’n Liturgiese praxisteorie vir ’n teologie van versoening en geregtigheid

  • 1

’n Liturgiese praxisteorie vir ’n teologie van versoening en geregtigheid

Suzanne van der Merwe, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria
Cas Wepener, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria
Marcel Barnard, Departement Praktiese Teologie, Protestantse Theologische Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 16(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Versoening en navorsing oor versoening in Suid-Afrika is geen nuutjie nie. Die vraag ontstaan dus of dit na 25 jaar van demokrasie in Suid-Afrika nie tyd geword het om na ander navorsingstemas aan te beweeg nie. Die beeld van die Suid-Afrikaanse samelewing wat geskets word deur die vele mediaberigte oor rassespanning en -konflik die afgelope aantal jare blyk egter kommerwekkend te wees. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) vertoon voorts ook wat eenheid, geregtigheid en versoening betref ’n komplekse pluriforme landskap. Na 25 jaar van demokrasie is dit nou júis die regte tyd om ’n kritiese bestekopname van die versoenings- en transformasieproses in Suid-Afrika te maak, om daadwerklik te besin oor die toekoms van Suid-Afrika en wat nodig is om ’n samelewing te skep waar eenheid, versoening en geregtigheid seëvier.

Daar is drie voorveronderstellings waarop hierdie artikel geskoei word. Eerstens is daar ’n bewussyn van die steeds getraumatiseerde konteks waarbinne Suid-Afrikaners ’n bestaan moet maak en wat steeds deur rassespanning en -konflik gekenmerk word. Tweedens bestaan daar die vaardigheid van selfrefleksie oor die verlede, spesifiek oor die nalatenskap van die apartheidsera en oor Suid-Afrikaners se konkrete betrokkenheid by die hede en toekoms. Derdens is daar die formatiewe rol van die erediens en liturgie, waartydens die liturgie van die erediens en die liturgie van die lewe daadwerklik aan mekaar verbind word.

Die doel van hierdie artikel is om vanuit kwalitatiewe empiriese navorsing ’n praxisteorie te ontwikkel met betrekking tot die vestiging van ’n liturgiese teologie van versoening en geregtigheid in die NG Kerk in Suid-Afrika. Met hierdie doelwit in gedagte is daar deur middel van kwalitatiewe empiriese navorsing met die gebruik van semigestruktureerde onderhoude indringend gesprek gevoer met kenners op hierdie terrein as medenavorsers. Die oorhoofse navorsingsvraag was: Hoe kan die liturgie soos binne die NG Kerk gevier, formatief meewerk om versoening by gelowiges te bevorder sodat dit sal impakteer op die huidige en toekomstige Suid-Afrikaanse samelewing?

Die artikel begin met ’n blik op die huidige Suid-Afrikaanse samelewing soos dit deur die media geskets is, waarin die versoeningsnood duidelik vorendag kom. Daarna volg ’n dinamiese metodologiese beskrywing van die empiriese navorsingsproses soos dit plaasgevind het, gevolg deur ’n visuele voorstelling van die ontleding van die gegenereerde data. Die verband tussen die liturgie in die NG Kerk en die bediening van versoening geniet daarna aandag. Die gevolgtrekking van die artikel word voorgestel deur tien polariteite van versoening in Suid-Afrika soos dit na vore gekom het deur die kwalitatiewe empiriese data. Die soeke na ekwilibrium tussen hierdie klaarblyklike polariteite dien as ’n voorlopige praxisteorie met betrekking tot die vestiging van ’n liturgiese teologie van versoening en geregtigheid in die NG Kerk in Suid-Afrika.

Trefwoorde: liturgie; Nederduitse Gereformeerde Kerk; Praktiese Teologie; ritueel; Suid-Afrika; versoening

 

Abstract

A liturgical praxis theory for a theology of reconciliation and justice

Research on reconciliation in South Africa is not new. The question is whether further research on this topic is needed and whether it is not time to move on after 25 years of democracy in South Africa. This article argues that a critical survey of the reconciliation and transformation process in South Africa is needed: The image of South African society regarding racial tension and conflict created through the media is utterly distressing. The Dutch Reformed Church (DRC) also represents a complex pluralistic landscape with regard to unity, reconciliation and justice. It is also necessary to reflect on the future of South Africa and what is required to create a society where the values of unity, reconciliation and justice will prevail.

This article assumes the following three presuppositions: First, an awareness of the still traumatised context, characterised by racial tension and conflict, within which South Africans have to live. Secondly, the skill of self-reflection on the legacy of the past, that is, the ongoing effect of the apartheid era, as well as the concrete involvement of South Africans in the present and also the future of this country. Thirdly, the formative role of the worship service and liturgy, in which the liturgy of the worship service and the liturgy of life are explicitly linked. Based on the above-mentioned remarks about the formative nature of the liturgy, the central research question is formulated as follows: How can the liturgy as it is celebrated within the Dutch Reformed Church formatively promote reconciliation in the hearts of believers to impact on the current and future South African society?

The central research question was investigated utilising an interdisciplinary literature study. This article aims to develop a praxis theory based on qualitative empirical research to establish a liturgical theology on reconciliation and justice in the DRC in South Africa. With this aim in mind, semi-structured in-depth interviews were conducted with fellow researchers who are specialists in this field of study. The value and contribution of this article are to be found in the empirical data as the outcomes of the research process. The lived realities and experiences emerging from the empirical research data were analysed within contextual and theological discourses on liturgy and reconciliation especially within a DRC context.

The article begins with a description of the current South African society and the DRC community as presented through the lens of the media. It then provides arguments that confirm the need for research on reconciliation and justice in terms of well-known and other lesser known incidents in the last few years. A description of the qualitative, empirical research process follows. Thereafter, a visual representation of the data that was generated through the empirical research process is presented. This comprises, firstly, an analysis of reconciliation in South Africa, secondly a list of obstacles to promoting reconciliation in South Africa, thirdly a theological interpretation of reconciliation according to fellow researchers, fourthly an analysis of being human in South Africa, fifthly a presentation of personal involvement in promoting reconciliation in South Africa, and finally an analysis of a liturgical theology.

In conclusion, the article investigates ten polarities of reconciliation in South Africa that confirm the complexities of the liturgy as celebrated in the DRC in the reconciliation process in South Africa. The quest for equilibrium between these polarities serves as a provisional praxis theory to establish a liturgical theology of reconciliation and justice in the DRC in South Africa.

Keywords: Dutch Reformed Church; liturgy; Practical Theology; reconciliation; ritual; South Africa

 

1. Inleiding

Die Suid-Afrikaanse samelewing het sy “reënboognasiedroom” van eenheid in verskeidenheid verloor.1 Met die fokus wat gaandeweg verskuif het na ander sake, soos korrupsie, staatskaping, ekonomiese hervorming en interne politieke struweling binne die African National Congress (ANC), is die droom van eenheid vervang met hernude insidente van rassekonflik en -spanning. Hierdie onstabiele situasie en potensiële kruitvat noop volgens die berig van Prince (2019) op 7 Februarie 2019, die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, om die fundamentele kwessie van rassespanning en -konflik in sy staatsrede van dieselfde jaar aan te spreek.

In die lig van hierdie huidige Suid-Afrikaanse konteks volg hier ’n eksemplariese lys voorvalle wat herinner aan ’n scenario wat kenmerkend was van die apartheidsera in Suid-Afrika en wat ook die moontlikheid vergroot vir onstabiliteit en negatiewe verhoudings: xenofobie, haatspraak, gewelddadige protesaksie oor taalbeleid op kampusse, saakbeskadiging en persoonlike vernedering. Al die voorbeelde hou verband met rassekonflik en -spanning wat stelselmatig die reënboog laat verdof:

  • Xenofobiese voorvalle soos die grusame dood van Emmanuel Sithole, ’n straatverkoper van Mosambiek, wat deur ’n groep jongmense oorval en met ’n mes deur die hart doodgesteek word, is ’n eerste voorbeeld. Hierdie aanval was deel van die xenofobiese geweld in 2015 in Alexandra, een van Johannesburg se townships (Shange 2018, s.p.).
  • ’n Voorval van haatspraak wat aandag in die media geniet het, is die uitspraak van Penny Sparrow, waarin sy swart mense wat op Nuwejaarsdag strand toe gegaan het, ape genoem het (Wicks 2016, s.p.).
  • Daarna volg die sosiale mediastorm met die hutsmerk #blackface, waar twee damestudente van die Universiteit Stellenbosch opspraak gemaak het met donkerpers verf op hulle gesigte, wat ’n ander bevolkingsgroep negatief voorgestel het tydens ’n koshuispartytjie (Herman 2016, s.p.).
  • Die #RhodesMustFall-beweging het die fokus op rassekonflik en -spanning geplaas (Hayden 2016:207).
  • TimesLive berig oor die opspraakwekkende video waarin Victor Mlotshwa deur Theo Jackson en Willem Oosthuizen in ’n doodskis ingedwing word, met die dreigement dat hulle ’n slang daarin sal gooi en ook die kis aan die brand sal steek (Shange 2018, s.p.).
  • In 2017 word Suid-Afrikaners geskok deur die rasgedrewe insidente wat in die landboudorp Coligny in Noordwes plaasgevind het. Jeffery (2018, s.p.) berig op Politicsweb van die moord op ’n 16-jarige wat glo sonneblomme op ’n betrokke plaas gesteel het. Vier dae na die moord gepleeg is, reël ’n groep skoolkinders ’n optog deur die strate van Coligny wat uitbreek in ’n gewelddadige protesoptrede, waartydens verskeie winkels geplunder en afgebrand word. Plase op die buitewyke word aan die brand gesteek. Coligny word in ’n sekere sin toe die mikrokosmos van rassespanning van daardie jaar.
  • Velaphi Khumalo, ’n regeringsamptenaar, was in die pekel na uitlatings op Facebook waarin hy gesê het dat Suid-Afrika van mense uit die wit gemeenskap gesuiwer moet word op dieselfde wyse as wat Adolf Hitler Jode behandel het (Singh 2018, s.p.).
  • Op Sondag 23 Desember 2018 is ’n groep mense, onder andere die provinsiale sekretaris van die ANC, Faiez Jacobs, deur die private sekuriteitsmaatskappy Professional Protection Alternatives gevra om die Vierde Strand van Clifton te verlaat. Daar is aan hulle gesê dat die strand vanaf 16 Desember 2018 saans om 20:00 sluit en dat hulle ’n munisipale verordening toepas. Diegene wat gevra is om die strand te verlaat, het heftig gereageer en die optrede as rassisties beskryf. Verskillende groepe, soos die ANC en EFF, het op verskillende maniere gereageer, byvoorbeeld deur protesoptogte en deur deurnag piekniek daar te hou. #FeesMustFall-lede het op hulle beurt ’n skaap op die strand geslag om die strand van rassistiese geeste te reinig (Toerien 2019, s.p.).

