Na die geliefde land deur Karel Schoeman: ’n leeskringbespreking

  • 0

https://www.nb.co.za/bo/view-book?id=9780798148283

Na die geliefde land
Karen Schoeman
Human & Rousseau
ISBN: 9780798148283

Koop die boek by Graffiti.

Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking, soos die ander besprekings in die reeks, spesiaal vir leeskringe. Hy kies die boeke self. Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hieronder gedeeltes van die intrige verklap. In hierdie teks kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal.

Lees ook ander besprekings in Chris se leeskringreeks:

Eugene deur Kirby van der Merwe: ’n leeskringbespreking

Kompoun deur Ronelda Kamfer: ’n leeskringbespreking

Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché – ‘n verhaal oor verhale

Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck: ’n leeskringbespreking

Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden: ’n leeskringbespreking

Die verevrou deur Jan van Tonder – ’n bespreking


...........
[D]ie roman handel nie net oor spesifiek Suid-Afrikaanse temas nie; dit handel ook oor essensiële aspekte van die menslike aard en die menslike bestaan. Dit gaan oor die verwerking van ’n traumatiese verlies, oor die konfrontasie van die werklikheid teenoor die ontvlugting in herinneringe aan die verlede en in futiele toekomsdrome. ’n Sentrale vraag is hoe om te reageer op ’n tyd van radikale verandering, op die uitdagings van ’n krisistyd.
............

Die nuus van die letterkunde

Dit is goed dat sommige leeskringe daartoe oorgaan om ook ouer klassieke Afrikaanse tekste te bespreek – dit is so belangrik dat hulle nie vergete raak nie. Die probleem is dat die ouer werke meestal nie meer in die winkels beskikbaar is nie, en selfs nie beskikbaar is by elektroniese winkels soos Amazon, Takealot, Loot en Graffiti nie – dit is dikwels nodig om ’n soektog op tou te sit om hulle in die hande te kry. Gelukkig het NB-uitgewers ’n reeks klassieke Afrikaanse literêre werke herdruk, waarvan Na die geliefde land een is. Dit behoort dus makliker te wees om dit te vind.

“If you want to know the news, read literature,” het Tolkien gesê. Daar sit baie waarheid in dié stelling. Die nuus van die literatuur is egter anders as die nuus van die koerante. Waar die koerante die daaglikse nuus vertel, gee die letterkunde nuus oor tipiese situasies wat keer op keer terugkeer. So is dit ook met Na die geliefde land. Dit is oorspronklik in 1972 gepubliseer, en bevat ’n toekomsvisie van die land. Dis ’n pessimistiese siening, en gelukkig is die hede nie heeltemal so ellendig soos wat die roman voorspel nie, maar vele temas daarin is vandag nog relevant. Dit gaan onder andere oor die keuse tussen bly en gly – om in die land te bly ondanks al die probleme of om pad te gee na elders. In 2007 skryf Willie Burger met die verskyning van die herdruk van die roman: “As mens dit nou lees, herken jy vanoggend se koerant daarin: moorde, verdwynings, swak paaie, vrese.”[i]

Maar die roman handel nie net oor spesifiek Suid-Afrikaanse temas nie; dit handel ook oor essensiële aspekte van die menslike aard en die menslike bestaan. Dit gaan oor die verwerking van ’n traumatiese verlies, oor die konfrontasie van die werklikheid teenoor die ontvlugting in herinneringe aan die verlede en in futiele toekomsdrome. ’n Sentrale vraag is hoe om te reageer op ’n tyd van radikale verandering, op die uitdagings van ’n krisistyd.

Na die geliefde land gee ’n sombere toekomsblik op die land vanuit 1972, die jaar van publikasie. Graham Greene beskryf die boek as “a sort of South African 1984, more subtle than Orwell’s, imaginative and disturbing”.[ii] Die bordjies is verhang, die Afrikaners het die mag verloor, en hulle ervaar nou baie van die leed wat wittes vroeër die swart mense aangedoen het. Hulle leef in vrees, hulle word gemartel en doodgemaak, hulle beland maklik in die tronk. Die plase is verwoes, die werkers het verdwyn en die wêreld is verlate.

Die konteks van die plaasroman

Dit is belangrik om Na die geliefde land binne die tradisie van die plaasroman in Afrikaans te sien. In die Afrikaanse prosa is die plaas altyd meer as ’n plaas. Dit is gevul met emosionele en etiese betekenisse; in die vorming van die identiteit van die Afrikaner het dit ’n wesenlike rol vervul:

The farm was the spiritual home of the Afrikaner and played an important part in the formulation of a traditional Afrikaner set of values. Qualities linked to the farm have been: closeness to God, closeness to nature, strong family ties and sound interpersonal relations. It was seen as a place of security for the Afrikaner, a hierarchical space where the male has a higher position than the female, and the white than the black. The farm in Afrikaans fiction was an ideological space; the stronghold of conventional Afrikaner thinking. In older Afrikaans writing, the positive portrayal of the farm is contrasted with the negative depiction of the city.[iii]

Hierdie ideologie is gevorm teen die einde van die 19de en die eerste helfte van die 20ste eeu. Dit was ’n tyd waarin die Afrikaner bedreig gevoel het deur industrialisering, wat hul tradisionele lewenswyse sou verander, en veral deur die Britse imperialisme, wat hul taal en kultuur bedreig het. Die plaas was die ideologiese tuiste van die Afrikaner, waar hy vry was om sy taal te gebruik en sy kultuur te beoefen, in teenstelling met die sekulêre Engelse leefwyse in die stad, wat negatief gesien is.

In die ouer Afrikaanse prosa word die plaas as veilige ruimte uitgebeeld. In die heel eerste Afrikaanse roman, Catharina, die dogter van die advokaat (1879) van S J du Toit, is die plaas ’n sterk geïdealiseerde ruimte. Met verloop van tyd word die plaasbewoners wel met goeie en swak kante uitgebeeld, en die lewe op die plaas met sy vreugdes sowel as sy swaarkry. Voorbeelde hiervan is die prosa van DF Malherbe, CM van den Heever en Boerneef – maar ondanks alles bly die plaas steeds die ware tuiste van die Afrikaner. Later kom daar ’n sterk wending in hierdie uitbeelding. In Jan Rabie se roman Ons, die afgod (1958) is die plaas die ruimte van rassediskriminasie, en hierdie kritiese siening word voortgesit in latere romans. Voorbeelde is Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort (1976), André P Brink se Houd-den-bek (1982), Etienne van Heerden se Toorberg (1986) en Eben Venter se Foxtrot van die vleiseters (1993). In hierdie romans, wat voor die demokratiese verkiesing van 1994 gepubliseer is, word die verlies van die mag van die wit heersers voorsien – hulle dae is getel.

Van dié tipe romans is Na die geliefde land een van die voorlopers. Wanneer die hoofkarakter uit die buiteland terugkeer na Rietvlei, die plaas van die familie, vind hy uit dat die plaas verwoes is. Die verwoesting van die plaas hou verband met ’n groter verlies wat in die roman uitgebeeld word, en wat Gerrit Olivier bespreek.[iv] Hy wys op die verstrengeling van plaas, grond en land, en haal die volgende deel uit die roman aan, waar die hoofkarakter tevergeefs versoek word om na die plaas van sy familie terug te keer:

“Jy is hier gebore”, sê Gerhard. “Jy kan jou lewe hervat waar dit afgebreek is.”

“Nee, dit is nie meer moontlik nie; dit is te lank gelede, daar het in die tussentyd te veel gebeur. Daar het niks oorgebly wat nog dieselfde is nie.”

“Die grond is nog dieselfde.”

 “Ek is nie ’n boer nie, ek wil dit ook nie wees nie.”

“Die land is dieselfde.”[v]

Die karakters in die roman is almal Afrikaners, en die meeste van hulle ervaar ’n gevoel van totale verlies: Die plaas is vernietig, die grondbesit word bedreig, die mag en die beheer van die land het na ander oorgegaan. Plaas, grond en land is verlore, so voel hulle. Daar is egter verskillende moontlikhede om op die verlies te reageer, en oor hierdie moontlikhede handel Schoeman se roman.

Carla en haar broer Paultjie, twee karakters wat tot ’n jonger geslag behoort, geniet dit om soms van die plaasbedrywighede weg te kom en vir mekaar stories voor te lees. Die verhaal wat Carla voorlees en wat aangehaal word, klink soos ’n konvensionele plaasroman, en herinner aan die ietwat bloemryke styl van CM van den Heever:

Loom lê die ou plaashuis verskuil agter die weldadige skadu van sy bome in die hitte van die somermiddag. Die plaasmense het hulle ná die ete teruggetrek in die koelheid van hulle kamers, en die 'plaasvolk' wat besig was om die vrugteboorde en die groentetuin nat te lei, het die geleentheid waargeneem om geluidloos te verdwyn, sodat die werf en die tuin verlate lê in die fel strale van die son. (81)

Die verhaal handel oor ’n meisie op ’n plaas, en oor ’n dominee wat op besoek kom (83), en dit interesseer nie die hoofkarakter, George, of vir Carla nie. Schoeman maak ’n karikatuur van die tradisionele plaasroman, want dit is die genre waarvan hy ontslae wil raak. Sy roman bied ’n alternatiewe manier om oor die plaas te skryf – krities en sinies.

Die titel roep die motief van “die land” op, en herinner onder andere aan die tetralogie van FA Venter: Geknelde land (1960), Offerland (1963), Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968). Venter se boeke handel oor Voortrekkers wat die Oosgrens verlaat het, die Republiek van Natalia gestig het, en ná die Britse anneksasie van Natal besluit het om na die Transvaal te trek. Al hierdie romans het die woord “land” in die titel: Die karakters is op soek na ’n “bedoelde land” waar hulle in vryheid kan lewe; daarvoor stry hulle en bring hulle offers. Die vryheid wat hulle uiteindelik verkry het, was egter van korte duur. In Schoeman se roman het die “na” van die titel ’n dubbele betekenis – dis ’n voorsetsel wat ’n bepaling van plek/rigting óf van tyd kan inlei. George reis na die land waar hy grootgeword het, maar “na” het ook die suggestie dat die Afrikaners se eens geliefde land nie meer bestaan nie, dat ’n era verby gegaan het. Die plaas van die familie is verwoes en verlate, en dit het ook ’n simboliese betekenis: Die plaas bied geen tuiste meer nie, die geliefde land bestaan nie meer nie.

George die buitestander

Die verhaal word in die derde persoon vertel, maar die perspektief is dié van die hoofkarakter, George. Hy reis uit die buiteland na die plaas Rietvlei, waar hy grootgeword het, om ’n keuse te maak. Sy ouers is oorlede en hy moet besluit wat om met die plaas te doen – dit te verkoop of om op die plaas te gaan bly en daar te boer. Terselfdertyd moet hy ook die verhouding met sy oorlede moeder verwerk – sy wat in die buiteland gewoon het, maar steeds na haar geboortewêreld verlang het. Sal hy haar begeertes verwesenlik en op die plaas gaan bly, of sal hy vry raak van die band van die moeder en sy eie besluite neem?

George is ’n buitestander wat die mense en die omgewing vanaf ’n afstand waarneem. Tog word die afstand soms opgehef en besef hy dat daar in hom ’n band met sy geboortewêreld is. Hy was as kind oud genoeg dat hy nou die plaas nog kan onthou, oud genoeg “om iets te onthou waaraan hy altyd die naam Afrika gegee het en wat gemengde gevoelens van liefde, heimwee en nuuskierigheid in hom oproep”. En nou is dit sy taak “om die vaag herinnerde verlede te probeer herwin, die werklikheid te probeer terugvind, en allerlei probleme in verband met liefde, toewyding en trou vir homself te probeer oplos” (16).

Hy moet tegelyk die band met sy moeder én die band met sy geboorteland begryp en verwerk, sodat “die ongeformuleerde vrae beantwoord sal word en die omsamehangende dinge sal saamskuif in ’n herkenbare patroon, sy moeder se afgewende kop en haar hand willoos op die sprei, ’n stem wat hom laat opkyk en wonder van waar hy dit onthou, die geroep uit die verte, en die trae, eentonige slag van metaal in die groot stilte van ’n somermiddag jare gelede” (46).

Hy gaan deur ’n proses van losmaking van die moeder en van die plaas. Sy moeder het in die buiteland gewoon, maar altyd na haar geboorteland verlang, soos ook die ander uitgewekenes vir wie George onthou:

Die verlange bly, meedoënloos en onontkombaar, en altyd, so het dit hom voorgekom wanneer hy die ballinge van sy jeug betrag, het hulle hul koffers half ingepak gelaat vir die terugreis. In die hele struktuur van die lewe wat hulle in die vreemde opgebou het, het slegs een ding werklikheid gehad: die land wat hulle eenmaal besit en weer verloor het. (62–3)

Maar ook die mense wat hy op sy besoek teëkom, word oorweldig deur ’n verlange na ’n wêreld wat nie meer bestaan nie – hieroor later meer. Hy pas nie hier nie, en wanneer hy ’n partytjie bywoon wat ter ere van hom gereël is, besef hy “’n hele wêreld het hom nog van hierdie mense geskei” (68). Hy neem nie deel aan enige van die gesprekke nie, en wanneer hy by hierdie geleentheid ’n toespraak maak, bedank hy die mense vir hulle gasvryheid, maar voeg by: “Van die plaas, het ek uitgevind, het daar nie veel oorgebly nie, en my moeder se familie het uitgesterf.” En hy dink: “Die puin, die wilde rose en struike – ja, dit was die doel van sy reis” (115). Rietvlei is ’n puinhoop, sy bande met die plaas is verbreek, en ook dié met die mense van die omgewing. Hy weet, terwyl hy praat, dat hulle hom nooit sal begryp nie. Hy bly die tydelike besoeker, die vreemdeling, die buitestander. Sy finale afskeid is onvermydelik.

George is die fokalisator, die een deur wie se oë die leser die wêreld waarneem. Die beskrywings openbaar George se gevoel van vervreemding. In die huis van die Hattinghs, waar hy tuisgaan, is daar niks wat hom aantrek nie:

Die meeste van die groot kamers staan leeg of word blykbaar slegs nog as pakkamers gebruik. Dit is ’n groot huis met hoë plafons, en die verspreide meubels lyk verdwaal in die ruimte: ’n enkele kas met ’n verkleurde spieël, ’n bed, ’n tafel met stoele daarby in die middel van ’n kamer of ’n verweerde lessenaar met ’n roldeksel. Sommige van die meubels is oud en verslete, oorblyfsels van langvergange welvaart en die nuwer, goedkoper meubels pas nie daarby nie. (17)

Wanneer hy die familieplaas Rietvlei besoek, vind hy uit dat alles verwoes is:

Hiér moes die geboue gewees het, besef hy, maar vind slegs reste van mure waar onkruid in die skeure tussen die klippe begin groei het, en die lyn van ou fondamente in die gras. Dit is weggewaai deur die wind, weggewas deur die reën, bedek deur die sand, daardie oorblyfsels van ’n antieke beskawing wat hy soek, en al wat daarvan oor is, is verspreide klippe, en vrugtebome wat jare laas gesnoei is. (47)

George distansieer hom dus van die land en sy mense, want dit bly vir hom ’n “onbekende en afsydige land”, en hy vind dat die mense “dieselfde taal praat as hy, maar anders niks met hom gemeen het nie” (17).

George as waarnemer

Soos reeds genoem, is George die fokalisator in die roman. Hy is die reisiger, en die roman kan as ’n tipe reisverhaal beskou word. Hy leer verskillende groepe en individue ken, en hulle openbaar verskillende moontlikhede om op ’n veranderde tyd te reageer, ’n tyd waarin alles wat vroeër stabiel gelyk het, vergly en vergaan het. In hierdie opsig herinner dit nogal aan Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, waar die hoofkarakter sewe aande partytjies bywoon en verskillende groepe leer ken – die roman gee feitlik ’n deursnee van die samelewing. Iets daarvan kry ons ook in Na die geliefde land, met die voorbehoud dat dit by Schoeman nie om die hele samelewing met al sy verskillende bevolkingsgroepe gaan nie. Die roman is in die eerste plek op Afrikaners gerig, om te dien as ’n waarskuwing van wat voorlê, en ’n tipe “teregwysing” oor negatiewe tendense.

In Na die geliefde land, soos meestal by Schoeman, is daar min dramatiese tonele van geweld en uiterlike konflikte. Die belangstelling van die leser word veral deur die geleidelike eksposisie gewek soos wat George verskillende karakters ontmoet en verskillende lewensmoontlikhede ontdek, en soos wat hy deur sy ontmoetings beïnvloed word. Daar is wel twee spanningslyne wat tot ’n klimaks lei: die beplanning van die opstand, wat met die gewelddadige arrestasie van die drie rebelle eindig, en die soeke na insig en wysheid, wat tot ’n hoogtepunt lei in die laaste gesprek tussen George en Clara.

Die ouer generasie

Verskillende groepe karakters reageer verskillend op die huidige situasie, met nuwe heersers vir wie hulle haat en vrees. Die ouer geslag vind dit moeilik om aan te pas. Mevrou Hattingh vertel van haar gelukkige lewe in die stad, maar toe is sy en haar man gedwing om vir veiligheid na die plaas te vlug. Sy dink met heimwee terug aan haar vroeëre lewe: “As meisie was dit vir my nooit nodig om iets in die huis te doen nie, en toe ek getroud is, het ons altyd bediendes gehad” (15). Daardie gemaklike lewe is deur die revolusie beëindig.

Daar is herhaalde verwysings na ’n revolusie waarin hulle mense die mag verloor het en waarin baie van hulle gemartel en gedood is. Bekendes van mevrou Hattingh is gevange geneem en het in die revolusie gesterf (15). Oom Kosie, George se oom, is in die tronk dood (43). Tant Miemie, hoor George, kan die nuwe dinge nie verwerk nie (44) – sy het te veel deurgemaak (56). Dit is vae verwysings, sonder besonderhede (33, 40), en ’n mens weet nie hoe objektief die inligting is nie. Van Frank word daar vertel dat hy weggeneem is en op geheimsinnige wyse gesterf het – hulle het eers ’n paar maande later gehoor dat hy dood is. Dit lei tot hierdie sombere stelling van mevrou Hattingh: “Mense verdwyn, mense gaan dood en jy hoor nooit iets daaroor nie” (72). Maar op die vorige bladsy word terloops genoem dat Frank “deurmekaar geraak [het] met allerhande dinge, meer uit baldadigheid as iets anders”. Frank is dalk nie so ’n onskuldige slagoffer nie.

Daar is twee tipes in die land, sê meneer Hattingh, dié wat gebly het omdat hulle nie anders kon nie en dié wat gebly het selfs al kon hulle gaan (12–3). Die Hattinghs behoort kennelik tot die eersgenoemde groep. Wat nou vir hulle oorbly, is om op te gaan in herinneringe aan die verlede, toe alles anders was. George merk op hoedat mevrou Hattingh oplewe wanneer sy oor die verlede praat: “Vir haar is die verlede met sy herroepte titels en afgeskafte ampte belangriker as die verre en onvoorstelbare hede” (13). Op die partytjie op Kommandosdrift word dit duidelik hoe dominant die verlede in die gedagtes van die ouer mense is. Hulle praat steeds daaroor, en die woord “onthou” word keer op keer gehoor. Daar is geen tekens dat hulle die werklikheid van die hede konfronteer en verwerk nie.

Ook die lyding tydens die revolusie is ’n leitmotief in die gesprekke; hulle mense is “geskiet en vermoor en verkrag”, sê tant Loekie (106). Sy het geen skuldgevoel oor enigiets nie – volgens haar het hulle alles gehad en alles verloor, hoewel hulle niks verkeerd gedoen het nie (113). George verloor spoedig belangstelling in haar tirades (135), en Carla bevestig sy skeptisisme oor die vrou. Carla verklaar sy is moeg vir tant Loekie se selfbejammering en toneelspel (138). Ten slotte blyk dit dat die huidige verdruktes nie so onskuldig is nie – Rietfontein, George se plaas, is byvoorbeeld verwoes omdat rebelle daarin geskuil het, ammunisie daar gestoor is, en uit die huis op die polisie geskiet het.

Twee tradisionele opvoeders

Bettie Conradie en Fanie Raubenheimer gee onderwys op die skooltjie by Moedersgift, waar tant Miemie woon. Op die plaas voer hulle ’n geïsoleerde bestaan, en die kinders word binne hierdie eng kulturele ruimte opgevoed. Die toneelstuk wat Bettie vir die skoolkinders laat opvoer, handel oor Racheltjie de Beer, en Fanie, wat homself as digter en profeet beskou, praat in clichétaal wat tot die verlede behoort:

“Ons is hier afgestorwe,” sê hy, “ons lewe heeltemal afgesonder. Ons het laer getrek hier in die uithoek van die land, dis nog net in die uithoeke dat mens vry kan wees, en ons hou die kampvure aan die brand, of ons probeer in elk geval.” (54)

Sy gedigte vertoon ’n simplistiese siening van die Groot Trek:

Die lig van beskawing met sekere hand
gedra oor die donkere velde […]
Asgaaiegekletter op tentseil en kap. (122)

Soms sukkel hy met die ritme en die rym, en wanneer hy ’n rymwoord vir “gehoorsaam” moet kry, haak hy vas:

Ons het same gestrewe en same gestry
en al wat ons had ook verloor saam.

Sy poëtiese voordrag eindig met die volgende reëls:

Geheilig ons strewe, en nooit sal ons rus
tot ons eenmaal oorwinning behaal nie.

As digter is hy die segsman vir die rebelle se gewapende stryd, vir die futiele hoop op ’n “oorwinning” wat die verlede sal herstel.

