Boereraat

  • 0

Is die woonhuis besmet, sê hulle
in die dorp van my grootouers
sluit dan ’n vark ’n nag lank op
die kwaad kruip in die dier
en die volgende oggend is alles skoon

In die bousel wat elke lewe is
breek daar ’n oomblik aan waar jy weet
goeie raad was duur, ’n lek
het die mure bedek met Rohrschach-figure
en dit ruik na iets wat lank gelede
tydens ’n ou speletjie verstop het

Kyk om die tafel rond en probeer
uitvind wie die kortste ent gaan trek
so lui ’n goue wenk vir poker-spelers
en as jy die slagoffer nie sien nie
is daar slegs een moontlikheid

Daarom sê ek op dié nuwe dag
aan die gesig in die skeerspieël
hou op grawe as jy klaar in die put sit
wees bereid om “eina” en “ja” te sê
kyk rond, deursoek alle kamers
en as jy die vark nie kry nie
is dit jy

 

* Geskryf deur K Michel; vertaal deur Danie Marais

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top