Eindspel deur Wilna Adriaanse: ’n resensie

  • 2

Eindspel
Wilna Adriaanse
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624075301

Eindspel, die nuutste roman uit die pen van Wilna Adriaanse, is die langverwagte vervolg op Dubbelspel. Hiermee word die verhaal van Ellie, die polisievrou, afgehandel. Met Dubbelspel het Adriaanse wegbeweeg van die romantiese verhale na die polisieromangenre toe. Met Eindspel voer sy die wegbeweeg van die romantiese genre nog verder, na die misdaadfiksie toe.

Die roman begin waar Ellie gemaklik op die platteland ’n gewone lewe lei. Sy het goeie vriende gemaak, werk in die kroeg en is somtyds die kerkorrelis. Daar is selfs sprake van ’n verhouding met die dominee. Sy doen retrospeksie na die traumatiese gebeure aan die einde van Dubbelspel en probeer haarself weer vind: “Dalk vat sy anderdag weer die pad, maar nou voel dit vir haar of sy eers ’n bietjie hier by die jakaranda en die leidam moet vertoef. As sy geduldig is, haal sy haarself dalk hier in.” Wanneer sy nie kan slaap nie, ondersoek sy haar pa se dood.

Dan, op ’n dag, besef sy dat haar doodgewone lewe verby is.

Ellie word weer ingesleep in die lewe van Clara Veldman, vir wie sy in Dubbelspel opgepas het, en wat nou verdwyn het en vermoedelik ontvoer is. Sodoende raak sy weer ingetrek in Nazeem Williams se ondergrondse lewe van misdaad. Enzio Allegretti, met wie Clara in die vorige roman in ’n verhouding was, is ook weg en so kom Ellie en Nick Malherbe, agent van Interpol en wat die sekuriteitshoof van die Allegretti’s is, weer by mekaar uit,

Net soos in Dubbelspel is die tema van speletjies speel en ’n dubbelspel weer belangrik in Eindspel, soos blyk uit die gebruik van -spel in beide romantitels, maar onderliggend daaraan is die gevoel dat dinge voltooi moet word – soos die titel vooruit wys. Tergende vrae is of Enzio ook saam met Clara verdwyn het, en later of hy iets te doen gehad het met Clara se verdwyning – veral as dit bekend raak dat hulle mekaar wel gereeld gesien het. Ander vrae is of daar mense in Nazeem Williams se binnekring is wat dalk iets te doen gehad het met beide Clara en Enzio se verdwynings: “As jy nie betrokke is by Clara se verdwyning nie en Williams se hande is ook skoon, is die vraag seker wie het haar? En waarom?” Of het die Chinese of Russe dit gedoen? ’n Ander speletjie wat voortgesit word, is dat Ellie en Nick hul onderskeie rolle in die misdaadsindikate moet voortsit sonder dat hulle uitgevang word. Verder is daar ook die belangrike speletjie tussen Ellie en Nick: “Al dansend om mekaar. Besig met ’n gevaarlike speletjie.” Maar dreigend en onderliggend in die roman is die tema van die spel met, en die onverskillige omgaan met, mense se lewens: Clara se ontvoering; die feit dat Ellie se motor deur ’n ander motor getref en sy beseer word; die koelbloedige moord op die ouer Allegretti’s, ens.

Adriaanse gebruik weer die tema van verhoudings wat ook in haar ander romans voorkom – veral Ellie se verhouding met Nick Malherbe. Die aangetrokkenheid tussen die twee is nog daar, en waar die speletjies en die geheimhouding oor wie hulle is van die eerste roman nou verby is, is dit duidelik dat die verhouding na ’n punt toe moet beweeg. Hulle weet in die hede van die roman dat hulle albei in die veiligheidsdiens werksaam is en werk nou saam om Clara en Enzio te vind: “Tussen hulle twee was daar nog altyd wantroue, en baie leuens. Die feit dat hy haar kom soek het en bereid is dat sy na Clara en Allegretti help soek, beteken hulle is met hulle rug teen die muur.” Maar dis die fyngevoelige spanningslyn tussen Ellie en Nick wat die verhoudingstema dryf, en die leser wil weet of die twee aan die einde by mekaar gaan uitkom.

Die ander bekende karakters is daar: Melissa is daar as Ellie se boesemvriendin, terwyl Happy en Brenda belangriker rolle speel as in Dubbelspel. Brenda veral lewer subtiele kommentaar op Ellie se lewe: “You know what your problem is – jy dink te veel. Let it go. Just be. Daai is baie eenvoudig.” Ellie en haar ma het ook nog die stram verhouding soos in die vorige roman. Ellie voel nie soos die tipiese ondersteunende dogter by haar ma se troue nie: “Haar ma het wragtig die jackpot geslaan. Nie net ’n nuwe man nie, maar sommer twee liewe dogters ook. En ’n seun.” Alhoewel die gemis en verlange na haar pa teenwoordig is, is Ellie nou meer klinies oor sy dood waar sy in haar spaarkamer diagramme, name, kaarte opgeplak het om sy dood te ondersoek: “Sy glo die mense wat aan die saak werk, doen hulle bes; sy weet ook hoe meer tyd verstryk, hoe skraler is die kans dat hulle die skuldige gaan vind.” Van die karakters wat in Dubbelspel minder belangrike karakters was, speel in hierdie roman belangriker rolle: Reggie, Gabriella, Elroy, Jonathan, Ken Visser.

Tipies Adriaanse is die ingewikkelde storielyn en die karakters wat nie eensydig en stereotipies uitgebeeld word nie. Dit lees nie moeilik nie, maar tog is die storielyn nie eenvoudig en maklik nie. Spanning word deurgaans opgebou en die onsekerheid rondom Clara se ontvoering en Enzio se verdwyning hou die spanningslyn hoog. In hierdie storielyn word skerp kritiese kommentaar oor hedendaagse Suid-Afrika gelewer. Dit laat die leser nadink oor die probleme in ons land – veral wat misdaad betref. Die karakters in Eindspel is deurleefde karakters wat getrou uitgebeeld word. Al is die misdaadwêreld nie een waarmee almal sal kan identifiseer nie, is die karakters in daardie ruimte en die polisieruimte lewensgetrou.

Die verhaal van Ellie is ’n lekker verhaal om oor ’n naweek te lees. Ja, daar is die voorspelbare gelukkige einde, maar die heldin, Ellie, is sterk, denkend en onafhanklik, net soos Nick ook sterk en onafhanklik is. Ellie is aan die begin van die roman stukkend: emosioneel en fisiek: “En in die plek daarvan rooi, opgehewe hale, soos merke op ’n snybord. En een lang letsel van haar bors tot by haar naeltjie.” Aan die einde van die roman is sy heel: “Dis soos hoop voel, besluit sy êrens in die nag. Hoop op iets normaals. Sy wil nie dink dat sy dit vir iemand laat doen het nie. Dit moet haar geskenk aan haarself wees. Hierdie behoort net aan haarself.” Maar Ellie en Nick is feilbaar en moes eers op hulle eie introspeksie gaan hou voordat die eindspel tussen hulle kan begin.

Foto van Wilna Adriaanse: Naomi Bruwer

  • 2

Kommentaar

  • Hi ek sou graag 'n derde boek wou lees.
    Dubbelspel en Eindspel was my hoogtepunt van die nuwe jaar sover. 😍😍

  • Gerald Nelson

    Ek hou baie van hierdie storie lyn. Een van die beste, mees getroue hanterings van hierdie tipe fiksie. Voorwaar die beste in 'n lang tyd...
    Ek stem nogal saam met die persoon hierbo, 'n opvolg boek kan net lekker leesstof wees! Wilna Adriaanse mag maar skryf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top