Raubenheimer word in die roman satiries uitgebeeld, en tog word hy deur die omstanders vereer – hy is vir hulle “die siener, die sanger, die profeet” (123). Hy en Bettie is onderwysers wat die kinders (én die volwassenes) binne hulle geestelike isolasie hou.

Die rebelle

Gerhard Snyman boer op die plaas Kommandosdrift, en dis ’n naam wat goed by hom pas, want hy het sy eie “kommando” versamel om ’n gewapende opstand teen die regering uit te voer. Saam met hom in die stryd is die twee oudste seuns van die Hattinghs, Hendrik en Johannes. Hulle is besig met ’n geheime onderneming, en hulle gesigte is uitdrukkingloos; hulle gevoelens word gemasker (25–6). Hulle stel veral in George belang om uit te vind of hy permanent na die land sal terugkeer en die stryd saam met hulle sal voer. Wanneer George met Gerhard gesels, voel hy die gesprek is soos ’n verhoor en dat hy geweeg en te lig bevind word (70). Ook by Johannes Hattingh voel dit asof hy getoets word (76–7).

Die leser word op subtiele wyse gelei om Gerhard te wantrou. Wanneer George die eerste keer vir Gerhard ontmoet, waarsku Paultjie hom: “’Jy moet oppas vir Gerhard,’ fluister hy; ’hy’s gevaarlik. Hy’t net gekom om uit te vind wie jy is’” (68). Later word Gerhard soos volg beskrywe:

Ja, dit is koue oë, dink George weer; die gesig is mooi, maar as jy goed daarna kyk, sien jy die hardheid en selfs die wreedheid van die gelaatstrekke. Hier kan jy geen genade verwag nie. (126)

Daar is ’n suggestie dat Gerhard dalk sy stryd nie om prinsipiële redes voer nie, maar om wraak te neem op die dood van sy pa Frank wat, soos vroeër genoem, weggeneem is en op raaiselagtige wyse gesterf het.

Gerhard se toespraak op Kommandosdrift openbaar sy opvattinge. Hy leef deels in ’n geïdealiseerde verlede, en deels in ’n illusionêre toekomsdroom. Hy wil sy mense byeenbring om saam met hom vir sy ideaal te stry:

Hierdie kontak is […] belangrik, want ons handjievol het ’n ernstige, ek wil selfs sê ’n héilige taak, om ons erfenis te handhaaf en te verdedig te midde van al die gevare wat ons bedreig, en ons moet saamstaan om mekaar aan te moedig en te steun. (113)

Soos tant Loekie, het hy ’n “onwrikbare geloof in die reg van ons saak” (114). Hy het ’n rassistiese oortuiging “dat die bande van die bloed sterker is as alle kunsmatige skeidings wat op ons afgedwing is” (114). Dit is onduidelik watter skeidings op hom en sy mense afgedwing is; wat wel duidelik is, is dat hy vergeet van die kunsmatige skeidings wat sý mense in die verlede op ander afgedwing het.

Die toespraak wat George in antwoord hierop maak, is reeds hier bo bespreek. In ’n latere gesprek tussen Gerhard en George blyk die kontras tussen hul beskouings nogmaals. Gerhard wil hê dat George na Rietvlei moet terugkeer, nie net ter wille van die plaas nie, maar ook ter wille van die land – die land soos Gerhard dit sien. George noem dat hy besluit het om die plaas te verkoop; volgens Gerhard is dit verraad (135). Die byeenkoms op Kommandosdrift bevestig finaal George se vervreemding, dat hy hom nie met die geselskap kan vereenselwig nie en dat sy terugkeer na die buiteland onvermydelik is.

Dan kom die polisie die huis binne en arresteer vir Gerhard en die twee oudste Hattingh-seuns. Hulle was met ’n komplot teen die regering besig en het wapens daarvoor bymekaar gemaak, vandaar die arrestasie (145). Fanie word nie gearresteer nie, maar word gewelddadig behandel – hy was immers die spreekbuis van die opstandelinge. Gerhard en die twee Hattinghs sit hulle glad nie teë nie (139–40), en dit blyk dat die groepie opstandelinge magteloos is teen die mag van die owerheid; hulle is besig met planne wat nie ’n kans het om te slaag nie. Die toneel wys profeties vooruit na die opstand van die Boeremag jare later, na hul gevangeneming en die vonnis wat hul opgelê is.

