Plunder deur Antjie Krog
Uitgewer: Human & Rousseau (2022)
ISBN: 9780798183178

Antjie Krog (Foto: Antonia Steyn US Woordfees)
- Inleiding
Dat die Afrikaanse digter en hoogleraar Antjie Krog met haar twaalfde digbundel, Plunder (2022), beide die UJ- en Hertzogprys in 2023 ingepalm het, is reeds algemeen bekend. Dit is die tweede keer dat Krog die UJ-prys wen (in 2001 ook vir Kleur kom nooit alleen nie, 2000) en die derde keer dat sy die Hertzogprys verower (ook in 1990 vir Lady Anne, 1989) en in 2017 vir Mede-wete, 2014). Plunder verskyn in die jaar waarin sy 70 word – 52 jaar ná Dogter van Jefta (1970) waarmee sy op agtienjarige ouderdom gedebuteer het. In ‘n bietjie meer as ’n halfeeu bou en beitel Krog woord vir woord aan ’n haas onvergelykbare Afrikaanse poëtiese nalatenskap wat, benewens genoemde bundels, ook Januarie-suite (1972), Beminde Antarktika (1974), Mannin (1974), Otters in bronslaai (1981), Jerusalemgangers (1985), Gedigte 1989–1995 (1995) en Verweerskrif (2006) insluit. Haar vermoë om deur middel van poësie generasiegapings te oorbrug, vind ook neerslag in vier digbundels vir kinders: Mankepank en ander monsters (1989), Voëls van anderse vere (1992), Fynbosfeetjies (2007) en Vetplantfeetjies (2022). Sy oorbrug ook taal- en kultuurgapings as samesteller van twee bloemlesings waarin sy poësie vanuit ander Suid-Afrikaanse kulture byeenbring, naamlik Met woorde soos met kerse (2002) en die sterre sê “tsau”(2004).1
Hierdie ryk poësiekorpus weerspieël verandering in verskeie vorme oor ’n tydperk van meer as vyf dekades. Sodanige verandering sluit onder meer in die benutting van Afrikaans op vernuwende maniere, die (poëties-joernalistieke) verslaggewing van ’n Suid-Afrika wat voortdurend verander, en die beskouing en belewing van die wêreld om haar tydens verskillende lewensfases. Krog belig hierdie belewing vanuit verskeie fokalisasiehoeke, wat daartoe lei dat enigiemand by haar poësie aanklank kan vind. Die oorhoofse tematiek van haar poësie vind dan ook neerslag in Plunder en kan, in die trant van die Russies-gebore Amerikaanse psigoloog Urie Bronfenbrenner (1979) se ekologiesesisteemteorie, diagrammaties soos volg voorgestel word:

Diagram van temas in Plunder (grafika selfgeskep)
Hierdie temas is, ook in die trant van Bronfenbrenner se teorie, altyd ingebed teen die breër agtergrond van tyd en tydsverloop (oftewel die kronosisteem) – twee konsepte wat onlosmaaklik deel is van veroudering en verganklikheid.2 ’n Mens sou kon sê dat Plunder op die mees basiese vlak, bloot vanweë Krog se ouderdom, onvermydelik in die teken van laatwerk of sogenaamde ouderdomspoësie staan, en hoewel ’n gerontologiese benadering tot hierdie komplekse bundel beslis nie die enigste manier is waarop die verse in die bundel tot ’n mate ontsluit kan word nie, is dit wel ’n logiese invalshoek. Helize van Vuuren, kenner op die gebied van laatwerke/laatstyl in die Afrikaanse letterkunde,3 skryf in haar resensie-essay oor Mede-wete dat beide Mede-wete en Verweerskrif, wat sterk gefokus is op die verouderende vroulike liggaam, ongetwyfeld as sogenaamde laatwerke gereken kan word. In haar destydse Beeld-resensie van Verweerskrif speur Van Vuuren (2006) trouens die ontwikkeling van die vrou in elke Krog-bundel soos volg na:
Sedert haar debuut met Dogter van Jefta (1970) het die vrou in allerlei gedaantes, parallel met die digter se eie biologiese ontwikkeling, in Antjie Krog se oeuvre vorm gekry: jongmeisie in Dogter van Jefta en Januarie-suite (1972), bruid en jong vrou in Mannin en Beminde Antarktika (albei uit 1975), domestikaal-bemoeide moeder-agter-die-opwasbak in Otters in bronslaai (1981), tot met die grootse hoogtepunt van die skrywende-en-skerp-waarnemende Kaapse vrou in Lady Anne (1989). Daarna het die digter, politieke aktivis en feministiese vrou al hoe sterker gefigureer. In Verweerskrif, Krog se tiende digbundel, is die openbare ruimte en funksies sterk teruggedring, en feitlik volledig vervang met die private, feitlik liggaamlike ruimte van die waarnemende ouerwordende, menopousale vrou, haar familie (eggenoot, kinders, kleinkinders, moeder), en haar huis in Kaapstad, teen die hange van Tafelberg.
Karen de Wet skryf in aansluiting hierby die volgende in die flapteks van die Krog-bloemlesing ’n Vry vrou: gedigte van Antjie Krog (2020): “In haar laatwerk word sensitief, maar sonder huiwering, geskryf oor ouderdom, hoe die lyf ons faal, en ook oor die dood.” Omdat veroudering vanselfsprekend anders in elke individu plaasvind, is dit nie heeltemal moontlik om slegs een definisie van laatwerk of laatstyl te probeer vaspen nie. Antoinette Pretorius (2015) skryf egter in haar artikel “Bodily disintegration and successful ageing in Body bereft by Antjie Krog” dat daar wel drie representasiekonfigurasies van liggaamlike veroudering in Verweerskrif bespeur kan word, naamlik disintegrerende ouer liggame, sosiaal-gekonstrueerde ouer liggame en alternatiewe ouer liggame. Hierdie drie konfigurasies vind ook neerslag in Plunder. Pretorius (2015:32) is voorts van mening dat Krog met haar veelfasettige representasies van die ouerwordende liggaam eintlik inskryf teen ’n diskoers wat sodanige liggaam en identiteit wil begrens.4 Dit is dan ook inderdaad die geval in Plunder, soos ek in hierdie resensie-essay sal toon. Sakkie Spangenberg (2023) noem ook dat Krog tans in die sogenaamde vierde periode van haar lewe is, wat in haar poësie neerslag vind in die vorm van nadenke oor godsdiens, veroudering, dood, en die mens se één wees met die heelal.
Gerontologies beskou is dit van meet af aan duidelik dat Krog se werk vanuit beide die perspektief van die literêre gerontologie (die bestudering van veroudering soos dit manifesteer in literêre tekste) en die perspektief van die narratiewe gerontologie (die bestudering van veroudering soos dit neerslag vind in egodokumente) ontleed en geïnterpreteer kan word omdat by haar die outobiografiese deurgaans met die literêre oorvleuel.5
- Titel
Tydens ’n onlangse voorlesing van verse uit Plunder sê Krog die volgende oor die bundeltitel:
Dis die enigste bundel van my waar ek by myself gedink het as ek ooit weer iets skryf, moet dít die titel wees. Ek het eerste die titel gehad. En die titel … die idee van plunder is dat ons almal eintlik daarvan beskuldig word dat ons plunder, wat sekerlik waar is. Maar dan word ons ook geplunder, ons lewe, ons lyf, ons herinneringe. En óns plunder. Ek plunder ander digters. Hierdie bundel is vol van die werk van digters vir wie ek lief is en vir wie ek bang is. Daar is byvoorbeeld die frase van GA Watermeyer, “hings wat my oorkant ry”, en dit was vir my so mooi. En ek is so bang dit verdwyn net, so ek het dit hier ingewerk. Hier is Boerneef, ook Ingrid Jonker. (Opperman 2022)
Die woord plunder word in die WAT (2023) soos volg verklaar: “Op ’n onnadenkende of vernielsugtige en dikwels gewelddadige manier iets buitmaak, iemand of iets beroof of besteel, of iets stroop dikwels tydens ’n oorlog of burgerlike onrus.” Laasgenoemde is veral van toepassing op Plunder aangesien heelwat verse met hedendaagse Suid-Afrikaanse kwessies verweef word. In aansluiting by hierdie definisie en Krog se eie verstaan van die woord toon Deborah Steinmair, Louise Viljoen, Joan Hambidge, Marius Crous, Alwyn Roux en Ihette Senekal in hul onderskeie resensies van die bundel meer spesifiek aan dat dit in hierdie tydgenootlike bundel handel om plundering in die vorm van veroudering, die COVID-19-pandemie, (komplekse) persoonlike verhoudings, die geskiedenis van (de)kolonisering, grondonteiening, protesoptogte, (seksuele) geweld, haar eie en ander skrywers se werke tydens die digproses, klimaatsverandering en die vernietiging van die (brose) aarde. Krog sê self tydens ’n radio-onderhoud met Amanda Botha dat dit in hierdie bundel veral gaan om die plundering van die mens “deur die ouderdom, deur onsekerheid, deur die aanslae van ouderdom”.
Die titel van die bundel resoneer egter ook met die Belgiese kontemporêre kunstenaar Berlinde De Bruyckere se uitstalling Plunder | Ekphrasis (18 Julie tot 2 Oktober 2022 in die Montpellier Contemporain, Frankryk). Hierdie uitstalling hou, benewens die gelyknamige titel, ook verband met Krog se poësie, omdat sommige van De Bruyckere se kunswerke ook deur Krog se ongepubliseerde ekfrastiese verse vergesel word. Yves T’Sjoen (2023) wys tereg in sy bespreking van beide De Bruyckere se uitstalling en Krog se bundel daarop dat hoewel geen van die ekfrastiese verse wat Krog vir die uitstalling geskryf het, in Plunder opgeneem is nie, die bundel wel op velerlei maniere met De Bruyckere se uitstalling in gesprek tree. In beide gaan dit om die rol van die plunderaar sowel as die geplunderde. Ten opsigte van veroudering, verduidelik T’Sjoen (2023) die verband tussen die uitstalling en die bundel soos volg:
Tezelfdertijd is (de veroudering van vrouwelijke) lichamelijkheid en erotiek een topos in Krogs lyriek, zoals ook nu weer in Plunder. Precies dat tactiele aspect, de zintuigelijke en cognitieve verbeelding van kwetsbare lichamelijkheid, is eveneens pregnant voor De Bruyckeres kunst.
- Omslag

Omslagontwerp van Plunder deur Joh Deetlefs van Not Another Joe
Die omslagontwerp van die bundel het my dadelik laat dink aan riete wat in/langs ’n rivier staan en daarin weerkaats word. Ná ’n gesprek met die grafiese ontwerper wat die omslag ontwerp het, Joh Deetlefs, is my aanvanklike vermoede bevestig, aangesien die impetus vir sy konseptualisering voortgespruit het uit hierdie strofe van die selfdoodvers “suicide watch” (Krog 2022:78):
liefkind, ek wieg jou ek sus in jou in
waadvoëls wat speel in vloedvoue
vinke wat wegvonk in rietribbes
hoe ons wange kan wemel van murmels
ons voetboë van kore.[6]
Die verwysing na “rietribbes” sluit aan by die aanhaling op die agterplat, veral die versreëls “o die soetgroen kraag van rivierwater […]” en “dalk word bedoel: na mekaar toe geknak”. Dit is veral laasgenoemde aanhaling wat dadelik die Bybelse beeld in Matteus 12:20 oproep: “’n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, en ’n rokende lamppit sal Hy nie uitdoof nie, totdat Hy die reg laat seëvier.” Gesien in die lig van Krog se eie beskouing van die bundeltitel en haar “plundering” van ander skrywers se werk, word ook Ingrid Jonker se “Die lied van die gebreekte riete” uit Rook en oker (1963) opgeroep. Die evokasies van vroulikheid, moederskap en ’n (komplekse) ma-kind-verhouding in Jonker se vers vind ook neerslag in die verse vir en oor Krog se kleinkinders in die vierde afdeling van die bundel.
Betreffende die simboliek van riete word daar in Cirlot (2001 [1971]) se A dictionary of symbols na riete verwys as simbole van redding of verlossing. In A history of the Jews (1987) skryf Paul Johnson dat die Jodedom die riet as ’n simbool van geregtigheid beskou het. Dit is ook geassosieer met mag, gesag en legitimiteit. Beide hierdie verklarings is van toepassing op Plunder, aangesien Krog skryf oor magsvergrype en die smagting na verlossing van genadelose plundering. Ook die uitdrukking om te bewe soos ’n riet in die wind (bang/ontsteld wees) word opgeroep en sluit aan by die idee van vrees, angs en ontsteltenis op verskeie vlakke. Volgens die Griekse mite van Pan en Sirinks is die rietfluit (panfluit) ook ’n simbool van verlies en vertroosting (Sacks 1985) – beide temas wat in Plunder sterk teenwoordig is. ’n Interpretasie wat hierby aansluit, is Schneider (1946) se siening dat hoewel die fluit in vorm fallies (manlik) is, die klank daarvan as vroulik beskryf kan word. Die vereenvoudigde binêre aard van hierdie verduideliking ontgaan my weliswaar nie, maar tog is dit ’n relevante siening, aangesien daar deurentyd spanning tussen die manlike en vroulike in die bundel aanwesig is.
Die verwronge weerkaatsing van die riete in die water herinner voorts aan ’n spieël wat die uiterlike manifestasies van seniors se veroudering en verganklikheid (onverwags en onthutsend) kan terugkaats. Die riete wat in die water weerkaats word, lyk ook asof dit geknak is, en ’n mens sou die (stereotiepe) beeld van die geboë figuur van ’n senior daarmee kon vereenselwig. Daar is egter ook ’n mate van weerstandigheid en veerkragtigheid teenwoordig, aangesien die riete ondanks die fel aanslae van natuurkragte soos water en wind steeds staande bly. Krog (en haar poësie) is by uitstek ’n toonbeeld van hierdie eienskap.
- Bundelstruktuur
Hoewel die ses afdelings waarin die 48 vrye verse verdeel is, nie noodwendig in die presiese volgorde van bostaande tematiese diagrammatiese voorstelling aangebied word nie, word elk van die temas wel betrek. Krog vermeng ook dié verskillende sfere op fragmentariese wyse met mekaar, wat op sigself metafories kan wees van die huidige gefragmenteerde toestand waarin die wêreld sig bevind. Volgens haar het heelwat van die verse in die bundel nie strofes nie, maar eerder asteriske wat volledige breuke tussen gedagtestringe aandui (Myburg 2022). In Radio Sonder Grense (RSG) se Vers en klank-episode oor Plunder noem sy hierdie gedagtes “flardes” en “oumenspraatjies”.
Vervolgens bied ek ’n uiters beknopte bespreking van enkele hoogtepunte in elke afdeling.
Afdeling 1
Die eerste (ars poëtiese) vers, “dit kom nie meer op my af nie” (ble 11–3) in die eerste afdeling, begin met die strofe:
dit kom nie meer op my af nie
die geluid
die geluid van ’n gedig
kom nie meer op my af nie
en eindig met die strofes:
dit kom nie meer op my af nie
alles is yster alles het verstyf
ek lees hoe ander skryf:
naeltjiebruin, berlynblou, en romig, romig jou nek
jou lang, lang, lang bene vervul my met raserny
maar op my?
op my kom dit eenvoudig nie meer af nie
eenmalig het ek behoort tot die brandendes
nou wil my stem iets dryf
sidder dit walglik klammerig van omgee en vergifnis,
Van meet af aan stel Krog dus die hede teenoor die verlede in die vorm van die jonger digter van vroeër teenoor die ouer digter van nou. Met die refrein “dit kom nie meer op my af nie” is sy egter besig om die leser ’n rat voor die oë te draai, want tussen hierdie openings- en slotstrofes, is die volgende treffende, beeldryke skryfwerk ingebed:
*
weelderig span die somer haar windbloudoek
dit dein van appels, rose en gerwe
in die ou boord hang pruime as donker vermoedens
sluk jou hart af, my lief ons eet spriet
*
’n bottergat kom knus ’n sperwer
kantel in silwerblaar-amandel
’n afskeidnemende wêreld is al wat priem
tussen soveel opgesaalde woorde
ag, my verspilde taal en afgrondvers
die klokke van die westerkerk
galm soos soetanes deur die nat
*
hoe verlore gly ons deur ons eie hande
hoe pervers die daglig in jou wimpers
wanneer laas was ons lewerbruin van lus
preigroen in ons eie doening
wanneer laas ’n nuwe asemveld
en chochenille-rooi ons prooi
daardie wakkerte betrag ons nie meer nie
*
vlamme spat soos bloeiende swaardlelies
oogbalwit vat die virus vlam
vuur knetter tot in die longbuidels
sissend deur aortas borrel bloed
*
die winterbome se senuweestelsels
strek roerloos deur die lug wat braak lê:
die kankerneste van duiwe
die klierneste van vinke
*
In tipies Krogeske styl vervleg sy die belewing van veroudering met die natuur. Sy verwys na die “wakkerte” van “lus” wat sy en haar geliefde nie meer ervaar nie, sowel as na die “winterbome” se “senuweestelsels” wat “roerloos” deur die lug strek. Die winter is vanselfsprekend ’n gerontologiese kode, en die verdere verwysings na kanker en kliere dui op Krog se deurlopende bewustheid van liggaamlike aftakeling.
Benewens die eerste ars poëtiese vers in die afdeling is daar ook van die mooiste liefdesverse waarvan die leser kan aanneem dat dit vir Krog se man, John Samuel, geskryf is. Die bundel is dan ook “soos altyd” aan hom opgedra. Aangesien Krog reeds sedert 1968 met Samuel in ’n verhouding was (Garman 2009:343) en sedert 1976 met hom getroud is, is hier beslis sprake van laatliefde tussen twee ouerwordende geliefdes. In “writing retreat”[7] (14) skryf sy oor haar verlange na hom en verwoord haar vrese soos volg:
ons gaan ’n nuwe era binne, ’n ander soort vrees
iets onsigbaars ek skryf maar net wat ek kan
asseblief, moenie vergeet dat ek jou nooit sal vergeet
sonder om jou kennis te gee nie.
Die daaropvolgende ses verse vorm ’n siklus waarvan die titels dui op Krog se verknogtheid aan haar man: “dis wanneer ek weg van jou is”; “dis wanneer ek by jou is”; “dis wanneer alles lyk asof dit ineenstort”; “dis wanneer ons op a road trip gaan”; “dis wanneer ons agterkom” en “dis wanneer ons onthou”. Die eerste vyf verse is deurspek met verwysings na veroudering: “met die silwer poniestert op jou rug”; “dat ons lywe hier bymekaar lê / oud, maar wonderlik ongeskonde”; “ek kyk by die venster uit / en weet van diep uit my verdorde baarmoeder / my lewe is verby // al wat oorbly / is die sporadiese grype / na vergane herinneringe”; “op ouderdom draai jy die rug”; “die oudword van ons liggame / die volhou van ons liggame”; “(snags skuifel ek kermend teen my verslete self aan –”; “maar toe kan ek nie op van my hurke nie” en “die plooiings van my vlek-gevilte vel”, met die sesde vers ’n klimaks wat meesleurende poëties-erotiese beskrywings van seks as teenvoeter vir veroudering en verganklikheid bevat. Dit is voorts opvallend dat die meeste van die verse in die sesluik afspeel teen die agtergrond van die Covid-pandemie.
Een van die ergste gewaarwordinge van veroudering word gevind in die vers “dis wanneer ons agterkom” (26):
[…]
ek wil jou wakker maak
’n woord is weg
’n gewone daaglikse woord
weg soos af in ’n sinkgat
my brein swymel
gryp angsvallig ’n afgeskeurde boomwortel
t die woord begin met ’n t
of het baie t’s in die middel
maar agter my tong is ’n gat so donker
dat ek self daarin kan afval
[…]
google rondom die woord
tel dit uiteindelik op
sit dit netjies terug in my geheue
voel drie maal deur die dag of dit nog daar is
’n paar dae later gaan ek bevrees weer op soek
hoe lank gaan ek nog op taalvlerke kan vlieg?
Hierdie strofes herinner ook aan die volgende versreëls in “hoe sê mens dit?” in Verweerskrif (Krog 2006:28):
hoe verset mens
jou teen die gemaklike uitweg wat oudword bloot
tot metafoor van die dood verstom? hoe en waarmee
verwerf ’n mens die woordeskat van ouderdom?
’n Groot deel van Krog se worsteling met haar veroudering is onteenseglik die vrees dat sy moontlik haar taalvermoë, wat onlosmaaklik deel is van haar identiteit, kan verloor. In dieselfde vers verwys sy ook na Alzheimer se siekte, en hierdie vrees vir geheueverlies herinner onwillekeurig aan die traumatiese verlies toe haar rekenaar se hardeskyf destyds ingegee en sy kosbare skryfwerk verloor het.8
Afdeling 2
Die verse in die tweede afdeling is polities van aard en ondersoek veral Krog se verhouding met verskillende manifestasies van plundering teen die agtergrond van die #FeesMustFall-protesaksies in Oktober 2015. Sy beskryf haar “outydse tong” as “’n vlugteling” en sy vra haar af: “waarom is ek so karig? / so onwennig? / waarom vlug ek met my ouderdom soos ’n kroon voor my uitgehou / om nié te onderhandel met die woedende skarniere van die wêreld nie”. Die idee van ’n vlugtende Krog is in skrille kontras met die oorbekende beeld van die onverskrokke aktivis wat sy in haar jonger dae was. Dit kan bes moontlik toegeskryf word aan die feit dat sy, soos Azille Coetzee (2022) in haar uiters insiggewende artikel, “Antjie Krog se nature punk in Plunder”, skryf, reeds deur ’n revolusie is en weet hoe dit werk, maar ’n mens kan ook nie anders as om te wonder of dit nie bloot biologiese aftakeling is wat haar van aktiewe (liggaamlike) deelname weerhou nie.
Deur die hele vers weerklink Krog se selfkonfrontasie met haar witheid en die bevoorregting wat dit meebring. Hierdie poging om sin te maak van alles is deurentyd vervleg met die natuur (diere en voëls) en plekke (Grootriet, Koingnaas, Bitterfontein, Meelsteunberg, Tsodilo-heuwels, die Kalahari, Shakawe), maar einde ten laas moet sy die vergeefsheid en gefragmenteerdheid van alles erken (37):
gotweet ons het hierdie land tot verwarde stuk geleef
nie eens gedigte kry meer iets saamgeweef.
