Toyota US Woordfees 2019: Onderhoud met Remona Voges oor Penseel & Kie

  • 0

Naomi Meyer het met Remona Voges, redaksielid by LiNet, gepraat oor die produksie Penseel & Kie waarby Remona en ander digters by volgende jaar se Woordfees betrokke is. 


Remona, jy is volgende jaar op die Woordfeesprogram by ’n Penseel-item. Wat is Penseel?

Penseel is 'n studentebundel wat deur die US Departement Afrikaans en Nederlands se VER[ras] (Vereniging vir Afrikaansstudente) saamgestel word uit gedigte en vonkfiksie wat vooraf deur 'n paneel literêre kenners gekeur is. Dit word jaarliks vrygestel. Hier is 'n resensie van Penseel 2019. 

Die voorblad van Penseel 2019

Vir hierdie geleentheid moet jy ’n gedig skryf (wat sekerlik nog ’n geheim is). Miskien kan jy van jou ander gedigte of werk deel?

Ja, die gedigte vir die vertoning is op hierdie stadium nog in wording. Ek deel egter graag 'n gedig wat in Penseel 2014 opgeneem is. Die gedig is na aanleiding van 'n skildery deur Frida Kahlo geskryf:

My Birth deur Frida Kahlo (1932)

Die geboorte van Frida Kahlo
Na "My birth" deur Frida Kahlo (1932) 

Die kind met ’n mond gebore
donkerblou en dig soos
die Asteekse Tlazolteotl se
afspriet beurend na die lig terwyl
die Maagd van Verdriet roep
druk haar terug!
Klein godin van sonde
rou en gapend soos ’n wond of vis
’n dogter, lewend in
’n vloedsluis van bloed.

 

Hoe beïnvloed jou musiekagtergrond jou skryfwerk en omgekeerd?

Wanneer 'n mens musiek studeer, leer mens in die proses 'n heel bepaalde dissipline aan. Die meeste mense kan byvoorbeeld nie 'n musiekeksamen wing nie. Dit is nie soos om 'n toetslokaal onvoorbereid binne te stap en te gaan sit en antwoorde gorrel nie. Néé, jy gaan sit op jou klavierstoel of wat ookal en as jy jou note nie ken nie, gáán jy jouself voor 'n saal vol wêreldklas musici belaglik maak. Dit is nie 'n mite dat musiekstudie met baie ure se bloedsweet en trane, laat aande en baie liters wyn (vir die alomteenwoordige pyn!) gepaard gaan nie. 'n Mens het nie 'n ander keuse as om te leer om jou tyd op die doeltreffendste manier moontlik te bestuur nie. As jy oorweldig is en dit voel asof daar nie tyd is om by alles uit te kom nie, máák jy tyd. Dit is maar dieselfde met skryfwerk. Ek is nie iemand wat deur 'n muse opgeraap en weggevoer word na 'n plek waar woorde soos 'n vloedsluis uit my pen op papier stort nie. Skryf verg dinkwerk. 'n Mens moet dikwels maande rondspeel met 'n idee voor die woorde inmekaar begin pas en 'n gedig tot stand kom. Dit is oefen, oefen, en nogmaals oefen. Die sukses van 'n gedig hang (soos enigiets anders!) uiteindelik af van die eindelose vermoë om moeite daarmee te doen. Groot dele van die skryfproses en musiekmaakproses is banaal en onromanties, maar wanneer jy uiteindelik daardie godsonmoontlike Chopin-etude baasraak of met 'n mooi sonnet in jou hande staan, is die gevoel van nuutskepping of herskepping van onskatbare waarde. Niks is beter as daai "aha!" gevoel nie. So dis alles eintlik vreeslik egoïsties, is dit nie Naomi?

Vertel asseblief nog meer van die Penseel-item waarby jy betrokke is en die ander skrywers/digters wat saam met jou daar optree?

Penseel & Kie word aangebied deur die US Departement Afrikaans en Nederlands met Mercy Kannemeyer as aanbieder. Die vertoning behels voorlesings van nuwe werk deur alumnidigters van Penseel, onder wie Danie Marais, Bibi Slippers, Herschelle Benjamin, Danie Botha en Franco Bassi. Die opdrag sentreer rondom gedigte met Stellenbosch as tema. Daar tree ook nuwe, jong stemme op wat onlangs in Penseel gedebuteer het.

Herschelle Benjamin, Danie Marais en Bibi Slippers is van die US alumnidigters wat by Penseel & Kie optree

Waarna sien jy (nog) uit op volgende jaar se Woordfeesprogram?

Volgende jaar se program het soveel opwindende items, ek weet eerlikwaar nie waar om te begin nie. Daar is fantastiese items by die boeketent te sien – te veel om hier te noem. Dieselfde geld vir die visuelekunsprogram.

Ek is baie lief vir die teater en daar is 'n magdom produksies waarna ek vreeslik baie uitsien. Debuutproduksies sluit in Die dinge van 'n kind, wat op Marita van der Vyver se roman gebaseer is, met Cintaine Schutte in die hoofrol. Valsrivier, ook 'n debuutproduksie, is deur Saartjie Botha vir die verhoog verwerk en het 'n stellar cast met onder meer Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam. Ek het verlede jaar tot my groot teleurstelling In slavenhuis 39 en Tienduisend ton misgeloop – dit is beide beslis op my lysie vir 2020. Ek sien ook uit na Nico Scheepers se nuwe produksie, Die engel by die dam.

Wat musiek betref, is daar ook vele hoogtepunte, maar ek sien veral uit na die internasionaal bekende pianis Mariam Batsashvili se klaviersolokonsert in die Endler, en natuurlik die US Koor se konsert. Die talentvolle violis David Bester en kitaarspeler James Grace doen 'n show, Paganini tot Piazolla, wat beloof om baie spesiaal te wees.

Nadat ek onlangs Nataniël se pragtige memoir, Kyk na my, onder oë gehad het, sal ek hom graag op die verhoog wil sien. En ek het 'n soft spot vir Jan Blohm met sy lieflike, sad oë en songs. Vir hom gaan ek definitief luister.

Lees ook:

Resensie: Penseel-studentebundel 2019

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top