LitNet Akademies-resensie-essay: Mede-wete deur Antjie Krog

  • 0

Titel: Mede-wete
Outeur:
Antjie Krog
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798167871

“met die litteken van tong/skryf ons die grond onder ons voete”
Kleur kom nooit alleen nie (2000)

1. Inleiding

In ’n digterskap wat toenemend gepolitiseerd geraak het vanaf Gedigte 1989–1995 (1995) en Kleur kom nooit alleen nie (2000), maar meer op die vroulike verouderende liggaam gefokus het in Verweerskrif (2006), is Mede-wete, Antjie Krog (1954–) se twaalfde digbundel vanaf haar debuut met Dogter van Jefta (1970), ’n besondere bydrae tot die grens-verleggende korpus laatwerke van toonaangewende Afrikaanse digters die afgelope jaar. Presies ’n jaar gelede het Marlene van Niekerk se Kaar (2013) verskyn, en onlangs Breyten Breytenbach se vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte (2014). In ’n gemarginaliseerde taal soos Afrikaans, is al drie hierdie digbundels merkwaardig in hul onderskeie soorte vernuwing, grensoorskryding en die hoogstaande gehalte van ’n totale andersoortigheid van elkeen. Tog is daar ’n gemene deler daarin dat al drie as laatwerke gesien kan word, met ’n steeds intensiewer bewussyn van die dood en eindigheid van dinge. Waar vyf-en-veertig skemeraandsange getuig van diepgaande “utopie-bedremmeling” met die politieke bestel, meesal in ’n doelbewus ingekrimpte woordeskat van Afrikaanse Zen-verse, en Van Niekerk (ook met ’n donker distopiese visie) die Afrikaanse woordeskat nietemin tot barstens toe verbreed en vernuwe met ’n enorme spektrum van haas onbekende en vergete woorde, bring Krog met Mede-wete hoop vir die ontnugterdes in haar voorstel van mededeelsaamheid, “een-in-vele” of “interverweefdheid-tot-samehang” in die naam van ’n “volle mensheid” (2014:28 & 116). Ook Krog vernuwe die Afrikaanse poësie met neologismes en eksperimentering met die taal, op die patroon van Paul Celan in sy laat- en postume werk (1963–1976). Soos Breytenbach en Van Niekerk, getuig Mede-wete ook van ’n spel met stylsoorte en deureenloop van genres in prosaverse, of verse wat in prosavorm geskryf is.

Wat al drie die digbundels gemeen het, is ’n neiging tot postmodernistiese kenmerke, wat Brain McHale in “Poetry under erasure” (2005:277–301) met enkele hoofpunte opsom:

1. Verdwyning of uitwissing (“erasure) is die kenmerkende praktyk van dié soort postmodernistiese poësie volgens McHale:

Erasure as theme and practice in postmodernist poetry is shaped by two historical erasures which bracket it and between them determine its significance: in the immediate past, the erasure of the European Jews, to which the poetry of Celan and Jabès bears witness; and, prefigured by that past erasure, the one yet to come – the mass erasure, sometime in the indeterminate future, of us all (…)(2005:297).

2. Verdwyning of uitwissing (“erasure”) word getematiseer in die digkuns (2005:278), soos deur die gebruik van negatiewe (niks, niemand, nêrens). en die gebruik van ellipsis, asteriske en parentese in Paul Celan se werk.
3. Die gebruik van kript-woorde en kript-frases tipeer sulke digters se laatwerk (2005:282).
4. Verskuiling kom voor in een reël, of deel van ’n vers, van wat in die vorige onthul is (2005:286), sodat verse dikwels ossileer of "flikker" tussen ’n tese en ’n anti-tese.
5. In dié soort poësie van verdwyning of uitwissing (“a poetics of erasure”, 2005:287) word die sin dikwels as basiese eenheid gebruik, eerder as die versreël.
6. Vers-reekse kom dikwels voor, met variante (2005:290).
7. Daar is ’n hoë konsentrasie van lang kwasi-narratiewe verse in dié soort postmodernistiese digkuns (2005:293).
8. Ook veel-voorkomend is siklusse van konstruksie en dekonstruksie, strukturering en dekonstruering van die wêreld, of wêrelde (met ’n komplekse hiërargie van “ander wêrelde” of “ander ruimtes”) (2005:295).

Hoewel ’n resepmatige benadering tot literêre tekste intens gevaarlik is, omdat dit die eiesoortige aard en inhoud daarvan totaal kan miskyk en ontkrag, is dit duidelik uit die nuwe vormgewing, styleksperimente en aard van drie verskillende hoofstroomdigters dat daar ’n nypende tekort is aan nuwe maniere van poësie-lees, weg van die tot dusver bekende periodekodes en hul omskrywings, en weg van aangeleerde maniere en opvattinge. Dit lyk asof digterlike praktyke, soos in dié drie onlangse bundels, die literatuurkritiek ver vooruit is.

2. Antjie Krog – Mede-wete

Krog se nuutste bundel, soos Kaar van Van Niekerk, is grensoorskrydend op maniere wat dié vermoede verder bevestig. ’n Mens hoef jou maar net onder te dompel in die verwikkelde oeuvre van Paul Celan of die genre-uitdagende werk van Anne Carson om te begin besef hoe andersoortige tipes poësie en eksperimentele style en soorte taalgebruik anderkant die taalheining daar uitsien. Op die ingehoktheid van die plaaslike Afrikaanse literêre terrein bied Krog ’n satiriese blik in die tweede laaste prosagedig in Mede-wete, getiteld “essay-abstrakte: re: sinaps”:

ABSTRAK 7: die afrikaanse letterkunde sinkshackend almal hurk op die grondvloer druk mekaar vir ekstra beenspasie nou en dan pluk iemand die blikdeur oop is julle wragtig nog hier? iemand sing yoohotohoo iemand molm ’n ander kakkerlakend
Sleutelwoord: medeklinkermedepligtigheid bobeenversitters-in-krimpende-taal oud-ontongend

Die genre-oorspoeling hierin is die beste te illustreer deur dié vlymskerp prosa-paragraaf volgens singewende samehang in digterlike vorm oor te skryf:

Paul Celan (bron: wikipedia)
Anne Carson (bron: amazon.com)

die afrikaanse letterkunde

sinkshackend
almal hurk op die grondvloer
druk mekaar vir ekstra beenspasie
nou en dan pluk iemand die blikdeur oop
is julle wragtig nog hier?

iemand sing
yoohotohoo

iemand molm ’n ander
kakkerlakend

medeklinkermedepligtigheid
bobeenversitters-in-krimpende-taal
oud-ontongend

Sleutel tot dié teks in “oud-ontongend” is DF Malherbe se gedig oor Jakob Ontong. Op haar bruilof met ’n ander man, Willem Skeeloog, neem hy wraak met sy meesterlike kitaarspel op sy verlore geliefde, Saartjie, na ’n “kunsles” by die duiwel, Damoen. Want sy’t haar liefdesbelofte aan hom verbreek: “Ek is joue vir lewenstyd!”

Jakob Ontong, moeg van maaiwerk
heeldag op die hawerland,
slinger-sukkel na die hoogte
stokalleen deur stof en sand –

met die erfstuk van sy tata,
blinkgevryfde ou kitaar –
(…)

Daar wag Damoen, meesterspeler,
om die vingers lomp en traag
met een kunsles reg te tower
dat die snaarwerk juig en klaag
(…)
Middernag – en op die kruispad:
dis die oomblik dat hy’t waag,
vang die snare, maar sy vingers,
swaar van arbeid, strompel traag.

Deur die kitaarles van Damoen, vorder hy tot meesterspeler, en sy kitaarspel word die stem van haar gewete (sy “kitaar my kruis”, à la Small) oor haar “vals eed” een nag aan hom:

Doemeroem! Dreun dit oor die vlakte.
huis toe waar die hane ontwaak.
met die snaardreun groei sy hartstog,
donker is die klank van wraak!
(…)
En die bruid val neer in floute,
en die gaste staan verstom –
Ontong glip die voetpad langes:
Doemeroem-doemeroem-doemeroemerom!
            (Malherbe in Opperman 1956:58–61)

En voortaan sal hy haar nagteliks bly kwel:

Elke middernag, ontroue
sal jou damoen swaar kom kwel,
Dat jy bewe in sy kloue
Tot die haan kraai – dis jou hel.

En verniet jou diep verlangste
Om jou skuldverwyt te ontkom (…)

In dié oer-Afrikaanse Faust-verhaal, ingebed in ’n haas vergete vers, vind Krog met een enkele bywoord ’n vonk vir ’n satiriese kyk op die Afrikaanse letterkunde. Die hurkers in die sinkshack klink vir haar meesal soos die óú sukkelende Jakob Ontong, vóór sy diaboliese meesterles. Haar strewe in Mede-wete is by implikasie om ontslae te raak van die eentonige “medeklinkermedepligtigheid” van eenvoudige liriek in die “krimpende-taal” wat Afrikaans geword het, en dit te verrek en te verbreed met ’n totaal ander aanslag, sodat die núwe Jakob Ontong uit die asse kan opstaan. Die nuwe digter en die nuwe aanslag sal nie puur esteties te werk gaan nie, maar ’n sterk etiese inslag hê, een wat die gewete kwel van sy lesers, is so ongeveer die implikasie. Draer hiervan in Mede-wete is die begrip van kollektiewe skuld van wit Afrikaners, al ’n dekade of wat gelede die onderwerp van vurige debatte in die media.

Die kollektiewe skuld van wit Afrikaners is ’n sentrale begrip in Krog se oeuvre vanaf Country of my skull (1998) en so ook in Mede-wete. Dit maak vir ’n ongemaklike leeservaring, omdat die verlede in die bundel, soos uitgebeeld deur Krog se herinneringe aan vroeër in “die werf” (2014:9–25), asook ervarings van die meer onlangse hede in “geheue” (2014:87–101), konsekwent hierdeur gekleur word. En die mededeelsaamheid of onmededeelsaamheid word meesal gekoppel aan die kontensieuse Suid-Afrikaanse grond-kwessie. Reeds in die heel eerste treffende vers oor die pa se begrafnis kom dié perspektief duidelik na vore:

sy verwarde

nageslag staan waar ons voel ons nie hoort nie
verduur deur geboortegrond waaraan ons vir geslagte
bloei plek kon niemand vir ons bestendig nie verwond
bly ons agter konkelend bedompig van verwyt onmede-
deelsaam trap ons water in mitologieë (…)
(…)
                                    ons
Afrikanergewete ons taalheid ons witheid

Met die blote gebruik van die woord “geboortegrond” aktiveer Krog hier ’n hele afdeling van volksliedere in die FAK soos “O boereplaas, geboortegrond! Jou het ek lief bo alles” (1963:45). Die vaderlandsliefde gekoppel aan die grond soos wat dit in die FAK-bundel neerslag gevind het, kontrasteer skril met die sentiment deur die Krog-nasate ervaar by die boerepa se graf, “bedompig van verwyt onmede-/deelsaam”. Die erfplaas is verlore, verkoop, en die nuwe bestel dreig met grondonteiening overal. Dwarsdeur Mede-wete bied die digter filosofiese besinning oor die aard van grondbesit en die verhouding met grond, die treffendste verwoord in “(probeerslag 5: die grond)”, woordspel met “grond” as selfstandige naamwoord (grond teenoor die leegte van afgrond), as samevoeging (erfgrondmanie)en as werkwoorde (deurgrond, gegrond). Die baas-klaas-verhouding van die verlede word ook aan die besit al dan nie van grond gekoppel. In die tweeling van die tweedelige vers, tipografies geplaas naas die eerste soos sy basis waarop hy stut, word twee stellings voortdurend afgewissel: “ons behoort aan die grond”/”behoort grond aan niemand nie” en “hoe duidelik praat/die grond nie met ons nie”. Die slot stel kategories ’n ontkenning: “die idee dat grondbesit jou ’n mens/maak is stront dat grond aan party behoort/moet gekakspoeg word uit my my mond” (2014:100).

Grond (bron: www.rgbstock.com)

 

Reeds die bundeltitel, Mede-wete, dui indirek op dié kollektiewe skuld in die minder gebruiklike betekenis van “voorkennis”. “(M)edepligtigheid” en “medeskuldiges”, asook die argaïese woord, “medeskepsel”, verskyn as verwant aan “medewete” by ’n aanlyn-soeke op die WAT: www.woordeboek.co.za. In die etimologiese dampkring van “medewete” word dus sowel kollektiewe skuld as ’n bewussyn van die ander (”medeskepsel”) geïmpliseer. Die “ander”, sentraal in die bundel, is inbegrepe in die titel – daar is geen gedeelde voorkennis of “medewete”, sonder ’n ander:

medewete s.nw. Wete i.d. vorm van inligting of kennis wat met 'n ander of andere gedeel word, of waaroor 'n ander of andere ook beskik; sin. voorkennis (minder gebruiklik).

Dat die bundeltitel in Engels Synapse heet, is opvallend, en maak die leser ook bedag op dié betekenis, soos van rou senupunte, maar dan in die taalgebruik. “Grond” en “(on)mededeelsaamheid” is duidelik twee besonder pertinente brandpunte in die Suid-Afrikaanse politieke konteks. Die woord “synapse” word dikwels gebruik in verband met die werk van Paul Celan, soos in “work that is already written at the synapses of raw nerves” oor die digter se Roemeense jeuggedigte (Codrescu 2003). Dat die Afrikaanse digter veral in haar woordkeuse soek daarna om die “rou senupunte” van die taal oop te boor, weg van die “verstopte sillabes”, is duidelik, ook uit die motto by die eksperimentele laaste afdeling, “vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing”, opgedra aan Jakes Gerwel. Hier verwoord sy haar kunsteoretiese credo:

             (…) ’n volgehoue plaakafbeiteling
van klinkers sodat erbarmlose verstokte woorde gedaag

word skielik kan lug instroom ’n nuwe geluid
benader vreemd sal die nuwe taal moet lê uitasem
en omgee omgewend apartwees dood begin sê
in die haat wat so bloedgrondritmies dawer

Om “apartwees dood” te “begin sê” word in die tweede vers in dié afdeling neologisties (deur verwringing van die kernwoord “apartheid”) geformuleer as “spoel die swoegtels van apoorte aardes los” (in Synapse: “the toils of apartgated earths float loose”) (my kursivering). Die taal as poëtikale voertuig van hierdie bewussynsveranderende, etiese en revolusionêre doel sien Krog as ’n nuwe begin met ’n “vuurvarende sinaps”, met opheffing van die skeiding “julle/ons” in ’n eenwordende neologistiese “ons’le”. Ongelukkig werk die Engelse weergawe veel beter, omdat daar veel minder vreemde neologismes in voorkom. In Afrikaans staan daar:

hoor jou’le my
jy wat ons’le is

En in die Engelse vertaling van Karen Press, in standaard Engels te lese, veel minder vervreemdend:

do you hear me?
you who are ours?

’n Belangrike vertalersnota aan die slot van Synapse bied aansienlike insig in die kunsteoretiese projek agter Krog se Mede-wete, en die vonk daarvoor in ’n werkswinkel oor Paul Celan. In die slotnota haal die bundel-vertaler, Karel Press, aan uit ’n ongepubliseerde Krog-opstel, getiteld “Warring the father’s tongue” (“Stryd met die vadertaal”):

Translating these neologisms ... it was also soon apparent how they brought a kind of strangulation into the poem, a kind of word-knot. This intensified one’s attention so that one could not flow further with the poetic line. You had to stop, think of the two separate concepts, then how they influenced one another. Rhythmically the neologisms also held you back until an opening of understanding allowed the poem’s breath to flow further. As a kind of force-feeding of meaning into a line the neologisms were very powerful ...

This kneading of the language assists one to ethically infuse a vocabulary in which the terrible has happened, in which ordinary engagement is not possible as every word carries a shadow of the past. To remain inside Afrikaans poetry became only possible through transformations brought about by intersecting aesthetics (my deep love and embeddedness in Afrikaans poetry) with ethics (my understanding of what went wrong among Afrikaners and how a world from within Afrikaans towards others could be) ...
(Krog, “Warring the father’s tongue”; my beklemtoning)

Wat hier deur Krog, via Celan, oorgehewel en aangepas is vir haar eie praktyk is die idee van ’n deur geweld aangetaste, gestigmatiseerde Afrikaans, soos die Duits waarin Paul Celan geskryf het ná die holocaust van nege miljoen Jode. Of so ’n vergelyking van die holocaust en die apartheidsregime histories oortuigend is, laat ek in die midde … Ook die intens gedebatteerde kwessie van kollektiewe skuld. Dit val wel op te merke dat Celan as Joods-Roemeense slagoffer, twee jaar klippe gekap het in ’n werkerskamp, terwyl sy ouers albei omgekom het in konsentrasiekampe. Krog as wit Afrikaanse mens kom uit ’n totaal ander agtergrond. Celan as Roemeense Jood behoort tot ’n minderheidsgroep wat doelbewus geteiken en uitgewis is. Krog had ’n beskermde agtergrond, is hoogstens as WVK tweedevlakgetuie aan trauma by aanhoor van die verskrikkinge blootgestel. Nietemin is vernuwende impulse te vind waar digters ook al hul inspirasie wil of kan haal. Daar is ander raakpunte met Celan en Krog: plagiaataantygings, vertalingsprojekte van albei, en die taal waarin albei dig, wat klaarblyklik deur die beloop van die politieke geskiedenis gestigmatiseer is. Krog verwoord haar perspektief dat dit slegs moontlik is om verder in Afrikaanse poësie werksaam te wees mits die estetiese deur die etiese getransformeer word, sodat ’n moontlike bestaan van Afrikaans-wees van een-in-veelheid met die ander sigbaar word. Wat hier om die hoek kom loer, is die nou al, weens oorgebruik en misbruik, tot cliché gebanaliseerde begrip van “ubuntu”. In Celan se kunsteorie sien hy “die ander” egter nie as ras-, gender- of etnies-spesifiek nie. Dit is eerder ’n droom van letterkunde wat as ’n skool vir ’n ware menslikheid sal dien, wat Celan, en Krog in sy voetspore, voorstaan (vir ’n kritiese bespreking van Celan se poëtika oor die ander en die geskiedenis, sien Eshel 2004:57–77). Besonder insiggewend vir Krog se visie op die verhouding met die ander, en vereenselwiging met die ander, in ’n genuanseerde raamwerk, is die aanlyn-Kalsky-onderhoud met die digter op 21 Januarie 2014).

Dié hele proses in Mede-wete staan in die teken van vernuwing en verandering, asook die eksperimentele. Die digter beklemtoon herhaaldelik dat sy as digter “probeerslae” toets en “pogings” aanwend om nuut te skryf, sodat die bundel ook gesinjaleer word as ’n proses van ontwikkeling, ’n op weg wees na ’n nuwe verskyningsaard wat nog nie duidelik is nie. Daar is selfs ’n gedig wat bestek opneem van die digter se “bankrotskap”: “inventaris van my bankrotskap as digter” (2014:59)

Die bundel bevat ’n honderd gedigte, waarvan die grootste gros onderdeel van reekse is, volgens McHale (2005:2009) ’n kenmerkende tendens in resente postmodernistiese poësie. Dit het te make met ’n sekere fragmentering, weg van die netjiese eenheid van die deurgekomponeerde eenheidsbundel. Die meeste is egter ingebed in die inhoudsopgawe sodat dit nie onmiddellik opval nie. Die reekse is:

1. “die werf” (pp.10–25)
2. “bediendepraatjies” (pp.60–65)
3. “convivium” (pp.80–83)
4. “geheue” (pp. 87–100)
5. “by die dood van Nelson Rolihlahla Mandela” (pp.107–110)
6. “essay-abstrakte re: sinaps” (pp.116–7)
7. Die dertien gekursiveerde verse in die inhoudsopgawe (tussen ander in normale druk)
8.  “vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing” (pp.111–120)
9. ’n reeks gelyknamiges, “Probeerslag 1–5” (pp.79, 90, 93, 98, 100)

Antjie Krog

Mede-wete is baie ongelyk in kwaliteit, met uiteenlopende style, en woordeskat en inslag, miskien om doelbewus allerlei moontlikhede te demonstreer. Dit volg wat die outobiografiese Krog-teks betref, êrens ook vaagweg haar uitgebreide digterskap wat agter haar lê. Waar een van die mees gekanoniseerde en bekende Krog-verse waarskynlik haar jeugdige gedig vir haar moeder is in “Ma”, vind die leser hier ook ’n gedig vir die moeder, maar nou is dit die hoogs bejaarde en siek moeder. Die gedig heet “Ontwei” (2014:103) wat volgens die WAT “ontderm” beteken, iets wat ’n mens met diere doen na hul geslag is. Al die sentrale motiewe in die bundel – grond, skrif, taal, dood, geweld, alleenheid, verganklikheid, verlies, die skatologiese – verskyn hier, in dié

swetsende terdoodbrenging van slyt-
bare vlees soos voortgedryf deur pis deur die onwaardigheid
van skyt van herberglose breuke knoppe en fynmasige
wade van immerende onmagtigheidsmakings.

Die gedig is ’n monoloog-in-narratief waarin die ma aangespreek word, na ’n besoek, met die beeld van die kwynende moeder nog op haar netvlies:

                        …in die truspieëltjie sien ek jou staan
staan in jou vooroorstortende lyf

alleen, onnoembaar mensonterend alleen dodin van my wese
en trillende keelvel van my alfabet

Die neologisme uit “godin” en “dood” in “dodin” bal in een woord saam die onheilspellende skadu wat oor dié bundel laatwerk val. Die vers is ’n gesprek waarin die moeder direk aangespreek word, asof om haar komende sterfte te besweer (soos ook dié van die beminde eggenoot in ander verse, en die self as subjek). Die vers vorm ’n teenhanger vir die begrafnisgedig ná die pa se afsterwe, die eerste een in die bundel.

Gesprekvoering is ’n kenmerk wat vele van die gedigte in die bundel tipeer. Grepe uit gesprekke en dialoog tussen twee partye kom telkemale voor in sterk narratiewe versvorm. Dialoog tussen ouma en kleindogter, tussen vrou en eggenoot, tussen man en vrou oor bediende, tussen bediende en haar huisgenote. In dié soort gesprekverse is die tradisionele sterk liriese onderbou van gedigte dikwels ondergrawe deur die narratiewe gang. Dit skyn doelbewus te wees, as toenadering tot die meer onmiddellike weergawes van gereflekteerde momentopnames uit die digter se lewe. Dikwels praat die stemme by mekaar verby, soos in “jy moet gaan vir daai kolonoskopie” (2014:87) of “(probeerslag 2)”. Die gedig-as-gesprekvoering sluit waarskynlik aan by Celan se opvatting dat alle gedigte gesprekvoering is met ’n ander:

Das gedicht will zu einem Andern, es braucht ein Gegenüber. Es sucht es auf, es spricht sich ihm zu (…) Das Gedicht (…) wird Gespräch – oft ist es verzweifeltes Gespräch (…) (es) läßt (…) das ihm, dem Anderen, Eigenste mitsprechen: dessen Zeit.
[Die gedig wil na die ander toe, dit het die ander nodig, dit het ’n oorkant nodig. Dit soek die oorkant op, dit praat met hom. Die gedig (…) word gesprek, dikwels ’n wanhopige gesprek (…) dit laat hom, die ander, op sy aller-eienste saampraat: op sy eie tyd].
            (Celan 2003 (1960): 246–7)