In die volgende fragment uit die vers “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” (38–40) beskou Krog haar sogenaamde literêre plundering as verweer teen veroudering en verganklikheid op ars poëtiese wyse:
as digter is my wese dié van ’n Kolonis
ek val ander se werk binne
ek ossilleer van ekstase, bewondering
verander, teken op, neem klein aandenkinkies
want die tekste gryp my aan, landskappe tuimel
kom ek af op ’n beeld, ’n ongerepte kloof
ontdek ek ’n verblindende berg
dan omhels ek, verorber, stroop
en stop my kop vol, my onderbewussyn
die oorloop verdwyn in notaboeke
want alles wat gesê word is al gesê
is al voorheen oor en oor nooit só gesê
ek probeer byhou om bronne en oorsprong op te spoor
maar uiteindelik word die hele kelderkaboedel
kollektief verslinde buit
pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd.
In die bibliografie aan die einde van die digbundel verskaf Krog ’n (volledige?) lys van digters wat deur haar “geplunder” is. Die bronne wat hierin verskyn, dien egter ook, soos Joan Hambidge (2022) tereg noem, as belangrike kodes waarmee die bundel verder ontsluit kan word. In ’n onderhoud met Johan Myburg (2022) sê Krog dat sy hierdie digstrategie by die Vlaamse digter Hugo Claus “geplunder” het. Interessant genoeg lys sy ook haar eie naam. Daar is dus ’n soort metaplundering wat waargeneem kan word, en spore van hierdie simulakra van die self kan regdeur die bundel bespeur word. Voorbeelde sluit in die sesde “lied” in “die durf van 8 liedere” getiteld “om te roei sonder hawe” met die subtitel “(Lady Anne Barnard ontmoet Samuel Johnson)” en die verwysing “begging to be black” (98), sowel as die laaste strofe van “dit spuls die aarde vol” in die derde afdeling, wat duidelik resoneer met die misorde in afdeling vyf en die tweede vers in die versreeks “convivium” in Mede-wete.
In die laaste fragment van “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” (40) verwys sy direk na haar ouderdom en die invloed wat dit op haar liggaam het:
o lyf. o liggaam.
daar is geen eggo van lied
geen soom van lig
geen nabyste klank of sleutelbeen van sterre
wat jy nie oor die jare na my toe bymekaargemaak het nie
nou, hier in my sewentigste jaar
draai my ore na binne en vind tekens
dat jy besig is om ons te verlaat
in die paar jare wat oor is
moet ons ons vestig in vrede
ons vreugdevol plooi en krimp terwyl ons kyk
lank en eerbiedig soos ’n oudagmens moet kyk
na die brandend ondergaande son.9
Afdeling 3
In die eerste deel van die derde afdeling daal Krog soos Orfeus af na die onderwêreld, behalwe dat hierdie onderwêreld nie ’n religieuse of mitologiese ruimte is nie, maar eerder die spreekwoordelike hel op aarde. En in hierdie hel op aarde is die vrou ’n soort spilpunt waarom alle gebeure wentel. Die veelvuldige verwysings na Baubo dien as uitgebreide metafoor van hierdie verskynsel. Volgens The Routledge dictionary of gods, goddesses, devils and demons (Lurker 2005 [1987]) was Baubo, in die Orfiese tradisie, ’n ou vrou wat die Griekse godin van landbou, Demeter, laat lag het deur haar rok op te lig (anasyrma10) en haar pudenda te wys. Voor die insident was Demeter diep bedroef oor die verlies van haar dogter Persephone wat deur Hades, die Griekse god van die onderwêreld, ontvoer en verkrag is, maar hierdie obsene gebaar is beskou as ’n soort towerspreuk teen die dood wat haar routydperk beëindig het.11 Vir Krog word Baubo ’n gerontologiese geleier waarmee sy haar kan vereenselwig en waardeur sy haar eie identiteit as senior vrou kan uitbrei en versterk. Baubo kan egter ook beskou word as die verpersoonliking van vroulike vrugbaarheid en word ook verbind met die spel tussen verhulling en onthulling.
Die verse in hierdie afdeling word voorafgegaan deur ’n skets van Baubo deur Krog se seun Andries Samuel (44):
Die afdeling begin met “die Bybel as riglyn” (45) waarin Krog haar sterk uitspreek teen die patriargale idee dat God ’n man is. Die vers word voorafgegaan deur twee aanhalings uit Genesis wat handel oor die stelling dat God die mens na sy beeld geskape het – man én vrou, wat beteken dat God inderdaad óók ’n vrou moet wees.
In die vers “dit spuls die aarde vol” (46) skryf sy oor die brutaliteit van geslagsgebaseerde geweld waar die vrou gereduseer word tot slegs ’n vagina wat na willekeur deur ’n man misbruik kan word. Die daaropvolgende vers, “ukuhamba ze / anasyrma (omhoog-rok)”, sluit hierby aan wanneer Baubo in die motto uit “Walpurgisnacht“ in Goethe se Faust (1808) bekendgestel word:
Stimme: Die alte Baubo kommt allein, Chor: So Ehre dem, wem Ehre gebührt! |
Stem: Ou Baubo kom alleen, Koor: Eer aan wie eer toekom! [my vry vertaling] |
In die titel en motto’s van die vers verbind Krog die Dobsonville-protesoptog in 1990, waartydens vroue kaal geprotesteer het teen die uitsetting uit hul huise,13 met Baubo se ontbloting aan Demeter (anarysma). Die woorde ukuhamba ze beteken “to walk naked” en sluit dan ook aan by die #FeesMustFall-protesoptogte in die tweede afdeling.14 Krog versoen ook hier ’n ou vrou uit die Duitse letterkunde met Suid-Afrikaanse vroue, wat weer eens ’n bewys is van haar vermoë om kultuurgapings te oorbrug en ook beklemtoon dat die onderdrukking van vroue ’n universele verskynsel deur die eeue heen is. Dit verg voorts nie veel om die ooreenkomste tussen die onverskrokke Baubo, die protesterende vroue en Krog se poëtiese verset te sien nie. Almal is sterk vroue met die vermoë om ander te kan lei of namens ander te veg, en nes Baubo haar geslagsdele doelbewus ontbloot, ontbloot Krog ook die vroulike geslagsdele doelbewus in haar verse. Krog (51) beskryf Baubo dan ook soos volg in die vers:
5.
ons kyk na die vrou op die moedervark
en bly deurspek met ’n verlange na iets
’n openbaring
wat ons bly deurdrenk
met dieselfde verrukking waarmee die verlate saaiheid
van ons lewens eens besproei is.
Viljoen (2022) skryf ook tereg dat Baubo die een is wat Krog, “oorval deur angs en neurose”, uit haar “depressie” lig en “weer haar kreatiewe energie laat opvlam”. Daar is ook twee verwysings na Baubo in die vers “dis wanneer alles lyk asof dit ineenstort” in die eerste afdeling wat hierby aansluit: “‘dis waarom die opening ’n versreël moet word’” / sê Baubo aan die dood met die roede van ’n raaf” en “‘[…] herrys’ roep Baubo tereg”. Beide hierdie verwysings toon dat Baubo die een is wat die toon met gesaghebbendheid vir vroue aangee. Dit word dan ook duidelik dat Krog inderdaad nie, soos sy in die vorige afdeling plek-plek voorgee, tot stilstand geruk is en nie meer kan “voortveg” nie – sy is steeds hier en sy het nog baie om te sê.
