.............
Dit bevat fassinerende stories, boeiende karakters en prikkelende insigte, op ’n meesterlike wyse in die struktuur van die roman geïntegreer.
................
Roman
Cas Wepener
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485314028
Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking, soos die ander besprekings in die reeks, spesiaal vir leeskringe. Hy kies die boeke self. Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hieronder gedeeltes van die intrige verklap.
’n Roman oor die roman
Danie Gouws, akademikus van Stellenbosch, gaan na ’n dorp in die Klein Karoo om navorsing te doen oor die kultuur, tradisies en geskiedenis van die omgewing. Gou blyk dit dat hy eintlik geïnteresseerd is in Gert Swanepoel, die geweldenaar wat in die 19de eeu daar geleef het en die laaste moordenaar was wat in Suid-Afrika in die openbaar tereggestel is. Die roman is as ’t ware ’n studie in boosheid, wat aansluit by Wepener se vroeëre roman, Syferfontein, oor ’n skynheilige en selfgesentreerde man wat almal om hom vervreem. Die roman laat ook dink aan Kroniek van Perdepoort, die werk van Anna M Louw oor die sewe sogenaamde doodsondes. Danie Gouws wil uitvind: Wat is die aard van die bose, soos beliggaam in die lewe en sterwe van Gert Swanepoel?
............
Die titel is dubbelsinnig: Dit is ’n roman waarin die motief van die baardskeerder, ook genoem ’n roman, deur die hele verhaal verweef is. Die boek handel oor die skadusy van die mens, die kant van die menslike natuur wat liefs verberg word. Die baardskeerder is bekend daarvoor dat hy nie van die sonlig hou nie en dat hy mense agtervolg om in hulle skaduwee te kan bly.
..............
Die titel is dubbelsinnig: Dit is ’n roman waarin die motief van die baardskeerder, ook genoem ’n roman, deur die hele verhaal verweef is. Die boek handel oor die skadusy van die mens, die kant van die menslike natuur wat liefs verberg word. Die baardskeerder is bekend daarvoor dat hy nie van die sonlig hou nie en dat hy mense agtervolg om in hulle skaduwee te kan bly. Dit hou verband met Swanepoel se storie. Blackie, die geskiedenis-onderwyser, verduidelik:
Blackie het ook gesê dat Gert Swanepoel se storie, soos die waarheid, nie van die lig hou nie. "Solifugae", het Blackie half ingedagte gesê, en toe Danie frons, verduidelik dat dit die wetenskaplike naam is van spinnekoppe wat sku is vir die son. (104)
In die studie van Danie Gouws sal verborge dinge geopenbaar word wat skrikwekkend is. Willem Marsman, die petroljoggie met verrassende wysheid, waarsku vir Danie waartoe sy navorsing kan lei:
As jy klippers in dié deel van die wêreld omrol, dan hardloop daar sommer gou gevaarlike goete soos skerpioene oor die vlaktes of romans wat jou jaag om in jou skaduwee te kom. (14)
Net voor Gert se geboorte kry sy pa, Godlieb, ’n onheilspellende gesig wat hom laat ril, “soos drie baardskeerders wat gelyktydig oor jou nek loop”, sodat hy uitroep: “Liewe Here, behoede ons” (161). En by Gert se dood lyk dit of hy ’n beliggaming van die bose geword het, sodat hy soos ’n baardskeerder lyk – Danie kry in sy kop “’n prentjie van ’n skavot met ’n galgtou […] waaraan ’n lang rooi en harige roman met twee yslike voete hang” (270).
Die motto, ’n aanhaling uit ID du Plessis se ballade “Rietfontein”, gee ook ’n aanduiding van die temas in die boek:
By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom,
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel in die stroom,
Word op maanverligte nagte nog ’n sombere tafereel
Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.
Dis ’n verhaal van haat en wellus maar, onverwags, ook van liefde; ’n verhaal waarin die verlede ’n herverskyning maak en ’n sombere tafereel skep.
Geskiedenis, fiksie en waarheid
Die roman is op historiese gegewens gebaseer. Danie laat blyk dat hy heelwat navorsing oor sy onderwerp doen. Hy google (31), kyk na foto’s op die internet en lees boeke en artikels oor Swanepoel. Hy wil die feite presies nagaan, byvoorbeeld die geboortedatum van Gert (31). As die leser Danie se voorbeeld volg en op die internet soek, kom jy agter dat Gert Swanepoel werklik bestaan het, en dat hy tot die dood veroordeel en in die openbaar tereggestel is. Agter Danie se navorsing is kennelik die navorsing van die skrywer; dit blyk uit Wepener se erkennings aan die einde van die boek dat hy argiewe besoek, boeke gelees en mense geraadpleeg het om meer van Gert Swanepoel en sy omstandighede te wete te kom.
Danie is die fokalisator in die roman, die karakter uit wie se perspektief die verhaal vertel word, en die leser volg hom op sy soektog na die “ware” Gert Swanepoel, maar dit is nie ’n eenvoudige saak nie. Danie raadpleeg verskillende mense, en elkeen sit as ’t ware sy eie brandmerk op die storie (47). Daar is byvoorbeeld teenstrydighede tussen die stories wat die wit mense en die bruin mense vertel. Jaco en Rykie, die eienaars van die gastehuis waar Danie bly, maak vir hom ’n afspraak met tant Dorie Sieberhagen, maar Shireen, die bruin vrou wat in die gastehuis werk, is teleurgesteld oor die afspraak, want Shireen glo nie tant Dorie se stories nie, en haar helde en skurke is nie tant Dorie se helde en skurke nie. Daarom gee Shireen soms ook haar eie weergawe van gebeurtenisse (76) en stuur sy Danie na bruin mense sodat hy hulle kant van die geskiedenis kan hoor (47, 83). Danie vind uit: “Deur ’n mens se storie kén jy ’n mens, dié wat vertel en dié oor wie die storie handel, maar niemand hier vertel dieselfde storie nie” (115).
Beskuldigings en verontskuldigings is in die stories verstrengel. Wynand Swanepoel en Rachel Damon se weergawes van die werkersvrou Feitjie wat geslaan en aan ’n boom opgehang is, verskil merkbaar (100–1, 106–8). Wynand is mild in sy oordeel van sy van-genoot en pak die skuld op veral Gert se vrou, Bettie; Rachel beklemtoon daarenteen Gert se wreedheid teenoor Feitjie. Danie moet sy weg vind tussen al die teenstellings en teenstrydighede. Uiteindelik ontstaan ’n narratief waarin alle onsekerhede oor Swanepoel nie opgelos is nie, maar waarin sekere waarhede tog uitkristalliseer en waarin Danie self betrek word by die geskiedenis van Gert Swanepoel. Agter Danie se narratief is natuurlik die skrywer, die skepper van die fiktiewe karakter Danie. Dit is die skrywer wat Gert Swanepoel se geskiedenis tot roman omskep het, tot ’n unieke narratief met sy eie seleksies en beklemtonings.
............
Die subjektiewe element in Roman beteken nie dat die onderskeid tussen waarheid en onwaarheid by implikasie verval nie. Danie doen moeite om die feite op te spoor, om waarheid van verdigsel te onderskei; hy luister na al die verskillende perspektiewe om tot ’n betroubare slotsom te kom.
...............
Die subjektiewe element in Roman beteken nie dat die onderskeid tussen waarheid en onwaarheid by implikasie verval nie. Danie doen moeite om die feite op te spoor, om waarheid van verdigsel te onderskei; hy luister na al die verskillende perspektiewe om tot ’n betroubare slotsom te kom. Oor sekere feite is daar ooreenstemming en word daar nie getwyfel nie; niemand ontken byvoorbeeld dat Gert Swanepoel bestaan het en in die openbaar tereggestel is nie. Danie besef: “Wanneer dieselfde storie deur mense op verskillende wyses oorvertel word, moet daar iewers waarheid in skuil” (115).
’n Duidelike patroon ontvou in Roman: Elke gesprek van Danie oor Gert Swanepoel word gevolg deur ’n gefiksionaliseerde weergawe van die gebeure waaroor gepraat is; feite word deur die verbeelding tot verhaal omskep. Dit laat my dink aan wat Aristoteles in sy Poëtika geskryf het oor die verskil tussen die historikus en die digter. Die historikus fokus op dit wat gebeur hét, sê Aristoteles; die digter (en so ook die romanskrywer) skryf oor wat kán gebeur. Die historikus beperk hom tot die besondere, terwyl die digter in universele waarhede geïnteresseerd is. Deur die afwisselende struktuur in Roman word die besondere feite omskep tot universele verhaal; dit wat volgens die voorafgaande vertelling aan Danie gebeur hét, word telkens omvorm tot meer as dit: tot ’n universele verhaal met die steeds terugkerende temas van “haat en lus en liefde”.
.............
In die omskepping van geskiedenis tot roman is dit noodsaaklik dat die belangstelling van die leser behou word. Die struktuur van Roman dra dan ook daartoe by.
..............
In die omskepping van geskiedenis tot roman is dit noodsaaklik dat die belangstelling van die leser behou word. Die struktuur van Roman dra dan ook daartoe by. Herhaaldelik word daar van vooruitwysings gebruik gemaak om spanning te wek – iets word vertel, maar meer word verswyg. Vroeg in die roman word daar byvoorbeeld verwys na die moeisame reis van Gert se vrou, Bettie, oor die berg, en van Gert se teregstelling; maar die volledige prentjie kom eers aan die einde van die roman tot stand. Die geskiedenis word bietjie vir bietjie onthul, en die leser volg Danie op sy speurtog. Dit is soos ’n legkaart wat stukkie vir stukkie gebou word, of soos ’n mosaïek wat steentjie vir steentjie voltooi word, om uiteindelik ’n beeld van waarheid te vorm wat sin maak.
Gert die moordenaar
Reeds by Gert se geboorte is daar tekens dat sy geboorte nie goeie nuus is nie. Sy pa, Godlieb, is met die helm gebore en pleit by sy vrou dat sy moet uithou tot Nuwejaarsdag met die geboorte van die kind, want Nuwejaar is ’n teken dat die baba ’n gelukkige lewe sal lei. Hy word egter op Oujaarsdag gebore, en dit is slegte nuus. Vir Gert is die hoopvolle nuwe lewe waarmee Nuwejaarsdag geassosieer word nie beskore nie. Sy geboorte staan in teenstelling met Bettie se reis deur ’n nuwe pas wat tot ’n nuwe lewe lei; Gert sal vasgevang bly in sy óú lewe.
Sy geboorte vorm ’n tipe parodie op Jesus se geboorte. Die vroedvrou is tant Chrissie, ’n kwaai, onredelike vrou (149) wat oormatig lief is vir sterk drank. Sy skryf vir Gert se ma, Susanna, reinigingsrituele voor wat van bygeloof getuig – Susanna moet drie keer per dag in ’n seepkis gebad word, en die kind móét by ’n warmwaterbron gebore word. ’n Ster wat soos die Bethlehemster lyk verskyn net voor Gert se geboorte (248), en dan volg daar ’n sonsverduistering (254–5) wat herinner aan die duisternis van Golgota, en ook aan die duisternis van die negende plaag in Egipte (Eksodus 10). Die sonsverduistering hou verband met straf op die sonde, maar, soos die Bethlehemster, ook met die moontlikheid van verlossing – die plae van Egipte loop uit op die eksodus van die Israeliete, en op die duisternis van Golgota volg Jesus se opstanding. Dit is opvallend dat daar van Godlieb gesê word dat hy met ’n “halwe helm” gebore is (36). Sy voorspellings sal dus nie noodwendig uitkom nie; hulle is waarskuwings (165) met die moontlikheid van ’n keuse. By Gert word dit met verloop van tyd egter duidelik dat hy bose dade gekies het, en dat hy deur sy optrede die onheilspellende voortekens waar maak.
