Foto: verskaf |
Sêgoed van Wilna Adriaanse “Lesers hou van karakters waarmee hulle kan identifiseer, hulle lees agter ’n sterk intrige aan en die liefdesaspek is maar net een deel van die storie. Interessant genoeg, vroue van alle ouderdomme, uit alle dele van die land en uit alle beroepe lees liefdesverhale. En deesdae raak al hoe meer mans dapper genoeg om te erken hulle lees dit ook.” “Ek dink nooit karakters self uit nie: hulle kom verlei my en fluister in my oor dat hulle wil hê ek moet hul storie vertel.” (NB@Bookslive 10 November 2008) “As ek in die antieke tye geleef het, sou ek heel waarskynlik ’n storieverteller op die markplein gewees het, want by die huis sou daar nie vir my veel nut gewees het nie.” (Bron) “Vir my is skryf ’n jaloerse proses en al beplan ek hoe deeglik, beland ek met elke boek in ’n stadium dat ek my dikwels aan vriende, familie en die wêreld onttrek en die grootste gedeelte van my dae in ’n gedagtewêreld saam met fiktiewe karakters deurbring. En selfs die tye dat ek nie agter die rekenaar sit nie, is die storielyn besig om soos ’n rolprent in my gedagtes af te speel en bedink ek moontlikhede.” (LitNet) Hoe maak ’n mens tyd om te skryf? “Jou geliefdes moet begrip hê, jy moet vrede maak met min slaap, skryf moet werklik ’n passie wees, jy moet leer om die kaf en die koring te skei, tevrede wees dat die woorde ‘verveling’ en ‘ledigheid’ nie in jou woordeboek voorkom nie – en die aanleer van die woord ‘nee’ help baie.” (LitNet) “As mense hoor ek skryf liefdesverhale, wil hulle altyd weet of ek hygromans skryf. Daar is ’n duidelike verskil tussen die twee. In ’n liefdesverhaal gaan dit eerder oor die karakters se emosies as oor grafiese beskrywings. Ek het groot respek vir skrywers wat jare lank met groot omsigtigheid liefdesverhale skryf. Dis soms nogal ’n ondankbare werk, want die skrywers dien hul lesers eerder as hulself.” (Die Burger, 6 Januarie 2005) “My stories gaan oor mense en menswees en menswees. En veral oor die eiesoortige dans wat ontstaan die dag as twee mense mekaar ontmoet of her-ontmoet. Binne die ontdekking van ’n ander persoon lê daar soveel interessante moontlikhede opgesluit en bly dit vir my ’n interessante tema.” (Bron) “Romantiese fiksie word dikwels deur onkundige lesers en kritici voor die voet afgemaak as hygromans, maar ek is dankbaar dat daar wel lesers en resensente is wat nie in die geykte slaggat trap nie. Op ’n ligter noot, ek sal nogal graag wil hoor indien een van my boeke ’n leser laat hyg het ... en waar in die boek dit plaasgevind het.” (Bron) “Afrika fassineer my omdat dit so onvoorspelbaar is [op] soveel maniere, veral as ’n mens dit vergelyk met ’n Europese leefstyl wat jou gees kan afstomp.” (NB@Bookslive, 10 November 2008) Waar is/was sy op haar gelukkigste? “Die dag toe my kinders, Cobus, Jaco en Johann, oud genoeg was om saam met my te gaan fliek. Dis soveel opwindender as ’n rondomtalie in die speelpark.” (Beeld, 1 Maart 2009) Waar was sy op haar ongelukkigste? “’n Wêreld sonder oranje lipstiffie, boeke, donker sjokolade en my ma se vleisslaai.” (Beeld, 1 Maart 2009) As wat sou sy in ’n tweede lewe wou terugkom? “Ek vermoed hierdie is reeds my tweede ronde ... Ek was in my eerste lewe ’n hofnar en vir my straf het ek teruggekom met ’n verdraaide humorsin.” (Beeld, 1 Maart 2009) Oor die skuif in genre (met Dubbelspel) aan Nadine Petrick: “Aan die een kant ’n vrees dat ek dalk op ’n dag gaan begin karakters en storielyne kloon, en om dit te voorkom, moet ek ’n groot verskeidenheid storielyne ondersoek. Deels dalk omdat ek gou verveeld raak en altyd op soek na iets nuuts is. ’n Derde rede is dalk omdat ek nie graag net oor ‘boy meets girl and they lived happily ever after’ skryf nie. Verhoudings en die lewe is tog veel komplekser as dit. En die laaste rede is waarskynlik omdat ek glo daar is ’n groot mark vir boeke wat die lesers laat ontspan, maar terselfdertyd hulle gedagtes en verbeelding prikkel. Ek hoop ek slaag daarin.” (Bron) Is dit maklik vir haar om elke keer ’n nuwe boek aan te pak? (Phyllis Green) “Elke boek is moeilik. Selfs al kom meld die karakters aan. Dit is nie asof hulle met ’n klaar storie aankom nie. Ek moet hard werk om te sien waarheen hulle my wil neem. Die ergste is as hulle dae lank, selfs soms ’n week of twee stil raak. Dit is dan wanneer ’n mens soms ure lank na ’n wit muur kan staar, en niemand dit verstaan as jy sê jy is besig om te werk nie!” (Sarie, 13 Junie 2014) “Mense dink ek het ’n keuse van watter tipe boek ek gaan skryf, maar eintlik het ek nie veel van ’n keuse nie. Die karakters kom net en dan loop ek maar agter hulle aan.” (Bookslive) Haar lewensfilosofie: “Die lewe bring nie altyd presente met groot, veelkleurige linte nie. Die magic lê in die klein oomblikke.” (Vrouekeur) Die lekkerste aspek van haar lewe as skrywer: “Die interaksie met lesers. Mense kommunikeer via Facebook of boodskappe met my. Ek antwoord elke brief wat ek kry. Mense doen moeite om met my te gesels en daarom gesels ek terug. En as die karakters met jou begin gesels!” (Vrouekeur) “As jy wil skryf, moenie net daaroor droom nie. Doen dit, anders sal jy altyd wonder.” (The Writer’s College Blog) “Ek dink nie dit is moontlik om te skryf as jy nie self ’n ywerige leser is nie. Lees so wyd as moontlik, maar veral binne die genre wat jy wil skryf. Probeer om jou teikenmark te verstaan.” (The Writer’s College Blog) Rachelle Greeff vra hoekom ons, wat so geweldvoos is, nog steeds misdaadfiksie wil lees: “Dit het ek my ook afgevra terwyl ek die boek (Dubbelspel) geskryf het. En steeds het ek nie ’n antwoord nie, behalwe om te sê dalk is ons maar steeds op soek na helde. En adrenalien. Ek was ongeveer 14 toe ek een vakansie die skrywer Leon Uris ‘ontdek’ het. Ek was ge-hook. Die politieke intrige was so opwindend. Jy kan my steeds in ’n wip vang met ’n goeie spanningsverhaal. “Jy lees seker agter die naelbyt-element aan, maar ek vermoed dit gaan ook oor die versugting dat die goeie ouens asseblief moet wen. Miskien gee dit ons moed vir ons eie omstandighede. Nog iets: Ons skryf soms stories om te verstaan. ’n Mens besef dit nie, totdat jy kniediep in ’n storie is. En ek dink ons lees ook om dieselfde rede. Ja, ons wil vermaak word, maar dis ’n bonus as ’n storie vir ons ’n stukkie van die lewe duideliker maak.” (Rapport, 11 Junie 2014) Rachelle Greeff wou by Wilna weet of dit haar romanses is wat haar geleer het om “in-die-kol-sexy” te skryf: “Ek is bly as jy so reken. Om in Afrikaans oor seks en die liefde te skryf, bied nogal uitdagings. My geslag het van jongs af oor die liefde in Engels gelees. Ons is dalk nog lomp en verleë om dit in Afrikaans te beskryf. Dit is waarom ek dalk eerder die sensuele probeer. Met die klem op die karakters se emosies en nie soseer op wat hulle doen nie.” (Rapport, 8 Junie 2014) Dink sy die opvolg op Dubbelspel sal net so suksesvol wees? “Jy neem met elke boek jou skrywerslewe in jou eie hande en hoop jy en die storie kom heelhuids anderkant uit. Ek het ook geleer dat ek baie dapper lesers het wat deur die jare lojaal gebly en my toegelaat het om ’n paar jakkalsdraaie met hulle te gooi. Ek is dankbaar om te sien hulle is steeds aan die lees.” (Rapport, 8 Junie 2014) Oor die krapperige verhouding tussen ma en dogter in Dubbelspel: “Al het ek self nie dogters nie, is ek darem ’n dogter vir my ma. Ek dink die verhouding tussen ’n ma en dogter is op beste van tye meer kompleks as dié tussen pa’s en seuns. ’n Ma en dogter bly lewenslank vasgestrengel in die naelstring. En ek vermoed dit het iets te doen met die feit dat jou dogter ook geboorte gaan skenk.” (Volksblad, 7 Mei 2014) En die verhouding tussen ma en seuns? “Om seuns groot te maak, is tegelyk opwindend, interessant en vreesaanjaend. Ek moes dapperder word en hulle het my ook geleer wat ongekompliseerde verhoudings is – en hoe om te kommunikeer deur bloot ’n TV-speletjie teen mekaar te speel.” (Volksblad, 7 Mei 2014) Wilna vertel aan Elna van der Merwe van 5 dnge wat haar verstom: “Seisoene. Dat die natuur nooit vergeet hoe om dit te doen nie. “Dat die mens bloedweinig uit die geskiedenis geleer het en steeds oorlog maak. “Dat skrywers steeds nuwe stories kan skryf. Al word temas herhaal, bly elkeen eintlik uniek. “Dat die heelal besluit het ek is dapper genoeg om drie vreeslose seuns, Beer, Jaco en Johann, groot te maak. “Dat daar nie ’n held was om die wêreld van covid te red nie. Skrywers en fliekmakers het ons deur die jare laat glo daar sal een wees.” (Huisgenoot, 14 Januarie 2022) |
Gebore en getoë
Wilna Adriaanse is op 19 Maart 1958 “met die rooi sand van die Kalahari tussen haar tone gebore as die middelste kind tussen twee broers. Dis ’n wêreld van stories, mites en legendes. En elke persoon in daardie wêreld is eintlik ’n storieverteller uit eie reg. Sy noem dit die wêreld waar vrae met stories beantwoord word,” skryf Mariana Malan. (Die Burger, 6 Januarie 2005)
Sy word egter tussen die berge en wingerde van die Breëriviervallei in Worcester groot en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Worcester.
