’n Klein lewe allesbehalwe klein

  • 0

Titel: 'n Klein lewe
Skrywer:
Wilna Adriaanse
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN:
9780624054672

 

Klik hier om 'n Klein lewe te koop by Kalahari.com.

’n Klein lewe, die jongste werk van Wilna Adriaanse, wat geskryf is as deel van haar meerstergraadstudie in kreatiewe skryfkunde, is nie ’n klein stukkie werk nie. Dit is nie alleen die “klein” verhaal van die hoofkarakter nie, maar ook van Suid-Afrika. En die storie van die hoofkarakter en van Suid-Afrika is nie so eenvoudig as wat deur die titel voorspel word nie.

Die roman vertel die verhaal van die anonieme hoofkarakter en haar lotgevalle binne die Suid-Afrikaanse konteks. Haar storie is nie uniek aan haar nie, maar is universeel van alle wit vroue wat sedert die vyftigerjare in Suid-Afrika grootgeword het. Dit verwoord die gevoel van baie wit vroue wat wil sin maak van die Suid-Afrika van vandag en van die verlede en wat hulle plek wil (moet?) vind in die hedendaagse Suid-Afrika. Vroeg in die roman sê die hoofkarakter: “Die kinders wil landuit, Pa. Sommer so met ’n rugsak en ’n vliegkaartjie sonder terugkeerdatum. En oor die stemme wat dreig om my te vervreem. Wat vra hoe leef ek met my wit vel in hierdie vreemde plek.” Hierdie woorde van die hoofkarakter verwys na belangrike temas, soos vervreemding, om te behoort, begrip, emigrasie. Die roman verwoord ook die Suid-Afrikaner wat kies om hier te bly en nie pad te gee uit die land nie. Soos die hoofkarakter later in die verhaal dink: “Sy wil hom vra oor die momentum en hoe lank die wêreld se respek sal hou. Of dalk eerder hoe lank die respek vir die eie sal hou. Dalk is die groot toets glad nie om aan die wêreld iets te bewys nie, maar aan onsself. Dat die reënboog nie ’n drogdroom is nie. Maar sy vra dit nie. Vir haar voel die toernooi soos ’n welkome staning. ’n Verposing. Veilig genoeg dat daar vir ’n slag weer padkos uitgepak kan word en mense vir mekaar kan waai.”

Deur die hoofkarakter se oë word die geskiedenis van Suid-Afrika vertel. Die verhaal bied ’n redelik chronologiese blik op 55 jaar se Suid-Afrikaanse geskiedenis: vanaf die vroeë vyftigerjare, Verwoerd se dood, daarna die sewentigerjare met die skoleprotes en die tagtiger- en negentigerjare se politieke protes, Nelson Mandela se rol in die nuwe Suid-Afrika, selfs Eugène Terre’Blanche se moord (wat knap gekoppel word aan die moord op Chris Hani), die 2010-Sokker-Wêreldbekertoernooi en die bespiegelinge oor die verkiesing van Jacob Zuma as nuwe leier.

Die blik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis is wel vlietend, maar die impak op die hoofkarakter is groot. Sy en haar man kies om betrokke te raak by die ontwikkeling van die gemeenskap: deur eers in Gazankulu, die voormalige swart tuisland, te gaan werk en daarna deur haar man se werk as stadsekretaris in Kaapstad. Dis veral terug in die Kaap waar sy die vrese oor hulle veiligheid voel, aangesien haar man in die townships werk en die konflik daarbinne intens beleef. Dit is deur hierdie betrokkenheid by die gemeenskap dat die hoofkarakter na haar rol in Suid-Afrika en sy verandering kyk; ook die twyfel of dit wat hulle gedoen het, die regte ding was.

Die verhaal vertel egter nie net die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, maar betrek ook Afrika. Daardeur lewer die hoofkarakter ook subtiele kommentaar op Afrika en Suid-Afrika se plek binne Afrika. Haar man gaan werk as projekbestuurder vir die Wêreldbank in Lagos, Nigerië en is hy ook betrokke by ontwikkelingsprojekte in Kenia. Sy, en later ook die kinders, gaan besoek hom daar. Dis hier waar die hoofkarakter bespiegel oor korrupsie en die tekortkominge en probleme in Afrika en dit dan van toepassing maak op Suid-Afrika: “Sal so ’n ommeswaai weer in Suid-Afrika kom, wil sy hom vra. En hoe oud sal hulle teen daardie tyd wees. Haar rede sê vir haar daar is nie ’n parallel nie, maar emosies loop nie altyd saam met rede nie en sy wonder of daar enige plek op aarde is waar ’n mens ook daagliks so met die hele omgewing van jou menswees gekonfronteer word. Dit voel vir haar of die lewe in Afrika ’n wrede spieël is en min kry dit reg om nie daarin te kyk nie. Want daar waar sy langs hom agter in die motor sit, ervaar sy ’n skielike versugting dat die verval in Suid-Afrika gou kom, want dit beteken hy gaan weer ’n plek daar hê.” Sy trek telkens parallelle tussen Afrika en Suid-Afrika en haar plek binne Suid-Afrika en Afrika: “En in haar roer die ou verknogtheid. Die afhanklikheid van die kontinent waar sy die lewenslig aanskou het. Die plek wat sy soveel jaar al inasem en waar sy deur haar voorvaders aan ’n stewige tak vasgeknoop is. My plek, fluister sy teen die venstertjie. Maar ken die plek my?”

Die verhaal toon dus ook die verknogtheid aan die grond en die land: “Ons is soos olienhoute langs die rivier, ons groei diep wortels” en “Want as jy eers jou liefde verklaar het, jou intensies duidelik gemaak het, raak die droë lope meer as dor are en draai die klippe vir jou om sodat jy die skulpfossiele kan sien. En dan hoor jy laataand die vae herinnering van ’n groot oseaan. Hier van bo af verstaan sy altyd beter haar voormense se verknogtheid aan grond.” Hierdie verknogtheid word reeds treffend in die voorblad in die vooruitsig gestel deur die wortels wat op die agtergrond sigbaar is.

Die roman handel oor die tema van vervreemding op verskeie maniere: as wit mens in Suid-Afrika, maar ook in Afrika. Dié tema van vervreemding is nou geskakel aan die hoofkarakter se fokus op die geskiedenis van ons land; veral met die toenemende onsekerhede oor die nuwe Suid-Afrika en die verlies van identiteit as wit mense, as Afrikaners. Sy verwoord dit soos volg: “Sy dors na die ander. Haar wêreld het deur die jare verander tot ’n stil bestaan van eenders wees. Hoe is dit moontlik om met dieselfde hande waarmee jy soms om jou kinders ’n laer wil trek, te wil uitreik en iets probeer raakvat van die andersheid? Is dit moontlik om deur dieselfde andersheid waarvoor jy soms bang is, gevoed te word?” en “Sy voel hoe die tak waaraan sy haarself vasgeheg het, begin swaai asof ’n stormwind opgekom het en die nes wat sy oor jare gevleg het, takkie vir takkie uitmekaar gepluk word. Hoe naïef om te dink sy het ’n stewige tak gekies.” En ook: “Sy is nou die reisiger wat haar ouers van die panne af moes red. Êrens het sy die rigting verloor en al in die rondte begin ry of dalk was sy nooit in die regte rigting nie.” Aan die einde van die roman kom sy tot die gevolgtrekking: “Die mens het ’n beheptheid met herkenning en eintlik keer ons maar altyd as vreemdelinge terug.”

Adriaanse gebruik intertekstualiteit met ander literêre werke om ’n dieper nuanse aan die verhaal te gee. Elke hoofstuk word begin met aanhalings van skrywers soos Nietzsche, Bob Dylan, Mandla Langa, en Lewis Carroll. Daardeur betrek sy die wêreldliteratuur om die politieke en menslike groeiproses by die hoofkarakter te verwoord. Die aanhalings “voorspel” ook telkens die “tema” van in die hoofstuk.

In die verhaal van die hoofkarakter self word ook werke uit die Suid-Afrikaanse literatuur gebruik om haar menswees en die chronologie van die verhaal uit te beeld. Daar is verwysings na Totius, Sheila Cussons, Brink se Kennis van die aand, Louw se Raka, Alan Paton, en Mandela se Long Walk to Freedom. Die hoofkarakter, kom ons aan die begin agter, is ’n skrywer, wat dus al skrywende haar storie aan die leser oordra. Tog bevraagteken sy reeds aan die begin die doel van haar skrywery: “Daar sal gevra word of sy die nodige insig het. Of ’n skrywer noodwendig haar eie storie beter verstaan. Sy wonder of hulle begrip sal hê as sy sê op haar ouderdom is jy hoogstens ’n karakter in jou eie storie.” In die verhaal vloei die verhaal van skrywer en verteller ineen wanneer die hoofkarakter vra: “Is dit my woorde? Of is dit die karakter s’n? Is dit moontlik dat ’n karakter jou in woorde kan vasknoop wat jy nie gesê het nie?” En later: “Maar kan ek myself dan nog ’n skrywer noem as ek woorde moet tel? vra sy haarself toe sy die nag wakker lê. Waar ontmoet fiksie en werklikheid mekaar?” ’n Suggestie van die rol van skrywers en digters in politieke protes en veranderings kom hier na vore.

’n Klein lewe vertel dalk oor die alledaagse lewe van ’n wit vrou oor enkele jare in Suid-Afrika, maar doen meer as net dit, soos wat op die voorblad gesuggereer word. Die verhaal sal vir baie lesers bekend voorkom: die grootword in ’n beskermde en liefdevolle gesin wie se wortels diep in Suid-Afrika se grond gevestig is; die politieke naïwiteit waarmee baie grootgeword het; die latere bevraagtekening van die bekende politieke denke; diensplig se uitwerking op ’n generasie; die verlies aan politieke mag; die groeiende onrustigheid oor wat in die nuwe Suid-Afrika aangaan; en die deelword van ’n groter globaliteit. Maar hierdie is geen tipiese apartheidsverhaal nie, aangesien dit ’n ander perspektief daarop bied: daar is geen skerp kritiek teen apartheid en sy invloed op geslagte nie, net ’n aanvaarding van die feite. Hierdie is ’n stille en persoonlike storie wat, soos voor in die boek staan, ook die storie is van baie mense “wie se stories nooit gehoor sal word nie”.

Adriaanse het haar reeds as skrywer van veral liefdesverhale bewys. Sy skryf toeganklik en toon weer eens haar fyn ingesteldheid teenoor die nuanses van die lewe. Hierdie is ’n boek wat gerus gelees kan word, want dit verwoord nie net die geskiedenis van apartheid-Suid-Afrika en die wit mense se rol en plek daarbinne nie, maar ook die universele gevoel van aanvaarding van jou klein rol in die groter geskiedenis van die land en die wêreld.

’n Klein lewe is ten slotte ’n reis na begrip en aanvaarding – iets wat ons in die land nodig het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top