Twyfelaars wat glo: 'n onderhoud met Chris van der Merwe

  • 1

Chris van der Merwe praat met Naomi Meyer oor die boek Twyfelaars wat glo – ’n boek wat voortspruit uit die e-pos-korrespondensie tussen Chris van der Merwe en Hans Ester.

Chris, daar verskyn binnekort 'n boek wat voortspruit uit persoonlike e-pos-korrespondensie tussen jou en Hans Ester oor geloofskwessies. Waar het julle heel eerste gesprek begin en hoe gereeld het die gesprekke voortgeduur? Miskien kan jy vir ons lesers 'n baie klein gedeelte van julle korrespondensie wys - 'n paar honderd woorde uit die boek, dalk?

Ek en Hans het baie lank al geweet van ons gedeelde belangstelling in die Afrikaanse en Nederlandse literatuur en in religieuse kwessies. Ons noue samewerking het begin met ʼn boek deur Nederlandse en Afrikaanse akademici oor die narratiewe verwerking van trauma. Dit is in 2012 deur SunMedia gepubliseer onder die titel Woordeloos tot verhaal: Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans. Dit het ons op die gedagte gebring om briewe te wissel rondom temas wat ons albei interesseer, en waarvoor daar miskien ʼn breër belangstelling ook sal wees. En so het Twyfelaars wat glo  tot stand gekom – ʼn seleksie van briewe wat tussen 2013 en 2019 geskryf is.

Ek haal ʼn stukkie uit die boek aan om iets van die aard daarvan aan te dui. Hans se briewe is in Nederlands geskryf, myne in Afrikaans (maar voetnote help met taalprobleme wat by die leser mag ontstaan). Hans vertel in sy brief van 25 Februarie 2015 hoedat sy seun Chris (nie te verwar met sy korrespondent Chris nie!) die leer vasgehou het terwyl hy ʼn struik snoei. Toe gebeur iets onverwags wat by hom allerlei vrae laat ontstaan:

Toen gebeurde er iets onverwachts. Ik liet de snoeischaar[1] vallen. Omdat Chris pal onder de ladder stond, kwam de snoeischaar met de punten op zijn voorhoofd terecht. Het gevolg was een bloedende wond die gelukkig niet erg groot en diep was. Maar, de snoeischaar had ook in zijn oog kunnen vallen. Dat gebeurde niet en daar was ik geweldig dankbaar voor.

Ik heb onze Heer en God in mijn gebed van harte bedankt voor de goede afloop van mijn stommiteit. Ik voel dat God hier het ergste verhoedde. Maar, zal ik ook bidden en de gebeurtenis aanvaarden uit Gods hand wanneer de afloop niet zo gunstig is? Hoe eerlijk ben ik wanneer ik dank voor de afwending van een zeer ernstig ongeval? Hoe is mijn persoonlijke gevoel van dankbaarheid te rijmen met andere situaties (van anderen of van mijzelf) waarin juist verzet tegen de gedachte van Goddelijke leiding opkomt? Waarom voel ik dat God hierin aanwezig is en in andere situaties niet?

Op 20 Maart het ek hom soos volg geantwoord:

Jou verhaal het my laat dink aan wat Primo Levi geskryf het, ek dink dit is in sy boek wat in Engels vertaal is as If this is a man. Hy vertel hoedat een van die mans in Auschwitz die Here geloof het dat die lot nie op hom geval het om vergas te word nie (maar in die tussentyd het die lot op ander geval). Levi se reaksie was: “I can spit on that man’s God!” Vir Levi was dit (begryplik) aanstootlik dat die man net aan sy eie redding dink en nie aan die lot van ander wat nie so gelukkig soos hy was nie. ʼn God met ʼn paar “witbroodjies” sonder genade vir die res van die mensdom is ʼn God wat aanstoot gee. ʼn Bidder wat net aan sy eie welsyn dink en ander se ellende vergeet, is ʼn aanstootlike bidder.

Julle is albei letterkundiges en albei van julle glo in God. Maar 'n belangrike verskil tussen julle is julle lande van herkoms. Nederlanders en Suid-Afrikaners het gans ander beskouings oor godsdiens, of veralgemeen ek? Dalk kan jy iets skryf oor wat jy as eenders en wat jy as anders ervaar het in jou gesprekke met 'n Nederlander as dit kom by godsdienskwessies.

Ek dink nie die verskille is so groot nie, maar dit is wel so dat ontwikkelinge wat in Suid-Afrika in ʼn relatief vroeë stadium is, veel verder in Nederland (en in Europa in die algemeen) gevorder het. Ek dink hier veral aan die proses van sekularisasie en die invloed daarvan op die Christelike Kerk. In die Nederlandse letterkunde van ongeveer 1950 – 1980 was ‘God’ en ‘Kerk’ woorde wat nie in fatsoenlike geselskap gebruik is nie. Maar sedert die tagtigerjare van die vorige eeu is daar in Nederland en die Nederlandse letterkunde ʼn toenemende belangstelling in religie. Hieroor skryf Jaap Goedegebuure boeiend in sy boek Nederlandse schrijvers en religie, 1960-2010. Die toenemende belangstelling in religie het egter nie gepaard gegaan met ʼn toenemende besoek aan kerke nie. Ek dink in Suid-Afrika is daar ook ʼn agteruitgang van die kerke maar nie noodwendig ʼn afname in belangstelling in spirituele sake nie. Dus, gemeenskaplik in Nederland en Suid-Afrika is die sekularisasie, die agteruitgang van die kerke, die blywende belangstelling in spiritualiteit. 

Twyfel en geloof. Is dit dan nie teenstrydig nie? Watter een kom eerste? En waarom dan aanhou glo?

Twyfel en geloof staan nie teenoor mekaar nie; dit is twee kante van dieselfde saak. Geloof beteken nie dat jy domweg glo en nie jou verstand mag gebruik nie. Godsdiens kan redelik wees, en redelikheid behels twyfel, egte geloof sluit worsteling in. Daarom is die figuur van Job so boeiend vir my en Hans – Job was ʼn man wat getwyfel het, wat God aangekla het sonder om sy rug op God te draai. Vir twyfelaars het die boek Job ʼn troostende slot, wanneer God sê dat Job beter gepraat het as sy vriende – hulle was Jobstroosters wat gedink het hulle weet presies hoe die vurk in die hef steek; Job was ʼn eerlike worstelaar.

Twyfel is menslik; maar ek dink geloof is ook menslik. Soos Augustinus gesê het, daar is ʼn verlange in die menslike psige wat alleen deur God gestil kan word. Twyfel sonder geloof en geloof sonder twyfel is albei vir my onwenslik.

En toe is die boek gebore. Wie is julle ideale leser en waar sal mense julle boek in die hande kan kry?

Die ideale lesers is twyfelaars wat glo, en ongelowiges wat nie tuis voel in hulle ongeloof nie. Dis nie bedoel vir mense sonder twyfel nie.

Die boek kan bestel word by:
www.sun-c-shop.co.za
africansunmedia.store.it.si (e-boeke)
www.africansunmedia.co.za
Daar is ook ʼn Kindle-uitgawe op Amazon beskikbaar.

[1] Snoeiskêr.

 

Boekbekendstelling: Twyfelaars wat glo deur Hans Ester en Chris van der Merwe

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top