Die kommerwekkende beeld wat na aanleiding van hierdie voorbeelde vorm aanneem, verbeeld ’n gefragmenteerde en sterk gepolariseerde samelewing wat onverdraagsaamheid en geweld kweek en sfinksagtig die sondes van die apartheidsverlede herhaal. Binne hierdie nuwe konflikgeteisterde realiteit bevind die NG Kerk en haar lidmate hulleself opnuut weer in ’n gepolariseerde konteks. Dit word opnuut nodig om die rol van die kerk en lidmate te ondersoek met betrekking tot die veranderende samelewing en spesifiek ten opsigte van die voortgaande en broodnodige reis na versoening en geregtigheid. Die NG Kerk, wat self ’n uiters komplekse, pluriforme landskap vertoon wat eenheid en versoening betref, is deel van die groter proses en behoort hierin ’n konstruktiewe bydrae te lewer.

Die aanvaarding van die Tussenorde,2 wat deur kerkordelike reëlings ruimte skep tussen die NG Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), om eenheidstrukture tussen die twee kerke op te rig (Jackson 2017, s.p.), was ’n stap in die regte rigting. Hiervan is die verhaal soos die een waarvan Jackson (2018, s.p.) in Kerkbode berig, waar die NG Kerk- en VGK- gemeentes in Bredasdorp na 104 jaar op Pinkstersondag, 20 Mei 2018 een word, ’n verdere voorbeeld, wat origens in skerp kontras staan met die vorige insidente van rassekonflik en -spanning. Terwyl die impasse met betrekking tot die kerkherenigingsproses binne die NG Kerk-familie egter weer nie tot versoening en harmonie bydra nie, bly versoening en eenheid ’n uitdaging vir die kerk. Nadat die NG Kerk besluit het om nie haar belydenisgrondslag aan te pas om die Belydenis van Belhar in te sluit nie, het die versoeningsproses in die kerklike konteks tot stilstand geknars (Jackson 2016, s.p.). Gegewe die land en die kerk se geskiedenis van verdeeldheid en rassekonflik, asook die huidige situasie van rasse-onverdraagsaamheid, is eenheid, versoening en geregtigheid steeds ’n prioriteit, en ook ’n uitdaging in Suid-Afrika en die kerk. Die oorkoepelende navorsingsvraag wat in hierdie artikel hanteer word, verwoord hierdie behoefte, maar dan veral vanuit ’n liturgiese hoek: Hoe kan die liturgie soos gevier binne die NG Kerk formatief meewerk om versoening by gelowiges te bevorder sodat dit sal impakteer op die huidige en toekomstige Suid-Afrikaanse samelewing? Die veronderstelling is dat die NG Kerk ’n rolspeler behoort te wees wat die bediening van versoening en geregtigheid konkreet in sy geloofspraktyke, wat die viering van die erediens insluit, beliggaam.

Die artikel word in die lig van hierdie navorsingvraag en huidige Suid-Afrikaanse konteks as volg gestruktureer: Eerstens word die navorsing vanuit Osmer (2008:4) se praktyk-teorie-praktyk-benadering belig. Die eerste (beskrywend-empiriese) en tweede (interpretatiewe) take is deur middel van empiriese navorsing uitgevoer. Vervolgens word ’n beskrywing, ontleding en interpretasie van die empiriese data, soos gegenereer deur semigestruktureerde indringende onderhoude met medenavorsers in die veld van liturgie en versoening, gegee. Die waarde en bydrae van die artikel word veral gevind in die empiriese data soos dit deur die navorsingsproses na vore gekom het. Dit is ’n manier waarop daar gepoog is om ’n blik te verkry op die dikwels ontoeganklike gedagtewêreld en hartskamers van sleutelpersone ten opsigte van die rol van die kerk in die voortgaande versoeningsproses in Suid-Afrika. Laastens word die geleefde ervaringe soos dit na vore kom vanuit die data, in gesprek gebring met die konteks (verlede, hede en toekoms), en ook die teologiese diskoerse wat veral in die NG Kerk ontwikkel rakende liturgie, versoening en geregtigheid. Die data en insigte word ook in gesprek gebring met die literatuur in die veld van liturgie en versoening om uitdrukking te gee aan Osmer (2008:4) se derde (normatiewe) taak en vierde (pragmatiese) taak, om sodoende uiteindelik tot ’n gevolgtrekking te kom deur die formulering van ’n praxisteorie ter bevordering van versoening en geregtigheid in Suid-Afrika deur die viering van die erediens in die NG Kerk.

 

2. Metodologiese ankerpunte

’n Keuse vir Osmer (2008:4) se praktyk-teorie-praktyk-benadering is vir hierdie ondersoek gemaak, aangesien hy ’n metodologie bied vir praktiese teologie ten opsigte van die praktyk van die pastor, maar ook vir die navorser. Die benadering beskryf vier kerntake wat met behulp van die formulering van vier vrae die navorsingsproses gerig het. Die vier vrae is eenvoudig, maar priemend in hulle intensie en resultaat:

  • Vraag 1: Wat is besig om te gebeur? (Beskrywend-empiriese taak)
  • Vraag 2: Waarom gebeur dit en waarom gaan dit aan? (Interpretatiewe taak)
  • Vraag 3: Wat behoort te gebeur om aan te gaan? (Normatiewe taak)
  • Vraag 4: Hoe kan mens daarop reageer? (Pragmatiese taak)

2.1 ’n Kollektiewe gevallestudiebenadering

’n Gevallestudiebenadering3 maak dit moontlik om navorsingsdata binne ’n bepaalde konteks te bestudeer. Tydens ’n gevallestudie word daar ’n seleksie gemaak óf van ’n klein geografiese gebied óf van ’n individu as die subjek van die navorsing. ’n Kollektiewe gevallestudiebenadering behels die bestudering van ’n aantal gevalle (in hierdie navorsing, medenavorsers) wat verbind word deur ’n bepaalde kwessie of saak (in hierdie studie, liturgie en versoening; Goddard 2010:2). Die deurlopende tema van die kollektiewe gevallestudie is dat dieselfde navorsingsvraag in verskillende kontekste deur middel van dieselfde metodes van datagenerering en data-ontleding ondersoek word. Elke geval word in situ bestudeer, maar die kollektiewe gevallestudie word tydens die ontleding van die data gebruik (Goddard 2010:2).

Dus blyk die gevallestudiebenadering waardevol te wees om indringende ondersoek in te stel na die moontlike bevordering van versoening en geregtigheid deur die viering van die erediens in die NG Kerk. Hierdie ondersoek maak gebruik van meervoudige perspektiewe om sodoende die kompleksiteit, sowel as die uniekheid van die navorsing te beklemtoon. Verder is dit van groot belang dat die navorsing erns maak met kontekstualiteit, waardeur die navorsing in die leefwêreld van elke medenavorser gegrond word, soos deur Catherine Bell verwoord (2009:81). Grimes (2014:336) voer aan dat die gevallestudiebenadering van kardinale belang is om teoretiese abstraksie weer stewig in die konteks te veranker.

Verskillende navorsingstegnieke word gebruik om ’n diepgaande verstaan van die betrokke onderwerp te genereer om sodoende ’n praxisteorie te ontwikkel wat ’n liturgiese teologie van versoening en geregtigheid in die NG Kerk ingee. Post en Faro (2017:24; sien Barnard, Klomp, Sonnenberg, Belderbos en Van Andel 2009:36) verduidelik dat hierdie verskillende navorsingstegnieke altyd interaktief funksioneer: dit veronderstel nie ’n liniêre of hiërargiese nie, maar eerder ’n spiraalvormige werkswyse (Post (reds.) 2001:56).

2.1.1 Keuse van medenavorsers

Daar is in die navorsing doelbewuste keuses oor die afbakening van die kollektiewe gevallestudie gemaak om te verseker dat die navorsingsdoelwitte bereik word (sien Barnard, Klomp e.a. 2009:36). ’n Parallelle strategie4 en ook ’n doelgerigte steekproefnemingstegniek5 is gebruik om medenavorsers te identifiseer. Die medenavorsers wat deelgeneem het aan hierdie empiriese studie, is gekies op grond van hulle kennis en ervaring van die betrokke navorsingsveld, om sodoende te verseker dat indringende data gegenereer word om die navorsingsvraag te help beantwoord (Morris 2015a:1).

