Charlie Hebdo: Ek dink hardop

  • 2

Die mooi wense en voornemens van die nuwe jaar is nog so helder soos die reuk van die vuurwerke van die 2014–15-jaarwisseling as ek van Den Haag na Amsterdam ry. Ek is op pad om ’n nuwe paspoort by die Bos-en-Lommer-munisipaliteitskantoor te gaan haal. So groen soos wat “Bos-en-Lommer” klink, so troosteloos is hierdie buurt, waar ’n groot persentasie Turkse en Marokkaanse immigrante styf teenaan mekaar woon, meestal Moslems.

Onderweg kom die nuus oor die radio: in Parys is die kantoor van die Franse satiriese tydskrif Charlie Hebdo aangeval, daar was geweervuur, slagoffers het geval, dit was noodlottig, die daders het ontsnap. Binne die daaropvolgende uur stroom die nuus broksgewys binne: die dodetal loop op na 12, die twee daders, gewapen met AK-47”s, het volgens ’n ooggetuie geroep dat daar in die naam van die profeet wraak geneem word. Radioflitse verfris die geheue: in 2011 is die blad, wat in die sestigerjare tot stand gekom het, gebombardeer ná ’n voorblad met ’n tekening van Mohammed wat sê: “100 sweepslae as jy jouself nie doodlag nie.” Ook was daar ’n spotprent wat Mohammed huilend uitbeeld met die woorde: “Dis moeilik om deur idiote liefgehê te word.”

Die blad was by tye uitgesproke rassisties – ’n opinie wat baie Amerikane met my deel; die meeste Europeërs nie. En ek vermoed dat die meeste Suid-Afrikaners dit met my eens sal wees dat haatspraak deel was van hul satiriese aanslag – ’n manier van praat oor ander wat ons in Suid-Afrika na dure lesse nie meer verdra nie, ook nie deur ons wetboek nie.

Meer besonderhede kom aan die lig: die hoofredakteur van Charlie Hebdo, sy spotprenttekenaars, personeel, ’n besoeker, en twee polisiemanne – altesaam 12 mense – is gedood. Dit was ’n wraakaanslag vanuit radikale Islamitiese geledere op Charlie Hebdo met sy geskiedenis van Islam-bespotting en vernedering van die profeet Mohammed.

Maar diegene wat Charlie Hebdo ken, weet dat sy genadelose satire nie net gerig was teen die Islam nie, maar dat hy al sedert die sestigerjare bekend is vir sy bespotting van enige vorm van godsdiens of gesag. So is daar byvoorbeeld eenkeer ’n spotprent geplaas van ’n paar rolle toiletpapier, gemerk “Bybel”, “Torah” en “Koran”, toegelig met: “In die toilet, alle godsdienste”. Weekliks het hierdie blad met spotprente, verslae, polemieke en grappe elke heilige koei in sig afgeransel. Vir die Franse, met hul eeue lange kultuur van satire (en begrip en verdraagsaamheid daarvoor), en hul voorliefde vir die beeldende, is Charlie Hebdo deel van wat hulle as aanvaarbare maatskappykritiek beskou. Ten spyte daarvan dat religieuse, politieke of ander groeperinge en hul boegbeelde van tyd tot tyd diep gekrenk was, is Charlie Hebdo aanvaar as ’n voorbeeld van vryheid van spraak en mening, ’n bastion van beskawing in Frankryk, Europa en die Weste. En nou is daar van buite hierdie waardestelsel met ’n gruwelike daad ingegryp om Charlie Hebdo en die hele Westerse wêreld tot stilstand te ruk. Wat het gebeur? Wat moet ons daarvan dink? En hoe moet ons daarop reageer?

Stomgeslaan parkeer ek my motor in die parkeerarea agter die munisipaliteitskantoor. Ek dink aan die ekstremistiese insidente van die afgelope tyd – vanaf die 2004 Madrid treinbombardering tot die onlangse gyselaarmoorde in ’n kafee in Sydney, Australië.

Om by die kantoor uit te kom loop ek deur die Woensdagmark, ’n grotendeels Moslemmark wat van alles en nog wat verkoop. Oral staan mense rond en praatjies maak. My vermoede is dat die aanslag nog nie tot die marklui deurgedring het nie. Die atmosfeer is lig en gemoedelik. Transaksies vind plaas, daar word oor ditjies en datjies gepraat, vrouens in kopdoeke lag saam. Ek word hartlik begroet en genooi om na plastiekemmers, blink rokke, winterduvets, speserye, vars vis op ys, veelkleurige groente en vrugte in stapeltjies en rytjies, kosmetika en alles denkbaar te kyk, te voel en te proe. Spesiale aanbiedings word my toegeroep. Dis gesellig. Skielik verlang ek na die Bo-Kaap, na my Moslemvriende in Suid-Afrika, na bobotie, kerriebredies en koeksisters met klapper, na blatjang en piesangs. Bos-en-Lommer mag dalk nie groen wees nie, maar te midde van die grys geboue is die mark veelkleurig en vrolik, ’n vrolikheid wat ek ken en verstaan.

Ek kry my nuwe paspoort, bly dat ek deel mag wees van die mengelmoes van immigrante in Europa, en eintlik ook bly dat ek nie tot die binnekring behoort nie – binnekringe was vir my nog altyd benouend.

In die dae wat volg, oorstroom ontledings van en menings oor die swart Woensdag die nuus en sosiale media. Laasgenoemde neem veral die vorm aan van weinigseggende en ongenuanseerde slagspreuke: “Je suis Charlie.” As ek dit nog een keer sien of hoor, dink ek in die geheim, gaan ek moord pleeg. Skielik is almal solidêr met Charlie Hebdo, ten spyte daarvan dat hul verkope in die afgelope tyd nie meer goed was nie. Maar meer deurdagte opinies en opiniestukke verskyn ook. Die oorgrote meerderheid menings en pleidooie laat blyk dat vryheid van spraak nie onderhandelbaar is nie, dat hierdie vryheid, ongeag die manier waarop dit gebruik word, teen elke prys beskerm moet word. As ons vryheid aangetas word, word ons beskawing aangetas, word oor en oor herhaal.

Sosiale druk groei: Charlie Hebdo, as ’n sterk eksponent van Westerse waardes, móét ondersteun word. Optogte en byeenkomste word georganiseer. Mense neem massaal deel. Wêreldleiers skaar hulle daarby. Lanklaas was die Westerse wêreld so eensgesind, so begeester deur ’n gemeenskaplike woede, vrees en weersin. Dit gaan oor ons beskawing, word verkondig.

Baie bronne beklemtoon die feit dat wat in Parys gebeur het, aangevuur en uitgevoer is vanuit ’n klein geradikaliseerde faksie met ’n ideologiese uitgangspunt wat totaal vreemd is vir die meerderheid Moslems, hetsy gelowig of ongelowig. Nicholas Kristof1 sê tereg: “Let us acknowledge that the most courageous, peace-loving people in the Middle East who are standing up to Muslim fanatics are themselves often devout Muslims.” En verder: “Some read the Quaran and blow up girls’ schools, but more read the Quaran and build girls’ schools. The Taliban represents one brand of Islam; the Nobel Peace Prize winner Malala Yousafzai the polar opposite.”

Ander voel dat gematigde Moslems, as hulle dan sodanig gekant is teen wat die ekstremiste in die naam van Islam uitvoer, hulle teenstem moet laat hoor, hard en duidelik. Maar hoekom? vra ek my af. Was dit nodig (soos ook Kristof2 dit stel) dat gewone Christene hulself moes verdedig of namens die Christendom om verskoning moes vra toe Christen-fanatici in die voormalige Joegoslawië betrokke was in ’n volksmoord teen Moslems? Was kritici van Islam te blameer toe ’n anti-Moslem fanatikus in 2011 77 mense in Noorweë uitgewis het? Nee! Waarom nou?

Ook word daar, selfs vanuit Moslemgeledere, aangevoer dat Moslems (en ander) moet begin erken dat die potensiaal vir gewelddadige wraakaksies tog êrens in Islam geakkommodeer word. Daarom is Moslems self daarvoor verantwoordelik om dit met wortel en tak uit te roei, in plaas van om voortdurend te roep: dis nie ons nie, dis die ekstremiste. So skryf die Franse Moslemfilosoof Abdennour Bidar dat Islam self geboorte gegee het aan hierdie monsters en van binne af hervorm moet word om die golf van geweld te verbreek. Hy voer aan dat Islam, soos alle godsdienste, regdeur die geskiedenis ’n bron van goedheid, wysheid en verligting was, maar dat die Islamitiese hoofstroom van vandag die vryheid en buigsaamheid wat in die Koran verkondig word, verontagsaam, en in plaas daarvan rigiditeit aanmoedig. Dit lei, volgens Bidar, onvermydelik tot terrorisme. Volgens hom moet die Moslemwêreld se selfhervorming by sy opvoedingstelsel begin, en moet hierdie hervorming gebaseer word op die beginsels van vryheid van godsdiens en mening, gelykheid, en respek vir die ander.3

Ander reaksies beklemtoon die feit dat die Westerse wêreld oorstuur is oor wat by die Franse blad gebeur het, terwyl daar op dieselfde dag ’n motorbom buite ’n polisiekantoor in Jemen ontplof het, moontlik geplant deur Al-Qaeda, waarin byna 40 mense gesterf het. Die reaksies hieroor is nie te vergelyk met die bohaai oor wat in Parys gebeur het nie. Dit is maar een voorbeeld binne ’n gevestigde patroon.

Nathan Trantraal: "I think if we really want to give the terrorists an up yours in the name of free speech, we should be making satirical cartoons about the Charlie Hebdo staff who were slain in the attack. Ideally the jokes should be about them getting killed."

As ek Nathan Trantraal, die bekende Suid-Afrikaanse spotprenttekenaar, se opinie oor die gebeure vra, is sy antwoord: “I won’t lie, my immediate response toward the Charlie Hebdo massacre was a little nine-elevenish. By that I mean I immediately felt outraged and sad, and helpless and like another page was turned, further away from the story of more innocent times. I felt a deep pain, but they were phantom pains. Because I have long since severed the limb reserved for the special pain of first-world white folks who experience the kind of stuff that brown people in the third world experience routinely.”

Juan Cole se ontleding kyk nie soseer na wie verantwoordelik is en wie nie, maar eerder na wat hiertoe gelei het en hoe die reaksie op wat gebeur het, soortgelyke aanslae kan aanvuur of afweer. Volgens Cole probeer Al-Qaeda desperaat Franse Moslems mentaal koloniseer, maar stuit hulle teen ’n muur van apatie. Van die 66 miljoen inwoners van Frankryk is net vyf miljoen van Moslemoorsprong en slegs twee miljoen van hulle geïnteresseerd in godsdiens. Boonop is die Moslems in Parys, van wie die meeste beter opgelei is as elders, gekant teen geweld en lojaal teenoor Frankryk. Deel van Al-Qaeda se strategie om hierdie onwillige ondersteuningsbron te aktiveer is om inheemse Franse teen etniese Moslems te keer. Te kampe met ’n gemeenskaplike vyand sou by Moslems dan die behoefte kon ontstaan vir ’n politiese identiteit met as basis ’n gemeenskaplike weerstand teen diskriminasie. Die taktiek is dus om die verskille op die spits te dryf en ’n legitieme beswaar – die reaksie teen diskriminasie – te aktiveer. Die onverdraagsame reaksie vanuit die Franse (en Europese) maatskappy sal dan lei tot nog sterker stereotipering van en diskriminasie teen Franse Moslems.

Onder hierdie omstandighede sal Al-Qaeda veel makliker ondersteuning kan wen.

Wat is die beste manier om die angel uit so ’n taktiek te haal? Volgens Cole sou dit wees as die Weste nie ’n hele groep (Moslems) vir die gruweldade van ’n paar skuldiges blameer nie. Moslems wat dit nie eens is met die dade wat gepleeg is nie, kan meehelp deur hulle stemme te laat hoor. ’n Voorbeeld hiervan is te vind in die wyse waarop Noorweë omgegaan het met Anders Breivik se massamoord uit wraak op die Noorweegse linkses se sg sagte houding teenoor Moslems. Die Noorse owerheid het kop gehou en geen oorlog op terreur van stapel gestuur nie. In plaas daarvan is Breivik in die hof as ’n gewone misdadiger verhoor. Breivik se angel is getrek.

Ekstremiste floreer op die ekstreme reaksie van ander. Verdraagsaamheid is hul grootste vyand.4

Om te sorg dat die klein groep Moslems in Europa nie ’n teelaarde word van radikalisme nie, behoort die vrees vir Islam teengewerk te word, behoort minder bohaai gemaak te word oor die meestal ongegronde andersheid van die gewone Moslem se norme en waardes, behoort daar minder daarop aangedring te word dat “hulle” soos “ons” moet dink en doen.

Die feite wat soos ’n paal bo die skuimende water van al die argumente en opinies bly staan, is eerstens dat ’n groep mense, onverteenwoordigend van hul kultuur, uitdagende, beledigende en vernederende spotprente oor ’n ander groep se godsdiens en heilige profeet geproduseer en versprei het; dat ’n handjievol mense, beledig deur die spotprente, ook onverteenwoordigend van hul godsdiens en kultuur, met gruwelike geweld hierop gereageer het.

Maar sukkel jy miskien om te begryp dat mense tot hul uiterste toe beproef word met hierdie soort beledigende en kwetsende spotprente? Kyk dan na hierdie scenario wat Nathan Trantraal skets: “I think if we really want to give the terrorists an up yours in the name of free speech, we should be making satirical cartoons about the Charlie Hebdo staff who were slain in the attack. Ideally the jokes should be about them getting killed. We should satirise the murders of these Charlies to the point of obscenity, and when we reach that point we should push just a little further still. Sure, people might be offended, the victims’ families might even be traumatised. Hell, it might even end up in a few death threats, might go further, some patriot might even decide to shoot me in my stupid head, but it would be a glorious example of the free press and what it means today.”

Om die slagoffers te kritiseer is vanselfsprekend “not done”. En sosiale druk skep ook vrees by diegene wat sou wou. Boonop word ons daagliks gebombardeer met die ideologie van die “oorlog teen geweld” wat min of meer binne die simplistiese lyne van “jy is óf met óf teen ons” gevoer word. Die meeste van ons beswyk onder hierdie politieke en morele druk, of die aanspraak op “goeie gekultiveerde smaak”.5 As jy Charlie Hebdo sou kritiseer, sou jy immers iets heiligs van die Westerse wêreld aantas.

Ten spyte hiervan glo ek dat beledigende woorde of beelde nie net onwys is nie, maar haat aanblaas in ’n wêreld wat alreeds soos ’n styfgetrekte boog oorgehaal staan, gereed vir ’n Derde Wêreldoorlog. Waarvoor deug beledigings onder hierdie omstandighede? Om ons vryheid van mening en spraak, een van die bastions van Westerse waardes, te bevestig? Ja, beslis. Maar is hierdie vryheid, hierdie hoogste Westerse waarde, belangriker as vrede en medemenslikheid? Ons beskik alrééds oor vryheid (en in die Weste is daar veel vryheid); ons moet dit as ’n geleier van vrede en harmonie aanwend, eerder as ’n geleier van haat en nyd. Soms staar ons ons blind teen byna onaantasbare slagspreuke soos “Vryheid bo alles”. Maar kom ons kyk verder. Soos Nicholas Kristof6 bepleit, kom ons hou op om die wêreld volgens simplistiese narratiewe te interpreteer, “because then new information is mindlessly plugged into those story lines”. Kom ons bekyk ook die aanwending en toepassing van ons eie norme en waardes krities. As ek Nathan Trantraal hieroor vra, is sy antwoord: “Brandishing freedom of speech like a weapon in a child’s hands is always bound to have tragic consequences. Freedom in itself is complex and paradoxical, and shouldn’t be defended with the fervour of a religious fanatic; it’s a human construct and therefore cannot encapsulate the full human experience of every individual. We sometimes concede our personal freedom when it comes at the expense of others. People curtail their modes of expression on a daily basis, because they are sensitive to others; there really isn’t a constitutional reason why a white person shouldn’t be able to call a black person a nigger in a casual way […] only a sensitivity to the history of black people supersedes that impulse to have full carte blanche in terms of your liberties, and this isn’t a matter of law, but a matter of neighbourliness or kindness.”

En wat dan van die geweld wat gepleeg is teen Charlie Hebdo? Dít is meer as net onwys en onaardig. Geen omstandighede regverdig dit nie. En ironies genoeg is dit juis besig om Islamofobie met bolwange aan te blaas, spanning te laat oploop, haat te saai, onvrede te laat gedy.

Terug by die verantwoordelikheid van ons wat vryheid het: eers wanneer ons binne die omtrek van ons eie vryheid verantwoordelik en vredeliewend en respekvol met ander en andersheid kan omgaan, sal ons ’n begin kan maak aan ’n “ware” beskawing. Toe Gandhi ’n keer gevra is: “Wat dink u van Westerse beskawing?” het hy geantwoord: “Ek dink dit sou ’n goeie idee wees.” Inderdaad.

 

1 Is Islam to blame for the shooting at Charlie Hebdo in Paris? New York Times, blog van 7 Jan 2015.

2 Is Islam to blame for the shooting at Charlie Hebdo in Paris? New York Times, blog van 7 Jan 2015.

3 http://www.memri.org/report/en/0/0/0/0/0/804/8206.htm#.VLHPdFsNH_g.

4 Cole, Juan: Sharpening Contradictions: Why al-Qaeda attacked Satirists in Paris. http://www.juancole.com/2015/01/sharpening-contradictions-satirists.html.

6 Is Islam to blame for the shooting at Charlie Hebdo in Paris? New York Times, blog van 7 Jan 2015.

Terug na die Charlie-seminaar | Back to the Charlie Seminar

  • 2

Kommentaar

  • Daar is soveel bomme in byvoorbeeld bruin Bagdad dat mens afgestomp raak. Elke week 'n bom. 'n Whitey soos ek voel magteloos as ek die slegte nuus telkens lees, ek voel phantom pains. Dis nie net wittes wat apaties staan teenoor geweld in die bruin wêreld nie.

     
     Bostaande net terloops.   
     
     Ek het baie van hierdie artikel gehou.
  • "Europe’s Jews, like its Christians, have largely mastered the skills of living in a secular society. First among these is the knack of recognising that what is sacred to one community is not sacred to all." - Tom Flynn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top