
Die kunstenaar Anton Kannemeyer is verantwoordelik vir die boekomslagontwerp van Danie Marais se digbundel, Ek en jy bestaan nie (Tafelberg, 2024). Illustrasies: © Anton Kannemeyer
Titel: Ek en jy bestaan nie
Skrywer: Danie Marais
Uitgewer: Tafelberg (Junie, 2024)
ISBN: 9780624095002
- Foto van Danie Marais in die fokusprent: Izak de Vries
Danie Marais praat met Naomi Meyer oor Ek en jy bestaan nie.
Danie, by gebrek aan sterker bewoording: Baie geluk met jou jongste bundel, Ek en jy bestaan nie. Jy het by die Stellenbosse bekendstelling gepraat oor die feit dat ons in ’n tyd leef waarin dit ongeveer is asof verkragters se kinders praat met die kinders van die verkragtes. Onafwendbaar dink ek aan ’n boek soos The reader (Der Vorleser), waar dit ook gaan oor die tweede generasie van ’n volk wat groot onregte gepleeg het wat nou probeer verwoord wat húlle ervaar. My vraag is: Kan mens met vandag se bril na die verlede kyk? En daardeur sien?
Dit wat ek gesê het oor die feit dat ons in ’n tyd leef waarbinne dit soms voel of die nasate van die verkragtes saam met die nasate van hulle verkragters die samelewing probeer uitpluis, verwys na ’n motto voor in Ek en jy bestaan nie:
“Like no
Culture before us, we relate the way the descendants
Of the raped relate to the descendants of their rapists.”
Dit kom uit ’n gedig van die Amerikaanse digter Terrance Hayes se bundel American sonnet for my past and future assassin (2018). Hayes het dié boek, wat slegs uit sonnette met dieselfde titel as die bundel bestaan en waarvoor hy die National Book Award gewen het, begin skryf die dag nadat Trump in 2016 tot president verkies is.
Ek het hierdie reëls aangehaal omdat dit vir my so ’n bondige samevatting is van die lens waardeur baie mense in sowel Amerika as Suid-Afrika begin kyk het na die samelewing in ’n nuwe era van politieke ongeduld en polarisasie, wat in die VSA uitdrukking gevind het in die #BlackLivesMatter-beweging en by ons deur die #FeesMustFall-opstande ingelui is. Hierdie groeperings het, onder meer, die ideale van nierassigheid en Tutu se reënboognasie-idee radikaal bevraagteken.
Daarmee saam het ’n politieke sea change rondom 2015 plaasgevind, ’n paradigmaskuif, wat groter onverdraagsaamheid aan sowel die linkse as die regse kant van die politieke spektrum meegebring het.
Vir my beteken daardie aanhaling ’n beduidende deel van die bevolking het, sowel hier as in die VSA, tot die slotsom gekom dat ons onvoldoende met die geskiedenis afgereken het en dat die onregte van die verlede steeds duidelik sigbaar is in die hede – veral binne die ekonomiese sfeer waar die erfgename van die uitbuiters in die algemeen veel groter welvaart geniet as die nasate van diegene wat deur die strukturele geweld van slawerny, werkreservering, segregasie en/of verskillende ander staatsgesanksioneerde stelsels onderdruk, verneder en uitgebuit is.
Met Ek en jy bestaan nie het ek probeer om hierdie nuwe onsekere, prekêre openbare gespreksruimte te verken en sin te maak van my eie posisie as bevoorregte, wit middeljarige man daarbinne. Ek het nie geskryf om te probeer verdedig of aan te val nie, maar in ’n poging om beter te verstaan wat besig is om te gebeur, op watter maniere hierdie nuwe politieke ongeduld die maak van kuns beïnvloed en wat ’n mens se reaksie as skrywer daarop behoort te wees.
In antwoord op jou vraag of ’n mens met vandag se bril na die verlede kan kyk en daardeur kan sien: ’n Mens kyk altyd vanuit uit jou eie tyd na dinge. Jy leef in jou tyd en jou tyd leef in jou. Maar dis onregverdig om die verlede uit hierdie perspektief moreel te beoordeel, en onmoontlik om dit binne ’n eietydse konteks te verstaan.
Ek het ’n hekel aan presentisme – die praktyk om historiese gebeure en figure te interpreteer deur die lens van kontemporêre waardes en oortuigings. Dit het ’n verwronge begrip van die verlede tot gevolg wanneer ’n hedendaagse etiese raamwerk toegepas word op historiese figure en gebeure sonder om die norme van die tyd in ag te neem.
.........
Ek het ’n hekel aan presentisme – die praktyk om historiese gebeure en figure te interpreteer deur die lens van kontemporêre waardes en oortuigings. Dit het ’n verwronge begrip van die verlede tot gevolg wanneer ’n hedendaagse etiese raamwerk toegepas word op historiese figure en gebeure sonder om die norme van die tyd in ag te neem.
.............
Een van die ontstellendste dinge wat die geskiedenis ons wys, is dat ’n lang lys van slim, belese en welmenende mense binne die norme van hul tyd dinge aangevang en/of geglo het wat ons vandag moreel verwerplik vind. Jy kan dus maar weet ’n klomp mense wat vandag as leiers en meningsvormers aansien geniet en wat jy moontlik bewonder, ook besig is om hulle lelik te misgis.
