Lost in translation?

  • 0

Ou geskrifte uit Falling outside the normal moral constraints, CC BY 2.0 , via Wikimedia Commons

Die vertaling van literêre tekste is ’n kunsvorm uit eie reg. Die Booker-prys word jaarliks toegeken aan die beste fiksiewerk van regoor die wêreld wat in Engels vertaal en in die Verenigde Koninkryk of Ierland gepubliseer is. Die prysgeld bedra tussen R12 miljoen en R13 miljoen en, let wel, daardie prysgeld word gelykop tussen skrywer en vertaler verdeel. So merk die bekende romanskrywer Salman Rushie op: “It is normally supposed that something always gets lost in translation”, maar voeg dadelik by: “I cling obstinately to the notion that something can also be gained.”

Wat is verlies en wat is wins met vertaling van literêre tekste? Ook met betrekking tot die tekste in die Bybel wat wél ook ’n literêre werke is (gedigte, liedere, prosa, drama, briewe, mites) en boonop in mensgemaakte taal iets oor die Iets probeer kommunikeer? Is akkuraatheid en verstaanbaarheid die enigste of hoogste kriteria?

Tussen die jare 383 en 404 vertaal die Kerkvader Hieronimus die Bybel in Latyn. Die vertaling het later bekend geword as die Vulgaat (van die Latyn vulgata wat “algemene weergawe” beteken). Met hierdie neutvars Bybelvertaling, wat die Konsilie van Trent in die 16de eeu as amptelike Bybelvertaling van die Rooms-Katolieke Kerk gepromulgeer het, is daar wat vertaling betref winste en verliese.

Moses kom van die berg af en in plaas daarvan dat sy gesig “straal” (qaran) soos in die Hebreeuse bronteks, het hy in die Vulgaat “horings” (qeren). “Something was gained” – twee horings. En tog, tog het die straling (dis tog mooier as horings!) verlore gegaan. En sommiges sal byvoeg die waarheid is ook ingeboet. Nietemin, Michelangelo het duidelik die Vulgaat onder oë gehad toe hy Moses met twee horings uit marmer bevry het eerder as om ’n stralende Moses te skep. Was ek ’n beeldhouer, sou ek aspris die Vulgaat gebruik het – ek stel my voor dat ek makliker “horings” as “straal” uit ’n blok marmer sou kon beitel. Nietemin, indien ’n mens die balansstaat van “horings” teenoor “straal” moes opstel, dan was dié een ’n verlies gegewe Bybelvertaling.

........
Wat is verlies en wat is wins met vertaling van literêre tekste? Is akkuraatheid en verstaanbaarheid die enigste of hoogste kriteria?
........

Moses, soos uitgebeeld deur Michelangelo. Bron: Jörg Bittner Unna, CC BY 3.0, via Wikimedia Commons

Dan is daar Maria, Jesus se ma. Arnold Huijgen wys in sy boek Maria, wat as die beste teologiese boek van 2021 in Nederland aangewys is, dat die Grieks xaire kexaritoomene in die Lofsang van Maria (die Magnificat) in Lukas 1:28 “Wees gegroet, begenadigde” is. Hieronimus het, sekerlik met goeie bedoelinge, die Grieks vir “begenadigde” na gratia plena in Latyn vertaal. Gratia plena beteken egter “vol van genade” en nie “begenadigde” nie. Die bron van die genade verskuif hier. Teologies sou mens dit as ’n verlies kon reken. Die vertaling verander die betekenis vanaf genade ontvang van God tot by self ook genade besit wat uitgedeel kan word. Wat die liturgie en musiek gegewe die vertaling betref, wel, laat ek eerder net sê dat ’n sterk sopraanstem wat “Ave Maria, gratia plena” soos getoonset deur Schubert sing, vir sommige van ons hoendervleis gee.

