Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Emile Joubert

  • 0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Emile Joubert (foto verskaf)

Emile Joubert praat met Naomi Meyer oor Emile se kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel gaan verskyn.

Emile, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

Die inspirasie was natuurlik die Toyota US Woordfees-kortverhaalkompetisie. Ek stap heeljaar met stories in my kop rond, maar soek ’n rede en aansporing om hulle neer te pen. Hierdie is ’n goeie rede om te skryf, want dis ’n wonderlike inisiatief deur die Woordfees, Toyota en Du Toitskloof Wyne.

My verhaal is iets waaraan ek lank gedink het. Dit handel oor ’n afgetrede polisie-offisier wat op sy sieke oudag – hier in die hede – deur ’n episode uit sy verlede gekonfronteer word. Die persoon wat daardie episode verteenwoordig speel ’n lewensbelangrike rol in die polisieman se voortbestaan. Die verhaal ontvou kort, en hopelik kragtig, met ’n vurk in die pad aan die einde. Ek probeer om stories te skryf met ’n duidelike begin, middel en einde – lesersbevrediging is my hoofdoel, benewens my eie behoefte om ’n skaflike storie op papier neer te pen.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

As die idee vatplek gekry het, stap ek vir ’n paar dae rond en laat dit broei. Nie aangenaam vir ander mense om my nie. Wanneer ek sit om te skryf, is dit gewoonlik “one take”. Ek het geleer skryf as kunsredaksielid van Die Burger, en daar het jy nie tyd gehad om rond te val, stories op ys te sit of te veel na te dink nie. Jy skryf dit so gou as moontlik neer, en so raak en waar as moontlik. Nadat ek die kortlys gehaal het, het Suzette Kotzé-Myburgh haar taal-towerstaf ingespan om als bondig te laat vloei. En dis dit.

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items op die program waarna jy uitsien?

Ek gesels by die Woordfees oor my boek Kanonkop – The making of a legend, wat die storie van Suid-Afrika se voorste wynplaas vertel. Die gesprek geskied tydens ’n wynproe en snoekbraai, so dit sal my heeldag besig hou! Maar aangesien ek op Stellenbosch werk, sal ek gedurig inval. Ek wil Lien Botha en Schalk Schoombie oor toekomsfiksie hoor praat, asook na Chris Karsten gaan luister. Ek het hom 30 jaar gelede gesien toe hy vir ’n paar weke by ons in Washington DC kom bly het, en wil hoor hoe hy as voorste misdaadskrywer ontpop het. Verder gebruik ek die Woordfees om my ou pelle uit die skryf- en musiekwêreld raak te loop. Om Ernest Hemingway aan te haal: dis ’n “moveable feast”.

Lees ook

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Santie van der Merwe

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Jaco Fouché

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Naomi Meyer

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Cliffordene Norton

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top