Web – 'n onderhoud met Naomi Meyer

  • 0

Naomi Meyer (foto: Izak de Vries)

Web
Naomi Meyer
Queillerie
ISBN: 9780795801204

Skrywers oor hul nuwe boeke. Jonathan Amid gesels met Naomi Meyer oor haar roman Web  

Hallo Naomi. Baie geluk met die publikasie van Web! Jy erken self op jou Facebook-blad dat Web onder ʼn amperse sluier van geheimhouding verskyn, en dat bitter min mense die boek/manuskrip onder oë gehad het voor dit nou verskyn. Soos lesers wat jou enigsins ken sal agterkom, is daar ʼn groot klomp raakpunte tussen jou eie lewe en onlangse geskiedenis en die gegewens van die roman – kan jy bietjie oor die “herkenbare” vertel? En die besluit om na amper ʼn dekade in Ierland saam met jou gesin weer na Suid-Afrika terug te keer en voltyds by LitNet te werk?

Wat is waar en wat is nie? Die skryf van 'n roman is dalk soos iemand wat sukkel met haar geheue: een oomblik is iets feit, die volgende fiksie. Dit het my self verbaas. En soms ontstel.

Daar is waarhede wat my verwysingsraamwerk is. Dit lyk wel baie herkenbaar. Ek het 'n man. Ek het twee kinders. My werksruimte is die internet. Ek en my gesin het jare lank in Ierland gewoon. Die roman moet dan sekerlik alles outobiografies wees?

Maar dis tog nie soos stories werk nie.

Ek weet dat gelukkige stories nie noodwendig goeie stories is nie. Geluk en vrede is prysenswaardige ideale om in die lewe na te streef, maar is dit boeiende storiemateriaal? Die volwasse hoofkarakter in Web is nie op 'n gelukkige plek in haar huwelik nie, byvoorbeeld. Hoe meer tragies die storie, hoe lekkerder. Bygesê, die feit dat die hoofkarakter en haar man nie in vrede en harmonie verkeer wanneer die storie afskop nie, beteken ook dat hulle sukkel om saam-saam hul dogtertjie op te spoor. Die verhoudingskwellinge help om die storie te dryf, as dit – so half teenstrydig – sin maak. Ek het gebly by my karakters se persoonlikhede, getrou probeer bly aan wie hulle is. Dikwels het dit teen my grein ingegaan. Soms was dit parallelle wêrelde van my eie wêreld, verwronge spieëlbeelde. Hoe verder dit van my af is, hoe meer vlot die skryfwerk. Hoe makliker vloei dit. Maar ek moet ook wéét waaroor ek skryf, so ek moet die omgewing ken. Jy weet?

Maar mens kry waarhede en valse waarhede, en dis moeilik om te onderskei wat is wat. Want al wat die werklike waarhede in my persoonlike lewe ten opsigte van hierdie boek is, is vertrekpunte. Dis bekende plekke vir my om my karakter in te plaas. Dink aan Google Maps. Ek vat 'n karakter van iewers af en sit haar neer. Sy kyk rond. Hoe voel dit in haar vel, hier waar ek haar gesit het? Wat sien sy?

Hier is tog een van die waarhede. 'n Meer ware waarheid, in 'n tyd waar niks meer die waarheid is nie (is dit nou nie baie gerieflik vir enigeen wat skryf nie ...?) is my manier van kyk. Ek en my gesin het jare lank oorsee gewoon en teruggekom Suid-Afrika toe. Ek kon hierdie manier van waarneming vir my hoofkarakter gebruik. Sy het eenmaal iewers gewoon, dis 'n land wat sy ken, dis hier. En toe gaan sy weg. Toe sy terugkeer na Suid-Afrika, was dit nie net soos ‘n Rip van Winkel en “Haai en toe word ek wakker en dit was alles net 'n droom en kyk hoe lyk dinge nou” nie. Nee, sy het weggegaan en verander. Gevorm deur elders. Terwyl sy weg was, het ander lewende goeters gebeur in die plek wat sy gedink het sy ken. Gis is by warm water gegooi, dit het begin skuim. Of swamme het begin groei. Sulke soort goed. Mens dink dis eintlik niks, maar dit lewe. En toe kom sy, nou ook 'n ander produk, terug na hierdie land wat tegelykertyd verander het.

