Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ek is ook nie Danie

  • 0

Agtergrondprent: Ralf Ruppert op Pixabay

  • Dianne du Toit Albertze bied ’n retrospektiewe blik op Ek is nie Danie, wat vanjaar vier Woordtrofees ingepalm het.

Titel: Ek is nie Danie
Met: Albert Pretorius en Schalk Joubert
Teks: Danie Marais
Regie: Nico Scheepers
Konsep en produksie: Niel van Deventer
Venue: Spier-ouditorium
’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie.

As kyker stap jy onseker die teater binne. Die verhoog lyk soos ’n kombinasie tussen ’n antique shop en die stowwerige remains van ’n garage band lanklaas besoek. Maar tog wanneer die twee spelers, Albert Pretorius en Schalk Joubert, die verhoog betree, dan vul hulle die hele ruimte met soveel tasbare emosies dat jy as kyker nie kan wegkyk nie.

Ek is nie Danie is ’n keur uit al vier van Danie Marais se digbundels, almal uitgegee deur Tafelberg, naamlik In die buitenste ruimte (2006), Al is die maan ’n misverstand (2009), Solank verlange die sweep swaai (2014) en Ek en jy bestaan nie (2024). Die aanbieding bestaan uit 18 van Marais se gedigte wat verskillende tye in die digter se lewe vasvang. As jy bekend is met Marais se verse, dan sal jy weet dat dit amper nog altyd bedoel is om hardop gehoor en uitgevoer te word. Hy is bekend as ’n digter wat werk met praatverse en ’n benadering met insae van belydenisdigkuns en ’n outobiografiese aard. Boonop is daar liriese kwaliteite wat aan Bruce Springsteen en Valiant Swart herinner, albei ook tawwe troebadoers wat al goed met melankolie kennis gemaak het in hul werk.

Buckfever Underground sing in ’n track met die naam “Oom Willem strikes back” die volgende:

Vuisvoos en moedeloos
Motherless en tandloos
Los hy die print van ’n koeël teen sy ken

Dieselfde geld hier vir Pretorius se verteller wat met kappie oor die kop soos ’n Mr Robot of sorts die verhoog inkleur, soms met ’n gekrap oor die lyne, valse note en spontane emosie. In verse soos “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” en “As ek deur geslote ooglede onthou” ontmoet ons ’n man wat displaced voel tussen lande, onder andere Suid-Afrika en Duitsland, ’n land wat hy gou besef nie so romanties is soos dit op televisie blyk te wees nie. Ons word ook na verskeie plaaslike ruimtes geneem, van Hermanus tot Stellenbosch. Binnekort beland ons saam met hom in die roerkuil van ’n egskeiding, met emosies flying all over the place, van beskuldigings tot skuldgevoelens. Dan is daar weer die verligting wat kom met die afdelings wat handel oor Marais se verse oor ouerskap en pa-wees, teer en beeldskoon. Gedigte soos “Sonar” en “Die nag toe ek ons geword het” herinner my aan die musiek van Niko10Long, spesifiek laasgenoemde gedig en Niko se track “VaderViguur”, waarin albei besin oor hulle dogters en hul verwonder, maar ook angstig is oor hoe om hul kinders ten beste te beskerm en bewaar. So ook die track “Tot di eindstryd”.

Dan is daar ook die alleenheid wat volg – van skrywer-wees, hopeless romantic of net lone wolf – daardie isolasie en verlatenheid wat hier doeltreffend en roerend tot lewe kom.

Joubert is bedrewe op die verhoog. Hy beweeg moeiteloos tussen instrumente en elektriese toestelle en skep sodoende ’n klankryke landscape vir Pretorius om in vry te word. Hy doen juis dit wanneer hy die onopgesmukte stel begin verander in verskeie wêrelde met die hulp van topklas-regisseur Nico Scheepers. Wanneer hy onderdeur tafels klim asof dit Being John Malkovich deurtjies tot in die onderbewussyn is, en dan weer moeiteloos ’n neurotiese paneelleier in “Die paneel” word wat moet afreken met ’n jonger digter “wie se verse oor die lemmetjiesdraad / tussen mense in plekke / soos Malmesbury en Stellenbosch” afspeel, en sy witbevoorregting in die Afrikaanse letterkunde.

Alles word met soveel eenvoud in ryk emotiewe ruimtes omskep deur Joubert se klankontwerp en Scheepers se puik beligting. As kyker begin deel jy in hierdie eksistensiële warboel van lig en donker waarmee die verteller worstel. Soms, veral in die eerste helfte, is die teks te soet aan sentiment, soos vroeër verwys na die back and forth oor die egskeiding en dan later weer met die gedig oor die bruin digter wat figuratively sy wind uitslaan. Dit is egter in die tussenin dat Danie Marais se werk die diepste tref – in sy gestroopte en seemingly effortless Bukowski-geïnspireerde vrye vers-lyne.

Dit herinner aan die lirieke van Hurray for the Riff Raff se “The world is dangerous”:

Got to keep moving, it’s my life, I can’t lose it
A war correspondent, a wandering loser
Well, I’ll light the candle, and I’ll touch the flame

........
Ons tjank saam wanneer hy alleen staan in die kollig van die maan en toekyk hoe sy dogter ouer raak, uitfreak oor verganklikheid, maar ook probeer uitreik na ander, al word sy pogings soos ’n blinde wat tas in die donker. Dit is egter die waagmoed van aanhou, vasklou aan die belaglike tog kosbare idee dat ons as mense iets goeds en moois in ons behou na die lewe ons opfok – en ook die moed van aankap, aanhou slyp aan verse, bou aan verhoudings, naïef tog met integriteit soekend bly na betekenis, en juis soms vanuit die witmankompleks losbreek wanneer die skrywer vir ons almal plek maak in sy woorde.
........

Ons tjank saam wanneer hy alleen staan in die kollig van die maan en toekyk hoe sy dogter ouer raak, uitfreak oor verganklikheid, maar ook probeer uitreik na ander, al word sy pogings soos ’n blinde wat tas in die donker. Dit is egter die waagmoed van aanhou, vasklou aan die belaglike tog kosbare idee dat ons as mense iets goeds en moois in ons behou na die lewe ons opfok – en ook die moed van aankap, aanhou slyp aan verse, bou aan verhoudings, naïef tog met integriteit soekend bly na betekenis, en juis soms vanuit die witmankompleks losbreek wanneer die skrywer vir ons almal plek maak in sy woorde.

Wanneer die verhoogligte aan die einde van die produksie na die gehoor toe draai en soos misreën oor ons spoel, dan doen die produksie wat Marais ook regkry – om te sê dis nie net Danie wat nie daar is nie, dis ons ook. En dan stap mens hier weg en voel nie so fokken alleen nie.

Meer oor Ek is nie Danie:

In dié eenmanstuk, geweef rondom ’n keur uit Danie Marais se vier digbundels, trek Albert Pretorius die skrapnel van ’n vreesaanjaende gewone lewe skerf vir skerf uit mislukte huwelike in die buitenste ruimte van Duitsland en die bevoorregte gemors van middelklas-Suid-Afrika. ’n Storie oor ouerskap en die soeke na behoort en sin maak van ’n verlede wat die hede wurg deur ’n wit ou wat saam met sy dogter en ’n progressiewe wêreld net een ding vir Kersfees wil hê: “Om nie meer altyd te moet weet hoe ’n middeljarige wit man voel oor alles nie.”

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees-persverklaring: Woordtrofees-wenners vir 2025 bekend

Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n lesersindruk

Ek en jy bestaan nie: ’n onderhoud met Danie Marais

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n Visuele resensie van Albert Pretorius se Ek is nie Danie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top