
Hoe leer kinders lees in 'n klaskamer waar daar meer as een taal gepraat word? By die onlangse Suid-Afrikaanse Boekebeurs het Oxford University Press hierdie onderwerp bespreek. Die prent hierbo was gebruik op 'n uitnodiging na die gesprek, waar onder andere genoem is dat daar in sekere Wes-Kaapse klaskamers nou sewe tale binne een klas gepraat word. Adinda Vermaak het die geleentheid bygewoon en met Naomi Meyer oor die uitdagings in die onderwys gesels.
![]() |
|
Adinda Vermaak
|
Hallo Adinda, jy is ’n vakadviseur vir Afrikaans by skole in die Wes-Kaap. So baie dinge het binne die onderwys verander; wat beteken dit vandag presies om vakadviseur vir ’n taal te wees?
Daar is seker iewers ’n omskrywing, in amptelike, hoogdrawende “amptenaaraanse” taal, oor presies wat ons alles moet doen, maar dit kom daarop neer dat ons moet seker maak die onderwysers volg die kurrikulum. Wat natuurlik ook beteken: Is die toetse en vraestelle op standaard; en so ook die nasienwerk? Hoe lyk die punte? Enige grensgevalle; moontlike druipelinge, ens. Die klem val ongelukkig te veel op graad 12. Ons onderwysstelsel is inderdaad ’n “matriekfabriek”.
Vir my, wat in ’n ander tyd skoolgegaan het, het daar nuwe definisies bygekom om tale af te baken. Wat is die verskil tussen “huistaal” en “moedertaal”, byvoorbeeld? En hoe dan met “eerste addisionele taal” teenoor “tweede taal”? Sal jy asseblief help uiteensit?
Huistaal is wat voorheen genoem is moedertaal. En Eerste Addisionele Taal is die ou tweede taal.
By die Suid-Afrikaanse Boekebeurs het Oxford University Press ’n gesprek oor lees in ’n veeltalige klas aangebied. Wat ervaar jy as die grootste uitdagings as mens spesifiek hieroor gesels – lees binne veeltalige omgewings?
Ek kan my nie regtig namens almal hieroor uitspreek nie, en beslis ook nie as woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement nie! Ek werk baie hard (ook in gr 7) aan die groot probleem van leerders wie se huistaal nie Afrikaans is nie. As hulle in gr 8 in ons skole inkom, moet sommige onderwysers hulle byna van vooraf leer. (Óf hulle het nie goeie onderrig in die laerskool ontvang nie, óf – en dit is meer waar – hulle het in die lang somervakansie alles vergeet!) Dit beteken hulle punte in Afrikaans Eerste Addisionele Taal is swak … en daarom haat hulle Afrikaans! Soms is van daardie leerders se ouers in werklikheid Afrikaanssprekend, maar om verskillende redes (byvoorbeeld hulle dink dis vir hul kinders goed om van die begin af Engels te hoor) praat hulle net Engels in die huis – ’n baie, baie groot probleem, want dit is asof die ouers nie wil besef dat ’n kind nie swakker sal vaar in Engels as hulle byvoorbeeld een dag in die week in die huis net Afrikaans praat en lees nie. En sommige van daardie ouers is onderwysers wat self Afrikaans-onderwysers is!
Die grootste uitdaging is dus om daardie leerders lief te maak vir Afrikaans. En onthou: hulle sal net van Afrikaans hou as hulle goed vaar daarin.

Om kinders te leer lees binne eentalige omgewings is al uitdagend genoeg, of hoe? Wat ervaar jy as die grootste uitdagings ten opsigte van lees binne omgewings waar leerders almal een taal praat – en verskil dit vir jou van die uitdagings tov leerders wat verskillende tale binne een klaskamer praat?
Dit is natuurlik makliker om in Afrikaans te leer lees as in Engels. Die spelling is (net soos in Fins, waar die leerders elke jaar internasionaal so goed vaar) meer foneties.
