Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!
Skrywer Debbie Loots vertel meer oor die eerste dae van die inperking:
Dag 11: “Aanhou beweeg en geraas maak” deur Debbie Loots
Ná drie jaar in Seepunt het ek besluit om Tuine toe te trek. Die laaste twee weke van Februarie het ek ywerig alles uitgegooi wat ek gevoel het oorbodig is voor die groot trek stadskom toe.
My nuwe plek het minder boeke, my kaste minder klere. Die mure is meestal kaal; my Tretchikoff-afdrukke het ook in die slag gebly. So ook my ou meubels en matte. Maar my fiets het ek gehou. Net voor die inperkingsdeur toegeklap het, het ek darem die Argus-toer en nog twee Suikerbossie-ritte ingekry.
Dag 1 is gou verby. Seepunt se seereuk, die geskarrel van ’n werkspertyd haal, dag zero se laaste aankope, moeë bene van die laatmiddagtrap Kampsbaai se bult uit is nog vars in my geheue. Ek ontdek mens kan nuusuitsendings op jou selfoon kyk – die stemme van nuuslesers op DStv Now vervang die musiek wat ek gewoonlik deur my JBL-luidspreker stroom. Ek dra my foon en JBL oral saam met my in my nuwe woonstel rond.
Die hoof van die mediamaatskappy waar ek as redakteur werk, probeer om al die drade van halfklaar projekte op ons WhatsApp-groep bymekaar te trek. Ons spannetjie voel vir my nes ’n klomp honde wie se leibande per ongeluk laat gaan is en nou blindelings in alle rigtings laat spaander.
Dag 2 WhatsApp-video ek my dogter in Durbanville. En bel ek my ma in Jeffreysbaai.
Dag 3 lees ek (op my foon) dat die Verenigde Arabiese Emirate die druk en verspreiding van alle koerante, tydskrifte en bemarkingsmateraal tydelik opgeskort het. Boonop verskaf ons maatskappy nie noodsaaklike nuus wat nog gedruk mag word nie. Ek en my kollegas hou ons eerste Skype-vergadering om te beplan hoe ons ons tydskrifte en koerantbylaes digitaal kan uitgee.
Ek bel my broers: eers die een in Melbourne en dan die ander een in Pretoria.
Dag 4 lees ek dat plaaslike uitgewers nuwe boeke vir tyd en wyl net aanlyn gaan uitgee. Wêreldwyd slaak bome seker ’n sug van verligting. Later krap ek my ou Kindle uit en laai dit. Ek het nie gedink ek sal dit ooit weer gebruik nie. Ek het jare gelede een boek daarop afgelaai en kon dit nie klaar lees nie. Die Kindle het amper ook in die slag gebly met my onlangse trek, maar nou’s ek bly dit het nie. Ek en my kollegas Skype-vergader weer later.
Ek mis my kleinkinders. Om hulle lyfies vas te hou. Ek verras my kleinseun altyd met ’n drukkie wanneer hy dit nie verwag nie, en plak soveel as moontlik soene op sy gesig voor hy dit regkry om homself los te wriemel en koponderstebo sy bal vir my te skop in sy gunstelingklere, ’n swart pak. My kleindogter is sy getroue handlanger. Hy speel ook op die strand en in die see met sy wit hemp en swart das. Hy droom daarvan om eendag die baas van ’n sekuriteitsmaatskappy te wees.
Ek WhatsApp-video my dogter in Somerset-Wes en praat met die kleintjies.
Dag 5 kom ek agter die stadskom se reuke is anders as Seepunt s’n. Ek sit vroeg buite op my balkon en kyk vir al die voëls. Ek is verbaas daar is so baie. Duiwe, swaeltjies, eende, hadedas, seemeeue, swart voëls met oranje vere onderaan hulle vlerke wat jy kan sien net wanneer hulle vlieg. Ek hoor elkeen se roepe; die stad is verlate. Nog ’n Skype-vergadering.
Dag 6 is die melk op. My woonstel is naby die Gardenssentrum. Ek kan stap. ’n Uitstappie. By die verkeersligte aan die punt van my straat staan twee hawelose mans met kartonborde. Daar is geen karre nie. Net die wind wat papiere en plastiekbottels oor die straat teen die pilare van die brug vaswaai. En ons drie. Die ingang van die winkelsentrum lyk soos ’n donker gat in die verte. Nog hawelose mense wat daar saamdrom, lyk dit my. Iemand skree. ’n Polisiewa staan voor die ingang. Ek loop vinnig skuins oor die pad.