Jou vorige bundels het baie dikwels oor verhoudings gehandel. Intieme verhoudings, liefdesverhoudings. Hierdie een fokus op ’n ander verhouding, soos die frase “ek en jy bestaan nie” aandui in die gedig wat jy voorgelees het – waar die bundel se titel vandaan is. Wil jy iets van hierdie gedig vertel en die agtergrond daarvan? Dit is die kern van die bundel, is my gevoel – die intieme en persoonlike verhoudinge in hierdie land.
Ja, dit ís vir my die kern van die bundel.
Gefnuikte verhoudings, egskeiding en ouerskap was sentrale temas in my vorige drie bundels: In die buitenste ruimte (2006), Al is die maan ’n misverstand (2009) en Solank verlange die sweep swaai (2014).
Die fokus van die vierde bundel is grotendeels sosiopolities – ’n intieme blik vanuit verskeie perspektiewe op al die maniere waarop die verlede in die hede uitspeel in ’n land waar ongelykheid besig is om die samelewing uitmekaar te skeur en byna alle pogings tot nasiebou en welvaartskepping deur strukturele geweld ondergrawe en aan bande gelê word. Soos een van die motto’s voor in die bundel dit stel: “The past is a life sentence, a blunt instrument aimed at tomorrow” (Claudia Rankine – Citizen).
Die bundel gaan deels oor die voorstede van Stellenbosch, nie as ’n plek van vrede en verveling nie, maar as die omsingelde hart van bevoorregting; ’n konstante psigiese ongemaksone waar ’n koue burgeroorlog stilletjies in die boomryke strate woed, soos elke benoude WhatsApp-buurtgroepie getuig; die voorstede as ’n grensgebied wat deur setlaars beset is wat die Oosgrens en hulle vervaarde setlaarskap oral saam met hulle sleep; mense wat nooit seker is of hulle welkom is of ooit tuis gaan wees nie; mense wat klaarblyklik ná meer as drie eeue in Suid-Afrika steeds grensboere, “frontier people”, is en nou sin moet maak van die maniere waarop hul voorouers gemaak en gebreek en geplunder het in die geloof dat hulle ligdraers van die “Westerse beskawing” was, soos daardie lantern langs die senotaaf binne die Voortrekkermonument te kenne gee.
Ek het met die skryf van die bundel tot ’n soortgelyke gewaarwording gekom as die digter Alberto Ríos, wat op die grens tussen Arizona en Mexiko grootgeword het en in “Border Boy” skryf: “I grew up on the border and though I left / I have brought it with me wherever I’ve gone.”
............
Ek het met die skryf van die bundel tot ’n soortgelyke gewaarwording gekom as die digter Alberto Ríos, wat op die grens tussen Arizona en Mexiko grootgeword het en in “Border Boy” skryf: “I grew up on the border and though I left / I have brought it with me wherever I’ve gone.”
.................
Die frase waaraan die bundeltitel ontleen is, is woorde wat Cecil Boesak een aand in 1999 in Bremen, Duitsland, vir my gesê het. Cecil, wat 15–20 jaar ouers as ek is, is iemand met wie ek bevriend geraak het toe ek vertaal- en tolkwerk by die Mercedes-Benz-fabriek in Bremen gedoen het. Hy was een van ’n span werkers uit Oos-Londen wat kom leer het hoe om die nuwe C-klas in Duitsland te bou.
Dit het my opgeval dat daar spanning is in hulle groep wat bestaan het uit vyf Xhosas, twee wit ouens en Cecil, die enigste bruin man in die groep. Toe ek hom een aand nadat ons lekker gekuier het, daaroor vra, het hy my ’n antwoord gegee wat altyd daarna by my gespook het en die slot van die gedig is:
“Ag, ou Danie,” het Cecil gesug
sy oë ’n oomblik gesluit of hy iets binne
probeer sien en gesê:
“Jy weet mos –
swart wit en bruin kan mekaar nie vat nie.
Ek en jy, ou Danie,
ek en jy bestaan nie.”
In my pogings om oor die nuwe tydsgees te skryf het sy woorde gereeld by my aangemeld. En toe ek in 2016 in die koerant die woorde “Fuck white people” teen die Olive Schreiner-gebou op die Wits-kampus sien staan, het ek dadelik gewonder wat van Cecil geword het, maar ek kom hom nêrens op Facebook of die internet opspoor nie.
Namate die bundel begin vorm aanneem het, het ek besef hierdie woorde omvat op verskeie maniere wat my bedruk, bedroef en bekommer rondom al die sosiopolitieke kwessies wat ek hier bo genoem het en hoe dit ons persoonlike verhoudinge beduiwel. Daardie woorde het egter ook geslaan op frustrasies in my privaat sfeer.
............
Namate die bundel begin vorm aanneem het, het ek besef hierdie woorde omvat op verskeie maniere wat my bedruk, bedroef en bekommer rondom al die sosiopolitieke kwessies wat ek hier bo genoem het en hoe dit ons persoonlike verhoudinge beduiwel. Daardie woorde het egter ook geslaan op frustrasies in my privaat sfeer.
...............
Wat laasgenoemde betref: Middeljarigheid voel of jy begin verdwyn en dat jy nie meer tel nie. Jy verstaan skielik nie meer die wêreld en modes nie. Wat nou cool is, vind jy bevreemdend. Soos Bob Dylan dit op sy groot 1997-midlife-crisis-comeback-album, Time out of mind, in “Cold irons bound” gestel het: “I’m waist deep, waist deep in the mist / It’s almost like, almost like I don’t exist.”
Dit het daarbenewens met tye vir my gevoel of die ek en jy vir wie ek skryf binne die klein Afrikaanse letterkunde ’n groepie op die rand van die vergetelheid is wat geen invloed het op die gang van sake nie. Soms het ek ernstig gewonder of die verskil tussen ’n Afrikaanse digbundel publiseer en nie ’n Afrikaanse digbundel publiseer nie, ’n verskil is wat enige verskil maak.
En dan gaan die titel natuurlik ook oor daardie paradoks wat Cecil verwoord het: Ons weet dit is moontlik vir ’n ek en ’n jy om mekaar sonder skaamte oor klas- en rasgrense in die oë te kyk, want ons het dit tog al ervaar. Maar binne die geweldige spanning wat daar steeds tussen ras en klas in die land heers, en terwyl daardie vuur boonop deur ekonomiese ongelykheid gestook word, is dit asof ’n ek en ’n jy wanneer ons mekaar wel vind, ’n uitsondering beleef wat die bitter reël bevestig.
Jy het gepraat oor die vertrekpunt vir die gedig, “Fuck white people”. So 2016 rond. Dis iets wat jou laat nadink het, jou ontstel het. Dalk iets waarvoor jy moes dankie sê. Want toe kry jou gedigte en die tematiese aspekte daarvan traksie. Of wat praat ek? Moes jy eers weet waaroor alles gaan handel en wat jou invalshoek is voordat jy aan ’n digbundel kon dink? Dis nou tussen alles deur wat jy beleef: veertigs, kinders wat grootword, balle om in die lug te hou met werk, die lewe wat net sy onstuitbare gang gaan? Is gedigte skryf bietjie soos joernalistiek? (Ek weet dit is nie!) Ek praat van die invalshoekaspek. Vir ’n bundel. Anders is dit net los gedigte. Is dit ewe sinvol as om dit saam te voeg as ’n geheel?
Toe ek die woorde “Fuck white people” in die koerant op die Wits-kampus sien staan gedurende die #FeesMustFall-opstande van Februarie 2016, het ek my opnuut wit geskrik. Jammer, ek kan nie dad jokes weerstaan nie – selfs in, of dalk júis óók in, ernstige situasies. Maar destyds kon ek glad nie daaroor lag nie. Om daardie woorde in die openbaar te sien, het my yskoud laat word, want dit het daardie vrees ontketen wat jy as wit Suid-Afrikaner met moedersmelk ingekry het.
Antjie Krog, wat ook in haar mees onlangse bundel, Plunder (2022), na aanleiding van hierdie woorde ’n gedig geskryf het, het die vrees waarvan ek praat, bloedstollend vasgevang in “ná ground-invasions in Zimbabwe” – ’n vers in Kleur kom nooit alleen nie (2000):
sal ek altyd wit wees
maak nie saak waarvoor ek staan
by wie ek skaar wat ek doen
wie my ondersteun nie?
sal ’n swart man op ’n dag in my gesig gil
Voetsek! Fôkôf! en my huis oorvat
en my President bly stil en sy Kabinet
en die oorblywende wit comrades?
sal ek op ’n dag forseer word om te besef
swart en wit het niks gemeen nie
nie waardes nie nie medemenslikheid nie
selfs en veral nie geslag nie
is kleur die allesbepalende faktor
liefhê hoe hoort wit-wit wit-wit klop my hart?
Die “Fuck white people”-graffiti het daardie vrees soos ’n mandjie slange in my kop omgeskop, want wanneer mense begin om hatige woorde in die openbaar uit te spreek binne ’n tyd van massa-opstande, is daar rede om benoud te voel.
Daardie graffiti was egter nie die een impuls wat tot die hele bundel aanleiding gegee het nie. Ek het nog nooit besluit, reg, ek gaan nou oor hierdie of daardie tema ’n bundel skryf nie. Wat uiteindelik ’n soort eenheidsbundel geword het, het deels organies ontstaan. Gedigte het begin aanpak rondom sentrale kwellinge, frustrasies en kompleksiteite. Ek kon eers veel later in die proses begin om die bundel te orden tot ’n gesprek tussen gedigte wat uit ’n verskeidenheid perspektiewe na ’n paar sentrale kwessies kyk.
In my veertigs het ek vanweë vaderskap en finansiële druk besonder min wriemelruimte gehad. Ek het vasgekeer gevoel – soos ek as tiener in die laat ’80’s vasgekeer gevoel het – in my vel, my taal en die suburbs, waar ek weer beland het hoewel ek nooit van plan was om terug te keer nie. Daarmee saam het ek ’n konstante beklemming oor die land gehad en ’n diep teleurstelling oor die beskaamde hoop van my Voëlvry-generasie. Ek het elke nou en dan gedink aan Valiant Swart se woorde in sy liedjie “Soos ’n vis”:
Daar’s ’n duisende dooi drome in jou hart
En ’n lyksang in jou bors
Daar’s warm wyn wat in jou are brand
Maar soos ’n vis bly jy dors.
Dit het gevoel of ek teen wil en dank aan die verkeerde kant van die geskiedenis beland het, maar terselfdertyd was ek diep onder die indruk van my bevoorregte posisie en hoeveel swaarder soveel miljoene ander kry.