Wanneer Susanna een van die werkerskinders se mangels met ’n warm teelepel uitskep, sit klein Gertjie op die vensterbank en kyk, gefassineer deur sy ma se wreedheid. Sy pa probeer hom daar wegkry, maar hy “hou aan met glimlag en skud net sy kop, sy oë bly vasgenael op sy ma se hande” (51). Hy kies sy wrede ma eerder as sy sagte pa, want hy geniet haar sadistiese optrede en is sonder meegevoel vir die kind wat onder sy ma se hande ly: “Op die vensterbank kraai Gertjie van die lag vir sy speelmaat op die kombuistafel” (53).
Hy word al hoe meer soos sy ma, maar juis dit lei tot botsings tussen die twee, wat albei ewe meedoënloos en hardkoppig is. Terwyl Gert nog ’n jong seun was, het Godlieb eendag toestemming gegee dat hy die tollie mag skiet wat geslag moet word, maar Susanna wou self die skietwerk doen – ma en kind geniet albei om die bees te skiet, terwyl Godlieb jammer is vir die mooi dier (167). Wanneer Susanna besef dat Gertjie die tollie gaan skiet, kom sy uit die huis gestap met haar gevaarlike honde en dreig om die diere op Godlieb te sit as hy haar probeer teengaan. Gertjie, wat reeds sy geweer op die tollie gerig het, draai nou die loop van die geweer na sy ma en skiet twee skote op haar met die gevolg dat sy kruipend die huis in moet vlug. Dit is duidelik: Gert laat hom nie keer nie, ook nie deur sy ma nie, en hy stuit nie vir moord nie.
Die roman is in drie dele verdeel, en elkeen eindig met ’n hofsaak waarin Gert aangekla word. Aan die einde van die eerste deel word hy tot twee jaar gevangenisstraf op Robbeneiland gevonnis omdat hy vir Feitjie geskop het; aan die einde van die tweede deel word hy foutiewelik vrygespreek van die moord op Jan Willemse, en die derde deel eindig met sy doodvonnis en teregstelling. Die struktuur van drie dele suggereer iets van sy lewensloop. Sy eerste vonnis gee aan hom die geleentheid om op Robbeneiland na te dink oor sy dade en tot besinning te kom, maar hiervan is daar geen tekens nie. Inteendeel, hy raak op Robbeneiland bevriend met Stoffel Viljoen, wat later vir Gert op Rietfontein kom help boer en hom in sy kwaad sterk. Gerusgestel deur sy vryspraak (einde van deel twee), gaan dit dan by Gert van kwaad tot erger. Ek gaan hier nie al Gert se wandade noem nie; lesers kan dit self nagaan. Een ding is duidelik: Sy gierigheid, jaloesie, wellus en woede raak heeltemal buite beheer en lei tot monsteragtige gewelddade. Maar dan gaan hy net te ver. Hy jaag Stoffel van sy plaas af en gee hom net ’n wegloop-os as beloning nadat hulle jare lank saam gewerk het (271). Stoffel neem wraak en word ’n kroongetuie in die hofsaak waarin Gert van die moord op Jan Willemse aangekla word en wat tot sy doodvonnis lei. Uiteindelik geskied geregtigheid.
Tot aan die einde van sy lewe kom Gert nie tot skulderkenning en berou nie, anders as sy vrou, Bettie. Hy skep illusies waarop hy sy hoop vestig: Hy glo dat hy onskuldig is (224); hy dink nie dat ’n wit man op straat gehang sal word nie (225); hy glo dat daar omkoopgeld beskikbaar is wat hom sal vrykoop; en as dit nie werk nie, sal daar in elk geval kwytskelding van die goewerneur uit die Kaap kom (282). Dominee Ballot besoek hom telkens en praat van ’n ander tipe vryspraak en kwytskelding (283) as dít waarop Gert hoop, maar Gert beskou hom as ’n “nikswerd predikant” (226) en kry geen hoop of troos uit sy woorde nie.
Tog, ondanks al sy negatiewe karaktereienskappe, is Gert nie ’n totale booswig nie. Daar is kennelik liefde tussen hom en sy kinders; Gert en veral sy seun Gertjie is lief vir mekaar. Op pad na die galg sien en hoor hy die seun: “Die kind skop en slaan en hou aan roep: ‘Pappa, Pappa, Pappa.’” Ook sy dogter Katryn is hartseer en die trane loop oor haar wange (284). Op ’n foto wat Danie van die internet aflaai, blyk die noue verband tussen vader en seun. Gertjie leun teen sy pa se been aan, en die pa sit sy hand beskermend om sy seun. Die negatiewe kant van hierdie verbintenis is dat die seun waarskynlik sy pa se slegte voorbeeld sal volg, soos wat sy haarstyl dieselfde is as sy vader s’n (279).
Daar is nóg ’n liefde in Gert se lewe – Feitjie, die bruin vrou wat op sy pa se plaas werk en wat net voor sy dood sy kind verwag. Kort voor sy teregstelling dink hy aan diegene wat die naaste aan hom is: “Hy dink […] aan Katryn en Gertjie en Bettie, maar veral, veral ook aan Feitjie. Waar is Feitjie? En die kleinding? Is dié al daar?” (281). Tussen hom en Feitjie was daar ’n baie komplekse, selfs tragiese verhouding. Feitjie was miskien die groot liefde in sy lewe. Willem die petroljoggie verklaar: “Swanepoel se storie […] is ’n love story gone wrong” (82). Willem gaan voort: “[Danie] moet uitvind dat jy net vir Gert kan kry as jy weet waar Feitjie se spore lê” (83). Gert en Feitjie het saam grootgeword en is selfs deur dieselfde bruin vrou gesoog – dit het miskien ’n invloed op sy latere gedrag. Rachel Damon vertel dat Gert vir sy vriend Stoffel vertel het “dat sy ma hom nie wou gehad het nie en hom soos ’n hanslam met ’n ander een se tiet laat grootmaak het, dis hoekom hy nog altyd nie die pram wat hy by die huis kry wil hê nie” (105).
Van kleins af het Gert en Feitjie ’n seksuele verhouding – ook nadat hy met Bettie getroud is, duur dit voort, want hy kan nie sonder haar leef nie. Gert is in twee geskeur tussen die vroue – die een met wie hy getroud is wat deur die samelewing aanvaar word, en die ander een, ’n bruin vrou, met wie seksuele gemeenskap in die geheim moet geskied, maar van wie hy nie afskeid kan neem nie. Hy kry die grootste seksuele plesier wanneer hy seks met Feitjie het maar hom verbeel dat dit Bettie is – wat die lekkerste is, word dan verbind met wat toelaatbaar is:
Selfs die laaste keer wat hy en Feitjie veld toe is, het hy aan Bettie Kilian gedink. Hy het na die donker Feitjie gekyk maar die ligte Bettie gesien. Feitjie het agterna vir hom gesê dat dit sommer baie lekker was. (67)
Daar is egter meer as seksuele plesier in die verhouding tussen Gert en Feitjie. Soms maak hy sy hart oop by haar, hou hy haar vas en vertel van die pyn wat sy ma hom aangedoen het; dan kry Feitjie hom baie jammer (91). Dit is kennelik ’n wedersydse liefde. Wanneer Bettie se liefde vir Andries Ferreira begin blom, merk haar dogter op dat dit dieselfde liefdesblik is wat sy alreeds vroeër gesien het by “Feitjie Windvogel en haar pa wat vir mekaar kyk” (229). Wanneer Feitjie swanger raak met Gert se kind, mag Bettie nie daarvan weet nie, maar Gert stuur vir haar kos en gee haar die kosbare goue horlosie wat hy van dokter Dunn, die vermoorde kunstenaar, afgevat het (268–9).
Daar is ook ’n ander kant aan hulle verhouding. Feitjie is sy geliefde maar nie sy gelyke nie; sy is ’n plaaswerker, sy “besitting” met wie hy kan doen wat hy wil – byna sy slavin. Die gewelddadige natuur wat uit sy moorde blyk, kom ook uit in sy verhouding met Feitjie. Wanneer hy teengegaan word, raak hy ’n woestaard. Die weergawes oor Feitjie wat geslaan en dae lank in ’n doringboom opgehang word, verskil van mekaar, maar dit is tog duidelik dat Gert deel aan die wreedheid het. As rede vir die straf word gesê dat Feitjie ’n hoender van Bettie gesteel het, maar dit is klaarblyklik nie die ware rede nie; die eintlike rede is dat sy nie haar verhouding met Gert geheim gehou het soos Gert beveel het (130) nie, en dat die nuus by Bettie uitgekom het (114). Gert se meedoënlose geweld teenoor Feitjie wek ’n woede by haar, met die gevolg dat sy die moed vind om in die hof teen hom te getuig. Haar getuienis word wel nie aanvaar nie en Gert word vrygespreek, maar later vervul sy ’n belangrike rol in die arrestasie wat uiteindelik tot sy teregstelling lei (272). Die verhouding tussen hulle is een van liefde en geweld, van deernis en woede, van “haat en lus en liefde”.
Die sosiale konteks van Gert se boosheid
’n Mens kan jou afvra: Sou die verhouding tussen Gert en Feitjie dalk in ’n ander tyd kon werk, ’n tyd waarin liefde tussen ’n wit en ’n bruin mens nie verbode was nie? Sou sy dalk in ’n ander era vir hom goed kon wees en die sagter kant van sy natuur na vore gebring het? Gert se boosheid moet binne die konteks van die samelewing van sy tyd gesien word. Danie se insig is korrek: “Dit vat altemit ’n hele dorp of in hierdie geval ’n hele kontrei om ’n kind sleg groot te maak, dit is nie iets wat die Swanepoels alleen behartig het nie” (99).
In dié tyd kon Gert letterlik met moord wegkom. Dis ’n tyd waarin die polisie “nie daarvan gehou het om ’n witman somar te arresteer op die gesegdes van ’n Hottentot nie,” vertel Wynand Swanepoel (210). Voor die hof was bruin mense nie die gelykes van wit mense nie. In die eerste hofsaak teen Gert word hy skuldig bevind daarvan dat hy Feitjie geskop het, maar hy word nie aangekla daarvan dat hy haar herhaaldelik verkrag het nie – dit was aanvaarbaar (128). Wanneer Feitjie in ’n latere hofsaak getuig van Gert se moord op Jan Willemse, word haar getuienis nie aanvaar nie, want dis “vroumensstories” (262), boonop van ’n bruin vrou. Rassisme en patriargie het saamgespan om Feitjie se getuienis te verwerp.
Op Gert se plaas het die werkers geen regte gehad nie. Nie een van hulle sou dit waag om Gert teen te gaan of selfs om die plaas te verlaat nie. Wanneer Feitjie vir Gert kwaad maak, sleep hy haar uit haar stroois en slaan haar ongenadiglik; dan hang hy haar aan ’n boom op, waar sy dae lank hang sonder kos of water. Gert het blykbaar beplan om haar daar te laat hang tot sy dood is, en dit sou ook gebeur het as die werkers haar nie stilletjies gevoed het en veldkornet Schoeman uiteindelik uitkoms gebring het nie.
