Die boek van gelukkige eindes
Debbie Loots
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795802034
Debbie Loots praat met Naomi Meyer oor Debbie se jongste boek, Die boek van gelukkige eindes.
Baie geluk met Die boek van gelukkige eindes, Debbie. Die omslag herinner my aan One day van David Nicholls. Maar One day se karakters kyk direk vir mekaar. En vir my verklap die omslag waaroor die boek handel: verhoudings. Maar hoekom kyk die karakters dan nie juis lieftallig na mekaar nie? Wil jy iets oor die tema van die boek sê (of oor die menseverhoudings)?
Baie dankie, Naomi! Ja, die tweetjies op die omslag kyk nie juis met liefde na mekaar nie. Maar ek dink dit weerspieël die onderliggende tema van die boek: hoe mense in intieme verhoudings verby mekaar kyk. Die storie gaan ook oor identiteit- en eksistensiële krisisse en sommige karakters moet boonop die gevolge van hulle geykte lewensieninge en gewoontes vierkantig in die gesig staar – nie noodwendig ’n mooi prentjie nie.
Die aanhaling voor in die boek, is: “If you want a happy ending, that depends, of course, on where you stop your story” (Orson Welles). Dit lewer kommentaar op die storie-aspek van die storie, die skep daarvan. Hoe het jy hierop afgekom (die aanhaling) en was dit vir jou ’n soort sneller tot die verhaal? Of het jy eers terwyl jy besig was om te skryf daarop afgekom?
Ek was reeds besig met die boek en het al op die titel besluit toe ek op Orson Welles se aanhaling afkom. Dit het my laat wonder oor waar ’n storie nou regtig eindig. Ek het toe besluit om benewens die klassieke verhaalkonstruksie van begin, middel en einde ook ’n gedeelte by te voeg, “Ná die einde”. Hierin is elke karakter se sogenaamde einde wat in die vorige deel verskyn het, uit die oogpunt vertel van ’n ander karakter met wie hy of sy in ’n verhouding staan. Dit gee ’n heeltemal ander perspektief – ons is die hoofkarakters van ons eie lewens en vertel vir ons stories oor onsself, maar in iemand anders se storie kan ons baie anders voorkom!
Tog, met die eerste karakter is dit nie kommentaar op ’n storie nie. Jy as leser is in die storie, in die karakter se vel. Waar kom die idee(s) van al die karakters vandaan? Ken jy hulle? As regte mense, bedoel ek.
Ja en nee. Alhoewel die karakters nie uit en uit gebaseer is op mense wat ek ken nie, gebruik enige skrywer vanselfsprekend wat sy in haar lewe sien en ervaar. So van die karakters se eienskappe het ek al gesien in mense wat ek ken, maar hopelik sal hulle hulself nie in die boek herken nie!
Waarom het jy die storie(s) geskryf?
Ek wou nog altyd ’n boek skryf wat uit ’n hele paar karakters se oogpunt vertel word, waar jy sommer op ’n kritieke punt in almal se lewens inval. ’n Bietjie soos wat die filmregisseur Robert Altman met Raymond Carver se kortverhale en een gedig in sy rolprent Short cuts gemaak het. Maar dit kon nie bloot losstaande karakters wees nie; hulle moes op ’n manier saamgebind word – en dis toe dat die idee van ’n sielkundige gebore is met wie hulle almal op een of ander manier te doen kry.
Mens lees soms doelbewus vir outobiografiese elemente. Soos die karakter wat by die garage sit en die wêreld bekyk. Wat dink oor haar kinders. Wie se stories kyk jy af as jy oor die vroulike karakters skryf: vriende, kennisse, jou eie?
Die stories is ’n sameflansing, van mense bekend aan my, of deur mense aan my vertel, of heeltemal uitgedink. As ek die boek in ’n genre moet klassifiseer, sou ek dit realistiese fiksie noem – ek kry my inspirasie uit realistiese of hedendaagse, herkenbare situasies – kyk maar om jou rond en jy sal baie van die mense en situasies in die boek herken.
En die mans. Is dit vir jou maklik om vanuit die manlike perspektief te skryf? Hoe skuif mens jou eie vooropgestelde idees en stereotipes opsy – en is dit nodig?
Ja, ek dink dit is nodig om jou eie vooropgestelde idees te onderdruk, en ek het hard probeer om dit te doen. Maar ek dink nie te lank of te veel daaroor nie.
Ek bly by verhoudings. Die skrywer se verhouding met haar karakters en wie mag wie se stories vertel. Kan ’n vrou ’n man se storie vertel? (En hoekom vra niemand kan ’n vrou ’n ander vrou se storie vertel nie, want ons is tog nie almal eenders nie, of hoe?)
Natuurlik kan ’n vrou ’n man se storie vertel, en andersom; dit moet net oortuigend gedoen word. En dis nie maklik nie, want mens moet op jou hoede wees vir stereotipes.
Jy skryf ook uit die perspektief van gay en straight mense, of in elk geval mense wat deur die samelewing in sulke boksies ingedwing word, maar waaroor jou karakters self wonder. Hoe het hierdie proses vir jou gewerk? Hoe verplaas jy jou in die vel van ’n karakter wat anders is as jy?
Met moeite. En met sensitiwiteit, maar ook met oorgawe, want ek voel mens moenie te versigtig probeer wees nie. Jy spring in en probeer swem. Maak net seker iemand met ’n reddingsboei is in die omtrek.
Glo jy aan gelukkige eindes? En wat beteken dit vir jou?
Op my ouderdom is ek nie meer so idealisties nie. Ek is bloot dankbaar vir wat ek het en probeer onthou niks is vir altyd nie.
Vertel my van jou, die skrywer, en waarmee jy alles besig is? Tydskrifte, ouerskap, kuns?
Ek werk vir The Creative Group-uitgewers as redakteur van die tydskrif REAL|life en die bylaag HomeFront in Business Day. Ek is ook besig met ’n nuwe roman. Ek kry op die oomblik nie tyd vir kuns nie, waaroor ek jammer is, want dit is ook een van my passies.
Ek het drie dogters, en is die ouma van twee kleinkinders. Ek doen alles in my vermoë om hulle so gereeld as moontlik te sien en te bederf. Ek kan soms nie glo ek is die stereotipiese ouma nie. Praat van clichés en gelukkige eindes.
Daar is ’n myn, net soos met Split. Doelbewus? Agtervolg dit jou?
Ek het beslis ’n sagte plekkie vir ’n mynhoop, ja.