Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n LitNet-Akademies-resensie-essay

  • 1

Om het hart terug te brengen (Nederlandse titel) en Onder ’n bloedrooi hemel (Afrikaanse titel) deur Annemarié van Niekerk

Annemarié van Niekerk is vanjaar by die Easy Equities-skrywersfees by die Toyota US Woordfees. Hier is nog inligting.

1.  Onder ’n bloedrooi hemel en die navorsing oor Suid-Afrikaanse outobiografieë

Annemarié van Niekerk se indrukwekkende Onder ’n bloedrooi hemel bevat aan die begin ’n “Verantwoording” waarin sy die leser oriënteer met betrekking tot die aard van die teks wat voorlê. Sy skryf daarin dat die teks gebaseer is op “historiese, biografiese en outobiografies gegewens, gefilter deur die geheue en verbeelding”. Sy verwys ook daarna dat die teks “oorwegend geënt is op die verhalende prinsipes van die roman” en dat dit as sodanig tuishoort by faction, die genre bekend gemaak deur Truman Capote se teks In cold blood. Die leser lei dus af dat die teks tuishoort by die hibriede genre van outobiografie wat al beskryf is as “the pirate of literary genres, raiding the other genres to fulfill itself” (Abbott 1988:600). Ek het altyd aangeneem dat dit beteken dat hierdie soort teks enigiets sal doen wat nodig is om sy doel te bereik, en die doel – as ’n mens so ’n woord durf gebruik – van hierdie soort teks is gewoonlik dwingend en kompleks: Dit word meestal gedryf deur persoonlike nood, dikwels in interaksie met die behoeftes van ’n groter gemeenskap.

n Wye verskeidenheid tekste kan tuisgebring word onder die noemer outobiografie: briewe, dagboeke, reisjoernale, memoires, ook gedeeltelike en vollengte-outobiografieë. Van Niekerk beskryf haar teks op die titelblad as ’n “memoir”. ’n Algemene onderskeid is dat die outobiografie gewoonlik die skrywer se volle lewensverhaal is, terwyl ’n memoir fokus op ’n bepaalde gedeelte van die skrywer se lewe. Van Niekerk se boek fokus op haar lewe vanaf geboorte tot in die middel negentigerjare en fokus dan ook op gebeure in 2015 en 2016–2017. Sy sê eksplisiet in die “verantwoording” dat sekere dele van haar lewe weggelaat word. Elders lees ek dat die memoir vroeër die konnotasie van informaliteit gehad het, van “a casually constructed affair and not a serious literary effort” (Bruss 1976: 7). Dit is nié die geval in Van Niekerk se teks nie: Onder ʼn bloedrooi hemel is ʼn bewustelik gekomponeerde terugblik op haar eie lewe wat deur die gebruik van bepaalde literêre tegnieke beslis die aanskyn het van ʼn poging om literêre waarde aan die teks te gee.

Die genre faction is bekend gemaak deur Truman Capote se teks In cold blood

Omdat Van Niekerk self navorsing na outobiografiese tekste uit die Suid-Afrikaanse oorlog gedoen het, mag dit insiggewend wees om Onder ’n bloedrooi hemel te lees vanuit die agtergrond van die opbloei van navorsing oor Suid-Afrikaanse outobiografieë in die 1990’s. In hierdie navorsing is daar nie net gefokus op die teorievorming rondom outobiografiese tekste (veral die werk van H Porter Abbot, James Olney, Paul John Eakin, Robert Elbaz en Philippe Lejeune) nie, maar ook op die kenmerke eie aan Suid-Afrikaanse outobiografieë. Kongresse en tydskrifnommers is gewy aan Suid-Afrikaanse outobiografieë, universiteitskursusse is daaroor aangebied, en nagraadse studente het verhandelinge en proefskrifte daaroor geskryf. Dié navorsing is gestimuleer deur die groot aantal Suid-Afrikaanse outobiografieë wat vanaf die 1970’s begin verskyn het, en ook deur ’n nuwe openheid in die literatuurstudie wat vroeër liefs gekonsentreer het op “hoë” literêre genres soos die roman en poësie. Onder die invloed van nuwe literêr-teoretiese paradigmas, soos die feministiese literatuurteorie, Marxistiese literatuurstudie, genderstudie, die poststrukturalisme en postmodernisme, literatuursosiologie en identiteitstudie het daar belangstelling ontstaan in vroeër gemarginaliseerde genres soos die outobiografie en die omstandighede waaronder hulle geproduseer is.

.....
Suid-Afrikaanse outobiografieë is heel dikwels die verhaal van ’n gemeenskap eerder as van ’n individu.
.....

Binne die Afrikaanse literatuurstudie was dit veral die werk van Helize van Vuuren (1996), Eduan Swanepoel (1996), Ena Jansen (1998, 1999, 2003) en Annemarié van Niekerk self (2001) wat die aandag getrek het. Van Vuuren (1996:12–13) argumenteer dat Suid-Afrikaanse outobiografieë hoofsaaklik verband hou met twee belangrike periodes in die Suid-Afrikaanse geskiedenis: Die outobiografieë van wit Afrikaanse skrywers is gewoonlik gesentreer rondom die Suid-Afrikaanse oorlog oftewel Anglo-Boereoorlog (1899–1902), terwyl die outobiografieë van swart Suid-Afrikaanse en wit Engelssprekende skrywers hoofsaaklik fokus op die jare onder die apartheidsbestel (1948–1990). In beide gevalle, meen Van Vuuren, verteenwoordig die outobiografiese werke oor hierdie twee periodes ’n kollektiewe, eerder as ’n individuele bewussyn. Eduan Swanepoel (1996:27) beweer aansluitend hierby dat Suid-Afrikaanse outobiografieë heel dikwels die verhaal van ’n gemeenskap is eerder as van ’n individu. Hy meen dat die groot aantal outobiografieë deur swart en wit skrywers oor die apartheidstyd bepaal word deur hulle identifisering met ’n breër gemeenskap en sien daarin ’n ooreenkoms met die outobiografieë wat na die Suid-Afrikaanse Oorlog verskyn het. Ena Jansen (1998, 1999, 2003) bepaal haar grootliks by die bestudering van outobiografieë uit die Suid-Afrikaanse Oorlog en vra vrae oor die dokumentêre, morele en estetiese gehalte van sulke tekste, dit wat ’n postkoloniale perspektief bydra tot die lees daarvan en die perspektiewe wat dit op identiteitsvorming bied.

Een van die mees omvattende artikels uit hierdie tyd is Annemarié van Niekerk (2001) se ondersoek na die outobiografiese tekste van vroue oor die Suid-Afrikaanse Oorlog vanuit ’n genderperspektief. Sy vra haar af in welke mate die genre van die outobiografiese teks vroue in staat gestel het om ’n eie stem en identiteit te vind binne ’n mangedomineerde wêreld en literêre tradisie. Sy kom tot die gevolgtrekking dat die antwoord hierop beide nee en ja is. Dit is nee omdat hulle steeds hulle ondergeskiktheid aan mans betuig het, omdat hulle eie identiteit altyd in terme van diensbaarheid aan ander verwoord is, omdat hulle geskrifte dikwels gebruik is om die ideologie van Afrikanernasionalisme te bevorder, en omdat hulle nie kon insien dat swart mense hulle gelykes is nie. Die antwoord is egter ook ja, omdat hulle wel vir hulleself ’n private ruimte geskep het waarin hulle kon skryf en hulleself kon uitdruk, waarin hulle oor hulleself en met ander kon praat, waarin hulle definisies van die self en menslike lyding kon formuleer téén dié van formele geskiedskrywing in, en waarin hulle hulle eie verhale as terapeutiese instrumente kon opeis.

.....
Dit is ’n teks wat fokus op die apartheidsjare en wat die individu se ervaring binne dié van die gemeenskap teen die agtergrond van ‘n groter polities-historiese konteks plaas. Een van die motto’s, woorde van die Sioux-heler Heháka Sápa oftewel Black Elk, bevestig dit:
“[I]f it were only the story of my life, I think I would not tell it.”
.....

Die verhouding van Van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel met die Suid-Afrikaanse outobiografiese tradisie en die navorsing daaroor (ook haar eie) is iets wat verdere ondersoek verg, maar ek wil tog op enkele raakpunte wys. Dit is duidelik dat Van Niekerk se teks aansluit by die tradisies wat Van Vuuren en Swanepoel uitwys: Dit is ’n teks wat fokus op die apartheidsjare en wat die individu se ervaring binne dié van die gemeenskap teen die agtergrond van ‘n groter polities-historiese konteks plaas. Een van die motto’s, woorde van die Sioux-heler Heháka Sápa oftewel Black Elk, bevestig dit: “[I]f it were only the story of my life, I think I would not tell it.” Dit is egter nie ’n outobiografiese teks waarin die skrywende individu op eenduidige wyse die kollektiewe ervaring van die gemeenskap vertolk nie; sy bevraagteken die waardes van die gemeenskap waartoe sy op grond van geboorte behoort en dit blyk later dat sy die grense van die gemeenskap waarmee sy identifiseer, op ander maniere wil trek as wat afstamming bepaal.

Voorbeelde van outobiografiese tekste: Breyten Breytenbach se The true confessions of an albino terrorist (1984), Antjie Krog se Country of my skull (1998), en Elsa Joubert se Reisiger (2009)

Sy word byvoorbeeld met haar vertrek uit haar geboortestad en ouerhuis deel van ’n steeds groter gemeenskap. Die universiteitsgemeenskap van Transkei waarby sy in 1986 aansluit wanneer sy begin werk, is veel meer divers wat ras, klas en taal betref as wat sy tydens haar studentejare by die Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU) ervaar het. Die literêre gemeenskap in Johannesburg waarvan sy later deel word deur haar verhouding met Denzel Daniels en die Vista-universiteitsgemeenskap is selfs nog meer divers as dié in Umtata (Mthatha), ook veel meer gesofistikeerd, kosmopolities en polities progressief as wat sy in Transkei gewoond was. Verder is daar ook raakpunte met Van Niekerk se eie ondersoek wat die dubbelsinnige aard van vroue se outobiografiese tekste oor die Suid-Afrikaanse Oorlog uitgelig het. Haar memoir beklemtoon die ervaring van wat dit beteken om as wit Afrikanervrou jou weg te probeer vind tydens die apartheidsjare en kort daarna. Dit beklemtoon eweneens hoedat haar pogings tot die vestiging van ’n eie identiteit verloop, ook hoedat vroue steeds ’n ruimte moet afbaken waarin hulle hulle eie ervarings kan prosesseer en hulle eie stories kan opeis. Dit is ook veelseggend dat sy nie huiwer om te wys hoedat sy haarself in die gewelddadige verhouding met Denzel op ‘n uiters ongemaklike interseksie van ras, gender en klas bevind nie. Ook hier is die antwoorde nie ondubbelsinnig en eenduidig nie. Dit is ook betekenisvol om hierdie outobiografiese teks deur Van Niekerk te lees teen die agtergrond van die belangwekkende bloemlesings van vrouetekste wat sy versorg het: Raising the blinds. A century of South African women’s stories (1990), Vroue-vertellers. 1834–1994 (1994), The torn veil. Women’s short stories from the continent of Africa (1998); en saam met Pieta van Beek My mother’s mother’s mother. South African women’s writing from 17th-century Dutch to contemporary Afrikaans (2019). Dit is opmerklik dat twee van die titels (Raising the blinds en The torn veil) suggereer dat vroue se ervaring en skryfwerk daarmee in die oopte gebring word, net soos wat hierdie memoir Van Niekerk se persoonlike ervarings onthul.

.....
Dié publikasiegeskiedenis suggereer dat die boek gerig is op meer as een gehoor, iets wat bevestig word deur die feit dat die Nederlandse en Afrikaanse titels verskillende aspekte van die boek uitlig.
.....

Van Niekerk dui voor in die boek en ook in onderhoude aan dat die boek tegelykertyd in Afrikaans en Nederlands tot stand gekom het, ook dat die Nederlandse weergawe wat in 2021 gepubliseer is as Om het hart terug te brengen uiteindelik “terugvertaal” is na Afrikaans deur Daniel Hugo in samewerking met die skrywer. Dié publikasiegeskiedenis suggereer dat die boek gerig is op meer as een gehoor, iets wat bevestig word deur die feit dat die Nederlandse en Afrikaanse titels verskillende aspekte van die boek uitlig. Die Nederlandse titel sinspeel op die terapeutiese waarde wat die skryf van ’n memoir soos hierdie kan hê: Dit verwys na ’n inheemse struik wat in Sotho motlepelo (“om die hart terug te bring”) genoem word en in die tradisionele geneeskunde gebruik word om angs, depressie, paniekaanvalle en vermoeidheid te verlig (181). Die Afrikaanse titel Onder ’n bloedrooi hemel suggereer op die oog af ‘n skakel met die (bloedige) geweld waarvan die boek vertel. Volgens een van die motto’s voor in die boek is dit gehaal uit U2 se liedjie “New Year’s day” waarin die frase “under a blood red sky” voorkom, maar wat sinspeel op die hereniging van dit wat in twee geskeur is (“Though torn in two / We can be one”). Dit klink dus asof die Afrikaanse titel tegelykertyd geweld én die moontlikheid van versoening daarná wil oproep; die ondertitel van beide uitgawes verwoord immers die gedagte van “liefde en geweld in Suid-Afrika”.

n Mens kan ook Onder ’n bloedrooi hemel lees teen die agtergrond van ’n reeks outobiografiese tekste deur Afrikaanssprekende skrywers wat vanaf die 1970’s verskyn het en sterk klem lê op die politieke konteks waarbinne die geskryfde lewe afspeel. Daar is byvoorbeeld Breyten Breytenbach se reeks outobiografiese tekste wat begin met ’n Seisoen in die paradys (1976) en The true confessions of an albino terrorist (1984), Return to paradise (1993), Dog heart (1998) en A veil of footsteps (2008) insluit. Daar is ook Antjie Krog se Country of my skull (1998), Karel Schoeman se Die laaste Afrikaanse boek (2002) en Elsa Joubert se tekste ’n Wonderlike geweld (2005), Reisiger (2009) en Spertyd (2017). Uit hierdie (weliswaar onvolledige lys) is dit veral Krog se teks wat lyk na ’n voorganger vir dié van Van Niekerk, onder andere vanweë die gemoeidheid met geweld en die indringende ondersoek na die self as Afrikaner.

2.  Struktuur en samehang in Onder ’n bloedrooi hemel

2.1 Die reis as struktuurelement

Een van die mees opvallende eienskappe van Onder ’n bloedrooi hemel is die behendige strukturering van die teks aan die hand van ’n drietal reise. Die roman val uiteen in vier dele, elk gemerk deur verwysings na plek en tyd. Hiervan is dit slegs die eerste gedeelte, “Die dag”, wat nié gestruktureer is rondom ’n reis nie, maar gebeure beskryf wat die motoriese moment en stukrag vir die skryf van die memoir verskaf.

Die dag” speel af op 15 Augustus 2015 op die dorpie Ida, geleë tussen Indwe en Elliott in die noordelike gedeelte van die Oos-Kaap. Dit verskaf aanvanklik ’n mooi pastorale inleiding vir die boek: Die dorpie Ida en die plaas Pinevale word rustig en talmend beskryf; so ook die leefwyse van tannie Hermien Gouws wat ’n plaaswinkel op Pinevale bedryf en haar seun Ruben, wat vroeër onderwyser was by ’n plaasskool in die omgewing, maar nou afgetree is. Die rus word egter wreed versteur wanneer beide Ruben en tannie Hermien vermoor word deur drie jong swart mense, van wie twee leerlinge van Ruben was. Daar word ook geskryf oor die gebeure onmiddellik na die moord, naamlik die bure se reaksie, die polisie se optrede en die inhegtenisneming van die skuldiges. Die vertellerstem in hierdie afdeling is empaties, maar tog neutraal en afstandelik deurdat die jy-vorm eerder as die ek-vorm gebruik word. Die subjek wat – soos die teoretikus Philippe Lejeune (1989:5) betoog het – tegelyk die skrywer, verteller én protagonis van die outobiografiese teks is, staan in hierdie aanvangsgedeelte nog in die agtergrond, selfs in die skadu.

Die volgende drie afdelings is dan elk gekonstrueer om ’n bepaalde reis, wat ’n bepaalde dinamika en momentum aan die vertelling gee, omdat dit deur tyd en plek beweeg. Dit verskaf ook die deurlopende draad waaraan terugflitse gehaak kan word ten einde die verteller se lewensverhaal te konstrueer. Momente tydens die reis (veral gesprekke en plekke) verskaf telkens die stimulus om terug te keer na ’n bepaalde gedeelte van haar lewe en die geskiedenis van die land. In hierdie afdelings tree die subjek weldeeglik na die voorgrond as die verteller van haar eie verhaal. Lejeune het ook geskryf dat die skrywer van ’n outobiografiese teks ’n ooreenkoms (“le pacte autobiographique”) met die leser sluit dat die lewensverhaal so na as moontlik aan die “waarheid” vertel sal word, terwyl die leser onderneem om die teks as geloofwaardig te aanvaar (vgl Eakin in die voorwoord van Lejeune 1989:ix).

Die tweede afdeling van die memoir is getitel “Die eerste reis” en verwys na ’n reis van Port Elizabeth (die destydse naam vir Gqeberha) na Umtata in Februarie 1986. Die verteller word deur haar pa geneem om haar eerste betrekking as dosent in die Afrikaanse letterkunde by die Universiteit van Transkei (Unitra) op te neem. Die vertrek vanaf haar geboortestad Port Elizabeth om vir die eerste keer ’n onafhanklike lewe te begin lei, en die rit saam met haar pa, bied die geleentheid vir terugskouing op haar lewe tot op daardie punt. Opvallend van haar terugblik is die wyse waarop sy die besonderhede van haar persoonlike lewe in die groter sosiale en veral politiese konteks inbed. Wanneer sy vertel dat sy in 1962 gebore is, vertel sy byvoorbeeld ook dat dit die periode was waarin die Afrikanernasionalistiese regering van HF Verwoerd maatreëls soos die sabotasiewet ingestel het wat voorsiening gemaak het daarvoor dat mense sonder verhoor in huisarres geplaas kon word (44). Omdat sy op die punt staan om haar lewe as onafhanklike volwassene te betree, is dit ook die deel waarin sy lig werp op haar grootword- en studiejare in Port Elizabeth. Die familie waaruit sy kom, is “Afrikanernasionaliste en kerkmense” (56). Haar pa is ’n bedryfsekonoom en dosent aan die Universiteit van Port Elizabeth; haar ma is ’n huisvrou en voorsitter van Dames Aktueel, gesteld op korrekte gedrag en geneig tot depressie. Hulle lei ’n lewe georden volgens bepaalde hiërargieë wat sy as kind sonder teëspraak aanvaar het: “Niemand het dit vir my geleer nie, ek weet dit net. In die streng hiërargie van my jeug is kinders ver onder volwassenes, maar swart mense nog laer as wit kinders” (51). Dit is ’n patriargale stelsel waarin die wit man die hoof van sy familie en die huishouding is: Haar pa duld geen teëspraak van sy vrou en kinders of van die swart vrou Angeliena wat hulle huisbediende is nie.

Uit die vertellings blyk ook die klassehiërargie wat sy as kind ervaar. Dit lyk of hulle as Afrikaners ’n laer sosiale status het as hulle meer gesofistikeerde Engelse bure. Haar pa se aggressiewe Afrikanerskap (hy betuig meermale sy afkeer van “die Engelse”) en sy gedrag wat by tye grens aan die oordadige (hy vergryp hom soms aan “kos, drank en geselligheid”, 58), speel waarskynlik ’n rol hierin. Dwarsdeur haar skoolloopbaan leef die verteller – al is dit dan soms met wrewel – volgens die beginsels van die Christelike Afrikanernasionalisme; sy vertel byvoorbeeld van die Voortrekkerbeweging (91), Christelike verenigings soos die CSV (125) en skoolverlaterskampe (128–9). Hierdie is ook die gedeelte waarin sy vertel van haar grootouers aan vaderskant en die kuiers op hulle Vrystaatse plaas naby Fauresmith. Hier bring sy ook haar familie se betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse Oorlog ter sprake. Sy vertel ook van die vier maande lange verblyf by hulle grootouers aan moederskant op Worcester terwyl haar ouers oorsee is vir ’n studiereis van haar pa. Deurgaans is haar pa die groter en dwingende invloed op haar lewe; haar ma is meer afstandelik en sterf van ’n breintumor wanneer sy, die verteller, net 19 jaar oud is (108–9). Sy beskryf ook haar studentelewe en die verhouding met haar Duits-dosent Friedemann Grenz, ’n getroude man wat meer as 20 jaar ouer as sy is (104). Hy is een van die min dosente wat ’n ware intellektuele ingesteldheid het; hy leer haar om vir haarself te dink en maak haar oë oop vir die politieke ongeregtigheid in die land, maar word later gedwing om die universiteit te verlaat vanweë sy politieke aktivisme (111–2).

Soos reeds gesuggereer, is die uitgangspunt van hierdie memoir dat die persoonlike onvermydelik met die politiese verstrengel is. Die vertelling toon dus dat die protagonis se lewe afspeel teen die agtergrond van sekere opspraakwekkende politieke gebeure soos die Soweto-opstand teen die afdwing van Afrikaans in skole in Junie 1976, die implementering van die tuislandbeleid, die militêre diensplig wat alle jong wit mans moes doen, die Grensoorlog en die End Conscription Campaign. Daar word ook oorsigte gegee van die Suid-Afrikaanse geskiedenis vanaf 1652, met verwysing na sommige van die mees skokkende politieke gebeure gedurende die 1970’s en 1980’s, soos die dood van Steve Biko in polisie-aanhouding in 1977 en die moord op die Cradock 4 en Pebco 3 in 1985.

.....
Verskillende stemme word aan die orde gestel in hierdie afdeling:
dié van ’n kind wat haar ervarings in ’n naïewe stemtoon beskryf; dié van ’n adolessent en later jong vrou wat politieke bewuswording beleef; dié van navorser wat die landsgebeure beskryf waarvan sy as kind onbewus was; en dié van (literatuur)historikus wat materiaal oor die Suid-Afrikaanse Oorlog ondersoek het.
.....

Verskillende stemme word aan die orde gestel in hierdie afdeling: dié van ’n kind wat haar ervarings in ’n naïewe stemtoon beskryf; dié van ’n adolessent en later jong vrou wat politieke bewuswording beleef; dié van navorser wat die landsgebeure beskryf waarvan sy as kind onbewus was; en dié van (literatuur)historikus wat materiaal oor die Suid-Afrikaanse Oorlog ondersoek het. Dié stemme vervat op ’n vlot en helder manier die een op die ander. As ouer vrou wat terugkyk op haar lewe, het sy in die memoir die geleentheid om haar lewe te plaas teen die agtergrond van die groter Suid-Afrikaanse geskiedenis en kyk sy byna met verwondering na haar eie gebrek aan kennis en naïwiteit as kind en jongmens.

Die derde afdeling heet “Die tweede reis” en verwys na ‘n reis wat strek van Amsterdam na Port Elizabeth en van daar na Elliott en Ida in Augustus 2015. Dit is die reis wat sy vanaf haar tuiste in Den Haag na Ida onderneem nadat sy die nuus gekry het dat Ruben en tannie Hermien vermoor is, en sy kom om hulle begrafnisse by te woon. In Port Elizabeth besoek sy haar pa, wat in 2014 ’n breinbloeding gehad het en nou versorg word in die woonstel waarin hy saam met sy tweede vrou, Sonja, woon. Die feit dat die rit vanaf Port Elizabeth tot op ’n sekere punt dieselfde roete volg as wat sy en haar pa geneem het tydens hulle reis na Umtata in 1986, gee haar die geleentheid om te vertel hoe haar lewe ná 1986 verloop het. Van hierdie periode in haar lewe skryf sy: “Wat tydens my studietyd begin het, het in Umtata in ’n stroomversnelling beland” (188). Omdat Transkei ingevolge die tuislandbeleid onafhanklik was, kon sy daar boeke lees wat verbode was in Suid-Afrika en by die ANC-kantoor inloop sonder vrees dat sy ’n wet oortree. Dié gevoel van vryheid was wel iets van ’n illusie, omdat die universiteit in 1976 tot stand gekom het met behulp van die apartheidsregering, wat dit steeds beheer het. Sy vertel egter hoedat sy tog in hierdie periode op onbevange wyse Suid-Afrika se geskiedenis van kolonisering, apartheid en bevryding kon ondersoek en haar kon verdiep in die oorsake van die 1984- en 1986-opstande wat gelei het tot die afkondiging van noodtoestande deur die apartheidsregering.

In Umtata kry sy blyplek by Efata en ontmoet daar haar buurman, Ruben, ’n onderwyser by die naasliggende skool vir dowes en blindes, wat ’n goeie en bestendige vriend word. Hy vertel haar van sy lewe, stel haar bekend aan die omgewing en leer haar hoe om meubels te restoureer. Hy neem haar ook na sy ouerwoning by Ida en stel haar voor aan sy ma, tannie Hermien. By die Universiteit van Transkei ontmoet sy vir Denzel, ‘n dosent in sosiologie (hier gebruik sy ’n fiktiewe naam), met wie sy ’n lewensveranderende verhouding aanknoop. Omdat Denzel nie ’n wit man is nie, reageer haar pa fel op die nuus van hulle verhouding en begin hy haar teister met “briewe soos bomme” (368) waarin hy haar probeer oorreed om af te sien van die verhouding. Hy stig selfs ’n bidgroep in Port Elizabeth om haar tot inkeer te bring. Denzel kry werk in Johannesburg, maar sy moet twee jaar wag voordat sy in 1990 ’n akademiese pos by die Daveyton-kampus van Vista-universiteit kry voordat sy by hom kan aansluit. Vanweë Denzel se werk by Cosaw (Congress of South African Writers), waarby onder andere Nadine Gordimer, Achmat Dangor en Wally Serote betrokke is, word sy deel van die uiters lewendige literêre toneel in Johannesburg in die eerste jare van demokratisering. Sy gaan om met feitlik al die groot name in die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde. By ’n geleentheid ter viering van Joe Slovo se terugkeer uit ballingskap stel Nelson Mandela homself aan haar voor en gesels met haar (289). Sy onderneem ook reise na Duitsland en Zimbabwe, waar sy en Denzel aan kongresse deelneem. Die politieke onrus en geweldpleging van die oorgangsperiode tussen 1990 en 1994 manifesteer egter mettertyd ook in haar verhouding met Denzel wat begin om geweld teenoor haar te gebruik. Sy meen dat die probleem opgelos sal word indien hulle van hulle woonstel in Hillbrow trek na ’n huis in Yeoville, maar die patroon herhaal hom totdat sy uiteindelik besluit om hom te verlaat. In dié tyd woon sy die viering van 90ste verjaardag van tante Pauline (haar pa se tante wat ook haar peettante is) in Fauresmith by, waar daar ’n gedenksteen opgerig word ter ere van haar vader, Franz Reichardt (die verteller se oupagrootjie). Dié besoek lei ’n gedeelte in waarin sy vertel dat familienavorsing uiteindelik getoon het dat sy van nie Reichardt was nie, maar Rösler, ook dat geweld en desepsie “’n bloedspoor getrek het” deur hulle voorgeslagte (313). Haar familie is dus op meerdere maniere deel van Suid-Afrika se geskiedenis van “liefde en geweld”. Sy vertel ook van die eerste demokratiese verkiesing in 1994 en die verrigtinge van die Waarheid-en-versoeningskommissie van 1996 tot 1998.

Eers hierná keer die vertelling terug na die reis na Ida waar sy die begrafnisse van Ruben en tannie Hermien wil bywoon. Dit is opmerklik dat die gedeeltes waarin sy die “draad” van haar reis van Port Elizabeth na Ida verlaat om terug te delf in die periode na 1986, veel langer is as wanneer sy oor die “eerste reis” vertel. Ter afsluiting van hierdie afdeling vertel sy ook die verhaal van die aanval op Ruben se broer en skoonsusters in Ugie, wat sy skoonsuster nie oorleef het nie. Dit is veral in hierdie gedeelte dat die vertelling aangevul word met Suid-Afrika se misdaadstatistiek en moordsyfers.

Die vierde afdeling het die titel “Die derde reis”. Dié keer is dit ’n reis van Amsterdam via Johannesburg, Port Elizabeth en Grahamstad (nou Makhanda) na die omgewing van Elliott, Ugie en Ida in Desember 2016 en Januarie 2017. Hierdie gedeelte begin met ’n verwysing na die psigologiese impak wat die moord op Ruben en sy ma op die verteller het. Ten spyte van die feit dat die hofsaak daaroor afgehandel is, kom daar nie vir haar afsluiting en verligting nie: “Maar die dae kom en gaan steeds kleurloos en haperend. Behalwe my hart, stribbel ook my verstand teë teen berusting” (363). Wanneer sy ook ’n droom het waarin sy in ’n hofsaal deur ’n regter gekonfronteer word met die vraag of sy skuld het aan die gebeure (“’U moet u eie mites konfronteer, want die aard van u medepligtigheid lê waarskynlik daarin opgesluit, u moet u woorde op u tong voel brand en in u ore hoor dreun, want met die bieg begin ook die boetedoening”, 365), besluit sy om die boek te begin skryf wat ons nou lees. Sy besluit om in die teks haar eie mites te konfronteer deur die verhaal van haar vroeëre lewe en die lewe daarna te vertel, omdat die lot van Ruben en soveel ander daarmee verknoop is.

.....
Die soberheid van die hofverslag en meegaande dokumente, geskryf in ’n volslae neutrale taal, beskryf die ontsetting van die gebeure veel beter as wat enige ander soort taal dit sou kon doen.
.....

In hierdie derde reis keer die verteller terug na Suid-Afrika, meer spesifiek die Oos-Kaap, om te begryp wat met Ruben-hulle gebeur het en haar daarmee te versoen. Wanneer sy in Port Elizabeth aankom, besoek sy haar verswakte pa voordat sy in Grahamstad die volle dossier van die ondersoek en verhoor na die moord op Ruben en sy ma gaan deurwerk. Emosioneel en stilisties gesproke is hierdie gedeelte vir my die hoogtepunt van die boek. Die soberheid van die hofverslag en meegaande dokumente, geskryf in ’n volslae neutrale taal, beskryf die ontsetting van die gebeure veel beter as wat enige ander soort taal dit sou kon doen. Die tragiek van die gebeure word boonop verhoog deur die feit dat dit nie gedryf is deur enige bepaalde motief nie: “[D]aar was nie ’n komplot nie, geen uitgebreide voorbereidings, geen ou grief nie” (372). Hierna sit die verteller die reis voort en gaan besoek Ruben se broer Chris op Ugie, waar sy die uitgebreide gesin ontmoet en met hulle gesels oor hulle opvattings oor geweld. Sy kom daar agter dat die swart gemeenskap net so verontwaardig was deur die moord op Chris se vrou en dat sy familie nie wrokkig is oor wat gebeur het nie. Dié gesprekke word aangevul met uitgebreide statistieke oor geweld in Suid-Afrika.

Sy volg dit op met ’n laaste besoek aan die graf van tannie Hermien en die plaas Pinevale voordat sy by haar suster Ilse gaan kuier by haar huis aan die Goukourivier. In hierdie gedeelte vertel sy van haar navorsing oor geweld en gebruik sy veral die gesprekke met haar suster om psigoloë en sosioloë se navorsing oor geweld ter sprake te bring. Sy keer terug na Nederland, maar moet ses maande later terugkom wanneer sy die nuus kry dat haar pa gesterf het. Wanneer sy ná die besigtiging van haar pa se liggaam by die deur van die begrafnisondernemer uitloop, kyk sy “nog een keer om en sien hoe alles agter my oplos” (407). Dit is ’n ambivalente slot. Aan die een kant is daar die suggestie dat sy na haar pa se dood nie weer sal terugkyk nie en dat ’n bepaalde fase van haar lewe nou finaal verby is; aan die ander kant suggereer die voorlaaste hoofstuk van die boek dat haar identiteitsoeke as migrant in Nederland nie afgehandel is nie as sy haar afvra: “Maar wat doen ek eintlik hier” (407).

2.2 Die rol van drome

Die drome waarvan in die roman vertel word, is eweneens ’n belangrike struktuurelement, omdat dit die verteller in staat stel om inhoude uit die onbewuste op te haal wat bepaalde spronge in die vertelling moontlik maak. Die Britse romanskrywer Martin Amis skryf in sy memoir, Inside story, dat daar drie dinge is waaroor ’n skrywer nié moet skryf nie: drome (“Tell a dream, lose a reader,” skryf hy in navolging van ’n diktum gewoonlik toegeskryf aan Henry James), seks en religie (Amis 2020:23–8). Desnietemin vervul die drome in dié memoir bepaalde funksies. Dit is ’n aanduiding van hoe gebeure deur die verteller se onbewuste geprosesseer word, dit skep afwagting vir wat gaan gebeur, en dit stuur gebeure in ’n bepaalde rigting.

Die tweede reis” begin met ’n relaas van ’n verblyf in Parys waartydens die verteller ’n WhatsApp-gesprek voer met Ruben en in die nag daarna onder andere droom van ’n naakte vrou wat soos ’n “karkas van kwesbaarheid” in ’n kamer lê, ’n wit woestynlandskap waarin vyf swartgeklede vroue verskyn, dat sy stroomaf dryf en ’n hand sien dolosse gooi op ’n bokvel (180–1). Van Parys gaan sy na die Franse platteland, waar sy onder andere droom van die wit nonnetjiesuil wat sy in die omgewing sien, en Richard Leeuhart wie se brein, hart en liggaam op verskillende plekke begrawe is (182). Dié rustelose drome vorm die verhaalmatige aanloop tot die ontstellende nuus dat Ruben en sy ma vermoor is, wat sy hoor wanneer sy terug is in Den Haag.

Daar is ook drome wat heel eksplisiet aandui hoedat sy besig is om sekere gebeure in haar lewe te verwerk, soos die droom oor Van Wyk Louw se Raka (’n teks wat meermale figureer as ’n voorbeeld van die Afrikanernasionalisme se ingesteldheid teenoor die ander), en haar pa plaas in die rol van Koki wat besluit dat Denzel in die rol van Raka simbolies gesproke doodgemaak moet word (240–1). ’n Belangrike voorbeeld van die soort droom wat gebeure in ’n bepaalde rigting stuur, is dié waarin sy deur ’n regter aangespreek word om die vraag van haar eie aandadigheid aan die haglike en gewelddadige toestand van die land te konfronteer en haar besluit om dit in die vorm van hierdie memoir te doen (364–5). Ten slotte is daar ook die droom van die man op wie sy al baie lank wag (404–6). Hy verskyn aan haar waar sy voor haar tafel vol boeke, koerantuitknipsels en stapels papiere sit om vir haar te sê dat hy die boodskap gekry het dat sy haar skuld beken het en ook spyt uitgespreek het, maar dat hy nie seker is of sy opreg is en werklik berou het nie. Uit die verwysing na hulle skaduwees wat vervloei en die gevoel dat hy aan haar lyf hang “soos ’n stert of ’n sleep of ’n mank been”, kan ’n mens aflei dat sy en die man eintlik een is. Hy is nie ’n buitestander wat haar kan troos nie; die antwoord moet uit haarself kom: “[D]ie man troos my nie, hy beantwoord ook nie my vrae nie. Die stilte hou so lank aan dat my ore pyn, dieselfde pyn wat jy kry as ’n vliegtuig skerp begin daal” (406). Laasgenoemde beskrywing suggereer hoe pynlik die konfrontasie met die self kan wees.

2.3 Die herhalende motiewe

Die groot hoeveelheid inligting in hierdie memoir word ook struktureel tot samehang gebring deur die gebruik van herhalende motiewe. Een van die mees opvallende van hierdie motiewe is die dolosse. Die verteller verwys reeds vroeg tydens die vertelling oor die eerste reis vanaf Port Elizabeth na Umtata daarna dat sy uitkyk oor die Indiese Oseaan “met sy kraag van dolosse” en lewer verder kommentaar: “Met hul verwronge vorm, bedoel om die opgesweepte water tydens ’n storm te breek, lyk hulle soos verbleikte werwels van reusagtige oerdiere wat lank reeds aan wind en weer oorgelewer is” (45). Dit wys vooruit daarna dat die dolosse in die vertelling gebruik gaan word as ’n beeld vir dit wat jou teen onstuimigheid en gevaar beskerm. Die verteller maak dit heel eksplisiet as sy praat oor die manier waarop sy vastigheid gesoek het wanneer sy onseker was oor die waarhede waarmee sy grootgemaak is: “[J]y soek dolosse om jou teen die onvoorspelbare golwe te beskerm wanneer die gety inkom” (63). Toe sy ‘n kind was, was haar dominerende pa en depressiewe ma haar beskermers: “Ma en Pa, maar veral Pa, was my dolosse” (68). Die verteller en haar pa praat ook tydens die rit na Umtata oor die struktuur van die betondolosse wat gebruik word om die krag van branders te verbrokkel, maar ook mekaar kan vernietig: “Dit het al gebeur dat hulle tydens ’n kwaai storm nie inmekaar haak nie, maar teen mekaar slaan. Dan vergruis die een die ander.” “Soos sommige mense in tyde van nood” (80). Op indirekte wyse word hier dus gesê dat die beskermers ook vernietigers kan wees, wat in haar geval blyk waar te wees.

.....
Die verteller maak dit heel eksplisiet as sy praat oor die manier waarop sy vastigheid gesoek het wanneer sy onseker was oor die waarhede waarmee sy grootgemaak is:
“[J]y soek dolosse om jou teen die onvoorspelbare golwe te beskerm wanneer die gety inkom” (63).
.....

Die verwysing na die dolosse wat lyk soos “die verbleikte werwels” van oerdiere maak die verband met die werwelbeentjiedolosse waarmee haar pa as kind gespeel het (67–8), duidelik, en ook met die dolosse wat binne bepaalde kulture gebruik word om die boodskappe van die voorouers te vertolk (199). Dit is in daardie verband dat die verteller verwys na die bas van die umThati-boom (waarna die stad Umtata vernoem is) wat vir sy medisinale eienskappe gebruik word, maar ook deur sommige sangomas om, soos dolosse, die boodskappe van die voorouers te vertolk (199). Sy besef dat die betondolosse by Port Elizabeth, en by implikasie ook haar pa, haar nie meer kan beskerm nie en dat sy nou elders na beskerming moet gaan soek. Dit is veelseggend dat dit Ruben is wat haar uiteindelik gaan wys waar die umThati-bome groei en vir haar ’n paar stukkies bas afsny wat hy saambind met ’n grashalm (211–2). Sy hou hierdie stukkies bas vir jare langs haar bed. So word daar gesuggereer dat Ruben vir haar ’n tweede en veel meer simpatieke vaderfiguur as haar eie pa word. Vandaar haar verskriklike verdriet wanneer hy sterf.

n Ander veelseggende motief is dié van die hart wat hom die eerste keer aanmeld wanneer die verteller in Parys dink aan Chopin wie se liggaam in Parys begrawe is en sy hart in Pole (181). Dit is hier waar die Suid-Afrikaanse plant wat in Zoeloe insiswa (“hy wat die duister verdryf”) genoem word en in Sotho motlepelo (“om die hart terug te bring”) ter sprake gebring word. Die suggestie is dat hierdie plant toestande van “angs, depressie, paniekaanvalle en vermoeidheid” kan genees en die hart kan terugbring om verenig te word met die liggaam. (Ek het reeds verwys na die feit dat die Nederlandse titel suggereer dat die skryfdaad dit kan vermag.) Die verteller verwys trouens by geleentheid na haar hart wat uitmekaar val “soos ’n legkaart waarvan steeds meer stukkies weg is elke keer as ek die boks oopmaak” (251) wanneer sy dink aan haar gestorwe ma wat al dowwer in haar geheue raak. Ten slotte kry die hart egter ook ’n konkrete en visserale betekenis wanneer sy ná ’n besoek aan haar afgetakelde pa dink: “Dit voel of twee harte in my borskas klop. ’n Jong en ’n ou hart – hulle ken mekaar intiem, maar elkeen het sy eie ritme” (369). Dit kan miskien gelees word as ’n aanduiding van ’n verskeurde, ongeïntegreerde bestaan. Sy wonder na aanleiding hiervan wat ’n hart sou weeg (369), iets wat ’n ontstellende weerklank vind wanneer sy in die lykskouingsverslae van die hofsaak oor die moord op Ruben en sy ma lees dat sy hart letterlik 265 gram geweeg het (375). So word die metaforiese en die werklike hart een in die betragting van “liefde en geweld in Suid-Afrika”.

.....
’n Ander veelseggende motief is dié van die hart wat hom die eerste keer aanmeld wanneer die verteller in Parys dink aan Chopin wie se liggaam in Parys begrawe is en sy hart in Pole (181).
Dit is hier waar die Suid-Afrikaanse plant wat in Zoeloe insiswa (“hy wat die duister verdryf”) genoem word en in Sotho motlepelo (“om die hart terug te bring”) ter sprake gebring word.
.....

Ander motiewe manifesteer in die verwysing na die son wat sak soos ’n oranje bal wanneer sy deur Queenstown (nou Komani), met sy geskiedenis van “necklacing”, ry op pad na Ida nadat sy gehoor het van die moord. Dit herinner aan sinne uit ’n kortverhaal van Isaac Babel: “Soos ’n afgekapte kop rol ’n oranje son deur die hemelruim […]. Deur die koelte van die aand druppel die geur van gister se bloedvergieting …” (264). Die vurige Suid-Afrikaanse sonsondergange roep meermale ’n beeld van die geweld in die land op. Wanneer sy op ‘n plaas naby Johannesburg kuier en haar gasheer gesels oor al die maatreëls wat hy gaan tref om die plaas te beveilig (367), is daar ’n beskrywing van die lug wat bloedrooi word wanneer die son soos ’n vuurbal na die horison kantel, ’n verwysing wat in die titel van die Afrikaanse weergawe gebruik word. By hierdie geleentheid word daar ook verwys na die voëls wat met sonsondergang in die bome neerstryk, iets wat ’n mens op sy beurt bewus maak daarvan dat voëls eweneens ’n belangrike motief in die memoir is. Die leser word onwillekeurig herinner aan Ruben se skok en ontsteltenis as kind wanneer sy pa die dennebome op Pinevale afsaag omdat die heilige ibisse wat daarin nesmaak, die werf bemors (22). Die feit dat hy later in sy lewe duiwe aanhou wat hy met groot toewyding versorg, dui daarop dat kwesbaarheid en sorg vir die kwesbares ’n belangrike gegewe in die teks is. Dit word veral beliggaam in Ruben wat onderwys gee, eers vir die dowe en blinde kinders by Efata en daarna vir die armoedige kinders by die plaasskool in Ida in ’n poging om die kwesbaarheid en onsekerheid van hulle bestaan te bestendig. Van Niekerk se teks sou heel waarskynlik met vrug in verband gebring kon word met Judith Butler se werk oor “precarity” en “the grievable” in Precarious life (2004) en Frames of war (2009).

3. 
Liefde en geweld: die mansfigure in die teks

Die memoir se poging om rekenskap te gee van “liefde en geweld in Suid-Afrika” is ten nouste verknoop met die verteller se uitbeelding van haar verhoudings met die mans in haar lewe. Dit is veral in hierdie verhoudings dat die pynlike ingebedheid van die persoonlike in die politieke landskap van Suid-Afrika na vore tree en demonstreer hoedat dit onmoontlik is om die private en die openbare domeine van mekaar te skei. Dit is veral die interseksies van geslag, ras en klas in Suid-Afrika wat hier ter sprake kom.

Die verteller word groot in ’n patriargale, Afrikanernasionalistiese familie tydens die hoogty van apartheid. Haar pa is die een wat beheer uitoefen oor die gesin; hierteenoor is haar ma ietwat onttrokke. ’n Mens kry die indruk dat sy haar man as effe onverfynd en boers ervaar (vgl die vertelling oor die manier waarop sy en haar ouers gereageer het toe hy met ’n lewende skaap as geskenk by haar ouerhuis op Queenstown opdaag om ouers te vra, 201). Wat sy verhouding met sy kinders betref, dring hy op byna neurotiese wyse daarop aan dat hulle sy gesag respekteer en die soort orde moet handhaaf wat vir hom belangrik is. Sy kinders moet byvoorbeeld die fraiings van die Persiese mat met ’n klein borseltjie netjies maak wanneer hy kwaad of geïrriteerd is (45–6). Wanneer die verteller hardkoppig is en hom teenspreek, dreig hy dat hy dit uit haar sal slaan (44–5). Wanneer sy later weier om langer deel te wees van die Voortrekker-jeugbeweging, vertel sy hoedat hy haar straf deur haar met sy lyfband te slaan. Dit is ’n gruwelike toneel wat volgens die klassieke patroon van sadistiese ouerskap verloop: Sy word geslaan en moet dan later – nadat sy ’n gepaste tyd afgesonder is – haar arms om sy nek sit en vir hom sê dat sy lief is vir hom (90–1). Dit is een van die parings van liefde en geweld waarna die memoir se ondertitel verwys. Dit hou ook verband met die manier waarop geweld vanuit die private domein oorspoel na die publieke domein, en omgekeerd. Indien ’n mens die minderes in jou familie met geweld beheer, kan jy dit ewe gemaklik doen met jou minderes in die politieke sfeer. Die desperate poging tot beheer kom ook na vore in haar pa se gesteldheid op Afrikaner-eksepsionalisme, sy rassistiese ingesteldheid teenoor swart mense, en sy byna obsessiewe pogings om sy dogter te laat afsien van die verhouding met Denzel wat nie wit is nie.

.....
Indien ’n mens die minderes in jou familie met geweld beheer, kan jy dit ewe gemaklik doen met jou minderes in die politieke sfeer.
.....

Terselfdertyd lei ’n mens egter ook af dat die verhouding tussen pa en dogter uitsonderlik sterk en liefdevol is. Daar is ’n (soms ongemaklik intieme) liggaamlike konneksie tussen hulle, af te lei uit die beskrywings van die gebruik om mekaar se rûe te krap (67), die verwysings daarna dat hy sy dogters gereeld oor die kop streel terwyl hulle ma dit nie doen nie (67), die beskrywing van hoe hy haar krulhare uitborsel nadat dit gewas is en haar sy “prinsessie” noem (71), en sy aandrang daarop om haar na haar nuwe werkplek in Umtata te neem. Wanneer hy op sy oudag bely dat hy nie ’n goeie pa was nie en sy hom verseker dat sy nie vir beter kon gevra het nie (186), besef sy dat sy na al die jare in ’n posisie is waarin sy haar pa kan vergewe en haal sy die uitspraak van ’n vriend aan: “Die tyd verander die DNA van wat jy as die waarheid beskou. Dit maak dit moontlik om te vergewe” (187). Daar is waarskynlik in sy geval ook sprake van die kompartementalisering waarna die verteller in die slotgedeeltes van die teks verwys. Hy kon liefdevol optree teenoor sy dogter (al was dit dan ook soms liefde met geweld), terwyl hy geen empatie en inlewingsvermoë met die swart mense van die land gehad het nie (401). Daar is egter ook ontwapenende momente soos wanneer Friedemann Grenz vir haar vertel dat haar pa hom ’n keer in sy kantoor by die Universiteit in Port Elizabeth besoek en hom bedank het dat hy vir sy dogter gewys het wat ’n egte intellektueel en ware leermeerster is (112).

Die verteller se vriend Ruben kan in ’n groot mate as die teenhanger van haar pa gesien geword. Sy ontmoet hom by haar nuwe blyplek in Umtata nadat sy van haar pa afskeid geneem het, sodat die indruk geskep word dat hy in die gaping intree wat deur haar pa se vertrek gelaat word. Hy is ’n sorgsame vriend wat haar bekendstel aan die omgewing, haar ondersteun en min eise aan haar stel. Daar word gesê dat hy “’n soort vader” was vir die dowe en blinde kinders vir wie hy in Efata skoolgehou het (214) en later ook vir die kinders in die plaasskool by Pinevale vir wie hy kos gee wanneer hulle honger is, slaapplek in die skool wanneer hulle vir eksamens moet studeer en gratis ekstra lesse (26–7). Hy wys ’n soort vaderskap wat gebore is uit meelewing en empatie met dié wat sy ander is, eerder as ’n vaderskap gebaseer op bloedverwantskap en besorgdheid oor dié in jou eie familie en groep. Die onvoorwaardelike wyse waarop hy die verteller aanvaar en ondersteun, teken hom as ‘t ware ook af teenoor haar eie pa, met wie die verhouding meer kompleks is. Eerder as wat hy op volgehoue wyse probeer om haar te waarsku teen ’n verhouding met Denzel soos wat haar pa dit doen, vra hy alleenlik of sy dink dat sy opgewasse is teen Denzel (250). Dit is ironies dat dit juis die niegewelddadige Ruben is wat uiteindelik vermoor word deur jongmense vir wie hy onderwys gegee het.

Die pynlike vervlegting van liefde met geweld kom die sterkste na vore in die verteller se verhouding met Denzel. Sy ontmoet hierdie hoogs intelligente, begaafde en kreatiewe man by die Universiteit van Transkei en daar is onmiddellik sprake van ’n wedersydse fassinasie wat berus op sowel ’n intellektuele aangetrokkenheid as ’n erotiese aantrekkingskrag. Sy word vroeg in hulle verhouding bewus daarvan dat ’n “sluimerende woede” besig is om deel te word van hulle paradys (wat onder andere uit idilliese besoeke aan die Wildekus se strande bestaan). Hy vertel haar trouens in een van hulle eerste gesprekke van sy destruktiewe woede wat onder andere gelei het tot die breuk tussen hom en sy vrou Ethel by wie hy ’n dogtertjie het (227). Hy waarsku haar selfs vroeg in die verhouding om te sorg dat sy wegkom van hom omdat hy verkies om alleen te wees en as swart man eintlik wit Afrikaners soos sy verafsku (244). Die manier waarop beide sy ma en sy pa deur die apartheidsbestel verneder en ontneem is van die geleentheid om hulleself ten volle te verwesenlik, is iets waarvoor hy “die land” nooit sal kan vergewe nie (297). Wanneer hulle in Johannesburg woon, bring Denzel haar vanweë sy betrokkenheid by Cosaw in aanraking met ’n lewenswyse en mense buite die nou Afrikaanse kring waarin sy as kind en student beweeg het en verruim haar wêreld op betekenisvolle maniere. Daar is egter ’n keersy hieraan deurdat hy in Johannesburg vir die eerste keer gewelddadig optree teenoor haar. Daarna gebeur dit herhaalde kere totdat daar ’n insident is waar hy ’n vriend van hulle aanrand wanneer hy haar gaan soek by hulle huis waar sy skuiling vind. Die verskillende reaksies spreek boekdele. Die beskermhere van Cosaw dink die saak moet intern opgelos word om die reputasie van die groep te beskerm, terwyl hulle vriend besluit om ’n klag teen Denzel te lê. Dit plaas die verteller in ’n moeilike posisie: Sy besluit uiteindelik om nie self ’n klag teen Denzel te lê nie en getuig selfs vir hom in die hofsaak.

.....
Hier tree die ingewikkelde interseksie van ras en geslag, afgedwing deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis, na vore. Die verteller is ’n wit vrou wat deur ’n swart man mishandel word; die feit dat sy nie ’n klag wil lê nie en selfs vir hom in die hof getuig, werp wat haar vriende betref ’n skadu oor haar werk as feminis.
.....

Hier tree die ingewikkelde interseksie van ras en geslag, afgedwing deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis, na vore. Die verteller is ’n wit vrou wat deur ’n swart man mishandel word; die feit dat sy nie ’n klag wil lê nie en selfs vir hom in die hof getuig, werp wat haar vriende betref ’n skadu oor haar werk as feminis. Bowendien vind sy dit onmoontlik om haar Afrikanernasionalistiese pa, wat self nie wars was van geweld nie, daarvan te vertel. Denzel en sy familie het ’n geskiedenis van veronregting deur wit mense; sy het dus ’n mate van begrip vir die woede wat hy ervaar (sy stel dit deurgaans voor as ’n demoon wat van hom besit neem). Sy begelei ook die beskrywings van die geweldsinsidente met verwysings na Lewis Nkosi se roman Mating birds wat handel oor ’n seksuele ontmoeting tussen die swart man Ndi en die wit vrou Veronica en eindig met die swart man wat ter dood veroordeel word vir die verkragting van die wit vrou. Sy lig veral die verwysing na Ndi se woede (296) en sy velkleur uit (“enfolded in the castle of my skin,” lui haar aanhaling uit Nkosi, 327) en weier uiteindelik om self “’n persoon van kleur voor ’n apartheidshof te daag” (327). Die emosionele koste daarvan word egter duidelik uit die woede, skaamte en verwarring wat sy tydens die hofsaak ervaar (331). Soos wat meermale in die verlede gebeur het, keer sy terug na Denzel op voorwaarde dat dit nooit weer gebeur nie. Wanneer dit wel gebeur, verlaat sy hom en gaan woon op haar eie. Dit is opvallend dat die verhaal van Denzel se geweldsoptredes, wat volgens Van Niekerk die moeilikste gedeeltes van die memoir was om te skryf, op ingehoue wyse beskryf word en dat daar dikwels gefokus word op die impak wat geweld op objekte eerder as die liggaam het: ’n matras wat geskop word (283), ’n houtbed wat tot splinters gekap word (319), glase wat breek en ’n kasdeur wat uit sy skarniere breek (345).

4.  Die deurlopende konstruksie van identiteit

Die navorsing oor Suid-Afrikaanse outobiografieë in die 1990’s het sterk klem gelê op die manier waarop die genre insae gee in die wyse waarop die subjek van die outobiografie se identiteit deur gebeure en plekke gevorm word. Van Niekerk skryf byvoorbeeld in die slotdeel van haar artikel oor die outobiografiese tekste van vroue uit die Suid-Afrikaanse Oorlog: “It is certainly time for us to start looking at women’s ego texts. They provide the seminal function of providing a register of women’s experiences and identity formation during specific historial periods” (Van Niekerk 2001:119). Dieselfde geld vir haar memoir. Dit is nie net ’n spannende verhaal oor liefde en geweld in Suid-Afrika nie, maar gee ook ’n blik op die vorming van die verteller se identiteit teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die memoir handel nie net oor haar opvoeding in die boesem van ’n Afrikanernasionalistiese gesin en groter omgewing nie, maar werp ook lig op die manier waarop die agtergrond haar gevorm het (sy gee aandag aan die verhouding met haar ouers, die interaksie met swart bediendes in hulle huis en dié van haar grootouers; ook aan die rol van die skool en die kerk). Die memoir vertel hoedat bepaalde gebeure geleidelik sekere vrae by haar laat ontstaan – hier is dit veral die Soweto-opstand van 1976 wat haar bewus maak daarvan dat sy as Afrikaanssprekende aandadig is aan ’n sisteem wat nie goed te praat is nie: “Dat daar vanaf daardie oomblik gepraat is van Afrikaans as ‘die taal van die onderdrukker’ en dat ek, as wit Afrikaanssprekende, of ek nou wou of nie wou nie, daarby ingesluit is. Dat ek elke keer wanneer ek my mond oopmaak die oordeel ‘onderdrukker’ oor myself afroep. Dat my moedertaal bevlek is met die bloed van onskuldige kinders en dat ek nooit weer vry van skuld sal wees nie” (90). Sy begin as student wegbreek van hierdie identiteit wanneer sy haar begin verset teen die apartheidsisteem en veral haar pa se streng beheer, onder andere deur die verhouding met haar polities bewuste Duits-dosent wat vir haar ’n voorbeeld is van die bevraagtekenende ingesteldheid van ’n ware intellektueel. Dié proses versnel wanneer sy in aanraking kom met ’n meer inklusiewe en diverse omgewing wanneer sy by die Universiteit van Transkei begin werk (selfs al wys sy uit in welke mate die apartheidsregering ook daar beheer uitgeoefen het) en meer kennis begin opdoen van die geskiedenis van die ANC as vryheidsbeweging. Dit is veral haar verhouding met Denzel wat die vorming van die self en die konstruksie van ’n steeds veranderende identiteit beïnvloed. Dit manifesteer byvoorbeeld in die manier waarop sy haarself stileer en aan die wêreld voorhou: “My klerestyl begin verander. Ek ruil my hoë hakke vir leersandale. Ek dra my boeke in ’n rietmandjie. Ek begin my eie klere maak, los kledingstukke van natuurlike stowwe, by voorkeur met Afrika-motiewe. Ek laat my hare lank groei. Ek dra Afrika-krale om my nek en gevlegte rietbandjies om my polse. Met die establishment wil ek niks meer te doene hê nie. En dit moet sigbaar wees” (231). Die beskrywing van haar jare in Johannesburg as dosent in Afrikaanse letterkunde by Vista-universiteit en as lewensmaat van Denzel wys hoedat sy steeds verder bou aan ’n progressiewe politieke identiteit en haarself ook begin identifiseer met die feminisme (’n aspek van haar identiteit wat nie probleemloos bestaan naas haar mishandeling deur Denzel nie). Dit is opvallend dat die ervaring van depressie ook deel uitmaak van haar identiteit. Alhoewel daar ’n ietwat afstandelike verhouding tussen haar en haar ma bestaan, is sy bewus daarvan dat haar ma geneig was tot depressie (48, 108) en vertel sy hoe sy self in sommige stadiums van haar lewe deur depressie lamgelê is. Na haar ma se dood val sy in ’n “depressie soos ’n sinkgat wat op ’n dag onverhoeds oopgaan” (110). Ook wanneer Denzel na Johannesburg verhuis en sy in Umtata agterbly, hang depressie “soos ’n winterjas” om haar skouers (260). Dit is ook merkbaar wanneer sy beskryf hoe “kleurloos en haperend” (363) haar lewe geword het na die moord op Ruben en sy ma.

.....
Terugskouend is die skrywer van die memoir haar deeglik bewus van die feit dat sy gevorm is deur plek, soos wat blyk wanneer sy die nosie van psigogeografie ter sprake bring
.....

Terugskouend is die skrywer van die memoir haar deeglik bewus van die feit dat sy gevorm is deur plek, soos wat blyk wanneer sy die nosie van psigogeografie ter sprake bring: “Die psigogeografie beweer dat plekke ’n smet of stigma uit die verlede kan vashou wat ’n invloed op die gedrag, die gevoelens en die optrede van mense kan uitoefen” (63). Sy verwys daarna dat die jaar van haar geboorte ook die jaar was wat gedwonge verskuiwings in Port Elizabeth ingelui het en verklaar: “Maar is my bestaan nie ook geletsel deur die ongeluk van ander nie, van wie ek toe nog niks geweet het nie omdat ek die kop was van die munt waarvan hulle die kruis was” (63–4). Sy herhaal die insig dat sy deur plek gevorm is meer as een keer in die loop van die memoir: “Vir my sou die munt ook anders kon geval het as my wieg êrens anders gestaan het, byvoorbeeld in een van die townships – New Brighton of KwaZakhele – of in ’n ander Afrikaland of selfs in ’n ander wêrelddeel” (98). Wanneer sy in 2015 na die moord op Ruben en sy ma na Suid-Afrika kom, besef sy dat sy nie slegs deur bepaalde plekke gevorm is nie, maar ook meegewerk het om daardie plekke te vorm. Sy wil onder andere rekenskap gee van die manier waarop sy (en haar voorgeslagte) gevorm is deur die land en op hulle beurt die land gevorm het deur hulle ingrepe, wanneer sy begin nadink oor die geweld in die land. Sy wil dit nie vanuit ’n veroordelende en meewarige buitestandersperspektief (dié van ’n persoon wat in daardie stadium reeds 11 jaar lank in Nederland woon) betrag nie: “Ek moet vir myself rekenskap gee van wat aan die gebeur is – die mense verskeur en lamgeslaan deur misdaad en geweld. Hoe is dit moontlik dat die land weer so ontspoor het, nadat dit vir ’n kort tydjie gelyk het of die koms van die demokrasie ou wonde sou genees? Maar ek wil ook weet wat my eie posisie is, my plek, ek – gevorm in die buik van hierdie beskadigde land – ek wat deel en getuie daarvan was en steeds is” (183). Veel later in die memoir, wanneer sy skryf oor die moment waarop sy besluit om die memoir te skryf, besef sy dat sy onherroeplik verbonde is aan die land en sy mense: “Dit is die begin van my verhaal, die konfrontasie met my eie mites, die verhaal van my vroeëre lewe en my lewe daarna. Ruben se lot en die lot van soveel ander is daarmee verknoop, en my lot met dié van hulle. Ubuntu. Ek is omdat ons is” (365). In hierdie opsig sluit Van Niekerk se outobiografie dus aan by Van Vuuren (1996) en Swanepoel (1996) se gevolgtrekking dat Suid-Afrikaanse outobiografieë gemeenskapsgerig eerder as suiwer individualisties is.

