Die onsamehangende en subjektiewe mymeringe van 'n reisende skrywer

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

Die “door-to-door”-rygeleentheid lui stiptelik om 04h00 die klokkie. My tas staan gereed.

Ek kyk effe verbaas na die blinkswart Mercedes wat langs die sypaadjie wag en wonder of die bestuurder by die regte adres is. Skrywers in Suid-Afrika, of altans hierdie skrywer, word gewoonlik nie soos ’n celebrity in ’n slap kar rondgery nie. Dalk het my boeke oornag in internasionale wonderwerke verander.

Ek mik vir die voorste passasiersdeur, maar die agterdeur word vir my oopgemaak en ek gly op die ruim agtersitplek in. Vou my hande op my skoot en is bly oor die nuwe rooi leerhandskoene wat ek present gekry het. Dis winter en nagdonker in die Kaap.

Die dorp se strate is verlate – selfs die koerantverkopers se plekke is nog leeg. In die bushokkies lê hopies onder koerante.

Ons begin met die maklikste onderwerp. Die Kaapse weer. Dis ’n koue, nat winter. Hy woon in Khayelitsha, waar die watertafel baie hoog is.

Ek maak ’n opmerking oor die luukse motor en hy vertel dat dit eintlik bedoel is vir die parlementariër wat ná my opgelaai moet word. Daar is egter nie tyd om tussen die twee ritte motors te wissel nie. Hy moes my eintlik met ’n Toyota Corolla kom oplaai het.

Hy vertel dat hy die vorige dag ’n Amerikaanse gesin in Gansbaai gaan haal het en hoe mooi die pad vir hom was. En dat hy bevoorreg is om soveel interessante plekke te sien. Sy vorige werk was in ’n verspreidingsdepot. Hy is net jammer hy kan nie vir sy vrou en kinders al die plekke wys nie.

By Kruispad vra hy waarheen ek so vroeg in die oggend op pad is en ek vertel van die fees in die bos waar ek oor my nuwe boek gaan gesels.

Hy vra of my boeke in die boekwinkels verkoop word.

Ons gesels ’n rukkie oor stories en skryf.

Toe die helderverligte lughawegebou voor ons opdoem, kyk hy effe terug en vra: “Why don’t you write stories about real people? There are so many stories in this country.”

Ons vat die bultjie na die “drop and go”-area en toe hy die motordeur vir my oopmaak, is ek hom steeds ’n antwoord skuldig.

Ons groet en ek kyk ’n oomblik lank die blink motor agterna – wat op pad is om die parlementariër te gaan oplaai.

Die vliegtuig is stampvol besigheidsmense wat net met hulle aktetasse gewapen vir die dag noordwaarts vlieg. Die meeste is hard aan die werk toe die son êrens bo die Vrystaat opkom.

Dit word om verskeie redes ’n reis en ’n fees om te onthou.

  • Op OR Tambo-lughawe sien ek my tas is oopgebreek en van my besittings is gesteel. Die lugdiensbeamptes lig my in dat die lugdiens nie verseker is vir diefstal uit tasse nie.
  • By die feesdorp aangekom, beland ons en ons gehuurde motor in ’n slaggat so groot soos ’n kinderswembad. Ons sit langs die besige pad tussen die lughawe en die dorp met een papwiel en twee gebuigde wielnawe. Die werknemer van die verhuringsmaatskappy wat vir ons ’n ander motor bring, skud sy kop en sê dit gebeur daagliks. Hy weet nie waarom die slaggat nie reggemaak word nie.
  • Die hotel waar ons tuisgaan, wemel van bekende gesigte. Akteurs, sangers, sepiesterre.
  • Die eerste helfte van die vorige eeu het vir Paul de Groot en André Huguenet en hulle rondreisende toneelgeselskappe gehad. Later was daar die streeksrade. Ons het die feeste.
  • Ek het lanklaas soveel mense by ’n fees gesien. Manne in kakie en vroue in feesklere. Kinders wat agterna streep. Klein studentemotors en blink viertrekvoertuie staan bankvas geparkeer.
  • Die feesorganiseerders ontvang en bederf ons met byna outydse hartlikheid.
  • Die musiekfees waarmee die fees afgesluit word. En 40 000 mense wat hand op die hart en vuis in die lug “Die Stem” sing. (Na raming was daar 45 000 mense, maar nie almal van ons het saamgesing nie.) Terwyl die musiek en stemme oor die dorp weergalm het, het ek gewonder of die swart parkeeraanwysers buite die feesterrein die lied herken.
  • Op die terugvlug, ’n gesprek met ’n Nederlandse sanger wat vertel hoe mooi en veerkragtig Afrikaans vir hom is en dat hulle as jongmense geglo het wanneer die Berlynse muur die dag val, sal daar vrede op aarde wees.

Koop die DVD van Love Actually by Kalahari.com

Gedurende die volgende maand moet ek nog ses vlugte haal en nog ’n fees besoek. Elke keer as ek die lughawegebou instap, dink ek aan die openingstoneel uit die film Love Actually, waar die aankomssaal op Heathrow-lughawe gewys word. Daar is min plekke waar daar daagliks soveel stories bymekaar kom en skouers skuur soos op ’n lughawe.

Van die jongman by paspoortbeheer op OR Tambo wat vertel dat hy nie werk in Suid-Afrika kon kry nie en nou vir iemand in die noorde van Mosambiek boer (hy is gelukkig, sê hy, maar hy mis sy mense en die bekende omgewing baie) tot die Brit langs my op die vliegtuig wat met ’n wit Zimbabwiër getroud is en tussen Engeland en Botswana pendel, want sy vrou wil nêrens anders as in Afrika woon nie. “She has never set foot outside of Africa,” vertel hy. “She will never leave Africa. This is her home.”

Daar is ook nog die oudpolisieman wat nou seerowers in die Indiese Oseaan jag.

Passasiers wissel met elke vlug, en elke fees het sy eie karakters, maar daardie aanvanklike vraag word my konstante reisgenoot.

Ek kyk met nuwe oë, en word herinner aan ’n spreuk wat in verskillende dele van Afrika voorkom: “Until the lion has his own storyteller, the hunter will always be the hero.”

Hierdie spreuk impliseer dat die storie aan die storieverteller behoort. Elkeen om my het dus nie net een verhaal nie.

Lewensverhale is so gewild dat ons nie eers meer wag tot ’n hofsaak se uitspraak gelewer is voor die boeke op die winkelrakke verskyn nie. Politici en bekendes se lewensverhale word opgeteken terwyl hulle nog hierdie kant van die graf is. Elkeen met sy eie skakering van die waarheid. Dit hang af van watter kant van die binnekamer- en kantoordeur jy kyk.

Selfs die geskiedenishandboeke is tot so ’n mate herskryf dat die waarheid nou verskillende variasies gekry het.

Ons weet tog die geheue is ten beste ’n onbetroubare verteller. Beteken dit dan dat alle verhale eintlik in wese maar fiksie is?

Ek kyk om my rond en wonder wie se storie(s) in hierdie land die belangrikste(s) is en wie s’n voorkeur moet kry.

Wat hierdie antwoord vir my aansienlik bemoeilik, is die feit dat dit voel of ons ná 1994 teen die agtergrond van die Waarheid-en-Versoeningsverhale skryf. Hoe belangrik en relevant is enige verhaal as dit daarteen gemeet word?

NP Van Wyk Louw

Hoe kan ons hier weggaan sonder siddering, want weerloos is ons teen die gebeure van die dinge.

Ek verbeel my dit was NP Van Wyk Louw wat in een van sy gedigte min of meer die volgende gesê het: “Hoe kan ons hier weggaan sonder siddering, want weerloos is ons teen die gebeure van die dinge.”

En tog wil ek hoop dat politiek nie ons stories sal steel nie. Dat ons sal kan aanbeweeg, al is dit sidderend, agterom die politiek tot waar ons verhale vry is van belemmeringe. Waar net die storie gedien word.

Met elke reis kom ek agter sommige vrae lei jou na die antwoorde; ander vertak egter tot digte doringbome waarin jy maar net versigtig kan rondtas. As jy gelukkig is, kry jy dalk iets raakgevat. Die kans is egter groot dat dit ’n doring gaan wees. Want die storieboom in Suid-Afrika was maar nog altyd ’n stekelrige affêre. Dalk is dit elders ook die geval – die kanse is goed dat alle stories inherent ingewikkeld is.

Ek kan egter net uit my hoogs subjektiewe belewenisse skryf.

Jare lank word daar gewag op die Groot Afrikaanse Roman. (Dalk ook die Groot Suid-Afrikaanse Roman.) Elke literêre werk word geweeg. Sommige meen dis reeds geskryf, ander wag steeds, soos die Jode op die Messias. Asof Afrikaans en Suid-Afrika een metanarratief kan hê. As ek om my kyk, kan ek nie anders as om te glo ons storie is een met baie fasette, verskillende gesigte en nog meer kleure nie. Dat dit nooit in een gedaante gaan verskyn nie, maar eerder soos die tokoloshe in vele gedaantes gaan aanmeld.

As daar een ding is waarvan ek in ’n vliegtuig selfs meer bewus is as van die stories om my, is dit die grond onder my. En ek dink aan hoe grond steeds in soveel verhale ’n karakter is.

Jare lank al word daar oor grond gekibbel; daar is steeds broedertwis, selfs moord. Ons verstedelik al meer, maar ons kry nie daardie naelstring geknip nie.

Ek sien die plattelandse dorpe wat al kleiner krimp soos die mense wegtrek op soek na beter lewensomstandighede – en tog gaan haal ons steeds dorp- en plaasstories terug. Ons grawe steeds die dorpsidioot en die bywoner op. Het ons ons lewens so ontsmet dat ons deesdae sukkel om tekstuur vir ons stories te vind?

Ek kyk na die swart man in die sitplek langs my, luister na sy stem en dink aan die vele wat voel dit is heiligskennis om vanuit ’n wit agtergrond ’n swart of bruin karakter se perspektief te probeer skryf.

Soos ek sê, die vertakkings strek wyd, en is stekelrig. Die vliegtuig het egter nou eers geland en die fees se hekke is gesluit. Dit is tyd om huis toe te gaan. Tyd om te skryf.

Toe die motor by die lughawe uitdraai, het ek steeds nie ’n antwoord nie, maar in my geestesoog sien ek karakters soos Marlene van Niekerk se Agaat, Deon Meyer se Bennie Griessel, Ludo Loeloeraai van Etienne van Heerden, Chris Karsten se kolonel Eddie Thom, en vele ander. Dalk is daar nie iets soos fiksie of niefiksie nie. Dalk is skryf maar net ’n kristalliseringsproses. Dalk kom al die karakters om ons, al ons indrukke, die belewenisse, die stories en selfs die vrae op ’n manier bymekaar om stories te vorm wat deels groter as die waarheid is. Deels ’n leuen.

Tot ons weer ontmoet – as karakters in mekaar se stories. Op ’n vlug, op ’n fees of in ons drome.

 

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
S.V. Petersen se tydskrifverhale
– Steward van Wyk
2008-07-11
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die familiesage as volksverhaal: Afrikanernasionalisme en die politiek van reproduksie in Marlene van Niekerk se Agaat
– Irma du Plessis
2010-09-28
Essay
'n Skedonk van misterie
– Abraham H de Vries
2005-05-11
Klaskamer
Wat jy moet weet van wetenskapfiksie
– Fanie Viljoen
2009-01-22
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Kwessies van mite en moraliteit by G.R. von Wielligh se Boesman-optekeninge
– Jean Lombard
2014-02-11
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
//Gãuwa dwaal vennag: Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort ondergrawe deur trieksters en transdans
– Gitte Postel
2010-01-20
Briewe deur die lug
Amos met die klein mondjie
– Kirby van der Merwe
2000
Akademies
Hoe dit gekom het dat ek Poppie geskryf het
– Elsa Joubert
2004-12-15

Young Voices Conference 2004
Vir Niemand en Nêrens
– Danie Marais
2004-11-04

Resensie
Die Afrikaanse skryfgids
– Izak de Vries
2012-11-06

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top