Die profiel van die deelnemende medenavorsers is soos volg:

Tabel 1. Die profiel van die medenavorsers

Medenavorsers

NGK

VGK

Man

Vrou

Ouderdom

Etnisiteit

Medenavorser A

X

 

X

 

Bejaard

Wit

Medenavorser B

 

X

X

 

Middeljarig

Bruin

Medenavorser C

 

X

 

X

Middeljarig

Wit

Medenavorser D

 

X

X

 

Middeljarig

Swart

Medenavorser E

X

 

X

 

Vroeë middeljare

Wit

Medenavorser F

X

X

 

X

Middeljarig

Wit

 

Elf medenavorsers is uitgenooi om deel te neem aan die betrokke navorsing, van wie vyf om verskeie redes nie kon deelneem nie. Die vyf medenavorsers wat nie kon deelneem nie, is twee medenavorsers (vroulik), een medenavorser (swart) en twee medenavorsers (bruin). As gevolg daarvan dat die vyf medenavorsers nie kon deelneem nie, is etniese verteenwoordiging problematies en word dit erken as ’n potensiële leemte van hierdie navorsing. Die profiele van die medenavorsers behoort eerder in die geheel beskou te word, dan vervaag die problematiese etniese verteenwoordiging binne die groter prentjie. Verteenwoordiging vanuit die VGK is goed. Vroulike verteenwoordiging, asook ouderdomspesifieke verteenwoordiging is aanvaarbaar, gegewe die kerklike en akademiese konteks, asook die uiters beperkte kriteria waaraan medenavorsers moes voldoen om aan hierdie betrokke studie te kon deelneem.

2.2 Navorsingstegnieke: semigestruktureerde onderhoude

Die navorsing het gebruik gemaak van semigestruktureerde onderhoude. Volgens Morris (2015c:17) is die gebruik van sulke onderhoude toepaslik wanneer die navorsing veral oor sensitiewe sake handel, soos in die geval van hierdie navorsing, wat handel oor liturgie, versoening en geregtigheid in Suid-Afrika. ’n Deeglike etieseklaringsproses is ook afgehandel.6

2.2.1 Die semigestruktureerde onderhoudskedule

Die oorhoofse tema en die navorsingsvraag was bepalend vir die tipe vrae wat deel gevorm het van die onderhoudskedule, want die vrae wat in die onderhoude gevra word, help om die navorsingsvraag te beantwoord en so tot ’n gevolgtrekking te kon kom (Morris 2015c:7). Die onderhoudskedule is ontwikkel deur gebruik te maak van vier sleuteltemas, soos geïdentifiseer vanuit die betrokke literatuurstudie (Conradie (red.) 2013; De Gruchy 2002; Hay 1998; Jennings 1982; Schreiter 1992; Smith 2016; Smith 2009; Volf 1996; Wepener 2009):

  • Versoening in die breër samelewing
  • Teologiese verstaan van versoening
  • Konkrete betrokkenheid by die bevordering van versoening
  • Die verband tussen die erediens en versoening.

2.3 Ontleding van die semigestruktureerde onderhoude

2.3.1 Transkripsies

Die volgende stap in die empiriese navorsingsproses is om die onderhoude te transkribeer. Dit is ’n tydrowende taak, wat deur ’n vaardige persoon gedoen behoort te word, aangesien dit ’n belangrik stap van die navorsingsproses behels (Morris 2015e:4). Die onderhoude is deur die navorser self getranskribeer, om sodoende waardevolle inligting raak te sien wat nie tydens die onderhoud so duidelik na vore gekom het nie om op hierdie wyse vertroud te raak met die navorsingsdata. Akkurate transkripsies7 is nodig om die data te ontleed en daarvoor is ’n verbatim getranskribeerde teks nodig wat op die klankopname gegrond is.

2.3.2 Ontleding van die empiriese data

’n Gevallestudiebenadering lewer groot hoeveelhede data op wat ontleed moet word. Die data word sistematies oopgevlek, herrangskik en georganiseer en ook geïnterpreteer (Mills e.a. 2010:749). ’n Eie koderingsproses is gebruik om die empiriese data te ontleed, aangesien dit na vore kom dat hierdie navorsingstegniek al in vorige studies bemeester is (sien Van der Merwe 2015; Van der Merwe, Pieterse en Wepener 2013; Kleynhans 2012). Daar word wel gesteun op Pieterse (2011:100; sien Theron 2015) se koderingsproses as riglyn vir hierdie studie en die ontleding van die kwalitatiewe empiriese data.

Die eerste siklus van oop kodering organiseer die data as volg in hanteerbare segmente: Al ses die semigestruktureerde onderhoudstranskripsies word uitgedruk; vervolgens word die transkripsies per vraag bymekaar gesorteer. Daarna het die oop koderingsproses in werklikheid begin, met die data wat per segment gelees en weer gelees is, om sodoende aanvanklike kodes8 te identifiseer. Die datasegmente, asook die aanvanklike kodes word tydens hierdie eerste siklus konstant met mekaar vergelyk deur te kyk, te reflekteer, te herrangskik om sodoende die aanvanklike kodes te integreer. Elke segment se kodes is verder tot temas verwerk. Hierdie temas verwoord dít wat die medenavorsers rakende liturgie en versoening in die NG Kerk in die Suid-Afrikaanse samelewing verklaar, soos dit vanuit die data na vore gekom het. Vervolgens word, volgens Pieterse (2011:106), beweeg vanaf ontleding na konseptualisering. Dit beteken dat die verbande tussen die temas gelê word. Tydens hierdie siklus van die koderingsproses is daar gebruik gemaak van breinkaarte (“mind maps”)9 om die verbande op ’n sigbare manier voor te stel (Buzan 2019, s.p.).

 

3. ’n Visuele ontleding van die navorsingsdata

Hier volg ’n visuele ontleding van die semigestruktureerde onderhoudstranskripsies soos dit per vraag verwerk is. Geen gevolgtrekkings word tot dusver gemaak nie, dit volg wel later.

Vraag 1A. Wat is besig om te gebeur met betrekking tot versoening in Suid-Afrika?

Die uitbeelding van versoening in Suid-Afrika wat na vore kom na aanleiding van die empiriese navorsing lyk soos volg:

Figuur 1. ’n Visuele voorstelling van versoening in Suid-Afrika

Vraag 1B. Wat is die grootste struikelblokke op hierdie pad na versoening?

Die data-ontleding wys dat die volgende sake hoofstruikelblokke is op die pad van versoening in Suid-Afrika vandag:

Figuur 2. Die struikelblokke op die pad na versoening

Vraag 1C. Hoe word versoening vandag in Suid-Afrika teologies verstaan?

Die volgende teologiese begrippe word deur die medenavorsers gebruik om versoening in Suid-Afrika teologies te verwoord:

Figuur 3: ’n Teologiese verstaan van versoening in Suid-Afrika

Vraag 2A. Hoe word menswees vandag in Suid-Afrika verstaan?

Die onderstaande uitbeelding som die spanning tussen die twee uiteenlopende en kontrasterende sieninge van menswees in Suid-Afrika akkuraat uit, soos verwoord in die onderhoude.

Figuur 4. ’n Visuele uitbeelding van menswees in Suid-Afrika

Vraag 3. Op watter wyses is of word daar deelgeneem aan die bevordering van versoening in Suid-Afrika?

Tydens die onderhoude het dit duidelik na vore gekom dat deelname aan die bevordering van versoening in Suid-Afrika soos hier bo genoem, ’n diep persoonlike oortuiging of roeping as dryfveer het. Die medenavorsers beskryf hulle konkrete betrokkenheid by die versoeningsproses in Suid-Afrika met die volgende handelinge:

Figuur 5. Persoonlike konkrete betrokkenheid by versoening in Suid-Afrika

Vraag 4. Liturgiese teologie

Figuur 6. ’n Liturgiese teologie van versoening in Suid-Afrika

Die ontleding van die empiriese navorsingsdata het belangrike insigte na vore gebring, onder andere dat versoening nie ’n eenmalige gebeurtenis is nie, maar ’n voortdurende proses. Radikale versoening word dringend bepleit deur die medenavorsers wat aan hierdie studie deelgeneem het. Rassisme en klassisme bly die grootste struikelblokke op die pad na versoening. Die kruisgebeure van Jesus Christus staan sentraal wanneer daar teologies oor versoening en geregtigheid in Suid-Afrika gedink word. Die ewigdurende spanning tussen ’n wêreldse antropologie en ’n teologiese antropologie word uitgebeeld in die data.

Vervolgens word daar gefokus op die teologiese diskoerse rakende liturgie en versoening in die NG Kerk in Suid-Afrika.

 

4. Liturgie en versoening in die NG Kerk in Suid-Afrika

Versoening en die ontwikkeling van ’n inklusiewe Suid-Afrikaanse identiteit is van die begin van die vryheidstydperk in Suid-Afrika tot vandag toe as ’n belangrike taak van die nasiebouprojek daargestel (Naidoo 2017:1). Vele navorsers in verskillende vakdissiplines het ook al oor hierdie proses in die Suid-Afrikaanse samelewing geskryf (De Gruchy 2002; Krog 1998; Tutu 1996; Wepener 2015 en 2009). Akademiese nadenke oor die versoeningsproses in Suid-Afrika is daarom geen nuutjie nie. Dit is wel waar dat versoening – die teoretiese en ook praktiese begronding daarvan – kompleks en ook konteksgebonde is. Daar is vanuit verskeie oorde (sien The South African Reconciliation Barometer 2006; 2009) aangevoer dat die kerk die potensiaal het om ’n bydrae te lewer tot die daadwerklike versoeningsproses in Suid-Afrika (Naidoo 2017:1). Sy verwoord die potensiaal van die kerk as die wyse waarop die kerk mense vanuit hulle private, gesegregeerde lewens kan lok tot in die sosiale, openbare ruimte waar menslike interaksie moontlik word.

