Dr Stefan van Zyl matrikuleer aan die Hoërskool Kalahari, Kuruman. Ná sy skoolloopbaan studeer hy aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waar hy die grade BA met Kommunikasievakke, BA Honneurs in Afrikaans en Nederlands, BA Honneurs in Psigologie, MA in Afrikaans en Nederlands en PhD in Afrikaans en Nederlands verwerf. Hy voltooi sy meestersgraadverhandeling, getiteld Die representasie van veelfasettige manlikheidsbeelde in Eben Venter se romanoeuvre, onder leiding van prof. Heilna du Plooy, en sy doktorale proefskrif, getiteld Hennie Aucamp: ʼn gerontologiese oeuvrestudie, onder leiding van prof. Phil van Schalkwyk.
Benewens sy voltydse werk as taalpraktisyn by die Departement van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, is hy tans ʼn navorsingsgenoot verbonde aan die Nelson Mandela Universiteit se Skool vir Taal, Media en Kommunikasie. Hy is ook die webmeester van Versindaba – die webwerf vir Afrikaanse digkuns. Sy huidige navorsingsfokusareas is die literêre, narratiewe en queergerontologie met spesifieke verwysing na die Afrikaanse letterkunde. Stefan is ʼn geakkrediteerde lid van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut, ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ʼn lid van die Taalkommissie se adviespaneel. Hy was voorheen ook werksaam by die Noordwes-Universiteit, die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en die Hugenote Kollege. Wanneer hy nie alle talige balle probeer jongleer nie, reis hy graag, waag sy hand aan die dig- en kookkuns, en speel af en toe klavier.