Vandat Wilna kon praat, het sy stories vertel, en op skool het sy graag opstelle en briewe geskryf. Sy was ook van kleins af lief vir lees en sedert sy in graad 1 leer lees het, het sy nog nooit weer opgehou nie. Boeke was van kleins af haar beste geselskap.
Verdere studie en werk
Na matriek in 1977 is Wilna na die Universiteit Stellenbosch, waar sy ’n BA-graad met sosiologie en ontwikkelingsbestuur gedoen het, asook ’n honneursgraad in ontwikkelingsadministrasie.
In 1981 trou sy met Deon Adriaanse, ’n klasmaat, en hulle verhuis vir drie en ’n half jaar na Giyani in die Laeveld. Hulle albei werk daar by die Kantoor van die Kommissaris-Generaal. In 1985 trek Wilna en Deon terug Kaap toe en gedurende die volgende vyf jaar word hulle drie seuns, Cobus, Jaco en Johann gebore. Met die oudste kind se geboorte word Wilna voltyds ma, maar skryf tussendeur by die Universiteit van Suid-Afrika in vir sielkunde, en vir die volgende paar jaar word die eksamens en werkstukke so tussen die geboortes deur geskryf. Vanaf 1987 woon die gesin in Durbanville naby Kaapstad, en sedert 2012 werk Deon in Botswana en pendel Wilna tussen Somerset-Wes en Botswana.
Wilna vertel aan Phyllis Green in Sarie oor hulle verblyf in Botswana en die invloed wat hierdie land in suidelike Afrika op haar het: “Januarie 2019 het ons van Jwaneng (die myndorp) na Gaberone verhuis. Botswana is pragtig en ek voel bevoorreg om die land en sy mense te leer ken. Ons geniet die uiteenlopendste ervarings hier. Ek is op my gelukkigste wanneer ek so na aan die natuur is. Ek is ’n beheervraat, maar hier leef ’n mens so na aan die wildernis dat jy vinnig leer jy is nie in beheer nie. Al wat jy kan doen, is maar om die lewe te neem soos dit kom. Terwyl mens planne maak, gebeur die lewe net.”
Die skryfgogga het vir Wilna om middernag op 31 Desember 1999 in die Switserse Alpe gebyt. “Ek is mal oor Nuwejaarsvoornemens en dit was my gróót besluit met die aanbreek van die nuwe millennium,” vertel sy aan Kirby van der Merwe. (Beeld, 1 Maart 2009) Terug in die Kaap hoor Wilna van Martie Preller se internetskryfkursus en sy besluit om daaraan deel te neem sodat sy kan sien of dit is wat sy regtig wil doen. “Dit was ’n baie interessante leerskool en by tye het ek my bedenkinge gehad, maar die saadjie was gesaai en teen die einde van die kursus het ek geweet ek gaan op daardie vreemde pad stap, al is dit by tye nie ’n maklike pad nie.”
Wilna was self ook al by skryfkursusse betrokke. In 2010 was sy saam met Chanette Paul ’n beoordelaar van LitNet se aanlyn skryfkursus, SkryfNet XXIV. Sy was ook kursusleier van die Afrikaanse deel van die “Skryf ’n Roman”-kursus van die South African Writers’ College.
In 1999 is hulle oudste seun, Cobus, na Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch en skielik was die huis leeg en wend Wilna haar na haar rekenaar en begin skryf aan haar eerste boek. Sy skryf aanvanklik onder ’n skuilnaam, Wilmine Burger. Oor hierdie besluit skryf Wilna op haar webwerf: “Dit was waarskynlik ’n mate van selfbeskerming indien daar nie verdere boeke gaan volg nie. As niemand weet ek het die boek geskryf nie, kan niemand my vra of ek weer een gaan skryf nie. Ek dink die vrees dat daar nooit weer ’n storie by jou gaan kom aanklop nie, is iets waarmee baie skrywers waarskynlik moet saamleef. Na twaalf boeke is die vrees steeds daar, maar ek het darem al ’n mate van vertroue in die proses gekry. Toe Tafelberg in 2001 ’n manuskrip koop, het ek besluit om die naam Wilmine Burger aan die Lapa-boeke te koppel en by Tafelberg voort te gaan onder my eie naam.”
Sy stuur in 1999 ’n manuskrip na LAPA en in 2000 word Die wingerd sal weer bot uitgegee. ’n Verdere drie boeke onder haar skuilnaam verskyn by LAPA, naamlik ’n Heildronk op die liefde (2002), Liefde is ’n kleur (2004) en Brug van woorde (2004). ’n Heildronk op die liefde wen in 2002 LAPA se Liefdesverhaaltoekenning van die jaar.
Tafelberg publiseer in 2001 ’n Ongewone belegging, die eerste boek wat onder haar eie naam verskyn. Dit word as deel van die Jasmyn-afdeling uitgegee. Verdere titels wat onder die Jasmyn-naam volg, is Alleenvlug (2002), Die reuk van verlange (2003) en Serenade vir ’n nagtegaal (2004). In 2005 word Hande wat heelmaak onder die Hartklop-naam uitgegee.
In 2004 waag Wilna haar hand aan ’n veel lywiger boek, en Rebecca word in die romantiese-fiksie-genre deur Tafelberg uitgegee. Dit beleef in 2005 twee herdrukke en ’n tweede uitgawe verskyn in 2009. Die uitgewers se inligtingstuk beskryf die storie van Rebecca as volg: “Rebecca Fagan is op 25 in besit van ’n regsgraad, ’n rugsak, ’n groot mond en baie guts. Sy het twee jaar druiwe gepluk in Frankryk, in Italië op ’n olyfplaas gewerk en was in Duitsland as ’n kelner in diens. Maar sy is terug in Suid-Afrika en soek ’n ‘regte werk’ – verkieslik een wat opwindend is en wat ’n groot salaris betaal. Toe sy hoor dat Julian Hoffman, derde-geslag-erfgenaam van ’n multimiljardrand-maatskappy, op soek is na ’n persoonlike assistent, besluit sy om aansoek te doen, al is die pos nooit in ’n koerant geadverteer nie. Haar leuse is nie verniet ‘Wie nie waag nie, wen nie’ nie.”
Die roman is in Huisgenoot beskryf as ’n “liplek-lekker resep vir ’n liefdesverhaal, maar met ’n paar kinkels” en in Leserskring as “die lekkerste soort storie wat ’n mens kan kry. Dis Pretty woman in Afrikaans. Net nog baie beter.” In Volksblad (28 Februarie 2005) skryf Anita de Kock dat die verhaal ’n sterk storielyn het met karakters wat oortuigend beskryf is. Al wat De Kock gepla het, is dat die dialoog soms baie lomp is, maar sy het nietemin gemeen dat die verhaal ten spyte daarvan ’n treffer behoort te wees.
Jeanne Hugo (Die Burger, 5 Maart 2005) beskryf Rebecca as ’n ou resep met ’n nuwe baadjie. “Die taal is jonk en modern, so ook die karakters. Die storie het hierdie leser gevange gehou – ek het vroegaand begin lees en nie opgehou totdat ek klaar was nie. Die verhaal styg uit bo die deursnee-liefdesverhaal danksy die kompleksiteit van die karakters. Rebecca het sommer baie issues, in die jong sprekers se taal. In haar rugsak is ’n paar donker geraamtes, by gebrek aan ’n kas, en wanneer sy uiteindelik tot stilstand kom, kos dit ’n rukkie om te besef hoekom dit so lank geduur het. Hier handhaaf die skrywer ’n goeie balans – nét wanneer Rebecca se koppige aandrang op onafhanklikheid en andersheid die leser begin irriteer, word die rede daarvoor geopenbaar.
“Julian word nie as die perfekte man voorgehou nie – hy is kort van draad en effens te ingenome met homself. Tog openbaar hy elke nou en dan verborge, deernisvolle karaktereienskappe wat hom en die verhaal diepte gee. Iets wat volgens my broodnodig is in die domein van die liefdesverhaal – die deursnee manlike karakter het gewoonlik mos die intelligensie van ’n koffietafel. Behalwe dat die liefde ondersoek word, word gekyk na die aard van afhanklikheid, en die gee-en-neem-proses wat laasgenoemde impliseer.
“Laat ons eerlik wees: Ons almal weet die twee duifies sal mekaar mettertyd vind, want dít is die doel van ’n liefdesverhaal. Dit is die reis daarheen, die droom daarvan, waarvoor ons val. Vál en val maar weer, sê ek, as nog sulke verhale op my pad kan kom.”
Volgens Helene de Kock (Beeld, 16 Mei 2005) weet Wilna hoe om die dialoog op so ’n manier aan te wend dat dit bydra tot die tempo van die verhaal. “Dis lewendige, natuurlike dialoog wat die leser teen wil en dank by die verhaal betrek. Dit dra by tot goeie karakterisering en ook die newekarakters maak aanspraak op die leser. Adriaanse ontgin die ruimte in die verhaal werklik goed wat betref Kaapstad en die wildtuin. Maar plekke soos Londen en New York waar die karakters besoek aflê, kom nie tot hul reg nie. Rebecca is egter ’n werklik boeiende lekkerlees roman en mens hoop daar kom meer sulke dik stories om lang ure mee te vul.”
Met ander woorde verskyn in 2005. In hierdie boek vertel Wilna Kristina se verhaal. Nadat sy gaan draf het en nie haar gewone tyd terug is by die huis nie, bel haar twee huismaats die polisie. Hulle kry haar onder ’n bos teen die berg en hoewel sy by haar bewussyn is, kan sy niks onthou wat gebeur het nie. Sy gaan spreek Ben Krige, ’n psigiater op Stellenbosch. Kristina interesseer die psigiater baie en sy is vir hom soos ’n labirint: “vreemd en onbekend. Maar baie aantreklik. Al wat hulle het, is woorde. Maar geleidelik breek die woorde grense af en uiteindelik bring die pad hulle by ’n bestemming uit – maar ’n bestemming lyk soms anders as waarop ’n mens gereken het,” volgens die uitgewers se inligtingstuk.
Op kalahari.net skryf ’n resensent dat sy/hy nie kan wag om al Wilna se boeke te koop nadat sy/hy Met ander woorde gelees het nie. “Ek kon die boek nie neersit nie. Die taalgebruik was soos die Afrikaans wat ek in my huis praat, die mense soos die mense wat ek elke dag mee te doen kry, die storie geloofwaardig en interessant. Die storie probeer nie een of ander politieke boodskap oordra nie, dit probeer nie ’n prof by ’n Afrikaanse departement beïndruk nie, dit probeer my kry om uit te vind wat het met arme Kristina gebeur.”
Met die verskyning van Die boek van Ester in 2008 vestig Wilna haar as een van die voorste beoefenaars van die genre van romantiese fiksie in Afrikaans. Met Ester beweeg sy nog verder weg van die formuleagtige liefdesverhale, volgens Ronel Nel. (Beeld, 25 November 2008) “Meer in die rigting van boeke wat deesdae as chick-lit (enigeen vir ’n beter beskrywing in Afrikaans?) bestempel word: ontspanningsverhale wat nie net die hormone laat pomp en sentimentele romantiese ideale verstewig nie, maar wat die leser erken as ’n moderne, ontwikkelde vrou wat weet wat om haar aangaan en beslis ’n goeie dosis realiteit kan verwerk. Die karakters is meer kompleks, die verhaallyn meer verwikkeld en daar is beslis geen voorspelbaarheid in die verloop nie.”
In Die boek van Ester is Ester ’n fotojoernalis, maar sy is geen groentjie nie. “Haar pa is Joods, hy was redakteur van ’n groot koerant, haar ma Afrikaans. Haar ouers word een aand in hul oprit doodgeskiet – geensins ’n lukrake misdaadgeval nie, maar dit noop haar steeds om Suid-Afrika te verlaat en na Londen te trek. Daar hervestig sy haarself totaal: sy verander haar klere, haar sosiale kring en word ’n mode-fotograaf. Afrika is in sy maai en sy stel nie belang nie, dankie!
“Twee jaar later is sy egter terug in die land vir ’n shoot in die Laeveld. Daar ontmoet sy Samuel McGreggor, veearts en omgewingskenner. ’n Belese, welsprekende man, uitgesproke en deel van die kontinent wat sy so inderhaas verlaat het. (...) Die boek is heerlik, hoewel dit soms voel of die dialoog ‘toesprake’ is, met geweldige bykomende nagevorste inligting. Dit is ook nié ’n Ingrid Winterbach of ’n Marlene van Niekerk nie – en probeer dit ook geensins wees nie. Dit is ’n lekkerlees-boek van waarde. Goeie chick-lit soos ons dit in Afrikaans nodig het. Ideaal vir ’n Saterdagmiddag op die rusbank, voete in die lug en ’n glas wyn in die linkerhand.”
Vir Magda Venter, Volksblad (10 Maart 2009) se resensent, betree Wilna met Ester die wêreld van die meer moderne en realistiese leser wat nie meer net wil lees van die heldinne van die “resepmatige liefdesverhale” nie, maar wat verhale wil lees wat opgebou is rondom aktuele sake. En hoewel Venter klein puntjies van kritiek gevind het, meen sy dat Ester die moeite werd is om te lees.
Herman Wiid skryf op LitNet dat Die boek van Ester die klassieke ondertone van ’n tipiese liefdesroman bevat. “Daar is die uitbeelding van die held wat sy damsel in distress moet red van die gruwelikhede van die wêreld. Hul intense, emosiebelaaide liefde-haat-verhouding sorg plek-plek vir passievolle oomblikke, soos op bl 433, maar dreig ook om uitgerek en vervelig te raak. Net so is daar ook baie elemente wat getuig van ’n meer ernstige aanslag in Adriaanse se werk en wat verdien om genoem te word. Die eerste hiervan is ’n deurlopende vrouetema, wat veral na vore kom in die tradisionele dans wat die vroue uitvoer (263). Ester voel ’n magiese aangetrokkenheid tot hierdie ritueel en vir die eerste keer sedert haar ouers se dood, voel sy dat sy weer êrens behoort.
“Die verhaal speel ook af teen die breër agtergrond van die bewarings- en ekologiese vraagstuk en dit sorg vir ’n interessante en relevante aanslag tot die storielyn deur die klem wat dit op aktuele sake, soos natuurbewaring en misdaad plaas. Nog ’n belangrike gegewe in die boek is die simboliese waarde wat daar deurgaans aan voëls geheg word. Hierdie tema maak die deur oop vir verdere interessante interpretasies van die verhaal deur die lesers.
“Die boek van Ester sou nie afgerond gewees het sonder sy Bybelse intertekste nie. Verrassend genoeg is daar geen sprake van die Bybelse Ester-figuur in enige van hulle nie, maar tog slaag hulle in hul doel. Ook die paar filosofiese invoegings, veral dié deur die karakters Samuel en Robert en Ira, gee inhoudelike struktuur aan die verhaal.
“Al hierdie elemente val mooi in plek in die konteks van die verhaal en dit lyk of Adriaanse met dié verhaal weer haar slag gewys het met die pen. Dit bly egter ’n liefdesroman en ongeag die (bogenoemde) ernstiger aspekte rondom die boek moet lesers van ernstige leesstof en fiksie nie veel meer verwag nie. Dit gesê, voel ek is Die boek van Ester sy plek werd op vanjaar se The List van Exclusive Books, juis omdat dit, soos Adriaanse se ander werke, 512 bladsye van pure vakansieleesgenot bied vir die hopeless romantics onder ons.”
Die boek van Ester is in 2009 aangewys as die wenner van die ATKV-prys vir Liefdesromans.
Op haar webwerf vertel Wilna dat sy besonder baie navorsing moes doen voordat sy Die boek van Ester kon skryf. Hoewel hulle wel ’n tyd lank in die Laeveld gebly het, moes sy weer teruggaan om die gevoel van die plek terug te kry. Sy was by ’n rehabilitasiesentrum vir olifante en tydens die tydjie daar het daar jong olifante aangekom. Sy het ook op ’n olifant gery en ’n helikopterrit oor die Laeveld beleef. “Gedurende ’n besoek aan ’n wildernisgebied het ek baie ure met die gidse deurgebring en baie by hulle geleer. Aan die einde van die boek is daar ’n lang lys persone wat bedank word en dit is omdat hulle almal werklik meegehelp het dat ek die storie kan skryf.”
Wilna het haar in 2009 ingeskryf vir haar MA-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden.
In 2010 publiseer Tafelberg Wilna se volgende roman, Vier seisoene kind. Die hoofkarakter in hierdie roman is Cato, wat ook in Met ander woorde voorgekom het. Die flapteks vertel die storie: “Die woord weduwee is ’n verdrietige woord, ’n toestand waarmee Cato haar met moeite vereenselwig. Maar hier waar sy in die vliegtuig sit, is dit ongelukkig haar werklikheid. Haar man is dood, ’n skamele drie jaar ná hul troue. Sy is op pad terug Stellenbosch toe, waar Kristina en Ben nog is. En Marcus en Helen net om die draai in Kaapstad woon. Haar ondersteuningsnetwerk. Of dit so ’n goeie plan is om terug te gaan na die plek waar sy vir Neil ontmoet het, weet sy nie, maar in dié stadium wil sy nêrens anders wees nie. Veral nie alleen in Londen nie. Êrens tussen die tyding van die motorongeluk, die blyke van waardering, die roudiens en die werklikheid van ’n leë plek langs haar in die bed, het sy die Cato wat sy geken het, verloor. En in haar plek ’n bang vreemdeling gevind.”
Wilna het vertel hoe Cato een nag met ’n bottel sjampanje voor haar bed verskyn het en gesê het dat Wilna háár storie moet vertel, en dit was die ontstaan van Vier seisoene kind.
Op LitNet skryf Elbie Adendorff as volg oor Vier seisoene kind: “Die tema van die boek is nie net die sprokieselement van die liefde nie, al spot Cato self met die tema: ‘Dit is al daardie verdomde sprokies wat ’n mens hoor as jy klein is’ en ‘And we all lived happily ever after, saam met Kersvader, die Paashaas en die tandmuis.’ Die boek gaan oor die vraag: Wat as mens se lewe anders uitdraai as wat dit veronderstel is om uit te draai? Met ander woorde as jou ‘to do’-lysie nie meer lyk soos dit moet lyk nie, soos Adriaanse dit self in ’n onderhoud verwoord het. Vier seisoene kind gaan oor die wendinge wat in ’n mens se lewe voorkom en hoe jy op ander paaie gestuur word as waarvoor jy beplan het.
“Die boek verwoord natuurlik ook die tema van verlies en die hantering van verlies, soos deur Cato verwoord op p 318: ‘Dit is so maklik vir julle almal om kommentaar te lewer. Cato is te maer, Cato huil te veel, Cato huil te min, Cato moet eet, Cato moet slaap, Cato moet treur, Cato moet minder treur. Gaan aan. Rou eers. Was een van julle al hier?’ Saam met verlies, is die implikasie van ’n nuwe begin: Cato begin nuut op Stellenbosch, sy koop ’n nuwe besigheid, sy raak swanger, daar is die totsiens sê van die ou jaar en die groet van die nuwe jaar, en daar is die nuwe begin saam met Jacob.
“Hierdie temas is almal temas waarmee elke leser kan identifiseer: Hoe hanteer elkeen van ons verlies, hoe hanteer ons die wendinge wat op ons pad kom en hoe hanteer ons nuwe beginne. Dit is wat die boek bo die tipiese liefdesverhaal laat uitstyg – die ingewikkelde storielyn, die kompleksiteite van die karakters, die bevraagtekening van die liefde.
“Daar is verder ook die ander kleiner temas, soos vriendskappe en die waarde daarvan, die verhoudinge met ouers en skoonouers, die aanpassing in ’n nuwe dorp, enkelouer-tiener-verhouding. (...)
“Die verhaal van Cato is chick lit en dit is ’n lekker boek om oor ’n naweek te lees. Dit lees nie moeilik nie, en dit wil en moet dalk juis nie, want dit is populêre fiksie. Tog laat dit die leser nadink oor universele kwessies. Ek sal lesers aanmoedig om die boek te lees, veral dié wat die drie karakters Cato, Helen en Kristina reeds uit die vorige boek leer ken het. Ook die leser wat iets meer uit romantiese fiksie wil kry as die gewone ‘Mills en Boon’-stories.”
In Rapport van 3 Desember 2012 skryf Ilze Salzwedel: “In dié boek is van ’n gehyg geen sprake nie. Geleef en oorleef en geworstel met kwessies eie aan ons moderne lewe, ja, maar nie ’n gehyg en gewag op ’n ridder nie. Alles, van haar man se dood tot ’n onbeplande swangerskap, ’n eie onderneming, ’n nuwe land en nuwe en ou vriende, maak van Cato ’n vlees-en-bloed karakter wat struikelblokke uit die weg ruim en haar eie lewe bepaal. En dié leser leef mee, volg Cato se spoor tot daar waar sy haar eie mens is.
“Adriaanse mag maar skryf. As jy dit nog nie gelees het nie, gaan kry dadelik jou eksemplaar van Vier seisoene kind. Dis elke sent werd, en vir dié leser was die leesgenot veels te gou verby.”
Ook in Rapport van 3 Desember 2012 is Jaybee Roux die volgende mening oor Vier seisoene kind toegedaan: “Die hantering van die deurlopende tema – die ‘vier seisoene van rou’ wat iemand ná die dood van ’n geliefde moet deurleef – bied beswaarlik opwindende leesstof. Dit sou goed kon werk as ’n leitmotief om alles wat in die boek gebeur, saam te bind. Maar die probleem is juis: daar gebéúr nie veel in dié roman nie. Die dilemma waarmee die heldin uitgedaag word wanneer sy besef haar man het haar méér as herinneringe nagelaat, word onderbenut. Dit kon ’n uitstekende katalisator gewees het om woema aan die verhaal te gee, maar dié aspek van Vier seisoene kind word met amperse gelatenheid gehanteer.
“Die uitdagings wat ’n teaterrestaurant bied, bring ook nie juis opwinding nie, in elk geval nie wanneer dit deur Wilna Adriaanse beskryf word nie. Die liefdeselement is maar flou. Daar is min konflik tussen die heldin en die man met wie sy bestem is om haar toekoms te deel; daar is ook nie regtig sprake van struikelblokke wat oorkom moet word voordat hulle mekaar uiteindelik ‘vind’ nie.
“Die yl intrige word deur te veel en te lang gesprekke aanmekaargeflans (bladsy 7 tot 480). Wanneer daar in Vier seisoene kind gevloek word, kom dit meesal ‘uit plek’ voor en voel dit vir die leser asof hy/sy – met apologie aan Langenhoven – kou aan ’n mond vol koringkorrels waarin klippies versteek is.
“Hoekom is die boek dan so gewild? Die heldin is ‘doodgewoon’; juis daarom kan soveel lesers hulle met haar vereenselwig. Die skrywer wéét hoe moderne vroue werkkrisisse, huweliksprobleme, vriendskappe ensovoorts ervaar. Baie genrelesers hóú van ’n dralende pas en weemoedige ondertoon: ’n roman is nie ’n aksiefliek nie. Die lesers voel Cato se verlatenheid en eensaamheid soms tot in die siel aan. Die grootste faktor bly egter die skrywer se vermoë om ’n heldin oortuigend en met warmte en deernis te skets. Dis al. En dis al wat tel.”
Dit is vir Wilna baie belangrik om sterk heldinne te skep. “In die verlede wou die heldin gered word. Vandag doen sý die reddingswerk,” vertel sy aan Mariana Malan in Die Burger van 6 Januarie 2005. “Tog het elkeen die behoefte om eendag iemand te ontmoet wat haar volledig aanvul.”
Vir Wilna is een van die geheime van die liefdesverhaal dat die leser in die vel van die heldin kan klim. “Die verhaal word dus vanuit haar perspektief geskryf. Lesers sien nie werklik die ander karakters se kant van die saak nie en hulle het ook nie ’n vertellerstem nodig nie. Daar is gewoonlik nie ’n geheim in die slot opgesluit nie. Almal weet die held en heldin gaan op die ou end bymekaar uitkom. Die spanning lê in hóé dit gebeur.”
Wilna het gou geleer dat daar baie in liefdesverhale is waarmee mense kan identifiseer. “Mense meen dikwels hulle moet deur groot waarhede aangespreek word. Ek het al agtergekom dat dit die klein dingetjies is waaruit mense leer.
“Ek gaan soek nie na stories nie. Stories kry my en my familielede kom uit die Noordweste en is almal storiemense. My boeke wat ek skryf, is vir my soos familielede.”
Wilna is ’n romantikus in murg en been en dit is hoekom haar stories so maklik na haar toe kom. “Nie noodwendig die soort wat kersligetes en stadige tango’s veronderstel nie, hoor,” vertel sy aan Sarenda Eloff-Vorster (Rooi Rose, Februarie 2003). “As ons na ou flieks kyk en ek die klassieke boeke lees, lyk dit of romanse in ons moderne samelewing uitgesterf het. Waar in hierdie supersoniese lewe kry ons nog tyd vir roosblaarbaddens en passievolle nagte saam? Vir handgeskrewe briewe op geblomde skryfpapier wat na katjiepiering ruik?
“Nee, dié is yl gesaai, maar in die plek daarvan het ’n nuwe soort romanse ontstaan. Of dit beter of slegter as die ou soort is? Wie sal weet? Ons kan net probeer om soos met baie ander dinge ook hierdie nuwe vaardigheid aan te leer, want ons behoefte aan liefde, koestering en aanvaarding bly dieselfde.”
Toe Wilna se man, Deon, in 2002 in Lagos, Nigerië gewerk het, moes hulle ander planne bewerkstellig om die romanse in hulle huwelik lewend te hou: “Vir my het romanse met kopspeletjies te doen. Soos ’n vinnige sin wat meer bedoel as wat die woorde sê, begrip vir mekaar en intellektuele stimulering. Dis soos ’n hartskonneksie.”
Mense nooi Wilna dikwels om van mooi en interessante plekke by hulle gebruik te maak om te skryf en sommige van hierdie plekke kan selfs as eksoties bestempel word, maar sy het geleer wanneer sy begin skryf, moet sy agter haar eie lessenaar sit met haar bekende kennisgewingbord vol notas en foto’s langs haar, vertel sy op haar webwerf: “My aantekeningboeke en notaboeke langs my en my yskas naby waar ek my na liggaam en siel kan gaan verkwik wanneer die karakters my laat kopkrap. (...) Alles is egter moontlik en toe my man vir ’n jaar in Nigerië gewerk het, was ek verplig om te skryf waar ek ook al gekom het. Op lughawens, in vliegtuie, in hotelkamers. So ’n bestaan bied weer sy eie uitdagings en plesiere.
“Dit is vir my belangrik om voor ’n boek so wyd as moontlik te gaan rondloop sodat die storie kans kry om te groei en ek die geleentheid het om dinge soos beelde, reuke, klanke, gesigte en dies meer in my geheue te versamel. Al daardie inligting en herinneringe word egter op ’n dag, soos kersvader se sak geskenke, terug na my studeerkamer gesleep om deel van die storie se doek te word.”
Oor twee boeke wat mekaar opvolg, het Wilna gevoel dat sy nooit ’n opvolg op een van haar boeke sou skryf nie, “omdat ek glo dit kan die eerste boek potensieel skade aandoen as dit nie ’n storie is wat op sy eie bene kan staan nie. Ek voel steeds so, maar met die volgende boek gaan ek tog terug na vorige karakters, nie soseer as ’n opvolg nie, maar om die verhaal van een van die ander karakters te vertel. So, wie weet, eendag loop ek dalk terug op van die ander boeke se paaie ook.”
In 2012 word Wilna se volgende roman, die produk van haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, onder die titel ’n Klein lewe uitgegee. Dit is met die eerste oogopslag duidelik dat hierdie roman op Wilna Adriaanse se eie lewe gebaseer is, maar dit is tog nie outobiografies soos ons outobiografiese romans ken nie.
In Tydskrif vir Letterkunde van 2013 is Lezandra Theart die resensent en sy skryf dat die boek ingewikkelde vrae vra en naspoor wat die hoofkarakter elke dag ervaar het gedurende haar grootwordjare in die 1950’s in Suid-Afrika, “asook hoe die hoofkarakter as ’n ouer probeer om haar kinders te beskerm teen al die hartseer en seerkry wat sy self reeds ontdek het. Die titel van die boek suggereer dat die verhaal handel oor iemand wat nie ’n bekende figuur is nie, maar eerder ’n doodgewone vrou wat van kleintyd af met vrae worstel waarmee verskeie mense kan assosieer. ’n Klein lewe is egter alles behalwe klein aangesien die teks met ’n groot gehoor kan kommunikeer op grond van die verskeidenheid onderwerpe wat Adriaanse aanraak. Adriaanse noem verder talle gebeurtenisse wat aan die Suid-Afrikaanse leser bekend sal wees soos die dood van dr Verwoerd, die politieke onrus in die townships tydens die 1970’s en 1980’s, PW Botha se Rubicon-toespraak, seuns wat grens toe moet gaan en selfs later die dood van Eugène Terre’Blanche. Vir die hoofkarakter is dit asof al hierdie, en nog vele ander gebeure wat ook in die boek oorvertel word, haar identiteit en die mense om haar se identiteit vorm. (...)
“Myns insiens is die konsep van identiteit die belangrikste aspek van die roman. Vrae oor identiteit word herhaaldelik in die boek geopper. Ek vind ook Adriaanse se fokus op ontworteling interessant aangesien dit direk met identiteit verband hou. Soos reeds genoem, het die hoofkarakter reeds van ’n jong ouderdom met die idee kennis gemaak dat identiteit en velkleur dikwels verstrengel word. (...)
“Die boek kan daarom gesien word as ’n persoonlike reis vir die hoofkarakter waarin sy probeer om deur middel van haar eie storie haar teenwoordigheid in Suid-Afrika te verklaar. ’n Tweede belangrike aspek van die boek is die konsep van ‘tuis wees’ in ’n bepaalde plek. Die hoofkarakter ervaar baie ontworteling soos sy in haar kleintyd en later saam met haar man van dorp tot dorp trek. Hierdie konstante beweging ontwrig ook haar sin van identiteit omdat sy haarself elke keer weer aan nuwe mense in ’n nuwe omgewing moet bekend stel terwyl ’n gedeelte van haarself agterbly in die vorige dorp, en sy elke keer nuwe idees en ervarings van die vorige dorp na die volgende dorp saamdra. Dit is juis waarom die illustrasie van die voëltjie op die voorblad van die boek gepas is – die hoofkarakter ervaar haar lewe as een waar sy van nes tot nes vlieg, maar nooit te lank bly nie en elke keer wanneer sy aanbeweeg, bly daar altyd takkies agter, selfs al word die nes afgebreek. (...)
“Uiteindelik besef die hoofkarakter dat dit juis al die ervarings en ontwrigting in haar lewe is wat haar identiteit gevorm het en dat ’n mens nie anders kan as om vorentoe te beweeg nie. ’n Klein lewe is ’n maklike boek om mee te assosieer aangesien die onderwerpe so wyd is en daarom toelaat dat verskillende lesers verskillende gedeeltes van die verhaal kan eien. Adriaanse demonstreer ook deur die boek haar veelsydigheid as skrywer aangesien die boek afwyk van haar gewone skryfstyl wat in die liefdesverhaalgenre inpas. In my opinie is ’n Klein lewe nie ’n groot letterkundige werk nie, maar eerder ’n eenvoudige illustrasie van die vrese en vrae waarmee talle wit mense in Suid-Afrika worstel. En juis om hierdie rede is die boek van belang.”
Vir Saartjie Botha in Beeld van 23 Julie 2012 is dit nie net ’n roman nie, maar kan dit ook gesien word as ’n “kultuurhistoriese dokument” wat ’n prentjie skets van ’n wit Afrikaanse gesin en hulle wêreld in die laaste helfte van die 20ste eeu. “Die motivering vir ’n Klein lewe en die herbesoek van ’n lewensroete word vroeg in die roman uitgespel: ’n hoofkarakter wat sin wil vind in haar teenwoordigheid in Suid-Afrika vandag, sodat haar kinders en hul tydgenote hul lotsbestemming beter verstaan. Sodat hulle motivering het om te bly, en nie deel word van die ‘expat’-generasie uit onkunde nie.
“Die roman is ondanks die politieke ondertone ’n reis na begrip, nie na konfrontasie nie. Dis ’n persoonlike belewenis en belydenis wat niks meer as dit probeer wees nie. Die geldigheid van elke individu se ervaring is ononderhandelbaar.
“Adriaanse bied die ervaring in ’n beskeie stemtoon aan, baie bewus van ander se ervaring wat nooit gehoor sal word nie, en uiteraard met hare sal verskil. Haar skryfstyl is vlot en toeganklik, met hier en daar dialoog wat effens geforseerd voorkom. ’n Klein lewe is sterk aan te beveel vir almal wat bemoeienis het met herkoms, ook vir dié wat besef dat daar ’n veelheid van stemme nodig is om sin te maak van die land waarin ons leef.”
Met haar volgende roman, Dubbelspel, begewe Wilna haar op ’n heeltemal nuwe terrein, naamlik dié van die misdaadroman. Sy vertel aan Phyllis Green (Sarie, 13 Junie 2014) dat sy nie hierdie sprong beplan het nie; trouens, sy was self effe verbaas. “Maar na 14 jaar van stories maak, vind ek dat stories universele eienskappe het. Selfs die romantiese genre het ook ’n spanningselement. En spanningsverhale het dikwels ook ’n romantiese draad. Die klem verskil dalk net. Op die ou end was die sprong toe nie so groot soos ’n mens sou verwag nie.”
In Dubbelspel is die hoofkarakter Ellie McKenna. Wilna het een aand na ’n musiekuitvoering in ’n kerk geluister “en terwyl ek op ’n stadium ietwat verveeld rondkyk, het ek in my verbeelding ’n jong vrou sien orrel speel. Die volgende oomblik het twee mans agter in die kerk ingeloop en sy het dadelik geweet hulle soek haar. En ek was nuuskierig ...”
Ellie McKenna is in die polisie, maar haar hele wêreld word omgekeer wanneer haar polisieman-pa by ’n padblokkade doodgeskiet word. Sy wil met alle geweld help met die ondersoek na sy dood, maar mag nie. Ook beleef die land ’n aanslag van boewe – van die Chinese triades tot die Russiese mafia en die plaaslike dwelmbase. Die eenheid vir ernstige misdade waar Ellie werk, is betrokke by die ondersoeke.
Ellie se vriend, Albert Greyling, is ook ’n polisieman en hy ondersoek die Kaapse dwelmbase en wil vir Ellie in sy klandestiene ondersoek gebruik, wat sal beteken dat sy moet bedank. Op hierdie manier raak sy betrokke by mense wat almal op een of ander manier met skelmstukke besig is. Sy ontmoet ook vir Nick Malherbe, hoof van een van die skelmfamilies se sekuriteit.
Wilna moes baie navorsing doen vir Dubbelspel, want sy het nie veel kennis gehad van die wêreld waarin sy haar boek wou plaas nie. Sy vertel aan Phyllis Green: “Maar ek het wonderlike mense raakgeloop wat bereid was om met my hulle ervaring en kennis te deel. Dit is een van die lekkerste byvoordele van skryf – die interessante mense wat ’n mens so deur die navorsing ontmoet.
“Wat ook interessant is, is hoe die werklikheid dikwels die verhaal waarmee ek besig is naloop. Miskien is ek net baie meer oplettend, maar gedurende die skryf van die storie het daar ’n hele paar dinge in die nuus gebeur wat baie mooi by die storie ingepas het. En het ek ook toevallig in gesprekke beland waar ek waardevolle inligting gekry het.”