Volf (1996:36) skryf in sy boek Exclusion and embrace: A theological exploration in learning and teaching dat die kerk, wat die veronderstelde agente van versoening moet wees, magteloos staan, en self medepligtig is tot die onenigheid en onverdraagsaamheid. Kerklike strukture is van nature patriargaal en hiërargies: dit veroorsaak dat die man oor die vrou, en geestelike leiers oor die gewone lidmate heers; sodoende word onderdrukking ten diepste beliggaam (Kee 2006:86). Naidoo (2017:1) beklemtoon dat die kerk ’n plek van subtiele rassespanning, seksisme en homofobie is, eerder as ’n ruimte waar aanvaarding en liefde uitgeleef word.

Koopman (2008:160) skryf:

The former racially separated Dutch Reformed Mission Church in South Africa and the Dutch Reformed Church in Africa unified as the Uniting Reformed Church in Southern Africa (URCSA). Although structurally unified as a multicultural and non-racial church it remains culturally and racially “separated” mostly due to unchanged geographical demographics and systemic and institutional reasons. It is failing to construct a new theology of interracial and multiculturality despite the fact that it founded the Confession of Belhar which witnesses for authentic unity, reconciliation and justice.

Kerke, insluitende die NG Kerk, het ’n indrukwekkende positiewe, maar ook negatiewe rol in die Suid-Afrikaanse samelewing gespeel. Ongelukkig was die NG Kerk te nou betrokke by die beleid van apartheid en politiek. Met verloop van tyd het die stem van die NG Kerk al hoe stiller geraak. Tog bring die woorde van Desmond Tutu hoop vir die NG Kerk in ’n veranderde Suid-Afrika. Tutu herinner Suid-Afrikaners om ’n nasie te wees waar almal tuis voel en behoort, asook ’n inklusiewe nasie, waar elkeen deel vorm van ’n merkwaardige land (Hofmeyr en Millard 2014:632).

’n Artikel van Meiring (2001:102) is ’n roetemerker vir die identiteit en roeping van die NG Kerk in ’n veranderde Suid-Afrika. Die artikel begin met ’n aanhaling van Bosch (1979:246):

Die Kerk is aan die wêreld hoop verskuldig. Hoop vir hierdie wêreld en hoop vir die uiteindelike, nuwe wêreld. Omdat die Kerk weet dat sy nou reeds ’n gevolmagtigde getuie vir die komende orde is, moet sy nou reeds tekens van die koninkryk oprig. Omdat sy weet dat die poorte van die hel haar nie sal oorweldig nie, kan sy die onmoontlike waag. Omdat sy leef vanuit die “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5), kan sy nou reeds met die nuwe ’n begin maak.

Hierdie woorde van Bosch word 22 jaar later deur Meiring profeties gebruik om te beklemtoon dat die pad van versoening en geregtigheid wat voorlê en geloop word, harde werk vra. Die NG Kerk moes in 2001 aan die werk spring. Die Algemene Sinode van 1998 het pas gekonstitueer toe ’n spesiale mosie van ’n afgevaardigde die moderatuur bereik. In hierdie mosie vra die afgevaardigde op watter manier gewone lidmate in die samelewing betrokke kan raak en wat die Here van die NG Kerk in Suid-Afrika verwag. Vele dinge het gebeur wat lidmate tot dankbaarheid stem, maar net so baie het gebeur wat mense moedeloos, bang en verward laat. Die vraag is of die NG Kerk in hierdie omstandighede werklik ’n verskil kan maak, watter hoop die NG Kerk vir lidmate het en hoe die hoop in dade omgesit kan word (Meiring 2001:104). Die mosie het as volg gelui: “Die sinode moet sy verantwoordelikheid aanvaar om saam met ander kerke in die land aan die volgende sake dringend aandag te gee: die bevordering van versoening, die bekamping van armoede, sowel as die verval van morele waardes in die land.” Op versoek van die voorsteller het die sinode besluit om ’n ad hoc-kommissie aan te stel om die kerk so spoedig moontlik met praktiese voorstelle in dié verband te dien (Verslag Bylae A 2000:1; sien Meiring 2001:104). Die ad hoc-kommissie het die volgende verslag gelewer: 1) Dat die NG Kerk nie langer in sak en as hoef te sit nie, want die tyd het aangebreek dat die NG Kerk weer betrokke raak in die samelewing. 2) Die rol van die NG Kerk sal daadwerklik moet verander van ’n eens magtige profetiese rol na ’n priesterlike rol, die rol van dienskneg (Meiring 2001:105). Die vraag is natuurlik of die NG Kerk opgewasse is vir hierdie groot taak om hoop in aksie om te sit.

In The Church: mirror or window? verduidelik Whitley (1969) dat die kerk ’n keuse tussen die twee rolle van spieël of venster het. Kerke is dikwels die spieëlbeeld van wat in die samelewing gebeur: al die pyn, frustrasie, magteloosheid en vooroordeel, al die sinisme en onreg wat die samelewing siek maak, is te vinde in die kerk. Die kerk kan ook anders wees. Die kerk kan ’n oop venster wees waar ’n moedelose samelewing kan gaan staan om nuwe perspektiewe te kry, om asem te haal, om weer te hoop, in plaas van wanhoop (Meiring 2001:107). Die kerk sal groot erns moet maak met nadenke oor die identiteit van die kerk en natuurlik die roeping van die kerk.

Vir dekades lank word die identiteit en roeping van die kerk bedink deur die gebruik van vier Griekse woorde. Vandag is dit noodsaaklik om nuut oor hierdie vier begrippe na te dink.

  • Kerugma. Hierdie term verwys na die verkondigingstaak van die kerk. Volgens Meiring (2001:108–9) rus die onus op predikante om in die volgende tyd die evangelie van die Koninkryk opnuut te (her)ontdek. Daar moet besef word hoe groot en omvangryk die boodskap van die totale Bybel is en watter moontlikhede en uitdagings dit inhou. Dit beteken dat die boodskap van die Bybel helder, duidelik en inspirerend moet wees sodat gemeentelede daarmee huis toe, werk toe en skool toe kan gaan. Gemeentelede, nie net predikante en ampsdraers nie, is immers die fakkeldraers van hoop, aangesien dit lidmate is wat van Maandag tot Sondag in die samelewing bestaan. Meiring (2001:108–9) voer in hierdie artikel aan dat wanneer teologiebeoefening kerngesond en geïnspireerd is, dit ook van die prediking waar sal wees.
  • Diakonia. Dit verwys na die liefdesdiens van die kerk. Dit is van kardinale belang om te verstaan dat hoop nie net gepraat, gepreek en geteologiseer kan word nie; die hoop moet oë, ore, hande en voete kry en elke dag gelééf word. Gelowiges word daarom opgeroep om elke dag, waar hulle ook al beweeg, tekens op te rig van die komende Ryk van Jesus Christus. Dit beteken noodwendig dat gelowiges hulle hande sal uitsteek en dat die prys wat liefdesdiens vra, betaal sal word. Dit is immers tog hoe dit hoort, want Jesus Christus het vir hulle die perfekte voorbeeld van diensbaarheid gestel. Die kruis van Christus is nie net die inhoud van die boodskap wat verkondig word of die simbool wat teen mure opgehang word nie. Die kruis is ook elke gelowige se handleiding van hoe te werk gegaan moet word, vir hoe ver gelowiges bereid is om op te offer, en as dit moet, te ly (Meiring 2001:110–1).
  • Koinonia. Die getuieniskanaal van koinonia het te make met die gemeenskap van gelowiges. Meiring (2001:111; sien Burger en Nell 2002) beklemtoon dat die kerk nie net die draer van die boodskap is nie; die kerk is deel van die boodskap wat hy verkondig. Daarom is dit van kardinale belang om met nuwe oë te kyk na gemeentes se verstaan van hulle roeping en hoe hulle funksioneer. Die vraag is dan hoe ’n gemeente lyk wat gerig is op die hoop. Aandag moet aan die gemeentelewe geskenk word. In die woorde van Johannes 13:34 (Nuwe Afrikaanse Vertaling 1983): “As julle mekaar liefhet, sal die wêreld weet dat julle dissipels van My is.” Tesame hiermee, sal daar ewe veel aandag gegee moet word aan die versoeningstaak van die kerk, veral in hierdie land wat gebuk gaan onder rassisme, verdeeldheid en verwydering.
  • Leitourgia. Hierdie laaste kanaal gaan oor aanbidding as die erediens aan God. Van Ruler (1954:s.p.) het geskrywe wanneer die leitourgia wegval, die ander drie aksies blote aktivisme is, want die kerk se getuienis is ten diepste tot God gerig, die God vir wie gelowiges aanbid en deur middel van hul optrede in die kerk en in die wêreld dien. Die erediens begin op ’n Sondag in die kerk, maar dwarsdeur die week word dit in die alledaagse lewe en wêreld voortgesit (Barnard en Wepener 2018:360). Daarom is dit van kardinale belang dat daar gevra word: Vind die hoop wat gelowiges koester, praktiese neerslag in die liturgie?

In hierdie studie word daar gefokus op die bydrae van die erediens soos gevier in die NG Kerk ter bevordering van versoening en geregtigheid in Suid-Afrika.

 

5. Die soeke na ekwilibrium tussen die klaarblyklike polariteite van versoening in Suid-Afrika

Tydens die proses van data-ontleding deur middel van verskeie vlakke van kodering het die volgende polariteite binne die navorsingsveld van liturgie, versoening en geregtigheid na vore gekom. Hulle word hier aangebied as die gevolgtrekking van die artikel. Hierdie tien polariteite vorm dan ook ’n voorlopige praxisteorie ten opsigte van liturgie en versoening in Suid-Afrika.