.....
As dosent van die Afrikaanse letterkunde gee sy haar ook rekenskap van die rol wat die Afrikaanse letterkunde en die groter Suid-Afrikaanse letterkunde in die vorming van haar identiteit gespeel het.
.....

As dosent van die Afrikaanse letterkunde gee sy haar ook rekenskap van die rol wat die Afrikaanse letterkunde en die groter Suid-Afrikaanse letterkunde in die vorming van haar identiteit gespeel het. Sy vertel dat sy as kind “pens en pootjies geval [het]” vir Van Wyk Louw se epiese gedig Raka, waarin Koki die stryd aangeknoop het teen Raka, “die groot dier” (72–3). Dié invloed speel deur in haar droom oor die konfrontasie tussen haar pa en Denzel. Daar is ook die verwysings na haar pa wat AG Visser se gedig “Amakeia” (oor ’n swart oppasser wat ’n wit kind versorg nadat sy ouers dood is in een van die Xhosa-oorloë) aanhaal wanneer hulle deur die Oos-Kaap op pad na Umtata is (152). Sy vra haar ook af hoeveel haar ouers en ander Afrikaners van hulle leeftyd in 1979 die implikasies van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena, oor ’n swart huiswerker en haar gedwonge verskuiwings na ’n tuisland, vir hulle eie bestaan besef het (169). Hierteenoor verwys sy ook na die invloed wat André Brink se politieke romans (veral ’n Droë wit seisoen) op haar denke oor die ongeregtigheid in die land gehad het (123). Dit geld ook vir haar kennismaking met die groter Suid-Afrikaanse letterkunde, die verbanne swart skrywers en ander politieke skrywers soos Nadine Gordimer, en die kongresse waarby sy en Denzel opgetree het. Ironies genoeg skryf haar pa juis in hierdie tyd vir haar dat hy nog nooit van “enige van die sg ‘groot skrywers’ gehoor het” wat sy in haar brief noem nie en dat hy bang is dat sy onwetend haar “geboortereg vir ’n pot letterkunde verkwansel” (297). Die letterkunde is dus nog een van die dinge wat haar identiteit vorm. Die Afrikaanse letterkunde bevestig én bevraagteken die bestaande politieke sisteem, en kennismaking met die groter Suid-Afrikaanse letterkunde bevestig haar politieke bevryding. Wanneer sy ’n kongres oor vroueskrywers van Afrika in Nigerië bywoon en die Suid-Afrikaanse wit vroue verbied word om daar op te tree omdat hulle nie as Afrika-vroue gesien word nie, word sy verder gekonfronteer met vrae oor haar posisie as wit vrou in Afrika (340).

Raka deur NP van Wyk Louw, Die swerfjare van Poppie Nongena en ’n Droë wit seisoen deur André P Brink

n Laaste tekenende moment ten opsigte van haar identiteit speel hom af wanneer sy na afloop van haar tweede besoek aan Suid-Afrika in Desember 2016 en Januarie 2017 na Nederland terugkeer. Wanneer sy in die trein van Schiphol na Den Haag sit, sê sy met verwysing na die Nederlandse landskap wat in daardie stadium reeds vir twaalf jaar haar tuiste is: “Alle emosie en kwesbaarheid is daaruit weggewerk. Suid-Afrika is tienduisend kilometer hiervandaan. Ek is weer veilig. Maar wat doen ek eintlik hier?” (407). Die soeke na wie sy is, bly dus voortgaande.

5.  Ten slotte

Onder ’n bloedrooi hemel is ’n uitnemend dapper boek wat nie huiwer om beide die private en die openbare domeine van Suid-Afrika binne te dring ten einde ’n greep te kry op die verskynsel van geweld in Suid-Afrika en die paradoksale manier waarop dit vervleg is met liefde nie. Van Niekerk skryf met groot eerlikheid oor uiters kontensieuse kwessies in haar geboorteland en huiwer nie om die kompleksiteit daarvan onder oë te neem nie. Die voorneme om haar lewensverhaal te ent “op die verhalende prinsipes van die roman” (in die “Verantwoording” uitgespreek) het inderdaad geluk. Naas die eerlikheid van die feitelike gedeeltes van die roman word ’n mens oorrompel deur die strukturele en stilistiese vernuf van die teks sowel as die oortuigende taalgebruik en beeldende vermoë van die skrywer. Sy toon ’n besondere vermoë om uitbundige en liriese taalgebruik af te wissel met ingehoue beskrywings wat ‘n mens juis deur die gestroopte neutraliteit daarvan tref. Ook bewonderenswaardig is die wyse waarop sy ’n magtige hoeveelheid historiese inligting in haar lewensverhaal integreer om die persoonlike en private naatloos met die openbare en politieke te laat sluit. Dit is duidelik dat die boek gerig is op ’n Nederlandse gehoor wat waarskynlik min of geen kennis het van die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Ouer Suid-Afrikaanse lesers sou waarskynlik van hierdie gebeure meegemaak het of kennis daarvan hê; vir jonger lesers sal dit insae bied in ’n geskiedenis wat bepalend was vir hulle huidige lewensomstandighede, al het hulle dit nie self meegemaak nie.

Van Niekerk se boek verdien al die lof wat dit toegeswaai word.

Bibliografie

Abbott, H. Porter. 1988. Autobiography, autography, fiction: groundwork for a taxonomy of textual categories. New Literary History, 19(3):597–615.

Amis. Martin. 2020. Inside story. Londen: Vintage.

Bruss, Elizabeth. 1976. Autobiographical acts. The changing situation of a literary genre. Baltimore en Londen: The Johns Hopkins University Press.

Butler, Judith. 2004. Precarious life. The powers of mourning and violence. Londen en New York: Verso.
. 2009. Frames of war. When is life grievable? Londen en New York: Verso.

Eakin, Paul John. 1985. Fictions in autobiography: studies in the art of self-invention. Princeton en New Jersey: Princeton University Press.

Elbaz, Robert. 1987. The changing nature of the self. A critical study of autobiographical discourse. Iowa City: University of Iowa Press.

Jansen, Ena. 1998. “Eene eeuw van onrecht”. De ethische en esthetische problemen van getuigenverslagen. Van Johanna van Warmelo tot Antjie Krog. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 5(2):113–27.
. 1999. “Ek ook het besluit om van my bittere lydingskelk te vertel.” Het meervoudige (post)koloniale vertoog in autobiografische vrouwenteksten over de Zuid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 6(2):162–86.
. 2003. “Ons samelewing sal nog ingewikkelder gemaak word.” Twee vertelmomente van Anna Bary se Boereoorlogdagboek Ons Japie (1960). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 10(2):95–123.

Lejeune, Philippe. 1989. On autobiography. Geredigeer en met voorwoord deur Paul John Eakin. Vertaal deur Katherine Leary. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Olney, James. 1980. Autobiography. Essays theoretical and critical. Princeton: Princeton University Press.

Swanepoel, Eduan. 1996. Ubuntu en individualisme: enkele opmerkings oor die Suid-Afrikaanse outobiografie. Stilet, 8(1):20–7.

Van Niekerk, Annemarié. 2001. Finding my own voice? Women’s ego texts from the South African War. Stilet, 13(2):103–22.

Van Vuuren, Helize. 1996. Kollektiewe bewussyn: ’n aanloop tot ‘n vergelykende benadering van die Suid-Afrikaanse outobiografie. Stilet, 8(1):10–9.

  • 1

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Dankie vir die uitstekende resensie. Ek het dit pas vir die tweede maal gelees ter voorbereiding van 'n bespreking by 'n leeskring.

    Dit het my telkens opgeval dat Antjie Krog se Relaas van 'n moord en Begging to be black nie genoem is nie, ook nie deur die skrywer nie. En hoewel dit nou eers verskyn het, is Cato Pedder se Moederland ook 'n interessante teks om hiermee saam te lees, veral in die lig van Annemarie se Stilet-artikel. En Danie Marais se digbundel natuurlik.

    Ja, die vreugde van lees: as mens eers geprikkel is, spring daar voortdurend nuwe boeke voor jou op wat die ervaring uitbrei.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top