
Hein Willemse (Foto: Izak de Vries, 2022)
Die jaarlikse LOK1-simposium vir Afrikaans-onderwysers is op Saterdag 25 Februarie 2023 by die Universiteit van Wes-Kaapland aangebied.
Hein Willemse het die openingsrede gelewer. Hier is die effens aangepaste teks wat hy aan LitNet beskikbaar gestel het:
Waarom letterkunde? Wat van die walvisse?2
I
Ek bedank u graag vir u uitnodiging om by hierdie geleentheid op te tree. Dit is vir my ’n besondere eer. Ek moet onmiddellik byvoeg dat ek my totaal onbekwaam voel om vandag hier te staan. Toe Christopher Banda my vra om hierdie aanbieding te doen, was my eerste reaksie aan hom dat ek geen onderwyskundige is nie. Ek het groot waardering vir die reusetaak wat u getrou elke dag in die klaskamer verrig. Ek het nog nooit in ’n skoolklaskamer gestaan nie. Ek het nie ’n uur se onderrigmetodiek agter my naam nie. Wat ek van die uitdagings van letterkunde-onderrig op skool weet, is dus hoogs verdag. Mnr Banda het my wel verseker dat hy dink dit sal goed wees indien ek praat oor die aard van letterkunde, die voortdurende spanning tussen gevestigde kennis en die stryd van die onbekende om gehoor te word.
Vir jare was my verpligting as universiteitsdosent die onderrig van literêre teorie, daardie dissipline wat ’n versnit van filosofie, geskiedenis, ekonomie, sosiologie, sielkunde, kommunikasiekunde, en kuns- en letterkundige opvattings is. En soveel meer. Teorie! Gewoonlik het my studente hul oë ten hemele gerig en hulle koppe in hulle hande laat sak wanneer hulle die woorde “literêre teorie” hoor. Teorie! Ja, inderdaad, daar is ’n goeie skeut abstrakte denke en begrippe daarby betrokke. Hulle moes ook die vermoë ontwikkel om intellektuele patrone en kulturele gedragsverandering oor tyd waar te neem en krities te beoordeel. Dikwels is dit ook ’n ontdekking van vreemde wêrelde, vreemde name, vreemde begrippe en gewoon net goed wat oënskynlik min met hul beperkte ervaringswêreld of hul onmiddellike belewing uit te waai het.
Ek onthou ’n student wat jare gelede met die aanvang van my semesterkursus gevra het: “Waarom moet ek hierdie kursus doen?” Sy was ’n senior student wat reeds met haar praktika besig was en ’n gevorderde taalkursus nodig gehad het om haar graad te voltooi. Haar woorde, as ek dit presies onthou, was: “Ek gaan tog net skoolhou.”
Haar reaksie het my laat nadink. In haar uitspraak lê onderliggend soveel aannames oor letterkunde-onderrig: die vreemdheid daarvan; dat dit slegs op die onmiddellike afgespits moet wees; dat daar ’n kortpadresep is om iets in die kinders se koppe te kry. Wat my verder getref het, was haar eie geringskatting en dié van haar taak as voornemende onderwyser. Dit kon tog nie wees nie.
My onmiddellike reaksie teenoor haar was min of meer die volgende: Met hierdie kursus probeer ons verstaan wat die aard van stories is en waarom dit belangrik is. Ons ís stories, het ek gesê, en stories gee vir ons identiteit – as individue, as groepe in geslagtelike, kulturele, maatskaplike en ekonomiese verband. Ons almal het stories. Wat ons wil doen, is om daardie stories en die omgewing waaruit dit ontspruit, te probeer verstaan. Ons leef deur stories, en ons denke oor wie ons is, is geweef uit stories. Dit is dié stories wat jy gaan onderrig. Ons rus jou toe om ’n lens te ontwikkel om die geskiedenis, die omgewing en die aard van hierdie stories te begryp, asook die wyses waarop dit voorgestel of verbeeld word. Uiteindelik dra jy daartoe by om sowel jou kinders se beeld van hulself, as hul beeld op die wêreld waarin hulle leef en gaan leef, te vorm .
Vandag wil ek met u praat oor waarom die studie van letterkunde vir my sin maak, en waarom dit belangrik is as vak op skool en elders. As daar een verenigende element vir mense regoor die wêreld is, is dit dat ons almal stories het om te vertel. Dit is deur stories dat ons sin maak van die wêreld rondom ons. Dink daaraan: Elke moment, elke gebeurtenis wat oorvertel word, is ’n narratiewe moment, ’n vertelling, ’n storie. Selfs al word dit versnipperd of in poëtiese vorm aangebied, voorgestel of gesing, maak ons as luisteraars, as toehoorders daarvan ’n storie met ’n begin, ’n middel en ’n afloop.
Ons vertel ons verhaal, ons eie identiteit, deur stories. Hoe het ek hier gekom? Watter hoofmomente in my lewe het my gevorm? Wie was my helde, my makkers en my teenstanders? Wat het ek onthou, en belangriker nog, wat het ek vergeet? Vir dié wat ’n bietjie meer nadink, lei hierdie vrae tot ander, indringender vrae, soos: Waarom het ek onthou? Waarom het ek vergeet? Wat het ek hieruit geleer? Wat het ek afgelê en watter waardes het ek bly behou? En: Hoe het ek daardie storie vertel?
II
My student het haar kop instemmend geknik asof dit sin maak, maar ek weet nie of die stukkie narratiewe teorie haar ooit bygebly het nie. Vir my is dit die kern van waarom ek in die letterkunde belangstel. Letterkunde en kulturele artefakte in die breë bied vir ons ’n blik op die wêreld. Ons verstaan ons omgewing en ons plek in die wêreld wanneer ons die ervarings van ander mense en hul kulturele omgewings verneem, of in die geval van die letterkunde, daarvan lees of dit aanhoor. Dit gee vir ons ’n perspektief op ons eie denke, en waar ons beskouings, waardes en oortuigings vandaan kom.
Laat ek ’n bekende verhaal neem – gedagtig aan die vloede en gerugte van tropiese storm Freddy wat tans na die land in aantog is.
In die Abrahamitiese godsdienste is die verhaal van Noag en sy gesin die begin van die moderne mens. Dit is een van die oorspronglegendes van die Westerse beskawing. Die sondvloed het alles vernietig. Al wat oorgebly het, was Noag en sy gesin en die diere, elk afgepaar. Dit was ’n verhaal wat my as jongeling gefassineer het. Dat een man die hele wêreld met sy versiendheid, sy goddelik geïnspireerde versiendheid, kon red. Dit is ’n uitsonderlike verhaal en die praktiese omvang van so ’n onderneming was vir my totaal onvoorstelbaar. Hoe het Noag dit reggekry? Elke liewe dier op die aarde ... uit alle uithoeke ... op één boot? In my kindergemoed was daar ook ’n ander groot vraag: Wat van die walvisse? Moes die walvisse hulleself red?
Dit was eers toe ek jare later as student die epiese verhaal van Gilgamesj teëkom dat ek nader aan ’n oplossing vir die tergende vrae van my jonge self sou kom. Die verhaal van Gilgamesj, die koning van die stadstaat Uruk in die Tigris-Eufraat-vallei (vandag se Irak), is een van die oudste stories van die Westerse beskawing. Dit dateer uit nagenoeg 2 000 VHJ, dus meer as 4 000 jaar gelede, en vertel ’n verhaal van Mesopotamië, later Babilonië. Die verhaal van Gilgamesj is in 1840 in ruïnes van die biblioteek van die Assiriese koning Asjoerbanipal in Ninevé, Irak ontdek op 12 stukkende kleitablette, in Sumeriese spykerskrif geskryf. Later sou soortgelyke tablette met vollediger weergawes van die verhaal, ook elders in die Midde-Ooste tot so ver as vandag se Turkye ontdek word.
Die arrogante koning Gilgamesj, wat twee derdes god en een derde mens is, wil heeltemal onsterflik – dus goddelik – word. Sy lewe wentel om hierdie soeke waarin onder meer Enkidu, die wilde halfmens en halfdier, sy vriend en teenpool is. Tussendeur is daar stryde met monsters, reuse, verskeie gode en godinne, en woelinge in die verhoudings tussen die godedom en die mens. Een van die figure wat Gilgamesj oor onsterflikheid raadpleeg, is Utnapisjtim.
Utnapisjtim is ’n interessante figuur, die enigste wat onsterflik kon word. Hy vertel vir Gilgamesj die verhaal van sy onsterflikheid. Die god Ea het hom gewaarsku dat Enlil, die god van aarde, lug, wind en storms, ’n groot vloed gaan stuur. Hy kry die opdrag om ’n groot boot te bou om hom en sy gesin en diere te red. Wat volg, is ’n totaal vernietigende vloed. Na die vloed stuur Utnapisjtim ’n duif, ’n swaeltjie en ’n kraai uit om droë land te vind. Die duif en swaeltjie keer terug na die boot, omdat hulle nie droë land kon vind nie. Die kraai, die groter voël, keer egter nie terug nie, want dié kon rusplek op ’n drywende lyk kry. Utnapisjtim lei daaruit af dat die land besig is om uit te droog, en uiteindelik strand die boot op ’n berg. Enlil verhef Utnapisjtim na dié gebeure tot die godedom en onsterflikheid.
Die ooreenkomste tussen Noag en Utnapisjtim is duidelik. Natuurlik is daar ook verskille, maar dit is vir ’n ander geleentheid. Dit word algemeen aanvaar dat die verhaal van die Bybelse sondvloed na alle waarskynlikheid gebaseer is op dié van die Mesopotamiese Utnapisjtim, omdat dit so ’n wye verspreiding in die antieke wêreld, wat ons vandag as die Midde-Ooste ken, gehad het.
Letterkunde en kulturele artefakte bied vir ons ’n blik op óns wêreld. Ons verstaan ons omgewing en ons plek in die wêreld beter. Die verhaal van Utnapisjtim van 4 000 jaar gelede lê aan die bakermat van ons eie storie, ons mense se geloofsoortuigings, ons stryde tussen lig en donker, en ons soeke na helde wat die monsters van ons dag kan uitdaag. Ons is deels geweef uit die storie van Gilgamesj. Uiteindelik maak dit nie eens saak of die stories van Utnapisjtim óf Noag óf enige ander legende van ’n vloed kontroleerbaar “die waarheid” en bewysbaar is nie. Dit maak nie saak of daar ’n monumentale vloed in ’n antieke Sumeriese vallei was nie of, soos die Noag-verhaal suggereer, die wêreld eensklaps oorstroom was nie. My bekommernis as jong kind oor die lot van die walvisse is dan ook nie meer ter sake nie.
Hierdie vloedlegendes bied vir ons ’n blik op menslike ervaring en die betekenis wat hulle daaraan gee. Wat wel soos ’n paal bo water staan, is dat vloede in talle kulture ’n belangrike simbool is. In die verhaal van Gilgamesj is die vloed die straf vir verwaandheid; in die Bybel vir sondigheid. In ander kulture is dit ’n simbool van vrugbaarheid. Na lang droogtes voorspel vloede dikwels groot oeste. Vir ander is dit die simbool van totale vernietiging, reiniging en hergeboorte. Dit is dus geen verrassing dat vloede een van die mees terugkerende simbole en metafore in die wêreld se literature is nie. En dan het ons nog nie eens begin praat van Sigmund Freud of Carl Jung wat drome waarin vloede voorkom, met die onbewuste assosieer nie, of die vloed van Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein nie.
III
Letterkunde is ’n manier van ontdekking. Dit is ’n poort tot die ontdekking van die onontdekte wat anderkant die eie ervaring lê. Ons wil dikwels daarop aandring dat letterkunde vir ons ’n spieël van ons eie wêreld en belewing moet wees. ’n Ontdekking van die eie. Terwyl letterkunde vir ons iets van ons onmiddellike wêreld kan sê, berus die groter waarde juis daarin dat dit vir ons iets meer van die onbekende sê, daardie wêrelde aan die ander kant van ons eie leefwêreld. Letterkunde bied ons geleenthede om ander perspektiewe te ervaar en deur die woord te beleef.
Die romans of dramas en selfs die poësie wat my bybly, is juis daardie tekste wat ’n ander blik as my eie op die wêreld gee. ’n Roman soos The God of Small Things (1997) van Arundhati Roy oor hoe bepaalde beskawingsnorme, die oorblyfsels van die Indiese kastestelsel en ander klein dingetjies, karakters se lewens ingrypend verander. Dit toon ’n wêreld waarvan ons as buitestanders geen snars verstaan nie. Ons sien en lees daar spanninge wat in alledaagse ervarings beleef word, nie as ’n stuk geskiedenis nie, maar as ’n beleefde mede-ervaring. Hierdie ervarings maak dit vir ons moontlik om die verwikkeldheid van menslike emosies en ervarings te beleef, ook in ons eie land. Dit help ons om omvattender kennis te neem van die geskiedenis van idees.
In die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde kry ons in skoolleerplanne iets (al is dit hoe skraal) van ’n verskeidenheid – ’n gedig, roman of drama wat uit ’n belewing ander as ons eie kom, al is dit in dieselfde taal geskryf. Dit is nie noodwendig ’n gegewe in al ons Suid-Afrikaanse letterkundes nie. As daar enigsins ’n droom is wat navolgenswaardig is, is dit die moontlikheid dat ons letterkunde- en kultuurleerplanne ’n vorm van vergelykende letterkunde – desnoods in vertaling – sal aanbied. Dit is ’n wyse waarop daardie ander wêrelde, dit waartoe ons nie toegang het nie, kenbaar en ontdekbaar kan word. In my eie ervaring was van my eerste ontmoetings met Afrika-letterkunde (dit is letterkunde geskryf deur skrywers op die res van die kontinent) juis deur vertaling, naamlik Chris Barnard se vertaling van Chinua Achebe se Things fall apart, getitel ’n Pad loop dood (1966). Vir my het dit betreklik vroeg ’n wêreld oopgemaak wat later deel van my eie belewing sou word.
IV
Die studie van letterkunde gee vir ons ’n sin van plaaslike kulturele geletterdheid. Ons leer ken ons land, sy mense en dit wat wesenlik aan hierdie streek is, deur die letterkunde. Dit mag na ’n eenvoudige en logiese stelling klink, maar dikwels is in die verlede van konteksgesitueerde kritiek weggestuur en die plaaslike verband ooglopend onderbeklemtoon of selfs ontken. Ek neem as voorbeeld die letterkundige studies oor Raka van NP Van Wyk Louw, wat in 1941 gepubliseer is.
Toe ek ’n student was, was die dominante vertrekpunt dat die studie van letterkunde, veral wat poësie betref, hoofsaaklik die ontwikkeling van tegniese vaardighede behels: om die retoriese middele – metafoor, vergelyking, personifikasie, ens – te herken, te beskryf en binne verband te ontleed. Gedigte moes as selfgenoegsame artefakte bestudeer word. Alles wat jy nodig gehad het om die gedig te ontleed en te interpreteer, was daarin vervat. Geen buitekontekstuele inligting was nodig nie. Dit bly belangrike vaardighede wat steeds die onderbou van enige letterkundige studie is. Natuurlik was dit onder die invloed van Practical Criticism en die New Criticism-beweging wat onderskeidelik vanaf die vroeë 1920’s in Brittanje en die VSA beslag gekry het. Met die ompaaie van IA Richards, FR Leavis, TS Eliot en Nederlandse letterkundiges het dit aan ons universiteite beland. Vir dekades het dit ’n groot houvas op die ontwikkeling van ons plaaslike literêre kritiek gehad.
Raka is dus by voorkeur as ’n vormlike tegniese kragtoer behandel: “die eerste epiese gedig in Afrikaans”. Die epiese vorm is bespreek en die uiterste wat van die voorste kritici hulle toegelaat het, was om aan te dui dat Koki se stam ondergaan omdat hulle ontrou was aan hulle hoogste waardes. Vir ander was dit die strewe na die aristokratiese ideaal van die individu, die bestes van die volk, wat te staan kom teen die dreuning van die massa. Dit is veilige interpretasies, vaag genoeg binne die raamwerk van New Criticism, om dus nie die soeke na universele literêre waarde te oorskry nie.
Van dié interpretasies het die Romeinse beskawing betrek en aangedui dat ’n kultuurgroep wat hom te geredelik oopstel vir vreemde invloede, uiteindelik daaraan onder sal gaan. Soms het kritici meer gewaag, veral wat die eksotiese simboliek en metaforiek betref. Vir sommige is Koki verteenwoordigend van die “vergeestelikte mens” wat “hoër kultuurskap” voorstaan of verteenwoordig, teenoor Raka, “die sinlike natuurmens” wat ’n bedreiging vir dié hoë geestelike beskawing inhou. Weer eens: veilig en abstrak-verhewe genoeg om ’n antieke Westerse beskawing te betrek en die idee van Raka, die epiese gedig se aanspraak op universaliteit vol te hou.
Raka is in die Afrikaanse letterkunde tot ’n kanonieke teks verhef vanweë sy genre, die tegnies-vormlike aard en die intellektuele diepgang daarvan, én die feit dat Van Wyk Louw die doyen van die Afrikaanse poësie is. Die aanspraak op universaliteit is die gevolg van hierdie faktore. Maar Raka is nie ’n teks sonder konteks nie. Ons kan dit nie lees asof dit net ’n klomp woorde is wat tegnies knap, met ambagtelike vaardigheid en intellektuele diepgang, aanmekaargesit is – en in wese niks met ons hier, in hierdie land met sy geweldige maatskaplike spanninge en geskiedenisse, te doen het nie. Raka kan nie net figureer as verhewe simbool van die Bose nie.
Ampie Coetzee, wat hoogleraar in die Departement Afrikaans hier aan die UWK was, het met sy intreerede Raka in histories-materialisties terme gelees: Koki is die kolonis wat Raka, “die vriendelike”, met geweld oorheers en uiteindelik daaraan ondergaan. As literêr-marxistiese denker wou hy die plaaslike en kontinentale klassestryd inlees in ’n teks waarvan die kontekstuele begronding so ooglopend ontken is.
Hoeveel sin sou dit hê om Raka ook te lees teen die agtergrond van ’n digter soos Van Wyk Louw wat in die laat 1930’s, begin van die 1940’s, tot die nasionaal-sosialisme aangetrokke gevoel het? Hoe sou dit ons siening van Raka beïnvloed het? Ons moet nie vergeet dat hierdie ook ’n teks is wat geskryf is tydens die opmars van ’n toenemend bewuste Afrikaner-nasionalisme, die verburgerliking van ’n Afrikaner-elite en hul toenemende aandrang op maatskaplike en etniese afsonderlikheid nie. Van Wyk Louw het self probeer om die interpretasie van Raka as simbool so wyd moontlik te hou: Dit is ’n simbool wat onuitputbaar moet wees.
Die sienings waarna ek hier verwys het, is elkeen geldig en met hoë vlakke van vaardigheid uitgevoer. Wat opvallend is, is dat die vooraanstaande kritici wie se lees Raka tot kanonieke teks verhef het, nie die basiese konteks van Raka in hierdie land probeer ondersoek nie. Ons kry ’n insig in die lees van Raka oor die spanning tussen individualisme en die massa, tussen aristokrasie en die donker, lieflike dierlike, maar onderliggend is ’n subtiele onderbeklemtoning in die lees van die teks. Trouens, hulle het telkens met slim, vae interpretasies en tegnies-klinkende en universeel-klinkende abstraksies daarvan weggestuur. Die kritici vermy die geleentheid om die bepaalde kulturele gesitueerdheid te ondersoek.
Die studie van letterkunde bied ons die geleentheid, as ons dit benut, om die geskiedenis en die waardes van ons wêreld plaaslik te verken. Ons kom tot ’n dieper insig oor wie ons is, wie die mense is met wie ons ’n taal, kultuur en ’n streek deel. Ons kry ’n insig in die waardes, oortuigings en die maatskaplike kwessies van ons tyd, nou en in die verlede.
