Raka deur NP Van Wyk Louw: ’n leeskringbespreking

  • 2

Raka deur NP Van Wyk Louw is oorspronklik in 1941 gepubliseer. Beskikbaar: Tafelberg

1. Inleidend

Dit is goed dat leeskringe hul nie beperk tot die nuutste publikasies nie; klassieke tekste mag nie vergeet word nie. Raka 1is so ’n klassieke Afrikaanse literêre teks, ’n hoogtepunt in die Afrikaanse letterkunde. Ongelukkig is dit nie altyd so maklik om die ouer tekste in die hande te kry nie. Gelukkig het die kopiereg op Raka verval, omdat die digter reeds meer as 50 jaar gelede gesterf het, en kopieë van die teks is geredelik op die internet bekombaar. 

Raka verskyn in 1941; dit volg op die digbundels Alleenspraak (1935) en Die halwe kring (1937). In Alleenspraak is daar ’n liriese aanslag; die gevoelens en gedagtes word direk bely. Geleidelik beweeg die digter weg van die direkte belydenisvers na gestalteverse, waar gestaltes die indirekte draers van die idees en die emosies is. Iets van hierdie oorgang vind ons reeds in Die halwe kring (1937); dit is duideliker in Raka en word bevestig in die digbundel wat daarop volg: Gestaltes en diere (1942).

2. Aansluiting by verskillende tradisies

Raka sluit aan by verskillende literêre tradisies wat in die werk verbind en vernuwe word. Eerstens sluit dit aan by die tradisie van die literêre epos. MH Abrams definieer hierdie genre soos volg in A glossary of literary terms:

In a strict use by literary critics the term epic or heroic poem is applied to a work that meets at least the following criteria: it is a long narrative poem on a great and serious subject, related in an elevated style, and centered on a heroic or quasi-divine figure on whose actions depend the fate of a tribe, a nation, or the human race. 

Heelwat van die kenmerke wat Abrams noem, is op Raka van toepassing – dis ’n verhalende gedig in ’n verhewe styl oor ’n “great and serious subject”; daar is ’n heroïese karakter, en die lot van ’n nasie is op die spel. Abrams noem die volgende werke as voorbeelde van die epos: die Ilias en die Odusseia van Homerus, die Oudengelse epos Beowulf, Vergilius se Aeneïde en Milton se Paradise lost. 

Ook is verskeie tipiese kenmerke van die klassieke Griekse tragedie in Raka te vind. Die protagonis is ’n tragiese held, ’n persoon met bo-gemiddelde waardes en talente wat ondergaan in die stryd teen antagonis(-te) wat laer waardes verteenwoordig, maar die held bly nogtans heroïes in sy ondergang. Daar is ’n noodwendigheid in die gebeure, ’n tragiese noodlotsgang wat oor vyf bedrywe voltrek word. Naas die uitbeelding van die handeling word daar ook liriese kommentaar deur ’n rei gelewer. Alhoewel die Griekse tragedie ’n tragiese ondergang uitbeeld, is daar dikwels ’n beperkte element van hoop aan die einde, wat egter nie die tragiek van die katastrofe kanselleer nie. Al hierdie elemente kan in Raka teruggevind word.

Derdens is daar ’n aansluiting by die Christelike tradisie – Koki kom in ’n mate met Jesus ooreen. Hy is die verteenwoordiger van die hoogste suiwerheid in sy volk; hy het die Raka-element in hom afgesterf, en die kwade kan geen houvas op hom kry nie. Soos Jesus, is Koki ’n leier wat aanvanklik die mense inspireer, maar later in die steek gelaat word. Sy lewe eindig in eensaamheid, op ’n gewelddadige wyse, soos Jesus s’n. Hy is die onskuldige wat sterf, wat die woede van sy bose antagonis op hom trek. Koki het as ‘t ware ’n Getsemane-oomblik wanneer hy die noodwendigheid van sy einde besef en dit aanvaar.

3. Verstegniese aspekte

Die metriese basis van die epos is die vierheffingsvers, met ander woorde vier beklemtonings per versreël, maar dit is nooit ’n dreunende ritme nie – daar is steeds lewendige afwisselinge van die metriese patroon. Enjambemente help verder dat die ritme nooit eentonig word nie. Die rymskema is die paarrym, maar ook hier is allerlei verrassende variasies. ’n Goeie voorbeeld vind ’n mens op bl 6: 

[Hy het] oor sy skouer
’n jong bok gedra waarvan die keel
vars uitgeskeur was met ’n hand, en die geel
huid, vol trilling nog, besmeer
met bloed; dié het hy skuwerig neer
laat gly op die sand, oorkant die water,
en vriendelik gelag met oog en tand
en rooi tong soos van ’n hond [...].

Let op die gebruik van binneryme en halfryme by woorde soos “hand”, “sand”, “tand” en “hond”. “Tand” in die eindrymposisie het nie ’n “rymmaat” nie; in die plek van ’n rymende klankooreenkoms met “tand” vind ons “water”, en dit skep die suggestie dat Raka “watertand” van lus vir die mense.

Vier van die vyf afdelings eindig met ’n onvoltooide koeplet. Dit gee voortgang aan die verhaal en dui aan dat die verhaal nog nie voltooi is nie. Alleen een afdeling, die derde een, eindig met ’n volledige koeplet. Dit is die afdeling waarin Koki die dans van die groot water dans en die onvermydelikheid van sy ondergang besef en aanvaar. Hy het sy besluit geneem; hy besef dat sy lewe en sterwe deel is van ’n onafwendbare sikliese gang (19):

die ewige kom en keer van ’n wand
wit water oor ’n eng grys strand.

Dit is verrassend dat die laaste afdeling ook met ’n onvoltooide koeplet eindig. Dit skep die verwagting dat hierdie verhaal se einde nié die einde is nie; moontlik is dit deel van ’n patroon wat herhaal word, van “die ewige kom en keer van ’n wand”. Hieroor later meer.

4. Die titel

Die titel, die naam van Koki se antagonis, bevat ’n verwysing na Jesus se woorde soos weergegee in Matteus 5:22: “En elkeen wat vir sy broeder sê Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad.” “Raka” is ’n Aramese woord en beteken ongeveer: dwaas; leë mens. Raka is in die epos inderdaad dwaas en leeg – leeg van die tradisie en die waardes wat jou menslik maak. Hy is ’n “aap-mens” wat nie kan dink of praat nie (5). Dit is interessant dat die titel Raka is en nie Koki nie; dit is asof die titel die leser wil waarsku teen ’n immer dreigende gevaar wat alles van waarde kan vernietig in die lewe van ’n enkeling en van ’n volk.

5. Die teenstelling tussen Raka en Koki

Wie en wat Raka is, word duideliker deur die kontras met Koki. Raka se woning is die oerwoud, Koki s’n is die kraal – dis die teenstelling tussen ’n primitiewe woonplek en een wat deur kultuur tot stand gekom het. Koki is die kultuurmens, teenoor Raka wat geen kultuur ken nie; Koki word deur geestelike en etiese waardes gelei, terwyl Raka deur instinkte gedryf word; Raka ken geen rede nie, terwyl Koki dink en redeneer; Koki weet van dissipline, Raka ken net drifte; Koki gee om vir sy mense – hy wil verhoed dat hulle alles verloor wat waarde aan die lewe gee – terwyl Raka wil verower en vernietig om sy magswellus te bevredig. Raka is “enkeld dier”; Koki verteenwoordig die hoogste menslikheid. En so kan ’n mens voortgaan. Anders as by Raka, het Koki se naam nie ’n vaste betekenis nie; dit is asof die interpretasie van die naam oopgelaat word – die leser word gestimuleer om na te dink oor wat die begrippe mens en menslikheid beteken soos deur Koki verteenwoordig, en wat waarde aan die menslike lewe verleen. 

........
Raka se woning is die oerwoud, Koki s’n is die kraal – dis die teenstelling tussen ’n primitiewe woonplek en een wat deur kultuur tot stand gekom het.
........

Die kontras tussen Koki en Raka word beklemtoon deurdat Raka telkens geassosieer word met donkerte en swart, en Koki met helderheid en lig. Hierdie teenstelling het sommige moedswillige lesers daartoe gelei om ’n rassistiese interpretasie aan die epos te gee: Raka staan vir die swart mense, en Koki vir die blankes. Dit is ’n gruwelike verdraaiing en verskraling van die betekenis van die gedig. Daar is geen blanke karakter in die epos nie; iets van Raka en van Koki is in elke mens teenwoordig, en in elke volk. Die kleurkontras moet verbind word met ’n konvensionele teenstelling wat ook in die Bybel baie prominent is: lig as simbool van goedheid, wysheid en vrede, en donkerte as simbool van boosheid, angs en onvrede. Dit gaan hier om wat TS Eliot “the perpetual struggle of good and evil” genoem het, wat te alle tye en op alle plekke voorkom. Dit is wat Raka steeds aktueel maak.

6. Raka se vyf afdelings

Soos die Griekse tragedie het Raka vyf afdelings, wat ek nou in besonderhede bespreek.

I. Die koms van Raka

Die epos begin dramaties. Die eerste reël bevat die woord “hom”, maar die leser weet nie wie die “hom” is nie. Daar volg dan, vir 13 reëls lank, ’n beskrywing van die vroue wat na die “koel seekoegate” drentel voordat die leser uitvind na wie die “hom” verwys: “Raka, die aap-mens”. In hierdie 13 reëls is daar ’n rustige atmosfeer soos die vroue vrolik stap “om veel te lag en ure te praat”, ’n rus wat skielik verbreek word deur die intrede van die aap-mens. Hy bedreig alles wat die lewe tot dusver rustig gemaak het: Hy is “enkeld dier”, sonder enige menslikheid; hy is boos – “swart en donker”; hy vernietig die riete waar hy stap; en hy kom van die “groot moerasse” waar die skuim vuil is, en die opdrifsels stink en verrot – ’n skerp teenstelling met die “groot groen riviere” waar die vroue bly.

Hy benader die groepe in die stam een na die ander om hulle in sy mag te kry. Eers dans hy vir die vroue, maar dis ’n “vreemde dans”, een wat nie in hulle tradisie pas nie. Dis ’n dans “geil van begeerte”, om wellus by die vroue te wek; dis “drifte wat geen naam of doel meer ken” nie. Ná die dans bring hy ’n bok vir hulle, maar dis nie ’n bok wat hy doodgemaak het om aan hulle voedsel te verskaf nie, maar om die vroue met sy krag te beïndruk. Hy bring ook vir hulle vrugte en neute wat hy op ’n vernietigende wyse versamel het: Die takke is afgebeur, die plante is met wortel en tak uitgeruk. 

Die reaksie van die vroue is gemengd. Een het besef hulle het met iets boos te make en het “geril” – bewus van die gevaar van die dier, maar miskien is dit ook ’n rilling deur die Raka-element wat sy in haarself herken. Juis daarom is hy so gevaarlik, deur die verbinding van die gevaarlike dier daar buite en die gevaarlike drifte binne-in hulle. Die vroue laat lê die geskenke, maar is nie onaangeraak nie. Elke vrou ontdek “die vreemde lus / wat sy diep in haar hart maar sterk voel roer het”. Die aand blyk dit dat Raka ook hul taal en musiek aantas, want “dié nag was raaisel en lied / stil rondom die kole”. Die raaisel en lied het plek gemaak vir ’n onrustige gepraat, want die rus is versteur.

Volgende is die kinders aan die beurt. Ook vir hulle dans Raka om ’n indruk te maak. Dis ’n “mank dans”, sonder struktuur of sin, en daarna gooi hy ’n vis wat hy gevang het, voor hulle neer om hulle te beïndruk. Hulle reaksie is, soos die vrouens s’n, gemengd: Hulle is bang, “maar meer as vrees het hy hulle behaag”. Hulle vlug weg en kom laggend terug, want hulle is onder die indruk van sy behendigheid met die visvangs en hulle vind sy manewales grappig. Ook by hulle behaal Raka dus ’n mate van sukses.

.........
In hierdie eerste afdeling word die botsende magte bekendgestel: die bose Raka, die suiwer Koki, en die stam wat tussen die twee pole wissel. Die spanning word gewek: Die komende stryd is duidelik, en veel is op die spel. Wie gaan die oorwinning behaal?
........

Dan is dit die mans se beurt. Hulle sien Raka nie direk nie, maar kan die tekens van sy krag interpreteer – hulle sien in die veld hy is sterk genoeg om die buffel, die krokodil en die gemsbok dood te maak. Vir hulle is fisieke krag belangrik, want hulle het dit nodig om die vroue en kinders te beskerm; hulle besef hier is een wat sterker as hulle is, en hulle vrees, omdat hulle weet hulle is nie sterk genoeg om die kraal teen hom te beskerm nie. Reeds met die dans daardie aand is dit duidelik dat hulle voor Raka sal swig: Hulle hou ’n “wilde fees” met ’n “nuwe dans”, “duister woorde” en ’n “vreemd-verstoorde gesang”. Raka se onreinheid werk duidelik aansteeklik, want hulle “duister woorde het opgeskuim” en hulle lied was “soos vuil water”. 

Dan kom Koki na vore, die tragiese held van die epos, ’n totale teenstelling met Raka. Hy is die enkeling, anders as ál die ander, en hy neem nie deel aan die nuwe dans nie. Dis nie net Raka wat sterk is nie; ook hy is sterk, maar hy dood met die spies, ’n wapen wat deur mense gemaak is, wat deel is van ’n jag- en strydkultuur – anders as die primitiewe Raka wat met sy hande en tande verskeur. Koki dink aan die ou liedere, die liedere oor die tradisie en die geskiedenis wat sy stam gevorm het tot wat hulle is. Dit is “yler liedere”, gevorm deur helder denke, anders as die “swart lied” van die stam wat slegs ’n opbruising van irrasionele drifte is. Koki is die enigste een in die stam met insig; hy is die profeet wat besef daar is “veel kwaad in aantog”, en hy wil sy mense waarsku en beskerm. 

Die volgende ontwikkeling is dat Raka nader aan die kraal kom. Hy dwaal ál om die kraal, sodat niemand die plek kan verlaat sonder om hom te ontmoet nie. Hy lag soos ’n strandjutwolf, en hy snuif aan die pale om die kraal. Die pale is dun, die beskerming is onseker.

In hierdie eerste afdeling word die botsende magte bekendgestel: die bose Raka, die suiwer Koki, en die stam wat tussen die twee pole wissel. Die spanning word gewek: Die komende stryd is duidelik, en veel is op die spel. Wie gaan die oorwinning behaal?

II. Koki

In die eerste afdeling was Raka die hooffiguur; in hierdie afdeling is Koki in die middelpunt. Hy loop uit die kraal, en die leser verwag dat hy Raka gaan ontmoet – wat dan ook gebeur. Die bessies in sy hande, merk hy, is “bloedig”, en dit skep die verwagting van ’n bloedige stryd wat voorlê. Hy ontmoet eerste die kinders, en hy let met ontsteltenis op hoe hul spel verander het. Hulle maak ’n kleibeeld van Raka, byna soos die afgodsbeeld wat die Israeliete in die woestyn gemaak het met die uittog uit Egipte. Hulle het ’n taamlik goeie insig in die aard van Raka. Die beeld se kop is lomp en belaglik, want Raka is nie een wat kan dink nie. Die oë is uitgehol, want hy is blind vir die dinge van waarde. Die tande is prominent, wat dui op sy gevaarlikheid. En dan: “skaamteloos groot die skaamte”. Raka ken geen liefde nie, alleen maar wellus. Die kinders het ’n mengsel van angs en aangetrokkenheid tot die beeld. Hulle is angstig, want hulle weet van die gevaar wat Raka inhou, maar hulle kom tog in sy ban; hulle bewonder hom vir sy krag. Hulle bewondering kom tot uiting in hul volgende handeling: Hulle vertrap die kleidiere wat hulle gemaak het, tot alles stukkend voor Raka se voete lê, en lag vir wat hulle gedoen het – dit was groot pret. Hulle skeppingsdrang het in die slag gebly, en hulle het volgelinge van Raka geword. 

Dan tree die verteller direk die verhaal binne en lewer liriese kommentaar op die aard van die protagonis – byna soos die koor in die klassieke tragedie (12):

O skoonheid van die lyf, jy slaat
óp uit die aarde soos die rooi vonk
uit die vuursteen spring; wild en jonk
is nog die skoonheid van die lyf op die swaar aarde
waaruit hy rank [...]
maar dié
wat skoonheid en hoogheid dra as las
en ver verlange, is ’n vreemde ras
van mense en bloot aan veel gevaar. 