Hierdie is egter voor die hand liggende vertaalaspekte en ons sit met briljante Bybelvertalers wat op ’n voortgaande wyse in die lig van die nuutste navorsing vir ons die beste stralende en begenadigde Afrikaanse vertalings gee. Vertaling gaan egter oor veel meer as korrekte vertaling. En wat gewen word en wat verlore gaan in vertaling, gaan oor veel meer as net gewone feitefoute. Met godsdienstekste het vertaling juis ook te make met daardie ragfyn balans wat gesoek moet word in die doeltaal. Die doeltaal moet so goed as moontlik die oorspronklike betekenis van die teks behou, en tog ook nie alte maklik ’n ou en vreemde teks oor misterie en die Groot Misterie soos die Bybel so toeganklik en verstaanbaar vertaal en ook dus afwater dat daar geen verskil tussen die tekste in die Bybel en dié in die koerant of ’n skoolhandboek is nie. Dan is verstaanbaarheid ’n wins, ja, maar dieselfde verstaanbaarheid is ook ’n verlies.

........
Vertaling gaan egter oor veel meer as korrekte vertaling. En wat gewen word en wat verlore gaan in vertaling, gaan oor veel meer as net gewone feitefoute.
........

Gaan dit in godsdiens in die eerste plek of by uitstek oor verstaanbaarheid? Gaan dit selfs in handelinge soos Skriflesing en prediking net oor verstaanbaarheid? Ja, natuurlik is dit deel daarvan, maar verstaanbaarheid by vertaling het ook perke. Soms moet tekste waarop ek ’n alte maklike verstaangreep kry, eerder hulle misterie behou sodat ek hulle nie te gou verstaan en dus ook beheer nie, maar dat hulle my eerder beheer, laat wonder en weifel en weer lees, wat ’n belangrike deel uitmaak van godsdiens en geloof.

’n Gedig wat ek in die eerste lesing maklik en volledig verstaan, is ek bes moontlik ook sommer klaar mee. Ek gaan daardie bundel nie weer van my boekrak afhaal nie. Dis soos sommige Afrikaanse storiegedigte wat ek lees en ek voel die digter was net te lui of onkapabel om dit in kortverhaalvorm aan te bied – jy draai die “gedig” om soos ’n blok sjokolade wat aanvoer dat dit “whole nut” is, maar helaas is jy gelukkig as daar een ou verlore neutjie iewers sit. So skraps soos daardie neute in die sjokolade, so skraps is die taalvernuf en die metafore en beeldtaal wat sorg dat ek die gedig nie dadelik binne my leesgreep kry nie, en die gedig my eerder in sy greep kry, met my stoei en my laat dink en droom en wonder. ’n Gedig moet my soms selfs, soos ’n goed vertaalde Bybelteks, op die heupsenuwee slaan, omdat dit nie net mense is wat tekste verstaan nie – die beste tekste verstaan juis die kompleksiteit van mense en stoei gegewe vorm en inhoud ook met my.

........
’n Gedig moet my soms selfs, soos ’n goed vertaalde Bybelteks, op die heupsenuwee slaan, omdat dit nie net mense is wat tekste verstaan nie – die beste tekste verstaan juis die kompleksiteit van mense en stoei gegewe vorm en inhoud ook met my.
........

Iets kan inderdaad verlore gaan in vertaling, maar in goeie vertaling wat weet dat verstaanbaarheid ’n polisemantiese saak is – tegelyk lerend én ’n indompeling in die wêreld van die simbool en ’n dans met misterie – is vertaling wat nie alleenlik na verstaanbaarheid mik nie, maar ook misterie respekteer, juis ’n wins. Dít is vertalings uit die pen van sensitiewe vertalers wat die lesers en hoorders van daardie tekste stralende begenadigdes maak, mense wat iets verstaan van die perke van begrip.

Lees ook:

Ankerkaroo, groen lusern en klein liberale vrysinnige kerkies

'n Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (BDV – Die Bybel: 'n Direkte Vertaling)

’n Liturgiese praxisteorie vir ’n teologie van versoening en geregtigheid

Verlore in vertaling?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top