
Boekomslag: Kwela; foto van Nathan Trantraal en Annemarié van Niekerk: Charlie Hebdo-seminaar
Die man wattie kinnes vang
Nathan Trantraal
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795710995
Nathan Trantraal praat met Annemarie van Niekerk oor Nathan se grafiese roman Die man wattie kinnes vang.
Nathan, ’n paar maande gelede het jou grafiese roman, Die man wattie kinnes vang, by Kwela verskyn – ’n boek waarin jy jou uitmuntende teken- en literêre talente kombineer om, in die woorde van Deon Meyer, ’n “grondverskuiwend briljante” werk tot stand te bring. Die boek gaan oor Damian de Jong wat in 2021 besig is om navorsing te doen vir ’n boek oor reeksmoordenaars. Hy dwing homself om te onthou hoe hy as kind in die ’90’s op die sandduine van die Cape Flats gespeel het en hulle deur die skoolhoof gewaarsku is teen ’n groot gevaar daar buite en dat die kinders, veral die seuns, versigtig moet wees. Later sou hulle weet dat die gevaar waarvan hy gepraat het, The Railway Ripper was wat seuns verkrag en vermoor het en dan in vlak grafte in die bosse en sandduine in die omgewing van die Wes-Kaap begrawe het – daar waar Damian as kind gespeel het. Waarom het jy besluit om oor hierdie onderwerp te skryf?
...........
Iewers in 2011 het Ronelda vi my ’n crime documentary laat kyk oo Alexander Pichushkin se The chessboard killer – ’n Russian serial killer wie innie early ’90s ge-operate et. Sy storie het my baie remind annie Strangler-moorde. Ek het toe gedink it sou ’n goeie idee wees om ’n graphic novel te doen oor ’n serial killer, en al reference wat ek vi my eie konteks gehad het, was die Strangler-moorde in die ’90’s op die Kaapse Vlakte.
............
Iewers in 2011 het Ronelda vi my ’n crime documentary laat kyk oo Alexander Pichushkin se The chessboard killer – ’n Russian serial killer wie innie early ’90s ge-operate et. Sy storie het my baie remind annie Strangler-moorde. Ek het toe gedink it sou ’n goeie idee wees om ’n graphic novel te doen oor ’n serial killer, en al reference wat ek vi my eie konteks gehad het, was die Strangler-moorde in die ’90’s op die Kaapse Vlakte. Gelukkig hettie storie al kleiner en intimate gewôd soesie tyd angegan et. En êrens het Pichushkin, wie my filter was, by the wayside geval en al wat oogebly et was my eie traumatic memories vannie 1990’s.
Dit is duidelik dat dit hier gaan oor die man wat bekendgestaan het as die Station Strangler, oftewel Norman Simons – ’n onderwyser wat sewe tale kon praat en lief was om klassieke musiek te speel – wat in 1995 vir die verkragting van en moord op die 10-jarige Elroy van Rooyen tot 35 jaar tronkstraf gevonnis is. Die vermoede is sterk dat hy veel meer verkragtings en gruwelike moorde gepleeg het – om die waarheid te sê, ’n hele reeks van 1986 tot 1994. Die slagoffers was bruin seuns tussen die ouderdom van 9 en 13. In November 2023 is Simons op parool vrygelaat, maar wel onder huisarres. In jou boek is hierdie karakter Winston Davids, ’n onderwyser wat klavier kon speel en 12 tale kon praat. Maar dit alles ter agtergrond tot die vraag: Waarom het jy besluit om in jou boek nie van die Station Strangler te praat nie, maar van die Railway Ripper?
Ek wou daardie spesifieke sensationalised serial killer narrative avoid, want die boek gaan nie oor hom nie.
Noudat die Station Strangler op parool is, sou jy graag met hom face to face wou praat?
Nee, al my thoughts is virrie mense wie hulle kinnes veloorit ennie kinnes wie hulle liewens veloorit.
Toe jy aan die boek begin werk het, het jy enige idee gehad dat Simons dalk op parool vrygelaat gaan word kort voor jou boek gaan verskyn?
Nee glad nie. Again, die boek gaan nie oor die Strangler nie. Imagine eerder ’n wêreld waa mense altyd eeste aan die victims dink.
...........
Imagine eerder ’n wêreld waa mense altyd eeste aan die victims dink.
............
Onthou jy die tyd toe die Station Strangler aktief was? Was sommige van die slagoffers ook uit julle omgewing?
Ek onthou baie vannit. Ek onthou die fear en paranoia, en ek onthou baie van my eie thoughts during dai tyd. Mnandi Beach was in walking distance van ôs. Ek het later skool gegan innie Rocklands – ek was by Rocklands High, ennie town centre wasse plek wat ôs heeltyd na toe gegan et.
...........
Ek was een van dai laities wat elke dag byrie games shop was. Dis al plekke waa kinnes weggeraak et of waa hulle bodies gevind was. As kinnes het ôs gehou van innie bosse kelkies speel. Ammel het ieman geken wie se niefie weggeraak et. Maa die grootste realisation is om te dink aan die massive amount van violence wat jong kinnes elke dag surrounded is en wat daai aan jou doen.
................
Ek was een van dai laities wat elke dag byrie games shop was. Dis al plekke waa kinnes weggeraak et of waa hulle bodies gevind was. As kinnes het ôs gehou van innie bosse kelkies speel. Ammel het ieman geken wie se niefie weggeraak et. Maa die grootste realisation is om te dink aan die massive amount van violence wat jong kinnes elke dag surrounded is en wat daai aan jou doen.
Een van die karakters in jou boek is Andrei Chikatilo, ’n Sowjet-reeksmoordenaar wat later oa The Butcher of Rostov en The Rostov Ripper genoem is. Hy het blykbaar ten minste 52 moorde tussen 1978 en 1990 gepleeg en ook die meeste van sy slagoffers weggelok van trein- of busstasies – ’n soortgelyke modus operandi as Simons. Jy begin jou boek met die storie van wat met Andrei se broer, Stephan, gebeur het. Die storie word deur sy ma aan Andrei vertel. Die verhaal speel af in 1930 in Kaniv, in Oekraïne, ses jaar voor Andrei se geboorte. Waarom het jy besluit om die roman te begin met die verhaal van Stephan?
Daa was klomp riedes, te veel eintlik om in te gan. Maarie grootste deel daavan was miskien dat ek die reader wou prepare virrie storie. Wannit isse storie waarie boundaries tussen myth, truth en fiction baie dun is. Als is halfwaar.
............
Daa was klomp riedes, te veel eintlik om in te gan. Maarie grootste deel daavan was miskien dat ek die reader wou prepare virrie storie. Wannit isse storie waarie boundaries tussen myth, truth en fiction baie dun is. Als is halfwaar.
..............
En ek het gedink die storie capture dit goed. Die storie van Stephan is based oppe regte storie wat Andrei Chikatilo annie state psychiatrist vetel et, maa die government kon nooit die waarheid daavan establish et ie. Of even dat iemand soes Stephan Chikatilo exist et ie. Maa dan was soe baie records, including birth records destroyed during die Soviet eradat dit oek eintlik niks sê nie.
In die openingstoneel vertel sy ma hom van die verskriklike armoede en hongersnood waarin die land gedompel was as gevolg van Stalin se kollektivisering van die landbou. Dit word besonder treffend beskryf: “Our senses scattered from us, like mice when you open the barn door. Starvation stole our senses. It was then that I learned that the stomach thinks for itself.” Ek kan onthou dat jy my lank gelede vertel het hoe honger julle soms as kinders was, dat jy en jou broer André obsessief prentjies van kos uit tydskrifte geknip het en gespeel het dat dit regte kos was wat julle geëet het. Wat doen kroniese hongerte aan ’n kind?
Ek dink altyd an die title van dai boek Hunger eats a man dee Nkosinathi Sithole. Ek dinkie ek het al anne bieter description gedink vi hongete nie. Iets wat mense misvestaaan wie nog nooit virre lang tyd honge gelyrit ie, is hulle sien hongete asse temporay state, hulle dink as jy net iets kan kry om te iet, dan gan jy nie mee honge wiessie. Maa as jy honge is asse result van poverty, en vi extended periods van tyd, begin die hongete bond met jou. It los jou nooit. Jy voel altyd deprived; jy begin emotionally empty te voel, wan daa vorm ’n gat binne jou wat nooit gevul kan wôtie, nie met kos, drugs of alcohol ie. Nie met liefde nie. Hongete wôd jou closest vriend, wan jy wiet as alles eendag ytmekaarit val, gannit daa staan en wag vi jou.
.............
Maa as jy honge is asse result van poverty, en vi extended periods van tyd, begin die hongete bond met jou. It los jou nooit. Jy voel altyd deprived; jy begin emotionally empty te voel, wan daa vorm ’n gat binne jou wat nooit gevul kan wôtie, nie met kos, drugs of alcohol ie. Nie met liefde nie. Hongete wôd jou closest vriend, wan jy wiet as alles eendag ytmekaarit val, gannit daa staan en wag vi jou.
...............
Daar is ’n terugkerende visuele beeld van ’n dartelende skoenlapper in die roman – ’n beeld wat nogal kontrasteer met die gruwelike inhoud. Hy’s ook op die voorblad. Iewers in die roman, as Damian in New York verdwaal en die pad van ’n Native American street magician vra, haal hy oa Richard Bach aan: “Remember, ’What the caterpillar calls the end of the world, the Master calls a butterfly.’” Die skoenlapper het ’n besondere simboliese betekenis in die boek, dalk meer as een.
Ja, in Russian is die woord vi butterfly, babochka, afkomstig vannie woord baboshka wat “ouma” beteken. Omdat in siekere myths is die butterflies witches in disguise, die souls van dooie vrouens. En ieman kan ’n butterfly na jou toe stuur om jou te toor. Soe dai is een deel vannit. Maa in baie cultures mean die butterfly different goed, in Native American culture issit ’n symbol van rebirth. Soe die butterfly is nie eintlik ’n contrasting beeld nie; dit gie maa net die illusion daavan dat dit iets mooi is, die meaning is eintlik sinister. Ek het half gedink an Baudelaire se The flowers of evil toe ek an die butterfly as symbol gedink et. Die idea dat iets evil in beauty kan exist.

Prent uit die boek: verskaf en verskyn met toestemming
As Damian besig is om sy navorsing te doen, praat hy met die bruin vrou, Michelle Wakefield, ’n voormalige speurder wat deel was van die groep spesialiste wat die moorde ondersoek het. Sy en haar span was nie baie tevrede met die wit mans van die Moord en Roof-afdeling wat ook betrokke was by die saak, maar nie juis veel belangstelling getoon het nie, waarskynlik omdat dit oor bruin kinders gegaan het. Waarom het jy besluit om haar perspektief prominent te maak?
Michelle sou originally die main character innie storie gewies et, maa toe besef ek dit sou die storie into ’n police procedural ve’anne, en ek wou nie dit hê nie. Dit issie ’n whodunnit storie nie; meeste readers sou besef die storie is van ’n baie specific period in time en dat al die inligting widely op die internet available is, soe “whodunnit?” wôd dan ’n redundant vraag. Maa Michelle se voice is vi my essential innie storie. Sy is ieman wie die essence van dai period kon represent.