Die meeste Celan-navorsers het nogal probleme met wat presies hier bedoel word, veral weens die deurmekaar loop van voornaamwoorde (die ander is beurtelings “dit” en” hy” in die Duitse oorspronklike). Nietemin is dit duidelik dat Krog se nuwe eksperimentele poësie ook dikwels dié gespreksaard as onderbou het. Dikwels word ’n “jy” of ander aangespreek (of dit nou die self as vervreemde “ek” is of ’n fisies teenwoordige ander). Die “ander” in Celan is ook ’n glibberige begrip, en veel omvattender en meer insluitend as in Spivak se gekanoniseerde opstel (“Can the subaltern speak?”), wat redelik eenduidig verwys na die gekolonialiseerde subjek.

3. Ten slotte

Hoe ook al, die hele Krog-projek of proses waarvan mede-wete neerslag is (ook om die léser as ander daarby te betrek en “mede-wete” van die moeisame digterlike weg op pad na die ander te illustreer) staan in die teken van ’n vernuwing van ou digterlike praktyke, en onvrede met die bekende Krog-inslag, styl en idiolek in haar vorige bundels. Die kontoere is wel nog herkenbaar (familie, kleinkinders, vroulike liggaam wat verweer, intense politieke betrokkenheid) maar die vorm en inhoud staan in die teken van grootskaalse poëtiese eksperimentering.

Daar is skitterende en besonder treffende gedigte soos “mirakel” (oor die droom van die nuwe Suid-Afrika wat in 1994 gerealiseer is teen alle verwagting in), “moniaal”, “binnedwang”, “kerssonnet” (waarin die digter fokus op die argaïese woorde “Vredevors” en “Wonderbaar”, in ’n smagting na geloof van ’n nie-gelowige, of miskien eerder na die gekoesterde verlede waarin hierdie rituele wel bestaan het?):

kerssonnet

noudat ons ontdroomdes en ontruimdes ons
daarvangekomdes met ontluisterde skedelskottels en
vraagdeurskote oë aan niks meer kan glo nie
verlang ek hier in die oorkrakende hitte van Desember
na die takkie wat eens kon spruit uit die stomp van Isai
na Betlehem Efrata klein onder die geslagte van Juda
na die stilte van ’n sterrenagveld met die gul vererige
geluid van engele nog melkig van God se behang en
skaapwagters in die dorbaarde van patriarge want in
die diep onweersgroen van Desember smag ek na ’n ruspunt
en die woord Wonderbaar ’n krip en eseltjie selfs en
vingerpunte wat ontroerd Vredevors tussen linte vind maar
geen vlerke stut meer. ek kleef die blinkblaar aarde en die maan
die sterre en die byl-gebenedyde geluid van afskeid en sterfte aan

Daar is laatwerk-verse soos “om nie in te tree”, “as ek doodgaan” en “ontwei”. Die sterk invloed van die orale tradisie in haar vorige bundels vind neerslag in die pryslied-en-elegie geskryf by die dood van Nelson Mandela, die “Groot Saambinder” en “Mededeelsame”. Dié orale tradisie staan hier in teenstelling met die sterk Westerse tradisie van waaruit Celan skryf, en van wie Krog se poësie in Mede-wete dikwels ingrypende merkers toon. Buiten vir die gebruik van enkele aanhalings as motto’s by later verse in die bundel, is die invloed van en aansluiting by Celan egter op die vlak van poëtika, soms flardes en frases in die woordgebruik, en van so ’n ingrypende en andersoortige aard dat dit ’n veel grondiger ondersoek vra as die bestek van ’n eerste resensie-essay. Veral die laaste kort afdeling, “vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing” toon intieme aansluiting by sowel Celan, maar ook die narratiewe verskuns van Anne Carson, wat ’n ander soort vers tot gevolg het as die vroeëre gedigte in die bundel. Hiermee weerspieël Krog as digter waarskynlik ook haar gedaanteverwisseling in verskillende personas (haar ander selwe), vanaf die nogal sentimentele verse oor oumaskap en slaap in ’n dogtertjie se kamer, haar posisie as dogter van ’n bejaarde en verswakte moeder, as eggenote en minnares, deur die skel satiriese en kwaai-feministiese skelvers deur die ouer vroue-digter by ’n partytjie vir “beautiful people” en ambisieuse jong skrywers, in “probeerslag 4: skrywersevent” (2014:98). Verse soos die baba-baddery (“die vervolging”) of “om bemin te word deur ’n digter” en “ter herinnering” is enigsins insinkings, maar sal sekere tipes lesers waarskynlik wel aanspreek.

Mede-wete is vir die ernstiger poësie-liefhebber ’n bundel wat saam met Kaar van Marlene van Niekerk en Breytenbach se vyf-en-veertig skemeraandsange tot absolute hoogtepunte van die afgelope twaalf maande behoort. Dat die “sinkshack” van Afrikaans as marginale taal nog sulke digbundels oplewer en oor sulke digters beskik, is merkwaardig, en ja, kan ’n mens net op Krog se satiriese vraag antwoord, ons is “wragtig nog hier”, veral noudat die “blikdeur” weer ’n slag oopgeruk is!

Bibliografie
Breytenbach, Breyten. 2014. vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte. Kaapstad: Human & Rousseau.
Carson, Anne. Red Doc>. New York: Alfred A Knopf.
Celan, Paul. 2003. Romanian poems (Green integer). Vertaler Julian Semilian & Sanda Agalidi. Voorwoord Andrei Codrescu.Budapest: Green integer. https://sites.google.com/site/juliansemilian/translations (1 Desember 2014 geraadpleeg)
—. 2003. Verzamelde gedichten. Uit het Duits vertaald door Ton Naaijkens.Amsterdam: Meulenhoff.
Eshel, Amir. 2012. Paul Celan: Poetry north of the future. http://aeshel.com/2012/07/paul-celan-poetry-north-of-the-future/
(27 November 2014 geraadpleeg)
—. 2004. Paul Celan's Other: History, Poetics, and Ethics.
New German Critique 91, Special Issue on Paul Celan: 57-77. http://www.jstor.org/stable/3211122 (27 November 2014 geraadpleeg).
Krog, Antjie. 1970. Dogter van Jefta. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 1995. Gedigte 1989–1995. Johannesburg: Hond.
—. 1998. Country of my skull. Johannesburg: Random House.
—. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela.
—. 2006. Verweerskrif. Kaapstad: Umuzi.
—. 2014a. Onderhoud met Manuela Kalsky. 21 Januarie. Vrije Universiteit van Amsterdam. http://www.nieuwwij.nl/interview/video-manuela-kalsky-gesprek-met-antjie-krog/ (15 November 2014 geraadpleeg).
—. 2014b. Synapse. Kaapstad: Human & Rousseau.
Malherbe, DF. 1963. Jakob Ontong. In: Opperman, DJ. 1963. Groot verseboek. Kaapstad: Nasionale boekhandel:58–61.
McHale, Brian. 2005. Poetry under erasure. In: Müller-Zettelmann, Eva & Rubik, Margarete (reds.). 2005. Theory into poetry. New approaches to the lyric. Amsterdam – New York: Rodopi: 277–301.
Müller-Zettelmann, Eva & Rubik, Margarete (reds.). 2005. Theory into poetry. New approaches to the lyric. Amsterdam – New York: Rodopi.
Nuwe FAK-sangbundel. 1963. Kaapstad Bloemfontein Johannesburg: Nasionale Boekhandel.
Opperman, DJ. 1963. Groot verseboek. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Spivak, Gayatri Chakravorty. 1988. Can the Subaltern Speak?. In Marxism and the Interpretation of Culture. Reds. Cary Nelson & Lawrence Grossberg. Urbana: Universiteit van Illinois Press: 271–313.
Van Niekerk, Marlene. 2013. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau.
WAT aanlyn. http://www.woordeboek.co.za. (15 November & 1 Desember 2014 geraadpleeg).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top