Binne drom mense saam. Voor ’n paar van die donker winkels is versperrings. Die lang tou mense wat met trollies wag om by Pick n Pay ingelaat te word, strek tot amper by die sentrumingang. Almal gehoorsaam die voorgeskrewe veilige afstand tussen mekaar, soos aangedui deur die swart geplakte lyne op die vloer. Mense loer vir mekaar oor hulle maskers, sommige staan met serpe om hulle koppe en gesigte gedraai, ander stoot vinnig volgelaaide trollies buite toe.
Later lees ek op Facebook hoe iemand kla oor die “vagrants” wat om die sentrum rondloop en mense pla. Iemand anders skryf dat net een van die ingange van die sentrum se parkeergarage oop is, en dit is hoekom daar so baie haweloses in die omgewing is – hulle wys parkeerplek rondom die sentrum aan. Nog een skryf dat die polisie hulle na die nuwe tentedorp onder die snelweg se brug moet verwyder. Arresteer hulle, skryf nog iemand, terwyl ’n ander voel hulle moet uitgelos word. “Die mense is desperaat,” skryf hy. “Wie gee nou vir hulle fooitjies, noudat daar niemand meer op straat is nie?”
Dag 7 kry ek dit reg om my tienerdogter uit haar kamer te lok. Haar idee van haar ma ’n druk gee is om met haar vinger op my skouer te tik in die verbyloop sitkamer toe.
Sy sorteer ou foto’s en sny prente uit tydskrifte om collages van te maak. Sy is kunstig. Dit hou haar vir ’n halfuur besig.
Ek is tevrede met die nuwe aanlyn weergawe van ons eiendomsbylae wat gewoonlik op ’n Vrydag in gedrukte vorm in Business Day verskyn. Adverteerders is ook gelukkig. Nuwe horisonne, sê ek en my kollegas verlig en hoopvol vir mekaar tydens ons nou daaglikse Skype-vergadering. Ons maatskappy veg voort. Later lees ek Annie Grace se This naked mind op my Kindle.
Dag 8 sit ek vroeg op my balkon en kyk na die voëls. Die strate is stil. Twee leë MyCiti-busse ry in De Waalstraat af. ’n Gevoel van verlatenheid hang oor die stad, so asof sy in haar liefde verlaat is, oornag gelos is en nou op haarself aangewese is vir oorlewing.
Die melk is weer op. Dié keer ry ek met my kar die halwe kilometer Gardenssentrum toe. Ek ry verby die hawelose mans wat weer by die kruising staan, verby die ander wat voor die sentrum saamdrom, by die parkeergarage se enigste oop ingang na binne.
Agter in die lang tou voor Pick n Pay gaan staan ek op ’n swart streep agter my trollie. Handvatsels afgevee.
Dag 9 maak ek en my dogter die woonstel skoon en was wasgoed, die eerste keer vandat ons ingetrek het. Bonobo se “Days to come” speel deur my JBL-luidspreker.
Later oorweeg ek dit om te skryf. Maar dit wat ’n maand gelede betekenisvol gevoel het, voel vandag sinloos. Hoe skryf ’n mens fiksie terwyl die wêreld kantel, terwyl ons land en sy mense hulle in stormagtige waters bevind, met voorspellings van nog erger toestande wat kom? Allerhande bekommernisse knaag my vroegoggend wakker.
Agtuur die aand – vir ’n paar minute – bulder stemme, ’n geklap van hande, ’n vuvuzela, ’n kerkklok en Moslemgesange teen die hange van die stadskom uit.
Dag 10 maak die gekyf van eende en die Moslem-gebedroep my wakker. Ek stap op my balkon uit. Dis bewolk en reënerig. Die voëls baljaar al vroeg vandag. Hulle dobber in die lug rond, sweef sorgeloos en luidkeels heen en weer deur die mistigheid, gaan behoorlik tekere asof die stad aan hulle behoort.
Vandag gaan ek en my dogter prente uitsny vir collages en musiek speel. Aanhou beweeg en geraas maak, net soos die voëls.
Lees ook
Die boek van gelukkige eindes: ’n onderhoud met Debbie Loots
Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:
Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha
Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis
Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach
Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee
Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer
Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett
Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete
Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse
Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal
Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais
Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton
Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer
Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges
Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp
Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen