Hierdie gesprek tussen Cas Wepener en Chris van der Merwe handel oor hul boeke wat so pas verskyn het: Die heiligheid van hier (Cas) en Grenselose genade (Chris).
Chris: Cas, ons is albei “rare voëls” – ’n letterkundige wat boeke oor die teologie skryf en ’n teoloog wat romans skryf. Hoe sien jy die skakels tussen teologie en letterkunde?
Cas: Chris, uiteraard bestudeer beide velde tekste. In die teologie word geskrewe tekste bestudeer, maar ook dit wat mense dóén is tekste wat vra vir interpretasie. En die tekste in beide die letterkunde en die teologie is nie sommer enige tekste nie, maar neig in die rigting van simbool en metafoor, na wat ons kan noem verdigting, maar ’n soort verdigting wat eintlik op soek is na opheldering. In Die heiligheid van hier skryf ek onder andere hoe God en gedigte lepel lê in daardie domein waar die pendulum voortdurend swaai tussen weet en nie weet nie; tussen ’n sekere onsekerheid en ’n onsekere sekerheid. Daar is dus ’n baie noue band ten opsigte van die onderwerpe van die twee studievelde. En, as ek mag, en terwyl ek ’n letterkundige se oor hier het: Letterkundige studies kan baat vind daarby om soms aandag te skenk aan teologie, want ingebed in baie literêre werke is daar hope godsdiens, teologie en spiritualiteit. Soms is die prosa of poësie selfs spirituele tekste wat vra vir ’n spirituele benadering. Vir my as teoloog is dit egter nog meer so na die kant van die teologie, waar ons deegliker kennis kan neem van die letterkunde. So tersyde – vra bietjie vir studente wat studeer om predikante te word of hulle al ooit gehoor het van Van Wyk Louw en Opperman, of selfs Gert Vlok Nel en Bibi Slippers ... Ek sê eerder niks. Is die bediening iets anders as om woordkuns in ’n veelheid van vorme te bedryf? En kan ’n mens dit werklik sinvol in Afrikaans doen onder om darem so ’n bietjie Afrikaanse letterkunde te lees?
.......
Is die bediening iets anders as om woordkuns in ’n veelheid van vorme te bedryf? En kan ’n mens dit werklik sinvol in Afrikaans doen sonder om darem so ’n bietjie Afrikaanse letterkunde te lees?
.......
Beide velde gaan ook oor ’n sekere soort wéér kyk; oor ánders kyk. Kom ons sê beide velde gaan oor “geloof”. Neem Coleridge se konsep “the willing suspension of disbelief”. Hoe kan ek ’n roman lees daarsonder? Indien ek nie my onwrikbare geloof in ongeloof vir ten minste die duur van die verhaal opskort nie, sal dit ’n bra saai leeservaring wees. En is hierdie basiese idee uit die letterkunde nie van groot belang in ’n laat moderne era, veral in die lig van die nuutste teorieë oor sekularisasie, vir teologie en geloof nie? Kan die letterkunde ons dus help om in te sien dat ongeloof ’n gekose posisie en fabrikasie is en selfs die verstekposisie waarmee ons in ons dag in die wêreld teenwoordig is? Dalk sien ons, wanneer ons ons eie geloof in ongeloof kan eien, in die woorde van Jan Swanepoel, “Die ganse dag is ene God.” Of ten minste dat die wêreld wat ons bewoon en die wêreldbeeld waarmee ek werk, ook op ’n meer poreuse wyse benader kan word.
Ek stop hier, maar ons kan nog lank gesels oor die feit dat beide letterkunde en teologie werk met die mees eksistensiële vrae van ons bestaan; besin oor die werklikheid waarin ons ons bevind; opsies oopbreek oor wat geld as bronne wat ernstig opgeneem word (soos mites en rites!) en wat nie; en nog baie meer.
Chris: Die hele lewe bied die grondstof vir sowel die teologie as die letterkunde. Soos Van Wyk Louw dit gestel het: Niks wat die Here toelaat om op aarde te gebeur, is vir die skrywer en digter verbode terrein nie. En vir die teoloog geld die waarheid dat God die Heer van die hele lewe is.
Jou boek is getitel Die heiligheid van hier. Daar was in die verlede ’n sterk tradisie van wêreldveragting in die Christelike kerk. Dit was ’n beskouing dat hierdie wêreld verdorwe is, in teenstelling met die heiligheid van die hemel. Ek onthou ’n ou kerklied wat gesê het die aarde het min waarde. Dit lyk nie of jy daarmee saamstem nie?
........
Die klem op die hiernamaals word deesdae teologies veel beter gebalanseer met die hiermaals (om ’n term by Lina Spies te leen).
........
Cas: Jou vraag handel oor die verhouding tussen die “hier” en die “heiligheid”. Ek volg die Brasiliaanse Katolieke teoloog Leonardo Boff na in die bundel wat pleit dat ons meer sakramentele mense moet word. Dit resoneer met die heiligheid van hier, want wanneer ek ’n sakramentele ingesteldheid kweek en die sakrament van die alledaagse omarm, en só na die wêreld rondom my begin kyk, dan begin leef ek anders in die hier. Soos Wilma Stockenström skryf in haar gedig “Almoeder”: “Om te weet waar ek trap / onderaardse riviere vlermuisstil / vloei, laat my bedeesder trap.” En terloops, daardie lied waarna jy verwys se woorde is met die nuutste uitgawe van die Liedboek van die kerk aangepas na “Hoe skoon die aarde / dit het groot waarde.” Dit lyk na ’n klein aanpassing, maar eintlik onderlê enorme teologiese skuiwe sulke hersienings van tekste, uiteraard ook ’n groter wordende ekologiese bewussyn wat nie noodwendig berus op teologiese ontwikkelinge nie. Daar is groot werk wat gedoen word oor teologie en ekologie, en die onderbou daarvan is onder meer die leer van die inkarnasie, die vleeswording, en ’n groeiende insig dat God self as Skepper gekies het om gewone aardse dinge en dit wat beskikbaar is, te gebruik, soos ’n mens, en soos water en wyn en brood, selfs grond gemeng met spoeg wat modder word. (En Jesus het nie in Emmaus sy eie kosblik met toebroodjies uitgehaal nie.) So die klem op die hiernamaals word deesdae teologies veel beter gebalanseer met die hiermaals (om ’n term by Lina Spies te leen).
Chris: Jung het glo gesê gejaagdheid is nie van die duiwel nie, dit is die duiwel self. Wat dink jy is die gevare van ’n gejaagde lewe? Jy skryf nogal verrassend oor “tydmors”.
........
Dis moeilik vir ons – al ontspan ons en hou ons vakansie, sit daardie Protestantse werksetiek in ons DNS. Om nie tyd te mors nie, is bykans soos daardie verstekinstelling van “ongeloof” waarmee ons leef. Vinniger en groter is mos altyd beter, en luiheid en leeglê is van die duiwel self.
........
Cas: Wel, dit sluit direk aan by my antwoord op die vorige vraag. Wanneer jy te gejaagd is, soos ek dikwels is, dan het jy nie tyd vir die hiermaals nie. Dan het jy nie tyd om die heiligheid van hier te beleef nie. En die sin van die lewe is vir my hoofsaaklik om te lewe – die lewe self is die antwoord op die sinvraag – maar dan om op ’n bepaalde maniér te lewe. Gejaagdheid laat jou dus nogal baie mis, naamlik die lewe self. Om Bob Marley se woorde in sy lied “Rat race” aan te haal: “In the abundance of water the fool is thirsty / … Oh, it’s a disgrace to see the human race. In a rat race, yeah.” En dit is waar tydmors inkom. Dis moeilik vir ons – al ontspan ons en hou ons vakansie, sit daardie Protestantse werksetiek in ons DNS. Om nie tyd te mors nie, is bykans soos daardie verstekinstelling van “ongeloof” waarmee ons leef. Vinniger en groter is mos altyd beter, en luiheid en leeglê is van die duiwel self. Susan Sontag skryf oor toeriste wat tydens vakansies foto’s neem om so darem produktief te voel. Jy is dus met vakansie, maar die niksdoenery voel so verkeerd dat jy jou kamera uithaal om ten minste te voel jy werk, want dit voel meer reg as ontspan en as “tydmors”. En vir my persoonlik is stap hier ook ’n voorbeeld. Ek stap graag teen die hange van Stellenboschberg, maar ek mág nie – my stappie moet altyd produktief en kwantifiseerbaar wees. Indien ek nie foto’s het om te wys na die tyd nie, of met ’n baie fancy horlosie op ’n kwantitatiewe wyse kan wys hoeveel kilojoules ek verbrand het en wat deel word van data wat ek statisties oor maande heen opgaar om so tendense en stappatrone aan te dui nie, moet ek boomname in Afrikaans, Engels, Xhosa en Latyn leer, of ek moet voëlkyk beoefen, of geld per kilometer insamel vir teologiese opleiding, of wat ook al, maar om sommer net te stap, net sonder enige rede te gaan stap, mag nie gebeur nie. Nee, sulke tydmorsende slegtigheid word nie in ons kultuur geduld nie. En die grootste teenkanting wat die stapper kry teen sy pogings om sommer net te gaan stap, kom van homself af.
Chris: Waar ek woon, is daar ’n hele aantal spoedbulte, en dit word amptelik aangedui as ’n “calming zone”. Vir die meeste mense is dit nie ’n “calming zone” nie, maar ’n irritasie. En tog het ons miskien spoedbulte, “calming zones”, in ons daaglikse lewe nodig.
Cas: Jou boek Grenselose genade het die newetitel: “’n Moderne geloofsbelydenis”. Baie moderne mense het groot probleme met sekere Christelike konsepte, onder andere “hemel” en “hel”. Gaan die groot meerderheid van die mensdom in ’n ewigdurende martelplek beland omdat hulle nie “reg geglo” het nie, terwyl die groepie sondaars wat toevallig die “regte geloof” het, in ’n oord van saligheid beland? Jy skryf ’n hoofstuk hieroor.
Chris: Ek dink een van die groot probleme is dat mense die teenstelling tussen hemel en hel tot die hiernamaals beperk. Christene glo wel aan ’n hiernamaals waar geregtigheid geskied en waar ’n onderskeid tussen hemel en hel bestaan. Maar dis ’n teenstelling wat nie net vir die hiernamaals geld nie, maar ook vir die aardse lewe. Jesus sê die ewige lewe is om hom te ken, en ook die Een wat hom gestuur het. Dit beteken die ewige lewe, die hemel, is om God te ken, om in verbondenheid met God te lewe, en hel is om geskei te wees van God en sy gebod. Selfs in ’n wêreld vol leed kan iets van ’n hemelse lig dus deurskemer. In Schiller se gedig “An die Freude”, wat Beethoven in sy negende simfonie gebruik het, kom die volgende woorde voor: “Wollust ward dem Wurm gegeben / Und der Cherub steht vor Gott” (“Wellus is aan die wurm gegee, en die gerub staan voor God”). Die bose mens het ook sy vreugdes, die helse vreugde van wellus en verkragting; die engel het ’n ander soort vreugde, die vreugde van God se teenwoordigheid. Die wesenlike verskil tussen hemel en hel is dus nie soseer tussen vreugde en pyn nie, maar tussen die soorte vreugdes wat nagestreef en beleef word.
Cas: Die Kerk se verkondiging dat die mens in sonde ontvang en gebore is, gee baie mense aanstoot. So ’n beskouing lei tot ’n slegte selfbeeld en is ook sleg vir persoonlike verhoudings. Of nie?
Chris: Ek het ook ’n probleem met so ’n negatiewe siening van die mens. Jesus het sekerlik nie alle mense as deur en deur verdorwe beskou nie. Hy het na Nataniël gekyk en gesê dit is ’n man in wie daar geen bedrog is nie; hy het na die kindertjies gekyk en gesê sy dissipels moet soos hulle word. Ons hoef nie deur ’n donkerbril na ander te kyk nie, veral nie na andersdenkendes nie. Alle mense is nie volkome sleg nie, maar alle mense kan met God se genade beter mense word.
Dit kan ook baie beter gaan met ons samelewing. Jy skryf baie oor die heling van die gemeenskap. Twee van jou rubrieke het die prikkelende titels: “Bestuurders vir die lykwa en die nagwa in Suid-Afrika” en “Om met liefde te stik”. Gesels ’n bietjie oor “Om met liefde te stik”.