In Die Burger van 3 Mei 2014 vertel Wilna verder oor die mense met wie sy gepraat het om inligting vir Dubbelspel te kry: “Ek moes wyd praat, maar meestal met mense wat ek nie kan noem nie. Maar dis ook interessant hoe ’n storie momentum kry. ’n Toevallige gesprek met ’n joernalis. ’n Onverwante vraag aan ’n speurder. Laataand in Seepunt se strate. Iemand wat eerstehandse kennis het van geldwassery.
“Kenners op die gebied van die veiligheidsbedryf. Koerantberigte wat stories wat aanvanklik vergesog geklink het, bevestig. Dit was asof almal net op die regte tyd hul verskyning gemaak het.
“Terwyl ek besig was om die boek te skryf, sit ek per geleentheid in ’n vliegtuig langs ’n oudpolisieman wat nou seerowers jag in die Indiese Oseaan tussen die kus van Oos-Afrika en Asië. Toe hy my vertel wat hy doen, raak ek aan die lag. Want wat was die kans dat ek juis toe langs hom sou beland?!”
Elbie Adendorff skryf op LitNet dat hoewel Wilna in Dubbelspel wegbeweeg het van die romantiese verhale, is die karakterisering, die verhoudings en storielyne nog net so ingewikkeld soos haar vroeëre werke. Vir haar is Dubbelspel ’n “lekkerlees-spanningsverhaal met ’n goeie storielyn en interessante karakters. Dit boei die leser van die begin af en bied ’n blik op ’n wêreld waarvan min lesers sekerlik sal weet. Die ingewikkelde verhoudingspel en intriges maak dit ’n boek wat nie maklik neergesit kan word nie en daarom beslis aanbeveel word om te lees.”
In Die Laevelder skryf Liezel Lüneburg dat die einde van Dubbelspel haar met ’n skok getref het en vir die eerste keer in ’n lang tyd wou sy nie ophou lees nie: “Dubbelspel is ’n gepaste titel. Bykans al die karakters in die boek speel ’n dubbelspel en lei in verskillende grade ’n dubbele lewe. Elkeen kies waar, wanneer en tot watter mate hy of sy die spel bekend wil maak – indien enigsins. Die reëls verander deurentyd en die leser moet kophou om die slim, dikwels versteekte nuanses en storielyne te volg. Die storie lewer keer op keer aangename én onaangename verrassings op en laat die leser vinnig onder die indruk kom dat niémand en niks te vertrou is nie.
“Wilna Adriaanse is eintlik bekend vir boeke met ’n romantiese storielyn. In Dubbelspel spring sy na ’n spanningsverhaal en bewys haarself as ’n uitmuntende skrywer wat (...) enige genre met sukses sal kan aanpak. Tog het Dubbelspel ook ’n opwindend-romantiese lyn en ek kan nie wag om te sien waarheen hierdie lyn in Eindspel beweeg nie.
“Afrikaners hoef nie meer nét Amerikaanse, Engelse en Skandinawiese spanningsverhale te lees nie. Daar is menige spanningsverhaal wat in Suid-Afrika afspeel en oorspronklik in Afrikaans geskryf is. Ek geniet hierdie boeke omdat die omgewing en agtergrond dikwels bekend is. Ek ken die plekke waar die tonele afspeel. Verder is die taalgebruik en woordkeuse ook bekend. Dalk omdat dit oorspronklik in mý taal geskryf is en nie in Afrikaans vertaal is nie. Wilna Adriaanse het dit reggekry om die boek só te skryf dat ek in ’n sekere mate met die gesprekke en mense kan assosieer. Die karakters tree op en praat soos wat ek verwag het hulle moet. Ek lees verskillende genres, maar spanningsverhale tel onder my gunstelinge. Van die menige Afrikaanse spanningsverhale wat deesdae op die rakke beskikbaar is, tel Dubbelspel nou onder my witbroodjies. Dit is definitief oor en oor die lees werd!”
In Beeld (10 Mei 2014) is Ilza Roggeband dit min of meer eens met die ander resensente. “Dubbelspel lees teen ’n stewige pas en die spanningsdraad is styfgespan. Hierdie is nie ’n boek met ’n einde nie. Reeds voor in die boek word die leser gewaarsku dat dit die eerste deel van ’n tweeluik is. Dubbelspel is egter ’n heerlike voorgereg en te oordeel aan die kort uittreksel uit die opvolg, Eindspel, wat agterin Dubbelspel geplaas is, beloof die tweede gereg om net so ’n goeie leeservaring te wees. Ellie en Nick se storie is beslis nog nie klaar vertel nie.”
Wilna vertel aan Rachelle Greeff (Rapport, 11 Junie 2014) dat sy nie aanvanklik ’n tweeluik beplan het nie. “Die storie wat ek aanvanklik begin skryf het, gaan nou die tweede boek word. Terwyl ek daarmee besig was, het ek besef Ellie het ’n stuk geskiedenis wat eers vertel moet word, anders gaan ek te veel terugflitse moet gebruik. Ek is seker ek gaan vorentoe nog wil weghardloop, maar dit sal nie ’n nuwe gevoel wees nie. Ek ervaar dit met elke boek.”
Dubbelspel is op die kortlys vir 2015 se ATKV-Woordveertjieprys vir spanningslektuur.
Oor die vordering met Eindspel vertel Adriaanse aan Greeff: “Omdat ek reeds ’n ent weg was met Eindspel voordat ek Dubbelspel begin het, het ek darem nie met ’n wit bladsy begin nie en is daar al heelwat storiemateriaal wat lê en wag om verwerk te word. Ek is kliphard daarmee besig, maar die lesers moet Ellie darem ook ’n bietjie mis voordat sy weer haar opwagting maak.”
In 2017 verskyn die langverwagte vervolg op Dubbelspel onder die titel Eindspel en dit beteken dan ook die einde van Ellie, die polisievrou, se verhaal. Eindspel is in 2018 bekroon met die Graffiti Boeke/Lekkerlees Boekrakprys.
Die roman begin met Ellie wat op die platteland bly en ’n heel gemaklike en lekker lewe voer. Sy is die plaaslike orrelis en sy en die dominee hou baie van mekaar. Maar soos dit moet gebeur, is die vredige bestaan nie van lange duur nie. Een Sondag sien sy in die truspieëltjie van die orrel twee mans met donkerbrille die kerk instap, en instinktief weet sy dat hulle op soek is na haar.
Sy gaan terug stad toe en daar moet sy hoor dat ’n vriendin en haar minnaar ontvoer is. Saam met haar oudkollegas in die polisie, en veral saam met kolonel Nick Malherbe, begin sy ’n soektog na die twee.
“Soos een van die karakters waarneem, is hierdie soektog soos ’n legkaart waar stukkie vir stukkie ingepas word,” het Cas van Rensburg in Volksblad (3 April 2017) geskryf. “Die eienaardige ding is dat ’n mens geen oomblik verveeld raak nie. Terwyl niks asemrowends gebeur nie, word die spanning volgehou. In aansluiting hierby is die manier waarop die gebeure in Dubbelspel hanteer word. ’n Mens sou verwag dat lesers wat dit nie gelees het nie, iewers in die boek ’n aanduiding sou kry van wat vooraf gebeur het. Adriaanse is meer subtiel. Hier en daar is daar ’n skuins verwysing; ’n legkaart binne ’n legkaart. Soos gesê: Slim.
“Kennismaking met die karakters is nogal verkwikkend. Adriaanse het ’n slag met die inklee van verskillende mense. Dis opmerklik hoe sy karakters deur hul taalgebruik definieer. (...) ’n Karakter soos Ellie word amper ’n huisvriend. Sy is hardegat, befoeterd, weerloos en het ’n diepe hartseer wat soos ’n sluier oor haar hang. (...)
“Tussen haar en Malherbe is daar ’n vertrouensbreuk en hulle sit gereeld vas. Die leser kan egter amper die diepliggende aangetrokkenheid tot mekaar ruik. (...) Nader aan die einde draai Adriaanse de vlam op. Mense word geskiet, die verdwene minnaar opgespoor en die ontvoerde meisie gekry. In hierdie gedeelte loop die spanning hoog, en hou ’n mens regtig asem op.
“Die beskrywing van die gebeure is ontstellend realisties, maar die leser word beloon met ’n ontknoping wat ’n verrassing in die oortreffende trap is. ’n Mens kan die boek net hiervoor lees.”
Ook Elbie Adendorff is op LitNet baie positief oor Eindspel: “Tipies Adriaanse is die ingewikkelde storielyn en dat die karakters nie eensydig en stereotipies uitgebeeld word nie. Dit lees nie moeilik nie, maar tog is die storielyn nie eenvoudig en maklik nie. Spanning word deurgaans opgebou en die onsekerheid rondom Clara se ontvoering en Enzio se verdwyning hou die spanningslyn hoog. In hierdie storielyn word skerp kritiese kommentaar oor hedendaagse Suid-Afrika gelewer. Dit laat die leser nadink oor die probleme in ons land – veral wat misdaad betref. Die karakters in Eindspel is deurleefde karakters wat getrou uitgebeeld word. Al is die misdaadwêreld nie een waarmee almal sal kan identifiseer nie, is die karakters in daardie ruimte en die polisieruimte lewensgetrou.