Nie net Gert se gewelddadigheid nie, maar ook sy gierigheid het ’n historiese konteks. Sy hebsug sluit aan by die skandes van die koloniale geskiedenis, by “die Ingelse kroon en voor dit die goddelose Hollanders wat hier alles net kom vat het […] Die verkeerde mense boer nou op onse grond,” sê Piet Windvogel (88). Kerk en staat het saamgespan om ander se grond in besit te neem. Piet vertel hoedat die kerk van die bruin mense telkens verskuif moes word (84).
Gert se dade word begrypliker as sy sosiale konteks, en ook die invloed van sy ma, in ag geneem word. Nogtans verskoon dit nie sy optrede nie; daar is ook ander opsies as dié wat hy gekies het, soos blyk uit die latere lewensloop van sy vrou, Bettie.
Gert se ma en pa
Oor baie dinge verskil die vertellers met wie Danie ’n gesprek oor Gert Swanepoel voer, maar oor een ding stem almal saam: Susanna se wreedheid (48). Feitjie het ’n goeie begrip van Gert se karakter en verdra baie van sy nukke, “want sy het geweet dis huismoleste wat hom so maak. Nie soseer moleste met Bettie nie, maar met ou Susanna” (127). Susanna, en nie haar man nie, is die eintlike boer (38), die baas van die plaas, en sy wil ook die baas wees van haar seun se opvoeding. Sy sal hom brei soos ’n stuk leer, en hy sal sy ma se kind wees (40). Haar invloed is inderdaad bepalend op sy lewe; aan die een kant volg hy haar voorbeeld, aan die ander kant kom hy in verset teen haar. In die bogaande bespreking van twee tonele blyk dit reeds: sy fassinasie met sy wrede ma wat ’n werkerskind se mangels uitskep teenoor die skote wat hy op haar skiet omdat sy nie wil toelaat dat hy die bees doodskiet nie. Die Swanepoels se huis is ’n matriargie, en die sondes van die moeder word deur die seun herhaal. Dit is interessant dat die wreedheid nie by Susanna begin nie; haar ma het haar geleer om mangels te skep toe sy 15 jaar oud was (52). Die wreedheid gaan oor van die een geslag na die volgende.
Hoewel sy Gert na haar sin wil grootmaak, speel sy eintlik geen moederrol in sy lewe nie. Bettie besef dit as sy oor Gert se kinderjare nadink: “Hy is grootgemaak, ja, maar ou Susanna het maar min daarmee te make gehad. Eintlik wou sy niks met hom te doen gehad het nie” (25). Sy weier byvoorbeeld om hom aan haar te laat drink; die werkersvrou Griet moet hom soog. Wanneer sy Gert en Feitjie op heterdaad betrap, is sy woedend, en stotter: “Ek – wou – jou – nooit – gehad – het – nie” (94). Daar is ook nie sprake van liefde tussen haar en haar man nie. Sy skel dikwels op Godlieb, en wanneer Gert gebore is, waarsku sy haar man dat hy nie weer by haar moet kom lê nie. Die doel van hulle seks was immers slegs om ’n seun te kry. Vir die kerk het sy ook geen liefde nie. Gert moet wel gedoop word, maar ná die doop wil sy nie weer “die gevreet van die predikant of die binnekant van die kerk” sien nie (156). Gert kry geen voorbeeld van liefde of godsdienssin by sy ma nie.
Het sy tog ’n vreemde tipe liefde vir haar seun gekoester? Dit lyk byna so, as haar reaksie op Gert se dood in ag geneem word. Wanneer Bettie Gert se lyk na haar bring, is Susanna diep ontroer: “’n Oergeluid, ’n donker kreun, ’n klank wat sy soos swart biesmelk opbring, kom uit die ou vrou en haar bolyf ruk vorentoe” (237). Maar miskien is dit meer die verdriet van iemand wat ’n besitting verloor het, want sy het haar seun nooit in eie reg erken nie en wou hom manipuleer na haar sin, en dit kan sy nou nie meer doen nie.
Susanna het geen barmhartigheid of gewete nie, en die diername wat Godlieb haar gee en wat haar so irriteer, is op ’n ironiese manier waar, want sy het haar menslikheid verloor. Soos wat Susanna ’n merk laat op die wang van een van die kinders wie se mangels sy uitgehaal het, so brandmerk sy haar eie gesin se siele (54). Godlieb kry ’n visioen van ’n lykstoet met ’n leë kis, Susanna se kis (164). Hy beskou die gesig as ’n waarskuwing van die Here, omdat die Here hulle nog ’n kans wil gee (165). Die visioen kan soos volg geïnterpreteer word: Hulle het nie op “die Here se waarskuwing” ag geslaan nie, en Gert volg die goddelose voorbeeld van sy ma. Hy beland dan in die kis wat vir sy ma bestem was; hy het ’n dood gesterf wat Susanna verdien het – die appel het geval waar die boom gestaan het.
Godlieb, Gert se pa, is ’n sagter, meer simpatieke mens as sy vrou, maar in vergelyking met sy vrou is sy invloed op die gesin minimaal. Hy is nie sterk genoeg om haar teen te gaan nie – sy is die baas van die plaas, soos reeds genoem. Gert is meer geïnteresseerd in sy gawe om die toekoms te sien as in sy beeste (36). Wanneer Piet Windvogel deur Gert geslaan word, reageer Godlieb simpatiek, maar hy is te behep met sy gesigte om iets daaraan te doen (77–80). Nadat Gert vir Feitjie geslaan en opgehang het, neem die werkers haar na Godlieb, die “oubie” (128), want hulle sien hom as ’n toevlug teen Gert se geweld, en hy sorg dan ook vir haar (130). Iets van ’n goddelike liefde is wel in hom te sien, soos sy naam ook suggereer, maar dit is ’n liefde sonder kragtige optrede. Gert het twee kontrasterende voorbeelde in sy ouers, en hy verkies sy harde, kragtige ma bo sy sagmoedige swakkeling van ’n pa.