Cas: Wat ek in daardie hoofstuk aansny, is ’n tema wat my seker my hele loopbaan lank sal besig hou. Dit is basies net ’n bespreking van Damon Galgut se fenomenale roman The promise, en ek vergelyk ons Suid-Afrikaanse samelewing met die some en rafels van ’n kledingstuk. Daar is soveel Suid-Afrikaners wat net ’n lawaai maak en die hele tyd sit en torring aan die rafels. Daar is egter ook ’n paar Suid-Afrikaners wat iets anders doen, maar ons sien hulle nouliks raak. Galgut het hulle wel raakgesien. Teen die einde van The promise, na ’n hele paar begrafnisse en ’n onvervulde belofte, is dit Amor en Salome, liefde en vrede dus, wat mekaar omhels. En ek dink dit is ongelooflik hoe Galgut ons aandag vestig op die stiller Amors in ons midde, mense wat nouliks sigbaar is en wat, eerder as om te torring, met naald en gare by die rafels in die nate van ons samelewing besig is. Dit is die mense wat besig is om daar waar dit nodig is, met liefde te stik.
Chris: Jy skryf ook oor trane; jy vra dat trane ons moet beweeg van apatie na energie. En jy skryf heelwat oor woede. Gesels oor trane of oor woede?
........
Dalk is die gedreun van soveel mense in ons land eintlik ’n nasie wat ween.
........
Cas: Ek het al heelwat oor woede geskryf en is juis nou besig met ’n boek getiteld Angry preaching. So ek kies eerder trane, wat, let wel, baie naby aan woede lê, want soos trane is woede ook ’n soort lament. Die filosoof Nicholas Wolterstorff het na sy seun se dood in die boekie Lament for a son geskryf: “I shall look at the world through tears. Perhaps I shall see things that I dry-eyed could not see.” Trane kan soms help om anders te kyk, om ’n nasie in pyn te herverbeel en nuwe moontlikhede te sien wat ons nie met droë oë gaan raaksien nie. Dink byvoorbeeld wat gebeur het toe Jesus vir Maria en die mense by haar sien huil het oor die dood van haar broer Lasarus. Toe het Jesus self ook begin huil. Deur die trane het medelye en daarmee saam nuwe moontlikheid gekom. En dit is daaruit, uit sy trane, dat die noodsaak vir ’n wonderwerk gekom het. Dit is in die snikke van landgenote wat rondom my besig is om te sterf dat ek ook besef wonderwerke, soos dié van Lasarus, is ook in Suid-Afrika ononderhandelbaar. Ongelukkig beleef ek te dikwels die mense rondom my se trane as ’n gegrom en geblaf. Dalk is die gedreun van soveel mense in ons land eintlik ’n nasie wat ween. Dink hier aan Bright Blue se lied “Weeping”, en hoe hulle sing “It was not roaring it was weeping.” Die opwekking van ’n land, soos die opwekking van Lasarus, begin met trane. Trane wat beide regeerders en burgers anders laat kyk na hulle land en die mense rondom hulle, hulle laat besef dis tyd vir ’n wonderwerk en wat hulle dan in beweging bring.
Cas: Jy het baie oor trauma geskryf – hoe verbind jy die pyn van trauma met ’n God van “grenselose genade”?
Chris: Dit is ’n vraag waarmee baie mense worstel. Wat my wel gehelp het, is die besef dat ’n geweldige trauma in die sentrum van die Christelike narratief staan: die trauma van die kruisdood van ’n onskuldige man, ’n situasie waar dit vir Jesus sowel as vir sy dissipels gelyk het of hulle hele wêreld ineenstort, of alles wat hulle geglo en gedoen het, tevergeefs was. Die narratief wat vir hulle betekenis verskaf het, het tot ’n einde gekom. Die Een vir wie Christene aanbid, is ’n “gekruisigde God”, soos Moltmann geskryf het. Dis ’n God wat nie net ver bo ons verhewe is nie, maar wat ook naby gekom het in Jesus, wat lyding en teleurstelling ken, en wat saam met ons voel in ons smart. Omdat Jesus ’n “man van smarte” was, kan sy Gees ’n ware Trooster wees.
Maar die Evangelie eindig nie by die kruisiging nie. Dit handel oor die herbelewing van hoop en betekenis, oor die herskepping van die verlore narratief in ’n heerliker gedaante, met die opwekking van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees.
Cas: Hoe vertel jy iemand wat werkloos en arm is, van ’n God van genade?
Chris: Tydens ’n radio-onderhoud wat Johann Els van Radiokansel met my gevoer het, het ons ’n SMS gekry: “Hoe kan ’n mens aan God se genade glo as jy ’n werklose in Soweto is?” Die vraag het my omgeboul; ek het besef dat die boodskap van God se genade vreemd moet klink vir iemand wat sonder geld en sonder kos is. Toe het die SMS my laat dink aan wat Walter Brueggemann oor “distributive justice” gesê het. Hy skryf in Theology of the Old Testament: “The well-being of the community requires that social goods and power to some extent be given up by those who have too much, for the sake of those who do not have enough.” Die bevoorregtes moet instrumente van God se genade wees deur te gee en te deel; dan kan ook die werkloses glo in die genade van God wat deur mense verwesenlik word.
Cas: Is “grenselose genade” nie ’n gevaarlike konsep nie? Moet genade nie sy grense hê nie? Wat word van geregtigheid as genade grensloos is?
Chris: Toe ek oor genade begin skryf het, het die teenoorgestelde begrip telkens by my opgekom: geregtigheid. Hoe verbind ’n mens genade en geregtigheid? Geregtigheid behels dat elkeen kry wat hy verdien, dat die goeie mens sy beloning ontvang en die slegte mens gestraf word; genade impliseer dat ’n mens ontvang wat jy nie verdien het nie. Ons almal het ’n sin vir reg en geregtigheid, maar ons almal het ook genade nodig wanneer ons tekortskiet. Dit lyk of albei hierdie konsepte ’n bestaansreg het, maar dat hulle mekaar uitsluit.
........
Hoe verbind ’n mens genade en geregtigheid? Geregtigheid behels dat elkeen kry wat hy verdien, dat die goeie mens sy beloning ontvang en die slegte mens gestraf word; genade impliseer dat ’n mens ontvang wat jy nie verdien het nie.
........
Die Christelike geloof bring ’n unieke versoening van die twee begrippe. Die Christelike verhaal vertel van ’n God-mens wat die skuld van die mensdom op hom geneem het. Dirkie Smit het in ’n rubriek geskryf dit is asof daar ’n skeur deur die hart van God loop, ’n skeur tussen die begeerte om onbeperk te gee en die woede oor wat mense mekaar aandoen, oor dade wat gestraf behoort te word. As ’n mens die konsep van inkarnasie aanvaar, van ’n God wat mens geword het, dan is die kruisdood soos ’n sluis wat oopgegaan het sodat die genade van God vryelik kan vloei, omdat daar voldoen is aan die eis van geregtigheid.
Cas: Die dood van ’n onskuldige man aan die kruis lyk na ’n uiters onregverdige gebeurtenis. Waarom vergeef God nie onvoorwaardelik nie? Waarom laat hy sy seun so ’n wrede dood sterf? Selfs ’n aardse vader sal nie so iets oor sy hart kry nie – hoe kan ’n sogenaamde God van liefde dit doen? So praat baie mense.
Chris: Mense wat so praat, begryp nie die intieme verbintenis tussen Jesus en sy Hemelse Vader soos dit in die Johannes-evangelie uiteengesit word nie. Jesus sê selfs wie die Vader gesien het, het hom gesien. Hy en die Vader is een. Die kruisiging handel nie oor ’n vader wat sy seun laat ly en self onbesorg in die hemel sit nie; dit gaan oor ’n gekruisigde God, ’n lydende God wat sy grenslose, selfopofferende liefde aan die kruis openbaar.
........
Dit is veral die individualistiese mens, die een wat glo dat elkeen net vir homself verantwoordelik is, wat moeilik kan aanvaar dat een mens homself ter wille van ander opoffer.
........
Dit is veral die individualistiese mens, die een wat glo dat elkeen net vir homself verantwoordelik is, wat moeilik kan aanvaar dat een mens homself ter wille van ander opoffer. Martin Buber het die waarheid ingesien dat die wêreld gegrond is op verbintenisse – niemand en niks is op sy eie nie. Hy skryf in I and Thou (die Engelse vertaling van Ich und Du): “In the beginning was the relation.” Die belangrikheid van verhoudings word bevestig deur die navorsing van kwantumfisici: In die mikroskopiese werklikheid wat hulle ondersoek, het hulle ontdek dat verhoudings die grondslag van alles vorm. “Reality is reduced to relation,” skryf Carlo Rovelli in Reality is not what it seems. Mikroskopiese deeltjies kan selfs individueel heeltemal verdwyn en dan herverskyn in ’n verhouding.
Buber se stelling roep die begin van die Evangelie van Johannes op: “In die begin was die Woord.” Daar is inderdaad ’n diepsinnige verband tussen die Woord van die Evangelie en Buber se “relation”. Want Jesus, die Woord van God, se roeping was om verhoudings te herstel – die gebroke verhoudings tussen mens en mens en tussen mens en God. Jesus het die waarheid bevestig dat verhoudings die grondslag van die skepping is, en sy koms het die verbintenis van die Skepper met die skepping bevestig. Die Evangelies vertel die verhaal van ’n Skepper wat verantwoordelikheid vir die skepping aanvaar het en homself geoffer het om heling in verbrokkelde verhoudings te bring.
Cas: Het Jesus gely sodat sy volgelinge nie hoef te ly nie?
Chris: Ná sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels en wys hulle die wonde aan sy hande en sy sy. En dan kom die opdrag: “Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook.” In navolging van hul meester sal hulle gewond word; hulle sal ook “wounded healers” wees, in die woorde van Henry Nouwen. Hulle leef met die wete dat slegs opofferende liefde gebroke verhoudings kan herstel, en hulle gee hulself met die insig van Peter Blum se “Man wat mal word”: “Wie só uitgedeel / aan die al is, het die al in hom begryp – / en dit is liefde.” Hulle lewe is nie pynloos nie, maar wel betekenisvol.
Dit het my getref dat Die heiligheid van hier uit sewe afdelings bestaan, elk met sewe rubrieke. En dan volg ’n verrassing: ’n agtste afdeling met slegs een rubriek, getitel “Kiere in die kosmos”. Verduidelik jou gebruik van getalle, en ook die titel van die laaste rubriek.
........
Ons is self – ons monde, ons handelinge, ons hier-wees – ’n beliggaming van sterwe én opstanding.
........
Cas: Die indeling berus op sewe keer sewe, dus sewe keer die volmaakte getal. Plus een. Aan die een kant is die woord “Pinkster” afkomstig van die woord vir 50. Aan die ander kant is ’n Sondag eintlik nie die sewende of die eerste dag nie, maar die agtste dag, te wete die eerste dag van die nuwe skepping. En ek sien daardie bykomende rubriek as simbolies van hoe “hier” met “heiligheid” verbind word. Daardie vyftigste rubriek, of eerder daardie agtste dag, is ’n kier, ’n spleet, ’n opening. Erna Jo Kritzinger skryf in haar gedig “Christos anesti” van die leë graf van Christus na die opstanding en noem dit “’n wond in die berg: ’n oop donker mond”. Die gat van die opstanding laat ’n kier in die kosmos waardeur ons kan beleef “iets het gebeur”, en iets gebeur steeds. In die rubriek, in navolging van die dosyne opgehefde hande in my en jou gunstelingroman, Die uur van die engel, sinspeel ek daarop dat ons self ook kiere in die kosmos kan word. Met ons woorde en ons dade word ons angeloi – dit beteken in die Grieks “boodskappers”, of in Karel Schoeman se eie woorde, “gesante van God”. Ons is self – ons monde, ons handelinge, ons hier-wees – ’n beliggaming van sterwe én opstanding. Dit maak van ons in hierdie lewe “tegelyk begrafnisgangers én getuies van die opstanding in hierdie lewe. En as sodanig openinge, gleuwe, splete waardeur iets van die Iets vir ’n oomblik in die ewigheid flits; brose kiere in die kosmos en juis só gesante van die heiligheid van hier.” Elke afdeling, soos jy gesien het, begin met ’n gedig. En om ons voete en heiligheid plat in die hier-wees te hou, is daar ná hierdie laaste rubriek nog een bykomende gedig van IL de Villiers waarvan die bekende slotreëls lui:
Sheila, tussen gebede bly ons bieg:
oor al ons heiligheid loop daar ’n vlieg.
Lees ook:
’n Liturgiese praxisteorie vir ’n teologie van versoening en geregtigheid