“Die verhaal van Ellie is ’n lekker verhaal om oor ’n naweek te lees. Ja, daar is die voorspelbare gelukkige einde, maar die heldin, Ellie, is sterk, denkend en onafhanklik, net soos Nick ook sterk en onafhanklik is. Ellie is aan die begin van die roman stukkend: emosioneel en fisiek: ‘En in die plek daarvan rooi, opgehewe hale, soos merke op ’n snybord. En een lang letsel van haar bors tot by haar naeltjie.’ Aan die einde van die roman is sy heel: ‘Dis soos hoop voel, besluit sy êrens in die nag. Hoop op iets normaals. Sy wil nie dink dat sy dit vir iemand laat doen het nie. Dit moet haar geskenk aan haarself wees. Hierdie behoort net aan haarself.’ Maar Ellie en Nick is feilbaar en moes eers op hulle eie introspeksie gaan hou voordat die eindspel tussen hulle kan begin.”
Jonathan Amid is die resensent van Eindspel in Rapport van 12 Maart 2017: “Adriaanse lewer besliste maatskaplik-politieke kommentaar op die aard en klimaat van misdadigheid in Suid-Afrika, asook die soort rolspelers wat die meeste by georganiseerde misdaad baat vind. Veral prysenswaardig is die insiggewende blik op die lewens van dié wat opgesaal is met die taak om van ons land ’n veiliger plek te maak.
“Die twee karakters wat die grootste impak maak met die lees van Eindspel, en die sentrale verhouding wat die sterkste ontgin word, is dié van Ellie en Nick. (...) Sowel Ellie as Nick is besonder goeie verkleurmannetjies, gebroke randfigure wat veg vir reg en geregtigheid en vergelding in ’n milieu waar dit al hoe moeiliker raak om die goeie van die bose te onderskei.
“Eindspel se grootste oomblikke (en daar is heelwat) is geskoei op Adriaanse se bereidwilligheid om minder op die plot en polisie-prosedure, en meer op karakterontwikkeling en handeling te fokus. Adriaanse se ervaring as liefdesverhaalskrywer is nuttig in die vorm van die teer, onvoorspelbare, humoristiese en uiteindelik bevredigende verhouding tussen die geregsdienaars.”
Amid sluit sy bespreking as volg af: “Deur ’n onsentimentele, volwasse liefdesverhouding eerder as gewelddadige aksie en oordrewe strewe na spanning Eindspel se spilpunt te maak, bou Adriaanse ’n herkenbare dog steeds innemende wêreld waar die verhaal organies voortstu. Lesers sal hulle kan verkneukel in ’n vertelling wat dadelik vra na ’n herlees: Adriaanse-aanhangers kry waarde vir geld.”
Oor watter boeke met haar kop kan smokkel, vertel Wilna aan Beeld (2 Julie 2012): “Sedert my vroegste kinderjare word ek deur stories bekoor en van my kosbaarste herinneringe het met stories en boeke te doen. Om een skrywer of boek uit te sonder is egter onmoontlik. Elke boek word teen ’n spesifieke agtergrond gelees.
“Sommige boeke verloor met ’n herlees daardie eerste betowering, terwyl ander jou keer op keer verlei. As ek net drie kan uitsonder, al drie boeke wat ek in die afgelope twee jaar gelees het, sal dit wees Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk, The Elegance of the Hedgehog deur Muriel Barbery en Death in Venice deur Thomas Mann.
“Ek het aanvanklik gesukkel om al drie te lees, want dit was nie stories wat dadelik tot my gespreek het nie, maar op ’n dag was ek binne die verhale vasgeknoop en kon ek nie anders as om dit enduit te lees nie.
“Om te besluit wat my in elke boek vasgevang het, is soos om kwik te probeer vasknyp. Een of twee gedagtes wat my ná die lees daarvan bygebly het, is die volgende: In Die sneeuslaper word verwys na die lewerikspieël wat vanaf die vroegste tye gebruik is om voëls na nette of skutters te lok. Vir my is die skrywer se ekonomiese woordgebruik en ryk beelde die spieël wat my begogel het. En die manier waarop sy die stories vervleg totdat jy nie meer weet wat jy glo en of jy moet waag om te glo nie.
“In Elegance of the Hedgehog het dit gevoel of ek ’n baie skaars afloergeleentheid kry. Nie net agter die deur van Renée, die concierge nie, maar ook al die ander karakters wat haar wêreld deel. Sy beskryf karakters wat jou lank bybly. Wat jou op ’n dag baie subtiel met jou eie vooroordele en vooropgestelde gedagtes konfronteer.
“Ek kon my nie vereenselwig met die hoofkarakter in Death in Venice nie en tog het ek êrens in die boek ’n emosie herken, of eintlik meer aan eie lyf gevoel. Dit was soos om omgeboul te word wanneer jy dit nie verwag nie.
“Soos ek genoem het, is dit moeilik om stories soos hierdie binne ’n paar woorde te beskryf. Dit is boeke wat gelees en herlees moet word. Daar is min dinge so lekker soos ’n naelbyt-spanningsverhaal, ’n goed geskryfde liefdesverhaal of ’n tong in die kies komedie. Maar daar is ook ’n byna pynlike lekkerkry in die lees van ’n boek wat so met my kop smokkel.”
Vier jaar het verloop voordat Wilna se volgende roman verskyn het. In 2021 publiseer Tafelberg-Uitgewers haar volgende roman onder die titel Vlug.
In Vlug ontmoet die leser vir Milla wat ná ’n tragedie in Suid-Afrika in haar motor geklim het en Afrika ingevaar het. Sy kom gedeeltelik tot ruste in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) waar sy gaan werk by ’n rehabilitasieoord vir sjimpansees. Sy moes egter ook daarvandaan vlug toe sy midde-in ’n skermutseling tussen regeringsoldate en rebellegroepe beland.
Sy en Graham, ’n dokter by Dokters sonder Grense, vlug daarvandaan saam met drie sjimpanseewesies – in die hoop om terug na Suid-Afrika te gaan.
Voorin Vlug sê Wilna dankie aan haar man “vir Afrika”. Hieroor vertel Wilna aan Elna van der Merwe: “Deon is die een wat met my as jong bruid Gazankulu toe getrek het en bewus gemaak het van ’n groter Afrika. Saam met wie ek in Nigerië was, en nou weer in Botswana. Ek dink nie ek sou op my eie hierdie paaie gestap het nie.
“Ek is beslis ’n veel ryker mens as gevolg daarvan. Behalwe die feit dat ek moes leer om buite my gemaksone te leef, en te oorleef, leer ek steeds so baie van verskillende kulture, asook die daaglikse uitdagings in ’n plek soos Botswana waar jy nooit ver van die bos af is nie.
“Ek het leer kyk vir spore om die huis, want dit kan beteken daar is weer ’n slang. Of die likkewaan is onder die huis. Ek is ook soveel meer bewus hoe belangrik taal is, en om behoorlik te kan kommunikeer.”
Oor die feit dat sy die DRK as agtergrond vir Vlug gebruik het, vertel Wilna aan Van der Merwe dat vandat sy en haar man in Botswana woon, ontmoet sy baie mense wat uit die res van Afrika kom en sy hoor hulle stories: “Die toestande in ander dele van Afrika raak dus net ’n groter werklikheid.”
En oor die tydsverloop sedert die publikasie van Eindspel brei sy so ’n bietjie verder uit: “Ek en Deon het ons vier ouers en my oudste broer in die loop van ses jaar verloor. My broer was die laaste, in 2017. Die dag ná sy dood moes ek nog ’n boekbekendstelling op George gaan doen. Ek het gevoel of ek van balans af was.
“Ek vind dit verg tyd en geduld met jouself om sulke verliese in die oë te kyk, en vrede te probeer maak met die feit dat die hartseer en verlange amper deel van die pad vorentoe is. Ek weet covid kry deesdae vir alles die skuld, maar ek gee dit beslis ook die skuld dat ek in 2020 glad nie kreatief kon dink nie.”
Oor die sjimpansees wat ook ’n groot rol in Vlug speel, verduidelik Wilna dat die band tussen diere en mense haar nog altyd met verwondering gelaat het. “En die sorg en moeite waarmee mense soms diere in nood help en versorg. In Botswana sien ’n mens dit dikwels omdat hier sulke groot bewaringsgebiede is. Dit gaan nie soseer oor die sjimpansees nie, maar oor diere in die algemeen.”
En oor hoeveel van die probleme met die bedreiging van sjimpansees en die rebelle in die DRK te doen het, sê Wilna aan Elna van der Merwe dat sy baie gelees het en met mense gesels het oor die toestande in die DRK: “Hoewel ek in Vlug nie na spesifieke gebeure verwys nie, is die beeld wat geskets word, ongelukkig waar. Dis ’n land wat geweldig verskeur is, en gebuk gaan onder geweld, rebellegevegte, korrupsie, ensovoorts. Die lys is lank.
“Ongelukkig is die sjimpansees ook ’n bedreigde spesie en daal hul getalle jaarliks. Veral weens die feit dat hul natuurlike habitat vernietig word om plek te maak vir landbougewasse. Daarby veroorsaak die sogenaamde ‘bushmeat’-bedryf ook dat hulle vir hul vleis doodgemaak word.”
Wilna het in ’n onderhoud met Phyllis Green (Sarie, 29 Desember 2021) meer vertel oor die simboliek agter die titel van Vlug: “Die titel het eintlik outomaties saam met die inhoud gekom. Ek het die laaste klompie jare baie tyd in vliegtuie spandeer. Dit bly ’n manier van reis wat my nog altyd fassineer. Die blik op die wêreld, die verwydering tussen jou en wat ook al daar onder aangaan. Die feit dat jy met ’n vliegtuig net ’n vertrekpunt en aankomspunt het. Die tussenin maak amper nie saak nie.
“Dan op ’n dag ry jy die roete met ’n motor en jy beleef landskappe. Jy sien huise, lowergroen landerye, droogte, bruinvaal dorpies met verwaarloosde kinders en vervalle strate. Jy beleef die wêreld in al sy fasette. Maar in ’n voertuig is daar steeds ’n mate van skeiding tussen jou en die wêreld om jou. Jy kan nie help om dan te wonder hoe dit voel om per voet te vlug nie. Dis interessant dat die woord vlug uiteenlopende betekenisse het.”
Anschen Conradie is die resensent van Vlug op LitNet en sy sluit haar bespreking as volg af: “Die slot van die roman sal ongetwyfeld deur sommige lesers as ‘oop’ beskryf word, veral deur diegene wat duidelike antwoorde en ’n uitgespelde finaliteit by ’n slot verkies. Ek verskil egter daarmee – die slot was vir my besonder suksesvol en uiters gepas; alhoewel daar onsekerhede en moontlikhede vir die toekoms onbeantwoord gelaat word, is dit tog ’n volledige slot wat die begrip vlug betref. Die hoofkarakters het in werklikheid aanvanklik gevlug omdat hulle nie in hulle Suid-Afrikaanse omstandighede met hulle onverwerkte trauma kon saamleef nie. Tydens die vlug – veral die terugvlug – groei hulle egter as karakters en keer terug as emosioneel volwassenes wat hulle toekomskeuses met vrymoedigheid kan oorweeg. Die vlug is op ’n einde; die sirkel is voltooi.
“Die roman verdien die beskrywing ‘blitsblaaier’ as etiket – die hoofstukke is kort en die spanningslyn neem eerder toe as af. Ek het reeds enkele vorige romans van die skrywer gelees (en geniet) maar ek dink hierdie een is my gunsteling van haar. Interessant genoeg is die roman ’n verwerking en uitbouing van ’n kort vervolgverhaal wat etlike jare gelede in Vrouekeur verskyn het. Die roman is egter ’n volledige verhaal en die lees van die destydse vervolgverhaal is geensins ’n vereiste nie. Die roman sal aanklank vind by ’n wye verskeidenheid van lesers – liefhebbers van spanningsverhale sal dit ongetwyfeld geniet, maar die karaktergedrewendheid daarvan sal tot ’n baie groter groep lesers spreek.”
Op haar blog, Woorde wat weeg, skryf Joan Hambidge: “En een van Adriaanse se spanning-kurwes is dat sy die werklikheid en wetenskap aanwend om die verhaal en plot te dryf. Haar karakterisering is eweneens geloofbaar.
“Milla is menslik. Sy is geen papiermens nie. Haar emosies is eg en die trauma word oortuigend vertel. Haar teenspeler of antagonis, het eweneens ’n verlede en ofskoon hy haar ‘redder’ blyk te wees, het hierdie vroulike hoofkarakter agentskap. Sy dikteer byvoorbeeld dat sy meer van hom verlang.
“Graham Saunders wat behoort aan die organisasie Dokters sonder Grense, is meer as die dokter of dr Marius Hugo in ’n populêre liefdesverhaal. Adriaanse skep ’n balans tussen die kodes van die liefdesverhaal en die speurverhaal; sonder dat eersgenoemde steurend inwerk op die leser wat spanning ervaar en hoop hulle sal oorleef.
“Die roman is besonder helder en konkreet geskryf: ’n mens beleef die werklikheid en die landskap. Jy kan die impak van sowel die psigiese as fisiese pyn voel. Aftakeling word eerlik weergegee en verflenterde klere werp lig op ’n psige wat uitmekaar val. Uitstekende besonderhede oor kos en motors en septisemie.
“Adriaanse se roman beweeg buite die grense van die konvensionele speur- en spanningsverhaal, omdat dit kommentaar lewer op oorlog, diereregte en ons bestaan in Afrika, wat vanuit ’n vliegtuig na ’n groen smarag lyk. Die impak van trauma word eweneens goed beskryf, met al die wisselende emosies so bekend aan diegene, wat al die impak van hierdie lyding moes ervaar.
“Van trauma (en die nagevolge) kan jy helaas nooit weg-vlug nie. Dit bepaal wie jy is. Alice in Wonderland is ’n ingebedde kode. En ’n slim toespeling op die sogenaamde AIWS-sindroom (Alice in Wonderland-sindroom), ’n neurologiese toestand met visuele verwringings, ’n tyddistorsie en vreemde liggaamservaring, neem die roman na ’n ander vlak.
“Met hierdie kennis, weet jy dat Wilna Adriaanse begryp hoe om die letterkundige speurder op nog ’n roete te neem.”
Ook Trisa Hugo (Rapport, 14 November 2021) is beïndruk met Wilna Adriaanse se Vlug: “Die vrees en angs is deurentyd tasbaar in Vlug, kompleet of ’n mens die adrenalien kan ruik. Die leser is betrokke, maar die skrywer vertel die verhaal op so ’n manier dat dit eerder lyk soos ’n mooi sonsondergang in Afrika, al voel jy ook die wreedheid van die leeu wat sy prooi verskeur.
“Ondanks verskeie wrede aanvalle word die geweld omsigtig hanteer – dit is immers nie ’n riller nie, maar ’n karaktergedrewe roman wat bladsy vir bladsy bruis van spanning, intrige en antisipasie.
“Vlug sal ’n breë lesersmark geval en is in die mooiste, eenvoudige taal beskryf. Adriaanse se Afrikaans is eenvoudig lieflik en haar insig in menseverhoudings besonders. Vlug herinner die leser ook aan die werklikhede van Afrika: Om oor lugruime of grense heen te reis wat nie meer beheer of behoorlik bewaak word nie, geld wat nie doeltreffend aangewend word nie, die wreedheid en sinloosheid van oorlog, armoede en hongersnood.”
Wilna is gelukkig nog nie uitgeskryf aan haar boeiende verhale nie en het teenoor Elna van der Merwe gesê dat hoewel Milla en Graham nie in die volgende boek gaan verskyn nie, sy tans besig is om Sabine Maartens, die vlieënier in Vlug, se storie te vertel.
Publikasies:
As Wilna Adriaanse
Publikasie |
’n Ongewone belegging |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Alleenvlug |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Jasmyn |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die reuk van verlange |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
0624041212 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Jasmyn |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Serenade vir ’n nagtegaal |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0624042413 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Jasmyn |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Rebecca |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Hande wat heelmaak |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0624043142 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Hartklop |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Met ander woorde |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0624044556 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die boek van Ester |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780624046837 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
ATKV-prys vir Beste Liefdesroman 2009 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Omnibus 1: ’n Ongewone belegging; Alleenvlug; Die reuk van verlange |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780624048053 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Jasmyn |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Vier seisoene kind |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780624048671 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
ATKV-Woordveertjie vir liefdesromans 2011 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Omnibus 2: ’n Heildronk op die liefde; Serenade vir ’n nagtegaal; Hande wat heelmaak |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780624049302 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Omnibus 3: Die wingerd sal weer bot; Liefde is ’n kleur; Brug van woorde |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780624053859 |
Uitgewers |
Jasmyn |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
’n Klein lewe |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
9780624054672 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Dubbelspel |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780624068037 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Misdaadroman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Eindspel |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780624075301 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Misdaadroman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Engels; Endgame 2019; vertaal deur Elsa Silke |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Vlug |
Publikasiedatum |
2021 |
ISBN |
9780624092605 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
As Wilmine Burger
Publikasie |
Die wingerd sal weer bot |
Publikasiedatum |
2000 (Grootdruk) |
ISBN |
0799327875 (hb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
’n Heildronk op die liefde |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0799329622 (hb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
LAPA Uitgewers se Liefdesroman-prys 2003 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Brug van woorde |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0799332526 (hb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Liefde is ’n kleur |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0799332542 (hb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Artikels oor Wilna Adriaanse beskikbaar op die internet
- 5 vrae vir Wilna Adriaanse. Vrouekeur
- Aan die woord: vyf vrae aan Wilna Adriaanse. Afrikaans.com, 11 Januarie 2018
- Greeff, Rachelle: "Laat die goeie ouens tog net wen"
- Malan, Mariana: Nuwe boek-heldinne
- Malan, Mariana: Sy soek nie na stories nie, dit kry haar
- Petrick, Nadine: Nadine Petrick gesels met Wilna Adriaanse oor Vier seisoene kind, Afrikaanse boek-vroue. LitNet, 21 Julie 2010.
- Rautenbach, Elmari: Uitdagings en keuses in Suid-Afrika se donker ondersy: Wilna Adriaanse gesels oor haar nuwe polisieroman
- Ronel S: Wilna Adriaanse glo in romanse en in Afrika
- Van der Merwe, Kirby: Oranje lipstiffie vir ’n olifant-“whisperer”
- Wilna Adriaanse
- Wilna Adriaanse
- Wilna Adriaanse
- Wilna Adriaanse
- The Writer's College: ’n Onderhoud met Wilna Adriaanse, Skryf ’n roman-kursusleier
Artikels deur Wilna Adriaanse beskikbaar op die internet
- Dié boeke smokkel met mens se kop
- Hoe maak ’n mens tyd om te skryf? LitNet, 19 Februarie 2010
- Die onsamehangende en subjektiewe mymeringe van ’n reisende skrywer. LitNet, 2 September 2014
Wilna Adriaanse se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2015-09-03 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.