Die teenstelling tussen Koki en Raka kom nou sterk na vore. Raka is “soos ’n swart poel” (11); Koki swem elke dag in ’n “heilige poel” waarvan niemand anders weet nie, “ongerep van giftige aal of krokodil” (13). Hy duik diep in die poel af, áf in die donker kolk, en keer terug, met vrees maar ook “sidderend van vreug” (14). Wat Koki daagliks hier verrig, is die proses van individuasie wat Carl Gustav Jung as so belangrik beskou het: ’n proses waarin die donker kant van die psige gekonfronteer word en waar heling plaasvind – die versoening van die bewussyn met die onbewuste. Deur hierdie suiweringsproses gaan Koki daagliks. 

Hierdie dag gaan Koki egter nie na sy poel nie, want hy is op pad na Raka – hy weet hy moet Raka konfronteer. Dan vind hul eerste ontmoeting plaas, en Raka probeer op verskillende maniere om Koki onder sy invloed te bring. Hy toon Koki die sebra wat hy doodgemaak het – hy het nie “die fraai dier” doodgemaak sodat hulle saam kan eet nie, maar om Koki met sy krag te beïndruk. Hiermee behaal hy geen sukses nie, en dan baljaar hy potsierlik soos ’n aap om Koki te amuseer soos wat hy met die kinders gedoen het, maar weer eens is dit tevergeefs. Dan wend hy ’n derde poging aan: Hy skuur op sy rug en op sy sy soos ’n hondjie, behaagsiek om Koki met sy skynnederigheid te lok. Wanneer ook hierdie poging misluk, is hy woedend, want hy kan dit nie verdra dat daar iemand is wat hy nie onder sy mag kan kry nie, iemand “wat so ver buite die begrip / van sy swaar brein was” (15). Dit is iemand wat die Raka-element in homself oorwin het, en vir hom kan Raka verslaan alleen deur hom met sy fisieke krag dood te maak. 

III. Die dans

Koki besef nou die gevaar wat sy mense bedreig, en hy keer terug om hulle te waarsku. Aanvanklik probeer hy hulle met argumente oortuig. Met ’n reeks retoriese vrae wys hy op wat húlle het en Raka nie, en wat hulle sal verloor as hulle onder sy mag kom. Hy noem die “fyn, fyn net van die woord” waarmee “blink en vet / visse uit baie waters” gehaal kan word. Sy retoriese vraag bevat die herinnering dat dit woorde is wat ’n letterkunde moontlik maak; dit is taal waardeur geskiedenis en tradisie bewaar word, idees en filosofieë ontwikkel en ’n etiese stelsel tot stand kom. Verder weet Raka nie van die kulturele waarde van vuur nie, want hy ken nie die “vuurgeheim” wat Prometheus van die gode gesteel het nie. Hy kan ook nie spin en weef nie, en hy leef nie volgens die wette wat etiese riglyne vir die lewe bied nie. Daarom die opdrag van Koki (16):

Die snel dier moet dood,
of hy sal heers oor ons, en groot
en lang pyn bring.

Koki se woorde verwarm hul harte, maar hulle is nog nie volkome aan sy kant nie. Dis sy krag, en nie sy argumente nie, wat hulle beïndruk – die fisieke krag waarin Raka hom oortref. Omdat hy besef “dat dit sy krag was, nie sy woorde, wat hulle prys”, weet hy “dat hy altyd eensaam met sy vrees / om kosbare dinge tussen hulle sou wees”. Nogtans gaan Koki voort met sy poging om sy mense te oorreed. Hy probeer hulle oortuig met ’n krygsdans, die dans van die bul. Aanvanklik is hulle bang om saam te dans, maar dan word hulle tog aangevuur en sluit hulle by Koki aan in die “danspas van sy stam” en “die klank van die óú lied”. Maar as hulle Raka se lag hoor, verstom die lied en stop hulle voortydig met die dans. Koki voltooi die dans alleen.

........
Sy retoriese vraag bevat die herinnering dat dit woorde is wat ’n letterkunde moontlik maak; dit is taal waardeur geskiedenis en tradisie bewaar word, idees en filosofieë ontwikkel en ’n etiese stelsel tot stand kom.
........