Die roman lewer belangrike kommentaar op hoe rassisme ’n rol speel in die erns of nie waarmee misdade benader word en die voorstelling daarvan in die media. Ook oor hoe die politiek dit gebruik. So byvoorbeeld was die apartheidsregering destyds nie besonder gemotiveerd om die moorde op te los nie. As dit wit kinders was, sou hemel en aarde seker beweeg gewees het in ’n poging om die gruwelmoorde te ontrafel. In jou grafiese roman sê Damian: “During Apartheid, as jy coloured was wie jou kind vermis gan verklaarit, het dai boere net vir jou gesê, die kinnes is stout, hulle haloep weg vannie hys af. Twee-en-twintig stoute coloured boys, wat ôs van wiet, het weggehaloep tussen 1986 en 1994. Is ees met Syd-Afrika se eeste democratic elections, wattie National Party onthou daa is klomp coloured voters innie Western Cape. Toe begin hulle die Ripper soek mette see hart, maa hulle hettie lank gesoekie.” En dan hierdie siniese sin: “Winston Davids was gevang net in tyd virrie elections.” Dis weer een van daardie sinne van jou wat mens klap teen die kop.
Dis maa nette reality in Syd-Afrika en oral eintlik. Daa isse scene in dai film Gangs of New York. Na ’n klomp arm New Yorkers doodgan inne massive earthquake kom die politician Boss Tweed en sê: “I want every man and woman coming off the boats given hot soup and bread. We’re burying a lot of votes down here tonight.”
.............
Dis maa nette reality in Syd-Afrika en oral eintlik. Daa isse scene in dai film Gangs of New York. Na ’n klomp arm New Yorkers doodgan inne massive earthquake kom die politician Boss Tweed en sê: “I want every man and woman coming off the boats given hot soup and bread. We’re burying a lot of votes down here tonight.”
................
Later in die roman word daar weer teruggekeer na die lot van Andrei Chikatilo en word Damian se gedagtes oor hom weergegee: “Chikatilo wassie imbodiment vannie corruption, die perversion, ennie disintegration vannie Soviet Union.” Oor die geval van die Railway Ripper sê Damian: “Netsoes met Chikatilo was bureaucracy die Ripper se grootste benefactor. Die Apartheid system het vi hom sy victims ge-gift soese boardgame op Krismis.” Wil hierdie roman onder andere sê dat die omgewing – ook die politieke en burokratiese omgewing – waarbinne geweldsmisdadigers grootword, en waarbinne hulle as volwassenes leef en hul misdade pleeg, hulle gedrag beïnvloed, en in hierdie twee gevalle, ook daartoe bydra dat hulle so lank daarmee wegkom?
’n Corrupt bureaucratic system prioritise altyd sy eie survival. Ommit trug te vat na een vannie riedes hoekom ek initially die storie oo Alexander Pichushkin wou vetel et, Pichushkin het zero effort gemaak om sy moorde te conceal. Twie van sy victims het escape en polisie toe gegan; hy het meestal net mense in sy apartment building doodgemaak. Maa sy timing was goed, wan Russia was inne transitional period, en in sukke tye is ammel net concerned oo hulle eie political survival. Soe hy kon unperturbed vêder gan.
Daar word met die titel gespeel as Damian eendag sy ma vra wie Nelson Mandela is, en sy hom antwoord: “Die man wattie kinnes vang.” Daarna het Damian vir ’n ruk gedink dat Mandela die Railway Ripper was.
Omme kind te wies, ve’al dai tyd, wasse baie confusing experience. As jou ma en pa baklei et, het jy nooit gewiet hoekom ie. As dinge vekeed gan, vat nieman die tyd om vi jou te sê wat vekeed gegan et ie. Jy liewe altyd maa net innie outcomes van anne mense se beslyte. Ek onthou iets soe simple soes om jou ma of pa te vra waavandaan kinnes kom, ennie antwoord sou wies: “Jy wasse apie oppie bêg, jou ma het jou eendag daa gan haal.” As grootmense uncomfortable was met ’n antwood, het hulle jou ienage antwood gegie. Soe dit gan inne way oek oorie adults se incapacity om te kon deal mettie concept vanne serial killer. Die man wattie kinnes vang, is ’n man wat kinnes vang en doodmaak.
............
As grootmense uncomfortable was met ’n antwood, het hulle jou ienage antwood gegie. Soe dit gan inne way oek oorie adults se incapacity om te kon deal mettie concept vanne serial killer. Die man wattie kinnes vang, is ’n man wat kinnes vang en doodmaak.
................
Op die voorblad is ’n persoon met sente op sy oë. Munte kom ’n paar keer in die roman voor. Wat is die simboliek daarvan?
Soes mettie butterflies issie meaning vannie coins layered. Sente evoke die idea van poverty. Die sente oppie oë is oekie offering annie ferryman wattie dooies moet vat narie afterlife. En dan, soes gesien in Michelle se droem, stap sy en sy tel heeltyd geld op. Dit connect an wat ek vroeer gesêrit oo hongete en dai endless soek na fulfilment. Ek het vi jare dai droem gehad, waa ek geld optel. It isse wish fulfilment droem. In Michelle se case represent dit die lyke vannie kinnes, die gesoek na ’n resolution. Also, droem interpretations is culturally ’n belangrike ding.

Prent verskaf en verskyn met toestemming
Wat my getref het, was die gevolgtrekking waartoe Damian gekom het na sy navorsing oor die sielkundige profiele van reeksmoordenaars. In die meeste gevalle was hulle “gebully, hulle was different, hulle ma’s wassie lief vi hulle nie, hulle pa’s het hulle geslaan, hulle was arm, hulle was abused, hulle was lost in die system”. En dan kom jy weer met een van jou ongelooflike bomsinne: “Innie geval van Winston Davids, as jy sy profile lies, dan hoep jy hy’s guilty, wannit sal ’n kak ding wies vi ieman wie soe baie gebully was om tronk toe te gan vi iets wat hy nie gedoen et ie.” En nog so een: “Soe hoe meer ekkie storie skryf, hoe kleiner wôd die actual storie, kleiner soesie insides vanne matryoshka. Totdat ôs ammel, ek, die killer ennie victims saamsit, opgeprop tien mekaa innie kleinste kame innie wêreld.”
Once again gannit trug na iets wat ek vroeër gesêrit oorie blurring van myth, truth en fiction. Daa isse metanarrative aspect annie text. En somtyds, ve’al met Damian, issie text commentary op my experience vannie storie vetel. Die boek het my goed opgefok. En at some point dink ek het ek maa nettie gewiet wat om te dink van ienage iets ie. Is menslik om te wil wiet waa ommie blame te sit, ennit het als swaader gewôd vi my om te judge. En dan oppie selfde tyd het ek jaa in en jaa yt gesit en reflect op die wreede moorde, totdat al die mense, Chikatilo, die Strangler, soes hysmense begin voel. It was overwhelming ennit het begin leak into die teks.
Wat my opval, is die betrokkenheid van ma’s in die roman. Dit is Andrei se ma wat vir hom die verhaal van sy broer se dood vertel, maar sy is ook ’n harde ongenaakbare vrou. En dit is Damian se ma wat dikwels vir hom boodskappe stuur en bekommerd is oor sy veiligheid. Die ma’s is nogal op die voorgrond en die pa’s meestal afwesig.
Daa kan baie essays geskryf wôd oorie afwesigheid van pa’s in arm families. Maa hie wou ekkie actively iets daaoo gesêrit ie. In die storie het Damian ’n ma en pa. Ek maakit clear, for instance, dat Damian se pa met hulle bly innie scene waa hulle die nuus kyk. Ek dink dit is rêrag maa nette case van my eie psychology wat deebloei – die idea vanne pa exist ie rêrag vi my nie. Omdat my eie pa cruel was. Soe as ek skryf, vegiet ek ommie pa se perspective te bring. Of ek wietie hoe ommit te bring ie, wan ek ken nie dai perspective ie. Ek wiet net van ma’s en oumas.
