LitNet Akademies Weerdink: ’n Perspektief op die Kairos Netwerk-NG Kerk-kontroversie

  • 2

Prent: https://pixabay.com/photos/light-sunrise-little-church-2963953/

Die LitNet Akademies Weerdink-artikels spruit voort uit LitNet Akademies-artikels wat rondom gegewe temas gepubliseer is.

Die volgende LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikels het oor ’n tydperk in dié akademiese joernaal verskyn:

  1. Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?
  2. Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma
  3. Sentralisering en verbode seks

Fanie Snyman gee hier onder ’n perspektief op die Kairos Netwerk-NG Kerk-kontroversie.


  1. Inleiding

Die kontroversie tussen Kairos Netwerk en die NG Kerk bly – ten minste binne kerklike kringe – ’n belangrike diskoers. Verskillende streeksinodes van die NG Kerk oorweeg dit om uit die verband van die Algemene Sinode van die NG Kerk te tree juis as gevolg van kwessies wat binne Kairos Netwerk bespreek word. ’n Beduidende aantal gemeentes in die NG Kerk het hulleself as dolerende gemeentes geïdentifiseer om daarmee hulle ontevredenheid met besluite van die NG Kerk en daarmee saam hulle vereenselwiging met Kairos Netwerk ondubbelsinnig te demonstreer.

Volgens onlangse berigte in Netwerk 24 (16 Julie; 21 Julie; 22 Julie, 23 Julie) het die sogenaamde Kairos Netwerk ’n byeenkoms gehou. Uit die berigte oor die byeenkoms word die groepering verenig in dit waarteen hulle beswaar maak. Hulle het dit teen besluite van die NG Kerk rakende selfdegeslagverhoudings en veral die Skrifbeskouing wat ten grondslag van die besluite lê. Die groep stem dus saam met dit waaroor hulle verskil.

  1. Terminologiese opheldering

Die gesprek kan aangehelp word as daar ’n terminologiese opheldering van begrippe kan kom. Wat presies word bedoel met terme soos liberaal en liberale teologie?

My indruk is dat liberaal en liberale teologie kodewoorde is vir ’n teologiese standpunt waarmee daar verskil word: ’n Teologiese standpunt of oortuiging waarmee ek nie saamstem nie, word geëtiketteer as “liberale teologie”.

Luidens die berigte in Netwerk 24 word daar veel gewag gemaak van wat genoem word ’n “klassieke” teologiese opleiding. Ook hier is terminologiese opheldering nodig. Wat word daarmee bedoel? Die verdere vraag is: Waar stol jy “klassieke” teologie? Daar is verskillende moontlikhede: Heyns, Jonker, Berkouwer, Barth, Bavinck, Kuyper, Calvyn, Augustinus. Hoe verskil “klassieke” teologiese opleiding van die opleiding wat tans aan teologiese fakulteite aangebied word? 

...........
Teologie met al sy verskillende dissiplines is ’n wetenskap. Die tipiese van wetenskap is dat insigte verander, verruim, verdiep. In wetenskap groei en ontwikkel kennis. Kennis is nie staties nie.
............

Teologie met al sy verskillende dissiplines is ’n wetenskap. Die tipiese van wetenskap is dat insigte verander, verruim, verdiep. In wetenskap groei en ontwikkel kennis. Kennis is nie staties nie. Dat dit die geval is met die beoefening van teologie as wetenskap word geïllustreer in die nimmereindigende wetenskaplike tydskrifartikels, monografieë, kommentare, teologieë en handboeke wat gepubliseer word. Omdat die wetenskap van teologie verander, verruim en verdiep, word dogmatiese oortuigings anders verwoord as wat Bavinck dit destyds gedoen het en verstaan ons die teologie van die Ou Testament anders as wat Von Rad dit verstaan het. Die aard van die wetenskap verhoed dat ons teologie stol in die publikasies van ’n bepaalde teoloog of beperk tot ’n bepaalde tyd of era. Dit is juis die waarde van teologiese opleiding aan fakulteite van ’n universiteit. Teologiese opleiding dra nie net ’n bepaalde korpus van gestolde kennis oor aan ’n volgende geslag studente nie, dit skep ook nuwe kennis wat in die openbare domein gepubliseer en aan studente gedoseer word.

