Donkerwerk: ’n onderhoud met Nini Bennett

  • 1

Donkerwerk
Nini Bennett
ISBN: 978-1-928426-60-8
Naledi

Nini Bennett praat met Naomi Meyer oor Nini se derde digbundel, Donkerwerk.

Nini, baie geluk met die verskyning van jou derde digbundel, Donkerwerk. Waarom die titel?

Dankie, Naomi. “Donkerwerk” dui onder meer op die donker materie in die kosmos: dít wat nie met die oog waargeneem kan word nie. Dit is ’n knoeifaktor. “Donkerwerk is konkelwerk,” lui die idioom. Die bundeltitel het niks met onderduimse aktiwiteit te doen nie, maar met die artistieke “geknoei”, die digterlike kunsgrepe tydens die skep van poësie. Afgesien van die melankoliese toonaard van die bundel het die verse ’n mistieke lading; die niesigbare word opgehef deur ’n fynkyk of ’n diepere nabetragting, soos Liekie Fouché se omslagkuns van die man met die verkyker ook suggereer.

In Donkerwerk skryf jy persoonlike gedigte oor studeerkamers, mense wat jy lief het, en ook gedigte met sosiale kommentaar. Wat is vir jou die inspirasie, wanneer weet jy dit moet ’n gedig word?

Die inspirasie vir ’n gedig betrap my onverwags – dit kan enige sintuiglike prikkel wees, iets wat iemand sê, iets wat ek lees ... ’n woord of ’n beeld as ingewing. Die gewaarwording is melankolies en hou verband met die drang om te “ontvlug”, om die Self te verplaas of transponeer na ’n alternatiewe werklikheid. Daardie hunkering of Groot Verlange waarvan Eugène Marais gepraat het.

Hoekom skryf jy gedigte?

Ek vra my dikwels af waarom. Dis eintlik ’n nuttelose aktiwiteit – harde werk, die meedoënlose weg van kritiek, ’n klein mark ... for poetry makes nothing happen. Tog, op ’n sekere manier is die skryf van verse soos die beoefening van ’n persoonlike spiritualiteit: dit behels meditasie, afsondering, toewyding en dissipline wat amper soortgelyk is aan die rites en katarsisse van sekere geloofsienings. Dit is ’n tipe Opdrag; iets wat ek moet doen. Ek put ook vreugde uit die spel met die taal en die intellektuele uitdagings wat poësie bied.

Jy skryf oor onder andere Leonard Cohen – vertel my van musiekinspirasies.

Ek en my lewensmaat, Mellet Moll, versamel musiek. Ek skat ons het na raming 18 000 musiekalbums, alles gedigitaliseer. Ek het grootgeword in ’n huis waar my ma en ouma musiekonderwysers en pianiste was, en musiek was maar altyd deel van my alledaagse lewe. Soos eet en asemhaal. Musiek is die heel grootste gawe – en die oermoeder van poësie. Ek luister na ’n wye verskeidenheid musiek, veral klassieke, neoklassieke of Gotiese musiek, byvoorbeeld Dairy of dreams, Lacrimosa, Brahms, ens. Klank wek woord en ritme en ek verkies musiek wat evokatief is tot die digproses. Leonard Cohen se dood was vir my ’n groot verlies, waarskynlik weens die poëtiese kwaliteit van sy musiek.

Jy skryf ook oor Stephen Hawking. Wat gryp jou aan om ’n gedig oor hom te skryf, en nie byvoorbeeld ’n kortverhaal nie?

Ek wou graag, binne die kosmiese spel van Donkerwerk, ’n portretstudie oor Stephen Hawking doen, een wat met minimalistiese taal die grootsheid en nietigheid van hierdie tragiese genie verbeeld. Sy lewe en werk rondom die konsepte ruimte en tyd teenoor sy eie sterflikheidsbewussyn as gevolg van motorneuronsiekte is ryk aan simboliek. Dit is ironies dat "God se hofnar", wat bes moontlik van die verborge kennis van die heelal kon blootlê, in die vernederde gedaante van ’n parapleeg moes kom. ’n Verhewe intellek, maar gestriem in kommunikasie.

Vertel my van jou: wat jy doen, ook met woorde.