Die man wattie kinnes vang gaan deels oor ’n spesifieke tyd op die Kaapse Vlakte en in die land. Op die Kaapse Vlakte heers daar angs en verslaenheid oor die gruweldade wat nie opgelos word nie, terwyl die res van die land eufories is oor die aanbreek van demokrasie – ’n tipe ironie wat nie onbekend is binne die Suid-Afrikaanse werklikheid nie. Wat wil hierdie grafiese roman daaroor sê?
Die liewens van bryn en swat South Africans is alternative history. It is soes om te vra wat van as apartheid nooit geëindig hettie. Gan narie Cape Flats toe, dai sal jou vraag antwoord.
..............
Die liewens van bryn en swat South Africans is alternative history. It is soes om te vra wat van as apartheid nooit geëindig hettie. Gan narie Cape Flats toe, dai sal jou vraag antwoord.
.................
Ek het eenkee ’n conversation met ieman gehad oo die Rugby World Cup van 1995, net om die different perspectives te hoo, toe vetel Ronelda vi my dat hulle nie kon happy wies en cheer vi die Bokke nie, want al die grootmense het nog die All Blacks support. Dit is ’n weird conflict. Jy witness die dawn van democracy as ’n kind en ammel sê wies grateful wan daa is hope vi jou future, maa jy kannie help om sad te voel vi die adults rondom jou wat die burden dra van ’n system wat lives destroy het.

Prent verskaf en verskyn met toestemming
Die aanwys, straf of doodmaak van ’n sondebok het van die vroegste tye af ’n belangrike funksie binne groepe en gemeenskappe vervul – onder andere vrywaar dit die res van die groep van skuld, is dit ’n soort groepsgedrewe morele suiweringsritueel. In Die man wattie kinnes vang word dit aan die hand van die onskuldige en vergewensgesinde karakter Langman treffend uitgebeeld. Is ek reg?
Ek dink is meer dat violence die laaste form van expression wôd vi desperate mense. It is inne bizarre way oek ’n expression van hope. Mense sien die stranger en hy doen iets wat hulle as suspicious interpret, en ammel dink dieselle thought: Hie issie opportunity om die torture te eindig. Hulle delude hulleself en sienit asse way ommie moorde te stop. False hope is nog altyd hope.
Wat was vir jou die grootste uitdaging van hierdie grafiese roman? Die graphics of the verhaal?
Altyd die art. Ek wiet altyd, al sukkel ek met skryf, sal ek die storie kan skryf. As ek sukkel mettie artwork voelit impossible. En oppe practical level issit maa net ’n honned kee meer wêk. Omme comic op jou eie te doen is impossibly swaa. ’n Boek het gewoonlik teams van mense waa elkeen ’n deel vannie wêk doen. Jy hette writer, ’n penciller, ’n inker, en gewoonlik twie of drie colourists. Dis ammel different specialities, en om een te kan doen bedoel nie dat jy die anne kan doenie.
Het jy enige formele opleiding in kuns? Wanneer het jy begin teken?
Ek teken my hele liewe lank al. Ek wens ek het formele training gehad. Miskien sou ek minner sukkel dan.
Waarom is daar geen bladsynommers in hierdie boek nie?
Ek hou nie van bladsynommers nie.
Ter afsluiting: Die geweldsmisdade wat Damian in hierdie roman ondersoek, speel af in die 1990’s, maar sê dit ook iets oor ons huidige tyd?
.............
Ek dink virre ma en pa wat hulle kind veloo, watte veskil maakit assit ’n serial killer was offe stray bullet inne gang war? Die Strangler was gevang, maa het kinnes ophou doodgan oppie Cape Flats?
................
Ek dink virre ma en pa wat hulle kind veloo, watte veskil maakit assit ’n serial killer was offe stray bullet inne gang war? Die Strangler was gevang, maa het kinnes ophou doodgan oppie Cape Flats?
Lees ook:
Pasverskyn: Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal
Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n LitNet-Akademies-resensie-essay