
Agtergond: Supichaya Sookprasert | Pixabay
Titel: Roman
Skrywer: Cas Wepener
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485314028
..........
Ek weet nie of Wepener die verhaal gekies het omdat dit teen die gebeure van die tyd eggo nie en ek strek dalk nou die skrywer se bedoelings, maar doelbewus of nie, hierdie verhaal laat ’n mens opnuut na baie dinge om jou kyk en maak jou weer bewus van watter stories jy onthou en oorvertel.
.............
“The past is a foreign country: they do things differently there,” skryf LP Hartley in sy 1953-roman, The Go-Between.
Met die toemaak van Cas Wepener se nuutste roman, wat toevallig ook Roman heet, het dié woorde by my opgekom. Nie soseer net omdat dinge in die verlede anders was en op ander maniere gedoen is nie, maar omdat die verlede so verskillend onthou word.
Soos ’n karakter in Chris Karsten se nuutste boek, Op pad na Moormansgat, sê:
Geskiedenis, smaak dit my, is aanmekaargesit van okkasies en tribulasies wat groepe mense eens saam beleef het, en later saam onthou en dan saam daaroor gesels en lag, en soms saam daaroor huil. En so maak hulle hul eie geskiedenis soos dit hulle gevoelenthede en hulle omstandighede pas.
Roman is ’n verhaal met baie lae en skakerings, maar die een wat seker die duidelikste na vore kom is die plek wat herinneringe in mense se lewens en in die geskiedenis van gemeenskappe speel. Gemeenskappe maak hulle eie geskiedenis.
Die verhaal begin met ’n klassieke storielyn: Stranger comes to town.
Danie Gouws, ’n akademikus van Stellenbosch, gaan doen navorsing in die Klein Karoo oor kulturele gebruike en erfgoed in dié streek. Sommige mense in die dorp mor omdat ’n wit man van die Kaap hulle stories moet kom opteken.
Danie Gouws kom egter nie ver met die optekening van streeksgebruike nie, want reeds gedurende sy eerste onderhoud, met Dorie Sieberhagen, neem sy navorsing ’n wending toe sy voel sy moet hom eers van Gerrid Johannes Swanepoel, ook bekend as Bloubaard, van die Attakwas vertel.
Maar dis net oorlat dit ’n saak van gebed is, Danie, dat ek jou vertel. En sodat jy dit dalk ook kan opskryf, en die storie in die toekoms reg vertel word. As jy ons wil verstaan moet jy iets van Gert weet.
Dit is gou duidelik dat Gert Swanepoel nie vir Danie gaan los nie, en op die ou end raak dit vir Danie eerder ’n soeke na wie Gert Swanepoel werklik was as wat dit oor die kontreistories gaan.
Danie kom gou agter dat Gert hom nie sommer wil laat ken nie, of dalk verkies die gemeenskap dat Gert nie geken moet word nie. Om elke hoek en draai is daar nog ’n lewende nasaat van Gert.
Shireen van die gastehuis wys die ander probleem uit:
Sy is teleurgesteld oor die plek waar Danie Gouws gaan begin, want van Dorie Sieberhagen se stories glo sy geen snars nie. Die helde van daardie ou vrou se verhale is nie haar helde nie, sy dink nie eens daai ou vrou weet dat sy en haar mense ook al vir eeue hier woon nie.
Dit word op die ou end soos ’n refrein wat deur die verhaal loop. Elke groep reken húlle ken die ware storie. Intussen voel dit of Gert self wegkruipertjie met die leser speel. Net as jy besluit jy weet wie Gert Swanepoel is, glip hy tussen twee stories deur, en staan jy weer met leë hande en baie vrae.
Die verhaal wissel soomloos tussen die hede en die verlede, maar dit is helaas Gert Swanepoel se verhaal wat die storie voortdryf, en wat die leser vasgenael hou.
Ná die eerste onderhoud met Dorie is dit nie net vir Danie Gouws wat Gert Swanepoel begogel nie, die leser kan ook nie meer wegstaan nie. Tot jy aan jouself moet erken jy is ook maar soos die nuuskieriges wat stadig by ’n ongelukstoneel verbyry, al kan jy by voorbaat sien dit gaan nie ’n mooi gesig wees nie.
’n Internetsoektog bring jou by ’n Gerrit Johannes Swanepoel uit, en die datums en gebeurlikhede stem ooreen met die karakters in Wepener se boek. In sy bedankings aan die einde van die boek noem die skrywer “dat die historiese en kontemporêre primêre en sekondêre bronne wat geraadpleeg is om op die spoor van Gert Swanepoel te kom en dit byster te raak, is te veel om hier op te noem”.
Alhoewel die geskiedkundige feite van Gert Swanepoel opgeteken is, sowel as die gruwels wat hy aangevang het, en hoe hy aan sy einde gekom het, is dit hierdie boek wat vleis aan daardie droë feite sit. Nie net vleis nie, maar senings, binnegoed, bloed en asem.
Die karakters kry lewe en trek jou tot binne hulle leefwêreld in.
Soos ek reeds genoem het, maak die soektog na Gert baie draaie en neem allerhande afdraaie. ’n Belangrike draai is die een wat die leser by Gert se ouers uitbring. Gotlieb Swanepoel en Susanna, gebore Cloete.
Gotlieb wat met ’n halwe helm gebore is en wie se ouers hom reeds as kind na Japie de Beer, ’n bekende siener in die Paarl, geneem het. Japie moes vir Gotlieb leer hoe om sy gawe te ontwikkel. Alhoewel Gotlieb ’n suksesvolle boerdery gehad het, was hy nie in sy hart ’n boer nie, en almal het geweet Susanna is eintlik die boer op die plaas.
Terwyl Susanna vir Gert verwag het, het Gotlieb besluit dit sal die beste wees as die baba op Nuwejaarsdag gebore word. Dit sal help dat die kind ’n gelukkige en geseënde lewe sal hê.
Alhoewel die leser vroeg al in die verhaal agterkom dat Susanna en haar seun, Gert, ’n ingewikkelde verhouding gehad het, is dit eers na aan die einde van die boek dat ’n mens verstaan waarom. Die geboorteproses het nie heeltemal volgens plan verloop nie en toe daar kort ná Gert se geboorte ’n sonsverduistering plaasvind, het Susanna vir Gotlieb beskuldig dat hy dit veroorsaak het.
Dit het jy nou van jou gelieg, Gotlieb Swanepoel. My ma het my teen julle gewaarsku. Julle Swanepoels. Dis jy wat hierdie onheil oor ons gebring het.
En dan, soos die duisternis gedaal het, wyk dit weer en in ’n oorhaastige sonsopkoms word die donkerte met lig vervang. Almal is stil, die stemme binne die kamer en buite langs die huis. Selfs die baba wat steeds langs sy ma lê het ophou huil en soek opnuut met sy mond teen Susanna se lyf. Met haar elmboog werk sy die koppie weer weg soos ’n bokooi wat ’n hanslam wat by haar kom pram soek, met haar horings wegwerk en die baba se snikke begin weer en gaan oor in ’n harde geskree.
En tog wil dit voorkom, of ten minste volgens Gert se vrou Bettie, dat Susanna vir Gert laat oppiep het deur die vrouens wat sy aangesê het om na Gert te kyk.
Maar sou Gert in die kombuis inloop terwyl sy ma by Bettie gekuier het, was sy summier onbeskof met hom en slaggereed met ’n belediging oor hom en sy boerdery.
Die verhouding tussen ma’s en kinders is sedert die vroegste tye bespreek en geanaliseer. Daar bestaan vele sielkundige teorieë en meer as een geweldenaar en wetsoortreder het deur die eeue al sy ma die skuld gegee vir sy of haar dade.
Of ou Susanna die rede was dat Gert die man geword het wat hy was, sal ’n mens nooit weet nie.
In een van die geskrifte oor Gert skryf iemand dat leke nie ’n diagnose kan maak nie, maar Gert was waarskynlik ’n psigopaat. Êrens in die boek word gesê dat Bettie party dae gewonder het of Susanna nie die een is wat kêns is, eerder as Gert se pa, ou Gotlieb, nie.
Alhoewel dit Gert is wat soos ’n alomteenwoordigheid oor die verhaal hang, is dit die vroue wat my nie wil los nie.
Op bladsy 21 ontvou ’n toneel wat diep tref.
Die rumoer van vroeër is stil. Mense staan bewegingloos en kyk na die oskar en die drie styf teen mekaar op die kis – Bettie met die leisels en ’n swepie in haar hande en die twee kinders, Katryn en Gertjie, die opgeskote meisiekind en die seuntjie weerskante van hul ma. Al drie kyk stip voor hulle. Rûe waterpas met die kis.
Op die bak agter hulle versamel ’n paar vlieë en brommers op die bokseil wat een-een hulle pad na onder die seil en die stank daar vind.
In die rolprent Cold Mountain sê een van die vroue: “They call this war a cloud over the land. But they made the weather and then they stand in the rain and say, ‘Shit, it’s raining.’”
Die toneel het my aan Ruby se woede teenoor mans en hul beheptheid met oorlog laat dink. Ek is seker Bettie wou ook sê Gert het die weer gemaak en nou moet sy en die kinders saam met hom in die reën staan.
Dis interessant hoe die mans in die verhaal die praters is, terwyl die vroue die leisels moet neem en die spreekwoordelike wa deur die drif kry.
Wepener skep interessante vrouekarakters. Nie net die boervroue nie, maar ook die vroue wat in die huise en kombuise werk. Vroue wat daagliks deel is van die huishoudings, wat sien wat agter die toe deure aangaan.
Griet Damon wat eintlik vir Gert grootgemaak het en meer kos gekry het sodat sy genoeg melk gehad het om hom ook te soog. Feitjie, Griet se dogter wat saam met Gert grootgeword het, en vir wie hy later jare gereeld onder by die rivier gekry het. Feitjie was syne.
Dis goed en lekker met Feitjie, dis reg, asof dit so hoort en altyd so sal wees. Maar Bettie Killian is ’n heel nuwe avontuur. Feitjie is boer. Bettie is jag.
Feitjie wat later, ná Gert se troue met Bettie, dikwels moes kyk hoe Gert met Bettie agterop sy perd in die rigting van die rivier ry. Maar Feitjie sal later ook uitvind dit was nie net sy en Bettie wat rivier toe geneem is nie.
Mooi Liesl Killian, ’n blas nasaat van Bettie, wat by haar ouers op Kruitfontein woon en ook met die helm gebore is én wat al vir Gert gesien het. Liesl wat vir Danie op ’n donkeraand beduie hoe hy oor haar linkerskouer moet kyk as hy vir Gert wil sien. Die kaal skouer met net ’n spaghetti-bandjie oor.
Anne Ziegler, Danie se afwesige verloofde in die Kaap wat vermoedelik ’n affair het.
Om maar ’n paar te noem.
Danie kom die verhaal binne asof ’n hoofkarakter. Hy is gou welkom op die plase in die distrik en ’n hele paar huise op die dorp. Almal wil met hom gesels. Almal glo hulle kan die ou raaisels oplos, sodat hy die regte storie kan opteken.
Vroeg reeds in die verhaal voel dit egter asof Danie nie opgewasse is vir die taak wat hy hom opgelê het nie. Die storie is sterker as hy. Gert gaan hom ook ore aansit.
’n Interessante kinkel in die verhaal is Danie se verhouding met Anne Ziegler. Ek het in ’n stadium gewonder waarom dit deel van die verhaal is. Op die ou end sluit dit egter mooi aan by die groter verhaaltema. Soos ’n mens beleef hoe verskillend ’n gemeenskap sekere gebeure onthou, word jy ook gekonfronteer met die feit dat selfs binne ’n verhouding is die onthou anders. Dis asof Danie en Anne hulle verhouding verskillend beleef en onthou.
Net nog ’n voorbeeld van hoeveel draaie die verhaal met ’n mens maak.
.........
Die skrywer van so ’n verhaal kan nie vir ’n beter agtergrond vra as die omgewing waar hierdie verhaal afspeel nie. Die Klein Karoo is ryk aan volkstories, mites en legendes. Dis ’n omgewing van berge en dale. Vlaktes en rivierlope wat oor eeue heen poorte oopgekloof het.
...........
Die skrywer van so ’n verhaal kan nie vir ’n beter agtergrond vra as die omgewing waar hierdie verhaal afspeel nie. Die Klein Karoo is ryk aan volkstories, mites en legendes. Dis ’n omgewing van berge en dale. Vlaktes en rivierlope wat oor eeue heen poorte oopgekloof het.
Soos Wepener dit in die eerste paragraaf beskryf:
Die Gamka trap hoefysters in die berge. Vloedlyne kronkel bo die kranse – stroppe tussen hemel en aarde.
Dis ’n streek waar die son laatmiddag nog op die vlakte geel brand, terwyl weggesteekte klowe reeds in diep skadu gehul is. Die kontraste sorg vir interessante gesigte.
In een van die geskrifte wat ek oor Gert Swanepoel gelees het, word gesê: “Murder is a crime of the cities, but murderers also appear in the lonely places, where their crimes go unpunished for years.”
’n Mens is die hele tyd bewus van die afsondering, van die weggesteekte klowe.
In Suid-Afrika word daar dikwels gemaan dat ’n mens nie nostalgies oor die verlede moet wees nie. Hoe minder ligte daar in die huise brand, hoe meer slaggate daar op die paaie is en hoe laer die rand daal, hoe meer wil mense hulle verbeel die verlede was beter. En dan kom die vraag: Vir wie was dit beter? Wie se onthou moet hier as barometer geneem word?
Ek weet nie of Wepener die verhaal gekies het omdat dit teen die gebeure van die tyd eggo nie en ek strek dalk nou die skrywer se bedoelings, maar doelbewus of nie, hierdie verhaal laat ’n mens opnuut na baie dinge om jou kyk en maak jou weer bewus van watter stories jy onthou en oorvertel.
Dit skyn egter ook ’n lig op wat stilgehou word. Die dinge wat in die skadu’s van die klowe plaasvind en waaroor daar ’n doek getrek word.
Die verskonings wat ’n mens vind om jou kinders se doen en late te regverdig.
Op die mense wat die weer maak, en diegene, dikwels die vroue, wat die kinders droogvoet deur die driwwe moet kry.
Dis nie asof die skrywer daarop uit is om te preek of lesse te gee nie. Met Wepener se ander verhale het ek gevoel hy skilder met ’n fyn kwas. Met Roman voel ek of hy met ’n skerp skalpel menswees tot op die been gedissekteer het en dit vir die leser oorlaat om die oordeel te fel.
Roman is ’n diep-menslike verhaal en ek kan dit beslis aanbeveel, selfs ’n tweede lees.