Titel: Penseel-studentebundel 2019, jaargang 50
Samesteller: VER[r]AS
Uitgewer: Departement Afrikaans en Nederlands, US
Penseel is die Departement Afrikaans en Nederlands (US) se studentebundel en word saamgestel en uitgegee deur die VER[r]AS-komitee, oftewel die komitee van die Vereniging vir Afrikaansstudente. Sedert 1969/70 het die publikasie amper jaarliks verskyn en bekende Afrikaanse skrywers en digters soos Zandra Bezuidenhout, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Rachelle Greeff, André le Roux, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk se werk is deur die jare daarin opgeneem. Fanie Olivier en Danie Botha was die stigterslede.
Dit is altyd interessant om ’n studentebundel soos hierdie te lees – en in 2019 die verse van die sogenaamde post-Millennials, of Generasie Z, te takseer. Waaroor skryf studentedigters? Die meerderheid gedigte draai rondom die self in ’n tipe selfgerigtheid, ’n ekkerigheid, ’n bemoeienis met die (biografiese) self, maar ook met die self as aanlynpersona soos dit uitdrukking vind op die sosiale media. Hierdie selfgesentreerdheid stel ek nie noodwendig as ’n punt van kritiek nie, maar om konteks te bepaal. Jong digters se verse word immers gekenmerk deur ’n jeugdige selfbewustheid waarin die gedigte nog nie die nodige afstand van meer volwasse poësie toon nie. Heelparty verse is dan ’n weerspieëling van die Zeitgeist: dit is vlugtig en vlietend van aard. Die bundel open met ’n sterk gedig van Lucinda Arendse waarin die geweld op die Kaapse Vlakte, asook die territoriale wedywering tussen bendes en die weermag, aan bod kom:
Die Americans ennie British is weer vollop innie strate.
Collateral damage.
Onse kinders en vrouens. Multiple stab wounds.
Hulle maak ’n statement. Die army kannie hulle territory wil ko oorvattie.
Hulle spite. Die dodetal styg net al hoe mee. Niemand kan hulle kee. (15)
Die ontluistering van die tradisionele Christen-geloof en die Jesus-“mite” is nog ’n onderwerp waaroor digters graag skryf, byvoorbeeld “Die Skeppingsverhaal” (24–25) van Charl Eksteen en “Hungover: 30 Julie 2019” (98–99) van Janke van Schalkwyk. Relatief tot ander verstematiek, handel heelwat gedigte oor seks- en genderkwessies, of liefdesteleurstellings. Zian V Blignaut, Wynand Kotze en Jean-Marie Potgieter lewer dan elk ’n handvol verse oor die belewenis van gay-wees, of om “uit die kas te klim”. Ek haal aan uit “Lewensoriëntering” van Zian V Blignaut, die tweede strofe:
Hy haal die blaaie uit ’n kas en ons kyk saam
na bisepse, sixpacks, nippels, v-lines
en Guess jeans wat die res bedek,
tot ons mekaar se denims begin ontknoop
en die eerste keer die anatomie verken
soos die Natuurwetenskap
ons nie kon wysmaak nie. (18)
Jeugdige seksuele ontdekkings word dikwels in verband gebring met verwysings na die skool- of universiteitskurrikulum waarin die (seksuele) ervaring geëkstrapoleer word as nuwe akademiese kennis. ’n Kenmerk van Suid-Afrika se Generasie Z is die openheid waarmee die politieke kwessies van die dag beskou word. Op p 37 berig Adriaan Havenga in “vier mans op ’n stofpad huis toe” oor die verlange na die plaas, terwyl Frederik R van Dyk se uitstekende “’n kantnota oor hulle wintervakansie” (92–93) deur die gebruik van understatement die talle bedreigings op ’n plaas (soos geweld/plaasmoord) suggereer. Nêrens word die “gevaar” op die naam genoem nie; daarom lees die vers soveel méér onheilspellend in die gebruik van onderbeklemtoning. As digter staan Van Dyk kop en skouers bo sy portuur uit. In sy opeenvolgende gedig, “decolonisation is discovery” (94), word die kwessie van dekolonisasie in verband gebring met die pyn en (wit) skuld tydens die Waarheid-en-versoeningskommissie van 1996. Ingrid Heÿdenrÿch en Alene Holder skryf sinvol oor ekologiese kwessies soos klimaatsverandering en die besoedeling van oseane met plastiek, en ek haal aan uit “’n Tweede Geboorte uit Water” deur Holder:
Stil soos akwatiese spoke
sweef die sakke
stil
in die oseaan.
Tussen seewier en paling en inkvis –
waar kom hierdie plastiese spoke vandaan? (43)
Enkele verse handel oor psigiatriese probleme, die invloed van die populêre kultuur van die dag, dwelms en aborsie.
Natasha Harmse verras met ’n knap Afrikaanse vertaling van “The fish” deur Elizabeth Bishop (29–31). Ook Janke van Schalkwyk verdien lof vir haar intertekstuele werkswyse in “Jammer Dirk en Daniël” (96), asook Heÿdenrÿch (40) vir haar spel met die vroulike inleiding van Breyten Breytenbach se “Die maer man met die groen trui”, soos dit voorkom in sy debuutbundel, Die ysterkoei moet sweet. Leroy Jooste se intertekstuele spel met Krog se gedig “Ma” (48) staan egter uit as ’n aangrypende en spontane Kaapse toespeling op dié bekende vers. Dit is verblydend dat hierdie digters erns maak met intertekstualiteit.
Die bundel reflekteer in sy geheel ’n nihilistiese bestaanswêreld, een waarin die studentedigters ontgogel staan voor die groter maatskaplike uitdagings van die dag. Woede en opstand en ’n drang om te skok vind uitdrukking in kru taal en jeugdige moedswil. In die geheel gesien is ’n bundel soos Penseel egter ’n riem onder die hart: Dit is aantreklik en pretensieloos uitgegee en gekeur deur kenners soos Elbie Adendorff, Amanda Lourens, Marius Swart, Dalene Vermeulen en Andries Visagie. En dit is ’n bundel wat die leser gerus op die boekrak kan koester, want net die tyd sal leer watter van dié digters nog in die toekoms hul merk gaan maak as gerekende skrywers of digters.