ent van die garing nie.
Sy vader se pynlike en vernederende aftakeling bring die tema van sterwe en sterflikheid op die voorgrond. Dit word uitgebrei in die vertelling van Daniël se rit op die see in sy kajak. Vragskepe is oral rondom hom, en dan is daar een wat lyk of dit op hom gaan afstuur. Daniël plaas homself reg in die skip se pad, en die skadu van die skip val op sy kajak. Maar dan roei hy kragtig om van die skip te ontsnap, en hy slaag daarin. Die toneel toon sy weifeling tussen doodsverlange en doodsvrees – hy verlang na die dood, maar wil dit ook ontvlug. Wát hy egter ook al sou doen, die skaduwee van die skip van die dood sal steeds simbolies oor sy lewensboot val. “Tussen die skepe en die hawe dryf Daniël en sy kano, ’n geel spikkel op die water wat wyd en helder soos breinvog onder hom lê” (76). Die vergelyking van die water met breinvog herinner aan sy pa, van wie die breinvog gedreineer moes word om sy pyn te verlig. Daniël is sy pa se kind; hy roei as ’t ware in sy pa se waters, en sy pa se lot lê ook vir hom voor.
Nog ’n tema wat ons hier vind en wat regdeur die roman voorkom, is die tema van Daniël se skryfwerk. Aanvanklik koester hy ’n weersin teen skryf, maar hy besef ook die onvermydelikheid daarvan (58). Wanneer die hitte ondraaglik is, kan hy nie skryf nie (70); maar dan bedaar die hitte, en ’n mis kom oor die stad wat soos salf op sy vel voel. Dit bring as ’t ware ’n sluier oor die stad, en dit voel asof hy in ’n akwarium beland (78), afgesonder van die buitewêreld. Dan is dit asof sy rekenaar vanself aanskakel, en die verhaal eindig met die volgende woorde: “Hy trek die mis in sy longe en stap na binne, waar die toetsbord op sy nat vingers wag.”
Die titel van die verhaal verwys na ’n karakter wat nie belangrik in die intrige is nie, maar wat tematies wel by die res van die verhaal aansluit. Dit verwys na die man wat saam met Daniël se pa in die hospitaal is, ’n handelsvlieënier wat ernstig in Maleisië aangerand is sodat met die gevolg dat hy nie weer sal kan vlieg nie. Boonop stel sy vrou nie meer in hom belang nie; met die aanranding het sy saam met die kinders uit sy lewe verdwyn. Hy is dus inderdaad verlore, sonder familie en sonder werk, en gruwelik vermink.
Daar is grade van verlorenheid in die verhaal. Die eksvlieënier se lot is die ergste; maar die vader se lot is ook swaar – hy is in die proses van ’n pynlike, langsame sterwe, en sy dogter en kleinkinders besoek hom nie meer nie. Daniël is nie fisiek nie, maar emosioneel vermink, verwond deur die verhouding met sy vader. In laaste instansie handel “Verlore in Maleisië” oor die mens as verlorene, ’n verwonde in ’n vreemde wêreld.
3. Hankai
Ná die dood van Daniël se vader word die inhoud van die testament bekendgemaak. Die erflating word gelykop tussen Daniël en sy suster verdeel, maar dit bevat ’n vreemde bepaling vir Daniël: Hy moet vir ’n maand by sy neef Theon op dié se plaas in die Vrystaat gaan bly, en hom ondersteun en opbeur. Daniël het geen kontak met sy neef gehad sedert hul kinderjare nie en kan die rede vir hierdie versoek nie begryp nie. Eers aan die einde van die verhaal word die rede gesuggereer. Dit blyk dat daar ’n seksuele aangetrokkenheid tussen Daniël se pa en die pa van Theon was, maar dat Daniël se vader dit ontken en onderdruk het en met Daniël se ma getrou het (131–2). Dit wil voorkom of Daniël se pa later berou oor hierdie stap gekry het en dat hy wil hê Daniël moet nou, deur in kontak met Theon te kom, die fout van sy vader regmaak en die tipe verhouding aanknoop waarvoor Daniël se pa nie kans gesien het nie.
Dit is belangrik om te let op Daniël se ontwikkeling in die loop van die verhaal. Die testament roep jeugherinneringe by hom op, en hy onthou ’n episode toe Theon toenadering by hom gesoek het. Hy het destyds die voorbeeld van sy pa gevolg en afstandelik en neerbuigend teenoor die familie in die Vrystaat opgetree, en tog was daar tekens van seksuele aangetrokkenheid tot Theon – hy wou naby Theon stap sodat hy die hitte van sy liggaam kan voel (85). As volwassene kom Daniël op die plaas in ’n situasie wat vir hom volkome nuut is, en dan begin die verandering. Hy bly saam met vyf plaaswerkers en drie van hul kinders in Theon se huis. Sal hy, wat nooit in sy vaderhuis ingepas het nie, nou deel van ’n harmoniese gesin word waarin die grense tussen baas en werkers en tussen wit en swart oorskry word? Daar vind positiewe veranderinge by Daniël plaas en hy dink: “Ek het ’n soort gesin, ’n familie. Ek het kinders rondom my. Ek is gesond. Tevrede, selfs” (92). Die plaas se ritmes begin hom geval (100), en hy ervaar ’n soort vreedsaamheid (101). Die situasie is ook geskep vir ’n liefdesverhouding wat die eensaamheid van die twee mans kan oorbrug.
Theon is ’n heeltemal ander tipe persoon as Daniël en het ’n merkbare invloed op hom. Anders as Daniël is hy openhartig en skroom hy nie om oor sensitiewe onderwerpe te praat nie. So help hy Daniël om homself te leer ken. Hy wys Daniël op sy gebrek aan menslikheid (89) en verwyt hom omdat hy nooit iets met sy neef te doen wou hê nie (105). Dit blyk ook dat Daniël vir Theon heeltemal verkeerd beoordeel het – hy het nie besef dat Theon ontuis op die plaas was en dat hy, soos Daniël, wou wegkom van die beheer van sy vader nie (106). In teenstelling met Daniël, wat in Londen ’n onbetrokke lewe gelei het, is Theon iemand wat vir ander omgee. Hy is intens betrokke by die lot van Motlante, die seun wat by hom in die huis bly en wat bloedkanker het. Hy het hom grootgemaak soos sy eie seun (98) en is vasbeslote om die kind se lewe te red. Daarom vra hy Daniël om die prys te betaal vir ’n reis met Motlante na Japan, waar ’n wondermiddel vir kanker skynbaar ontdek is.
Daniël word deur Theon se onselfsugtige betrokkenheid aangesteek. Hy betaal vir hulle twee se reis met die seun na Japan, en later, wanneer die kind gesterf het, betaal hy om die lyk na die Vrystaat te bring. Dan kom daar ’n tydelike skeiding tussen hom en Theon. Hy gaan in Kent woon, maar sy gehegtheid aan Theon blyk steeds wanneer hy die helfte van sy erflating aan sy neef bemaak. Die verhaal eindig belowend vir die verhouding. Theon stel voor dat Daniël in die Vrystaat kom woon, sodat hulle mekaar “behóórlik kan leer ken” (133), en Daniël koop ’n eenrigtingkaartjie na Suid-Afrika. Sal hy daar die permanente tuiste en die vaste verhouding vind waarna hy steeds gehunker het?
Die Japannese dokter wat Motlante behandel, vertel aan hulle ’n storie van hoop: In sy lewe is rampspoed gevolg deur herstel. Hy het sy vrou en kinders in ’n tsunami verloor en het deur sy melancholie blind geword. Sy lewe was “hankai”, “halfverwoes” (110), maar hy het geleer dat genesing moontlik is: “Daardie tyd het ek gedink ek is ook hankai. Maar, en dit besef ek al meer, die siel is sterk. ’n Mens bly nie altyd ’n ruïne nie” (110). Hy het ’n nuwe lewensdoel gevind deur pasiënte te dokter: “Die lig het stadig teruggekeer. Ek kon weer werk, pasiënte probeer red. Besig bly, aan die gang wees” (117). Tog word die dokter se positiewe boodskap in ’n mate geïroniseer deur die feit dat Motlante onder sy hande gesterf het. Theon en Daniël se hoop dat hy die kind se lewe sou red, is beskaam.
In Japan, vind hulle uit, word die seisoene anders as in die Weste bereken. Elke seisoen is net vyf dae lank, en elke seisoen verskil sterk van die ander. Theon is gefassineer deur die Japanse seisoene: “‘Rikka. Die begin van die somer in Mei. Die paddas begin sing, die wurms kruip uit die grond, die bamboes loop uit.’ Dan skielik is dit Kanro, die tyd van die koue dou. ‘Die wildeganse keer terug, die krisante blom, die krieke kriek buite die deur’” (113). Hy lees uit die toeristegids voor oor die seisoene en begin die volgorde willekeurig te verander. In hulle ervaring is die seisoene van die lewe ook so – wisselvallig en onvoorspelbaar.
4. Die geboortepyne van termiete
Die vergeefse poging om die óú lewe agter te laat en met ’n volkome nuwe lewe te begin, wat ons reeds in die vorige verhaal vind, kom hier nog sterker na vore. Dit is die enigste verhaal waarin Daniël nie die fokalisator is nie. Die verhaal word vertel uit die perspektief van Hein, ’n eensame jong swerwer met ’n mislukte lewe agter hom. Die feit dat Daniël, die sentrale karakter in die roman, nie hier die fokalisator is nie, suggereer dat sy lewe (en ook Theon s’n) in ’n rampspoedige rigting gestuur word deur ’n onverwagse ingryping van buite. Dit is ironies dat hierdie ingryping veroorsaak word deur ’n karakter wat in baie opsigte met Daniël en Theon ooreenkom. Soos Daniël, het hy ’n vaderprobleem; hulle het ook albei ’n suster wat op hulle neersien. Theon se vrou het hom in die steek gelaat en die meisie in Hein se lewe het hom verlaat. Hein is op soek na ’n tuiste, soos Daniël, en hoop om dit te vind deur sy verblyf op Eenzaamheid, Theon se plaas; maar dis ’n plek waar die eienaar en sy neef self ook nie tuis is nie.
By Hein kom die hoop op ’n nuwe begin sterk na vore. Telkens droom hy; telkens misluk hy. Hy het nie sy universiteitstudie voltooi nie en hoop om sukses as ’n popsanger te behaal, maar dit gebeur nie. Dan vind hy vir Shelley, wat vir hom lyk na die vervulling van sy diepste verlangens, maar die verhouding duur nie lank nie. Sy verlaat hom, want sy sê: “Jy maak my net so lost soos jy” (151). Nou ontstaan sy volgende droom: om ’n kind te hê vir wie hy ’n vader kan wees. Met groot teerheid praat hy met die kind wat hy ontvoer het, vir wie hy alles wil gee wat hy self nie gehad het nie – maar hy is kennelik nie in staat om sy droom waar te maak nie: “Jy het iemand nodig om vir jou die wêreld te wys, kiddo. Iemand wat jou dinge leer. Hoe om vry te lewe, jou nie te laat vasbind nie. Hoe om jou eie kompas te vind. Hoe om niemand nodig te hê nie, maar nooit eensaam te wees nie” (161).
........
Die krisis in die verhaal ontstaan deur ooreenkomstige, maar botsende drome.
........
Die krisis in die verhaal ontstaan deur ooreenkomstige, maar botsende drome. Daniël en Theon wil ook opnuut begin; hulle het ook ’n droom waarin ’n kind ’n kardinale rol speel. Hulle wil Malefu se kleinkind aanneem om te vergoed vir die dood van Malefu se seun vir wie hulle na Japan geneem het. Hulle wil trou en die kind na Engeland neem, waar hulle hom wil versorg en die harmoniese gesinslewe tot stand wil bring wat hulle self nooit geken het nie. Maar hulle planne word gedwarsboom deur Hein wat die kind ontvoer en sy dood veroorsaak.
Hein is, ondanks sy rampspoedige planne, ’n deerniswekkende karakter met ’n lewe deurtrek van ironie. Sy naïewe mistiek (“Ek’s op ’n interior mission, op pad na enlightenment”) lei hom op ’n dwaalspoor. Sy bedoelings is goed, maar sy optrede is dwaas. Wanneer sy planne met die kind nie slaag nie, vertrek hy op ’n laaste soektog – om sy vader te vind, die vader wat duidelik nie in hom belangstel nie.
Te midde van al die teleurstellings en wisselvallighede bied die verhouding tussen Daniël en Theon toenemend vir albei ’n vaste punt. Hulle is heg aan mekaar verbonde en wil saam na Engeland gaan, waar hulle saam die kind wil versorg. In die verhouding met Theon het Daniël ’n vastigheid gevind wat vroeër by hom ontbreek het. Dit blyk uit sy woorde aan sy neef: “Jy weet goed ontsnapping beteken niks sonder jou aan my sy nie [...] Dis nie vir my vanselfsprekend dat jy sal wil kom nie, maar natúúrlik wil ek jou by my hê wanneer ons hierdie wrede plek agterlaat” (154).
In hierdie verband is hulle name betekenisvol. Theon is in Grieks die akkusatief van Theos, wat “God” beteken, en die naam Daniël herinner aan die Bybelse profeet wat in die leeukuil beland het, maar oorleef het omdat hy deur God bewaar is. Die suggestie is dat Daniël in Theon ’n redder gevind het wat hom in staat gestel het om in die “leeukuil” van hierdie wêreld te oorleef.
Die titel van die verhaal, “Die geboortepyne van termiete”, verwys na Eugène Marais se boek Die siel van die mier. Marais het beweer dat geboortepyne noodsaaklik is in die dierewêreld, want sonder geboortepyne versorg die ma’s nie hul kleintjies nie. Sy boek bevat ’n beskrywing van hoe versorgend skerpioenma’s is wat geboortepyne ervaar het:
Ná die kleintjies uitgekom het, met hul knypers en angels en alles – ná al daardie pyn – dan dra sy hulle saggies-saggies op haar rug rond. (147)
Die aanhaling herinner aan die moeite en pyn wat Daniël en Theon ervaar het in hul pogings om Melefu se kleinkind aangeneem te kry. Hulle het as ’t ware geboortepyne gehad, en dit het waarskynlik hul gehegtheid aan die kind versterk, maar dit is ironies dat die lewe van die kind voortydig tot ’n einde gekom het en dat hulle pyn, anders as by termiete, geen blywende sin gehad nie.
5. Die stad van vaders en seuns
Die vyfde verhaal bevat die ontknoping en afsluiting van die roman. Dit vertel wat met Hein en die baba gebeur het, en gee ook die verdere lewensloop van Daniël en Theon. Die titel bevestig die belangrikheid van die vader-seun-verhouding in die verhaal, en ook in die roman in sy geheel. Sowel Daniël as Theon se lewensloop is in ’n groot mate deur die swak verhouding met die vader bepaal. Dit is die vaders wat die seuns vlugtelinge maak, rustelose pendelaars op soek na ’n tuiste. Daniël se reise neem hom na Kaapstad, Londen, Kent en die Vrystaatse plaas waar hy en Theon saam gewoon het: “Sy terugkeer-en-vertrek-rituele kry nie einde nie, dink hy. Sy lewe is een van valse beginne en valse eindes. Vol kortgeknipte avonture, vol nuwe hoofstukke ná dit lyk of alles verby is” (182).
Die “stad” van die titel kan na enigeen van die verskillende stede en plekke verwys waar Daniël gebly het: Londen, Kaapstad, Kent. In ’n sekere sin is elke stad waar hy gewoon het, deur die verhouding met die vader bepaal. Verder het stad ook ’n assosiasie met stede, wat “plek” kan beteken. Elke plek waar Daniël was, was ’n plek van die vader en die seun. Die meervoudsvorm (“vaders en seuns”) in die titel is ook belangrik, want die problematiese verhouding van Daniël met sy vader is tipies van wat op vele plekke in die werklikheid gebeur.
Daniël se laaste reis is na die begraafplaas van die Vrystaatse plaas. Feitlik al die karakters van die voorafgaande stories lê daar begrawe. Dit is hul finale tuiste, die plek van uiteindelike rus, maar die rus kan eers tot stand kom wanneer die lewe verby is.
Uiteindelik sterf ook Daniël daar, verbind met sy geliefde vriend deur die dood, wat alle skeidings ophef. In ’n toneel wat aansluit by die slot van “Verlore in Maleisië”, waar Daniël in sy kajak op die see ry, word Daniël se dood beskryf. Hierdie keer kan hy nie, soos vroeër, die dood ontduik nie: “Kort voor lank sal die skaduwees van diepseeskepe oor hom val. Hy sal nie verwag dat ’n reddingsbootjie afsak nie” (191).
Die Vrystaatse gras verander in “die wêreld se oseane”, en dan word hy met die groot geheel verenig: “En nou begin die kuur van gewigloosheid werk: Hy voel sy heup, wonderbaarlik, nie meer nie. So sal hy bly dobber in die deurskynende see. Sonder pyn of behoefte. Tot hy self water word” (191).
Slot
Ek het aan die begin genoem dat Van vaders en vlugtelinge se struktuur tussen dié van ’n roman en ’n kortverhaal is. Elkeen van die vyf verhale kan op sy eie bene staan, maar daar is vele skakels wat hulle tot roman verbind. Hulle volg chronologies op mekaar en vorm gesamentlik ’n intrige. Die eerste verhaal, oor Daniël se lotgevalle saam met die twee Serwiërs, word gevolg deur “Verlore in Maleisië”, waar vertel word hoe Daniël skryf oor wat met die Serwiërs gebeur het. Hierdie tweede verhaal handel ook oor die dood van Daniël se pa, en in die derde verhaal word vertel van die vader se testament wat lei tot Daniël se besoek aan die plaas van sy neef en hulle verhouding wat tot stand kom. So lei die gebeure in die een verhaal steeds tot dit wat in die volgende een gebeur, tot by die dood van Daniël, wat afsluiting bring.
........
As sentrale karakter en fokalisator in vier van die vyf verhale vervul Daniël ’n sterk bindende funksie. Die sentrale temas word in sy ervaringe beliggaam. Sy skryfwerk is ’n belangrike deurlopende tema.
........
As sentrale karakter en fokalisator in vier van die vyf verhale vervul Daniël ’n sterk bindende funksie. Die sentrale temas word in sy ervaringe beliggaam. Sy skryfwerk is ’n belangrike deurlopende tema. ’n Belangriker eenheidskeppende faktor is die ontwikkeling van die verhouding tussen hom en Theon – die steeds hegter verbintenis wat tot stand kom. Sowel Daniël as Theon het onder die vader gely, en hierdie lyding is die vernaamste tema in die roman. Die vaders maak van die seuns vlugtelinge, onrustig op reis, afgestoot en aangetrek deur die vaders. ’n Ware tuiste word nie gevind voor die finale rusplek van die dood nie. Telkens is daar ’n poging om ’n nuwe begin te maak, maar die lewe is onvoorspelbaar, en hulle hoop is telkens deurtrek met ironie.
Ondanks die volgehoue ironie word die verhale met groot deernis vertel. Ná sy pa se dood kom daar ’n teerheid oor Daniël, ’n emosie wat regdeur die roman te vinde is: “Dit verbaas Daniël hoe hy vandag elke objek (vurk, bord, koerant, bril) hanteer asof dit ’n pasgeborene is. Alles is op die punt om te breek; hy moet alles touwys maak in teerheid” (77).
Teerheid en deernis, saam met ironie, bepaal die styl van die roman. Dit maak daarvan ’n ontroerende werk, in die gees van die bekende woorde uit “Groot ode” van NP Van Wyk Louw:
eintlik moet ons leer ironies lewe:
én: binne die ironie nog liefde hou.
Lees ook:
Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay