Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!
Dag 8: “Het jy ’n foto van ’n aardwolf?” deur Toast Coetzer
Een van my Weg-kollegas soek ’n foto van ’n aardwolf. Dis vir Juniemaand se tydskrif, die Kinderblad. Ek weet ek het een. Onlangs genoeg dat ek dit kan onthou: Dis geneem in die Bergkwaggapark. Dit was laatmiddag bo-op daai bergpad; iets blits soos ’n graafvol grond oor die pad, ek stop, tel die kamera op, kiek deur die oop passasiersvenster. Net een foto, toe dans die aardwolf weg deur die lang gras en verdwyn in ’n kamoefleerlandskap waarvoor dit geskape is, die Karoo.
Jy sal meer gereeld ’n aardwolf dood in die pad kry, iewers op ’n agterpadteerpad, soos tussen Bethulie en Venterstad, waar bakkies te vinnig ry en die padreserwe ’n dekade laas ’n weed eater gesien het. Of opgestop en op ’n rakkie teen die muur agter in iemand se tuiskroeg, soos iewers in Noordwes.
Maar terug na die foto: Dis nie die beste foto nie; ’n grassaad talm rég voor die aardwolf se neus.
My kollega soek ’n “skoon” foto. Ek prop ’n ander, ouer hardeskyf in. Dit word skuifelend wakker soos ’n skilpad ná die winter. Ek toer deur my argiewe. Ek reis deur ons subkontinent. Ek herontdek foto’s van gevlekte hiënas (familie van die aardwolf), bakoorjakkalse (Tuli-blok iewers, haastig), rooijakkalse (’n skaapboer se snellervinger prik-prik) en selfs ’n bitter skaars witkwasjakkals (dikgevreet – verwagtend? – in Ngorongoro-krater).
Nee, ek gooi na ’n driekwartier tou op. As daar ’n beter aardwolffoto in my argief is, dan is dit in ’n onverwagse legger.
Die Weg-redaksie werk natuurlik nou almal van ons onderskeie huise af, regoor die Kaapse Skiereiland. Sommige van ons sit 50 km van mekaar. Ons gesels op e-pos, WhatsApp en Microsoft Teams. Twee keer per week in videogesprek vra ons hoe dit met mekaar gaan, hoor mekaar se kinders lag gang-af, honde blaf, gebruikte handdoeke wat oor kasdeure hang in die agtergrond.
Ek antwoord my kollega: Jammer, my aardwolfkas is leeg.
Dit is lekker om só te kan ontsnap, deur die duisende foto’s wat op my hardeskyf lê en rus. Ek duik gereeld daarin weg op soek na iets obskuurs. “Toast, het jy nie dalk ’n foto van Clocolan nie?” Wag, laat ek kyk. Ander goed trek my aandag af, soos ’n rooiborslaksman, afgeneem saam met my ma en tannie Petro in die Kgalagadi laasjaar. Maar niemand het tans enige nut vir dié pierewaaier nie.
Soms sien ek per ongeluk iets onverwags, soos foto’s waar ek saam met ’n eks sit in ’n woonstel waarin ek nie meer woon nie, saam met vriende wat ek nie meer sien nie, met klere aan waarin ek nie meer pas nie. Jare gelede. No hard feelings, maar ek was eintlik net op soek na ’n foto van Clocolan (ek het nie een nie, ek het te vinnig verbygery – maar die kersiepadstal wel). Copperton? Dié het ek. Kenhardt? Ken hom. Marnitz ook, selfs al is dit “maar niks”.
Ek kry ’n WhatsApp van tannie Reinette, tans in Australië. Danksy die seisoen se goeie reën in Angola gaan die Victoriawaterval blykbaar op sy sterkste dawer seder die 1970s. Als in vloed, en nóg water word voorspel. (Ek betwyfel deesdae die geloofwaardigheid van alle forwarded WhatsApps, so don’t quote me on this – ek verkies eerstehandse getuienis. Sit daai video vir my op Instagram @menseselense met #watervalvirtoast.) Ek dink: Niemand gaan daar wees om dit te aanskou nie. Of ten minste bitter min of geen toeriste nie. The smoke that thunders gaan op sy eie thunder, vir sy eie vreugde – die reënwoud se blouape sal dit gade slaan en nie veel daarvan dink nie – te nat.
Ek is daagliks besig om lesersfoto’s te deel op Weg se Instagramblad (@menseselense). Briljante foto’s van luiperds wat jou vas in die oë kyk iewers in die Laeveld, Berg Fuji in Japan omsoom deur herfsblare, twee poekoeramme wat horings klengel (“Lockdown!” grap iemand in kommentaar) in Suid-Luangwa, ’n koffiepotjie wat prut op die strand in ’n tyd vóór die inperking. Almal droom van ’n tyd – wanneer? – wat hulle weer kan ry waar hulle wil. (Gaan ons kan? Ek weet nie.) Ek dink aan al die luiperds wat hulself tans ongesiens drapeer oor die Laeveld se appelblaartakke, sonder die gekiek van ’n kamera in sig. Iewers buite Skukuza stap ’n trop leeus in die middel van die pad en wonder: Waar de donder is die mense? Is dit 1 April?
Ek dink skielik aan ds Hein Enslin, Limpopo-gemeente. Ek moet hom laat weet die episode van Weg “Agterpaaie Bosveld” waarin hy verskyn, is hierdie week op Via. Dominee Hein bly by Steenbokpan, kort duskant die Limpoporivier, in ’n off-the-grid container-huis waar hy selfs beesmisgas gebruik vir sy stoof. Hy is in volle beheer van sy lewe, ’n tipe rustige etiek wat hom laat tiek. Ek e-mail hom en vertel van die luukse waar ek woon in die Kaap: Ek bestel kruideniersware aanlyn, en Pick n Pay – nee, ’n oormoeë koerier – kom lewer dit by my voordeur af oor so ’n week. “Vir my is dit ook maklik,” antwoord hy. “Ek stuur WhatsApp met lysie aan Polla en Adelle op Steenbokpan. Hulle het die winkeltjie en pak alles wat jy vra. As hulle bevestig dis gereed, ry ek 2 km en tel die pakkie op.”
Nou ja toe.
“Weg Agterpaaie Bosveld” word op Via uitgesaai,
Vrydag 5.30 nm en 11.30 nm, Sondag 7.30 nm.
Ek dink pal aan Tristan da Cunha. Dis 2 810 km van Kaapstad af in die suidelike Atlantiese Oseaan. Net 258 mense woon daar (hulle het onlangs getel – sien tristandc.com). Jy kan nie soontoe vlieg nie. In 2013 het ek daarheen gevaar aan boord van die SA Agulhas II. Die Tristane verstaan isolasie – inperking is hulle natuur sedert 1816, thank you very much. Daar is enkele kilometer se pad om te ry – tussen huis en aartappelland. Die enkele dorpie staan met sy rug teen ’n krans, oë na die oop see (waarvandaan storms kom). Jy sien elke week dieselfde 258 mense. Dan en wan land toeriste van ’n skip (hierdie is nie op die plesierhoofroete geleë nie) en strompel aan wal, koop posseëls (naas kreef, die eiland se enigste uitvoerproduk), streel ’n borderkollie (baie van dié honde het ’n bloedlyn wat uit die Overberg kom – onthou Kaapstad is Tristane se “naaste groot dorp”) en vaar dan weer vort na veelkleuriger waters.
Niemand mag tans aan wal gaan in Tristan da Cunha nie. Dis nie ’n gemeenskap wat goed gaan vaar met ’n wilde virus nie – dit sal vir hulle erger wees as die slag toe lawa hulle hawe verswelg het in 1961. Maar ek sou nie omgee om vir ’n jaar lange kwarantyn daar vas te sit nie, grotendeels omdat die verskil tussen “normale” voor-Corona-tyd en “abnormale” tyd-van-Corona onbenullig sou wees. Staan op, peil die weer, oorweeg visvang / aartappels plant / posseëls of kreef verpak.
