Biebouw-resensie: Dubbelspel deur Wilna Adriaanse

  • 0

Titel: Dubbelspel
Outeur: Wilna Adriaanse
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624068037

Koop Dubbelspel by Kalahari.com

Wilma Adriaanse se nuwe boek Dubbelspel het so pas op die rakke beland. In hierdie spanningsroman slaan Adriaanse ’n nuwe rigting in haar skryfwerk in, aangesien sy wegbeweeg van die romantiese verhale soos gevind in Vier seisoene kind na ’n polisieroman toe met ’n vroulike hoofkarakter daarby. Maar die ingewikkelde karakterisering, verhoudings en storielyne wat so tipies Adriaanse is, kom nog steeds hier voor.
Ellie McKenna is ’n rooikop-polisievrou wie se pa so pas doodgeskiet is. Sy stem in om betrokke te raak by die ondersoek na die onderduimse wêreld van smokkelary (dwelms, perlemoen, renosterhorings), geldwassery, en omkopery en polisiekorrupsie. In hierdie ondergrondse wêreld kry sy te doen met die Chinese, die Nigeriërs, die Russe en die Italianers en ander ongure karakters wat “almal in die land” is, soos in die voorwoord aangedui word. Hier ontmoet sy verder vir Clara, die jong meisie wat sy moet oppas, en Nick Malherbe, sekuriteitsbaas van die Allegretti-familie.

En in hierdie wêreld is almal besig met ’n dubbelspel.

Saam met die tema van dubbelspel en speletjies speel loop die tema van vertroue en wantroue. In hierdie roman is bykans almal besig met ’n spel en leef ’n dubbele lewe. Die gevoel van wantroue tussen karakters kom sterk na vore en dit is nie altyd duidelik of almal ewe goeie bedoelings het nie – dit is byvoorbeeld nie duidelik of Clara deel van Nazeem Williams se speletjie teen Enzio Allegretti is nie: “Tweedens Nazeem Williams en Enzio Allegretti senior se paaie het al ’n keer of wat gekruis ... ek het ook nog my bedenkinge oor Clara se bona fides.” Maar die grootste dubbelspel vind tussen Nick en Ellie plaas: hulle weet nie wie en wat die ander een is nie en speel speletjies om die ander een te uitoorlê. Hulle is nie wie hulle voorgee om te wees nie en is die hele tyd op hulle hoede teenoor mekaar: “Vind uit oor die McKenna girl. Kan dit wees dat Williams met die polisie saamwerk? Indien nie, wat is die kanse sy is so onskuldig soos sy voorgee om te wees?”; “Nick hou Ellie dop van waar hy op die balkon staan. Die krieweling wil nie bedaar nie. Sy is goed daarmee om met die omgewing saam te smelt.”; “Ellie weet sy moet verkieslik so gou as moontlik onder sy blik uitkom. Sy vertrou nie die effense vriendelikheid nie. Maar hierdie is ’n delikate dans en sy kan nie bekostig om die verkeerde voet voor te sit nie.”

In Dubbelspel gebruik Adriaanse weer die tema van verhoudings wat ook in haar ander romans voorkom. En dit is veral Ellie se verhoudings wat op die voorgrond is. Sy mis haar polisieman-pa wat tydens ’n padblokkade doodgeskiet is. Hy is nie meer daar om vir haar hulp en leiding te verskaf nie en sy moet haar eie oordeel begin vertrou. Sy wil ook graag sy dood ondersoek, maar sy mag nie. Verder is daar die stram verhouding met haar ma, wat gereeld bietjie te diep in die bottel kyk. Sy vind nie vertroosting by haar ma nie en kan nie met haar oor haar pa se dood en ander sake praat nie. Ellie het ’n verhouding met Albert Greyling, een van haar kollegas, wat die ondergrondse dwelmwêreld van die Kaap ondersoek. Greyling is die een wat Ellie by sy ondersoek betrek. Die ander belangrike karakters in Ellie se lewe is haar vriendin Melissa, en Happy en Brenda, twee karakters by wie Ellie gereeld inligting kry oor wat in die ondergrondse lewe van dwelms en prostitusie en geweld en bendes aangaan. En dan is daar Nick Malherbe: dit is duidelik dat Ellie en Nick aangetrokke tot mekaar voel, maar hulle kan nie aan mekaar openbaar wie hulle is nie. En dit is veral dié twee karakters wat die dubbelspel van die titel verteenwoordig. Die storie van Ellie en Nick is ook nie klaar nie, soos dit aan die einde van die roman blyk, asook uit die voorblik op die opvolg Eindspel.

Dubbelspel is ’n lekkerlees-spanningsverhaal met ’n goeie storielyn en interessante karakters. Dit boei die leser van die begin af en bied ’n blik op ’n wêreld waarvan min lesers sekerlik sal weet. Die ingewikkelde verhoudingspel en intriges maak dit ’n boek wat nie maklik neergesit kan word nie en daarom beslis aanbeveel word om te lees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top