Pool 1: Eenmalige gebeure vs voortdurende proses

Versoening as ’n eenmalige gebeurtenis teenoor versoening as ’n voortdurende proses

Dit het aan die lig gekom dat daar verkeerdelik in die verlede gedink is dat versoening ’n eenmalige gebeurtenis is, en dat die saak daarmee as afgehandel beskou word. Met so ’n beskouing van versoening skyn versoening betreklik eenvoudig te wees; ook effens romanties en definitief bereikbaar. Vandag is die verstaan van versoening eerder dié van ’n voortdurende proses, en hierdie siening erken dus ook die kompleksiteit wat hierdie versoeningsproses behels, soos dit duidelik verwoord word in die volgende aanhaling: “Jy kan nooit regtig sê ons is versoen nie. Ons sou dit graag wou doen, maar ek dink ons moes leer dat versoening ’n lang proses is en ons is nog ver op pad na versoening” (Medenavorser A).

Die Waarheid-en-versoeningskommissie het ’n groot bydrae gelewer tot die daarstelling van ’n proses om die trauma van die verlede te verwerk wat tot genesing lei en nie tot vergelding nie. Tog word erken dat versoening nog nie afgehandel is nie – dit is nog ’n lang en ver kronkelpad vir die mense van Suid-Afrika. Deelname aan hierdie versoeningsproses gaan juis daaroor dat dit die dieptes en hoogtes van hierdie proses telkens konfronteer in elke sfeer waarbinne die mense beweeg. Die veronderstelling is dan dat dit moontlik is vir verskillende mense om, as gevolg van verskillende omstandighede, vanuit verskillende invalshoeke na dieselfde versoeningsproses te kan kyk. Hierdie verskillende invalshoeke hoef nooit as uitsluitend beskou en beleef te word nie, eerder as verskillende hoeke van dieselfde diamant. ’n Gesindheid van eerlikheid en egtheid, en daarmee saam ook kwesbaarheid, is noodsaaklik vir hierdie versoeningsproses. Hierdie kritieke aspek van versoening is waarskynlik een van die hoofoorsake daarvan dat mense in Suid-Afrika, mekaar nog nie vind binne die versoeningsgesprekke wat plaasvind nie.

Pool 2: Leierskap vs ontbrekende leierskap

Die rol van leierskap teenoor die ontbrekende rol van leierskap met betrekking tot die bevordering van versoening in Suid-Afrika

Die navorsingsdata toon dat daar veral in die 1980’s sterk leiers was wat by name genoem word, wat ’n positiewe bydrae tot die versoeningsproses gelewer het, soos David Bosch en Michael Cassidy. In teenstelling hiermee dui die navorsingsdata aan dat Suid-Afrika tans in ’n penarie is omdat die rolspelers wat ’n rol sou kon speel, dit nie doen nie. Die leiers word daarvan beskuldig dat hulle voete van klei het. Die data toon dat hierdie gebrek aan leierskap vandag in Suid-Afrika nie net beperk is tot ’n bepaalde sektor nie, maar dat dit geld vir alle sektore, van politieke leiers en kulturele leiers tot ook godsdienstige leiers. Verder word beklemtoon dat veral die wit gemeenskappe op hierdie stadium ’n negatiewe rol speel met betrekking tot die bevordering van versoening, as gevolg van die laertrekmentaliteit wat sterk beliggaam word. Medenavorser A verwoord dit kragtig “Afrikaanssprekende NG Kerk-mense, lidmate het teruggetrek uit die samelewing.”

Die navorsingsdata maak dit duidelik dat die versoeningsproses nie net die verantwoordelikheid van die voorlopers is nie, maar dat elke gewone Suid-Afrikaner sy of haar rol moet vervul om hierdie versoeningsproses aan die beweeg te kry en ook te vorder op hierdie pad. Die navorsingsdata beklemtoon wel dat gewone Suid-Afrikaners begeleiding, aanmoediging en bemagtiging op hierdie pad van versoening nodig het en dat die tans ontbrekende leierskap hier ’n geweldige leemte laat.

Pool 3: Tussen romantiek en realisme

Die droom van ’n reënboognasie as simbool van versoening in Suid-Afrika teenoor die ontnugtering tans in Suid-Afrika oor die realiteit, naamlik geen versoening nie

Desmond Tutu se droom van die reënboognasie as metafoor van versoening in Suid-Afrika was kenmerkend van die 1990’s. ’n Relatief vreedsame oorgang word gemaak na ’n nuwe demokratiese Suid-Afrika, onder die leierskap van president Nelson Mandela, wat toe as die ikoon van vrede en versoening gesien is. Hierdie klaarblyklike vreedsame oorgang het opslae in die wêreld veroorsaak. In hierdie tydvak was die proses van narratiewe vertellings van groot belang om genesing en die herstel van verhoudings tussen mense te bewerk. In teenstelling met hierdie droom toon die navorsingsdata dat die realiteit vandag in Suid-Afrika dié van ontnugtering oor die hele versoeningsproses is. Die gevolgtrekking waartoe gekom is, is dat daar tans in Suid-Afrika geen versoening is nie. Die volgende aanhaling verwoord hierdie gevolgtrekking: “Waar moet mens daarvoor kyk? Bedoel jy die kerk? Bedoel jy die groter samelewing? Nee, ek sien dit nie!” (Medenavorser C).

Die hoofoorsaak volgens die navorsingsdata vir die huidige ontnugtering en die gevoel dat daar geen versoening is nie, is dat belangrike kwessies nooit die nodige aandag geniet het nie. Dit sluit onder andere grondhervorming en die voortdurende ongelykheid tussen ryk en arm in. Diensleweringsbetogings is volgens die navorsingsontleding ’n bewys van die onsuksesvolle versoeningsproses. Verder beklemtoon die data dat die geweld en misdaadsyfers wat die hoogte inskiet, ’n gevolg is van ’n generasie in hierdie land wat nie die proses van genesing deurloop het nie, en daarom bly dit ’n generasie wat diep gewond is. Die dringendheid waarmee bogenoemde kwessies aangespreek behoort te word, spreek duidelik vanuit die navorsingsdata. Daar is nie meer tyd vir uitstel of afstel nie; die tyd is nou ryp om oor hierdie uiters belangrike aangeleenthede te praat, en ook vir daadwerklike optrede wat daarmee gepaardgaan.

Dit is ook van belang om te hoor dat selfs in die kerklike milieu versoening nie ’n konsep is wat met ope arms verwelkom word nie. Die familie van kerke dryf al hoe verder uit mekaar. Selfs in die kerklike kringe is versoening en geregtigheid dus bloot kosmeties en oppervlakkig van aard.

Pool 4: Radikale versoening vs meelewendheid

Die behoefte aan radikale versoening teenoor meelewendheid

Die navorsingsdata toon ’n behoefte aan radikale versoening, en hierdie tipe versoening kom altyd teen ’n prys. Radikale versoening is nooit goedkoop nie. Dit vra dat daar in Suid-Afrika krities na die ekonomiese beleid gekyk sal word, aangesien sekere beleidskeuses steeds die gaping tussen die ultrarykes en die ultra-armes bly vergroot. Strukture van ongelykheid is nog duidelik sigbaar in die Suid-Afrikaanse samelewing, en om hierdie strukture te omvorm, vra ’n kontrakulturele paradigmaskuif. Dit beteken om teen die grein in te gaan van die bevoordeling van sekere groepe bo ander groepe. Daarom het almal nie belang by die versoeningsproses nie, soos beklemtoon word in die volgende aanhaling: “Daarom is die goeie nuus, die evangelie, vir die wat soek na groter mate van versoening, eenheid en geregtigheid. Daardie goeie nuus is slegte nuus vir die wat belange het in ongelykheid en in verdeeldheid en in verskeurdheid” (Medenavorser B).

In teenstelling hiermee word daar ook ’n ander moontlikheid van versoening deur die navorsingsdata op die tafel geplaas, naamlik meelewendheid, wat gesetel word in die manier waarop gemeenskappe saam met mekaar leef. Dit het te doen met die idee dat mense naby aan mekaar leef sodat versoening in hierdie konteks in verhoudings uitspeel. Verhoudings maak dit moontlik vir mense om mekaar werklik te ken en te verstaan, bied ruimte dat mense in mekaar se huise en woonbuurte kom, en lyk daarom anders tussen mense van verskillende kulture, tale en ekonomiese klasse. Hierdie manier van leef het moontlik geword, aangesien mense keuses gemaak het om “letterlik in die ‘thresholds’ gaan staan het en brûe tussen kulture geword het en op so ’n manier mense weer bymekaar gebring het” (Medenavorser F). Die nood van die gemeenskap het ook bygedra tot die bou van natuurlike verhoudings.

Pool 5: Verlede vs hede

Die onbehoorlike omgang met die Suid-Afrikaanse verlede teenoor die huidige onbegrip waarin Suid-Afrikaners hulle bevind

Hierdie teenstrydigheid is van kardinale belang, gegewe die kontekstuele aard van die navorsing. Die data wys dat indien die NG Kerk in Suid-Afrika nie meer krities met die verlede omgaan nie, die spoke van die verlede die land nog telkemale sal konfronteer. Die verlede gaan nie net eensklaps in die niet verdwyn nie. Geen versoening in Suid-Afrika is moontlik indien die waarheid nie ter sprake gebring word nie. Die waarheid van die verlede maak verskriklik seer, maar dit is nodig om ruiterlik te erken waarom versoening vandag in Suid-Afrika nodig is, anders sal dit veroorsaak dat die kloof van verskeurdheid net al hoe groter raak. ’n Brose eerlikheid rakende die verlede is nodig indien daar moontlike sprake van ’n versoende toekoms in die land sal wees. Dit is die geval omdat “te veel mense dink dat apartheid ’n ligte ‘mistykie’ was, wat nie die ‘rottenness’ daarvan eerlik en op alle vlakke wil erken nie” (Medenavorser E). Indien dit die wyse is waarop daar met die verlede omgegaan word, dan behoort daar meer begrip te wees vir die hoeveelheid woede, aggressie en haat oor wit arrogansie en oor ’n piëtisme wat daarmee gepaard gaan.

Tog maak mense tans ook in Suid-Afrika ’n bestaan en ploeter hulle voort in ’n konteks wat verskil van die een van die verlede. Binne hierdie veranderende konteks, het die data gewys, word daar kritiese vrae gevra oor teologiese opleiding, soos: “[E]k dink ons lei predikante op vir ’n ‘white world’ en predikante verstaan nie hoe lyk die wêreld daarbuite nie. Meeste van hulle gemeentetjies is nog wit, maar as ons as kerk wil vorentoe gaan, as ons as kerk wil groei in die toekoms, dan sal ons baie meer kruis-kultureel moet dink, baie meer kruis-kultureel moet bedien” (Medenavorser F). Die data toon dat daar ’n generasie in Suid-Afrika gekweek word wat nie die vaardighede het om in Afrika te funksioneer nie. Die hoofoorsaak hiervan is absolute onbegrip vir mekaar se kulture, wat verdere onversoenbaarheid in die hand werk. Daarom is kultuurvertaling en ’n openhartige gesprek oor kultuur en kultuurverskille belangrik. Mense binne elke gemeenskap, onder andere onderwysers en maatskaplike werkers, wat hierdie vaardigheid van kultuurvertaling het, word dikwels net misgekyk. Hulle werk deurlopend kruiskultureel, en daarom is hulle die naaste hulpbron in ’n gemeenskap met uiteenlopende kulture.

Pool 6: Kulturele identiteit vs gedoopte identiteit

Die vrees om ’n persoon se kulturele identiteit prys te gee ter wille van versoening teenoor die ontvang en uitlewing van ’n persoon se nuwe identiteit as gedoopte

In Suid-Afrika word dit duidelik dat mense weerstand bied teen versoening weens die vrees dat hulle hul kulturele identiteit daarvoor moet prysgee. Die volgende aanhaling bevestig hierdie vrees: “Wat van ons identiteit? Wat van ons identiteit?” (Medenavorser C). Daar het uit die navorsingsdata ’n duidelike behoefte na vore gekom, en dit is die behoefte aan gesprekke tussen mense met verskillende kulturele identiteite, aangesien die navorsingsdata beklemtoon dat daar geen vertroue is tussen verskillende mense nie. Mense sit nog nie rondom ’n tafel en voer openhartige gesprekke hieroor nie. In hierdie proses het die kerk tot dusver nog geen rol gespeel nie. Weer eens word ontbrekende leierskap beklemtoon.

In teenstelling hiermee leer die versoening in en deur Jesus Christus gelowiges dat hulle nuwe mense geword het. Dit veronderstel dat hulle as kind van God, broer en suster van Jesus Christus ’n nuwe identiteit ontvang het. Dit het alles te make met die doopliturgie soos verwoord word in die volgende aanhaling: “... om daagliks aan jouself te bly sterf en daagliks te weet hoe ons opgewek word in sy opstandingskrag. Dit is die versoeningslewe. Dit gaan oor hierdie proses” (Medenavorser E).

Pool 7: Versoening vs alternatiewe begrippe

Die begrip versoening behoort tot die hart van die Christelike geloof en is daarom van kritieke belang teenoor die gebruik van alternatiewe begrippe in die plek daarvan

Die navorsingsdata toon dat die begrip versoening ten diepste ’n Bybelse en teologiese begrip is en daarom tot die hart van die Christelike geloof behoort. Daarom is dit onmoontlik om daarmee weg te doen. Teksgedeeltes wat hierdie idee ondersteun, is veral 2 Korintiërs 5 en Filippense 2, asook teologiese geskrifte soos die eietydse Belydenis van Belhar. Die volgende aanhaling beklemtoon die bogenoemde gevolgtrekking: “Wat God in Christus gedoen het, is ’n werklikheid en die kerk moet dit ten alle koste beliggaam – dit is ‘reconciliation’” (Medenavorser E). Die kruisgebeure van Jesus Christus staan sentraal tot die teologiese verstaan van versoening. Tog word daar bepleit dat versoening as begrip nie geïsoleer en verabsoluteer behoort te word nie, maar altyd in verhouding tot eenheid en geregtigheid verstaan behoort te word.

Hierteenoor beklemtoon die navorsingsdata dat versoening in Suid-Afrika wel ’n gelaaide term is. Dit is ’n term wat swaar dra aan die bagasie van die verlede en ook hede. Daarom is dit dalk juis nodig om alternatiewe woorde of terme te oorweeg, soos vergifnis, omhelsing, ubuntu en sosiale kohesie. Dit is inderdaad ’n kreatiewe spanning wat erken dat hierdie twee kante, of pole, ook aanvullend tot mekaar en daarom wedersyds verrykend kan wees.

Pool 8: Onversoendheid vs versoening

Die teologie van versoening is in sy diepste wese ’n teenstrydigheid

Die basis van versoening in ’n Christelike konteks lê daarin dat God onversoende, sondige mense in die kruisgebeure van Jesus Christus nuut maak. Die kruisgebeure van Jesus Christus staan sentraal tot die teologiese verstaan van versoening. Hierdie versoening het ten duurste plaasgevind. Vir God om die wêreld te versoen, is God se Seun as verskriklike prys opgeoffer. Hierdie versoeningsmoment skep nuwe bestaansmoontlikhede vir die mens. Wanneer sondige mense in Jesus Christus glo , is hulle nie meer vyande van God of vreemdelinge nie. In en deur Jesus Christus verkry mense toegang tot God. Die verhouding tussen God en mens is herstel. Daar het weer vrede gekom. Versoening het vervolgens nie net te doen met die vertikale verhouding tussen mens en God nie. Die herontdekking van die missionale teologie herinner die kerk aan die opdrag vervat in: “... dat die Vader, Seun en Heilige Gees in liefde besig is met mekaar en die kosmos ... en stuur dan vir ons uit, om deel te word van die proses” (Medenavorser E).

Die kerk word geroep en gestuur om as agente van versoening in die wêreld te leef, in verhouding tot God, in verhouding tot jouself, in verhouding tot die medemens en ook in verhouding tot die skepping. Die versoende mens het dus ’n verantwoordelikheid wat nie ligtelik opgeneem kan word nie. Daarom mag hierdie versoening vir die kerk nie bloot ’n dogma wees waaroor gedink en gepreek word nie, maar moet dit uiteindelik die bestaanswerklikheid wees waarvolgens gelowiges leef. Hierdie nuwe versoende bestaanswerklikheid word wat deur die volgende teologiese waardes gekenmerk word:

  • Regverdige vergifnis, waar ’n persoon vra om vergewe te word, maar ook onderneem om die verkeerde ding(e) nie weer te doen nie.
  • ’n Wedersydse uitnodiging om verantwoordelikheid te aanvaar en sodoende mekaar in die middel te ontmoet, om saam na ’n nuwe tuiste te gaan.
  • Eenheid wat ten alle koste tussen gelowiges bewaar word.
  • Geregtigheid, wat beteken dat die kerk geroep is om reg te maak en om wat verlore geraak het as gevolg van ’n onregverdige stelsel, reg te stel.
  • Herstel van verhoudings in die lig van Jesus Christus se herstel van verhoudings.

Pool 9: ’n Teologiese antropologie vs ’n wêreldse antropologie

God se beeld van mense teenoor die wêreld se beeld van mense

Die teologiese verstaan van menswees in Suid-Afrika word gevind in die idee dat mense geskape is na God se beeld. Dit veronderstel dat menswees ten diepste uitdrukking vind in die verhouding wat daar tussen mens en God is. In teologiese kringe binne ’n Christelike konteks veronderstel hierdie verhouding die vertikale verhouding. Daarmee saam beklemtoon die navorsingsdata ook die horisontale verhouding, naamlik mense in verhouding tot ander mense. Hier word dadelik gedink aan die Afrika-begrip ubuntu, wat ten diepste ’n relasionele begrip is, soos verwoord in die volgende aanhaling: “I am because we are” (Medenavorser D).

In kontras hiermee word menswees ook bepaal en gevorm in die wêreld waarin mense leef. Dit het veral in die Suid-Afrikaanse samelewing die psige van mense beïnvloed, soos verwoord in die volgende aanhaling: “My vorming was binne die Suid-Afrikaanse konteks ... binne hierdie konteks word daar gepraat van ge-ras, ‘we were raced’, dit het ons identiteit op ’n bepaalde manier gevorm” (Medenavorser B). Hierdie sosiale konstruksie van identiteit het vir lank in Suid-Afrika onder andere bepaal waar ’n mens woon, werk en skoolgaan. Hierdie verdeeldheid van mense op grond van ras het dus basies meegebring dat iemand hom- of haarself nie in die ander kan sien nie en daarom vir hom of haar die reg toe-eien om die ander een op ’n niemenswaardige manier te hanteer. Die navorsingsdata beklemtoon egter dat verskille, soos die tekstuur van mense se hare, die kleur van hul vel en die vorm van hul neus, bloot kosmeties is. In Suid-Afrika is dit magte wat ’n rol speel in die vraag wie ’n persoon as mens ten diepste is.

Pool 10: Versoenende liturgie vs verdelende liturgie

Die liturgie as versoenende ruimte teenoor die liturgiese ruimte wat verdeeldheid veroorsaak

Die navorsingsdata toon dat die volgende liturgiese momente, asook liturgies-rituele kwaliteite, ’n versoenende aard aan die liturgie verleen:

  • Offergawes, wat dikwels met opoffering gegee word, veral in bepaalde kontekste, lewer ’n konkrete praktiese bydrae tot die bevordering van versoening in die Suid-Afrikaanse samelewing, omdat hierdie geld dikwels vir diakonaat, diens van barmhartigheid en gemeenskapsprojekte gebruik word.
  • Skuldbelydenis as liturgiese oomblik waarbinne gemeentelede die geleentheid kry om skuld voor die Here te erken, het ook ’n versoenende werking. Indien mense die geleentheid kry om hulle skuld ook teenoor mekaar te erken, word versoening verder bevorder.
  • Lofprysing, om saam met medegelowiges te sing, beteken om saam te vertrou dat die droom van die Openbaring-teks oor verskillende nasies en tale wat God saam loof en prys, ’n werklikheid sal word.
  • Samekoms as die blote bymekaarkom van verskillende mense tydens ’n erediens is reeds ’n versoenende gebeure.
  • Prediking wat mense help om na aanleiding van die Skrif hulle eie verhaal te herskryf, veronderstel ’n ander logika, ’n ander begin en definitief ’n ander einde wat met ’n versoenende krag uitspeel.
  • Die Nagmaal verbeeld ’n alternatiewe ekonomiese stel beginsels, ’n ander tipe geregtigheid en ’n ander soort eenheid wat ’n bydrae lewer tot versoening in Suid-Afrika.
  • Kuns en musiek raak die hartsnare van mense, met die gevolg dat versoening nie net bedink word nie, maar ook gevoel, geproe, gesien en gehoor word, en daardeur ’n bestaanswerklikheid word.
  • Die liturg se rol is van kardinale belang, aangesien die liturg deur middel van woord en daad fisiek versoening tydens die erediens beliggaam.
  • Deelname deur middel van die liturgie vorm erediensgangers se identiteit binne die kollektiewe erediensruimte.
  • Die drama van die erediens met sy besondere intimiteitsvlakke is ’n liggaamlike belewenis waardeur hegte verhoudings gesmee word.

Die navorsingsdata beklemtoon die verdelende aard van sekere liturgiese momente:

  • Taal en kultuur wat net een groep se behoeftes respekteer en aanspreek, ignoreer die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing doelbewus en veroorsaak juis verdeeldheid.
  • Nagmaal kan ook verdelend wees, soos blyk uit die kerkgeskiedenis van die NG Kerk wat met die Sinode se besluit van 1857 oor die bediening van die nagmaal gelei het tot aparte kerkgeboue en aparte aanbiddingsgeleenthede.
  • Prediking wat tekste verkeerd uitlê sonder om die groter Bybelse narratief in aanmerking te neem, kan tot verdeeldheid en skeuring lei.
  • Die liturg kan ook met sekere woorde en dade tot verdeeldheid tydens die erediens bydra.

 

6. Gevolgtrekking

Hierdie tien teenstrydighede wat in die navorsingsprojek na vore gekom het, het die oë geopen vir die kompleksiteit van sleutelbegrippe soos liturgie en versoening. Op weg na versoening leef Suid-Afrikaners midde-in ’n interne spanning tussen die moontlike en die onmoontlike. Binne hierdie spanning kan die liturgie ’n krities-positiewe bydrae lewer. Hierdie tien polariteite vergestalt vervolgens die praxisteorie wat die vertrekpunt kan wees vir ’n liturgiese teologie in die voortgaande reis na versoening en geregtigheid in Suid-Afrika. Daarom is dit van kardinale belang dat wanneer liturgieë beplan en uitgevoer word, die insigte soos vanuit die empiriese data bekom en soos dit in hierdie artikel bespreek is, in ag geneem word.

 

Bibliografie

Barnard, J. en C. Wepener. 2018. Liturgie as ontmoetingsruimte waar Christelike identiteit en lewenswyse gevorm word. Stellenbosch Theological Journal, 4(2):359–8.

Barnard, M., M. Klomp, R. Sonnenberg, S. Belderbos en N. van Andel. 2009. Dots on a blank sheet, procedures in ritual and liturgical research. Jaarboek voor liturgieonderzoek, 25:35–6.

Bell, C. 2009. Ritual theory, ritual practice. Oxford, New York: Oxford University Press.

Bosch, D.J. 1979. Heil vir die wêreld. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Burger, C.W. en I. Nell (reds.). 2002. Draers van die waarheid: Nuwe Testamentiese visies vir gemeentes. Stellenbosch: BUVTON.

Buzan, T. 2019. Theory behind mind maps. https://www.mindmapping.com/theory-behind-mind-maps.php (29 Junie 2019 geraadpleeg).

Conradie, E.M. (red.). 2013. Reconciliation, a guiding vision for South Africa?. Stellenbosch: SUN PRESS.

De Gruchy, J.W. 2002. Reconciliation, restoring justice. Londen: SCM.

Die Bybel, Nuwe Vertaling. 1993. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Farquhar, J.D. (red.). 2012. Case study research for business. Thousand Oaks: SAGE Publications.

—. 2012. Developing your case study research strategy. In Farquhar (red.) 2012.

Goddard, J.T. 2010. Collective case study. In Mills, Durepos en Wiebe (reds.) 2010.

Grimes, R.L. 2014. The craft of ritual studies. Oxford, New York: Oxford University Press.

Hay, M. 1998. Ukubuyisana: reconciliation in South Africa. Pietermaritzburg: Cluster Publications.

Hayden, E.C. 2016. South African universities awash in political turmoil. Nature, 535:207–8.

Herman, P. 2016. Stellenbosch “blackface” incident was actually purpleface. News 24. http://www.news24.com/SouthAfrica/News/blackface-incident-was-actually-purple-face-stellenbosch-students-20160208 (7 Maart 2016 geraadpleeg).

Hofmeyr, J.H. 2006. Report of the sixth round of the SA Reconciliation Barometer survey. Wynberg: Institute for Justice and Reconciliation.

Hofmeyr, J.W. en J.A. Millard. 2014. The South African churches and Apartheid. In Pretorius (red.) 2014.

Jackson, N. 2016. Belhar bly die lakmoestoets vir eenheid. Kerkbode. https://kerkbode.christians.co.za/2016/10/06/belhar-bly-die-lakmoestoets-vir-eenheid/ (11 Julie 2019 geraadpleeg).

—. 2017. Kerke kan nou begin verenig. Kerkbode. https://kerkbode.christians.co.za/2017/05/16/kerke-kan-nou-begin-verenig (25 Julie 2019 geraadpleeg).

—. 2018. Bredasdorp se gemeentes word na 104 jaar een. Kerkbode. https://kerkbode.christians.co.za/2018/05/31/bredasdorp-se-gemeentes-word-na-104-jaar-een (25 Julie 2019 geraadpleeg).

Jeffery, A. 2018. Race rhetoric undermining race relations in SA – IRR. Politicsweb. https://www.politicsweb.co.za/documents/race-rhetoric-undermining-race-relations-in-sa--ir (24 Junie 2019 geraadpleeg).

Jennings, T. 1982. On ritual knowledge. The Journal of Religion, 62(2):111–7.

Kee, A. 2006. The rise and demise of black theology. Hants, VK: Ashgate.

Kleynhans, S.C. 2012. Sosiale kohesie en multikulturele eredienste: ’n ritueel-liturgiese benadering. MTh-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Koopman, N. 2008. On violence, the Belhar confession and human dignity. Dutch Reformed Theological Journal, 49(3&4):159–6.

Krog, A. 1998. Country of my skull. Londen: Vintage.

Lefko-Everett, K. 2009. SA Reconciliation Barometer survey report. Wynberg: Institute for Justice and Reconciliation.

Mathison, S. (red.). 2005. Encyclopedia of Evaluation. Thousand Oaks: SAGE Publications.

—. 2005. Purposeful sampling. In Mathison (red.) 2005.

Meiring, P.G.J. 2001. Die hoop beskaam nie: Die NG Kerk se rol ten opsigte van versoening, armoede en morele herstel. Verbum et Ecclesia, 22(1):102–4.

Mills, A.J., G. Durepos en E. Wiebe (reds.). 2010. Encyclopedia of case study research. Thousand Oaks: SAGE Publications.

—. 2010. Case study research in anthropology. In Mills e.a. (reds.) 2010.

Modise, L.J. en N. Janse van Rensburg. 2017. Pastorale brief van NGK en VGKSA oor kerkhereniging. Kerkbode. https://kerkbode.christians.co.za/2017/05/08/pastorale-brief-van-ngk-en-vgksa-oor-kerkhereniging (24 Augustus 2019 geraadpleeg).

Morris, A. (red.). 2015. A practical introduction to in-depth interviewing. Thousand Oaks: SAGE Publications.

—. 2015a. Selecting, finding and accessing research participants. In Morris (red.) 2015.

—. 2015b. Ethics – the need to tread carefully. In Morris (red.) 2015.

—. 2015c. Developing the interview guide. In Morris (red.) 2015.

—. 2015d. Preparing for the interview. In Morris (red.) 2015.

—. 2015e. Transcribing, analysing and writing up the interviews. In Morris (red.) 2015.

Naidoo, M. 2017. The potential of multicultural congregations in supporting social reconciliation. HTS Teologiese Artikels / Theological Articles, 73(4), DOI: https://doi.org/10.4102/hts.v73i4.4622.

Osmer, R.R. 2008. Practical theology: an introduction. Grand Rapids, MI: Eerdmans.

Patton, M.Q. 2005. Purposeful Sampling. In Mathison (red.) 2005.

Pieterse, H.J.C. 2011. An open coding analytical model of sermons on poverty with Matthew 25:31–46 as sermon text. Acta Theologica, 31(1):95–2.

Post, P. en L. Faro. 2017. Een ritual studie onderzoeksdesign. Ervaringen en perspectieven. Yearbook for Ritual and Liturgical Studies, 33:20–9.

Post, P.G.J. 2001. Introduction and application. Feast as a key concept in a liturgical studies research design. In Post, e.a. (reds.) 2001.

Post, P.G.J., G. Rouwhorst, L. van Tongeren en S. Scheer (reds.). 2001. Christian feast and festival, the dynamics of Western liturgy and culture. Leuven, Parys, Sterling: Peeters.