Paultjie

Die twee jongste kinders van die Hattinghs, Paultjie en Carla, vorm ’n skerp teenstelling met die twee ouer kinders, Hendrik en Johannes. Waar die oudste twee besig is met die beplanning van ’n gewapende opstand, is Paultjie en Carla krities teenoor die futiele koestering van hierdie droom om die verlede te herstel. Die twee jongeres is die enigste persone met wie George ’n simpatieke gesprek voer en vir wie hy beter leer ken. Teenoor hulle voel hy ’n groter toegeneentheid.

Paultjie het geen belangstelling in die plaaslewe nie. Hy soek toenadering by George. Hy wil met hom praat, want hy wil hoor “van alles behalwe die plaas en die skape en die mielies”; hy wil hoor “dat daar iets anders is as dit, […] dat daar ’n ander wêreld bestaan, anders is dit nie die moeite werd om aan te gaan nie” (65). Hy maak stilletjies boeke bymekaar, ook boeke wat verbode is, om hom oor ’n ruimer wêreld in te lig. Hy sien die skynheiligheid van die volwassenes; hy het hulle wel lief, maar hy haat hulle ook, “omdat hulle my vashou soos ’n blok aan my been, sodat ek nie kan wegkom nie, hulle trek my met hulle saam in die afgrond” (118). George moet hom help om te ontsnap uit die lewe wat van hom verwag word, naamlik om te boer en miskien selfs om deel te neem aan die opstand teen die regering. Daarom sy dringende oproep aan George:

Jy het gesien wat gisteraand gebeur het – ek wil nie hê dat dit met my gebeur nie, ek wil nie my lewe eindig soos Gerhard-hulle nie, ek wil nie word soos Pappie of oom Wet of soos Fanie met sy versies nie. Help my dat ek kan wegkom. (144)

Hy is ’n deerniswekkende, selfs tragiese karakter, en die leser kan identifiseer met sy afkeer van die mense óm hom en sy onmag om van hulle weg te kom. George gee uit simpatie al die geld in sy beursie aan hom, maar of dit werklik vir Paultjie in staat sal stel om te ontsnap, is te betwyfel. Hy word Paultjie genoem, en nie Paul nie, want hy is onvolwasse; hy weet net van afkeer en opstand, en het nog nie, soos sy suster Carla, ’n alternatiewe moontlikheid gevind om betekenisvol te lewe nie.

Carla

Carla is ’n kontrasfiguur; ’n mens sou haar as die held van die roman kan beskou. Wanneer George in die nag deur die huis van die Hattinghs stap, verskyn Carla met “’n brandende kers in die donker”, en sy “bly daar staan met die blaker omhoog gehou om hom lig te gee” (74). Sy is inderdaad ’n lig in die simboliese donkerte van die omgewing.

Wanneer George op Moedersdrift gedwing word om na die vervelige gesprek tussen tant Miemie en mevrou Hattingh te luister, wink sy hom bedagsaam na buite, en dan begin ’n gesprek tussen die twee waaruit Carla se insig blyk. Sy weet dat George nie op Rietvlei hoort nie, en, anders as Gerhard, raai sy hom aan om die plaas te verkoop (48). Sy sê hy moet die verlede vergeet: “Dis alles verby, waarom vergeet jy nie liewer daarvan nie? Laat die dooies hul dooies begrawe” (47).

Sy sien in dat die skool waar Fanie en Bettie onderwys gee, ’n swak skool is: “Dis ’n vrot skool, maar dis óns s’n,” sê sy (45). Sy is betrokke by wat in die omgewing vir die kinders gedoen word, hoewel sy krities is. Sy is anders as al die ander karakters, wat die werklikheid ontvlug deur óf in herinneringe aan die verlede te leef óf in dwase toekomsdrome opgaan:

Ek weet nie hoe dit was nie en ek wil ook nie weet nie. Ek is moeg vir al julle drome en herinnerings, ek wil nie in die verlede leef nie, ek wil nie kom treur oor ’n toegegroeide ou blomtuin nie. Daar is werk om te doen, die lewe moet aangaan. Ek wil huis toe gaan!” (50)

Daar vind ’n toenemende toenadering tussen George en Carla plaas. Wanneer Carla vir Paultjie voorlees uit ’n sentimentele roman, glimlag sy en George vir mekaar daaroor, en Paultjie vererg hom en verlaat die vertrek. Dan is Carla en George “alleen teenoor mekaar” (84). Dit lei tot ’n gesprek met ’n groter mate van openhartigheid en diepte as enige vorige gesprek in die roman. George noem dat Carla hom interesseer, omdat sy anders is as al die ander meisies wat hy vroeër geken het (86–7). Carla openbaar ’n skerp insig in haar mense. Sy sê hulle “het minder as mense geword”, en dit het fatale gevolge vir jou mens-wees:

As jy nie meer as mens beskou word nie, as jy nie meer as mens behandel word nie, begin jy naderhand self ook vergeet dat jy ’n mens is. Jy verloor jou trots en jou waardigheid: al wat nog saak maak, is om aan die lewe te bly, jy kruip en kronkel en verneder jouself op bevel. (87)

Sy is skerp krities teenoor die ouer geslag:

Hulle het jare van ons lewens met daardie dinge vermors, met hulle volksliedere en toesprake en geloftes, maar dit het geen sin nie […] Hulle kon ons liewer geleer het om stil te bly, hoe om te vergeet, hoe om nederig en geduldig te wees en aan te hou om aan die lewe te bly vasklou kom wat wil.

Sy distansieer haar van haar ouers, maar nie van die land nie; sy glo dit is tog moontlik om ’n mooi lewe in hierdie mooi land te lei (89). En dan beëindig sy die gesprek omdat sy werk het om te doen.

Wanneer George op vertrek staan, kry Carla nog ’n laaste woord in. Die feit dat haar lewensbeskouing op so ’n prominente plek aan die einde van die roman geplaas is, beklemtoon die gewig wat haar woorde dra. Sy formuleer die slotsom waartoe sy gekom het, helder:

Wanneer iets onherroeplik geword het, moet jy die feit erken en dit aanvaar […] Dit help nie om te skop en te spartel nie, al jou trane en jou gebede sal jou nie help nie, jy moet verder lewe, so goed of so sleg soos jy kan. Dis die lewe wat onverbiddelik is, nie ék nie. Daardie ou wêreld het verdwyn en dit sal nooit in die ewigheid terugkom nie, selfs al gee ons ons lewens om dit te probeer herwin. (149–50).

Sy besef wel dat sy die plaas sal moet verlaat, omdat dit ’n benouende wêreld is wat haar gevange hou, maar om die land te verlaat is nie vir haar ’n opsie nie. Sy sal bly soek daarna om betekenisvolle dade te verrig, soos die keer toe sy met lewensgevaar ’n gewonde rebel versorg het. Sy bly steeds glo: “[D]aar moet iets wees wat vir jou genoeg beteken om jou hele lewe daarvoor te waag, om álles daarvoor te waag” (146).

Dit is ’n taal waarvoor George waardering het, maar hy kan dit nie verstaan nie. Carla besef dit. “’Ons praat ’n ander taal,’ sê sy stadig, ’al klink die woorde ook dieselfde. Ons bly vreemdelinge vir mekaar, en jy sal nooit begryp waaroor ek praat nie. Maar probeer’” (151).

Slotsom

Dit is te betwyfel of George ooit Carla se taal sal begryp en dit sal praat, maar hy het waardering vir haar eerlikheid en haar moed. Dit blyk dat hy nie heeltemal onaangeraak is deur sy besoek aan Rietvlei nie, hoewel hy met die meeste persone geen kontak kon maak nie. Vir Paultjie het hy wel simpatie, en vir Carla het hy kennelik bewondering. George beliggaam die tema van die mens as buitestander, as vreemdeling op aarde; met Carla word die tema uitgebeeld van die moontlikheid om betekenisvol te lewe, selfs in ’n tyd van verglyding, wanneer die bekende wêreld om jou verkrummel.

 

[i] Burger, Willie. 2007. Schoeman, Karel. Na die geliefde land 2007 (1972). Beeld, 24 September.

[ii] Aangehaal deur Burger (2007).

[iii] Van der Merwe, CN: The farm in Afrikaans fiction – the history of a concept. In CN van der Merwe (red) (2018), Strangely familiar – South African narratives on town and countryside, ble 161–2.

[iv] Olivier, Gerrit: Terug na die geliefde land: Karel Schoeman en die plaasroman. In Willie Burger (red), Stemme en stilte: beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Ter perse by Naledi Uitgewers.

[v] Schoeman, Karel: Na die geliefde land, bl 126. Kaapstad: Human & Rousseau, 1972.

Lees ook:

Karel Schoeman – die Goethe van Afrikaans

Musiek en dans as teks in drie romans van Karel Schoeman: Na die geliefde land, ’n Ander land en Verliesfontein

Karel Schoeman (1939–2017)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top