Wilna Adriaanse: Hoe maak 'n mens tyd om te skryf?

  • 0

Ek sal graag die vraag wil omdraai en vra hoe kry skrywers dit reg om tussen hulle skryfwerk nog besige lewens ook te lei, want ek sukkel soms daarmee. Vir my is skryf ’n jaloerse proses en al beplan ek hoe deeglik, beland ek met elke boek in ’n stadium dat ek my dikwels aan vriende, familie en die wêreld onttrek en die grootste gedeelte van my dae in ’n gedagtewêreld saam met fiktiewe karakters deurbring. En selfs die tye dat ek nie agter die rekenaar sit nie, is die storielyn besig om soos ’n rolprent in my gedagtes af te speel en bedink ek moontlikhede.

Gedurende hierdie tyd sê ’n mens soms nee vir uitnodigings, die pos hoop op en die yskas bly leeg. En jy sê daagliks dankie vir ’n ondersteuningsnetwerk wat verstaan. Om te skryf is soos enige ander werk. Dit vra ure, toewyding en opoffering. Wat dit egter moeiliker maak, is die feit dat dit ’n kreatiewe proses is wat ’n mens nie altyd volgens tydskedules kan beplan nie. Ek het al dikwels lang ure aan ’n toneel geskryf, net om dit die volgende dag uit te wis en oor te skryf. So iets het onwillekeurig ’n kettingreaksie en terwyl jy dalk iets anders vir daardie dag beplan het, weet jy jy moet die toneel regkry, anders gaan jy nie verder kan skryf nie. So die yskas word nóg leër en die tuin verander gaandeweg in ’n oerwoud. Maar op ’n dag is die boek klaar en dan is dit tog opwindend om weer buite te kom en te sien die wêreld draai steeds.

Om egter terug te kom na die vraag toe: Jou geliefdes moet begrip hê, jy moet vrede maak met min slaap, skryf moet werklik ’n passie wees, jy moet leer om die kaf en die koring te skei, tevrede wees dat die woorde "verveling" en "ledigheid" nie in jou woordeboek voorkom nie – en die aanleer van die woord "nee" help baie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top