Nathan Trantraal (1983–)

  • 0

Foto: verskaf

goed van Nathan Trantaal

"Ek skryf poetry oo die liewe annie anne kant vannie kantlyn. As daa niks daa geskrywe innie margins staanie issit ma net oo dai stories nooit geskryf wod ie, of truthfully geskryf wod ie." (LitNet)

"Vir my is my wrting history as told by the losers. My moments of insight het ’n short half-life, soe ek need om altyd ie woorde innie most simple en vinnagste way oppie blaai te kry. Dai is hoekom ek poems skryf en nie novels nie." (LitNet)

Hoe lyk sy Afrikaans? "My Afrikaans lyk soesie mense wat it praat. Die geskiedenis van Coloured mense is heeltemaal locked up innie Afrikaans wat hulle praat. Is Engels, Dutch, Malay, Indonesian Arabic, Khoe. Dis ’n version van Afrikaans wat unedited is, sône gatekeepers en sône affectations. Die problem is net die Afrikaans wat ôs op skool gedoen ’et, het net ’n passing resemblance gehad to die Afrikaans wat ôs byrie hys gepraat ’et. Dis soos twee mense van dieselle familie wat anderste praat. Nie twee mense van een familie is mos dieselle nie." (Bron)

Hoe leef hy in Afrikaans? "Ek is Afrikaans grootgemaak, die groot meerderheid van my liewe het in Afrikaans gebeu. Omdat ek ’n skrywer is, en ek try om expression te gie an my experiences, is Afrikaans my tool, wan Afrikaans is al taal waarin ek heeltemal myself kan wies. It issie regtig ’n keuse wat ek maak ie. Ek hang nie enige ideologies an my taal ie en ek hou nie van anne mense wat it doen nie. Afrikaans is my taal, nie my liewe nie, maar dis al way wanne ek wil, om iets yt my liewe te deel." (Bron)

"Ek haat ie mense met ligte vel nie. Ek haat ie mense met blou oë en groen oë nie. Ek haat ie colours nie. Ek haat wit. Wit issie ’n colour nie. Wit isse religion." (Wit issie ’n colour nie, 2018)

Hoekom is Standaardafrikaans so uncool, wou Ronelda Kamfer by Nathan weet in ’n onderhoud op LitNet: "Omdat ’n mensie wiet watte woorde oud is en watte woorde modern issie. Ek dinkie die problem is mettie taal ie, ek dink issie mense wie die taal praat, die mense wie soe lief is vi Afrikaans soes ’n ienagste kind. Die taal het niks space om te groei nie, isse coddled taal. Isse insular, exclusionary taal en daa is nie net iets uncool ie maa iets downright linguistically incestuous daa aan; die result is ’n taal met stunted development, met weak genes, suppose ek."

Waarom is dit nodig om boeke te vertaal/skryf in jou variant van Afrikaans? "Dit is belangrik om te demonstrate hoe dynamic en versatile die taal is. Dat dit byte ’n Kaapse context kan bestaan. Daa is baie ooreenkomste tussen die wêreld in Long Way Down en die Kaapse vlakte. Maa ek is certain die taal kan binne ienagge context wêk." (afrikaans.com)

Is het leuk om strips te maken? "Ik wil je illusie niet bederven, maar nee, het is monnikenwerk dat je de hele dag binnenshuis houdt. Maar het is de moeite waard – het is een eenvoudige manier om complexe dingen te zeggen." (aan Annemarié van Niekerk, Streven Tijdschrift)

Nathan is ’n perfeksionis: "Ek is altyd disappointed, om die waarheid te sê. Iets wat ek chase is perfection, wat nooit kom nie. Die closest wat ek gesien het as jy kyk na kunstenaars, is Hergé van die Tintin-boeke; hý het vir my perfection gereach in sy later boeke." (Netwerk24, 7 November 2014)

Oor sy liefde vir sport: "Ek is ’n football fanatic, ek hou van sports, ek’s ’n massive Manchester United fan. It was belangrik dat ie title iets vannie athleticism en muscularity vannie writing convey. Ek isse baie physical pesoon. Football was en is nog altyd vi my important. For instance, it was al connection wat ek gehad et met die laities daa in Lavis. En dan is daa nog iets weird. Ek het altyd gedink dis odd vi my om for example na ’n meeting te gan met iemand soes Antjie Krog of Zapiro die oggend en dan kom ek die mirrag huis toe dan gan speel ek sokke mettie druggies innie pad; it was strange om inbetween twie werelde te exist. It was weird ommie social link tussen Antjie Krog en ’n moordenaar genaamd Sietjie te wies." (aan Ronelda Kamfer op LitNet)

Gebore en getoë 

Nathan Trantraal is in 1983 in Bishop Lavis, naby Kaapstad, gebore. Hy is een van ses kinders.

Nathan vertel dat hy grootgeword het in Mitchell’s Plain waar hy geleer het om Kaaps te praat, maar na sy ouers se egskeiding, het hulle Bishop Lavis toe getrek. Bishop Lavis het dus ’n spesifieke uitwerking op sy skryfwerk gehad. Op LitNet verduidelik Nathan aan Ronelda Kamfer oor die invloed wat Bishop Lavis op hom gehad het: "As daa een ding is wat ek gelee et van opgroei in Bishop Lavis issit dié: daa is niks meer unimportant as die liewens van arm mense nie. As arm mense doodgan los hulle niks agte nie, niks trace dat hulle exist et ie. Vi my is my writing history as told by the losers."

In die Nederlandse Streven Tijdschrift vertel Nathan en sy ouer broer, André (1980 gebore) aan Annemarié van Niekerk bietjie meer oor hulle grootwordjare. Hoewel dit nie maklik is om daaroor te praat nie, vertel hulle dat om kos te kry, om te eet, ’n permanente probleem gedurende hulle grootwordjare was.

André wy ’n bietjie meer uit: "As ek nadink oor my kinderjare, dink ek aan honger. My pa was ’n alkoholis. Toe hy dronk was, en hy was amper altyd, het hy ons geslaan. Maar die honger was erger. Altyd die vrees om nie kos te hê nie. ’n Grys sluier sou dan oor ons huis hang. Ons het ’n bietjie rondgehang, dikwels te moeg om te speel, en angstig gewag vir ’n maaltyd wat ons nooit geweet het of dit daar sou wees nie."

André onthou ook dat sy ma ’n kookboek iewers in die hande gekry het en dat hulle as kinders hulle kon verkyk het aan die glansfoto’s van "goudbruin pasteie, romerige sop en vars gebakte brood, soos jy na naakfoto’s in ’n pornotydskrif sou staar. Ek het ook prente van kos geteken, die geroosterde hoenderdye en die spek, dit uitgeknip en uitgedeel aan Nathan en ons oudste suster en myself. Dan het ons voorgegee om te eet. Dit was een van ons gunstelingspeletjies."

Nathan vertel aan Van Niekerk dat sy pa ’n ander vrou geneem het toe hulle al so ’n bietjie ouer was. Die geld wat sy pa vir sy ma gegee het, het later heeltemal opgedroog en hulle situasie in die huis het kritieke afmetings aangeneem. "Dikwels het ons geen geld gehad om elektrisiteit te koop nie en geen middagete as ons skool toe gaan nie."

Daar was nie boeke in hulle huis nie, maar André onthou dat hy sy eerste boek gekry het toe hy in Ridgeville Primêre Skool in Mitchell’s Plain eerste in sy klas gestaan het. "Daarna het ek elke jaar my bes gedoen om dit weer reg te kry."

Nathan onthou die Westridge Openbare Biblioteek ook in Mitchell’s Plain: "Ek en André het altyd probeer insluip, want ons was nie lede nie. Ons het geweldige respek vir al die boeke gehad. Ons kon nie boeke uitneem nie, want ons ma het geweier om die verklaring waarmee ouers toestemming moes gee, te onderteken. Ek dink sy was bang ons sou die boeke vuilsmeer en dat sy nie daarvoor sou kon betaal nie."

"Maar op ’n dag was ons nie meer tevrede nie en en André het haar handtekening nagemaak. Die eerste maal wat ek ’n boek huis toe kon neem, sal ek nooit vergeet nie. Ek het ’n Kuifie-boek gekies. Ek was onmiddellik betower, selfs verslaaf."

Kuifie het vir die jong Nathan gefassineer omdat hy al die eienskappe gehad het wat Nathan self sou wou hê. "Hy was dapper, intelligent, beleef en vol selfvertroue," verduidelik hy aan Van Niekerk. "Hy het dus my rolmodel geword. Natuurlik het ek geweet dat hy net ’n strokieskarakter was, maar juis dít was ’n openbaring. Ek het ’n verhouding met ’n prentjie, ’n artistieke uitdrukking gehad. En ek het die krag van kuns, van die verbeelding ontdek wat ongelooflik was! Ek dink dáár is my begeerte om kreatief te wees, te teken, te skryf, ’n wêreld te skep waarvan ek deel was, sy oorsprong gehad."

Nathan het nie self ’n Kuifie geword nie. Sy neiging om met Kuifie te identifiseer het op ’n teleurstelling uitgeloop. "Ek dink Kuifie het ’n te netjiese opvoeding gehad om soos ek te lyk. Die eienskappe wat ek aan hom toegeskryf het, kon eenvoudig nie myne wees nie. As jy in armoede leef en jou pa tree verkeerd op, is dit baie moeilik om iets goeds in jouself te sien. Ek moes van Kuifie wegbreek en my eie alter ego skep, die soort karakter wat by my eie omstandighede pas."

Hierop het André geantwoord: "Ons het besef dat ons ’n held moet skep wat ons eie taal praat, iemand wie se vermoëns nie in liggaamskrag, onvernietigbaarheid of ’n besonder speursin gelê het nie, maar iemand wat kan oorleef, iemand wat terugslae kan hanteer en wat ten spyte van alles staande kan bly."

In Valhalla Park se biblioteek, is Nathan blootgestel aan die wêreld van letterkunde en dis veral die Nobelpryswenner, JM Coetzee se werk wat ’n onvergeetlike indruk op hom gemaak het. Hy vertel dat wanneer hy teken, probeer hy om sy sketse te benader presies soos wat JM Coetzee sy skryfwerk benader. (afrikaans.com)

Verdere studie en werk

Voordat Nathan ontpop het as ’n wêreldbekende skrywer van grafiese romans, het hy op vuurhoutjie- en sigaretboksies gekrabbel. Ná matriek het hy tussen tydelike werke rondgeval, terwyl hy by sy ma en broers en susters aan huis gewoon het. Hy was nooit van plan om universiteit toe te gaan nie; hy het geweet dat hy iets kreatiefs met die res van sy lewe wil doen, maar het mismoedig geword as gevolg van al die afkeurings wat hy ontvang het. "I was very good at making excuses, but then I found out you can’t work that way," vertel hy vir Tasha Pinto.

As teenvoeter vir al die afkeurings wat André en Nathan beleef het, stuur André ’n prent wat Nathan geteken het aan die Cape Argus, ’n Kaapstadse koerant, om te kyk of hulle nie ’n inkomste kan genereer as skrywers en grafiese kunstenaars nie. Só is die broers opdrag gegee om ’n comic van 20 bladsye te skryf en te teken – en dit vir R20 000. "Dit is die meeste geld wat ek ooit op een slag gehad het – dit is nog altyd die meeste geld wat ek tot vandag nog gehad het," erken hy teenoor Pinto. Die comic strip is in 2003 in die Argus gepubliseer onder die titel Urban tribe.

Die broers het, na aanleiding van hulle sukses met Urban tribe, aangegaan met die skryf en illustrasies van comics al is hulle skeppings afgekeur. In 2008 is Stormkaap: drome kom altyd andersom uit deur Tafelberg uitgegee en in 2010 verskyn Coloureds as ’n gesamentlike publikasie van Tafelberg en Jincom Publishers.

Coloureds sou oorspronklik ’n boek van 100 bladsye wees, maar die broers het gou besef dat dit nie sou verkoop in só ’n formaat nie en het dit gesnoei tot ’n 12-bladsy comic. Dit was ’n baie groot sukses in Kaapstad en was vir drie jaar die comic wat die beste verkoop het. Van die ander strippe waarvoor hulle verantwoordelik was, is Ruthie in Rapport en The Richenbaums in die Cape Times. Ruthie en Coloureds is geïnspireer deur hulle ma se jeugjare tydens die apartheidsjare.

Sedert 2014 publiseer Nathan ook ’n reeks van ses titels in die Crossroads-reeks vir Isotrope Media in Woodstock, Kaapstad, op aandrang van die historikus dr Koni Benson saam met André en Ashley Marais. Dit is gegrond op Benson se werk wat vertel van die teenstand van die vroue in die Crossroads township op die Kaapse Vlakte teen die geforseerde uitsettings gedurende die apartheidsjare.

Van Nathan en André se werk is in Amsterdam en Hamburg in Duitsland uitgestal. Nathan is ook die skrywer van rubrieke vir die dagblad Beeld asook vir die Sondagkoerant Rapport en die aanlynnuus van Media24. Nathan is ook ’n gereeld deelnemer aan die Woordfees op Stellenbosch en het ook aan die Afrikaanse Fees in Nederland deelgeneem. In 2016 het hy ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aan die Rhodes Universiteit aangebied – dieselfde universiteit waar hy besig is om vir sy meestersgraad te studeer.

Hy is met die Afrikaanse digter Ronelda Kamfer getroud en hulle woon sedert 2011 saam met hulle dogter in Lansdowne. André, sy broer, hulle ma en ’n jonger broer en suster bly ook by hulle.

In ’n artikel deur Earl Basson, "Die visuele storievertelling van die Trantraal-broers se comics" (https://klyntji.com/joernaal/2018/9/16/andre-nathan-trantraal), skryf Basson dat dit vir Nathan en André daarom gaan om die ervaringe en realiteite van arm mense op ’n akkurate manier te boekstaaf. "Met hulle spotprente druis die Trantraal-broers teen hierdie aanvaarde norm en verwoord die werklikhede en familiedinamiek van arm mense, soos gesien in The Richenbaums en Coloureds. André wys tereg daarop dat arm mense gewoonlik op ’n eendimensionele wyse en gevul met stereotipes, uitgebeeld word. As gevolg van hul bekendheid met die omstandighede van hul karakters, systap die Trantraal-broers die gewone indringende poverty porn gaze en omvat die komplekse aktualiteit van hierdie groep mense se bestaan in die taalvariëteit waarin dit geleef word."

"Hulle nuwe werk (Colour 1, 2 en 3), wat by die AVA Gallery te koop is, bied ’n satiriese terugkyk na (Afrikaanse) televisieprogramme in die 1990’s en hulle persoonlike ervaringe van dié programme. Met bitsende kommentaar maak hulle verwysing na televisieprogramme soos Vyfster en die whitewashing van die tronklewe asook die gepastheid van ’n Afrikaanse oorklanking van The Sopranos, wat die parallelle tussen die karakters in dié reeks en die Apartheidsregime uitwys."

Basson gaan voort: "Behalwe vir die tematiese tersaaklikheid van hul werk, skep die Trantraal-broers ook diskoers rondom die medium waardeur die betrokke temas aangebied word. Hul gebruik van spotprente en grafiese romans om aktuele kwessies te ondersoek en uit te beeld, bied nuwe maniere om geleefde ervaringe, hetsy geskiedkundig of kontemporêr, te vertel en te behou. In die geval van die Crossroads-reeks, word grafiese romans se toeganklikheid gebruik om nuwe (en jong) lesers aan ’n onbekende deel van ons geskiedenis bloot te stel. Die gebruik van Kaapse Afrikaans as skryfvariëteit (in sommige van die spotprente en grafiese romans) verbreed ook die huidige beperkte lys van Kaapse Afrikaanse-publikasies. Met hulle spotprente en grafiese romans dra die Trantraal-broers by tot gesprekvoering en aksieneming oor die sosio-ekonomiese stand van miljoene Suid-Afrikaners en bied ook ’n belowende nuwe manier om opvoedkundige materiaal te verryk en ’n leeskultuur te kweek."

In ’n onderhoud met Annemarié van Niekerk gesels die Trantraal-broers meer uitvoerig oor hulle comic strips.

Sy wou by hulle weet of mense se lewe draagliker kan word met die lees van hulle strips waarop Nathan antwoord dat mense daardeur kan sien dat dit reg is om uiting te gee aan jou gevoelens: "In het getto durft niemand te zeggen 'ik ben bang' of toe te geven dat hij aan traumatiserende ervaringen was blootgesteld. De gebruikelijke houding is 'je komt er wel overheen'. Men denkt dat je alle vastigheid kwijtraakt als je toegeeft aan je gevoelens. Wij gaan daar tegen in."

Van Niekerk wou ook ook weet hoe kombineer hulle die maak van strips met die skryf van gedigte. Hierop antwoord Nathan dat gedigte vir hom iets is wat hy af en toe doen en waarin hy dinge kan kwytraak waarvoor hy nie die energie het om te teken nie. Skryf is vir hom makliker as teken: "Het gaat nu beter, maar er was een tijd dat ik het gevoel had dat tekenen me ziek maakte, alsof het een aanslag pleegde op mijn afweersysteem. André kan alleen maar samen met mij tekenen, niet in zijn eentje, omdat hij een perfectionist is. Hij heeft er ontzettend veel moeite mee dat de tekening op papier nooit hetzelfde is als de tekening in zijn hoofd."

"Al je zwakke plekken komen in je tekeningen terecht. Dus is het André’s rol om mijn tekeningen beter te maken. Voor hem werkt dat. Dan weet hij dat het aan mij ligt als de tekening mislukt. Hij kan mij gemakkelijker vergeven dan zichzelf. En hij schrijft gewoonlijk het script."

Nathan se eerste bundel gedigte, Chokers en survivors, word in 2013 deur Kwela uitgegee en onmiddellik druk hy sy stempel af op die Afrikaanse poësietoneel deurdat die bundel bekroon word met die Ingrid Jonker-prys vir 2015, asook die ATKV-prys vir poësie vir 2014.

Die beoordelaars vir die Ingrid Jonker-prys is beïndruk deur die "sterk en pretensielose kommentaar op die wanhopige sosiale milieu van die Kaapse vlakte in Chokers en survivors. Dit is aangrypend, eerlik en sonder enige sentimentaliteit." (Rapport, 1 November 2015)

Op Versindaba word die beoordelaars se standpunte oor die Chokers en survivors verder uitgelig: "Die bundel lewer sterk en pretensielose kommentaar op die wanhopige sosiale milieu van die Kaapse Vlakte en die stryd om oorlewing waarin mense hul bevind. Die outobiografiese aspekte van die bundel word aangrypend en eerlik uitgebeeld, sonder enige sentimentaliteit. Die leser word in aanraking gebring met ’n wêreld wat onthuts, vermaak en skok. Die galgehumor en kwinkslae bring egter bloot tydelike verligting, want die leefwyse en ervarings van die gesin en die gemeenskap word onomwonde in al sy pynlike weerloosheid en wroeging gedemonstreer. Die taalgebruik en taalaanbod is een van die heel sterkste elemente van die bundel. Daar is blatante opstand in die bundel – óók teenoor die digterlike vader (en moeder)."

Die titel van die bundel verwys na die grondboontjiebotter-en-konfyt-toebroodjies wat die Trantraal-gesin moes eet wanneer kos maar skraps in die huishouding was. Die titel sinspeel dus op die grootskaalse armoede wat op die Kaapse Vlakte voorkom en die manier waarop die inwoners hierdie uitdagings te bowe moes kom.

In ’n onderhoud met Ronelda Kamfer op LitNet in 2013 maak sy die stelling dat die temas wat hy in sy bundel explore, alles van een plek afkom. Nathan reageer as volg op die stelling: "Is swaa vi my om veby die microcosm te kyk. Perhaps omdat os vi ’n lang tyd in soe ’n confined space gebly et wod dai plek vi jou die code waamee jy die res vannie wereld decipher; dai is hoekom ek nooit oo die wye wêreld skryf ie, hoekom alles gefilter wod dee ’n paradigm van sand-sypaadjies en anorexic honne. Bishop Lavis is vi my die hele wêreld."

Vir Kamfer is daar twee kontrasterende perspektiewe in Nathan se gedigte – "een wat flow uit ’n literary education en een uit ’n pop-cultural education."

Hieroor lewer Nathan as volg kommentaar: "Ek dink is vi ’n lank tyd al popular vi middle-class mense om te brag oo die fact dat hulle nie ’n TV own nie, maa vi my issit different. Ek was grootgemaak deurie TV – helfte van my education het ek vannie TV af gekry. Ek kyk nou nog Days of our lives en Bold and the beautiful, isse belangrike part van my intellectual diet. Wan ek dink as jy oorie wêreld wil skryf moet jy involved wies mettie wêreld. Jy kannie in jou ivory tower sit met jou hermetically sealed thoughts en skryf oo ’n wereld wat nie net een ding issie, maa ’n myriad van dinge at the same time, all the time. Ek gloe oek nie eintlik in cultural hierarchies ie en dai wod reflect innie writing."

Nathan sê aan Kamfer dat hy wil hê lesers moet ’n "physical reaction" kry terwyl hulle Chokers lees: "’n Orgasm preferably. As ek jou ’n orgasm kan gie wiet ek my next boek hoefie ees goed te wies nie." (LitNet)

Oor sy besluit om Chokers en survivors in Kaaps te skryf, het Nathan nooit gewroeg nie, vertel hy aan Danie Marais (Volksblad, 3 Augustus 2013): "Ek dink die laaste keer wat ek my kop gebreek het oor Kaaps was toe ek 14 jaar oud was. [...] [Dit was toe] ek begin werk het in Kaaps en daai wit character ge-eliminate het uit die storie uit en myself begin sien het as die hero.

"Ek gee nie om wat mense dink en of mense dié boek lees nie. En ek sal jou sê hoekom: As jy coloured is en jy lees dié boek en jy sê vir my dis nie goed geskryf nie, dan verstaan ek jou. Maar as die subject matter jou upset, is jy ’n f***in phoney. Dan hou jy vir joy ... dan act jy. En as jy sê jy kan dit nie lees nie, want jy verstaan nie die taal nie, is jy ook ’n f***in phoney. Dan associate jy jou net met die lower classes. En as jy wit it is en jy sê jy verstaan nie die boek nie, dan praat jy bulls**t."

In die onderhoud met Marais het Nathan hom die gramskap van ’n hele klompie mense op die hals gehaal toe hy gesê het dat hy dit teen Adam Smaal en Peter Snyders het dat hulle van Kaaps ’n "joke-taal" gemaak het.

"Hulle het gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, ’n f****n coon-taal. So, as jy ’n boek skryf in Kaaps voel dit jy moet van voor af begin skryf om mense te convince dis iets ernstig."

Skrywers soos Daniel Hugo, Jeanette Ferreira en Johann de Lange het hulle sterk uitgespreek teen hierdie stelling van Nathan. Ook Breyten Breytenbach (Volksblad, 2 Oktober 2013) het van hom laat hoor: "Dit sit duidelik nie in die jong man se broek om Adam Small se werk te konstekstualiseer nie. [...] Dis beter dat Trantraal die aandag probeer vestig met sy werklike interessante en goeie gedigte in die variant van Kaapse Engels."

Clinton V du Plessis is die resensent van Chokers en survivors in Die Burger van 29 Julie 2013: "Met die eerste lees van hierdie digbundel kom die gedagte van Adam Small by my op, maar met die herlees tref dit my soos ’n voorhamer. Hierdie is Adam Small, maar op dertig, met ’n hardegat street-cred attitude – op ’n kombinasie van Mxit-taal, tik, buttons, straws ... met nie ’n Bybel, ’n kitaar of ’n hakkelende Moses in sig nie."

"Die omslag van Chokers en survivors toon onder meer die bundeltitel en die digter se naam wat aan ’n wasgoedlyn hang. Die letters is wit en vuilwit. Dit roep onmiddellik die beeld op van 'vuil wasgoed' uithang op – uit die binnekamer praat oor persoonlike dinge wat tot verleentheid of ongerief sal lei as dit in die openbare domein kom.

"En dit is presies wat Trantraal in hierdie bundel doen. Hy skop die deure oop en af en gryp jou hardhandig aan die kraag tot binne-in ’n gestroopte bestaan op die ongenaakbare Kaapse Vlakte.

"Die wêreld wat aan die leser voorgehou word, het inderdaad die uitwerking wat op die voorblad deur Alfred Schaffer, Nederlandse digter en dosent, verwoord word: 'Skokkend, skreeusnaaks en ontroerend.'"

"Die sewe en dertig gedigte neem jou op ’n reis deur ’n verskeurde landskap met sy gepaardgaande onsamehangende en uitsiglose bestaan. Jy gaan op ’n rollercoaster ride van terugblikke [...] [en] jy word met dieselfde fatalistiese 'coloured' uitkyk op die lewe gekonfronteer as met Small se bekende: 'die Here het gaskommel.'" [...]

"Hierdie publikasie is ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse verswêreld – ’n wêreld wat, soos dit nou daar uitsien, Trantraal ooglopend nie imponeer nie."

In Tydskrif vir Letterkunde (Lente 2014) skryf Tertius Kapp as volg oor Chokers en survivors: "Chokers en survivors word gekenmerk deur ’n direkte, ondramatiese perspektief op ’n werklikheid wat terselfdertyd vervelend alledaags en vreesaanjaend is. Bykans al die gedigte verwys na die lewe op die Kaapse Vlakte. Vroeg reeds beïndruk 'Maya en Mr Piel' met slim woordspel (piel as sleutel / piel as wapen / piel as persoon) en so ook die onpretensieuse huldeblyk aan ’n moeder, 'Hammie'. Dit is interessant dat die jukstaponering van die verskriklike en die alledaagse dikwels deur die vaderfiguur uitgelok word: 'die Here wiet allien 1', 'Fifa 06' (waar aanranding treffend met ’n videospeletjie vergelyk word). In 'PES5' slaag die pa se dood net-net daarin om ’n videospeletjie te onderbreek. Die sterkste element van die bundel is myns insiens ’n estetika wat beskryf kan word as 'bitter ghetto camp': histeries-tragies, absurd en afgryslik."

    Joan Hambidge som Chokers en survivors op LitNet op as "in your face". "Op ’n vreeslose wyse word die ellendes van die Kaapse Vlakte vir die leser oopgemaak. Indien jy die bundel lees as ’n gesprek met die broer, kry dit ’n ander dimensie by, naamlik om ’n pynlike jeug te verwerk. Om námens ’n broer ’n stuk geskiedenis op te skryf – dalk onbewustelik met die broer as kontrole, as medebelewer van ja-dit-was-so ..."

"Die bundel gee ’n blik op die wêreld van geweld; dis geskryf in gangsta-taal en tref jou tussen die oë. [Alfred] Schaffer het gelyk: dis sowel snaaks as ontroerend. Die verse speel die spel van die inconnu, van afwysend staan teenoor die kanon, maar terselfdertyd as daar meer as genoeg blyke dat die digter presies weet wat hier aangaan." [...]

"Die belangrikste aspek van hierdie bundel is die praattaal en in fonetiese Kaaps. Daar is humor. Daar is ’n besliste afwysing van enige nostalgie of sentimentaliteit. Die inhoudsopgawe met tydsaanduidings lees soos grafskrifte. Hier is dus ’n duidelike afskeid van ’n pynlike, verwonde jeug. Die gebruik van plat woorde is opvallend: cunt, poes, kak, befok, fokkolpielnai (sic), fokof. Engelse woorde word ook aangetref. Die digter gee ’n weergawe van sy mense se spreektaal."

"Daar is ’n ontmaskering van die familie, en meer spesifiek die gesinsopset. Hy het immers by die moeder, tradisioneel die versorger, geleer om onsentimenteel te wees.

Hammie

My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe
. (31)

"Hier is simboliese vadermoord. Die vader word letterlik aangeval, soos in 'Fifa 06' (52). Dit is gedigte wat ’n storie vertel. Dit wil duidelik on-poëties wees. Teenoor al die veld is vrolik, vind ons ’n 'dywel het alwee al sy pielhare afgeskeer' op die maat van 'Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei' (69). Daar is ’n verwysing na drugs (soos buttons byvoorbeeld) cassetteporn, DVD’s, CD’s en karaoke. Dus ondigterlike of tegniese woorde wat die gedig binnedring.

"Die private word ontmasker en betree (masturbasie): 'die Here wiet allien 1' (67). Die tronkbestaan / gangsters versus ’n godsdiens (geloof) word ontgin. Terselfdertyd is daar genoegsame verwysings na ander digters, wat ’n bekendheid met die digkuns aandui. Hier vind ons ’n duidelike ambivalensie by die spreker, wat enersyds ingelig is, maar andersyds soos Gert Vlok Nel maak asof hy nie weet wat eintlik aangaan nie."

"Die gedigte wil soos strokiesprente toeganklik wees en soos in hierdie subgenre die medium gebruik om sosiale kommentaar te lewer. ’n Mens dink hier oa aan Bitterkomix en die digter se eie werk as kommentator in die Cape Times. Soos by Bitterkomix is die skokkende aspek die dinamo van die teks.

"Die spel met die outobiografie – onder andere deur verwysings na sy vrou, Ronelda, en sy broer – neem ons terug na die Beats se hantering van vriende wat as werklike mense in die gedigte beland het. ’n Sterk satiriese aanslag soos 'Hard to kill trilogy (DVD Boxset)', 23.

"By ’n deegliker lees word die leser egter gedwing om te kyk na die poëtiese tegnieke wat aangewend word. Die sterk narratiewe aanslag en slotreëls tref. Die digterlike proses word so al spelende ontmasker, soos in die gedig oor Groot verseboek. In 'South Korea' (36) bely die spreker: 'omdat ek wiet my poetry is kak/ en dat ekkie kan skryfie.' Maar dis inderdaad net ’n faux-tegniek, om al sy sieninge oor die digkuns uit te stal. Die digter is immers – en dit is vir ’n belangrike kode – stripkunstenaar."

In 2017 verskyn Nathan se volgende digbundel, Alles het niet kom wôd, by Kwela. Dit is in 2019 bekroon met die Sala-toekenning vir Afrikaanse poësie.

Hierdie bundel begin met ’n aanhaling uit Tales from Moominvalley van Tove Jansson: "It’s the right evening for a tune, Snufkin thought. A new tune, one part expectation, two parts spring sadness, and for the rest, just the great delight of walking alone and liking it." Vir Bibi Burger in Beeld (10 April 2017) sluit hierdie plesier wat gevind kan word uit die bittersoet "spring sadness" goed aan by die "humoristiese en melancholiese toon van Alles het niet kom wôd".

Nathan Trantraal het in ’n onderhoud op LitNet die gedigte in Chokers en survivors as "history told by the losers" beskryf. Net soos daardie gedigte, skryf Burger, handel die gedigte in die tweede bundel ook oor die bruin mense in Kaapstad en omgewing wat "losers" is – "in die opsig dat hulle nie die vrugte van kapitalisme of globalisasie pluk nie en wie se verhale nie opgeneem word in die geskiedenis of die gekanoniseerde literatuur nie. Omtrent die helfte van die gedigte in Alles het niet kom wôd kan beskryf word as karaktersketse van mense uit die omgewing, 'losers', 'walking alone and liking it'.

Omdat Trantraal verhalende gedigte skryf, is tradisionele gedigstrukture meestal afwesig, gaan Burger voort. "Maar daar word in hierdie tweede bundel wel meer aandag gegee aan ritme en metrum as in Chokers. [...] Behalwe vir die karaktersketse is die ander 'verhale' in Alles het niet kom wôd (soos dié in die poësie van Bukowski, Danie Marais en Ronelda Kamfer) outobiografies. Soos in sy eerste bundel; gaan dié outobiografiese gedigte veral oor Trantraal se jeug, maar nou is die fokus op sy verhouding met godsdiens.

"Soos reeds afgelei kan word van die bundel se voorblad en dubbelsinnige titel (’niet' kan verwys na ’nuut' of ’niks') is hierdie verhouding nie eenvoudig nie. [...] In die meeste gedigte is die outobiografiese spreker se perspektief eerder dié van ’n (emosioneel betrokke) sosioloog wat fokus op die sosiale en sielkundige funksies en gevolge ven godsdiens. [...]

"Die bundel eindig met die gedig 'Gebed zonder end' waarin die spreker verwys na ’n aand in Amsterdam saam met sy gesin, waarin hy kan vergeet van die probleme by die huis:

Venaand is ek myself
Die anne iteration van myself
Venaand worry ek oo niks
Ek dinkie aan my ma-hulle byrie hys ie
Ek dinkie aan my klein niefies
wie nog in Lavis bly nie 

"Hierdie 'gebed' aan die einde van die bundel het my weer laat terugkeer na die Tove Jansson-aanhaling aan die begin van die boek. Lesers (en kykers) van die Moomin-verhale sal weet dat die teengif vir die melancholie en donkerte in die Moomin-vallei dikwels gevind word in ’n gesellige huislikheid. Dit is só ’n geselligheid wat in die laaste gedig beskryf word ('Ek is hie met my vrou en my kind, tussen vriende / Ek is dronk en ek worry nie oo hoe ek lyk nie' as ek laggie. Ek worry nie oo môre nie')."

"’n Tragedie van die wêreld wat in die res van Trantraal se gedigte beskryf word, is dat dié alledaagse huislikheid ontbreek. Hierdie tragedie word met deernis, sinisme en humor in Alles het niet kom wôd verwoord," sluit Burger haar resensie af.

Vir Louis Esterhuizen (Rapport, 19 Maart 2017) bou Trantraal in hierdie tweede bundel voort op die bekende temas van sy debuutbundel, "maar nou is die toon meer teruggehoue, by tye selfs teer en gevul met patos.

"Die sardoniese humor is steeds teenwoordig, maar word nou aangevul met ’n groter verskeidenheid verstegnieke, waaronder ironie, beeldspraak (veral die vergelyking), parallelisme en die paradoks die opvallendste is.

"Trouens, Trantraal se volgehoue hantering van ironie is besonder indrukwekkend, soos dit reeds met die dubbelduiding van die bundeltitel geaktiveer word. [...] Nie net word die religieuse reeds met die openingsgedig, wat ook die titelgedig van die bundel is, geaktiveer nie, maar dit word deurlopend volgehou tot met die slotgedig." [...]

"Dit is egter met die twee verse oor sy dogtertjie wat die digter toon tot watter mate van teerheid en versvernuf hy in staat is: die gestroopte dog delikate 'Jaloesiegieste' [...], maar veral 'Die man wat ie kinnes vang'." [...]

"Ten slotte wil ek terugkeer na wat ek as die vernaamste pluspunt van die bundel beskou: die afgeronde geheel wat dit maak. Een van die moot's wat gebruik word, is ’n uitspraak deur Heinrich von Kleist: 'Paradise is now shut and locked, barred by angels, so now / we must go forward, around the world and see if somehow, / somewhere, there is a back-way in.'"

"Nie net verskaf dié aanhaling ’n uiters belangrike sleutel tot die bundel nie, maar dit het ook direk betrekking op die omslag, waarvolgens ’n dreigende engel met ’n spies ter hand troon oor ’n weerlose monnikfiguur in swart gewaad."

"Dit is dan juis hierdie paradoksale ingesteldheid wat aan die digter sy 'way-back in' verskaf: enersyds sy digkuns, dog andersyds die patos – en begrip – wat hy het vir die wêreld en die mense waroor hy skryf, want immers is sowel die hemel as die hel in ons almal teenwoordig 'soes swat embroidery op swat godyne' ('Swat embroidery')"

"En dit is nie altyd ’n gemaklike proses nie. Of jy daarvan hou, al dan nie: Alles het niet kom wôd bevat direkte en eerlike poësie; ontstellende gedigte wat opnuut Trantraal se reputasie as belangrike stem in die Afrikaanse digkuns bevestig."

Op LitNet sluit Louise Viljoen haar resensie van Alles het niet kom wôd af: "Alhoewel die bundel kleiner in omvang is as Trantraal se debuutbundel, het dit dieselfde kragtige effek. Dit is die produk van ’n digter volkome in beheer van sy vak. Veral is dit die werk van iemand wat met sy ingehoue, maar tog dringende stem die vermoë het om tot ’n wye spektrum van lesers te spreek."

In 2018 word ’n versameling van Nathan se rubrieke wat in Rapport verskyn het, gepubliseer onder die titel Wit issie ’n colour nie: aangedrade stories.

In Vrouekeur (22 Junie 2018) skryf Willie Burger dat die hele versameling in Kaapse geskryf is – ’n manier van skryf wat vir lesers in die noorde van die land ’n wyle neem om aan gewoond te raak. "Die keuse om só te skryf, is natuurlik meer as ’n 'tegniek' wat geloofwaardigheid aan die vertellings te verleen. Dit is ’n baie bewuste keuse met belangrike implikasies."

Burger vertel dat Trantraal in een van die stories vertel dat hy by die hoërskool waar hy op skool was, Afrikaans moes gee. Hoewel Afrikaans as die leerders se moedertaal beskou is, het Trantraal gou besef dat dié Afrikaanse wat hy aan hulle moes gee, asook die tekste wat hy moes behandel, vir die leerders vreemd was omdat hulle nie so praat nie. Hy het hulle aangemoedig om in hul eie spreektaal te skryf, "omdat die formele, 'standaard-Afrikaans' wat van hulle verwag word, hulle ontmagtig en tot oppervlakkige, oneerlike uitdrukking lei."

"Kaaps is dus volgens Trantraal ’n manier om aan ’n bepaalde ervaring van die wêreld, wat radikaal van ryk mense en van die meeste wit Afrikaanssprekers se ervaringswêreld verskil, uitdrukking te gee en is dus ’n merker van ’n identiteit," skryf Burger verder.

"Baie van die verhale skok die leser, veral wanneer blyk dat verkragting en kindermishandeling of drank- en dwelmmisbruik en geweld so algemeen voorkom dat dit as normaal ervaar word. [...] Die effek van skreiende armoede op mense word deur knap vertelling op onthutsende manier blootgelê. Dit is so maklik vir mense in ’n middelklasbestaan om oor armoede as abstraksie te praat, om kritiek op bendevorming, drankmisbruik en kriminaliteit te lewer, of om ’n paar rand deur ’n skrefie venster te gee, maar om liewer nie met die realiteit daarvan gekonfronteer te word nie. Daarom laat hierdie boek ’n mens ongemaklik."

"Trantraal se humorsin maak die lees van al die vertellings oor armoede, oor swaarkry, oor ’n renons in bevoorregtes se onbewoënheid en selftevredenheid verduurbaar. Hy is ’n uitstekende verteller wat die leser se gemoedstemming in enkele paragrawe kan laat swaai van skaamte na skok, na skaterlag (al is dit dikwels galgehumor of die snaakse wat deur kruheid bewerkstellig word)."

"Trantraal vra belangrike vrae oor iets waaroor baie wit mense hulle oë rol en kwaad word, naamlik witheid en wit bevoorregting. Gou verval gesprekke hieroor in naakte rassisme." [...]

"Witheid as godsdiens, as manier om na die wêreld te kyk sonder dat jy eens bewus is daarvan dat jy op ’n bepaalde manier kyk, wat jou laat oordele vel oor almal wat nie dieselfde glo nie (want hulle gaan immers hel toe), wat jou patroniserend laat optree teenoor dié wat nie dieselfde glo nie, behoort oral in ons samelewing uitgedaag te word. Trantraal lewer ’n belangrike bydrae daartoe."

Vir Valda Jansen (Rapport, 25 Maart 2018) is Wit issie ’n colour nie ’n spieëlbeeld van hoe hy as skrywer ontwikkel het – ’n mens kan dit uit die afgerondheid van sy rubrieke sien. "Hy het as rubriekskrywer ontwikkel," skryf Jansen verder, "danksy sy deursettingsvermoë én die versiendheid van die mense wat hom ’n kans gegee het. Redakteurs van koerante wat die teenwoordigheid van gees gehad het om iemand ’n kans te gee wat nie in die gewone hokkies pas nie, en aan te hou kans gee en hom in staat gestel het om sy ambag as krywer te slyp en uit te leef."

Vir Jansen is die stuk wat aan die bundel sy titel gegee het, die hoogtepunt van die bundel. "Dit is briljant geskryf, poëties, weldeurdag en onsentimeteel. Die duidelike boodskap wat hieruit straal, is: Ek is nie teen wit mense nie, wel teen die persepsie dat wit beter as ander is." [...]

"Trantraal skryf outentiek, oor mense en omgewings wat hy goed ken, maar hy skryf nie uit die hoogte nie. Hy is bínne-in daardie situasie wat hy beskryf. Daarby skryf hy in die taal wat hy ken en dit dra ook by tot die outentisiteit van sy tekste. Hy is ’n rubriekskrywer wat dinge van belang in die samelewing raaksien, besluit wat sy standpunt is en daaroor skryf." [...]

"Trantraal hou ’n spieël op waarin die leser, die rubriekskrywer en die samelewing hulself kan sien, En wat in hierdie bundel te sien is, is nie altyd mooi nie. Dis swaar, hartseer en vernuwend. Maar daar is ook humor in hierdie boek. Gelatenheid. Erge kritiek. En soms oneindige weemoed. Dit maak nie saak aan watter kant van die tou jy staan nie."

Ook Charles Smith (Volksblad, 12 Maart 2018) is beïndruk met Trantraal se bundel. Hy is van mening dat die skrywer van hierdie rubrieke nie van die leser verwag om met die lees van hierdie stories kennis te neem van die lewens van arm mense nie. "Hy dwing jou om te kyk na hoe hulle lewe en om na hul stories te luister. Dit is stories oor pornografie, prostitusie, hongerte, dwelms, alkohol, en die mense van die Vlakte en ’n skrywer se liefde én weersin in hierdie lewe en plek."

"En veral sy weersin in wit mense wat voorgee dat hul lewe meer saam maak as dié uitgeworpenes wat altyd aan die agterspeen moet suig. Moenie ’n fout maak nie. Lesers gaan plek-plek geskok wees en selfs aanstoot neem aan Trantraal se stellings en taal. Maar as jy belang stel in hoe jou landgenote lewe, dink en voel oor dié land – oor jóú –is Wit issie ’n colour nie ’n moet. Hier is van die beste stories wat in jare in Afrikaans geskryf is. Ook van die snaaksste en pynlikste. Lees dit en blaas jou kop oop."

Nathan se volgende digbundel verskyn in 2020 onder die titel Oolog: gedigte. Volgens die inligtingstuk van die uitgewer, Kwela, word daar in hierdie bundel gekyk na stryd, konflik en oorlogvoering op verskillende vlakke. Daar is in die bundel nie net verwysings na oorlog op internasionale en nasionale vlak nie, maar ook na belewenisse wat binne persoonlike ruimtes plaasvind. "Die gedigte is vindingryk en vreesloos, met donker humor, maar nie sonder deernis nie."

Op Versindaba skryf Alwyn Roux as volg oor Oolog: "Dit is dan ook die intellektuele aard van Trantraal se digwerk wat vir my vooropstaan. Ek lees sy digkuns omdat dit gedigte is wat draers is van sterk idees. Trantraal se digwerk is nie sommer oorloopsels van sterk gevoelens à la Wordsworth nie, maar idees oor polities-maatskaplike werklikhede wat gestalte in versvorm verkry. Dit beteken nie dat sy gedigte ontdaan is van stylfigure of beeldspraak of lees soos ’n filosofie-opstel nie; inteendeel, die krag van sy gedigte is die soepel, ritmiese en meesleurende gebruik van taal."

"Ten slotte: die belang van die poësie is veronderstel om die lewe te omvat en dit is wat Trantraal regkry. In 'Gie vi my ’n baby' (56) word dié gegewe soos volg tot vlees en bloed uitgewerk:

Gie vi my ’n baby

Jy vra my eendag wat poetry is
’n Attempt ommie wêreld te contain
in so min woore as moontlik
Toe ek sien jy verstaanie
Het ek ’n quote met jou gedeel
Nie die woore van Alexander Pope
of Walt Whitman ie
Maa die van my vriend Pangatollie,
"My broe ek wil noggie kondom ansit
Daa wys hai goose my, 'Gie vi my ’n baby'
Toe gie ek ha ’n baby, sy willit han hê."
En nou êrens oppie Cape Flats
loep daa ’n klein laitie rond
wie die son, die wind ennie
rien virrie eeste ke gevoel et
Wie honge, fear, pyn, joy,
liefde en haat gan ken
Wie gan liewe en doodgan
Dais poetry, min of meer"

Op LitNet word Alfred Schaffer aangehaal oor Oolog: "Meesleurend, leersaam, waaghalsig, dapper, insiggewend, beeldryk, meevoerend, in­your­face en nie ’n moment eendimensionaal nie." En ook Tertius Kapp: "Trantraal is ’n belangrike teenvoeter vir ’n letterkunde wat te dikwels uit voeling is met ’n groot deel van die potensiële leserspubliek."

In Vrye Weekblad (21 Februarie 2020) skryf Deborah Steinmair dat Nathan Trantraal die stem is van "verlore generasies, van tikkoppe op die straathoek, van honger kinders, van gangsters en verslane mans wat vroue laat bloei, van vroue wat rondloop soos prooi."

Louise Viljoen is die resensent op Netwerk24 (24 Februarie 2020) en sy skryf dat dit nie net die tematiek van Trantraal se gedigte is wat boeiend is nie, maar ook sy beheer oor die verhalende gedig as vorm: "Dit is ook duidelik dat Kaaps, met sy mengsel van Afrikaanse en Engelse woorde, hom ’n besonder plooibare poëtiese instrument in die hand gee. Dit tel die resonansies van albei tale op en open so die moontlikheid om tussen die tale te speel met klank en betekenis."

"Bowendien skep die manier waarop woorde in Kaaps aanmekaar vasgemaak word ('innie', 'ommie') metriese moontlikhede: die reëls vloei gladder omdat sommige konsonante wegval; wanneer hulle egter wel opduik, staan hulle uit soos spykers in die pad. Ook treffend is die manier waarop die toon van die bundel wissel van groot bitterheid, teleurstelling en woede tot diep teerheid soos in ’nag iii'".

Oolog is die werk van ’n uiters bedrewe, maar ook gedrewe digter. Daarom vermoed ek dit gaan een van die keurbundels van die jaar wees."

Mike Dickman het sommige van Nathan se gedigte in Engels vertaal en dit is opgeneem in In the heat of shadows: South African poetry 1996-2013 (Deep South, 2014) en is saamgestel deur Denis Hirson. Alice Inggs het ook van sy gedigte vertaal en dit verskyn in die aanlyntydskrifte Asymptote en Europe now.

’n Keuse uit sy verse is deur Pierre-Marie Finkelstein in Frans vertaal en is in 2015 in die tydskrif Po'amp'sie (no 153-154) gepubliseer.

In November 2017 word die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs aan Nathan toegeken nadat sy vrou, Ronelda Kamfer, dit in 2015 ontvang het. Die beurs beloop R400 000 en word vir ’n skryfprojek toegeken.

Trantraal se voorstel is, volgens die beoordelaars, deeglik uitgewerk vir ’n grafiese misdaadroman wat op die Kaapse Vlakte afspeel. Dit sal kwessies aanraak wat van toepassing is op die breë Suid-Afrikaanse samelewing: "Die inhoud en genre is uitdagend, opwindend en vernuwend en het uitgestaan bo ’n aantal werklik uitstekende aansoeke. Hier is ’n dapper stem – een wat die grense van die letterkunde verlê."

Nathan se reaksie op hierdie toekenning was dat dit ’n groot oomblik vir grafiese kuns en comics in Afrikaans én in Suid-Afrika is. "Die beurs laat my toe om te fokus op die beplande grafiese roman."

In 2018 is Nathan die vertaler van Long way down wat in 2017 deur die Amerikaanse skrywer Jason Reynolds geskryf is. Nathan het hierdie verhaal oor vuurwapengeweld vertaal om aan te pas by Suid-Afrikaanse omstandighede. Die titel is Lang pad onnetoe en is deur Lapa uitgegee. Die Amerikaanse weergawe het met elf toekennings weggestap. Izak de Vries van Lapa het die roman beskryf as "’n woedende, verbluffende en briljante jeugroman wat in kort, vurige staccato-versvorm vertel word om ’n rou, eerlike blik op vuurwapengeweld te bied". (Die Burger, 12 Desember 2018)

Oor die vertaling vertel Nathan aan afrikaans.com oor wat so spesiaal aan die boek is: "Die Engelse weergawe Long Way Down is ’n besonderse boek in sy eie reg. Dit is ’n boek vir tieners wat nie tieners patronize nie. Die boek gan oo gun violence in America, en dit is die soot topics wat mense gewoonlik dink nie vi tieners is nie. Maa teenagers is presies die mense wie die meeste confronted wôd met die harhest aspects vannie society wat hulle in bly. Innie Syd-Afrikaanse context dink ek, en ek mag vekeed wies, maa dit is die eeste published vertaling van ienagge boek in Kaapse Afrikaans soevê ek wiet."

Oor hoe hy te werk gegaan het om Long way down te vertaal, vertel Nathan aan afrikaans.com: "Ek het iet soes ses maande gehad om die boek te vetaal, maa ek was soe biesag met anne goed dat ek nie daaby kan ytgekom et ie. Met soe drie wieke oo ommit klaa te maak het ekkie tyd gehad om te veel te dink daaoo nie. En toe sit ek maa net en vertaal vi drie dae straight, met omtrent drie ure se slaap tussenin. En die heeltyd hoep ek dat ek nie yt solutions run vi die problems wat vertaling create vi die vertaler ie. As ek veskriklik moeg is, dan volg ek maa net my instincts, en los die dink wêk. Dit is min of meer hoe ek die ritme gekry et."

Maar dit was nie vir hom ’n lekker proses, hoewel dit lekker was om dit te lees toe dit klaar was, sê Nathan: "Tewyl jy op ’n vertaling wêk, moet jy eintlik yt jou kop sit wie die skrywer is of wat die waarde is van wat jy doen ens. Dit wôd vi my maa net nogge job, wat my utmost concentration need. En daa is niks enjoyable daa an nie. Rewarding ja, maa nie lekke nie."

Shirmoney Rhode is die resensent van Lang pad onnetoe op LitNet: "Om van die Kaapse Vlakte te kom en Lang pad onnetoe deur Jason Reynolds (oorspronklik Long way down en vertaal deur Nathan Trantraal) te lees, is soos om ’n splinter uit jou voet te haal met ’n skerp spyker. ’n Leeservaring waarin jy jou eie wonde verder oopkrap omdat die storie só bekend en close to home is. Ek moes plek-plek die boek neersit om asem te skep, want ek is (veral nou met die bendegeweldkrisis op die Kaapse Vlakte) uiters sensitief oor die onderwerp. Dis ook waarom hierdie boek so relevant is.

Alhoewel Jason Reynolds Amerikaans is, is die temas van die boek universeel en lees dit asof die boek in die Kaap afspeel. Dis natuurlik te danke aan Nathan Trantraal se sublieme Kaapse Afrikaanse vertaling van die boek."

"Lang pad onnetoe vertel die storie van ’n 15-jarige seun, Will Holoman, wie se ouer broer twee dae vantevore doodgeskiet was en daarom moet hy die reëls wat van generasie tot generasie aan veral seuns oorgedra word, toepas. Die reëls is: Moenie huil nie, moenie piemp (vir die polisie sê wie die moordenaar is) nie, en neem wraak vir die bloed van jou bloed." [...]

Nadat Will sy broer se geweer in die hande kry, klim hy in die hysbak met die doel om reël nommer drie tot uitvoer te bring. Maar toe hy in die hysbak klim, begin dinge eienaardig word. Die hysbak stop op elke vloer en dan klim daar iemand in wat verbind is aan die situasie waarin Will hom bevind.

Rhode gaan voort: "Die rit af tot op die 1ste vloer neem 67 sekondes en die inhoud pas by die vertelde tyd, want die gedigte is kort en ritmies. Vir Will voel dit soos ’n ewigheid, omdat hy gekonfronteer word deur die karakters en nuwe informasie in die hysbak. Op die 1ste vloer staan Will by ’n kruispad en moet hy een van die belangrikste keuses van sy lewe maak …".

"Die titel van die bundel, Lang pad onnetoe, sluit aan by die feit dat Will nie kan wag om uit die hysbak te kom nie, maar dit het ook ’n dubbele betekenis: disfunksionele besluite en reëls wat van generasie tot generasie oorgedra word en uiteindelik die ondergang van mense veroorsaak. Die gebruik van Kaaps vir die vertaling is uiters geslaagd, veral as jy dit met die oorspronklike teks vergelyk. Reynolds gebruik ebonics (African American Engels) en daarom maak die boek vir my meer sin in Kaaps (eerder as Standaardafrikaans). Die Kaapse vertaling behou die nodige ritme van die oorspronklike teks. Die titel van elke gedig vloei in die gedig en moet dus nie apart van die inhoud van die gedig gelees word nie."

"Van die hooftemas is die trauma en effek van bendegeweld op die individue, maar ook gemeenskappe, die rouproses van diegene wat familie en vriende weens bendegeweld verloor, en die rol wat dwelms en dwelmhandel speel. Die boek verf ’n algehele prent van hoe die sogenaamde gangster tot op die punt kom om iemand anders se lewe te vat. Dit ontmasker die gangster en laat jou die kind agter die masker raaksien." 

"Lang pad onnetoe sou ’n uitstekende voorgeskrewe boek wees vir skoliere. Die inhoud is maklik om te volg en na aan baie leerders se verwysingsraamwerk. Dit spreek die realiteite van leerders aan en behalwe dat dit vir hulle interessant sal wees, sal dit hulle ook moontlik kan beïnvloed om beter keuses te maak. Dis ’n uitstekende en broodnodige teks wat gesprekke rondom bendegeweld en ander sosiale euwels in die klas kan laat begin. Wat baie leerders nodig het, is dat iemand na hulle moet luister en moet verstaan waarmee hulle daagliks te kampe het, en die inhoud van die boek sit die fynste besonderhede in konteks sodat die leser Will se situasie sien vir wat dit regtig is. Die boek is beslis ’n moet-lees, nie net vir skoliere nie, maar enigeen wat graag wil verstaan wat regtig agter die skerms van 'skollies' se lewens gebeur."

Marita van der Vyver het in Rapport (20 Januarie 2019) as volg oor Lang pad onnetoe geskryf: "'Briljant' is ’n woord wat ’n resensent so spaarsaam soos wierook behoort te gebruik, anders hang die lofwolke naderhand so swaar in die lug dat ’n potensiële leser bedwelm kan raak. Maar soms, net soms, kry jy te doen met ’n projek waar ander woorde tekort skiet. Vir Lang pad onnetoe kan ’n mens minstens drie wierookstokkies aansteek. Die eerste is vir Jason Reynolds se oorspronklike Long Way Down (2017), ’n briljante vuishou-in-die-maag van ’n boek oor die stedelike straatkultuur van geweld en dwelms en bendes en wraak. Dié jeugroman in vrye versvorm is reeds bekroon met ’n lys van pryse wat selfs langer is as die jong skrywer se indrukwekkende dread­locks. Die tweede is vir Miemie du Plessis van Lapa-uitgewers wat die briljante idee gekry het om die boek in Kaapse Afrikaans te laat vertaal, want op die Kaapse Vlakte en ander dele van ons wye en droewe land moet vele jong mense daagliks probeer oorleef in dieselfde soort gewelddadige straatkultuur as in die verarmde woonbuurte van Amerikaanse stede. Die derde briljant word toegeken aan die keuse van die vertaler en aan die aangrypende vertaling. Dit is moeilik om aan enigiemand anders te dink wat hierdie skokkende, liriese verhaal so presies rég sou kon laat klink in Afrikaans soos die digter en skrywer Nathan Trantraal."

Op LitNet wou Ronelda Kamfer by Nathan weet watter boeke sy lewe verander het: "Die problem met boeke vi my is dat daa ’n klomp boeke is wat jou liewe change, maa is soes New Year’s resolutions: die change last nooit baie lankie. Ek was agtien toe ek The plague gelies et van Camus, en ek het ampe suicide commit agtena. Ek was vi ’n lang tyd na dai inne deep fog van existential depression – dai boek het my baie kak lat voel oo myself, en it klink soe phony nou, maa in dai way is ek grateful dat die effect van boeke, soes memories, oek fade. Elke boek van Coetzee wat ek al gelies et was vi my soes ’n fuckin … wat’s ie woord, ’n slypsteen, wat my senses gesharpen het; ek het Elizabeth Costello gelies en agtena decide om ’n vegetarian te wod – dai was hoeveel, vyf jaa geliede; ek is nog altyd ’n vegetarian. The catcher in the rye het my gehelp om te realise ek issie mal ie. Hesse se SiddarthaThe glass bead Game, het ’n groot impact gehad op hoe ek die wêreld sien: it seem galles obvious vi my nou, maa daityd het ekkit vi die eeste kee discover."

Nathan het in 2013 The childhood of Jesus van JM Coetzee en This is how you lose her van Junot Diaz gelees en het baie daarvan gehou. Hy vertel aan Kamfer hoekom: "Om Junot Diaz te lies is ampe soes oppie beach te stap en mooi skulpe op te tel. Soes iets wat deurie sea ytgespoel was. Coetzee se writing voel soes hyrie woore agte innie jaat ytgegrawe et. En dan heelnag gelê et inne klein kooi ennie woore polish tot it smooth en mooi is."

In ’n onderhoud met Murray la Vita (Netwerk24, 7 November 2014) vertel Nathan dat die twee broers se liefde vir boeke en lees baie keer ’n afstand geskep het tussen hulle en hulle ouer coloured mense: "Noudat ek ouer is, voel dit vir my of ek prepared is; meer as enigiets ander voel dit vir my ... mens weet van mense van ander social classes se eerste impulse is om jou te patronise ... Ek het vir jare na die art gallery toe gegaan met stukkende skoene en ’n baseball top wat ek by my suster se boyfriend geleen het wat ek elke dag gedra het met die vuil cuffs. So hulle kyk jou aan en perceive jou in a certain way. So as ek myself nie ge-armour het nie – dis vir my soos armour om goed te weet – sou ek nooit kon survive het in die climate nie; dis ’n baie vicious kind of environment."

"Party coloured mense, veral ouer mense, voel kinda' threatened as jy boeke lees. Ek het ’n vriend gehad wie se ma nie wou gehet het hy moet vriende wees met ons meer nie want ons lat haar kind boeke lees."

Nathan praat met La Vita oor armoede: "Ek dink as ’n mens arm grootword, word jy groot met ’n vuil gevoel; ’n gevoel van iets wil áfwas, afwas ... die heeltyd, en nie skoonkom nie. Al plek waar dit vir my reachable voel, is in my kop ... dit moet at least skoon wees; my thinking moet skoon wees ..."

"Toe ons in Mitchells Plain gebly het ... Ons het in ’n baie nice huis gebly in Mitchells Plain, ’n maisonette en oor die jare het my ma-hulle aangebou ... káste ingebou, en almal het gedink dit is ’n verskriklike mooi huis ... Maar ek onthou toe dinge begin uitmekaar val; soos toe my ma en pa divorce, het die huis vir my al hoe vuiler begin voel ... Ons het Lavis toe getrek en ek gewéét hoe dit is in Lavis .... Dis vir my ’n repulsive plek gewees in baie ways ... Niemand het respek vir enigiets nie. Almal is te arm om om te gee; mens kan dit nie meer wegsteek nie; niemand pretend om te hê wat hulle nié het nie."

"Ek het geweet dit is wat ons inwag toe ons trek, maar dit het vir my gevoel ek sal rather dáár gaan bly as wat ek bly in ons huis waar dit voel of niks wil skoon kom nie. Dis obviously ’n gevoel wat van binne af kom. Nóú as ek daarna terugkyk, dink ek wat de fok het my besiel om te dink dis ’n goeie idee om Lavis toe te trek.

"Bishop Lavis het die effect op my gehad dat ek voel ek wil alles wegstrip. Ek het alle airs verloor; als. Ek het rêrig besef wie ek is, want dis die type of plek waar die internal word external. Alles wat op die bodem is, kom op en mense lewe tussen dit. Dis ’n baie weird plek. Dit maak jou alles gewoond."

La Vita onthou hoe hy met die broers en hulle ma oor kuns gepraat het; spesifiek oor die skildery van die Vlaamse barokkunstenaar Jacob Jordaens van die sater wat saam met ’n boeregesin aan tafel sit. Nathan het in ’n e-pos aan La Vita daarop uitgebrei: "Ek en André het ’n running joke waa ôs soe baie as possible characters yt famous horror of sci films try en picture in Bishop Lavis bly, soes byvoorbeeld die alien in Predator, die 80's action horror film starring Arnold Schwarzenegger. Ek sal fascinated daa in wies om te sien hoe hy sal in fit oppe jaat in Bishop Lavis. Die ding wat vir my interesting is daa omtrent is dat dit sal vi ammel net about ’n wiek vat om gewoond te raak aan hom. En dan sal ammel hom maa net begin sien as nogge part vannie fabric vannie plek, nog iemand om mee te drink."

"Die satyr by die kostafel met die familie is dieselfde ding vi my, issie dat hulle nie kan sien hy isse satyr nie, is dat hulle ni omgee nie. Wan poverty en struggle by necessity maak dat mense goed at ’n hyper-accelerated speed process. Ek wiet vanne familie waa die hele familie behalwe die een suste in een jaar dood gegan ’et, ek wiet van klomp broes wie ’n jaa offe paar maande ytmekaa doodgeskiet was. Die mense wat agtebly move an, accept ’it as ’n normal part vanne painful life, sonne om te acknowledge meeste vannie tyd dat ’it ’n painful existence is. Is soes fantasy en reality wat seamlessly begin melt met tyd. Issie ding wat my fascinate vanne boek soes One Hundred Years of Solitude, jy wietie of jy ’it moet lies as fantasy of hyper reality nie."

"My eie skryfwêk operate innie selfde space. As ’n rule skryf ek net oo goed wat ek kan verify of goed wat ek self gesien ’et of experience ’et. Is vi my self somtyds swaa om te gloe dat siekere vannie goed waaoo ek skryf regtig kan gebeurit. Daa is goed wat ek ytgelos ’et yt my boek, omdat ’it unrealistic klink al het ’it gebeu."

"As ek kyk na ’n painting soes die een van Jacob Jordaens dan kyk ek veby die metaphor en die symbolism, ek kyk ’it an en dink die is hoe it vi my was toe ek groot gewod ’et. Die absurd ennie everyday locked inne handshake, en ôs stuck innie mirrel vannie unusual arrangement."

Tasha Pinto skryf op Grocott's Mail as volg oor Nathan Trantraal: "He is unapologetic in every sense of the word as he fiddles with his cigarette box and aligns and taps the pages he has prepared to read to us students. He is authentically himself, down to his casual attire and impenitent Capetonian accent that allows his ‘r’s to roll and his ‘ag’s to brush off any concerns. He affirms his creative expression and his nonchalant attitude with his last piece of advice: 'Whatever comes to mind, write it down'." (https://www.grocotts.co.za/2017/09/25/nothing-but-the-trantraal-truth/)

Publikasies

Publikasie

Urban tribe. Saam met André Trantraal

Publikasiedatum

2003

ISBN

(sb)

Uitgewer

Cape Argus

Literêre vorm

Grafiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Stormkaap: drome kom altyd andersom uit

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624045618 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Grafiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Coloureds. Saam met André Trantraal

Publikasiedatum

2010

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg en Jincom Uitgewers

Literêre vorm

Grafiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chokers en survivors

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780795704888 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

  • Pryse toegeken
  • ATKV-prys vir poësie
  • Ingrid Jonker-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Crossroads. Saam met André Trantraal, Koni Benson en Ashley Marais

Publikasiedatum

2014

ISBN

9781629638355;

Uitgewer

Kaapstad: Isotrope Media

Literêre vorm

Grafiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Alles het niet kom wôd

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780795707919 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wit issie ’n colour nie: angedrade stories

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780795707988 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oolog: gedigte

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780795709517 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Nathan Trantraal as vertaler:

Artikels oor Nathan Trantraal beskikbaar op die internet:

Artikels deur Nathan Trantraal beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top