Wanneer jy in die tydskrifbedryf is, moet jy vrede maak met die feit dat jy soms dalk vir maande lank besig is met iets wat niemand ooit gaan lees nie. Dis gewoonlik ’n teoretiese onbenulligheid, want om een of ander rede het die einde van die wêreld (groot asteroïde wat die aarde soos growwe peper deur die heelal gaan verstrooi) nog nie gekom nie. Tot nou die dag, toe die langsame lyding van een miljoen mense, en die sterftes van tienduisende, skielik groter nuus as Sirië geword het. (Moenie van Sirië vergeet nie, ook nie Jemen nie, ook nie die tientalle ander lande in die wêreld vir wie swaarkry lankal normaal geword het nie. En in ons eie land – swaarkry is oral.)
Tydskrifte werk gewoonlik so twee maande vooruit. Meimaand se uitgawe van Weg is gewoonlik klaar geskryf teen einde Februarie (as al die joernaliste, kug, se werk betyds gelewer word ...), uitgelê en geredigeer teen einde Maart of vroeg-April, en gaan dan drukkers toe (nie dié een nie: Mei se Weg sal voorlopig net digitaal beskikbaar wees, want ons kan dit nog nie druk en versprei nie).
Mei lê redelik naby. Wat van Augustus? Gewoonlik doen ons daardie maand ’n blommestorie. Desember? Strand toe met almal? Die toekoms voel soos daai vroegoggendwasem aan die binnekant van jou kar se voorruit wat net nie weggevee wil word nie – of is dit aan die buitekant? Probeer nes jy wil: Dit bly troebel.
Die toekoms van reis is in gedrang – duisende Suid-Afrikaners wat in die reisbedryf werk (ek inkluis) se salarisse dalk ook. Dis ’n goeie tyd om al jou seëninge te tel, en te sien hoe bevoorreg jy deur die lewe gekom het tot hiér. Almal op Facebook is skielik digters. Dis wonderlik. Almal het tyd om aan die dood te dink. Dis nodig.
Ek het ’n paar stories wat ek moet klaar skryf. (Voor ek siek raak. Is ek koorsig? Hier’s ’n koorspen in die woonstel, iewers.) Daar’s ’n artikel oor Copperton vir Junie se Weg, en dan een oor die mense – Bennie Cloete, George Engelbrecht, Kado Markus en Jasper “Oom Vick” Cloete – van die skerf Boesmanland daar waar dit skuins afdraand hol Oranjerivier toe, Goodhouse toe. Daar waar dit niks nooit reën nie. Ek wonder wat hulle vanaand dink van die virus daar waar hulle oor ’n vuurtjie (so klein soos wat nodig is, niks meer nie) kos en tee gaan maak, die bokke en skape wat buite stiller raak, hul matreuke in die stof vaslê met hulle lywe. Oom Vick en sy mense. Lankal afgesonder, lankal vergeet, die Boesmanland om hulle ook – hostile terrain, min mense mors daarmee.
Tog goed om te dink aan die natuur wat aangaan sonder ons. ’n Paar olifante langs die Choberivier is dalk vandag minder gestres oor wildkykvoertuie wat hulle pad versper water toe. ’n Seekoeibul het nog nooit ’n vy gevoel nie, en gaan ook nie vandag begin vye uitdeel nie. Gesond om te weet dat die aarde – die ganse ekosisteem daarvan – redelik weerbaar is. Ja, ons gee dit houe met ons besoedeling, aardverwarming en hulpbronvergrype (daai vis op jou bord is dalk die laaste van sy soort). Maar terwyl ons nou gewiks word in die hoof se kantoor, lê die dassies op die klipstapels buite Cradock en kyk net nou en dan op of daar nie dalk ’n witkruisarend aangesweef kom nie.
En gaan die ietermagog laaste lag?
Klink soos ’n Grimm-sprokie.
Grim indeed.
- Foto’s: Toast Coetzer, Weg (Media24)
.....
Volg Toast op Instagram @toastcards en kry sy band, The Buckfever Underground, se album Last days of beautiful by https://buckfeverunderground.bandcamp.com.
.....
Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:
Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha
Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis
Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach
Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee
Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett
Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete
Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots
Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse
Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal
Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais
Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton
Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer
Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges
Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp
Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen