Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

  • 5

Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Dag 4: “Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus” deur Marita van der Vyver

’n Hele ruk gelede, in wat nou soos ’n vorige lewe voel, het ek twee sinnetjies op sosiale media raakgelees waaraan ek die afgelope dae aanhoudend dink: “Dis nie gelukkige mense wat dankbaar is nie. Dis dankbare mense wat gelukkig is.”

Dis so ’n eenvoudige waarheid dat dit eintlik ’n cliché behoort te wees, soos die meeste eenvoudige waarhede, en tog gryp ek skielik daarna soos ’n drenkeling na ’n reddingsboei. In hierdie skrikwekkende nuwe wêreld van inperking en afsondering moet ons almal maniere kry om kop bo water te hou. Om nie weg te sink in wanhoop oor ons gebrek aan vryheid en ons finansiële kwellinge en ons algehele onsekerheid oor die toekoms nie. En dan praat ons nie eens van die vrees dat die virus ons of ons geliefdes sal aanval nie.

Ek het nog altyd gespot met tannies wat stigtelike dagstukkies skryf. En selfs (laat ek nou maar eerlik wees) met tannies wat sulke stukkies lees. Nou het die virus my sowaar in so ’n soort tannie verander. Cometh the hour, cometh the (wo)man, sê hulle mos, en in hierdie vreemde uur moet ons almal ’n ander soort mens word as wat ons voorheen was.

Daarom het ek op die eerste dag van inperking in Frankryk begin om elke dag ’n foto te neem van iets wat my dankbaar of bly maak, iets wat my hoop gee of moed laat skep, en dit met vriende en familie gedeel.

Terwyl Suid-Afrikaners die eerste dae van inperking aandurf, is ons in Frankryk reeds aan die einde van die tweede week. Europa is nou die middelpunt van die wêreldwye oorlog, soos president Macron dit onlangs genoem het, hoewel die VSA waarskynlik binnekort die gevaarlikste land gaan word, want daar sit hulle met ’n president wat tot omtrent ’n week gelede die omvang van die virus ontken het. “There’s a very contagious, um, there’s a contagious virus, it’s a, incredible. But it’s something we have tremendous control over.” “We’re all going to be great.” Woord vir woord aangehaal uit een van sy nuuskonferensies.

Die Franse maatreëls is weliswaar ’n bietjie minder streng as in Suid-Afrika. Ons mag darem nog met ’n hond gaan stap of om die blok gaan draf – een keer ’n dag, gewapen met ’n amptelike permit waarop jou adres en die presiese tyd van jou uitstappie aangedui is, want dit mag nie langer as ’n uur duur nie en jy mag nie meer as ’n kilometer van jou huis af gevang word nie. Of dalk is dit teen dié tyd slegs 500 meter. Die reëls verander aanhoudend en dis moeilik om tred te hou.

Maar ná byna twee weke van algehele afsondering deel ek graag my “Dagboek van dankbaarheid” met almal in my geboorteland wat die afgelope naweek benoud gevoel het oor hoe die volgende drie weke gaan verloop. Dis nie One hunded years of solitude nie, dis bloot Twelve days of solitude. Of Hoop in die tyd van korona, om die titel van nóg ’n roman van Márquez te vervorm.

Dag 1: By ons naaste kroeg en kuierplek staan laas naweek se boodskap nog op die swartbord geskryf: “Weens die koronavirus word daar nie meer as 100 mense toegelaat nie.” Maar nou is die deur toe en die buitetafeltjies verlate. Eendag as die virus ons nie meer bangmaak nie, as ek weer geïrriteerd raak met al die toeriste wat elke somer hier geraas maak, sal hierdie foto my herinner aan hoe hartseer die verlatenheid my laat voel het. En dan sal ek hopelik meer verdraagsaam teenoor die rumoerige toeriste wees.

Dag 2: Virusse kom en gaan, maar liefde bly staan. My geliefde het vanoggend vars brood by ’n oop bakker gevind – en vars brood is baie belangriker as toiletpapier in Frankryk – asook die eerste aarbeie van die seisoen in die plaaslike supermarkie. Ondanks die leë rakke wat winkels in Kuba of die Sowjetunie oproep. En op die sypaadjie voor die blommewinkel (wat ook moes toemaak) was daar bosse gratis blomme vir almal wat verbystap. The kindness of strangers! wou ek soos Blanche in A streetcar named Desire uitroep. Die bedagsaamheid van vreemdelinge kan ons dalk net deur hierdie krisis help.

Dag 3: “Jy moet eensaamheid kan hanteer.” Hierdie raad van die skrywer Dot Serfontein, ma van die skrywer Antjie Krog, het ek ’n jaar gelede op die prentebord langs my lessenaar vasgesteek. Vandag voel dit meer waar as ooit voorheen – en nie net vir skrywers nie.

Dag 4: Ek kan gewoond raak hieraan. Om in die middel van die week in ’n hangmat uit te strek – met die protesterende Calvinis in my binneste tydelik op mute gestel – en weer eens te besef hoe gelukkig ek is om nie in ’n klein woonstelletjie in ’n groot stad vasgevang te wees nie. Op ons plattelandse werf kan ek byna – byna! – ’n rukkie van die virus vergeet terwyl ek rustig langs die geel affodille lê en wieg.

Dag 5: As jy nie winkel toe mag gaan elke keer wanneer daar iets in jou yskas makeer nie, moet jy die varsprodukte benut wat jy in jou huis vind. Ek het vanoggend twee witlowwe, een peer, ’n brokkie bloukaas en ’n korsie van eergister se baguette gevind. Ons het croutons van die baguette gemaak en die res van die bestanddele saamgevoeg vir ’n slaai wat soos ’n lotusblom lyk. ’n Knypie sesamsaad en ’n knipsel sprietuie bo-oor gestrooi – en ons het soos konings geëet.

Dag 6: Soos Augustinus of Martin Luther – of was dit my oorle’ ma? – gesê het: “As ek weet dat die wêreld môre eindig, sal ek steeds vandag ’n appelboom plant.” Ons maak tuin teen angstigheid, saai blomsaad vir die somer, want ons weet die somer sál weer kom. En ons gaan blomme nog nodiger as gewoonlik hê.

Dag 7: Humor (en goeie tamaties) sal ons deur hierdie krisis kry. In my enigste uitstappie van die afgelope twee dae het ek die laaste eksemplaar van die satiriese koerant Charlie Hebdo in die enigste oop Presse Tabac-winkel in die omgewing aangetref. En hoewel die supermarkie se rakke steeds gestroop lyk, het ek ryk gevoel toe ek met ’n kardoessakkie vol kleurvolle tamaties kon uitstap.

Dag 8: Uiteindelik is my jongste kuiken terug in die nes! Toe Macron laas week die inperking aankondig, was ons studentedogter in haar universiteitstad in die noorde van die land vasgevang. Die meeste treine na die suide is onmiddellik gekanselleer en sy moes by ’n klasmaat se ouers in ’n dorp naby Lille gaan skuiling soek. Gister kon sy oplaas plek in ’n trein kry, maar toe dié trein ook op die nippertjie gekanselleer word, moes sy tot in Parys reis en daar van stasie verander. Aangesien openbare vervoer in die stad bitter skaars en baie gevaarlik geword het, het sy ’n uur lank met ’n swaar rugsak deur verlate strate gestap, terwyl ons hier by die huis heeltyd stres dat die laaste trein na Avignon ook gekanselleer gaan word voordat sy kan wegkom. Al wat ek nou wou doen, was om haar styf vas te druk, maar sy het my gekeer. “Nee, Mamma, kom ons wag eers vyf dae om te sien of ek nie die virus opgetel het in my reis deur die land nie.” Sy is natuurlik reg. Ons moet nou rasioneel eerder as emosioneel optree.

Dag 9: Vir my vriende wat wil weet hoe die “pas” lyk wat ek moet wys elke keer as ek die huis verlaat: Hier is ’n prentjie van die Attestation de déplacement dérogatoire (Verklaring van noodsaaklike verplasing), wat teen môre weer anders gaan lyk omdat die reëls intussen nog strenger geword het. Afgeneem onder die eerste bloureënbloeisels van die lente in ons agterplaas. Skoonheid bied tog troos teen al die reëls en regulasies.

Dag 10: Verstom om te sien dat die wildevyeboom agter die huis reeds klein blaartjies en babavytjies dra. Die lente kom vanjaar besonder vroeg, asof die natuur wil vergoed vir die gemors waarin die mensdom verkeer.

Dag 11: Days without end – dis hoe dit begin voel, vasgevang agter glas, verlangend na die wye wêreld daar buite. Maar daar is ’n streep sonskyn op ons kleiteëldak, en die bome anderkant die dak word elke dag groener, en ek het eindelik tyd gekry om hierdie lieflike boek te lees.

Dag 12: Pa en dogter werk in die eetkamer. Hy het sy hoed op, want hy kan nie meer wag vir ons daaglikse stappie in die wingerd voor die huis nie. Ek dink aan my geliefdes in Suid-Afrika wat die naweek nie eens kan gaan stap nie, en ek tel weer eens my seëninge. Dalk kan ek vandeesweek ook nie meer gaan stap nie – wat my net nog meer aanspoor om nóú te gaan stap, ondanks die mistralwind wat my in normale omstandighede binne sou hou. Dis die nuwe normaal dié. ’n Staat van aanhoudende dankbaarheid.

Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 5

Kommentaar

  • Ronelle Beukes

    Baie dankie vir die deel van jou kwaranteindagboek. Ek het dit stukkie vir stukkie geskermdruk en vir my ma in haar grendelhuisie by die bejaardes in Porterville ge Whatsapp.

  • Sandra van Rensburg

    Baie dankie. Ek is op dag 59 van semi-ingeperktheid in Hefei, China. Ons is stadig besig om meer vryheid te beleef, maar so nog afgekap van fisiese kontak na buitewêreld, familie en vriende. Hierdie dagstukkies omarm baie van my persoonlike emosies en dankbaarheid. Dankie vir klein stukkies goud soos die skrywe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top