Bettie se alternatief
Tot dusver het ek gefokus op die boosheid van Gert en sy ma; maar daar is ook ander lewensmoontlikhede, en dit kom veral na vore by Gert se vrou, Bettie. Sy het ’n verkeerde keuse gedoen toe sy aan Gert die ja-woord gegee het. Hy het haar fisies verower, haar oorrompel en gesoen soos niemand haar nog ooit gesoen het nie (220) – maar sy weet nie dat hy sy tegnieke by Feitjie geleer het nie. Hy laat haar vergeet van Andries Ferreira, die man vir wie sy kort tevore nog lief was (72), maar sy weet nie dat Gert haar eintlik as ’n prooi beskou nie; sy toenadering tot Bettie is vir hom soos ’n jagtog (67, 175). Dis ook vir hom ’n magstryd – Andries is die mededinger wat verslaan moet word (70). Van liefde is daar nie veel sprake nie, eerder van heerssug.
Bettie sien nie deur hom nie en kies dan verkeerd, en so word sy deel van die Swanepoels se lewenswyse. Waar sy ’n Ferreira kon gewees het, word sy ’n Swanepoel en word sy gewelddadig soos haar man. Wanneer haar bediende Eva haar van Gert se owerspel met Feitjie vertel, jaag sy Eva weg en bestook haar met klippe. “Sy het vir Gert Swanepoel en Feitjie Windvogel gemik en vir Eva September getref” (141). Sy het ook ’n aandeel gehad aan die marteling van Feitjie, hoewel ons nie presies weet wat sy gedoen het nie, omdat die weergawes van die gebeurtenis verskil. Maar dat sy nie onskuldig was nie, is seker. Toe kon sy in elk geval nie meer kies hoe sy wou lewe nie. “Jy kies vir Gert, dit het almal geweet, of jy hang aan ’n doringboom” (140).
Maar Gert se teregstelling bring vir haar bevryding. In die kerk het sy wel trou aan Gert gesweer tot die dood, maar wanneer hy sterf, is sy vry om opnuut te kies. Sy kan nou nadink oor haar verlede en die foute erken wat sy gemaak het. Toe Eva haar van Gert se owerspel vertel het, het sy die blaam op Eva geplaas en dit nie gewaag om verantwoordelikheid te neem en haar man te konfronteer nie. “Sy het gedroom van ’n lewe sonder geweld, ’n lewe sonder vrees, ’n lewe sonder die hebsug en misdaad” (220), maar dit was toe nie meer binne haar bereik nie. Nou kom die trane van berou – nie trane oor Gert wat dood is nie, maar oor haar verlede: “Vir Gert sal sy waaragtig nie ’n traan stort nie, elke druppel sal vir haarself wees, vir haar eie verlede …” (222). Maar “trane is seep vir die siel” (222), en haar berou open die weg na ’n nuwe toekoms.
Haar reis oor die pas na Wagenaarskraal, waar Andries boer, en na Rietfontein, waar Gert begrawe moet word, is ’n simboliese reis na ’n nuwe lewe. Sy ry met die nuwe pas, soos wat Andries haar aangeraai het (225). Hierin kontrasteer sy met Susanna en Godlieb: “Daar is al sprake van ’n nuwe pas, maar Susanna en Godlieb sal dit waarskynlik nie in hulle leeftyd beleef nie” (156). Ook hul seun, Gert, steek vas in sy óú lewe, soos wat sy geboorte op Oujaarsdag voorspel het. In teenstelling met Gert se ontkenning van skuld staan Bettie se erkenning van die foute wat sy gemaak het en die oorgang na ’n nuwe toekoms.
Haar reis deur die pas, met die lyk van Gert agter op die wa, is soos ’n hergeboorte. Sy gaan die stinkende lyk van Gert begrawe op Rietfontein, waar sy saam met hom gelewe het; en voor haar lê Wagenaarskraal, die plaas van Andries Ferreira, wat al die jare getrou aan haar gebly het. Dit is donker in die pas, soos ’n donker nag van die siel, maar sy reis deur Die Noute (144), en die groen bergpieke van ’n nuwe lewe lê voor (140). Gert is dood, Andries wag vir haar.
Morele randfigure
Daar is in die roman enkele karakters wat randfigure is en tog ’n belangrike funksie vervul, omdat hulle ’n morele korrektief bied op die boosheid van die Swanepoels. Een van hulle is Andries Ferreira. Wanneer Bettie hom verwerp ten gunste van Gert, bly hy aan haar getrou. Hy word ’n oujongkêrel, want hy wag vir haar; hy wil geen ander vrou hê nie. Die aand toe sy vir Gert kies, laat hy vir haar ’n speldekussing op die kombuistafel as teken van sy liefde (220). Net voor haar troue met Gert stuur hy vir haar nog ’n speldekussing – daarmee bied hy haar die kans om Gert te laat los en met hom te trou (220). En dan, net voor Gert se teregstelling, stuur hy met ’n jong seun vir haar ’n derde speldekussing (224); die blom is steeds ’n teken van sy standhoudende liefde.
Hy sorg ook dat sy net voor Gert se teregstelling ’n boodskap van hom kry: “[N]eem die nuwe pas” (225). Die nuwe pas is die beste pad om te ry, lig hy haar in; maar die boodskap impliseer ook, op die simboliese vlak, dat hy vir haar ’n nuwe lewe wil bied. Wanneer sy by hom op sy plaas kom, blyk dit dat hy nie net met haar wil trou nie, maar ook bereid is om haar kinders as sy eie aan te neem (230). Andries is die een toonbeeld in die roman van onverdeelde, lojale liefde.