V
In letterkundige tradisies is daar voortdurend ’n stryd tussen gevestigde belange en die posisie van marginale groeperings wat om een of ander rede uitgesluit is. Volgens ’n berig in Rapport skyn daar onlangs onder onderwysers en ander belangegroepe spanning te heers oor ’n verskeidenheid kwessies rondom ’n seleksie van 12 voorgeskrewe gedigte in die matriekleerplan. Dit klink vir my of sake soos onder meer die aard en plek van letterkundige waarde bevraagteken word, asook die vraag na die kwessie van tradisie en die letterkundige kanon. Waarom is daar so min blootstelling aan “die groot skrywers”? Dan is daar vrae oor verskillende aspekte onder die breë kategorie “diversiteit”. Dit sluit sake in soos geslag en geslagtelikheid; verskillende godsdienstige oriëntasies; streeks-, omgangs- en algemene vorme van taal. Dan is daar die durende kwessie oor die identifisering van leerlinge met die letterkundige werke.
Ek gaan nie hierop breedvoerig uitbrei nie. My eie reaksie het ek onder meer so verwoord: “Die keuses vir voorgeskrewe gedigte is wêreldwyd altyd ’n tameletjie omdat daar soveel gesigspunte is wat beoordeel moet word. Die idee van een ‘universele waardeoordeel’ is ’n gedagte wat min moderne letterkundiges vandag nog aanhang. [...] Om 12 gedigte te kies en dan te dink dat dit verteenwoordigend van die kultuurproduksie van ’n spraakgemeenskap sal wees, is dommigheid. So ’n keuse kan hoogstens ’n seleksie, en dan slegs ’n hoogs selektiewe seleksie wees.”
Die debat oor insluiting en uitsluiting is deel van stryde om letterkundes, en soms berus die redes vir uitsluiting juis nie in sogenaamde literêre waarde nie en word die waarde van ’n skrywerskap ook nie onmiddellik ingeskat nie. Een so ’n geval is die poësie van Patrick J Petersen. Hy skryf tydens die opkoms van Swartbewustheid in die 1960’s, begin-1970’s, en word ’n uitgesproke voorstander vir die stryd om die herstel van eiewaarde. Dit word ’n ontdekking en bevestiging van die self. Hy beskryf sy transformasie van "’n skaam mens" tot "’n ander mens" toe aan die bevrydende invloed van Swartbewustheid wat hom ook ’n verskerpte politieke bewustheid gee. Ook sy poësie sien hy as "’n krag van Afrika tot bevryding" en skryf hy: "[I]n hierdie sin behoort die mag aan ons”.
Wanneer hy publiseer, is die Afrikaanse uitgewers vasgevang in ’n uitsluitende estetiek, en dié stel syns insiens "eenvoudig nie belang in my werk nie” óf in dié van ander (militante gepolitiseerde) swart skrywers nie. Hy en ander digters wend hulle tot selfpublikasie en hy word die spilfiguur vir ’n opkomende geslag skrywers in die jare ’80 en vroeë 1990’s. Daarmee vestig hy ’n belangrike buitekanonieke ontwikkeling, maar dit sou jare neem om sy digterskap te erken sodat u vanjaar een van sy gedigte kan onderrig.
VI
Ten slotte: Mag u te midde van al die uitdagings ’n voorspoedige jaar hê. Ons almal het stories, en dit verenig ons. Die storie van die letterkunde maak dit vir ons moontlik om sin te maak van selfs hierdie skerp-kantelende stuk wêreld om ons.
Eindnotas:
1 Letterkundeondersteuningskomitee.
2 ’n Effens aangepaste openingsrede gelewer tydens die simposium van die Letterkundeondersteuningskomitee. My dank aan almal betrokke by die uitnodiging. Die geleentheid is op Saterdag 25 Februarie 2023 by die Universiteit van Wes-Kaapland aangebied en is geborg deur die Wes-Kaapse provinsiale regering, die Afrikaanse Onderwysnetwerk, Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Wes-Kaapland.

