PEN Afrikaans-gesprek: Kan ’n Afrikaanse skrywer nog ’n impak maak?

  • 5

Op Woensdag 25 Maart 2015 het PEN Afrikaans hulle eerste oop gesprek aangebied by die Breytenbach Sentrum op Wellington. Die tema was: “Watter impak kan die Afrikaanse skrywer nog in die hedendaagse Suid-Afrika maak?” Die paneel het bestaan uit Breyten Breytenbach, Adam Small, Bettina Wyngaard en Danie Marais. Hier onder volg Danie Marais se toespraak.



Ek begin met ’n gedig van die Poolse Nobelpryswenner Czes?aw Mi?osz, want in my twintigerjare in Duitsland, toe ek in die middel-90’s hard begin het om te probeer skryf, was hierdie gedig altyd vir my ’n soort rigsnoer en onderskraging. Ek het dit vir vanaand in Afrikaans vertaal in ’n poging om te verstaan wat intussen vir my verander het.

My getroue moedertaal

Troue moedertaal,
ek het jou gedien.
Elke nag sou ek klein bakkies kleur neersit voor jou
sodat jy jou geelhout, jou kriek, jou vink kon onthou
soos dit in my geheue bewaar is.

Dit was baie jare my gebruik.
Jy was my tuisland; daar was geen ander nie.
Ek het ook geglo jy sou ’n boodskapper wees
tussen my en ’n paar goeie mense
selfs al was hulle min, twintig, tien
of nog ongebore.

Nou bely ek my twyfel.
Daar is oomblikke waarin dit vir my lyk of ek my lewe verkwis het.
Want jy is ’n taal van die vernederdes,
van die onredelikes, mense wat hulself haat
selfs meer as wat hulle ander nasies haat,
’n taal van verraaiers,
’n taal van die verwardes,
siek aan hul eie onskuld.

Maar sonder jou, wie is ek?
Net ’n geleerde in ’n ver land,
’n sukses, sonder vrese en verleenthede.
Ja, wie is ek sonder jou?
Net ’n filosoof, soos almal anders.

Ek verstaan, dit is veronderstel om vir my ’n les te wees:
die trots van individualiteit word my ontneem,
voorspoed rol ’n rooi tapyt uit
voor die sondaar in ’n moraliteitspel
terwyl ’n magiese lantern op die doek agter die verhoog
beelde van menslike en goddelike folter vertoon.

Troue moedertaal,
miskien is dit uiteindelik tog ek wat jou moet probeer red.
Daarom sal ek aanhou om klein bakkies kleur,
so helder en suiwer as moontlik,
voor jou neer te sit,
want wat nodig is in ’n troebel tyd is ’n tikkie orde en skoonheid.

[In Afrikaans vertaal uit Mi?osz en Robert Pinksy se vertaling van die oorspronklike Poolse gedig.]

Dat ek sal aanhou om bakkies kleur voor die altaar van my moedertaal te plaas, betwyfel ek nie. Ook die noodsaak van orde stig en skoonheid skep is steeds vir my voor die hand liggend.

Maar hierdie omgang met taal bly ’n betreklik private aangeleentheid. Skryf as ’n vorm van verstaan, omvorm en balsem raak eerstens die individu, die enkeling in sy binnekamer. In Duitsland het ek vasgestel dat ek nie anders kan as in Afrikaans skryf nie; dat ’n mens, soos my neef Jean sê, nooit vry in jou lingua franca nie.

Wat my egter by terugskoue tref, is die vanselfsprekendheid waarmee ek aangeneem het dat my taal as boodskapper geweldig beperk is. Ek het letterlik vir myself en tien, miskien twintig ander mense geskryf.

Dit is dalk hoe dit is vir alle beginners, maar nou besef ek die idee of ambisie van deelname aan ’n groter gesprek wat ook die nuwe maghebbers insluit, het nooit eers by my opgekom nie. Dit wil my voorkom asof dit baie met my generasie en alles met die destydse politieke omwenteling te make het. Ek dink intussen daar is ’n radikale verskil tussen diegene wat voor ’94 in Afrikaans begin skryf en publiseer het en hulle wat daarna gekom het.

Voor die revolusie was daar ’n veronderstelling dat jy met of teen die politieke mag van die Afrikaner en sy nasionalisme skryf, en die Afrikaner en sy veiligheidspolisie het geluister tot in die parlement. En daar is ingeklim onder dié wat uit hul ry gedans het, soos die Duitsers sê. Ná die revolusie is daar steeds mense wat in Afrikaans skryf vir en teen alles en nog wat. Maar meesal is ál gehoor ander mense wat nog Afrikaans wil lees en skryf. Die regering praat nou Engels met ’n Afronasionalistiese kleur met sy onderdane, en hoed-in-die-hand-Engels, of liewer Empirish, soos Breyten sê, met die maghebbers van die globale kapitalisme.

Afrikaanse protes het gegaan van Brink, Krog, Breyten en Voëlvry se “Sit dit af, sit dit af!” na Steve Hofmeyr wat “Die Stem” aan die een kant sing en Fokofpolisiekar se 2008-treffer “Antibiotika” aan die ander kant: “Ek’s net ’n toeris in my geboorteland – gekweste dier in ’n hok op antibiotika.”

Afrikaanse skrywers het beweeg van die veronderstelling dat ons met die land kan praat en dalk selfs met die wêreld oor ons land, na ’n implisiete aanvaarding dat ons nou net met onsself en ander wat Afrikaans nog wil verstaan, ’n gesprek kan voer. Ons het vanuit uitgestote isolasie en benoude mag ontsnap tot in die buitenste ruimte van ’n minderheidstaal onder die juk van ’n kleptokrasie wat hom trommeldik vreet onder die dekmantel van ’n demokratiese bestel wat klaarblyklik op geen demokratiese wyse hervormbaar is nie. Fokofpolisiekar het al tien jaar gelede met goeie rede kliphard retories gevra: “Kan jy apatie spel?”.

Ons – en daarmee bedoel ek almal behalwe Steve en sy onborgbare gevolg – het opgehou om oormoedig na buite te storm en begin om stil na binne te bloei. Binne twee geslagte het ons van die teëstanders van onderdrukking waarvan nasionaal en wêreldwyd geweet is, verander in basterbrakke wat deur die bestuur geduld word omdat ons skadeloos is.

Ons – en daarby sluit ek Steve en sy onborgbare gevolg in – het van nasionaliste, slawedrywers en hul opposisie verander in verwarde huursoldate, hondsdol Facebook-aktiviste, smokkelaars, entrepreneurs, eiendomsontwikkelaars, indie-rockers, rappers en plakkers – kortom, in die kultureel hawelose migrante wat ons voorheen was.

Terwyl ons wit Afrikaanssprekendes ná Soweto in 1976 met rede ons koppe in skaamte moes laat sak, kan ons wit, swart en bruin Afrikaanses nou in magtelose woede met die Kreoolse matroos, Shabine, skree op Die Geskiedenis, soos hy dit in Derek Walcott se “The Schooner Flight” doen:

I met History once, but he ain’t recognize me,
a parchment Creole, with warts
like an old sea bottle, crawling like a crab
through the holes of shadow cast by the net
of a grille balcony; cream linen, cream hat.
I confront him and shout, “Sir, is Shabine!
They say I’se your grandson. You remember Grandma,
your black cook, at all?” The bitch hawk and spat.
A spit like that worth any number of words.
But that’s all them bastards have left us: words.

Laat my in die lig van hierdie gedagtes probeer antwoord op die vrae waaroor ons vanaand gesels.

1. Watter impak kan die Afrikaanse skrywer nog in die hedendaagse Suid-Afrika maak?

’n Afrikaanse skrywer wat nie vertaal word of in Engels aan die openbare diskoers deelneem nie, se invloed is tot sy taalgroep beperk.

Op 25 Februarie vanjaar het Marius Visser, ’n Afrikaanse joernalis en subredakteur en ook die destydse woonstelmaat van my neef Jean, die volgende op Facebook geskryf:

Dis vir my so hartroerend hoe Afrikaanse mense briewe skryf aan Afrikaanse koerante met ingrypende voorstelle oor hoe die land se probleme gepak moet word – so mooi goedgelowig dat enigiemand in enige magsposisie van hoegenaamd enige aard in die land gaan ag slaan op ’n Afrikaanse brief in ’n Afrikaanse koerant. The triumph of hope over experience.

Ek vind dit moeilik om nie met Marius saam te stem nie.

2. Watter rol kan of behoort die Afrikaanse skrywer nog as openbare intellektueel te speel?

Daar rus geen inherente plig op ’n skrywer om ook ’n openbare intellektueel te wees nie. Tot watter mate die skrywer internasionaal nog as openbare intellektueel gereken word, of enigsins ’n rol speel, is ’n goeie vraag.

Toe ek ’n paar jaar gelede die geleentheid kry om met Carlos Fuentes ’n onderhoud te voer, het ek hom gevra of hy aan iets soos ’n skrywersverantwoordelikheid glo. Fuentes, wat deur vele as een van Mexiko se grootste skrywers gereken word, was bekend vir sy politieke uitgesprokenheid, veral sy vurige kritiek op die imperialisme van die VSA. Mexiko worstel ook steeds met soortgelyke postkoloniale probleme as Suid-Afrika.

Fuentes het egter sonder ’n sweempie van huiwering geantwoord: “Die skrywer se enigste verpligting is teenoor die taal en die verbeelding. Wanneer ’n skrywer sy sout werd is, verander hy die kopermunte van gewone woorde in goud. Die krag en waarde van ’n skrywer se werk lê alleen in die gehalte van die taalgebruik en die oorspronklikheid van die skrywer se verbeelding.”

Of ’n skrywer polities betrokke wil raak, het Fuentes gesê, is ’n persoonlike keuse en hy beklemtoon dat skrywers hulle dikwels polities misgis. Hy het die voorbeelde genoem van Jorge Luis Borges wat die Chileense diktator Pinochet ondersteun het, en Pablo Neruda wat lank stalinistiese oortuigings gehuldig het. “Tog bly hulle ongetwyfeld groot skrywers.”

Ek stem met hom saam, maar Fuentes (wat in 2012 oorlede is) het in Spaans geskryf, nie Afrikaans geskryf nie. Selfs al sou ’n Afrikaanse skrywer tot die slotsom kom dat hy geen openbare intellektueel wil wees nie, moet hy hom afvra tot watter mate hy onverskillig teenoor die stryd om taalbehoud en taalregte durf staan. Maak dit sin om alleen jou aandag aan alchemistiese wonders van die verbeelding te gee as die taal waarin jy droom, onder beleg is? Kan jy apatie bekostig teenoor enige bestel wat nie erns met meertaligheid wil maak nie?

3. Is ’n figuur soos André P Brink nog denkbaar vandag? Is daar 'n nuwe Kennis van die aand vir die 21ste eeu wat vra om geskryf te word? Of eggo die sagte stem van die skrywer nog net binne die klankdigte nis van ’n kwynende parogiale letterkunde sonder enige nasionale of internasionale relevansie?

Ek dink nie ’n wit Afrikaanse André P Brink is vandag denkbaar nie. Brink is tot ’n groot mate gehoor omdat hy dieselfde kleur gehad het en dieselfde taal gepraat het as die onderdrukkers en nasionaliste van weleer. Die nuwe nasionalistiese boelies gaan ook net geneig wees om ernstig te reageer op protes wat van binne kom. Die JM Coetzees en die Breytens sal maar, met alle respek gesê, buite moet blaf.

Maar ek stem saam met dit wat Marlene van Niekerk vanoggend in Die Burger (25 Maart) geskryf het:

Hoe meer druk daar op ­vryheid van meningsuiting gaan kom in hierdie land, hoe belangriker word die kunstenaars, skrywers en intellektuele as openbaarders van die totale effekte van die stadige slopende dreiging van hierdie soort fascisme wat sy progressiewe grondwet nou gereduseer het tot ideologie waarmee hy sy misstande verhul, verdraai, legitimeer en reïfieer.

Die groter maak en oophou van die ruimte, om, ook as ­histories bevoorregte witte, hierdie dinge krities bespreekbaar te maak, dit is die taak. Om die hart oop te hou onder dit alles is ’n ewe groot verantwoordelikheid. Om te verstaan en te bereflekteer hoe mens deel is van ’n situasie wat jy kritiseer as jou boeke op enige “mark” verhandel word, is ’n belangrike opdrag.

Marlene wonder net daarna ook hardop: “Miskien is dit te swaar?”

En miskien ís dit. Miskien is ’n Duitse vriend van my ook reg: onder fascistiese diktature sterf digters en skrywers; onder die kapitalisme en individualisme sterf die relevansie van kuns. Miskien is dit ook onsinnig om sonder ’n skietyster met ’n gedig of boek by ’n slagveld op te daag.

Maar ek sal aanhou om bakkies kleur voor die altaar van my moedertaal te plaas; aanhou skryf om te probeer begryp. Ek glo net nie meer dis voldoende nie. Ek wil nie net smoor in my eie sop nie; wil nie net in 7de Laan bly, kuier en baklei nie.

As Afrikaans ook sy boodskapperfunksie wil behou, sal ons moet werk aan die kommunikasiekanale en ons nasionale asook internasionale skakelwerk.