Vanoggend se gesprek het oor méér as net lees gehandel. Kinders wat sukkel om gelyktydig ’n taal én vakkundige terme binne die taal onder die knie te kry, voorspel niks goeds nie. Bestaan daar genoeg bronne en hulpmiddels vir kinders in hul eie tale, selfs al is die taal in die skool wat hul bywoon, nie noodwendig hul moedertaal nie? Het jy enige oplossings of voorstelle?
Daar is ontsagklik baie hulpmiddels. Hier in die Wes-Kaap is ons bevoorreg om ’n wonderlike onderwysbiblioteekdiens te hê: Edulis. Die biblioteek self is in Bellville. Hulle het van die heel nuutste boeke van oor die hele Engelssprekende wêreld op hul rakke. En een van die afdelings met die grootste versameling boeke en joernale en tydskrifte is oor ELL (English Language Learners). Dit is onder andere in Amerika ’n groot probleem: Hoe moet hulle so gou moontlik byvoorbeeld die duisende Spaanssprekende leerders leer om goed Engels te praat en te lees? Daar is dus reeds so baie navorsing daaroor gedoen. Natuurlik is daar ook op die internet wenke. Die probleem (soos met so baie dinge in die onderwys) is natuurlik dat die taalonderwysers self so toegegooi is onder massas nasienwerk dat hulle kla dat hulle nie tyd het om self te gaan nalees oor wat in ander lande werk nie. Nog ’n probleem is dat baie taalonderwysers self nie baie lees nie …
Vanoggend is die voorbeeld genoem van ’n seuntjie wat tuis Xhosa praat, maar sy ma praat ook met haar vriendinne Sotho. Sy kleuterskool is Engels. Teen die tyd dat hy skool toe gaan, is die taal ook daar Engels. En sy eerste addisionele taal is Afrikaans. Die probleme hier is duidelik. Is daar enige oplossings?
Oor kinders uit veeltalige huise kan ek my glad nie uitspreek nie. My voorstel sal wees dat hulle vir die kind boeke koop. Eintlik is dít my raad vir ál die probleme. As kinders nie lees nie, het hulle nie die woordeskat nie en sal hulle nie kan verbeter in enige vak nie – ook nie in hul huistaal nie.

Vanoggend is op ’n stadium gesê dat ’n drietalige opset nog hanteerbaar is, maar dat daar in die Wes-Kaap nou al klaskamers bestaan waar die kinders tot sewe verskillende tale in een klas praat. Is dit algemeen? Wat op aarde maak mens dan?
Daar is wel skole waar die leerders ’n hele paar tale praat, maar omdat die onderwyser net een taal praat, en omdat die handboeke in daardie taal is, moet hulle maar so gou as wat hulle kan daardie taal aanleer as hulle wil vorder. Ons ervaring is dat die leerders wie se ouers van ander lande kom, byvoorbeeld uit elders in Afrika, baie gemotiveerd is en vinnig wil leer en vorder. Wel, soos ek al meermale vir onderwysers gesê het wat oor ons “eie” leerders se motivering kla: daardie leerders se ouers wat Suid-Afrika toe gekom het (dalk moes vlug) was nie straatveërs of bosslapers of dwelmverslaafdes in hul eie land nie. Dit is onregverdig om daardie leerders met sommige van ons leerders te vergelyk wat uit haglike omstandighede kom.
Jy het vanoggend gesels oor ’n moontlike manier om binne ’n veeltalige omgewing hulp te verleen. Wat was jou moontlike voorstel?
Ek het gepraat oor die tutorstelsel wat baie van ons onderwysers in hul klasse toepas. Die onderwyser vra vir die paar/klompie sterk (slim) leerders of hulle bereid is om die ander te help wat glad nie Afrikaans ken nie of wat baie sukkel. En dan vorm hulle sulke studiegroepies. Die leerder wat ekstra moet verduidelik of wat die huiswerk vinnig deurgaan, se Afrikaans verbeter natuurlik selfs nog meer as dié van sy/haar groepie. Ek beklemtoon die feit dat die beste manier waarop ’n mens iets kan onthou of self verstaan, is om dit vir iemand anders te verduidelik. (Dit is, dink ek, hoekom onderwysers so daarvan hou om die hele periode klas te gee!)

Die onderwys moet dikwels help om sosiale probleme op te los. Begin dit nie maar net doodeenvoudig by ’n mamma of pappa wat in die aand moeite doen om ’n boek vir ’n kind voor te lees nie? Is hierdie voorbeeld van die mamma wat rustig vir ’n kind voorlees, werklik lewensvatbaar binne ’n sinkplaathuisie waar almal alles binne een kamer moet doen? Waar die ma of pa eers donkernag tuiskom, omdat hulle ander mense se huise of tuine moes skoonmaak? Waar die kind deur bure grootgemaak word?
Dit is die ideaal, en natuurlik gebeur dit nie in die meeste “hokkies” waar kinders dalk die nag koud en half-honger moet gaan slaap nie. In my leesaanbiedings (wat ek oor die jare al aangebied het) gebruik ek dikwels die voorbeeld van Richard Anderson, ’n swart Amerikaner (“African American”).
Hieronder is 'n voorbeeld, die begin van ’n praatjie wat ek in 2009 vir al die leerders van Laerskool Overberg in Caledon gelewer het.
Boeke gee jou vlerke!
Laerskool Overberg
8 September 2009
Waar ek en Renee werk daar in Parow innie Kaap in, hoor ons elke dag die geloei van polisievoertuie. Dan dink ek: iewers is seker weer ’n misdaad gepleeg ...
Maar ons hoor ook hoe vliegtuie van die lughawe se kant af bo-oor ons gebou vlieg ... En elke keer dink ek – wens ek: Ai, as ek nou in die vliegtuig kon wees en kon wegvlieg na iewers wonderliks ...
Wens julle dit ook? Sal dit nie wonderlik wees as ons vlerke gehad het en kon vlieg na ’n plek waar daar nie probleme is nie, waar daar nie SKOOL is nie?
Ek gaan vandag vir julle vertel hoe jy regtig, egtig vir jou vlerke kan kry. Kom ek vertel julle die storie van iemand in Amerika: Hy was die redakteur van ’n koerant (’n belangrike werk). ’n Swart man. Sy naam is Richard Anderson. Hy het grootgeword in Harlem, die berugte woonbuurt in New York, ’n plek vol misdaad en bendes en armoede – almal daar is arm. Sy ouers was ook arm.
En toe, eendag, toe hy agt jaar oud is, ontdek hy iets ...
Hy het in die lang somervakansie in die gevaarlike strate van Harlem geloop – en toe stap hy by die biblioteek in!
Jare later, toe hy ’n koerantredakteur was, het hy vertel wat het gebeur toe hy daar, in die biblioteek, vlerke gekry het:
|
TRANSPARANT 1 |
Onthou, my vernaamste funksie as vakadviseur is om die leerders Afrikaans Huistaal (en Afrikaans Eerste Addisionele Taal) in matriek te laat slaag. En in die eksamen en in hul mondelingaanbiedings moet hulle Standaardafrikaans praat. In graad 12 is een van die voorgeskrewe dramas wat baie skole hier in die Kaap gekies het (en wat hulle vreeslik geniet) Adam Small se Krismis van Map Jacobs. Sommige van daardie skole het as roman Vatmaar van AHM Scholtz gekies. Die probleem is dat daardie leerders dus deur die jaar nie werklik die ervaring kry om die soort letterkunde te lees wat hulle in hul eie skryfwerk kan naboots nie. Daar is ’n rede waarom boeke soos Kringe in ’n bos so ’n uitstekende voorgeskrewe boek was.


