Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Cliffordene Norton

  • 0

Cliffordene Norton, redaksielid by LitNet, vertel vir Remona Voges van Cliffordene se kortverhaal wat volgende jaar in die Toyota US Woordfees se kortverhaalbundel opgeneem word.

Cliffordene, hartlik geluk met jou kortverhaal in die Woordfeesbundel!

Hoe voel dit om een van die 266 skrywers te wees wat gekies is om in dié bundel opgeneem te word? Het jy dit verwag?

Onwerklik. Dit was baie vreemd toe Naomi Meyer my Dinsdag bel. Ek wag nog heeltyd dat iemand vir my sê: “Jammer, ons het ’n fout gemaak.” Ek het drie keer vir die Woordfeesbundel ingeskryf en verlede jaar het ek besluit om nie deel te neem nie, want ek het gevoel: Oukei, genoeg rejection vir eers. Hierdie jaar het ek die storie geskryf, gestuur, daarvan vergeet, en toe bam!

Wat was die inspirasie vir jou kortverhaal?

Dit was ’n verhaal hierdie wat ek in die middel van die nag geskryf het. Ek het gedroom van ’n alledaagse oomblik tydens my eerste jaar op universiteit. Ek weet nie hoeveel is droom en hoeveel is ’n herinnering nie. In my droom stap ek en ’n maat klas toe, en sy vertel my van haar grootwordjare. Haar ma was ’n huishulp, en na haar ma se dood is sy deur die gesin aangeneem. Ek het begin wonder: Wat sou gebeur het as die ma nie gesterf het nie, maar steeds haar kind moes “opgee”? Wat dan?

Watter temas word in die kortverhaal belig?

Dit gaan oor hoe ’n ma voel wat haar kind in ’n sekere sin moet “weggee” om vir haar ’n beter lewe te skep. Wat eis dit van ’n ma? Ek weet ongelukkig van ’n paar gevalle waar die ma aangemoedig word om haar kind vir die pa se familie / ander mense te gee, want hulle kan beter vir die kind sorg. Ek het altyd gewonder hoe voel so ’n vrou. Ek is nie ’n ma nie, maar ek glo jy wil die beste vir jou kind hê. Maar wat voel jy?

Wat is jou skryfdissipline? Kan jy ons deur jou kreatiewe proses neem?

Ek het vir byna agt maande nie ’n dooie woord geskryf nie. Ek sou voor my laptop sit en presies weet wat ek wil skryf, maar niks wou uitkom nie. Ek het begin oplees oor hoe groot skrywers hul skrywersblok verbreek, maar niks het regtig gehelp nie. In Julie het ek Marina Keegan se The opposite of loneliness raakgelees. Daarin is ’n staaltjie oor hoe Marina nie aanvaar is deur ’n secret society nie. Sy het egter nie in sak en as gaan sit nie; sy het besluit om die tyd (twaalf uur per week) wat sy sou gewy het aan ’n secret society te gebruik om te skryf. Ek wou haar na-aap en het besluit om twaalf uur per week aan my skryfwerk af te staan. Dit werk glad nie, maar ek probeer elke dag skryf, al is dit net ’n sin of twee. Ek is nou ’n volgeling van die use or lose it­-dissipline.

Na watter items sien jy uit by volgende jaar se Woordfees?

Dit is die eerste Woordfees wat ek sal bywoon, en ek sien uit na alles! Een van my vorige kollegas het altyd met wonder oor die fees gepraat, so ek sien daarna uit om dit te beleef. Ek wil beslis die “A woman’s war”-gesprek, sowel as Ivor Price en Dana Snyman se gesprekke bywoon.

Lees ook 

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Jaco Fouché

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Santie van der Merwe

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Emile Joubert

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Naomi Meyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top