En ek dink dis die moeite werd, want ons stryd en frustrasie is legitiem. Ons kan en behoort in solidariteit met alle minderhede en taalgroepe wat wêreldwyd vreedsaam teen die blinde logika en pragmatisme van globalisering en ’n verbruikerskultuur veg, ons stemme dik te maak – in Afrikaans en baie vertalings op soveel plekke en platforms as moontlik.

Op stuk van sake stem ek saam met ’n ander groot Poolse digter, Wis?awa Szymborska, wat in haar gedig “Possibilities” verklaar het: “Ek verkies die absurditeit van gedigte skryf bo die absurditeit van nie gedigte skryf nie.”

Dieselfde geld vir protes en deelname.

  • 5

Kommentaar

  • Hierdie is natuurlik die soort gesprek wat Afrikaans-sprekendes nou moet voer, en wat Danie Marais sê is (soos sy gedigte) straight-forward en hartseer en subtiel. Dit was 'n plesier om te lees. Maar ek voel wel teleurgestel deur:
     
    "Ons het vanuit uitgestote isolasie en benoude mag ontsnap tot in die buitenste ruimte van ’n minderheidstaal onder die juk van ’n kleptokrasie wat hom trommeldik vreet onder die dekmantel van ’n demokratiese bestel wat klaarblyklik op geen demokratiese wyse hervormbaar is nie."

     
    Om die Suid-Afrikaanse bestel soos dit vandag is 'n kleptokrasie te noem is verskriklik disrespekvol teenoor almal wat elke dag eerlik en hard werk om dinge beter te maak (en gewoon net om 'n bestaan te maak). Ja daar is hopeloos te veel politieke en corporate boelies wat selfsugtig behep is met geld en met mag, en daar is baie baie sosiale strukture wat glad nie werk soos hulle moet nie, maar daar is miljoene Suid-Afrikaners wat daagliks 'n eerlike bestaan voer en daar is soveel strukture wat wel goed werk (en beter is as onder apartheid). Die meeste van hierdie mense gee nie besonder om vir Afrikaans nie - soos dit hulle goeie reg is. Ons hoef nie die huidige bestel as 'n kleptokrasie wat nie demokraties hervormbaar is af te maak om steeds maniere te vind om in Afrikaans relevant te bly nie. 
     
  • Avatar
    George Bekker

    Daar verskyn dinge in Afrikaans en hier dink ek veral aan nie-fiksie, wat luid roep om in Engels onder nie-Afrikaanssprekende lede van ons bevolking se aandag gebring te word. Die internet kan 'n belangrike rol speel. Bestaande webwerwe kan moontlik soms benut word, maar 'n nuwe webwerf, spesifiek vir hierdie doel is waarskynlik nodig. Vrywillige hulp kan 'n groot rol speel om koste te verminder maar daar sal ook onvermybare koste wees by bv sekere vertalings en redigering. Die saak behoort Pen Afrikaans se ernstige aandag te geniet.

  • Hallo Martin, dankie vir jou kommentaar. Ek vermoed dit was nie duidelik genoeg wat ek met "bestel" bedoel nie. As jy "bestel" sou gelykstel met "samelewing" is jou kritiek in die kol, want daar is inderdaad nog hope hardwerkende mense in ons samelewing wat 'n verskil maak en goeie werk doen. Daar is seer sekerlik ook mense in regeringsposte en in die staatsdiens wat hul sout werd is, maar die huidige magsvergrype en korrupsie wat Nkandla versinnebeeld, kan tog net plaasvind onder 'n kleptokratiese magselite wat die staat plunder en/of die staat gebruik om in te palm, nie waar nie? En as Nkandla ons nie die regering laat uitstem nie, wat sal?

  • Avatar
    francois verster

    Akkoord Danie, akkoord. Die albatrosse van die verlede hang nog te duidelik om ons nekke, so ons preek net vir onnself en ons is nie meer die diakens en die ouderlinge van die gemeente genaamd SA nie. En om in Afrikaanse koerant te skryf en te dink die regering sal ag slaan is soos om vir wagter 'n boodskap by die doodsberigte te skryf - kanse dat hy Die Burger/Beeld/Rapport/Volksblad sal lees is net soveel as dat Zuma en Kie dit sal lees - of hulle daaraan sal steur. Ditto, dink ek, aangaande petisies. Hulle skeur dit op, brand dit uit, wat ook al. Al hoop is vertaling, maar dan sien buitelandse lesers steeds daai albatros. En kyk hulle dan verder?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top