Teologiese opleiding moet verskaf word met die oog op die toekoms en nie die verlede nie. Dit is ’n formidabele uitdaging, want dosente weet nie hoe die toekoms gaan lyk teen die tyd wanneer studente afstudeer nie.  

  1. Oor die uitleg van die Bybel

Skrifgetrouheid is ’n ander term wat dikwels gebruik word in die debat. Eksegese is die vakgebied wat hom besig hou met die uitleg en verstaan van die Bybelse teks. Eksegese word noodsaaklik wanneer daar gewerk word met baie ou tekste soos die Bybel en ’n onmiddellike verstaan nie meer moontlik is nie. Die historiese afstand, kulturele gebruike, die tale waarin die Bybel geskryf is, is faktore wat eksegese ’n noodsaaklikheid maak.

Eksegetiese modelle of metodes gee gewoonlik aandag aan twee fasette: die literêre en die historiese fasette van tekste. Literêre aspekte van ’n teks wat aandag kry, is die aard van die literatuur (byvoorbeeld: Is dit prosa of poësie; profesie of apokaliptiek?); tipiese taalkundige konvensies; die opbou of struktuur van die teks; die woordeskat wat gebruik word, ens. Historiese aspekte wat aandag kry, is die tyd waarin die teks afspeel en die tyd wanneer die teks geskryf is (die boeke Samuel en Konings vertel byvoorbeeld die verhaal van opeenvolgende konings van Israel en Juda, maar het waarskynlik as gevolg van die Babiloniese ballingskap tot stand gekom).

Om een van die twee fasette te onderskat of te onderspeel het ’n invloed op die uiteindelike bepaling van die betekenis van die teks. Om byvoorbeeld net aandag aan die historiese dimensie van tekste te gee, kan beteken dat die betekenis van die teks in die geskiedenis vasgevang word. Om net aandag aan die literêre dimensie van tekste te gee, kan lei tot ’n botydelike, ahistoriese betekenis van die teks, wat kan lei tot ’n fundamentalistiese verstaan van die teks waar tekste gewoon op die klank af toegepas word op die huidige situasie.  

  1. ’n Alternatief vir die teologiese opleiding vir voornemende NG Kerk-predikante?

’n Alternatief vir die teologiese opleiding van voornemende predikante van die NG Kerk word gereeld gehoor en oorweeg. Met name is die opleiding wat aan die NWU en die APK gebied word, as moontlike alternatiewe genoem.

............
Kan die NG Kerk egter ooit gemaklik wees daarmee om teologiese opleiding van voornemende predikante aan ander teologiese instansies oor te gee?
...............

Kan die NG Kerk egter ooit gemaklik wees daarmee om teologiese opleiding van voornemende predikante aan ander teologiese instansies oor te gee? Sou die NG Kerk gemaklik wees daarmee om voornemende predikante op te lei aan ’n instansie wat beheer word deur ’n kerk wat teologies oortuig is daarvan dat vroue nie predikante mag word nie omdat dit teen God se wil is? Sou die NG Kerk gemaklik wees daarmee om voornemende predikante op te lei aan ’n instansie soos die APK wat ’n afsplitsing is van die NG Kerk op ’n stadium toe die NG Kerk formeel deur besluite van ’n sinode weggestap het van ’n teologiese regverdiging van apartheid?

Die argument dat die klein getalle studente wat hulle aanmeld vir teologiese opleiding met die oog daarop om predikante in die NG Kerk te word, gewyt kan word aan die “liberale” teologie wat aan universiteite doseer word, is misleidend. Dit sal interessant wees om te verneem of dit anders gesteld is by teologiese fakulteite wat ’n “klassieke” teologiese opleiding bied.  

  1. Is daar ander nieteologiese faktore ook in spel?

Is daar nie ook ander faktore buite die teologiese kwessies wat ook – onbewus miskien – ’n rol speel by die ongelukkigheid in Kairos Netwerk nie? Ons leef in ’n tydsgees van intense onsekerheid – ekonomiese, maatskaplike, nasionale en internasionale onsekerheid is kenmerke van ons tyd. Dit is op sigself moeilik om met onsekerheid op soveel terreine saam te leef. Wanneer die bastions van sekerheid soos die kerk, die Bybel en God ook by die lysie van onsekerhede gevoeg word, word dit net te veel om te hanteer.

Is daar nie ’n ongemaklikheid rondom die saak van seksualiteit nie? Waarom is die fokus so fel op besluite wat geneem is rakende seksualiteit en die seksuele oriëntering van mense terwyl ander sake nie naastenby dieselfde intensiteit van oortuigings ontlok nie?

  1. ’n Moontlike uitweg
...........
In plaas daarvan om op ’n afstand oor mekaar te praat en persepsies te versterk is dit ’n beter opsie om die moeiliker weg van gesprek met mekaar te kies.
.............

In plaas daarvan om op ’n afstand oor mekaar te praat en persepsies te versterk is dit ’n beter opsie om die moeiliker weg van gesprek met mekaar te kies. Wat teologiese opleiding betref, is die onderskeie kuratoria van die NG Kerk aan die universiteite van Stellenbosch, Pretoria en die Vrystaat die toesighoudende liggame wat genader kan word. Ek is ook oortuig daarvan dat dosente wat lidmate van die NG Kerk is, meer as bereid sou wees vir gesprek.

Ek is dankbaar dat dit by herhaling in Kairos Netwerk gesê word dat skeuring nie ’n opsie is wat tans oorweeg word nie. Die alternatief is dan noodwendigerwys gesprek. Gesprek is gesprek – dit wil ’n groter begrip bring vir verskillende standpunte sonder om mekaar noodwendig te oortuig dat die een reg is en ander een verkeerd is. Miskien ontdek ons op dié manier dat ons tog nie so ver van mekaar af is as wat persepsies van mekaar wil voorgee nie.  

  • Fanie Snyman, Navorsingsgenoot, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat

Lees ook:

Ankerkaroo, groen lusern en klein liberale vrysinnige kerkies

 

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Hoe wetenskaplik is teologie? Ek aanvaar 'n mens kan enige saak wetenskaplik bestudeer. Maar om vir god wetenskaplik te bestudeer, is soortgelyk as om meerminne of die tandmuis wetenskaplik te bestudeer. Die wetenskap is 'n metode, ek dink daaroor sal meeste mense saamstem. 'n Goeie toets wat enige wetenskaplike kan onderneem, is om dieselfde studieobjek deur twee navorsers te laat ondersoek, en daarna die resultate te vergelyk. As mens hierdie beginsel nou toepas op die bybel, dan raak dinge lelik. Daar is soveel uiteenlopende en onversoenbare interpretasies van die bybel, dat dit tog duidelik is dat god uiteindelik net maar 'n konsep is. Die mens kies hoe sy of haar god lyk. En dit word ook gewoonlik sterk beïnvloed deur die persoon se kultuur.

    Die eenvoudige waarheid is dat daar 'n diskrepansie bestaan tussen leerstoel- en preekstoel-teologie. Dit gaan al jare aan maar die verwydering het net meer en meer toegeneem met tyd en dit kook oor. Die behoudende mense se argument is dat hulle voornemende predikante universiteit toe gaan vir opleiding, daar gekonfronteer word met kritiese teologie, tot so 'n mate dat hulle voel die bybel word aan flarde geskeur. So dit maak sin dat van die mense nie meer by die universiteite wil studeer nie. Van hulle wil werklik nog aan hulle god glo aan die einde van die dag. Ek kan nie sien hoekom daar nie seminariums vir sulke groepe kan wees nie. Wat is die punt daarvan om vir mense wat nog in hulle gode wil glo vir jare te onderwerp aan studies wat hulle godsdiens probeer ondermyn?

    So terloops, die liberale teologie is 'n baie eenvoudige konsep. Dit is al daardie dinge wat afwyk van hoe oupa Ossewa en ouma Ossewa gedink het toe hulle 200 jaar terug oor die Dragensberge getrek het. Al die humanisme, feminisme en al die dinge wat so mens gefokus is en nie god-gefokus is nie.

    Ek kan nie sien hoekom al hierdie mense saam wil sit in 'n kerk nie. Dit is vir my duidelik dat ons hier met verskillende gode te make het. Die feit dat twee gode dieselfde naam het, beteken nie dis dieselfde god nie. Daar is duisende gode op aarde, wat bewys dat die mens 'n absolute eindelose kapasiteit besit om gode te konseptualiseer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top