Die plasing van die volgende twee verse val ietwat vreemd op in hierdie afdeling. In die reisvers “treinrit van Groningen na Amsterdam” (53) sê Krog dat sy, terugskouend, “die meedoënloos ironiese // bitch gewees het wat ek (eintlik) is” indien sy in Nederland grootgeword het. Dit is ’n kenmerk van laatwerke om terugskouend van aard te wees en hier is ’n afstandelike selfironisering teenwoordig. Die daaropvolgende vers, “tydspad deur die tuin” (54) is eerder ’n soort prelude vir die misorde in afdeling ses, omdat dit handel oor die vernietiging van die aarde. Dit kan natuurlik ook ’n verdere fragmenterings- of uitsteltegniek wees wat Krog hier benut, maar daar is ’n meer natuurlik oorgang van “ukuhamba ze / anasyrma (omhoog-rok)” na “die durf van 8 liedere” (57–69). Die meeste van hierdie liedere word opgedra aan, of handel oor ’n persoon, byvoorbeeld die musikant Mantombi Matotiyana, die skrywer JM Coetzee, die Nederlandse skrywer Remco Campert, die Engelse digter Elizabeth Barrett Browning, ’n straatslaper in Upper Millstraat, Lady Anne Barnard (of is dit Antjie Krog?) en Samuel Johnson (of is dit John Samuel?), ’n (aan my) onbekende stillewe met gesigte en aartsbiskop Desmond Tutu. Ten opsigte van veroudering val veral die verwysing in die sesde lied na senior mans op: “(ouer mans gebruik mos die double entendre: / wat beteken ek is nie veronderstel om hul ontugtige / opmerkings te snap nie, & mag dus ook geen beswaar hê nie)” (64). Hierteenoor staan Krog se aangrypende vers oor die ontslape Desmond Tutu, “pryslied vir ’n vreeslose gewete” (68–9):
ek prys die man
wat groot ruimtes oor die aarde versprei het
soos hy sy vel, sy liggaam, sy volkome wese
tot met sy oudag
selfloos oor ons uitgebrei het
hy is ons eie onheilige heilige
wat ons in die sleurstroom van die Goeie probeer hou het.
Afdeling 4
In die vierde afdeling keer Krog terug na die binnekring van haar gesin en familie. Dit is veral haar kleinkinders wat ’n ereplek in hierdie afdeling beklee, en sy skets die hartroerende tafereel van ’n lughaweweersiens soos volg in “’n onordelike gevoel van geluk” (73):
[…]
sy’s sterker as ouderdom
magtiger as die dood
haar teer blydskap
heers oor my hemel en aarde
my oumahart bokspring
ek word weerligslingeraar
’n wiekversamelaar ’n opraper-van-heerlikheid
al is Ouma op pad na die grofklippige aarde
in my arms word ons uitgelatenes met goue teuels
[…]
Die drie opeenvolgende verse, “1. eerste skooldag”, “2. wiegelied” en “3. kindertjie van wilgerhout”, is almal versamel onder die hooftitel “kindertjie” en is ook oor en vir (haar) klein kinders / kleinkinders geskryf. Ten spyte van die titels wat die leser aanvanklik aan onskuldige versies vir kinders laat dink, word dit gou duidelik dat elkeen van die verse ’n effense wanklank het deurdat Krog probeer om ’n sekere belangrike boodskap aan die aangesprokenes oor te dra, byvoorbeeld: “hoe haar liggaam nog nie weet nie / dat sy die slagveld van die wêreld is” en “dis kapoentjie wat ons van diskriminasie kom leer”. In die derde vers dra sy haar spyt oor dat sy nie meer betrokke was by haar eie kinders se grootwordjare nie: “as Die Groot Afwesige, lughappend van berou, poog ek nou / deur kuiltjies en kaneel iets van daardie heldertes onthou”.
Benewens die selfdoodvers waarna ek reeds verwys het, skryf sy ook oor haar kleindogter Anouk wat in Israel gearresteer is tydens ’n protesoptog. Dit is duidelik dat die tradisie van sterk vroue in Krog se bloedlyn deur haar kleindogter voortgesit word. In “familiekersfees op ’n vakansieplaas” (82) vervleg Krog herinnering aan die landskap van en samesyn op die plaas met die vrees van ’n plaasaanval. Die daaropvolgende vers, “koopkontrak” (84), sluit hierby aan deurdat die vers handel oor Krog se teenstrydige gevoelens oor die laaste deel van die familieplaas wat verkoop en nie “gevat” word nie. Dit is duidelik dat sy deurgaans bewus is van haar rol as ouma, maar ook as senior (wit) vrou in die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing. ’n Mens sien dit onder andere in “vrae met die bloedlyn af” (85):
[…]
in die goue lig van April
blom jou ouma se purperwinde ontsteld op die patio
wat maak mens as jou land uitmekaar val?
jy draai jou rug dat jou familie kan opklim
[…]
In “gedagtes” (86) keer sy weer na binne en skryf só oor een van die ervarings van vele ouerwordende vroue wat ook moeders is:
wanneer jou kinders ’n whatsapp-groep stig
om nie mét jou nie maar óór jou te praat
weet jy dit is sukke tyd – jy moet die noute in.
Hierdie vrees vir veroudering en die eensaamheid wat die naderende dood meebring, word ook in die derde fragment in “gedagtes” (86) soos volg verwoord:
[…]
wanneer ’n bejaarde klets en klets met die kassa-persoon
wanneer alleenstaandes praat en praat en praat
of skuins hang aan ’n swaar heuningblonde hond
skiet ’n weggekrimpte stukkie vrees
tot aan die buitenste rande van my tande
die verskrikking van pal alleen, asem-alleen
en godverlate snikkend te wees
[…]
Desnieteenstaande veg sy steeds teen hierdie vrese in ʼn ander fragment (87) in dieselfde vers:
al is ek in hierdie land vasgewoestyn
al word ek krommer oud van pyn
bly ek oop-maak vir die groot-
en blinker-word in die wildevy
terwyl die Hings nog ietwat talm
voor hy my oorkant ry
Net om weer in wanhoop te verval:
oud, maar ons is oud, te oud
te klein ons stem, te verpot ons woord.
Die voorgaande aanhalings is kenmerkend van die emosionele en psigologiese kruine en trôe wat seniors dikwels ervaar wanneer alles om hulle nie meer seker en bekend voel nie.
Sekerlik een van die mees aangrypende verse in Plunder is die tweede deel van “verlange – radeloos en sonder einde” (90) wat ’n lykdig is vir Krog se ma, die skrywer Dot Serfontein. Die vers resoneer ook met een van Krog se bekendste verse, “Ma”, wat in haar debuutbundel verskyn het, en vir my tree die volgende twee strofes veral met die 1970-vers in gesprek:
liewe Ma sidderend lê ons jou neer
ons arms pyn om jou vir oulaas vas te hou
om jou nog een maal die gang te hoor afkom
op na jou lewe en na ons
om te hoor hoe jy ons name roep met jou stem van toe
jou witkop altyd teenwoordig op die agtergrond
wanneer ons ons grootste stryde stry
ons kleinste triomfe vier ons harte op hul dunste was
ons selftwyfels op hul vernietigendste
[…]
Afdeling 5
In hierdie afdeling worstel Krog weer eens met die wrede werklikhede van haar land en die posisie wat sy as ’n (senior) wit vrou daarin beklee. Haar ontnugtering word knalhelder verwoord in dié versreëls uit “as iemand” (95):
[…]
ek glo nie meer in versoening nie
(dis altyd net ek en die tuin wat daarby baat)
wraak en vergelding moet nou sy loop neem.
In die daaropvolgende vers, “(work in progress) ’n meerstemmige teks: pogings om die wit staar aan myself te verduidelik” (96–101), keer sy opnuut terug na die innerlike konflik oor haar velkleur. Die vers word voorafgegaan deur aanhalings oor die “wit blik” (white gaze) van die Franse psigiater, skrywer, filosoof en vryheidsvegter Frantz Fanon, die Amerikaanse skrywer Toni Morrison en die Amerikaanse filosoof Georgy Yancy, sowel as die bekende aanhaling van die Griekse filosoof Sokrates: “An unexamined life is not worth living.”15 Op behendige wyse wend Krog vier pogings aan om deur middel van verskeie stemme die betekenis van haar eie velkleur te ondersoek. Daar is in die eerste poging ’n oorbewustheid van die bevoorregting wat sy weens haar wit vel geniet, en dan gebruik sy, in ’n onverwagse wending, ’n omkeringstegniek waar sy vanuit die perspektief van ’n wit mens skryf, maar die leser in die laaste strofe van die voorafgaande poging dwing om poging 2 soos volg te lees: “as u die woord Swart sien, lees Wit:”. Met hierdie wending slaag Krog daarin om die leser aktief by die kompleksiteit van rasseverhoudings te betrek en selfs sodoende begrip en empatie te bewerkstellig. Juis deur haar eie worsteling as (senior) wit vrou in Suid-Afrika stel sy die leser in staat om selfondersoek te doen ten opsigte van dié gelaagde kompleksiteit. Sy erken self: “ek weet nie meer hoe om te wéés in hierdie wêreld nie.” Sy lewer egter ook metakritiek op hierdie uitruiling van die woorde wit en swart en noem dit op sigself “white perspective privileging itself / again”. Sy kies egter nie kant nie; sy deel bloot haar eie ambivalente belewing van ’n uiters fragiele werklikheid (ironies genoeg in swart op wit). Sy besef ook deeglik dat hierdie dialoog immerontwikkelend is – vandaar die verwysing na “work in progress” – en kom tot die slotsom: “– indien die lewe wat ek leef ’n ondersoekte lewe is / is dit omdat in hierdie land dit daagliks ondersoek word / deur die regsbank van die Swart Staar” (101). In Azille Coetzee se onderhoud met haar tydens die Toyota US Woordfees in 2022 bring sy haar eie veroudering in verband met haar politieke ingesteldheid: “Hoe ouer jy word, hoe meer besef jy hoe ontsettend baie die wêreld verander. Jy weet jy word in ’n groot mate irrelevant. Dit maak jou egter ook vry – jy word bevry van ambisie en jy is bevry van die behoefte om iets te beteken” (Netwerk24 2022).
Dit is dan ook in die laaste vers in die afdeling, “die vulgariteit van verse” (102–3), waarin sy met haarself as senior vrou en digter gekonfronteer word. Hierdie eksistensiële, gerontologiese konfrontasie vind op ’n soort ars poëtiese wyse plaas, soos in die volgende uittreksels gesien kan word:
wat is poësie as dit mens nie red nie?
*
verwyder die woord “ek” uit die poësie, pleit Maria Stepanova
tog is die “ek” juis nooit ek wanneer “ek” gebruik word nie
bygesê: ná beskuldigings van appropriasie en uitbuitery
word “ek” waarskynlik die enigste terrein
waar mens toegelaat word
*
supermarklogika het poësie verower
aggressiewe promosie, en digters as celebrities
*
[…]
*
mens skryf om jouself te herinner
hoe onmoontlik dit is om een persoon te wees
[…]
*
skryf vind plaas in die holtes van oneens-wees
die soogmoeder van wording
[…]
*
’n gedig boor aan die omhulsel van die woord
priem, porieer, omvorm, prut tot multiversums
en verbreed die marge
*
opaak wil ek wees
[…]
opaak met ’n diep, donker, ongefilterde hartstog
na skoonheid van taal na die sublieme in taal
die raakste woorde in die raakste volgorde
maar jissis, dis so old school en so wit
*
binne ’n dekade gaan my soort Afrikaans
my soort styl, tema en verwysingsveld
deur niemand meer aangrypbaar wees nie
verdrinkend in witmenskák
ontmond, onttong, moet ek myself ontskryf …
*
ek vysel taal soos ek wil
en fok julle.16
Dit is duidelik dat die ouerwordende Krog in hierdie afdeling haar (bekende) stem van verset laat hoor en steeds ’n “vry fokken vrou” is wat taal “vysel” soos sy wil. Haar vasberade onversetlikheid wat hier deurskemer, herinner aan die versreël “Rage, rage against the dying of the light” uit “Do not go gentle into that good night” deur die Walliese digter Dylan Thomas.17 Hoewel seniors dikwels na die rand van die samelewing verstoot word, verseg Krog om ook deel van hierdie dikwels vergete seniors te wees en plaas sy haarself terug in die samelewing deur middel van haar digkuns. Dit terwyl sy deeglik bewus is van die dreigende broosheid van haar eie veroudering.
Afdeling 6
hoe kan ons die planeet versorg as ons nie
mekaar versorg nie / hoe kan ons mekaar versorg
as ons die planeet versorg nie? (106)
In 2021 het ek die voorreg gehad om as deel van die komponis Pieter Bezuidenhout se Horizons Project Choir in die produksie Die nuwe verbond op te tree. Die produksie is gebaseer op die aangrypende teks “o brose aarde … ’n misorde vir die nuwe verbond” deur Krog wat meesterlik deur die komponis Antoni Schonken getoonset is met voorlesings deur Krog self. (Luister gerus hier na die opname van die produksie.) Hierdie teks vorm dan ook die sesde en laaste afdeling van Plunder. Die meedoënlose plundering van die aarde deur mense, maar ook die plundering van mense onderling, staan sentraal in die misorde. Die teks dien egter ook as ’n inventaris van plante, voëls en diere, maar dit kan ook van die bundel in die geheel gesê word. Krog se poësie word ’n naarstige bewaringsdaad waarmee sy poog om spesies ten minste in woorde te verewig. Azille Coetzee (2022) skyf dat dit wel gevaarlik kan wees wanneer wit mense oor die natuur skryf, want dit “kan depolitiserend werk, dit bied ’n verskoning om jouself in te keer, om weg te draai van ander. Dis immers die Wit Afrikaner se onwrikbare liefde vir die Suid-Afrikaanse landskap en die veld wat histories dien om die geweld van koloniale en apartheidonteiening te regverdig.” Maar sy skryf dan ook dat Krog duidelik deurgaans bewus is van Suid-Afrika se koloniale geskiedenis wat met die landskap en die stelselmatige vernietiging daarvan vervleg is en nie daarvan wegskram nie. Dit kan veral gesien word in die veelledige “Dies Irae” (114–23) van die misorde waarin Krog die joernalistieke verslaggewing van hedendaagse geweldskwessies en daarteenoor poëtiese eenwording met die natuur tussen die verheerliking van die aarde en die heelal inbed. Die spanning tussen mens en natuur en mens en mens word in die onderskeie gedeeltes op treffende wyse verbeeld. Wanneer sy skryf oor “oumas met hulle pensioene en flonkering kinders” (122), kan ’n mens nie anders as om te dink aan die verse oor haar eie kleinkinders in die vierde afdeling nie.
Joan Hambidge (2022) noem Plunder tereg ’n opera met die misorde as crescendo. En hierdie crescendo eindig in “Lux Aeterna” (125–6) waar daar tog, soos die mot uit Pandora se kis, ’n sprankie hoop te siene is wanneer Krog die aarde in die styl van die paternoster om vergifnis en verlossing vra:
GEMEENTE:
onse Brose Aarde wat onder die universum uitstrek
laat u bestaan vir ons heilig word
laat ons U sien as ’n koninkryk
laat ons U oppas
u ganse oppervlak
net soos ook u dieptes
U gee ons elke dag
ons daaglikse lig, getemperde water, fotosintese en brood
maar ons besoedeling kan U nie vergeef nie
ook nie ons mishandeling en vernietiging van mekaar nie
lei ons in die versoeking om U bo alles lief te hê
U te verlos van alle etterende ontering
want aan U behoort dié punt in die heelal
en sy krag, sy oorvloed en heerlike ewewig tot
in die oneindigheid
o vergeef ons ons skulde
en wees ons genadig.
Die verse in die sesde afdeling laat my dink aan ’n soort ekogerontologie18 waar die ouerwordende Krog haar poëties kan vereenselwig met die lot van die ouerwordende Moeder Aarde en hierdie veroudering en verwording aktief probeer teenwerk. In die ekogerontologie handel dit oor die verhoudings en interaksies tussen seniors en die omgewing (Hoh, Lu, Yin, Feng, Dupre en Gu, 2021), en hier bepleit Krog ’n omkering van die huidige trant en tempo waarteen die aarde vernietig word. Die bewaringsdrang van ’n ouerwordende Krog (wat nie haar eie aandeel in die erodering van die planeet ontken nie) kan moontlik toegeskryf word aan ’n behoefte om ’n leefbare planeet aan haar nageslag na te laat, maar daar is in die bundel ook tekens van selfbehoud: “ek […] / wat wil vashou aan die kloue van die lewe” (86). Hoe dit ook al sy, Krog is haar intens bewus van die verantwoordelikheid wat ons as mense jeens die voortbestaan van die planeet het. Sy beeld hierdie verhouding tussen die nietige, verganklike, immer ouerwordende menslike liggaam en die oneindige grootsheid van die planete en die heelal soos volg uit (110):
o welgeluksalig is ons
dat hierdie smal
benerige
erfsterflike liggaam
soveel oorvloed mag stemvurk.
- Ten slotte
Met die eerste lees van Plunder het ek gedink: Krog is kwáád. Wéér. Stééds. Maar namate ek meer tyd met die bundel deurgebring het, het ek tot die besef gekom dat ek hier nie net met die beskrywing en oopskrywing van plundering op alle vlakke te make het nie, maar ook met die teer poëtiese verpakking en verwerking van individuele sowel as kollektiewe trauma – ’n vorm van narratiewe terapie. Krog ossilleer poëties tussen die plunderaars en die (potensiële) slagoffers van hierdie plundering. Soos Dietske Geerlings (2023) dit in haar resensie van Plunder stel: “In een wereld die aan alle kanten ‘geplunderd’ wordt, zijn wij ook zelf kwetsbaar en aan ‘plundering’ onderhevig.” ’n Mens kry daarom die indruk dat Krog haarself, haar geliefdes en gans die aarde in haar poësie probeer vaslê ten einde hierdie entiteite te bewaar en te beskerm – ’n soort poëtiese preservering.
Om ’n bundel van hierdie omgang en diepgang in een worp te probeer ontsluit is geen geringe taak nie en vanuit hierdie redelik kompakte resensie-essay is dit duidelik dat Plunder nog veel ryke stof vir verdere ontleding en interpretasie bied – veral ten opsigte van veroudering, verwording, verwonding, verwering en verganklikheid.
Die slotwoord laat ek graag aan Krog self oor. In ’n e-pos aan Murray La Vita (2022) skryf sy ná ’n onderhoud met hom oor haar 70-wording:
Ek kom agter die woord wat die bundel “gedryf” het, het nog nie oor my lippe gekom in hierdie dae van intense blootstelling nie. En dit is die woord “dood” – GA Watermeyer se “Hings wat my oorkant ry”.
Ek grawe in my files op soek na iets en kom af op ’n heildronk wat ek op André Brink ingestel het en lees die laaste sin: Ons drink op jou sewentigste! En word yskoud. Hy is dood op tagtig. Tien jaar. Dis wat dalk oor is.
* Plunder verskyn ook in Engels as Pillage (vertaler: Karen Press) en in Nederlands as Plundering (vertalers: Robert Dorsman en Jan van der Haar).
** Luister gerus hier na Krog se voorlesings van verse uit Plunder. Alle verse is veronderstel om hardop voorgelees/voorgedra te word, maar veral Krog se verse behoort só gelees te word, aangesien die sintuiglike ervaring daarvan ongetwyfeld tot die betekenis van die verse bydra. En Krog is een van die min digters wat haar eie verse kán voorlees.
Eindnotas
1 Sien Krog se LitNet-profiel vir ’n volledige lys van werke.
2 Die temas in hierdie diagram is hoegenaamd nie ’n volledige lys van al die temas in die Krog-poësiekorpus nie, en net so is nie alle temas noodwendig ewe verteenwoordig in alle bundels nie, maar dit bied nogtans ’n oorsig van die temas wat in haar poësie, en veral dan in Plunder, aangetref word.
3 Sien in dié verband haar artikels oor die laatwerk van Breytenbach, Coetzee, Opperman en Hambidge.
4 Sien ook Martina Vitackova (2013) se artikel “De derde leeftijd in versvorm – Verweerskrif van Antjie Krog” waarin sy ondersoek instel na Krog se hantering en uitbeelding van die vroulike liggaam, die menopousale vrou, die ouma, taal en die sogenaamde vroulike derde leeftyd. Hierdie konfigurasies van vroulike veroudering vind ook neerslag in Plunder. Yves T’Sjoen skryf ook hieroor in sy artikel “De politiek van het lichaam (Antjie Krog notitie #2)”.
5 Raadpleeg Stefan van Zyl se proefskrif, “Hennie Aucamp: ’n gerontologiese studie”, vir ’n uitgebreide verduideliking van hierdie literêre benaderings.
6 Gedagtig aan die beskrywings van Krog se poësie as outobiografies in Marisa Botha se artikel “‘ek het ’n liggaam, daarom is ek’: outobiografiese elemente in Antjie Krog se Verweerskrif”, Marlies Taljard se artikel “‘Geen vlerke stut meer …’: geselekteerde gedigte in Krog se Mede-wete gelees as outobiografiese postsekulêre laatwerk”, en ook meer onlangs Ihette Senekal se resensie in Tydskrif vir Letterkunde, sou dit nie te vergesog wees om aan te neem dat die ek-spreker in Plunder na Krog self verwys nie. In hierdie resensie-essay neem ek die vryheid om hierdie aanname te maak..
7 T’Sjoen (2023) skryf soos volg oor hierdie vers: “Antjie Krog was zoals vermeld in oktober–november 2021 internationaal gastschrijver van de Universiteit Gent en resideerde ten huize Berlinde De Bruyckere-Peter Buggenhout, recht tegenover Het Pand. Zij verwijst er impliciet naar in Plunder, zoals in het gedicht met de titel ‘writing retreat’.”
8 Sien die tweede deel, “’n hardeskyf”, in ’n Ander tongval (2005).
9 Die vers speel duidelik in op Boerneef se “Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier” uit Palissandryne (1964). Sien ook die interessante bespreking van Boerneef se vers in James Cameron (1979) se verhandeling, “Die sintuiglike in die poësie van Boerneef”, waar hy veral fokus op verganklikheid, ouderdom en dood.
10 Sien Ann Suter se bespreking van anasyrma in die hoofstuk “The anasyrma: Baubo, Medusa, and the gendering of obscenity” in Ancient obscenities: their nature and use in the ancient Greek and Roman worlds (2015).
11 Sien ook Maurice Olender se uitgebreide verduideliking in die hoofstuk “Aspects of Baubo: ancient texts and contexts” in Before sexuality: the construction of erotic experience in the Ancient Greek world (1990).
12 Sien hier die oorspronklike teks.
13 Sien die gelyknamige dokumentêre film Ukuhamba ze! / To walk naked, wat in 1995 deur Jacqueline Mainguard, Sheila Meintjes en Heather Thompson gemaak is.
14 Sien Mpho Mathebula en Hugo Canham se artikel “The affective afterlife of naked body protests”, waarin hulle ook oor die rol van vroue in beide die Dobsonville- en #FeesMustFall-protesoptogte skryf.
15 ’n Mens sou ook kon redeneer dat seniors dikwels ook ’n lewe lei wat nie deur die breër samelewing waargeneem word nie, omdat sodanige persone dikwels uit die oog verdwyn wanneer hulle in tehuise vir seniors of hospitale geplaas word.
16 Lees gerus die polemiek oor Krog se taalgebruik in Plunder in Elna van der Merwe se artikel “Gee terug die p-woord se taboestatus” en Amanda Gouws se artikel “Vry vroue sal aanhou vloek”.
17 Marisa Botha tref ook hierdie vergelyking in haar bespreking van die outobiografiese elemente in Verweerskrif.
18 Sien die werk van die ekogerontoloog Monica Eastway.
Bibliografie
Bronfenbrenner, U. 1979. The ecology of human development. Cambridge: Harvard University Press.
Cirlot, JE. 2001 [1971]. A dictionary of symbols. Londen: Routledge.
Coetzee, A. 2022. Antjie Krog se nature punk in Plunder. https://klyntji.com/joernaal/2022/12/4/antjie-krog-plunder (20 Julie 2023 geraadpleeg).
Crous, M. 2022. Resensie: Plunder. https://versindaba.co.za/2022/11/28/resensie-plunder-antjie-krog (25 Julie 2023 geraadpleeg).
De Wet, K (samest). 2020. ’n Vry vrou: gedigte van Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau.
Garman, A. 2009. Antjie Krog, self and society: the making and mediation of a public intellectual in South Africa. DPhil-proefskrif, Universiteit van die Witwatersrand.
Geerlings, D. 2023. Recensie: Antjie Krog – Plundering. https://www.tzum.info/2023/03/recensie-antjie-krog-plundering (9 Augustus 2023 geraadpleeg).
Gu, D en ME Dupre (reds). 2021. Encyclopedia of gerontology and population aging. Springer: Cham. https://doi.org/10.1007/978-3-319-69892-2_1126-1 (1 Augustus 2023 geraadpleeg).
Hambidge, J. 2022. Resensie | Antjie Krog – Plunder. http://joanhambidge.blogspot.com/2022/11/resensie-antjie-krog-plunder-human.html (25 Julie 2023 geraadpleeg).
Hoh, JWT, S Lu, Y Yin, Q Feng, ME Dupre en D Gu. 2021. Environmental gerontology. In Gu en Dupre (reds.) 2021.
Johnson, P. 1987. A history of the Jews. Londen: Weidenfeld and Nicolson.
Krog, A. 2022a. Verweerskrif. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2022b. Plunder. Kaapstad: Human & Rousseau.
La Vita, M. 2022. Antjie Krog: “Mens leer leef met wat sterwende is”. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/profiele/antjie-krog-mens-leer-leef-met-wat-sterwende-is-20221019 (25 Julie 2023 geraadpleeg).
Lurker, M. 2005 [1987]. The Routledge dictionary of gods, goddesses, devils and demons. Londen: Routledge.
Myburg, J. 2022. Antjie Krog: “If a poem can lessen a single person’s pain, then it was worthwhile.” https://www.news24.com/life/books/antjie-krog-if-a-poem-can-lessen-a-single-persons-pain-then-it-was-worthwhile-20221202-3 (25 Julie 2023 geraadpleeg).
Netwerk24. 2022. Dít “plunder” Krog alles vir haar digkuns. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/feeste/woordfees/dit-alles-plunder-antjie-krog-almal-vir-haar-digkuns-20221011 (25 Julie 2023 geraadpleeg).
Opperman, AJ. 2022 Antjie Krog lees haar verse voor in Pretoria. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/kyk-antjie-krog-lees-haar-verse-voor-in-pretoria-20221024 (25 Julie 2023 geraadpleeg).
Pretorius, A. 2015. Bodily disintegration and successful ageing in Body bereft by Antjie Krog. Tydskrif vir Letterkunde, 52(2):21–32, http://dx.doi.org/10.4314/TVL.V52I2.2.
Roux, A. 2022. Krog se meesterlike digterskap te sien. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/krog-se-meesterlike-digterskap-te-sien-20221113 (25 Julie 2023 geraadpleeg).
Sacks, PM. 1985. The English elegy: studies in the genre from Spenser to Yeats. Londen: The Johns Hopkins University Press.
Schneider, M. 1946. El origen musical de los animales-símbolos en la mitología y la escultura antiguas. Barcelona: Instituto Español de Musicología.
Senekal, I. 2023. Plunder (Antjie Krog). Tydskrif vir Letterkunde, 60(1):77–8. https://letterkunde.africa/article/view/16414/ (9 Augustus geraadpleeg).
Spangenberg, S. 2023. Om nadenkend te leef: kantaantekeninge by ’n paar gedigte van Antjie Krog. https://www.litnet.co.za/om-nadenkend-te-leef-kantaantekeninge-by-n-paar-gedigte-van-antjie-krog (1 Augustus 2023 geraadpleeg).
Steinmair, D. 2022. Antjie plunder met twee nuwe bundels. https://www.vryeweekblad.com/lewenstyl-en-kos/2022-10-21-boeke-antjie-plunder-met-twee-nuwe-bundels (25 Julie 2023 geraadpleeg).
T’Sjoen, Y. 2023. Plunder: artistieke samenwerking tussen Berlinde De Bruyckere en Antjie Krog (Antjie Krog notitie #1). https://voertaal.nu/plunder-artistieke-samenwerking-tussen-berlinde-de-bruyckere-en-antjie-krog-antjie-krog-notitie-1 (30 Julie 2023 geraadpleeg).
Van Vuuren, H. 2006. Antjie Krog – Verweerskrif. Beeld, 17 April, bl 9.
—. 2014. LitNet Akademies-resensie-essay: Mede-wete deur Antjie Krog. https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-mede-wete-deur-antjie-krog (15 Julie geraadpleeg).
Viljoen, L. 2022. Antjie Krog: “Ek vysel taal soos ek wil.” https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/boek-antjie-krog-ek-vysel-taal-soos-ek-wil-20221030 (25 Julie geraadpleeg).
WAT. 2023. Plunder. https://www.woordeboek.co.za (15 Julie geraadpleeg).
Kommentaar
Dankie vir hierdie mooi ontleding van Antjie Krog se digbundel "Plunder". Dis vir my asof ek saam met 'n eko-geoloog deur 'n bekende vallei geloop het. Ons het dikwels gestop en ons verwonder aan die geologiese strukture, maar ook stilgestaan om die stilte en die natuur rondom ons te ervaar wetende ons is deel hiervan.
'n Uitstekende resensie wat ek 'n paar maal wil lees. Ek was so bevoorreg om na Antjie Krog se voordrag van verse uit Plunder te kon luister.