Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Naomi Meyer

  • 0

Naomi Meyer, inhoudsbestuurder van LitNet, vertel vir Remona Voges van Naomi se kortverhaal wat volgende jaar in die Toyota US Woordfees se kortverhaalbundel opgeneem word.

Hallo Naomi! Baie, baie geluk met die verskyning van jou kortverhaal in volgende jaar se Woordfeesbundel! 

Hoe voel dit om een van die 26 skrywers te wees wat gekies is om in dié bundel opgeneem te word? Het jy dit verwag?

Dankie, Remona. Ek is verras en baie bly. Ek het die Woordfees se programbekendstellingsfunksie in my hoedanigheid as redaksielid/inhoudsbestuurder van LitNet bygewoon, en eers van my inskrywing onthou toe Marlise Serfontein op die verhoog stap om die lys van skrywers wat die bundel gehaal het, voor te lees. Ek was oortuig daarvan dat ek nie ’n kans staan nie. Ek het nog so baie om te leer. Ek het agterna gedink ek het dalk gedroom dat sy my naam gelees het.

Wat was die inspirasie vir jou kortverhaal?

Inspirasie is ’n vonk én dis ’n stadige vuur ook. Vir my was die vinnige vonk en ruimte vir die inspirasie die skoolrevue wat onlangs by my kinders se laerskool plaasgevind het.

Ek was aan die een kant net ’n ma wat die vertonings bygewoon het, maar ek was ook op die kantlyn betrokke in dié opsig dat ek saans my seun se viool daar moes stem. Ek was elke aand vroeg reeds daar: ek het die grimering beleef, die kostuums, die afrigting. Die antisipasie van op die verhoog stap. Ek is self baie lief vir die teater met al sy onvoorspelbaarheid en drama, en speel al jare lank viool en in orkeste. Dit was vir my ’n vreugde om ’n week lank agter die skerms in die greep van die revue vasgevang te wees: ek het dit saam met my kinders beleef en geleef.

Die ware skoolrevue verskil wel radikaal van die droom-verbeelde-fiktiewe revue van my storie. Die ware skoolrevue was uiters professioneel, wil ek beklemtoon: Winnie Nel het dit by die skool op die planke gebring en dit was ’n toneelstuk wat my as volwassene ook aangegryp het. Ek kan amper nie daaroor uitgepraat raak nie. Op ’n positiewe manier!

Die storie-revue was iets anders. Daar was iets van die skoonheid van dít wat ek werklik beleef het, maar daar was ook ’n nagmerrie-komponent betrokke. Om die waarheid te sê, toe ek eers ordentlik besef met watter storie ek besig is (want toe het ek nou al ’n spul aantekeninge gemaak en die storie het al ’n ent ver organies ontwikkel), het ek besef dis ’n hartverskeurende verhaal en ek kan dit eintlik nie waag om dit te skryf nie. En juis daarom het ek dit gedoen.

Die stadige vuur was ouerskap; iets wat jare lank met my saamkom, vandat my kinders gebore is. ’n Ander manier om dit te stel, is dat die skoolrevue die doek was waarop die storie geskilder is en die kunsmateriaal wat gebruik is, was die karakters wat deel was van die storie. En beslis ook een afwesige karakter, dalk die hoofkarakter, wie se afwesigheid so allesomvattend is dat hy die spil is waarom die storie draai. Ek weet nie of mens dit inspirasie kan noem nie, maar die hitte wat die storie aangevuur het (die storie se titel is ook “Hitte”) is dalk maar vrees en die onvermoë om lewe en dood te kan beheer. Vonke is ook kooltjies wat wegspat van die vuur af, heel onverwags. Dis goeters wat in my kop was wat neerslag gevind het in die verhaal toe ek dit nie so beplan het nie.

Soos onverwerkte trauma, die verlies van vriende of familie wat mens nie besef jy eintlik met jou saamdra sonder om genoeg daaraan aandag te gee nie.

Dalk is die skryfproses soos ’n onlogiese droom. Want sowaar, hierdie storie is nie my eie storie nie. En tog was ek daar, en het ek dit beleef, so warm en werklik dat dit my baie ontstel.

Watter temas word in die kortverhaal belig?

Dalk is die hooftema van die storie verlies en outsiderskap. Hierby sluit aan die problematiek en noodsaak van veeltaligheid op universiteitsvlak, en die ongelykheid in die samelewing en skole. Ouerskap. Kuns. Die woud as storieruimte.

Wat is jou skryfdissipline? Kan jy ons deur jou kreatiewe proses neem?

Kom ek praat net oor hierdie storie en die proses van die skryf daarvan. Ek het tydens die revue al aantekeninge gemaak van dinge wat my opval: of dit nou iets is wat vir my uniek is, of dit iets is wat op die een of ander manier vir my uitstaan en of dit vir my snaaks is. Maar dit was nog nie ’n storie nie. Dit was net die detail.

Die skryfdissipline was om te skryf wanneer ek ook al kon. Ek het omtrent twee weke lank my aantekeninge verwerk en die kern van die storie het my een aand getref toe ek te moeg was om die hele verhaal helder neer te skryf. Daar was één idee. Ek het dit neergeskryf sodat ek dit nie vergeet nie. As ek daardie een idee/konsep moet neerskryf, gee ek weg waaroor die storie gaan. En dis eers iets wat die leser in die helfte van die storie rond besef (wanneer sy/hy nou al besef die karakter met wie hulle te doen het, is werklik eienaardig en wat soek sy nou juis by hierdie revue?). Een oggend, moontlik 'n Saterdag, was my man en seun nie tuis nie en het daar maats by my dogtertjie gespeel. Hulle Barbies en die Barbies se vriendinne het die onderste verdieping van ons huis oorgeneem. Ek het onverwags twee of drie ure gehad waartydens ek ononderbroke kon skryf. Ek het die storie daardie oggend klaargemaak en die volgende oggend, toe almal slaap, die teks oorgekyk. Dit was my skryfproses: gryp die tyd aan wat ek het.

Na watter items sien jy uit by volgende jaar se Woordfees?

Ek het by die Woordfeesbekendstellingsfunksie gedink hier’s al klaar weer te veel op volgende jaar se program wat ek wil bywoon as wat ek sal kán bywoon. Na die Penseel-item waarby jy betrokke is, Remona! En ek noem gou ’n paar items, uit die vuis, maar ek weet dat ek dinge vergeet. Maar hiervan neem ek reeds kennis. Liza Joubert op die klavier as sy saam met stilfilms speel. Die US-koor. Kinderteater: Jakkals en wolf Onbeperk. Huppelkind. Films soos Die verhaal van Racheltjie de Beer en Poppie Nongena. Teater soos Kamphoer en In Slavenhuis 39, Die dinge van ’n kind. Daar is etlike boekgesprekke wat ek wil bywoon, en taalgesprekke ook, soos die gesprek oor die Boere op die aardsdrempel. Remona, jou vraag gaan veroorsaak dat ek die Woordfees se programboekie nadertrek en mooier kyk. Vra my weer nader aan die Woordfees!

Lees ook 

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Jaco Fouché

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Emile Joubert

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Santie van der Merwe

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Cliffordene Norton

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top