Chokers en Survivors: Kaaps en in your face

  • 2

Chokers en Survivors
Nathan Trantraal
Kwela (NB Uitgewers)
ISBN 978-0-7957-0488-8
75 bladsye

Koop Chokers en Survivors by Kalahari.com.

I

Hierdie bundel werk met spesifieke leeskodes. Eerstens word dit bemark op die voorblad deur Antjie Krog en Alfred Schaffer, twee gesiene digters uit eie reg. Vir Krog is dit ’n bundel “om sidderend van regop te sit!” en Schaffer vind dit skokkend, skreeusnaaks en ontroerend. Krog beklemtoon dat ons nog nooit so iets in Afrikaans gelees het nie.

Tweedens is die voorblad ’n wasgoeddraad met pennetjies wat die titel vashou – ’n baie knap voorblad wat die impak het van iets efemeers, iets wat weerloos is, iets wat kan wegwaai. (Die voorblad resoneer met die gedig waarin die troostelose bestaan erken word: “Woensdag 16 Februarie 1988”).

Derdens verneem ons dat die digter ’n strip artist saam met sy broer André is, en stripkuns is subversief, ondermynend en krities.

Vierdens word die boek opgedra aan die broer wat hy beskou as “Il miglior fabbro” – wat dus ’n digterlike vriendskap tussen TS Eliot en Ezra Pound aktiveer. Oor hierdie kreatiewe verbintenis is daar al baie geskryf en geteoretiseer – en ’n mens kan dus ook The Waste Land lees as ’n teks waarin Pound aangespreek word en dat die voetnote eintlik ’n soort “geheimskrif” tussen hulle was.

Vyfdens word die teks begelei met klassieke en bekende motto’s: onder andere Blake se “London” gooi hier ’n draai.

Hierdie bundel is geskryf in Kaaps en dit is in your face – dit is die beste woorde wat ek kan vind om die bundel mee op te som. Op ’n vreeslose wyse word die ellendes van die Kaapse vlakte vir die leser oopgemaak. Indien jy die bundel lees as ’n gesprek met die broer, kry dit ’n ander dimensie by, naamlik om ’n pynlike jeug te verwerk. Om námens ’n broer ’n stuk geskiedenis op te skryf – dalk onbewustelik met die broer as kontrole, as medebelewer van ja-dit-was-so …

Die bundel gee ’n blik op die wêreld van geweld; dis geskryf in gangsta-taal en tref jou tussen die oë.

Schaffer het gelyk: dis sowel snaaks as ontroerend. Die verse speel die spel van die inconnu, van afwysend staan teenoor die kanon, maar terselfdertyd is daar meer as genoeg blyke dat die digter presies weet wat hier aangaan. Ons sien dit byvoorbeeld in die reeds genoemde motto’s, maar ook in die gedig “Groot verseboek” (38):

Ek ken allie shit al (sic) by heart,
Sheila Cussons, NP van Wyk Louw, Ingrid Jonker.

Die digter sien homself as die “foremost authority op useless poetry”, want in die wêreld waarin hy hom bevind, is die digkuns bepaald ’n luukse. Het Breytenbach nie ook al verwys na Groot verseboek as ’n grap nie? En kyk hoe dig Clinton V du Plessis teen die eise in van die kanon in Rangeer.

Die opdrag tot “The Waste Land” kom natuurlik uit Dante se Heilige Komedie: dit beslaan drie gedeeltes – Inferno, Purgatorio, Paradiso – en wanneer ons kyk na hierdie bundel, is daar ook (toevallig?) drie afdelings.

Nathan Trantraal

Foto: Craig Swartbooi (BlackBoy Photography)

II

 – Die belangrikste aspek van hierdie bundel is die praattaal en in fonetiese Kaaps.

 – Daar is humor.

– Daar is ’n besliste afwysing van enige nostalgie of sentimentaliteit. Die inhoudsopgawe met tydsaanduidings lees soos grafskrifte. Hier is dus ’n duidelike afskeid van ’n pynlike, verwonde jeug.

– Die gebruik van plat woorde is opvallend: cunt, poes, kak, befok, fokkol, piel, nai (sic), fokof.

– Engelse woorde word ook aangetref. Die digter gee ’n weergawe van sy mense se spreektaal.

– Daar is ’n ontmaskering van die familie, en meer spesifiek die gesinsopset. Hy het immers by die moeder, tradisioneel die versorger, geleer om onsentimenteel te wees.

Hammie

My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe.  (31)

– Hier is simboliese vadermoord. Die vader word letterlik aangeval, soos in “Fifa 06” (52).

– Dit is gedigte wat ’n storie vertel.

– Dit wil duidelik on-poëties wees. Teenoor al die veld is vrolik, vind ons ’n “dywel het alwee al sy pielhare afgeskeer” op die maat van “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei” (69).

– Daar is ’n verwysing na drugs (soos buttons byvoorbeeld), cassette, porn, DVD’s, CD’s en karaoke. Dus ondigterlike of tegniese woorde wat die gedig binnedring.

– Die private word ontmasker en betree (masturbasie): “die Here wiet allien 1” (67).

– Die tronkbestaan / gangsters versus ’n godsdiens (geloof) word ontgin.

– Terselfdertyd is daar genoegsame verwysings na ander digters, wat ’n bekendheid met die digkuns aandui. Hier vind ons ’n duidelike ambivalensie by die spreker, wat enersyds ingelig is, maar andersyds soos Gert Vlok Nel maak asof hy nie weet wat eintlik aangaan nie.

– Die gedigte wil soos strokiesprente toeganklik wees en soos in hierdie subgenre die medium gebruik om sosiale kommentaar te lewer. ’n Mens dink hier oa aan Bitterkomix en die digter se eie werk as kommentator in die Cape Times. Soos by Bitterkomix is die skokkende aspek die dinamo van die teks.

– Die spel met die outobiografie – oa deur verwysings na sy vrou, Ronelda, en sy broer – neem ons terug na die Beats se hantering van vriende wat as werklike mense in die gedigte beland het.

– ’n Sterk satiriese aanslag soos “Hard to kill trilogy (DVD Boxset)”, 23.

 

III

By ’n deegliker lees word die leser egter gedwing om te kyk na die poëtiese tegnieke wat aangewend word. Die sterk narratiewe aanslag en slotreëls tref.

Die digterlike proses word so al spelende ontmasker, soos in die reeds genoemde gedig oor Groot verseboek. In “South Korea” (36) bely die spreker: “omdat ek wiet my poetry is kak/ en dat ekkie kan skryfie.”

Maar dis inderdaad net ’n faux-tegniek, om al sy sieninge oor die digkuns uit te stal. Die digter is immers – en dit is vir ’n belangrike kode – stripkunstenaar.

Miskien sal daar lesers wees wat voel die aanslag is te eenselwig en dat dit die reikwydte mis van byvoorbeeld Gert Vlok Nel se om te lewe is onnatuurlik.

Die bundel gee die manlike perspektief op die digter se vrou, Ronelda S Kamfer, se Noudat slapende honde. Digters wat onder een dak saamwoon, tree dikwels in gesprek met mekaar.

Op bladsy 57 staan daar verkeerdelik Fuhrer.

Die bundel is ook beskikbaar as ’n e-boek en Kwela het dit uitgegee.

 


Joan Hambidge doseer kreatiewe skryfwerk aan die UK. Haar jongste bundel is Lot se vrou (2012) en in September verskyn ’n bundel wat Meditasies heet.


 

Boekbekendstelling: Nathan Trantaal se Chokers en Survivors (4 Julie 2013)

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Annemarie van Niekerk

    Ek dink dat Trantraal se bundel DIE poësie event van die jaar gaan word. Dis beslis soos Joan sê, soos die stripkuns wat hy beoefen, het ook sy gedigte iets subversief, ondermynends en krities, maar terselfdertyd (soos die voorblad suggereer) iets weerloos. En ja, dit is sonder twyfel in your face poetry, dit gryp jou aan jou keel, en wurg jou nog lank nadat jy dit gelees het. Dis wat poësie met mens moet doen. En soos Joan sê is dit 'n satiriese en vreeslose aanpak van 'n stuk geskiedenis, 'n stuk daaglikse lewe wat vol suffering is, maar ook die pragtigste momente van skoonheid en sublimasie bevat.

    Maar miskien is hierdie resensie tog die regte oomblik om die hele taalkwessie aan te sny. Daar heers op die oomblik 'n groot verwarring oor wat Kaapse Afrikaans en gangsta-taal en straattaal is. Joan noem hier dat Trantraal gangsta-taal gebruik. Dit is egter nie die geval nie. Dis Kaaps wat hier gebruik word, en dit is nie dieselfde as gangsta-taal nie. En dan is daar deesdae ook gedigte van Marlene van Niekerk en ander waarvan daar gesê word dat dit Kaaps is, terwyl diegene wat Kaaps praat niks van hulle taal daarin herken nie. Miskien moet die mense wat nie regtig outentieke Kaaps kan praat nie, maar wegbly van probeer om in Kaaps te skryf en dit liewer oorlaat aan diegene wat kennis van die taal het. Met 'n namaak-Kaaps doen jy die mense wat Kaaps praat geen guns nie, inteendeel, jy beledig hulle.

    Nogmaals 'n high five vir Nathan. Ek het 'n sterk vermoede dat hy en hierdie bundel van hom vanjaar met 'n klompie pryse gaan wegloop.

  • As iemand wat Nathan ken en in dieselfde area groot geword is dit 'n voorreg om te sê ek is baie trots op hom en sy broer met al hulle harde werk. Hy gebruik die taal waarin hy gemaak en laat staan is en hustle dit tot sy doeleindes. Laat die kaapse taal pronk soos die love gap waaruit dit kom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top