Die mans besef hulle sal nou hul lafhartigheid moet verbloem, en hulle regverdig hul optrede deur te rasionaliseer. Volgens hulle oordryf Koki die gevaar: “Raka is vreedsaam”; “Raka is nie sleg.” Die vroue sien egter deur hulle, en kom nog meer onder die indruk van Raka se krag, omdat hy in staat is om die mans vrees in te boesem. Koki besef nou dat die stam in Raka se mag is. Hy is die enigste een wat Raka sal aandurf, en hy weet dat hy in die stryd sal sterf, omdat Raka hom ten opsigte van fisieke krag oortref. 

Dan begin hy met ’n nuwe dans, die dans van die groot water, ’n dans van berusting in die onvermydelike. Nou is die “grys wind / en die grys land sonder boom of gras” al om hom – dit is ’n land van die dood. Die dans behels die insig in “die ewige kom en keer van ’n wand / wit water oor ’n eng grys strand” (19). Die sikliese gang van die getye dui op die sikliese gang van die geskiedenis, op die opkoms en val van volkere. Koki word deel van ’n “sterker vloed”, van ’n onafwendbare gang. Wanneer ’n nasie sy waardes van waarheid en etiek en skoonheid prysgee, bly die suiwer enkeling in die slag, die een wat nie deel wil word van die aflegging van waardes nie. Daar kom in die dans ’n stilte (“die stil spoel by die kape verby”) waarin hy deel van ’n “sterker vloed” word, van ’n noodlotsgang wat hy aanvaar. 

Deur “die dans van die groot water wat die aarde vul” het Koki in “die heilige kringe gewandel”. Hy het deel geword van ’n universele patroon, ’n sikliese gang waarin die smettelose heilige met sy lewe betaal vir die dwaalweg van sy mense. Omdat Koki sy lot aanvaar het, eindig die afdeling met ’n voltooide koeplet – die enigste afdeling waarin dit gebeur. Koki se konflik is verby; hy het die innerlike vryheid gevind om die offer te aanvaar wat hy moet bring. Die vraag is nou: Is sy offer tevergeefs? Het die goeie mens wat gesterf het, die stryd verloor? Is Raka se oorwinning finaal?

IV. Die jag van Raka

Koki besluit om Raka te soek en teen hom te veg. Weer eens word die totale kontras tussen die twee hooffigure beklemtoon (21–2). Raka suip soos ’n bees, en die poel waarin hy swem, het “stink belle”, heeltemal anders as Koki se suiwer poel. Hy sien nie die skoonheid van groen of goudblou torre raak nie en knyp hulle stukkend; wit lelies word geskeur en gelos. Dis asof mooi dinge hom irriteer en hy hulle wil vernietig. Hy vang ’n apie wat voor hom hardloop en maak dit koelbloedig dood. Hy is “stom”, “dom” en “begriploos”. 

Raka word nie deur sinvolle oorwegings gelei nie, maar deur ’n “swaar drif” gedryf. Hy leef van oomblik tot oomblik, sonder enige sinvolle beplanning. Wanneer hy honger is, dryf die “lus vir bloed” hom; maar nou het ’n “ander drif” hom getref: Hy het “die mense se ruik gesoek.” Hy wil hulle vind om sy magshonger te stil, maar miskien is daar ook iets anders wat hom na hulle trek; miskien is daar tog ’n verdronge menslikheid wat in hom skuil en wat na mense roep. Want Raka is nie heeltemal dier nie; hy is op die grens tussen mens- en dierlikheid – “meer as ’n dier, maar nog nie mens, / iets dodeliks en duisters, aan ’n troebel grens” (23). Hy kan die mense beheer en vernietig, hulle minder as mens maak; maar miskien kan ook hy verander word deur die kontak, en meer as ’n dier word. 

........
Raka is nie heeltemal dier nie; hy is op die grens tussen mens- en dierlikheid – “meer as ’n dier, maar nog nie mens, / iets dodeliks en duisters, aan ’n troebel grens” (23). Hy kan die mense beheer en vernietig, hulle minder as mens maak; maar miskien kan ook hy verander word deur die kontak, en meer as ’n dier word. 
........

Dan kom ’n sterk wending in die verhaal, ’n oorgang van Raka na Koki. Koki het besluit om teen Raka te veg, hoewel hy weet dis ’n vergeefse geveg, want Raka is fisiek sterker as hy. Koki het egter die “swaar vrees / vir sterwe van hom afgedoen”, en sy heerlikheid word in ’n lang Homeriese vergelyking weergegee – die tipe vergelyking wat Homerus graag in sy eposse, die Ilias en die Odusseia, gebruik het (23):

soos een wat genees
raak van ’n wond, een môre opstaan van sy vuur
en bewerig nog, ’n warm uur
teen die hekpaal sit en die wêreld aanskou
as iets vreemds wat skaars aan sy hart nog hou – 
so het Koki geloop.

Koki maak sy wapens gereed “soos sy vaders geleer het”, want hy leef vanuit ’n tradisie: Hy veg nie met sy hande nie maar met gemaakte wapens. Dan sing hy “die sterflied van sy stam”, want hy besef die dood wag op hom. 

Die lede van die stam hou hom dop waar hy hom vir die geveg voorberei. Hulle is skaam, want iets van die waardes van die stam het nog in hulle oorgebly. Hulle weet wat reg is, maar doen wat verkeerd is, en rasionaliseer om hulle van alle blaam te onthef – hulle verklaar dat Koki ’n “dwase daad” verrig, en dat die geeste se toorn op hom rus (24). Die invloed van Raka op die stam is alreeds af te lei uit die verwaarlosing wat nou intree: Die visnet hang los, die matte is half gevleg en die klei-oond is koud. 

Koki laat hom nie afskrik nie, en gaan vasberade uit op soek na Raka. Vir ’n lang tyd is die aap-mens nêrens te vind nie, want hy skuil êrens, onsigbaar en onhoorbaar. Maar dan maak hy sy dramatiese verskyning (bl 26):

Die groot dier [het]
Skielik, geluidloos, uit die warm wier
En die slik opgestaan en wit gelag.

V. Die nag

Die stryd tussen Raka en Koki word nie beskryf nie, want die fisieke stryd is nie hier van belang nie. Die titel van die afdeling dui die tyd aan wanneer die handeling begin. Dit is die nag ná die stryd tussen Koki en Raka. Maar ook in ’n simboliese sin is dit nag, want die een wat die etiese en kulturele waardes van die stam verteenwoordig het, het gesterf. Die klem val in die epos op ’n geestelike stryd en op die gevolge van Koki se dood vir die stam. Daar is ’n “donker dam / wat dreig om oor hulle in te stort”. Dertig mans gaan wel na Koki soek, en hulle vind sy lyk, “half in die modder getrap” deur die woedende Raka. Raka het oorwin, maar dit blyk uit die bloed in die omgewing dat Koki heldhaftig gestry en Raka verwond het.

Die vroue huil as hulle later die lyk van Koki sien, maar dis wispelturige trane, want daar is nie aanduidings van ’n egte verandering van gesindheid teenoor Raka nie. Net een vrou is anders. Sy is soos Koki, ’n eensame enkeling en ’n profeet. Sy het sy vuil liggaam skoongemaak en toe, in roerende poësie, “stil gesing” van die ewige siklus van geboorte en dood. Sy het Koki geloof, en getreur oor die feit “dat die skoonste gesterf het”, “dat die edelste wagter / koud lê langs sy vuur” (29). Sy het gesing oor die verlede, toe Koki nog ’n kind was en van sy vader geleer het hoe om te lewe; sy het oor die toekoms getreur, omdat hy nooit kinders sou hê vir wie hy ’n voorbeeld kon stel nie. Toe het sy ook oor Raka gesing, oor die weerloosheid van die stam teen die groot dier, en gerou oor die “verlore menslikheid” as gevolg van sy koms. Haar lied is van groot belang, want deur die lied hou sy die dinge lewend waarvoor Koki gestry het. Koki leef voort in die lied van die profetevrou, en miskien kan die lied, waardeur die geskiedenis en die waardes van die stam behoue bly, die inspirasie vir ’n latere heropstanding bied. 