Ek het uit en oor hierdie toestand probeer dig asof ek tegelyk binne die situasie staan en myself onder kil kruisverhoor plaas.
In antwoord op jou vraag of dit ’n soort joernalistiek is: Vir my was die digkuns nog altyd ’n manier van dink oor verhoudings, die lewe en die wêreld.
In elke slypskool vir kreatiewe skryfkuns wat ek aanbied, haal ek hierdie argument uit die Amerikaanse Nobelpryswenner Louise Glück se essay “Against sincerity” aan:
I want to say, finally, something more about truth or about that art which is “indistinguishable” from it. Keats’s theory of negative capability is an articulation of a habit of mind more accurately ascribed to the scientist, in whose thought the absence of bias is actively cultivated. It is the absence of bias that convinces, that encourages confidence, the premise being that certain materials arranged in certain ways will always yield the same result. Which is to say, something inherent in the combination has been perceived.
I think the great poets work this way. […]
At the heart of that work will be a question, a problem. And we will feel, as we read, a sense that the poet was not wed to any outcome. The poems themselves are like experiments, which the reader is freely invited to recreate in his own mind. Those poets who claustrophobically oversee or bully or dictate response prematurely advertise the deficiencies of the chosen particulars, as though without strenuous guidance the reader might not reach an intended conclusion. Such work suffers from the excision of doubt: Milton may have written proofs, but his poems compel because they dramatize questions. The only illuminations are like Psyche’s, who did not know what she’d find. [...]
The true, in poetry is felt as insight. It is very rare, but beside it other poems seem merely intelligent comment.
Baie van die gedigte in Ek en jy bestaan nie voer vrae op, wat meesal ontstaan het uit konkrete situasies of dinge wat ek gelees het, op soek na ingewikkelde waarhede. Die antwoorde was uiteraard nie eenduidig of gerusstellend nie, maar daarom het dit ook meer genuanseerde begrip en ’n soort duurgewonne aanvaarding van ’n onbegonne situasie gebring.
Jy praat oor die kompleksiteit van ’n gesprek met ’n bruin digter wat juis as bruin digter gesien wou word en jou as wit man nie toereikend as gespreksvoerder ondervind het nie (en stel dit teenoor ander bruin skrywers wat juis nie op velkleur getakseer wil word nie). Oplaas, kom ons wees eerlik: ’n Wit skrywer sal nie vanselfsprekend aan die woord gestel word met ’n verwysing na velkleur nie. So die kompleksiteit begin by die blote feit dat hierdie die agtergrond en teenswoordige narratief is: Wit word nie gedefinieer nie, en nou is die vraag: Wat van bruin of swart of andere? Hoe navigeer mens jou weg op die regte manier? Dalk het jy dit ook so by die Woordfees beleef, en in die algemeen, in die algemene doen en late met soveel verskillende mense.
Die gedig waarna jy verwys, “Die paneel”, was die een in die bundel waaroor ek die heel meeste gewroeg het. Ek het baie amper daarmee tou opgegooi, maar ek het uiteindelik besef die intens ongemaklike situasie waaruit die gedig gespruit het, bied die mees geskikte ervaring waarbinne witheid en bevoorregting binne Stellenbosch vanuit ’n ondraaglik persoonlike hoek verken kan word.
’n Bruin digter wie se werk ek as baie sterk beskou, het in ’n paneelgesprek wat ek gelei het, te kenne gegee dat hy wonder hoekom die Suidoosterfees ’n “white body” soos ek gevra het om met hom oor “bruin werk” te praat – iemand wat in sy persepsie ver verwyderd staan van dit waaroor hy skryf en dus nie regtig kan verstaan waaroor dit gaan nie.
Dit was vir my ’n bitter pil, omdat baie van die digter se woedende verse gegaan het oor die kwetsende en frustrerend ervarings wat hy as student aan die Universiteit Stellenbosch deurgemaak het. Die lees van die bundel het my met empatie en kommer vervul, maar op die verhoog daardie dag is ek daarmee gekonfronteer dat ek tog maar gesien word as deel van die wit Stellenbosch wat studente van kleur dikwels onwelkom en ekonomies verneder laat voel.
In 1985 het Hein Willemse ’n toespraak by die Afrikaanse Skrywersgilde in Gordonsbaai gelewer. By hierdie geleentheid het hy gesê: “Ek skryf in Afrikaans. Ek stry in Afrikaans. Maar het ek deel aan die Afrikaanse letterkunde? Wat is my verhouding tot ’n letterkunde wat in essensie so diametraal tot my staan? Miskien sou my vraagstelling eerliker wees as ek vra: Skep ons aan dieselfde letterkunde?”
Hierdie gedig gaan deels oor daardie kwessie, want my indruk is dat ’n aantal begaafde jong bruin skrywers nie voel dat hulle deel is van, en ook nie wíl deel wees van, die wit Afrikaanse letterkunde wat bruin stemme so lank nie na waarde geskat het nie of in die doofpot gestop het nie.
Ek vind dit bitter jammer, omdat daar soveel jonger bruin skrywers is wat nuwe leefwêrelde oopskryf en die letterkunde verryk vir almal wat Afrikaans lees en die land beter probeer verstaan. Maar ek het ook begrip vir die woede waaruit hierdie standpunt kom. Wat binne die Afrikaanse taalgemeenskap gebeur het in die afgelope honderd jaar, is so bitter dat dit naïef is om te dink daardie gif is al uit die kollektiewe liggaam. Toe Valda Jansen in 2017 die Jan Rabie Rapport-prys gewen het vir haar roman Hy kom met die skoenlappers, het sy in haar aanvaardingtoespraak gesê: “Apartheid is my Boereoorlog.”
Daardie sentiment verstaan ek. Wit Afrikaanssprekendes en Afrikaanssprekendes van kleur is besig met parallelle rouprosesse oor die verlede, en om van wit kant af aanspraak op versoening te maak, span die wa voor die perde.
Soos Antjie Krog dit stel in die derde motto voor in Ek en jy bestaan nie, wat kom uit haar gedig “#FeesMustFall, Oktober 2015” in Plunder:
die gemeenskap wat ons is hoort nie te duur nie versoening
was nog nooit ’n mond vol onbevlekte duiwe nie.
Ek kan ook heeltemal insien dat ’n jong geslag bruin lesers voel skrywers soos Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, Ryan Pedro, Ashwin Arendse, Lynthia Julius, Veronique Jephtas, Brian Fredericks en Audrey Jantjies skryf vanuit ’n situasie waarmee hulle worstel en waaraan hulle onderwerp is, en nie soos wit skrywers oor daardie situasie nie – dat daar met ander woorde die eerste keer regtig iets vir hulle in die Afrikaanse letterkunde is. En dit werp dan weer Hein Willemse se vraag op: “Skep ons aan dieselfde letterkunde?”
Die tragiese ironie is dat ons tegelyk sit met ’n situasie waar mense in onderskeie groepe hul afvra: Is swart, bruin of wit dan al wat ek ooit sal wees?
In “I Gepubliseerdiërs 13” – die treffende openingsgedig van haar jongste bundel, Kinderlê – skryf Lynthia Julius in die twee slotstrofes:
Al deel ek my hartseer,
maar skryf in my wêreld se Afrikaans,
is ek nog steeds net ’n bruin digter.
Al gee ek gestalte aan my Dasein,
maar ek skryf nie soos hulle nie,
is ek ’n bruin teef wat blaf.
In Ek en jy bestaan nie stoei ek in “Tussen my en jou, Tony, en eeue van sneeuwit” daarmee dat ek in baie opsigte maar ’n wit skrywer is en derhalwe ’n perspektief na die tafel bring wat nou irrelevant voel.
Dit is dus ’n gedig wat saam met “Die paneel” gelees moet word, maar in beide gedigte het ek uiteindelik eerder ’n meer genuanseerde greep op hierdie kompleksiteite gekry as klinkklare antwoorde.
Ek het so getwyfel aan my eie verstand en oor wat die gedig nou eintlik probeer sê dat ek selfs ’n naslot gehad het wat die slotstrofe van “Tussen my en jou, Tony, en eeue van sneeuwit” tussen hakies bevraagteken:
(Bitter daarby
dat ek nooit seker is
of ek my eie slotstrofe
glo nie – speel ek dalk
vir ’n verbeelde gehoor die gevreesde
tribunaal vervul
van die onheilige gees
van die Geskiedenis die krygshof
wat oor die geloofwaardigheid en gehalte
van my berou en begrip
sal oordeel? Of is dit net
die wit soos te veel witblits in my
wat terugpraat?)
In oorleg met die eindredakteur van die bundel, Alfred Schaffer, het ek besluit om daardie stuk neurose te sny, maar elke nou en dan wil ek dit terugsit.
Ek weet dus allermins hoe ’n mens hierdie situasie reg hanteer of navigeer. “How to human in these times?” het Bibi Slippers dit onlangs teenoor my gestel.
Maar ek dink ’n mens moet die gesprek probeer voortsit – bewus van waar die slaggate lê en die heftige emosies wat hierdie kwessies ontketen, maar ook soms lomp en onbeholpe wanneer dit nie anders kan nie. Praat is al genade.
Iewers in jou gesprek verwys jy na hoe jy dekades lank tyd gehad het om vir die vraag voor te berei, maar hier vang die persoon jou broek-op-die-knieë. Jy is weer ontbloot as wit man. Is daar enige nuttige tantrum wat ’n wit man kan gooi, behalwe om sy wit bevoorregting te verklaar? Maar kom ons praat ’n bietjie hieroor. Sê nou ons is nog steeds lief vir Afrikaans, ten spyte van ons bevlekte verlede? Sê nou ons hou nog steeds van NP Van Wyk Louw se pragtige woorde of selfs die meervlakkigheid van ’n lied soos “Die Stem”, maar dis alles onherroeplik rassisties op grond van alles wat gebeur het? Hoe maak ons nou? Mag ons nog van Woody Allen se kuns hou en by flieks aanklank vind ten spyte van alles?
Oor hierdie vrae wonder ek en ’n klomp mense dwarsoor die wêreld al jare.
Vir my is daar minstens twee dimensies ter sprake.
Wanneer dit gaan oor wreedhede en magsmisbruike, wat ook in die era waarbinne die kunstenaar geleef en gewerk het, as wreed beskou is, sukkel ek om die kunstenaar se werk weer daarvan te ontkoppel.
Maar wanneer dit gaan oor die neiging om historiese gebeure en figure moreel te veroordeel oor hul politieke sienings deur die lens van kontemporêre waardes en oortuigings, vind ek dit problematies en dikwels skynheilig.
Kan ek vir Van Wyk Louw verguis oor sy Afrikanernasionalisme, terwyl ek waarskynlik self in daardie tydperk uit wrewel teenoor Brittanje soortgelyke sentimente sou gehad het en tien teen een ook deur die bril van wit meerderwaardigheid tot ’n mate blind sou gewees het vir die bitter onregverdige behandeling van my landgenote?
My eie oupa, Dirk Jordaan, was ’n Nat wat sy baard vir 1938 se Eeufeestrek laat groei het, maar sy werk as predikant in die bruin Sendingkerk het hom later tot ander insigte gebring. Ook my oorlede skoonpa, Sampie Terreblanche, was ’n stoere Nasionalis tot hy met die Erika Theron-kommissie oor bruin armoede ’n Damaskus-ervaring gehad het. Hy het dikwels vertel watter lewensrigtingveranderende indruk die “mensonterende armoede” waarmee hy die eerste keer deur die sy werk vir die kommissie gekonfronteer is, op hom gehad het.
Van Wyk Louw is dan uiteindelik ook maar uitgestoot deur die Nasionaliste nadat hy te krities teenoor apartheid begin staan het.
Met die #MeToo-beweging en die reg-of-weg-houding waarmee kanselleringskultuur dikwels gepaard gaan, word hierdie vrae met nuwe dringendheid op verskeie platforms beredeneer.
Ek kan my vereenselwig met wat die TV- en boekresensent Emily Nussbaum, ook ’n Gen X’er soos ek, in haar essay oor #MeToo, “Confessions of the human shield” (in I like to watch: Arguing my way through the TV revolution, 2019), geskryf het. In dié essay dink sy na oor die werk van, onder andere, gekanselleerde kunstenaars soos Woody Allen en Louis CK, wat eens van haar helde was:
It was easier to detach myself when it came to music or painting or sculpture; it was much easier with mediums (jazz and abstract expressionism, say) that felt less narrative, more mathematical. It was harder with someone who made you laugh, because laughter is intimate, a loss of control. It was easier when I hated both the art and the artist. It was harder when the work felt like it was about me, my world.
Sy sê wanneer sy nou dink oor Louis CK se reeks Louie, moet sy toegee: “I’m its creature, the way we are all creatures of the art we care about, even if we decide to throw it in a garbage can.”
Ten slotte sê sy: “It’s hard to find your footing as the ground is shifting. These days, we are all performing what a friend of mine once called ‘the audit’, struggling to reconcile the stories we used to tell ourselves with the ones we tell ourselves now.”
Met Ek en jy bestaan nie het ek probeer om ’n bydrae te lewer tot daardie persoonlike en kollektiewe oudit en die gesprek oor die ou stories wat aanhou spook en waarin ons na nuwe betekenis soek.
Jy praat oor die gekompliseerde dorp wat Stellenbosch is. Hoe eerstegenerasie studente hierso aandoen en ongemaklik voel as hulle die dorp binnery. Weens rassisme en ongelykheid wat in die leivore stroom (ek gaan op loop – dis nie wat jy gesê het nie), die onsigbare grense tussen almal wat die dorp bewoon. Maar hoe sou die dorp anders kon wees – sou mense se koppe moes swaai om weg te doen met die ongemakke? Kán dit? Dalk is dit glad nie wat jou bundel sê nie. Dit druk net ’n vinger in die wond en wys dit uit.
Wanneer dit gaan oor hoe Stellenbosch kan anders wees, dink ek aan die Sloweense filosoof Slavoj Žižek wat in The pervert’s guide to ideology daarop wys dat dit vir ons blykbaar makliker is om ons die einde van die planeet te verbeel as ’n beskeie hervorming van ons ekonomiese stelsel. Dit is mos ’n skande. Ons weet mos gierigheid, korrupsie en magsmisbruik speel ’n enorme rol in die onregverdige ekonomiese verdeling op aarde.
Ek dink ook aan ons seun, Sam, wat in Cloetesville gaan sokker speel het toe hy so agt was en gevra het: “Mamma, is hierdie ook Stellenbosch?”
Ons moet ons tog ’n ander, minder verdeelde meer regverdige dorp kan verbeel. Daar is mense wat daaraan werk, en soms gebeur wonderlike dinge by die Woordfees waar gehore oor grense heen bymekaar kom in plekke wat hulle nie buite feestye besoek nie.
Waar daar ’n politieke en korporatiewe wil is, is daar ’n weg.
.............
Ons moet ons tog ’n ander, minder verdeelde meer regverdige dorp kan verbeel. Daar is mense wat daaraan werk, en soms gebeur wonderlike dinge by die Woordfees waar gehore oor grense heen bymekaar kom in plekke wat hulle nie buite feestye besoek nie.
Waar daar ’n politieke en korporatiewe wil is, is daar ’n weg.
................
Maar ons stadsraad kies om ontwikkelaars toe te laat om luukse studentebehuising op te rig in ’n oorvol dorp met verkeersknope wat al hoe erger raak, terwyl laekostebehuising sowel ’n opsie as ’n behoefte is. Laasgenoemde sou ’n gesonder gemeenskap help bou, maar daar is nie hope geld uit te maak nie.
My bundel is egter geen manifes met ’n lys van moontlike oplossings of pleidooie nie. Dis klein lewensdramas en dink-eksperimente wat afspeel teen die agtergrond van ’n onhoudbare situasie in ’n dorp waar hemel en hel ’n katspoegie uitmekaar is en ek nog uit die status quo voordeel trek.
Jy sê die verkeerdste ding om te doen is om te maak asof die ek en die jy nie bestaan nie. Dis waar. Maar sê ons dit nie weer net vir mekaar, ons klein groepie Afrikaanssprekendes wat nie met andere praat nie, maar almal saam na die Kannemeyer-skildery in julle huis kyk tot iemand anders van die land wat nie wit is nie, dit saam met ons beskou? En dan wag ons vir hulle reaksie (“I am not offended”). En tog is daar mense wat mekaar voor die skildery ontmoet en kan verklaar: “Ek en jy bestaan nie.” (En dan bestaan ons wel, al is dit net daarso, al is dit net ’n paar oomblikke lank.)
Die paradoks van die Cecil-gedig waaruit die titel kom, is dat ek en jy wel bestaan. Al wat vir my sin maak, is om meer ruimtes te probeer skep waar hierdie ek en jy mekaar kan vind.
Soos James Baldwin dit in A rap on race gestel het: “We’ve got to be as clear-headed about human beings as possible, because we are still each other’s only hope.”
Maar op die vraag of dit nie maar net ’n geval is van ons groepie wat onder mekaar praat nie: Soms is gesprek onder mekaar ook noodsaaklik om die situasie waarin ons ons bevind, beter te verstaan en te probeer besluit wat ons te doen staan. Die reaksie op die bundel tot dusver het my gewys dat baie mense spartel met die dinge waaroor die bundel gaan – dinge waaroor ons sukkel om te praat.
Ek dink ook wit frustrasie en vertwyfeling word minder wanneer ’n mens in onderlinge gesprek meer begrip ontwikkel vir die geweldige frustrasie en vertwyfeling van die ander groepe in die land wat dikwels onder presies dieselfde dinge gebuk gaan en meesal nog erger daaronder ly – misdaad, korrupsie, stygende lewenskoste ens – maar nou ook moet luister na wit mense se dikwels beterweterige klagtes daaroor.
Ek kry die indruk uit Netwerk24-kommentare dat baie mense net fokus op die korrupsie en die mislukkings van die regering en hul vrees vir ’n Malema of Zuma, wat natuurlik ook redes vir legitieme griewe en kommer is. Maar dis net so belangrik om rekening te hou met die posisie van miljoene swart en bruin jongmense met die aspirasie tot ’n beter lewe – mense wat dikwels bitter hard werk onder groot finansiële nood, en wanneer hulle ’n kwalifikasie verwerf, ook daarna met die swaar las van black tax sit. ’n Mens moet ook na jou frustrasies uit daardie perspektief kyk, want in daardie situasie sou jy waarskynlik ook nie veel tyd gehad het vir die dilemmas van wit mense wat lyk of hulle nog knus in die sagte kussings sit nie.
Praat met my oor Anton Kannemeyer en die boekomslag. En dalk sy gedagtes oor kanselleerkultuur. Hoe grotesk dit alles is, hoe jy jou vakgebied kan beskou en dit krities kan ondersoek – terwyl jy ook die vakmanskap omarm?
Anton Kannemeyer se voor- en agterblad spreek tot die sentrale temas in die bundel. Beide eggo ook in spesifieke gedigte: die voorblad in “O, die sentimentele roofdiere”, en die agterblad se aanhaling – “die Geskiedenis se medelye hou op / waar die suburbs begin” – kom uit die gedig “Goeienag, Matt Berninger”. Die vallende man op die agterblad sluit ook aan by woorde van Berninger, die rockgroep The National se hoofsanger en -liriekskrywer, wat boaan laasgenoemde gedig aangehaal word: “I still owe money to the money, to the money I owe / The floors are falling out from everybody I know.”
Die voorblad wys ’n serene toneel wat spreek van gemak en bevoorregting, terwyl die agterblad die bestaansangs en prekêre situasie van die middelklas en voorstede uitbeeld wat onder daardie kalm oppervlak lê.
Ek kan en wil nie namens Anton oor cancel culture praat nie, maar wat met hom gebeur het, was iets wat my erg ontstel en bedruk het.
Nie lank nadat Anton die omslag van my vorige digbundel, Solank verlange die sweep swaai, in 2014 ontwerp het nie, het mense begin om hom op sosiale media aan te val en as rassis uit te kryt. Daardie politieke sea change van 2015 het groot gevolge vir sy loopbaan gehad. In die paar jaar voor 2015 was daar sowel kritiek as waardering vir die manier waarop hy die golliwogfiguur ingespan het om wit liberale te satiriseer, maar daarna het verskeie kommentators begin sê ’n wit kunstenaar het nie die reg om daardie rassistiese beeld te gebruik nie – dis soos ’n wit man wat die n-woord sê en daarmee slegs ou vooroordele en wrede diskriminasie versterk.