Potgieter, A. en C. Wepener (reds.). 2015. Jong teoloë praat saam … oor God, gemeentes en geloof. Wellington: Bybelkor.

Pretorius F. (red.). 2014. A history of South Africa, from the distant past to the present day. Pretoria: Protea Boekhuis.

Prince, L. 2019. Cyril moet ras takel. Beeld. https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20190207/281543702171605 (25 Julie 2019 geraadpleeg).

Schreiter, R.J. 1992. Reconciliation, mission and ministry in a changing social order. Maryknoll, New York: Orbis Books.

Shange, N. 2018. Six hate crimes that shocked South Africa. TimesLive. https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2018-02-09-six-hate-crimes-that-shocked-south-africa (24 Junie 2019 geraadpleeg).

Simons, H. (red.). 2009. Case study research in practice. Londen: SAGE Publications.

—. 2009a. Evolution and concept of case study research. In Simons (red.) 2009.

—. 2009b. Planning, designing, gaining access. In Simons (red.) 2009.

Singh, K. 2018. Velaphi Khumalo apologises for calling for South Africa to be “cleansed” of white people. News24. https://www.news24.com/SouthAfrica/News/velaphi-khumalo-apologises-for-calling-for-south-africa-to-be-cleansed-of-white-people-20181116 (25 Julie 2019 geraadpleeg).

Smith, J.K.A. 2009. Desiring the kingdom, worship, wordlview and cultural formation, Volume 1. Grand Rapids, MI: Baker.

Smith, J.K.A. 2016. You are what you love: The spiritual power of habit. Grand Rapids, MI: Brazos.

Theron, P.M. 2015. Coding and data analysis during qualitative empirical research in Practical Theology. In die Skriflig, 49(3):1–9.

Toerien, H. 2019. Nuuskommentaar: Skaapslag op die strand. Maroela Media. https://maroelamedia.co.za/nuus/nuuskommentaar/nuuskommentaar-skaapslag-op-die-strand (17 Augustus 2019 geraadpleeg).

Tutu, D.M. 1996. The rainbow people of God. The making of a peaceful revolution. New York: Doubleday.

Van der Merwe, S. 2015. Die pastorale dimensie van die nagmaal: ’n Praktiese-teologiese verkenning. In Potgieter en Wepener (reds.) 2015.

Van der Merwe, S., H. Pieterse en C. Wepener. 2013. Multicultural worship in Pretoria: A ritual-liturgical case study. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 54(1&2):1.

Van Ruler, A.A. 1954. Theologie van het Apostolaat. Nijkerk: Callenbach.

Volf, M. 1996. Exclusion and embrace: A theological exploration of identity, otherness, and reconciliation. Nashville: Abingdon.

Wicks, J. 2016. Twitter erupts after KZN estate agent calls black people “monkeys”. Mail & Guardian. http://mg.co.za/article/2016-01-04-twitter-erupts-after-kzn-estate-agent-calls-black-people-monkeys (7 Maart 2016 geraadpleeg).

Wepener, C. 2005. Researching rituals: on the use of participatory action research in liturgical articles. Practical Theology in South Africa, 20:109–7.

—. 2009. From fast to feast, A ritual-liturgical exploration of reconciliation in South African cultural contexts. Leuven: Uitgeverij Peeters.

—. 2015. ‘“Bliksem!”/Damn it! A ritual-liturgical appreciation of a deadly sin for an angry nation. Verbum et Ecclesia, 36(3), DOI: http://dx.doi.org/10.4102/ve.v36i3.1422.

Whitley, O.R. 1969. The Church: mirror or window?. St Louis: Bethany.

 

Eindnotas

1 Hierdie artikel is gebaseer op kwalitatiewe navorsingsdata wat gegenereer is as deel van ’n PhD-proefskrif met die titel “Liturgie en versoening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk: ’n liturgies-rituele benadering”, asook ander literatuur oor die onderwerp. Die navorsing is deur die eerste outeur uitgevoer. Tweede en derde outeurs van onderskeidelik Suid-Afrika en Nederland was die promotors van die betrokke proefskrif.

2 In die pastorale brief (2017) van die moderature van die VGKSA en die NG Kerk aan alle lidmate van die hele kerk verduidelik Leepo J. Modise (moderator, VGKSA) en Nelis Janse van Rensburg (moderator, NG Kerk) dat die Tussenorde ’n wetlike dokument is waarmee die eenheidsproses geïmplementeer word.

3 “Case study is an in-depth exploration from multiple perspectives of the complexity and uniqueness of a particular project, policy, institution, programme or system in a real-life context. It is research-based, inclusive of different methods and is evidence-led. The primary purpose is to generate in-depth understanding of a specific topic (as in a thesis), programme, policy, institution or system to generate knowledge and/or inform policy development, professional practice and civil or community action.” (Simons 2009a:9)

4 Dit veronderstel dat al die medenavorsers op dieselfde stadium geïdentifiseer is om deel te neem aan die betrokke navorsing (Mills, Durepos en Wiebe 2010:582).

5 “Purposeful sampling involves selecting information-rich cases for study in-depth cases that offer insights into issues of central importance to the purpose of an evaluation, thus the term purposeful sampling. Small purposeful samples yield in-depth understanding and insights rather than empirical generalizations.” (Mathison 2005, s.p.; sien Patton, 2005, s.p.)

6 Soos vereis deur die Navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria. Die volgende beginsels en prosedures is gevolg om etiese klaring vir die empiriese navorsing te verkry (sien Wepener 2005:116–7): eerstens is die navorsingsvoorstel ontwerp en daarna nagegaan deur die Etiekkomitee van die Fakulteit Teologie en Religie om sodoende integriteit, kwaliteit en deursigtigheid te verseker. Tweedens is die medenavorsers wat aan die empiriese navorsing deelgeneem het, volledig ingelig met betrekking tot die doel van die navorsing, die metodes wat gebruik word, asook die beplande publikasies van die navorsing, wat die medenavorsers se deelname behels en watter risiko’s dit behels, indien enige, asook die versekering van anonimiteit. Elke medenavorser het toestemming verleen tot deelname aan die studie deur die ondertekening van ’n toestemmingsvorm voor die aanvang van die onderhoud, met die wete dat hulle op enige stadium aan die navorsingsproses kan onttrek, sonder enige gevolge. Na aanleiding van hierdie prosedures is daar etiese klaring verleen en kon daar voortgegaan word met die empiriese navorsing.

7 Morris (2015e:4) dui aan dat daar geensins redigering van taalstruktuur of taalfoute aangebring mag word tydens die transkribering van die onderhoude nie. Dus is geen taal- of struktuurfoute gekorrigeer in die onderhoudstranskripsies nie, want alhoewel dit taalkundig foutief is, is dit ryk aan betekenis en beelde.

8 Aanvanklike kodes word geïdentifiseer op grond van herhaling veral; verder ook kodes wat sterk en kragtig na vore kom, en ook kodes wat uniekhede en teenstrydighede vertoon.

9 Tony Buzan, ’n Britse sielkundige, was die meesterbrein agter die konsep van ’n breinkaart (sien https://www.tonybuzan.com).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek dink daar is baie meer versoening in Suid-Afrika as wat besef word. Die konflik tussen rasse is 'n narratief wat die politici pas en deur hulle lewendig gehou word, soms word daar selfs van PR maatskappye uit die buiteland gebruik om twis en onmin te saai. Die groot bedreiging vir die land is nie ons rasseverhoudinge nie maar die verval van ons land onder die regering, wat vererger word deur die feit dat ons 'n eenpartystaat is.

    Die NG kerk is eintlik maar vandag 'n irrelevante organisasietjie. Hulle impak is baie klein, veral op die platteland, maar selfs in die metro's. En die kerk het geen rol te speel in versoening nie. Inteendeel, dit sal goed wees vir versoening as die kerk se deure eenvoudig sluit. Kyk wat skryf die NG kerk teoloog Jaco Strydom oor die kerk in Suid-Afrika. Hy skryf:

    "Die grootste weeklikse "racial divide" in Suid Afrika is steeds hier rondom 10h00 op ʼn Sondagoggend - en dit sê iets oor die breë Christen gemeenskap."

    Dit is deels in die aard van godsdiens om die mensdom te verdeel. Die Israeliete van ouds was immers hulle god se uitverkore volk. Die legendariese 10 gebooie was slegs op Israeliete van toepassing en nie op vreemde volke nie. Die Bybel is 'n politieke geskrif. Dit gaan oor die bevryding van Israel, of dan nou 'n spesifieke deel van hulle samelewing. Later van tyd het die Israeliete bietjie geheleniseerd geworre. Daar kom toe die invloed van Alexander die Grote, wat homself minder blindgestaar het teen etnisiteit, en al die volke wou verening onder Griekeland. Skielik word die Judese opperwese ook vriendelik teenoor vreemde kulture. Die wet is sommer afgeskaf en ou Paulus het die inkommers gespaar van die besnydenis.

    Liturgie - elke dominee het ook 'n ander persoonlikheid wat 'n rol speel. En oor die WVK wil ek ook net noem, daar is baie onenigheid oor wat nou eintlik bereik is daar. Is mense nie gehertraumatiseer deur die WVK verhore nie? Dit was egter Suid-Afrika se poging om Nurembuerg styl verhore te sidestep. Ooms Tutu en Boraine moes IETS doen.

    Maar wat die kerk betref, die kerk is so dood soos die reenboog self. Ons praat hier van 'n organisasie wat nog nie eens uit een mond kan praat oor homoseksualiteit nie. Die wereld beweeg aan. Die kerk rem. Ons werk 6 dae per week saam met ons kollegas van alle rasse. Vir wat sal mens op dag 7 in jou leliewit kerkie gaan spandeer.

    Sondae is vir laatslaap en shoping by die mall. Of vir net wat jy wil. Enige iets behalwe kerk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top