Wie mag skeppend skryf?

  • 2

Knap voor die US Woordfees se Skrywersnagmaaltafel – jammer, Skrywerslangtafel – kry ek ’n WhatsApp: Ek moet die aand iets sê. Ek antwoord dis reg, ek bring my ekstrovert saam. ’n Kerende WhatsApp lui: Nee, jý gaan praat en iets sê. My persoonlikheid kan nie net iets sê nie, so ek pols verder oor die “iets”. Die nimlike organiseerder sê sy’t my boek gelees en wonder nou oor wie ’n storie mag vertel. Dit help.

Wie mag vertel, of wie mag skryf, of eintlik, wie mag skep? In die gees van die fees van die Woord, en by die Tafel, dus neigend na die teologiese en die woord wat reeds in die begin daar was, formuleer ek die vraag as “Wie mag skeppend skryf?”  

Een beginpunt om die vraag te verken is by die aard van die verhouding tussen muthos en mimēsis; tussen storie en nabootsing. Dis waarmee skeppende skrywers hulle besig hou. Om skeppend te skryf is nie dieselfde as onthou nie, maar miskien is dit wel ’n variasie op die tema en dus vergelykbaar met onthou, met “re-membering”. Spesifiek “re-membering” met ’n koppelteken tussen “re“ en “membering”.

Skeppende skrywers heul met daardie koppelteken. As priesters van die woord neem, seën, breek en deel skrywers vir muthos op die altaar van mimēsis. Dit geld vir enige soort storie. Indien ’n skrywer uit niks skep, soos God in Genesis 1, dus daardie misterieuse ruah (wind of gees) in sy eie nuut geskepte muthos vol karakters en gebeure blaas, is hy besig om dit met mimēsis te doen op grond van dit wat hy reeds weet en ken. Indien ’n skeppende skrywer in ’n daad van herskepping oor bestaande karakters en die mites wat hulle beliggaam blaas, soos Christus na sy opstanding in die Johannes-evangelie, bepaal hy ook die aard van die koppelteken. Die (her)skeppende skrywer gee so aan bestaande historiese karakters en gebeure nuwe vorm.

.......
Bestaande stories word net voortdurend boetseer in ’n nimmereindigende dans van muthos en mimēsis, van onthou en van vergeet; en, belangrik, skrywers doen dit gefiltreer deur hulle eie lywe. Skrywers beliggaam daardie koppelteken in “re-membering”.
.......

Om enigsins te speel met die vraag oor wie skeppend mag skryf, is dit nodig om te onthou dat skrywers vanuit hulle eie baie beperkte perspektief skep en herskep. Daar is geen nuwe storie onder die son nie. Bestaande stories word net voortdurend boetseer in ’n nimmereindigende dans van muthos en mimēsis, van onthou en van vergeet; en, belangrik, skrywers doen dit gefiltreer deur hulle eie lywe. Skrywers beliggaam daardie koppelteken in “re-membering”. Dis deur baie spesifieke lywe wat daardie muthos nuut geïnkarneer word as ink op papier. Dis ’n lyflike hermeneutiek, in die taal van Richard Kearney, wat so ter sprake kom. Die skrywer se vel is ’n chiasme tussen hom en die wêreld. Dit is deur sy vel dat die wêreld aan hom vat en dit is deur daardie selfde vel dat hy op sy beurt met sy pen en woorde aan die wêreld vat.

Deel van daardie interpreterende lyf is waarneming. Alle mense is getuies van die lewe. Maar as ’n getuie staan elkeen in sy lyf ook op ’n ander plek en dus met uiteenlopende verstaanshorisonne. Elke mens loer maar deur sy klein kier na die kosmos en sien, wel, wat hy sien, en ook maar net wat hy (on)bewustelik kies om te sien. Ek sit en skryf my storie in Stellenbosch. Ek sit nie in Soshanguve en skryf nie. Dit maak saak.

........
Die skrywer se vel is ’n chiasme tussen hom en die wêreld. Dit is deur sy vel dat die wêreld aan hom vat en dit is deur daardie selfde vel dat hy op sy beurt met sy pen en woorde aan die wêreld vat.
........

Daarom lieg alle skeppende skrywers die waarheid. Daar is geen ander opsie as lieg nie, want die volle waarheid is hulle nie beskore nie. Skrywers behoort gereeld hierdie Anglikaanse skuldbelydenis te bid: “We have left undone those things / which we ought to have done / and we have done those things / which we ought not to have done / and there is no health in us.” Hulle moet nie alleen bid vir vergifnis vir dit wat hulle skryf nie, maar juis ook vir wat hulle nie skryf nie. Soms is die inligting onbewustelik weens beperkte visie nie ingesluit nie; meer dikwels lieg hulle so die waarheid heel bewustelik. Hoekom? Want alle mense, ook skrywers, dien belange.

Skrywers se grootste belange is hulle onblusbare skeppingsdrang. Hulle voel gereeld in hulle murg Papin van Babette’s feast se woorde: “Throughout the world sounds one long cry from the heart of the artist: Give me the chance to do my very best.” Skrywers wíl skep en hulle sál skep en daarom dwing hulle hulself as koppeltekens in die dans van muthos en mimēsis in om soos ’n lastige vlieg saam met die Gees wat oor die oerwaters sweef te zoem. As ’n vroom vlieg moes ek eintlik my relaas oor wie skeppend mag skryf, soos volg begin het: “Ek is ’n middeljarige, bevoorregte, Afrikaanse, Suid-Afrikaanse, heteroseksuele, wit man”, en al daai ... So lesers hoor nou hoe woke ek is, en ... nou kry ek van lesers outomaties absolusie. Gegewe my wokeheid en sensitiwiteit is ek skotvry en gaan ek nou (korrek, ja, ek gaan nou) die tipiese goeters skryf wat bevoorregte middeljarige wit (Suid-) Afrikaanse mans skryf. Soos om my dit aan te matig dat ek kwansuis mag skryf oor wie mag skryf. Maar, Dames en Here – jammer, Almal – julle kan hier sien hy is skadeloos; wees hom tog genadig.

........
Om ’n storie te vertel, om skeppend te skryf, is soos om ’n séance te hou: Elke storie wat vertel word, roep die geeste op van diegene oor wie gepraat word. Dit is wat gebeur met historiese figure én nuwe karakters in skeppende skrywers se ritualistiese skryfdans.
........

Om die vraag oor wie mag skryf te beantwoord, is dit nodig om te besef dat die dans van muthos en mimēsis nie speletjies is nie. Dis ’n sjamaanse dans om ’n vuur wat geeste oproep en teenwoordig stel. Om ’n storie te vertel, om skeppend te skryf, is soos om ’n séance te hou: Elke storie wat vertel word, roep die geeste op van diegene oor wie gepraat word. Dit is wat gebeur met historiese figure én nuwe karakters in skeppende skrywers se ritualistiese skryfdans. In hierdie dans stel die ink op papier dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het, teenwoordig. Skrywers se woorde het die mag tot opstanding van dooies én maagdelike geboortes; alhoewel alle fiksionele karakters bes moontlik maar net avatars van bestaande karakters binne die fiksionele wolk van getuies is.

Wanneer skrywers as koppeltekens met muthos en mimēsis heul, vervloei die hede gelyktydig met die verlede en met die toekoms, en drie tye se geesteswêrelde bots. En skrywers moet hulle mooi afvra welke geeste hulle wil oproep, want wanneer hulle eers opgewek is, tormenteer hulle dikwels hulle skepper en doen hulle doelbewus moeite om hulle skepper nie te dien nie. En dis met goeie reg dat hulle by hul skeppers goël, want elke storie wat vertel word, is om ’n rooiwarm brandyster uit die vuur te neem en mense en plekke met ’n beperkte perspektief en belange te brandmerk, en om só almal wat luister of lees ook te brandmerk.

........
Skeppende skrywers wat hulle dit aanmatig om te mag skryf, moet besef hulle vaar tussen Skilla en Charibdis van praat en swyg; onthou en vergeet; die goeie en die bose; die skone en die afskuwelike; waarheid en leuens; hulle eie velle en dié van ander.
........

Skeppende skrywers wat hulle dit aanmatig om te mag skryf, moet besef hulle vaar tussen Skilla en Charibdis van praat en swyg; onthou en vergeet; die goeie en die bose; die skone en die afskuwelike; waarheid en leuens; hulle eie velle en dié van ander. Hulle is koppeltekens in die daad van “re-membering” wat net ’n bitter klein deel van die wêreld beleef en beliggaam; koppeltekens wat daarom diep in die velle van hulle stories moet klim en lank daarin rondloop voordat hulle skryf; koppeltekens wat ten spyte van die lewe die liefde moet probeer behou en oorweeg dat dit dalk waar mag wees dat “dié wat skryf nie weet nie / en dié wat weet die skryf nie”. Skeppende skrywers is koppeltekens wat besef dat hulle, soos Richard Kearney in On stories aanvoer, lafaards is wat deur fiksionele leuens die waarheid van die lewe waarvoor hulle eintlik nie regtig kans sien nie, deur geskepte karakters toelaat om wel ’n plekkie te kry. Skrywers is dus ten diepste onvolmaak, sondaars, feilbare mense wat met die werk van die Skepper heul.

Wie mag dus skeppend skryf?

Miskien is iets van die antwoord in die aanhef van die tokkelok Chris Predikant se proefpreek in Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort opgesluit: “Net die Allerhoogste kan sonder die gebruikmaking van die sonde skep. Elke menslike skepping is om dié rede onsuiwer: geen sirkel volmaak rond nie, geen matematiese berekening sonder ʼn waarnemingsfout nie, geen kunswerk sonder ʼn leemte nie. Ook die nuwe lewe moet die mens skep met gebruikmaking van eie ingebore onvolkomenheid.”

In die Exultet van die Katolieke Paaswaak staan: “O felix culpa, quae talem ac tantum meruit habere redemptorem”, oftewel: “O gelukkige fout, wat vir ons so ’n groot en glorieryke Verlosser verdien het ...” Sonde is nodig vir verlossing, en skrywers moet dapper sondig om te mag skryf. Die Sondeval is in diens van skepping en herskepping, ook van skeppende skryfwerk. Die laaste sin in Opperman se bundel Wiggelstok lui tereg: “Kuns is boos ... dit werk met duiwelse middele, maar die doel is iets goddeliks!” 

Lees ook:

Lost in translation?

Achille Mbembe: "Om die demokrasie aan die hand van die lewende te heruitvind" (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw)

Die denker as digter, die digter as denker: D.J. Opperman, N.P. Van Wyk Louw en die digkuns/filosofie-debat in die Afrikaanse letterkunde (Deel 1)

  • 2

Kommentaar

  • Dankie, Cas, vir besinning en denke agter jou bydrae. Ons bly maar soek na waarhede om ons bestaan aan te koppel, en dikwels bly dit ons ontglip, soos die Tyd. Maar die soeke bly die belangrike. Nogmaals dank vir die herdink!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top