Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!
Skrywer Wilna Adriaanse vertel meer oor die eerste dae van die inperking in Botswana en lees voor uit haar nuwe roman, Eerste nasies (werkstitel):
Dag 12: “Die bome behoort nie aan jou nie” deur Wilna Adriaanse
Geskryf op Vrydag 3 April 2020:
Vanaand om middernag sluit Botswana by vele ander lande aan, en begin ons 28 dae grendeltyd. Volgens amptelike verslae is die getal mense wat positief getoets is vir die COVID-19-virus steeds laag, en die enigste persoon wat gesterf het was ’n bejaarde vrou wat by ’n begrafnis in Suid-Afrika was. Desnieteenstaande het die regering besluit dis nou die tyd om strenger maatreëls toe te pas.
Ek is egter al vanaf 15 Maart onder selfkwarantyn by die huis. Enersyds was ek bang ek het die virus saam met my van die Woordfees af gebring, en andersyds het die geliefdes besluit dis veiliger vir my om soveel as moontlik in afsondering te wees, aangesien ek met my immuniteit sukkel.
Ek lees, peusel, stap, swem, bring te veel tyd op nuuskanale deur, en gesels met almal wat elektronies beskikbaar is.
Op 19 Maart het ek verjaar. Die skrif was reeds oral teen die muur – vermy groepe mense. Uiteet was dus nie ’n opsie nie. Ons kinders wat ook hier in Gaborone woon, Johann en Nicola, en twee jong vriende het ons gelukkig kom red van die alleenheid. Ek het kos gemaak en met skoonma se tafeldoek uit Egipte die tafel gedek. Ons het tot laataand buite op die stoep gesit en gesels oor dié vreemde tyd. Een van die jong vriende word binne enkele dae vir die eerste keer pa. Sy vrou was reeds by haar ouers in Suid-Afrika, en hy sou die volgende dag vertrek.
Danksy DStv kon ons ook luister toe president Ramaphosa ’n grendeltyd van 21 dae vir Suid-Afrika aankondig. Ons was dankbaar, want ons het toenemend bekommerd geraak oor ons kinders, familie en vriende in Suid-Afrika. Dit was ’n goeie toespraak – ’n mens kon sien hy lewer dit met die erns wat dit verdien. Ons het ons kinders jammer gekry wat met soveel vryheid leef en skielik ingeperk moet word. Dadelik het die dankbaarheid egter gevolg – hulle het behoorlike dakke oor hul koppe, kos op hul tafels; hulle is nie alleen nie, hulle is gesond, en kan kreatiewe planne maak. Jou hart treur oor die miljoene wat nie so bevoorreg is nie. Teen die einde van die uitsending was ek bewoë. Na sewe jaar is ek hartstogtelik lief vir Botswana, maar op daardie Sondagaand wou ek in Suid-Afrika wees. ’n Land waarna ek dikwels met groot hartseer en wanhoop vanaf hierdie kant van die grens kyk, maar ook ’n plek waar die mense my soms mateloos trots maak. Die komplekse land wat vir ewig onder my vel sal lê.
Op 26 Maart het ons jongste, Johann verjaar. Hy en Nicola word vanjaar 30, en sou saam met ’n groep vriende wat almal vanjaar 30 word, by Livignio in Italië gaan ski het. Hulle sou laatmiddag op die 26ste vertrek het.
Aanvanklik het die ski-oord laat weet hulle is nog oop, en hulle kan maar kom. Enkele dae voor hulle moes vlieg, moes die oord sluit, en hulle reis word gekanselleer.
Daardie aand gaan sit ons by hulle op die stoep. Ons eet beesstert en groentekerrie. Ons bel die ander twee kinders, Beer en Jaco in Suid-Afrika, en vra of hulle na liggaam en siel reg is vir die inperking. Albei klink vrolik en gereed om iets daadwerklik by te dra.
Verlede Sondag ervaar ek iets soos kajuitkoors, en die geliefde ry met my deur ’n relatief stil stad. Ek kyk na die mense wat steeds in groepies by mekaar se huise kuier. Langbeen onder bome, en ek besef hoe moeilik inperking vir mense gaan wees waar gemeenskap altyd eerste kom. Hoe ondenkbaar sal dit wees om nie jou naaste te help nie. Om nie oor te stap en te vra hoe dit gaan nie, nie jou mense te mag begrawe nie.
Ons ry tot aan die rand van die stad en kyk ’n rukkie uit oor die Gaborone-dam met sy klipeilandjies. Hierdie is ’n wye land.
Hier waar ons tien kilometer noord van Gaborone op ’n gholflandgoed woon, is ons nie gewoond aan harde geluide nie. En as ons stemme hoor, is dit die ritmiese tongval van die Batswana-tuiniers.
Vanoggend word ek egter wakker van ongekende harde stemme. Ek het eers die balkondeur oopgemaak, maar kon steeds nie behoorlik hoor nie. Ek het toe maar met my slaapklere aan tussen die ruie doringbome onder in die erf gaan staan om beter te kan hoor.
Aan die agterkant van ons erf het ons direkte toegang na die gholfbaan en die vele kronkelpaadjies waar ons na hartelus kan stap. Die ontwikkelaars van die landgoed het dit reggekry om sover as moontlik die natuurlike plantegroei te behou. Tussen ons huise en die gholfbaan is dus ’n stuk bos. (In Botswana is ’n mens nooit ver van die bos af nie.)
Ons buurman het dit goedgedink om al die bome en bosse tussen sy perseel en die gholfbaan te laat uithaal, tot groot ergernis van ’n ander inwoner. Die bekgeveg het amper ’n halfuur geduur. Ek was net op pad om terug huis toe te gaan, toe ek hoor hoe die ontstelde inwoner vir buurman vra: “Did these trees belong to you? No! Did you plant them? No! They didn’t even belong to the estate, they belonged to the bush.”
Ek het lank daar tussen die doringbome gestaan, en gedink aan COVID-19, aan babatjies wat in hierdie tyd gebore word, en gewonder aan wie die aarde eintlik behoort.
Terwyl ek hier skryf, het die geliefde ’n paar laaste inkopies gaan doen. Die strykyster het gebreek en die kinders kom braai vanaand, en die hout is op. En die blou-ape het die laaste piesangs uit die vrugtebak gesteel. Môreoggend word ons in ’n nuwe normaal wakker. Mag ons in hierdie tyd so dapper wees soos ons mense oorkant die grens en mag die genade vir ons almal volop wees.
Van my, Deon en ons gesin, ’n opregte dankie aan almal wat in hierdie dae ’n verskil probeer maak.
Wilna Adriaanse lees voor uit haar nuwe roman, Eerste nasies (werkstitel):
Lees ook
Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:
Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha
Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis
Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach
Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee
Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer
Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett
Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete
Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots
Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal
Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais
Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton
Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer
Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges
Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp
Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen