As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe ’n wêreldreis van emosies

  • 0

As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe
Saamgestel deur Danie Marais
Tafelberg, 2009
Sagteband, 320 bladsye
ISBN: 9780624048015
R169

Met nagenoeg ’n miljoen Suid-Afrikaners wat sedert 1995 die land verlaat het, is dit eintlik verrassend dat die druppeltjies Suid-Afrikaanse diaspora-literatuur nie reeds tot ’n stroom ontwikkel het nie. Dit blyk dat Suid-Afrikaners wat hulle in die vreemde bevind, ’n behoefte het om daaroor te skryf – dit word duidelik gesien in die massas blogs wat direk op die diaspora-identiteit betrekking het (vergelyk die aantal bydraes op LitNet se Expats-afdeling en Dark Raven se South African Diaspora-blog).

Daar is wel ’n klein tradisie van Afrikaanse literatuur wat van oor die water in Suid-Afrika verskyn, soos die werk van die internasionale burger Breyten Breytenbach en Eben Venter wat uit Australië skryf. Danie Marais gaan bewustelik met die emigrant-tema om in sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006, Tafelberg), waarin hy skryf oor sy Duitse ervaringe vanuit sy Suid-Afrikaanse identiteit.

Dit was by die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom waar Marais by geleentheid die  gedig “Liefde, groete”[1] voorgelees het wat handel oor sy suster en haar gesin wat moontlik Australië toe trek (dit het egter toe nie gerealiseer nie). Met Marais se kenmerkende poëtiese praatstyl handel die gedig oor die emosies verbonde aan emigrasie: die aanvanklike onwilligheid, tesame met die regverdiging van ’n veiliger (sosiopolitiese en beroepsgeoriënteerde) toekoms; dan die verlange om weg van die familie te wees; sowel as die vrees vir ’n verlore Afrikaanse opvoeding en kultuur vir die kinders. Marais sluit die gedig af met die volgende strofes, wat sprekend is van sy eie oorsese ervaring:

Ek weet hoe dinge lyk as al troos
die lae moordsyfer in jou nuwe tuiste is.

Liewe Retha,
wat as niks gebeur,
vir jare aaneen
in ’n land waar net die verlooptes verstaan
en mense beleef deur jou kyk
terwyl hulle sukkel met die sê van jou naam?

Wat as verlatenheid jou daagliks soos ’n rower oorval
en jou seuns hulle eendag skaam
vir Ma en Pa se verraderlike aksent
en die g-klank in hul naam?

Dit was na die lees van dié gedig met die versameling kontrasterende emosies wat die keuse van emigrasie vergesel soos ’n swaargelaaide tas, dat Erika Oosthuysen (redakteur van Tafelberg Uitgewers) vir Marais gevra het of hy nie ’n bloemlesing oor Suid-Afrikaners se ervarings oorsee wil saamstel nie. Die resultaat van die opdrag is die pas verskene As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe.

Die bundel bevat allerlei belangwekkende genres deur ’n diverse groep skrywers – van akademici soos Andries Bezuidenhout tot joernaliste en literêre skrywers soos Charl-Pierre Naudé, Joan Hambidge en Antjie Krog, tot die jong rebel-rocker van Fokofpolisiekar en aKing-faam, Hunter Kennedy, wat ’n bydrae lewer oor ’n toerdagboek van ’n Fokof-toer in Londen. 

As almal ver is hou die leser vasgenael met ’n sterk deurlopende tematiese lyn wat nie eentonig word nie, weens die skrywers se vermoë om hul stories op unieke maniere te vertel. Die temas van verlange, emigrasie en die stryd tussen die Afrikaanse, Suid-Afrikaanse en diaspora-identiteit begrond byna elke essay en bydrae.

Buiten die gemeenskaplike tema wat die bydraes tot ’n koherente bundel omskep, is dit ook die struktuur van die bundel wat die leser self ’n reis deur middel van ander se woorde laat neem. Die indeling van die bundel is soos ’n reis op sigself: die eerste afdeling, “Hoekom dan hier bly”, wakker die idee van emigrasie aan, waarna “Die wye wêreld in” reisverhale bevat. In laasgenoemde afdeling staan Chris Barnard se verhaal “In die straat van die kat wat visvang” uit met die poëtiese beelde wat hy van Parys skep. In die derde afdeling, “Storm-en-drang”, word die verlange en vervreemding voorgestel. “Twee wêrelde: ’n Volksie in Melville en ’n fiets in Amsterdam” wys hoe Suid-Afrikaners nie in die vreemde van hul Suid-Afrikaanse identiteit kan of wil ontslae raak nie. “Vir altyd weg” beskryf ’n tipe aanvaarding van die vreemde, veral met ’n sterk politieke blik op Suid-Afrika met Leslie Stelfox se biografiese opstel, “Nie my voorland nie”. In die laaste afdeling klim die leser op die N1 op pad huis toe: “Met ’n ompad huis toe” vertel oor die terugkoms wat ’n komplekse vrede bring. Ronel Nel se “Die son ontbrand en ons ontkom” beskryf dié sikliese reis en die emosies wat daarmee gepaard gaan uitstekend en eindig die bundel op omvattende wyse met die laaste sin: “Ek-is-te-rug”.

Wat kan van die bundel verwag word?

Met ’n bundel soos hierdie kan dit maklik verval in iets wat alte veel lyk na die regeringsgeïnisieerde Kom-terug-SA-toe / Proudly South African-veldtog – wat dit geensins is nie! Die indrukwekkende omslag getuig reeds hiervan met die verskeie posstempels van ’n koevert wat ’n lang reis onderneem het om nuus na Suid-Afrika te bring – soos die bydraers tot die bundel ook eers ’n reis moes onderneem het. Die omslagfoto deur Marinka van Holten is beeldend van die prag, maar ook die eensaamheid, wat ’n oorsese stad kan bied.

Die dualismes word voortgesit in die verhale van die skrywers, wat nie slegs die negatiewe van verlange tot uiting bring nie, maar ook die sogenaamde push-faktore (byvoorbeeld die misdaad) en pull-faktore (byvoorbeeld beter werksgeleenthede), of soos Marais in sy voorwoord noem, die “wrede hede en verlede” wat hulle na die buiteland gedryf het. Op hierdie eerlike manier word die bundel meer as slegs ’n onderdeel van die “bly-of-gly”-debat (11).   

Die fiksie in die bundel is nog ’n element wat die gevaar van ’n eenselwige dreun van Trots-Suid-Afrikaans ondermyn. Dit dra dieselfde temas as die biografiese werke in die bundel oor, maar met ’n nuwe aanklank. Die twee kortverhale wat ingesluit is, is die knap kousale verhaal van “Poppie van 42nd Street” (Achmat Dangor) en “Die twee lewens van Johannes Jakobus (Japie) Leonard” (Eben Venter).

’n Aangename verrassing wat in die bundel te vinde is, is die agt grafiese bydraes. Hiermee word die temas op grafiese wyse uitgebeeld deur middel van strippe, reisjoernale, poskaarte en sketswerkboeke. Hier staan Francois Jordaan se “Poskaarte oor ’n dekade heen”, wat ’n nostalgiese eerlikheid na vore bring, uit, asook die behoefte om vir dié wat agterbly te laat weet: "só leef ek en ek’s okay, maar ek verlang." Nicolene Louw se strokiesprent, “In teenstelling”, is ’n humoristiese voorstelling van die dualismes wat tussen Zürich en Kommetjie, Taipei en Johannesburg te vinde is. Met die humor word juis die vreemdheid wat emigrante ervaar, op die voorgrond gestel.

Die sterk tong-in-die-kies humor, wat nie slegs in die grafiese bydraes voorkom nie, herinner die leser aan die subjektiwiteit van die skrywers en bevestig dat daar geen universele antwoord gesoek word met die bundel nie. So kan Yvonne Beyers haar haat vir die man agter die kafeetoonbank beskryf (94). Met hierdie opregtheid kry die bundel ’n ware doel en betekenis op ’n boekrak. Dit is nie ’n polities-korrekte weergawe van die werklikheid nie – só iets kan die leser in elk geval nie verwag met skrywers soos Toast Coetzer en Hunter Kennedy nie. Dit is Suid-Afrikaners wat terugskryf huis toe, oor die uiteenlopende emosies wat betrokke is by die vervreemde geluk in ’n plek wat veiliger is as Suid-Afrika, maar waarin alles steeds vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief gemeet word.

Die intellektuele kant van die saak

Die bundel bevat persoonlike verhale wat nie belangstel in ’n teoretiese rede vir die uiteenlopende gevoelens nie. Marais maak egter melding van Milan Kundera se Testaments Betrayed in sy essay “Vir niemand en nêrens” om ’n teoretiese grondslag te gee. Kundera merk op dat die pyn van vervreemding (dit wat intiem bekend was wat ewe skielik vreemd raak) veel erger is as die nostalgie van emigrasie. ʼn Rede hiervoor is dat emigrante steeds ’n Suid-Afrikaanse identiteit het en dat hulle te midde van die vreemde sukkel om ’n nuwe identiteit te ontwikkel. Suid-Afrikaners in die buiteland is meer geneig om in hul nuwe omgewing te assimileer en daarin vervreem te voel. In ’n artikel oor die groei van die Suid-Afrikaanse diaspora in ’n vakwetenskaplike tydskrif beweer Louw en Mersham dat die assimilasie-fenomeen steeds ’n gevolg is van die apartheidsjare waarin Suid-Afrikaners as toeriste nie aandag wou trek nie. Jansen verklaar in “Herken jou tuisheid in ’n gragtepand” dat assimilasie gepaardgaan met die verlies van jou agtergrond, maar dat die verskillende identiteite wel in stand gehou kan word as jy ligvoetig bly en die ondersteuning van herkoms en heenkome het – soos ook deur Ena Jansen vermeld (137).

Marais merk verder in sy essay op dat identiteit gebonde is aan herkoms: “[dat] die plek waar ek vandaan kom, die plek waar ek hoort en van weggevlug het en na terugverlang het, nie ʼn plek op ʼn kaart was nie. Dit was nie ʼn plek wat jy kon afneem of besoek nie, maar ʼn onthoude plek, ʼn verbeelde plek ten diepste verstrengel met taal en rou emosie” (250). Dit is van hierdie identiteit dat die emigrant nie kan afstand doen nie en eerder albei en nog meer identiteite in stand hou. Die wisselwerking tussen die Suid-Afrikaanse identiteit, die Suid-Afrikaanse identiteit te midde van die vreemde, die nuwe land se identiteit, en die diaspora-identiteit is verantwoordelik vir die kompleksiteit van gevoelens wat oor die oseane ervaar word, maar wat interessant genoeg met die terugkoms ook ervaar word, soos gesien kan word in die laaste afdeling, “Met ’n ompad huis toe”. 

Die rede waarom die Suid-Afrikaanse identiteit so sterk is en die vreemde vanuit hierdie identiteit beskou word, is volgens Kundera (252) dat die onderbewuste, geheue en taal (die onderbou van kreatiwiteit), vroeg gevorm word. Die volwassene wat die vreemde beleef en produktief daarin moet wees, kan dit slegs doen vanuit die onbewustelike Suid-Afrikaanse identiteit (252). Die Suid-Afrikaanse identiteit word dus ʼn verwysingsraamwerk waardeur nuwe ervarings geïnterpreteer word – soos Marais tereg in die voorwoord aanvoer, is dit duidelik om hierdie interpretasie in verskeie verhale te sien: Charl-Pierre Naudé sien Alexandrië as ’n susterstad van Kaapstad (70); Joan Hambidge dig oor die verband tussen Machu Picchu en Tafelberg (89); Liezl Dick vergelyk die koue in Nederland met die koue van Namibië (103); Albert van Zyl sien die universaliteit van belasting in Beiroet raak en verwoord dit as die Wet van Transvaal (77).

Die veelvoudige identiteit van ’n (blanke) Suid-Afrikaner word verder verwikkel met die verbondenheid aan die Europese voorvaders. Pieter Malan beskryf dit as “té wit vir Afrika en te wild vir Europa”. Malan vergelyk die historiese Europese immigrante se tog na Suid-Afrika met die hedendaagse emigrasie van Suid-Afrikaners waar daar in albei gevalle ʼn “reusagtige kulturele afgrond” tussen ouers en kinders vorm (49). Hierby sluit Cecile Cilliers se “Verwoede, verwese onafhanklikheid” aan waar sy as ouma ’n groot kulturele gaping tussen haar en haar kleinkinders ervaar wat nie Afrikaans kan praat nie: “op my boekrak staan ingeryg Helena Lochner, Liewe Heksie, Alba Bouwer, Rona Rupert, WO Kühne, Honiball se Jakkals en Wolf, ingeryg nutteloos, want my kleinkinders ken nie meer Afrikaans nie” (140-41).  

Persoonlike indrukke

Die kontemporêre debatte, wat gelaai is met woorde soos diaspora, expats, emigrasie, brain drain, globalisasie, gap-jaar, internasionalisasie, Wanderlust en kontinentale verstrooiing,wat swart woorde op grys blaaie geword het, kry deur hierdie bundel ’n persoonlike inslag danksy die bekwame skryfwerk van die bydraers. Die verskeidenheid genres en perspektiewe besit genoeg balans om soms ’n humoristiese blik, soms ’n kritiese blik op die situasie te plaas. Vir elke soort leser – van oud tot jonk, akademikus tot rocker, Suid-Afrikaanse Suid-Afrikaner tot Suid-Afrikaanse emigrant – is daar in hierdie boek iets van alles.

Vir my as student wat self volgende jaar verder oorsee gaan studeer, was die twee bydraes deur Yvonne Beyers en Liezel Dick aangrypend. Die eerlikheid waarmee die twee skrywers hul ervarings oorsee beskryf - die negatiewe en die positiewe daarvan – weerspieël die toon van die hele bundel. Het hierdie twee verhale my voorberei vir my reis oorsee? Sal die ander verhale iemand se besluit vergemaklik om te emigreer of nie? Tien teen een nie, want hier word mense se stories vertel en geen Waarhede gepredik nie. Wat die bundel wel doen, is om jou te laat lag en die heimwee aan te wakker. Wanneer jy wel in ’n soortgelyke situasie beland, sal jy kan terugdink en weet jy is nie alleen nie – iemand voor jou het al die reis aangepak en het dit deurgemaak terwyl hulle steeds Suid-Afrikaans gebly het - en oorleef het om dit te vertel.

Aantekening

[1]  Hierdie gedig verskyn in As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe, Tafelberg, 2009, pp 8-10. Voortaan sal alle bladsynommers na hierdie bundel verwys.

Verwysings

Expats, LitNet. (30 September 2009).
Louw, E en G Mersham. 2001. Packing for Perth: The Growth of a Southern African Diaspora. Asian and Pacific Migration Journal, 10(2):303-33.
Marais, D (samesteller). 2009. As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe. Kaapstad: Tafelberg. 
South African Diaspora Blog, (10 September 2009).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top