Die ander deel van jou vraag oor wat my en my man, die regte mense, laat besluit het om terug te kom Suid-Afrika toe? Daar is 'n ellelange antwoord, maar hier is die kort weergawe: my seun (my oudste kind) moes skool toe gaan en ons moes besluit in watter land ons hom en sy sussie van toe af sou grootmaak. Mens neem maar 'n besluit met daardie oomblik se kennis tot jou beskikking. Niemand van ons besit 'n kristalbal wat werk nie.

Die krimi-genre is deesdae toenemend gewild onder debuutskrywers. Hoekom het jy besluit om jou hand te waag aan ʼn spanningsroman, en boonop een wat nie netjies in ʼn boks geplaas of eenvoudig geklassifiseer kan word nie?

Ek het nie aanvanklik bedoel om 'n spanningsroman te skryf nie. Maar die boek kan opgesom word deur te sê: 'n kind raak weg – waar is sy? Dit kon nie juis anders nie; dit was 'n raaisel om op te los.

Dalk het ek aanvanklik gedink ek werk aan 'n boek oor moederskap. Dalk een oor verlies en afskeid. Of oor skeidingsangs. Miskien was ek net 'n werkende ma wat heeldag by die werk moes wees, weg van my kinders, en die enigste manier om hulle nader aan my te kry, was om hul in my kopspasie te betrek. Wanneer hulle nog in die bed was saans of soggens, het ek aan die storie gespin. Wanneer ek dan nie aan die storie kon werk nie, was hulle nog steeds daar. Hierdie storie wou nie net weggaan nie; dit het heeltyd by my gebly.

Ek beantwoord nie jou vraag nie, Jonathan – ek wens hier was 'n redigeerder byderhand en dat dit nie ek self moet wees nie.

Ek werk tussen skrywers en ek kyk ook maar af, seker maar soos die Japannese soesji leer maak (ek verbeel my dis in ‘n dokumentêr Jiro dreams of sushi waar die man 'n ewigheid lank eers moet kyk hoe die meesters soesji maak voordat hy sy eie hand daaraan waag). Ek het besef ek gaan nie oor so 'n kombinasie van los gedagtes kan skryf nie.

Of eerder: ek moes die los gedagtes op die regte plekke in die storie verpak. Want die vraag wat die storie gedryf het, moes beantwoord word.

(Maar dis ook te eenvoudig, is dit nie: 'n heerlik-ongekompliseerde verhouding tussen ma en kind? Sê nou maar daardie karakter se verhouding met haar kind is nie heeltemal so ongelooflik vervullend nie?)

Hoe sou jy Web vir moontlike lesers beskryf in terme van die plot?

Kort opsomming: Een doodgewone dag raak 'n sewejarige dogtertjie weg – waar is sy?

Plot-in-'n-paragraaf: Die ma van die kind is ook so 'n bietjie weg. Terwyl sy na die kind soek, maak sy onthutsende ontdekkings oor die land rondom haar. Sy het besef dis 'n ongelyke samelewing, maar kan dit só erg wees? Wat is haar eie rol en aandadigheid? Ondertussen is die land toegespin in 'n giftige spinnekop se web en niemand sien dit raak nie, want almal spin saam.

Jou titel bied ʼn enorme aantal betekenismoontlikhede wat elk met erns en oortuiging ontgin word: die web van die spinnekop, wat figureer in die ontvoering van jou hoofkarakter, Sophia, se aangenome dogter, Magriet, maar ook later die ontvoering van Sophia self; die web wat die ontvoerders weef met die twee ontvoerdes; die web van komplekse familieverhoudings, veral die verhoudings tussen ouer en kind; en die web van persoonlike en landsgeskiedenis waarvan geeneen uiteindelik kan ontsnap nie. Dan is daar die web van intrige wat geweef word rondom etlike gegewens, maar dalk veral die spanningslyn rondom die besluite en binnewêrelde van Sophia, en haar bewuswordingsreis deur die loop van die roman. Wat veral vir my skitterend ontgin word, is die tydsgees waarin ons vasgevang is, waar dit amper onmoontlik is om nie op verskeie wyses deel van die wêreldwye web se landskap te word nie. Dit is dus baie duidelik dat jy jou titel besonder goed gekies het! Het jy begin skryf met die titel in jou agterkop, of het dit eers later bygekom? Was dit ʼn doelbewuste besluit om ʼn roman te skryf waar jy doelbewus sekere temas ontgin, of het die tematiese inhoud gevolg uit die gegewens van die ontvoering van Magriet?

Die aanvanklike werkstitel, lank voordat dit voorgelê is, was Weg. Dit het my gehinder. Daar was aspekte wat ek kon gebruik: die mense was weg van hul geboorteland, toe ook weg van Ierland, die kind was weg ... Maar dit was 'n tydskrif se naam – 'n wonderlike tydskrif! – en mense sou dalk die boek daarmee kon verwar of assosieer. En alles het nie met daardie titel geknoop nie. Ek het iewers heen gery eendag en die woord het voor my verskyn: WEG. Soos op 'n Scrabble-bord. Die G het afgeval en daar sien ek dit toe, die regte woord. Triple word score. Toe ek stop, het ek dit in die woordeboek nageslaan: web, met sy definisies. En die roman het voor my oë in plek geval. Alles daarvan.

Was dit 'n doelbewuste besluit, die temas? Nee, ek het nie die storie se einde geken toe ek dit begin skryf het nie. Ek het in die donker agter die storie aangeloop met 'n koplig wat net so 'n paar treë voor my uit skyn.

Jy werk al vir jare by LitNet, en verstaan dus die kompleksiteit van die aanlyn boekgemeenskap. Hoe het jou ervarings bygedra tot die outentieke gevoel van die roman soos wat kletskamers, trolle, Google, die Suid-Afrikaanse boeklandskap en die blykbaar eindelose gejaag na “likes” ondersoek word? Dink jy die publiek en veral ouers is “slim” genoeg wanneer dit by die gebruik van die internet, en veral sosiale-media-etiket, kom? Moes jy al op jou eie muur op FB en op die LitNet-webwerf met erge trolle afreken?

Dis 'n digte vraag hierdie, hoor. En dis meer as een vraag. Die boekgemeenskap jag likes, want die samelewing jag likes. Is die internetwêreld nie fassinerend nie? Dis soos die res van die heelal. Op ‘n tyd was daar niks nie en toe, op 'n dag, was daar lig. Daar was lewe. Daar was nielewe en toe, die teenoorgestelde. Voor die web ... wel, daar was ander dinge. 'n Markplein. 'n Kolosseum. 'n Katedraal. 'n Bordeel. 'n Brief. Kommunikasie was anders. Om sosiaal te verkeer, was verskillend. Aspekte daarvan was openbaar, maar dit was verkieslik nie openbaar nie. Die lewe soos wat ons dit nou ken, was 'n ander plek. Baie van hierdie sosiale omgewings bestaan vandag nog, en is natuurlik meer as net kuierplekke. Tog het die web hierdie omgewings aangeraak en dalk selfs van binne af verander. Grense vervaag, mense deel bewustelik meer van hul private lewens met ander. Ja, daar is trolle op die web. Maar een van die redes hiervoor is dat die web 'n mensgemaakte konstruk is. Daar's trolle op die web want die trolle is om ons. Die keersy van die muntstuk is egter: die wêreld is 'n wonderskone plek, met oneindige moontlikhede. Ek dink nie die boek is net 'n soort waarskuwing nie; die internet bied ook verruklike en verrykende inligting.

Web is prysenswaardig in die wyse waarop die balans tussen filosofiese ondersoeke en die spanningslyn gehandhaaf word. Is jy self ʼn krimi-slaaf? Het die gewildheid van die genre plaaslik en wêreldwyd die deur vir jou oopgemaak om te skryf wat jy wou, aangesien die kiem van die roman reeds jare in jou agterkop vassit?

Weet jy wat het my ook so ‘n bietjie oortuig dat dit oukei is om spanningsverhale te skryf? Jou intelligente bydrae op LitNet se Poolshoogte-seminaar. Mens moenie 'n genre sommerso vlak kyk nie. Elke skrywer skryf vir 'n mens, en as sy storie verskyn, beteken dit sy storie het tot iemand gespreek. Al die onsigbare skrywers van sagtebandboeke, al die gesiglose skrywers van kinder- en jeugboeke ... dis slim mense. Hulle het 'n begrip van verpakking. Ek het wraggies gesukkel om vrede te maak met die genre. Maar soos jy waarskynlik nog beter as ek weet, weens jou navorsing in die genre, hoef geen genre se boeke in netjiese blokkies, soos in 'n yshouertjie, te lê nie. Selfs fotostate is uniek, of hoe, Bibi Slippers?

Weet jy wat het my finaal oorgewen na die genre? Behalwe jou bepeinsinge in Poolshoogte? Die Deense/Sweedse reekse Forbrydelsen (The Killing), Bron | Broen (The Bridge). Die Amerikaanse The Wire, Baltimore se storie. Daardie drie TV-reekse. Het jy dit al gekyk? Dis eerlikwaar verslawend. Vandat ek kinders het, hou ek verskriklik baie van ononderbroke slaap. Maar 'n reeks soos The Bridge sal my vier of vyf ure lank voor die televisie vasgenael hou, ek en my man het die reeks gekyk soos studente wat leef asof môre met sy sorge vir homself sou sorg. Na elke episode druk een van ons maar net die knoppie en daar gaan die reeks voort.

My man, terloops, weet baie van stories. Hy het voorgestel ons kyk hierdie drie reekse omdat kollegas van hom in Ierland dit aanbeveel of hy dit in The Guardian raakgesien het. Ek was nie lus om met 'n tang te raak aan 'n reeks met 'n titel soos The Killing nie. Toe ons saam begin kyk, was dit egter nie meer nodig om my te oortuig nie. Dis regtig moeilik om my man as eerste leser in my huis te hê. Maar die manuskrip en ons huwelik het sy aanvanklike kommentaar oorleef. En ek is hom dit dankbaar: hy het 'n paar tegniese flaters raakgesien en ek kon dit regmaak.

Jy betrek die uiters dringende en gelade gesprek rondom die afgelope twee jaar se studenteprotesaksie en maak die proteste deel van die plot van jou roman. Dis egter so gedoen dat dit nooit as ʼn kunsmatige foefie deurskemer nie, maar tot die organiese opbou van spanning bydra. Kan jy bietjie oor die invloed van die media en aktualiteit in jou skrywe praat?

Ek werk by LitNet, soos jy al genoem het en baie mense weet. Die ruimte, as werksomgewing, bied my elke dag iets interessants. Ek sit heeltyd en kyk hoe ander skrywers hul ambag beoefen – dit kan nie anders nie. Ek moet ook byvoeg: dit kom vandat ek klein is. My ma was my eerste voorbeeld as skrywer. Sy doen iets wat ek absoluut haat: sy staan bitter vroeg op en sy skryf op tye wanneer sy eintlik iets anders wou doen. Weet jy wat? Nou doen ek dit ook. Maar my en haar definisies van "bitter vroeg" verskil so met 'n paar uur.

Hoe verduidelik mens die skryfproses? Dis soos om te probeer verduidelik hoe mens die eerste keer verstaan wat is balans. Wat is praat. Hoe verstaan mens die lukrake betekenisse van woorde soos "tafel" of "wieldop" of "nuk". Jy weet? Mens kan nie, daar is nêrens 'n begin nie. Daar is dalk 'n gemaklike sneller (sê maar my kind raak weg), maar daar is algemene en alledaagse goed wat gebeur. 'n Sensasie een reënerige dag, of dalk ook iets wat mens so sterk oor voel en dan besef jy: nee, dit was nie die karakter nie. Dit was jy. Dis maar 'n gekke storie, die skryfstorie.

Terug by LitNet – wat het inspireer? Die universiteitseminaar. Mense soos Hans Pienaar en diegene met wie hy gesels. Maar jare en jare en jare voor hierdie universiteitseminaar, 'n brief van Pierre de Vos aan SêNet. Dalk was dit my heel eerste stimulus vir hierdie verhaal. Parafrase: geen Suid-Afrikaanse skrywer kan hom losmaak van hierdie land as hy skryf nie. Jou storie kan afspeel in Khayelitsha en die karakters kan almal swart wees en Xhosa praat. Of die storie kan afspeel in Bellville, almal doen hul inkopies in Tygervallei en aanbid by die plaaslike NG Kerk. Daar is altyd karakters wat uitgelaat is – sien jy hulle? Die onsigbares? Dis soos Orania. Dis 'n tuisland, maar wie's tuis in die land?

Het jy enige van die misdaadfiksie wat in Stellenbosch afspeel, soos Andrew Brown se Coldsleep Lullaby, Karin Brynard se Onse vaders en Jeanette Stals se Katoog, gelees? Watter skrywers lees jy die graagste, en het enige spesifieke skrywer jou eie skryfstyl en belangstelling in die krimi-genre geprikkel?

Al Karin Brynard se boeke, beslis ook Rudie van Rensburg. Deon Meyer, Martin Steyn. Deborah Steinmair – voor haar spanningsromans ook haar onvergeetlike Marike se laaste dans.

Een slag, by die Edinburgh-boekefees, omdat ek nie kon kaartjies kry vir die groot name nie – die mense het tot in Engeland tou gestaan vir Terry Pratchett – het ek beland by 'n bekendstelling van ene Sophie Hannah. Wonderlike, donker misdaadskrywer. Haar gesin is haar vertrekpunt; mens wou heeltyd kliphard lag en huil by die geleentheid. Ek het ook na Val McDermid gaan luister.

Maar weer plaaslik: hier was nog groot inspirasie – Michiel Heyns se Lost ground. Het jy dit ooit gelees? Die boek het my kop gedraai. Hy het geskryf uit die perspektief van 'n Suid-Afrikaner wat vanuit Brittanje teruggekom het Suid-Afrika toe. Agaat, ongetwyfeld, altyd Agaat. Soveel stimulerende dinge wat ek op LitNet teëkom – Lou-Marié Kruger se navorsing, wat opgeneem is in Winelands, wealth and work. Soos familie, Ena Jansen. Slaafs, Bettina Wyngaard.

Weet jy? Daar is baie mense wat ek moet bedank vir hierdie verhaal. Elke dag se werk by LitNet. My werkgewer, my kollegas. Ek het so baie by elke mens met wie ek saamgewerk het, geleer. En ek moet eintlik spesiaal melding maak van Estéve le Cordeur. Hy weet soveel van rekenaars, en by hom het ek geleer dat rekenaartaal – kodering – maar eintlik soos enige spreektaal werk. Daar is grammatika, daar is struktuur. As jy dit eers verstaan, kan jy die taal praat. En as jy 'n taal kan praat, verstaan jy die mens/ding wat dit praat, of hoe? 'n Mens en 'n rekenaar word albei geprogrammeer. Kortom: skrywers inspireer my, maar inspirasies kom ook van ander, soms onverwagse, plekke.

Web se karakterisering is besonder goed. Jy neem die berekende risiko’s om nie net ʼn ma die hoofkarakter te maak en ʼn speurder die pa van die ontvoerde Magriet nie, maar jy skryf ook uit die perspektief van ʼn aantal bruin karakters. Vertel ons asseblief meer van die verskillende uitdagings wat jou karakters gebied het? Ook, as jy kan, van die problematiek rondom die skryf van kwessies soos armoede, wit bevoorregting, transformasie, ongelykheid en rassespanning in Suid-Afrika, vanuit jou perspektief as wit vroulike skrywer?

Jonathan, jy maak dit nie maklik nie! Beantwoord jy bietjie jou eie vrae, ek daag jou uit! 🙂

Ek gaan jou eerlik sê: ek kan dit nie werklik beantwoord nie. Dis dalk hoekom ek die storie geskryf het. Daar was so baie dinge wat ek nie kon beantwoord nie. En ek kan nog steeds nie. Later het ek ook nie meer geweet wat die vraag is nie.

Dis 'n land van ongelykhede, dis een van die antwoorde. Die studenteprotes het soveel fasette.

Hoe skryf mens 'n ander, werklike, mens se storie?

Op 'n tyd het ek in die regte studeer. My lieflingvak was Latyn. Hier was 'n lekker beginsel, ook van toepassing op die letterkunde: die belang van die omissie. Die Latynse beginsels van commissio en omissio verwys na 'n doen en 'n late.

Ek is bewus van hierdie land se kompleksiteite en ek hoop dat my storie dit aksentueer. As ek karakters uit my storie sou haal wat die hele tyd nog daar is, is die storie ook nie meer die storie nie.

My commissio, my aksie, was om my karakters se storie neer te skryf: eerlik, sonder voorgee, net soos hulle hul aan my opgedring het.

Terug na die vraag oor die vertel van 'n ander, werklike mens, se storie: dit durf nie. Ek glo: vertel net 'n eie storie. En mag die storie seëvier. Mag die rede vir al die karakters duidelik wees. Mag die land se mense mekaar begin raaksien, in al almal se onvolmaaktheid.

Dalk is daar iets positiefs wat ek kan sê. My seun (graad 4) berei voor vir 'n geskiedenistoets. Een van die vrae is: "Hoe vind ek uit van die geskiedenis?" "Ja?" vra ek, want ek wil uitvind wat hy dink. Ek verwag hy gaan sê: "Google." Want dis wat hy altyd sê. Maar ek is verkeerd. "Mens luister na ander mense se stories," is sy antwoord. "Daar is baie stories, daar is baie geskiedenisse."

Jou deernis vir veral die kinders van Magriet en haar man, Diederick, is opvallend. Sekere oomblikke het my na aan trane gehad. Hoe beïnvloed jou eie rol as ouer en eggenoot jou skrywe? Is dit vir jou belangrik om te skryf oor onderwerpe waaroor jy iets weet, of moes jy baie navorsing vir jou roman doen?

My liefde vir my kinders is 'n verterende vuur. En ek moet byvoeg: ouerskap is die grootste uitdaging wat bestaan, groter as die skryf van 'n roman. My man werk op die oomblik voltyds terwyl ek smiddae by ons kinders is, maar tot betreklik onlangs het ek voltyds gewerk en hy het huis gehou. Ek mis dit om by die huis te kom en sy kos te eet! Noudat ek self by die kinders is, weet ek ook nie hoe hy dit gedoen het nie: om met hulle te speel, hul te versorg, huiswerk te doen, en die huishouding te behartig.

Ek klink of ek oor persoonlike dinge praat. Dit beantwoord dalk jou vraag. Ek is werklik deel van 'n gesin. Dis 'n komplekse sisteem – ons elkeen het sy eie kommer en vreugde. Natuurlik het ek gedeeltes van die intensiteit van hierdie dinamika gesteel en die klei in my hand gevorm. Die figure wat ek gebou het, lyk egter anders as die plek waar ek daagliks woon.

Nikodemus en Trouw is bitter interessante karakters, beide met hul eie hebbelikhede. Dog ʼn mens het deernis met hul albei. Vertel ons bietjie meer van hulle asseblief?

Nikodemus en Trouw is Frankenstein-karakters. Hulle is aanmekaargestik uit materiaal van verskillende mense wat ek ken, nie goed ken nie, in die straat sien stap, hoor praat, uit my studentelewe kom, en nog meer.

Nikodemus se kennis is wel deeglik nagevors – ek het 'n informant wie se naam ek nie gaan verklap nie! Trouw het nogal verskillende gedaantes in die storie aangeneem. Ek het baie met haar rondgespeel. Haar verhouding met die hoofkarakter het gewissel. Uiteindelik het ek gesnap hoe belangrik sy in die verhaal sou wees en haar dienooreenkomstig van voor af weer bewerk.

Dis natuurlik ook ʼn eksplisiete vraag in die roman self, maar ek moet vra: Hoekom is misdaadfiksie tans so gewild in Suid-Afrika?

Wie is die skuldige, Jonathan?

En wat is die soektog, die sogenaamde quest?

Ons almal, is natuurlik die antwoord (vraag 1).

Die soeke? Hopelik nie na Atlantis nie.

Ek dink dis die vrae waaroor ons almal wonder. Maar ek dink ook misdaadfiksie is lekker raaisels om te skryf en op te los. En dis deel van alle Suid-Afrikaners se verwysingsraamwerke, se nagmerriemateriaal: misdaad. Deel van elkeen van ons, in elke buurt, rykmanshuis en krot, se lewens.

Naomi, jy bring uiteindelik die verskillende drade van die web behendig saam, en die klimaks is intens, om die minste te sê! Wat was vir jou die lekkerste en uitdagendste dele van die skryfproses? Kan ons ʼn vervolg vir Web verwag?

Wel, as 'n kind sou lewe, word 'n kind seker groot, of hoe? Of as die kind nie lewe nie, is daar dalk altyd ander kinders. Of as 'n kind letsels het, veroorsaak die letsels dalk nuwe misdade. Of as iemand oorsee gewoon het en teruggekeer het na hul geboorteland, kan hul altyd weer oorsee gaan woon. Is daar 'n opvolg ná Web? Miskien. Of dit 'n direkte vervolg sal wees, is 'n ander vraag. Daar is oneindig baie dinge van Ierland (en Noord-Ierland) wat my interesseer. Ek gesels tydens die US Woordfees met Bill Nasson oor sy boek History matters – juis omdat ons 'n Ierland-konneksie het, en ek een slag gretig gaan luister het hoe hy praat oor Swart Paasfees. Gesprekke met hom wakker van voor af my nuuskierigheid oor Ierland se kompleksiteite aan. Wie weet watter navorsing mens sou kon doen met kennis van twee sulke onstuimige lande, waarvan min mense op aarde notisie neem, soos Suid-Afrika en Ierland, die onbenullige groen eiland wat so misleidend-romanties lyk?

Wie is jou ideale leser?

Mense soos jy, Jonathan, wat sulke indringende vrae vra. En enigeen wat bereid is om haar oop te stel vir hierdie storie. Of net wil uitvind: Waar is Magriet Stipp?

Nogmaals baie geluk met Web, Naomi, en dankie vir jou tyd om hierdie vrae te beantwoord.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top