Ek is op ’n wye basis werksaam as ’n vryskutwerker: as blogger, skrywer, vertaler, resensent, redigeerder en mentor vir aspirantdigters en -skrywers. Ek teken ook spotprente in my vrye tyd. Met woorde poog ek om ’n stem aan die buitestander te gee (ek voel al hoe meer soos een), maar om met elke nuwe stuk skryfwerk myself te verras; om te streef na ’n skeppende selfekspressie wat werklik vars, oorspronklik en outentiek is.

Wil jy dalk jou gunstelinggedig deel?

Donkerwerk

dat ek jou liefhet, ’n mededeling in die skemer
opreg, ’n kind wat op sy erewoord sweer
en dwingend, ’n ou mens wat in hoofletters skrywe

dat ek jou liefhet, vertroulik soos ’n vuurhoutjie
wat bakhand vonk en die vlam verdeel tot ek jou
gesig herroep in die maagdelike gloed van ’n kers

dat ek ’n alleenloper is soos jy
en dat ek jou liefhet, sodat ons saam
alleen kan wees

dat ek jou weggaan vrees, die meervoudige
eensaamheid van spieëls, die stil uitroep
van rimpelings in water

dat ek jou liefhet
my skaduwee, my donker kameraad
my beskermer en my bedreiger

dat ek jou liefhet soos die getuie van ’n visioen
of die geheim van ’n telefoonhokkie, die rugkant
van gesprekke skugter vorentoe gebuig:

om na jou te verlang
is om na die verlange self te verlang.

Jy is al bekroon vir jou kortverhale (soos met die UJ-debuutprys in 2003). Hoe verskil kortverhaal- en gedigskryf vir jou?

Kortverhaal- en gedigskryf is twee uiteenlopende denkprosesse. Met ’n gedig kies ek een idee of fokale punt wat met woorde gedistilleer word. Met ’n storie, weer, divergeer taal in ’n narratief met karakters. Soms voel dit vir my asof daar twee “personas” werksaam is in twee aparte kompartemente; en soms slaag ek daarin om die twee te integreer en te versoen. Die skryf van prosa is emosioneel ligter as poësie; om ’n gedig tot voltooiing te dwing, vra soms baie van ’n mens. Poësie is intens; prosa het groter vermaaklikheidswaarde. Met prosa lê die gratifikasie daarin dat die lesers die storie (moet) geniet. Poësie, aan die ander kant, betower (of mesmeraais) mense.

Wat lees jy of watter films spreek tot jou?

Ek lees baie wyd en trek nie my neus op vir sekere lektuur nie. Alle lektuur het lesers en het ’n funksie. En alles word teks(tualiteit), of dit ’n strokiesprent, ’n geelperskoerant of Nobelbekroonde roman is. Skrywers wat ek op op die oomblik lees, is Siri Hustvedt, Joydeep Roy-Bhattacharya, Breytenbach se Op weg na Kû, Marlise Joubert se Grondwater, asook Arabiese digters soos Khaled Mattawa. ’n Ander “boek” waarmee ek besig is, is Mellet se ouma se 1933-Bybel. Die kantaantekeninge, notas en onderstreepte dele, kompleet met datum en al, is ’n fassinerende klein metateks op sy eie, amper soos ’n versteekte biografie binne-in die groter narratief waarvolgens sy haar lewe gerig het. Ek lees nou letterlik (!) die Groot Boek deur iemand anders se bril. Lees is inderdaad ’n voyeuristiese aktiwiteit, maar ook een van deernis. Die films wat tot my spreek, beslaan honderde of meer en dis baie divers. Ek het ’n groot liefde vir die filmkuns van Terrence Malick en Krzysztof Kieslovsky as dit by die estetiese kom.

Is jy besig om iets anders te skryf?

Ja, ek werk om die beurt aan drie manuskripte: poësie, literêre kortverhale en satiriese sketse (en laasgenoemde geniet ek baie). Die kortprosa nader nou vinnig voltooiing en ek hoop om dit binnekort aan ’n uitgewer voor te lê vir publikasie.

Baie dankie vir prikkelende vrae, Naomi!

 

  • 1

Kommentaar

  • Nini is 'n inspirasie, haar gedig trek my aandag na opregte liefde en die gebruik van metafore beïndruk. Met haar antwoorde op die vrae ontbloot sy haar taalkarakter en -kennis wat my onbewustelik lok en uitdaag om my taal beter uit te druk. Dit was 'n voorreg om hierdie onderhoud te lees. Baie dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top