’n Tweede newekarakter wat ’n morele perspektief bied, is veldkornet Schoeman. Hy neem die plaaswerkers se verhale oor Gert se wreedheid ernstig op (110, 118) en waag sy lewe om op Rietfontein die bewerings te gaan ondersoek (119–120). Hy weet Gert is ’n wetsoortreder, en waar al die ander mense te bang is om iets aan die gevaarlike Gert te doen, beraam Schoeman ’n slim plan om Gert gearresteer te kry (272). Hy getuig ook teen Gert in die hofsaak wat tot sy teregstelling lei. Schoeman maak nie ’n prominente verskyning in die roman nie, maar hy is wel van kardinale belang in die verloop van die verhaal. Sonder hom sou Gert nooit in sy bose weë gestuit gewees het nie.
Piet Windvogel is ’n derde karakter wat hier genoem kan word. Ook sy goedheid is nie opvallend nie, maar in sy gemeenskap vervul hy ’n essensiële rol. Anders as die wit gemeente, is sy mense te arm om vir ’n predikant te betaal, maar Piet doen sonder betaling ’n predikant se werk: “Alles, van preek tot begrafnis en huisbesoek en Sondagskool, noem maar op. Piet Windvogel doen dit. Jy kan my seker maar ’n soort predikant noem” (84).
Danie se narratief
............
Danie wil ’n verhaal oor Gert Swanepoel skryf, maar hy word self by die verhaal betrek; Gert se narratief word ook Danie s’n.
............
Danie wil ’n verhaal oor Gert Swanepoel skryf, maar hy word self by die verhaal betrek; Gert se narratief word ook Danie s’n. Willem waarsku hom wat kan gebeur as hy, soos ’n visserman, sy net uitgooi na Gert Swanepoel: “Trek maar die net, maar pasop dat jy nie self in daai net beland nie” (162). Deur sy navorsing verloor Danie sy onskuld. Hy ontdek dat Gert nie net ’n karakter uit die verlede is nie, maar dat ’n element van Gert ook in hom verskuil is. Gert was ontrou teenoor Bettie en wreed teenoor Feitjie; so ook is Danie ontrou teenoor Anne en wreed teenoor Liesl. Hy is aan Anne verloof, maar sy obsessie met Gert Swanepoel verdring sy belangstelling in Anne, en sy ongegronde suspisies oor Anne gebruik hy as ’n regverdiging om seksueel met Liesl te verkeer. By Liesl bly hy stil dat hy aan Anne verloof is, en hy geniet die seksuele gemeenskap met haar sonder om hom aan haar te verbind. Uiteindelik verlaat hy haar sonder enige verduideliking of afsluiting, sonder enige blyke dat sy iets vir hom beteken het. Sy bly alleen agter, “’n oujongnooi wat tekens van sonskade toon” (204). Wanneer hy van haar wegry, lyk dit in sy truspieëltjie asof haar kop afgesny is, wat herinner aan Gert wat vir Jan Willemse onthoof het. Mense kan op meer as een manier onthoof word.
Danie besef ten slotte dat Anne die een is by wie hy hoort. Sy was steeds getrou aan hom en sy agterdog was sonder rede. In ’n rits boodskappe van haar, wat hy aanvanklik geïgnoreer het, vind hy sy fout uit. Hy was jaloers omdat sy met ’n ander man in ’n restaurant gesit het, maar dit was haar broer (203). Hulle het “’n fantastiese plekkie in De Waterkant ontdek en sy kan nie wag om vir Danie soontoe te vat nie” (203). Die oorsese konferensie wat sy sou bywoon en waaroor Danie so ontsteld was, het sy gekanselleer, en sy sien uit na hulle troue, wanneer haar ouers uit Duitsland na Suid-Afrika sal kom. Terwyl Liesl langs hom lê en slaap, lees Danie Anne se boodskappe en besluit om ’n bos speldekussings by Anne te laat aflewer (203). In dié opsig oortref hy vir Andries Ferreira, wat net drie speldekussings aan Bettie gestuur het; maar of sy liefde so lojaal soos Andries s’n is, is te betwyfel.
Gert en Danie is albei in ’n driehoeksverhouding betrokke, en daar is boeiende parallelle en verskille tussen die twee. Liesl en Feitjie is albei donker van kleur, Anne en Bettie is blond. Gert is getroud met Bettie maar pleeg owerspel met Feitjie; Danie is verloof aan Anne maar het ’n seksuele verhouding met Liesl. Gert vind meer seksuele plesier by Feitjie as by sy vrou; en skynbaar word Danie seksueel meer deur Liesl as deur Anne bevredig. Die kontras tussen Anne en Liesl laat die leser aanvanklik dink dat dit ’n teenstelling tussen goed en kwaad is. Anne is die een aan wie hy verloof is en wat aan hom getrou is, terwyl die verhouding met Liesl in die geheim plaasvind. Die tradisionele teenstelling tussen donker en lig, tussen die blonde Anne en die donker Liesl, laat ’n mens ook vermoed dat die een goed is, die ander kwaad; die een is “ordentlik” en die ander een verleidelik. Dit is egter nie so eenvoudig nie.
Anne is wel die een by wie hy rus vind. Terwyl Liesl langs hom lê “hoor Danie die tjello-suite van Bach wat Anne graag speel wanneer hulle só saam is” (178). Hulle verhouding het die harmonie en die rus van ’n Bach-suite, maar miskien is daar nie die erotiese opwinding wat hy by Liesl ervaar nie. Anne het “ysblou oë” (58) en het blykbaar nie die fisieke warmte van Liesl nie. Wanneer Danie die ruïne van die Swanepoels se huis besoek, kry hy ’n visioen van ’n vrou “op die bed, kaal en met haar rug na hom gekeer, [en] herken hy die ligte vel, blonde hare en onmiskenbaar Anne se profiel” (268). Dit is veelseggend dat die kaal Anne met haar rug op hom gedraai sit.
Liesl is met die helm gebore, en wanneer sy en Danie saam is, op soek na ’n visioen van Gert, dan skuif hy al hoe nader aan haar. Uiteindelik verskyn Gert, en dan begin Danie haar soen. “Danie Gouws soen en sien” (63). Miskien sien hy nie net vir Gert “daar buite” nie, maar ook vir Gert ín hom met sy ontrou en vleeslike lus. Liesl woon op Kruitfontein, en sy is gevaarlik, soos plofstof. Maar sy is nie ’n blote wellusteling nie. Vir haar beteken die verhouding meer as vir Danie; sy is dolverlief (63), verlang na hom en is bly as sy hom sien (172, 253). Teen die einde van die roman word verrassende inligting oor Liesl bekend (240–1). Sy was verloof aan Stefaans, die eienaar van die warmbad, maar hulle verlowing is verbreek. Stefaans voel dit is sy skuld dat Liesl ongetroud en ’n maagd gebly het. Hy wou naamlik nie weet van seks voor die huwelik nie, en dit was vir Liesl onaanvaarbaar. Vir haar kan liefde nie van fisieke eenwording geskei word nie.
Daar is twee verwysings in die roman wat op Liesl betrekking het: die verwysing na Marsman en na die Sulamiet. Die petroljoggie se van is nie verniet Marsman nie. Sy van verwys na die Nederlandse digter Hendrik Marsman, een van die voorste Nederlandse digters tussen die twee Wêreldoorloë. Hy en sy vrou was in 1940 in Suid-Frankryk toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Marsman, wat van plan was om na Suid-Afrika te emigreer, het per boot na Engeland gevlug, maar die boot het in die see gesink, waarskynlik deur ’n Duitse torpedo getref, en hy en sy vrou het in die see gesterf – ironies dat die see vir Marsman ’n simbool van die ewigheid was.
Veral sy beroemdste digbundel, die gedigte-siklus Tempel en kruis (1939), is hier ter sake. Die titel verwys na die twee lewensbeskouings en kulture wat in die Weste ’n deurslaggewende invloed gehad het, naamlik die antiek-Griekse en die Christelike. Vir die spreker in hierdie gedigte het beide lewensienings oor die eeue heen ’n singewende funksie vervul, maar nou het hulle hul oorspronklike besieling verloor, en verlang hy, peinsend langs die see, na ’n lewensbeskouing waarin albei lewensbeskouings opgaan in ’n nuwe “bezield verband”. Verteenwoordig Liesl dalk, met haar warmte en fisieke vitaliteit, hierdie besieling wat gekwyn het by die rustige Anne met haar koue oë?
Die tweede verwysing sluit hierby aan. Herhaaldelik word daar na Liesl verwys as “die Sulamiet”. Die verwysing is na die Bybelse boek Hooglied.1 Die boek is ’n versameling hartstogtelike liefdesliedere waarin twee geliefdes beurtelings hul erotiese verlange na mekaar tot uiting bring. Die vrou is ’n Sulamitiese vrou (Hooglied 6:13), afkomstig uit Sulem, en sy is donker gekleurd:
Ek is bruingebrand maar ek is mooi,
vroue van Jerusalem.
Ek is so bruin soos die tente van Kedar,
soos die tentdoeke van Salomo.
Moet my nie so aankyk
omdat ek donker is nie.
(Hooglied 1:5–6, 1983-vertaling van die Bybel)
“Sulamiet” verwys ook na “shalom” (vrede); verder is daar ’n assosiasie tussen Sulamiet en Salomo, die wyse koning, volgens tradisie die skrywer van Hooglied. Liesl die Sulamiet moet dus vir Danie vrede en wysheid bied, en dit is ironies dat sy hom eerder onrus en verlange bring as vrede en rus. Die donker vrou, uit die hoogte aangekyk maar mooi en begeerlik, kan ook met Feitjie verbind word. “Aankyk” dui op die arrogansie van die buitestanders, maar miskien ook op die soort manlike blik wat die vrou as ’n objek bekyk maar juis haar donkerte verleidelik vind. Feitjie ervaar dit van Gert, en Liesl van Danie. Beide vroue word geminag én begeer; hulle het ’n oerkrag wat nie verloën kan word nie.
Danie vorm ’n parallel met Gert, maar ook met Bettie. Soos Bettie maak hy ’n nuwe begin. Hy laat Liesl agter, keer terug na Anne en trou met haar. Liesl behoort tot die verlede, besluit hy, en hy begin sy klere pak om te vertrek. Wanneer hy dit doen, breek die rooidag in die ooste (280), teken van ’n nuwe begin, soos by Bettie. Liesl behoort tot sy oerbrein, reken hy (280), en dis tyd om van haar ontslae te raak. Die oerbrein laat hom egter nie so maklik ignoreer nie; Danie se verhaal het nie ’n maklike “happy ending” nie; sy innerlike konflik bly onopgelos. Die waarheid is “dat hy by Anne hoort maar sy lewe lank na Liesl Kilian gaan smag” (258). Sy verlede, wat hy verskuil wil hou, gaan met hom saam – soos Rachel sê: “Wat jy vir jouself op die hals gehaal het, klim in die kattebak van daardie motorkar van jou en is jou trougeskenk vir die Duitser” (211). Sy “nuwe begin” is ironies getint.
Slotsom
Hier bo het ek gesê dat die roman as ’n studie in boosheid beskou kan word. Hierdie stelling moet gekwalifiseer word. Dit is eerder ’n uitbeelding van die universele verhale van boosheid én goedheid, van waarheid en illusie, van onopgeloste konflikte in die mens. Dit bevat fassinerende stories, boeiende karakters en prikkelende insigte, op ’n meesterlike wyse in die struktuur van die roman geïntegreer.
1Dit herinner ook aan Lina Spies se digbundel Sulamiet, waarin liefdesverlange ’n belangrike tema is.
Lees ook:
Lees ook ander besprekings in Chris se leeskringreeks:
Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden: ’n leeskringbespreking
Na die geliefde land deur Karel Schoeman: ’n leeskringbespreking
Kommentaar
Dankie vir hierdie insigryke besinning.