Onlangs haal die skrywer van ’n meningstuk in ’n Afrikaanse weekblad iemand aan oor die rede waarom sommige Nederlanders die ouer hoofstroomkerke verlaat en by nuwer konserwatiewe kerke aansluit. Die kommentaar kom van ’n leier in ’n charismatiese kerklike organisasie en lui soos volg: “Die vrysinnige en liberale kerke hier word al hoe kleiner. Soos iemand gesê het, die skape weet waar die goeie kos is …”
............
Dit klink inderdaad mooi, hierdie pastorale beeld met die skyn dat dit reg uit die Johannes-evangelie kom, en wat skape se dieetkundige intellek en onderskeidingsvermoë nogal hoog aanslaan. Gegewe die konteks van Nederland sou beeste as voorbeeld veel eerder sy argument gedien het.
...........
Dit klink inderdaad mooi, hierdie pastorale beeld met die skyn dat dit reg uit die Johannes-evangelie kom, en wat skape se dieetkundige intellek en onderskeidingsvermoë nogal hoog aanslaan. Gegewe die konteks van Nederland sou beeste as voorbeeld veel eerder sy argument gedien het. Sou hy hierdie beeld in ’n preek in die Hantam in Calvinia of Garies of selfs verderaan in die Kamdeboo of Bo-Karoo gebruik het, vermoed ek, sou daar ’n hele paar fronse op boere se voorkoppe gevorm het.
..........
My pa het met sybokke in die Groot Karoo geboer, maar het altyd ook ’n troppie Dorperskape gehad. En ’n lusernkampie. In die Groot Karoo val ’n morg of drie lusern ongetwyfeld in die kategorie van “goeie kos” vir skape. En tog, wag vir die dag wat iemand die hek wat na die lusernkamp lei, oop vergeet.
...........
My pa het met sybokke in die Groot Karoo geboer, maar het altyd ook ’n troppie Dorperskape gehad. En ’n lusernkampie. In die Groot Karoo val ’n morg of drie lusern ongetwyfeld in die kategorie van “goeie kos” vir skape. En tog, wag vir die dag wat iemand die hek wat na die lusernkamp lei, oop vergeet. Dit neem enkele ure voordat die hele trop skape knuppeldik opgeblaas op hulle sye lê ... weens die goeie kos wat hulle gevind het. Dit is dan wanneer jy in die bakkie spring en ’n gat in die skape se mae steek om die opgeboude gas vry te laat met die hoop dat jy die diere kan red. Sukses is nie gewaarborg nie. Ja, toegegee, die eerste paar minute in die kampie moes vir die skape hemel op aarde gewees het.
Daar is inderdaad heelwat wat die ouer en sogenaamde vrysinnige liberale (in die genoemde artikel is die byvoeglike naamwoorde bewustelik op beledigende wyse gebruik) kerke by ander kerke kan leer, ongetwyfeld. Om egter so stellig en onnadenkend beweegredes van lidmate met die konsep “goeie kos” te verklaar, vra vir nuansering, aangesien dit ’n uiters beledigende keersy impliseer, naamlik dat waar die skape vandaan kom, die kos swak is. Indien ek vir ’n oomblik nog by die beeld van lusern bly, sal dit in ons wêreld karoobossies soos doringkaroo, doringkapok en ankerkaroo behels. Die valerige karoobossies is dan die geïmpliseerde swak kos, omrede skape weet waar die goeie kos is en hulle eie keuse altyd die beste keuse behels wanneer hulle tussen ankerkaroo en iets met ’n dieper groen kleur moet kies. Uit dieselfde skrywer se pen lees ek onlangs hoedat kerke met groter getalle in ons land floreer en ’n merkbare verskil maak. Is seker waar, maar die opmerking verklap ook ’n spesifieke soort denke oor kerkwees wat eerder neig na kwantitatiewe ekonomiese as kwalitatiewe teologiese denke.
Nee wat, stadig oor die biltongklippe, skalie en doleriet tussen ons karoobossies hier in Suid-Afrika wanneer daar na ouer kerke en kleiner gemeentes verwys word. Dis in riviere van lewende water, sommige van hulle alleen maar klein spruite, beke as jy wil, wat ook deur ou kerke (sommige ietwat kleiner en dalk selfs ’n raps vrysinnig) in ons mooi land gevloei het, dat heelwat lidmate soos rivierklippe in die woorde van DJ Opperman “ronder omgerol” is en steeds omgerol word. Dapper kerke en gemeentes wat inderdaad fouteer, maar met vryheid vir debatvoering, waar harde gesprekke wél gevoer word, al sou dit veel makliker gewees het om die veelkantigheid van die waarheid te ontduik deur na die lusernkampie te hardloop.
Ek het my vriend en kollega wat, nes ek, teologie in Amsterdam doseer, gevra wat hy dink van die opmerking wat oor hom en sy kollegas se kerke se swak kos teenoor die goeie kos gevel is. Ek vra hom juis omrede ek al na heelwat van sy preke in die Oude Kerk in Amsterdam geluister het, en dit uiters voedsaam gevind het. Marcel Barnard antwoord soos volg: “De schapen kiezen voor fast food: hapklare brokken van bewerkte voedingsmiddelen die makkelijk naar binnen glijden door de vette reli-sauzen die eroverheen worden gegoten. Maar het voedsel is te vet, de schapen worden er obees van, het zit vol slechte cholesterol en maakt ze uiteindelijk ziek. Bij de counter van de Mac en KFC is het drukker dan aan de tafels in het restaurant waar rijk en gevarieerd voedsel wordt opgediend.”
.............
Sommige skape mag terugkyk deur die oop hekkie na die veld waarvandaan hulle kom en dit in vergelyking met die groen en pers lusernland onaantreklik vind. My pa se lusernkampie bestaan lankal nie meer nie.
................
Sommige skape mag terugkyk deur die oop hekkie na die veld waarvandaan hulle kom en dit in vergelyking met die groen en pers lusernland onaantreklik vind. My pa se lusernkampie bestaan lankal nie meer nie. Na die laaste droogte is daar amper net sand en boetebosse oor, en die groen bossies met pers blommetjies wat nou daar staan, mag soos lusern lyk, maar dit is oneetbaar en het ’n naam wat ek nie hier gaan noem nie. Oorkant die grondpad in die veld is die kerkhoffie waar my voorgeslagte lê wat selfs na die droogte steeds omring is deur ankerkaroo en waar daar saam met die sybokke ook ’n troppie dorpers wei.
Lees ook:
LitNet Akademies Weerdink: ’n Perspektief op die Kairos Netwerk-NG Kerk-kontroversie