Suzanne van der Merwe is op 17 Junie 1987 in Pretoria gebore en matrikuleer in 2005 aan die Hoërskool John Vorster in Nigel. Daarna begin sy met haar teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria. In November 2011 word sy gelegitimeer as ’n proponent in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In 2012 verwerf sy ’n MTh in praktiese teologie (met lof) met ’n verhandeling getiteld “Sosiale kohesie en multikulturele eredienste: ’n ritueel-liturgiese evaluasie”. Sy was vir drie jaar werksaam as ’n navorser by die Albert Luthuli Centre for Responsible Leadership verbonde aan die Universiteit van Pretoria. Sy was hoofsaaklik verantwoordelik vir die ontwikkeling van ’n strategiese navorsingsmetodologie om ondersoek te doen na verantwoordelike leierskap in Afrika as deel van ’n Pan-Afrika-projek. ’n Artikel waarvan sy ’n medeskrywer was, het na aanleiding van hierdie projek die lig gesien, met die titel “Sixty years of research on leadership in Africa: A review of the literature”. In September 2014 word sy beroep as predikant na ’n klein plattelandse gemeente in die Noord-Kaap, waar sy vir vier jaar die gemeente bedien het. In Maart 2019 word sy bevestig in ’n plattelandse gemeente in die Vrystaat, waar sy steeds werksaam is. Haar proefskrif getiteld “Liturgie en versoening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk: ’n liturgies-rituele benadering” is pas ingedien ter vervulling van die PhD-graad in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria. Sy het ’n passie vir gemeentebediening en ook die akademie, en sy glo dat hierdie twee sfere nooit onafhanklik kan funksioneer nie.