Anders as die stil lied van die vrou begin die mans te dans met “wilde bloed”. Dit is ’n dodedans, maar dit is anders as die vroeëre dodedanse. Dit bevat “geen lied / nie die ou en helder verdriet” (30). Die dans bevat wel herinneringe aan die jag saam met Koki, maar hulle waag dit om lofprysend oor Koki te sing slegs solank Raka stil is. Dan waag een van die mans dit om uit te skree wat hulle almal heimlik weet: dat Koki sterk is, maar Raka sterker. Wanneer hulle begin sing oor die krag van die groot dier, spring Raka die kraal binne. Sy oorwinning is nou voltrek, en dadelik begin die vernietiging. Hy neem woedend wraak op mans en vroue in die kraal, selfs op ’n “vasgekeerde hond”, en hy breek en skeur die dooie liggaam van Koki. 

Raka het sy oppermag bewys. Hy hou van nou af naby die kraalhek die wag en het totale beheer oor die mense, want “niemand het gewaag om met een slag / die smal hek ooit weer teen hom te sluit”. 

........
En tog is Raka miskien nie so totaal in beheer nie. Hy begin water uit die potte van die stam te drink (32), terwyl hy vroeër die gewoonte gehad het “om soos “n bees te drink” (21).
........

En tog is Raka miskien nie so totaal in beheer nie. Hy begin water uit die potte van die stam te drink (32), terwyl hy vroeër die gewoonte gehad het “om soos “n bees te drink” (21). Raka het die stam verander, maar sal hy dalk op sy beurt deur die stam verander word? Is dit die begin van ’n nuwe siklus? Sal, in hierdie nuwe siklus, die herinnering aan Koki ’n inspirerende rol speel? So ’n interpretasie sluit aan by die einde van baie Griekse tragedies, waar die held ondergaan, maar ’n sprankie hoop tog oorbly, wat egter nogtans nie die tragiese element kanselleer nie. Die onvoltooide koeplet aan die einde ondersteun so ’n interpretasie. Die verhaal is nie finaal voltooi nie; dit is deel van ’n groter verhaal oor “geboorte en dood en geboorte en dood” (28). ’n Nuwe geboorte lê moontlik voor.

........
Raka is ’n aangrypende, steeds relevante epos. Ongelukkig sukkel baie mense nog om ’n kopie van Raka in die hande te kry.
........

Raka is ’n aangrypende, steeds relevante epos. Ongelukkig sukkel baie mense nog om ’n kopie van Raka in die hande te kry. Dit is deel van ’n algemene probleem, dat klassieke Afrikaanse literêre tekste moeilik bekombaar is. Wat Hein Viljoen skryf in verband met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks oor Hertzogpryswenners, is ook hier ter sake:

Hierdie projek in kanonisering en kritiese bestekopneming is groot en belangrik, maar dit dreig om irrelevant te word as die primêre tekste, die werke van die skrywers self, nie meer maklik bekombaar is om saam met die kritiese analises gelees te word nie [...] Die huldigingsbundels vra dus vir ’n nog groter projek om die werk van skrywers in die kanon te versamel, te redigeer, weer uit te gee en veral ook digitaal te bewaar en vrylik beskikbaar te stel. Die Akademie en al die Afrikaanse kultuurorganisasies behoort saam te werk om nie net die Afrikaanse nie maar al tien die Suid-Afrikaanse letterkundes te digitaliseer en beskikbaar te stel. Die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse letteren (dbnl – kyk https://www.dbnl.org) bied ’n model vir so ’n digitale biblioteek.

Eindnotas:

1 Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1941.

2 Daar is talle besprekings oor Raka en reaksies op Raka in ander kunsvorme op die internet. Die volledige teks is ook op verskeie plekke beskikbaar, onder andere in die Amerikaanse argief se digitale biblioteek by: https:/https://ia601504.us.archive.org/21/items/vwyklouwraka/vwyklouwraka.pdf.

3 Abrams, MH. A glossary of literary terms. Vierde druk. New York: Holt, Rinehart & Winston, 1981.

4 Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Junie 2023), 63(2):461.

  • 2

Kommentaar

  • Willem Pretorius

    Hi! Ek's naarstiglik op soek na die "Raka" gedig en kry dit nie op die Internet in PDF format nie. Ek is 'n beeldhouer en het dit dringend nodig vir inspirasie vir 'n reeks werke wat ek huidiglik beoog.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top