Ek het gedink hierdie kritiek het teen die grein van die werk ingedruis. Anton het daardie figuur gebruik om die huigelary van wit liberale bloot te lê wat polities korrekte geluide maak terwyl die wit angs wat hul woorde onderlê, per definisie gebou is op die rassistiese idees wat hulle van kindsbeen af ingejaag is en hulle steeds, sowel bewus as onbewus, saamdra. Visueel was dié onthutsend ikonografie ideaal geskik om daardie dinamiek te verken en mense tot nadenke aan te spoor.
Binne die nuwe klimaat het die galery wat hom verteenwoordig het en hom voorheen aangemoedig het om hierdie polities uitdagende werk te maak, hom egter die trekpas gegee. Sy werk was glo net nie meer snaaks en vars nie en het medewerkers en galerybesoekers aanstoot gegee. Daarna is sy kuns ook van verskeie ander platforms verwyder.
Die oordeel oor artistieke vakmanskap en dit wat as moreel verwerplik of taboe beskou word, is natuurlik twee verskillende dinge. Ek dink nie daar is enige twyfel oor Anton se vakmanskap as kunstenaar en grafiese ontwerper nie, maar die tydsgees is nie ’n gety wat ’n individu kan swaai nie.
Die soort kritiek wat Anton in die afgelope dekade van links gekry het vir sy kuns, wat in die ’90’s van ’n behoudende regse kant as transgressief en radikaal links beskou is, is ook teen ander provokateurs van daardie dekade gerig.
Chuck Klosterman skryf in The nineties (2022) aan die slot van ’n hoofstuk oor hoe videowinkels ’n filmmaker soos Quentin Tarantino gevorm het:
What came from the nineties stayed in the nineties. By 2015, the notion of seeing a film (or any art) as separate from real-life morality and present-day politics had become increasingly unpopular. By 2020, it was verboten. A movie like 1992’s The crying game, which would have been unmakeable in the remote past, became unmakeable again. Tarantino, once lionized for his uncompromising singularity, would be regularly attacked for using racially abhorrent language and prioritizing his own internal fantasies above the external message his work seemed to project. The possibility of a movie being only about itself was out of business, along with all the video stores.
Ek hoop die pendulum sal weer swaai, want moreel ambivalente kuns wat ons diep ongemaklik maak, is belangrik. ’n Mens wil tog nie net lees, skryf en sien wat jy reeds weet of veronderstel is om te voel nie.
Musiek en die ritmiese maatslag van jou woorde – een van Bibi Slippers se vrae by die bekendstelling. Van wanneer af luister jy musiek en wat was van jou vroegste kere wat jy kan onthou wat jy by musiek aanklank gevind het?
Ek was van kleins af in musiek se ban – en veral musiek met woorde. Koos Doep, David Kramer, Laurika Rauch (haar eie musiek, maar ook haar Encore Brel-plaat), Anton Goosen, Simon & Garfunkel, Joan Baez en Elvis was van die goed wat gereeld in my ouerhuis gespeel is en my as kind onverklaarbaar diep geroer het.
As tiener was ek rock- en folk-vervalle en het ek lang stringe lirieke in my huiswerkboek oorgeskryf.
Ek het dus nog altyd by lirieke as ’n vorm van poësie aanklank gevind.
Later jare het ek agtergekom dat ek besonder aangetrokke is tot kunstenaars wat praat-sing – dikwels met ’n soort loop-en-val- of hinkepink-ritme. Ek hou van ’n liedjie wat ’n intieme gesprek aanknoop en jou dan tog met ’n refrein verras, en dis daardie ritmes wat so kom en gaan en soms struikel waartoe ek in my eie werk aangetrokke is.
Ek dink hier aan liedjies soos Leonard Cohen se “Avalanche” en “Last year’s man” of Lou Reed se “How do you think it feels” en “Ecstacy”. ’n Ander goeie voorbeeld is Laurie Anderson se “The dream before”.
In die afgelope 20 jaar is ek veral diep onder die indruk van Bill Callahan se slag met woorde in mymerende liedjies wat dikwels nie voorspelbare strukture het nie. Sy “The ballad of the Hulk”, waarvan daar ook ’n eggo in my gedig “Die paneel” is, is ’n mooi illustrasie.
Ritme is uiteindelik sentraal tot die modulering van ’n erkenbare, spesifieke digterstem.
In The art of voice skryf die digter Tony Hoagland dat ’n sogenaamde voice poem nie gehoor hoef te gee aan die diktum dat elke woorde daar moet wees vir ’n rede nie: “In a voice poem, some phrases serve no purpose, for instance, beyond inducing a conversational bond with the reader. ‘Here’s the thing,’ for instance, or famously, ‘This is just to say ...’”
En dan sê Hoagland met verwysing na die digkuns van Frank O’Hara: “In reading a voice poem like O’Hara’s it might be said that you can feel the rhythm of the speaker’s breath; the poem is breathing.”
Daarom was ek nog altyd aangetrokke tot die parlandovers en die intimiteit van folk en rock. Wanneer die leser vergeet hy’s besig om te lees en voel hy praat met ’n regte persoon, val die skanse en word die gedig ’n ervaring wat so waar en onmiddellik soos jou eie lewe en binnegesprek voel.
Lees ook:
"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars
Die man wattie kinnes vang: ’n onderhoud met Nathan Trantraal
Die 25ste LOK-simposium (2023): Waarom letterkunde? Wat van die walvisse?
NSFAS-hulpskema vir studente kan lei tot nog ’n #FeesMustFall
Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Kommentaar
Deeglik en inspirerend!