’n Moeilike geboorte en skielike grootword: Suid-Afrikaanse misdaadfiksie

  • 1

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Haunted places are the only ones people can live in. – Michel de Certeau, The Practice of Everyday Life

It is almost no exaggeration to describe ourselves as a country at war with itself. – Antony Altbeker,
A Country at War with Itself

Ter inleiding wil ek graag vir ’n oomblik stilstaan en besin oor die twee bostaande aanhalings van De Certeau en Altbeker. De Certeau, die agbare teoretikus van die stad en die stedelike, se woorde het my onmiddellik opgeval en laat dink aan die wyses waarop Suid-Afrika ’n “haunted place” is. Eerstens is ons as ’n nasie een wat 20 jaar na demokratisering elke dag met die spoke en geraamtes in die apartheidskas moet saamleef. Die gruwels en onregte wat deur ’n wit minderheidsregering op ’n swart meerderheid uitgevoer is, kon eenvoudig nie deur die WVK uitgevee word nie. Net soos die staatsmasjinerie onder die vorige bedeling vir die gewin van ’n uitsoekgroep gebruik is, word dieselfde nou net vir die ander span gedoen. Gaan nog ’n bietjie verder terug en ons konfronteer kolonialisme.

Die feit bly staan: ons s’n is ’n nare, nare geskiedenis, en daardie geskiedenis veroorsaak dat ons swaar dra, selfs wanneer ons dit slegs onbewustelik besef. Wanneer ons nie self te hard wil nadink oor die verlede nie, is daar om elke hoek en draai ’n monument of straatnaam om ons te herinner. Haunted? Ja, beslis. Maar dis ons land hierdie, en ons moet sin maak van die verlede om die spoke te verdryf. Hoe dan gemaak? Ons beweeg van “betrokke literatuur” na genre na die misdaadfiksie om te help om antwoorde te soek, om ons te help met akute selfdiagnose.

’n Paar jaar gelede het ek op Altbeker se insig, rofweg vertaal, dat ons ’n land is wat teen homself oorlog maak, afgekom. Dit het ’n groot indruk op my gemaak, dalk omdat die stelling se onmiddellikheid vir my so uitgestaan het. Hoe maak ’n land teen homself oorlog? Dis eintlik eenvoudig. Hy gaan gebuk onder die druk van enorme verwagtinge, hy verwoes sy siel stukkie vir stukkie met korrupsie en nepotisme en onkunde. En dalk die heel belangrikste: hy faal hopeloos in die stryd om ernstige misdaad die hoof te bied, om ernstig en doeltreffend met die oorsake en gevolge van geweld om te gaan, dermate dat Suid-Afrika die “eer” het om as een van die gewelddadigste lande ter wêreld bekend te staan.

Die jammerlike waarheid is dat ons wel volgens statistieke die wêreldleier is wat sekere geweldsmisdrywe betref, en dat misdaad ’n alledaagse realiteit is wat ons nie kan misken nie. Weer eens: ons skrywers het beweeg na genre en die misdaadfiksie om beide ontvlugting (“escape”) en toevlug (“solace”, die genre-kontrak) te bied. ’n Handjievol is bereid om die aangesig van die betrokke literatuur te verander, en dit is hierdie skrywers wat ek voorspel die meeste gelees sal word in die toekoms, wat die grootste invloed op die tekstuur en aard van die Afrikaanse letterkunde sal hê.

Fjodor Dostojewski se The Brothers Karamazov bevat die volgende uiters treffende aanhaling: “Yes, yes! People love crime. Everybody loves crime; they love it always, not at some ‘moments’. You know, it’s as though people have made an agreement to lie about it and have lied about it ever since. They say they all hate evil, but secretly they all love it.”

Die Russiese konteks van hierdie uitspraak is natuurlik ver verwyderd van die postapartheid samelewing in Suid-Afrika, maar daar is vir my ’n universele waarheid wat hier verwoord word: die feit dat die mensdom enduit gefassineer word deur misdaad, deur die aard en gevolge van misdaad en die impulse wat daartoe aanleiding gee dat mense gewelddadig teenoor ander optree. Maak nie saak wat die konteks is nie, mense oortree die skeidslyne tussen goed en kwaad, reg en onreg, lig en donker.

Edgar Allen Poe
Deon Meyer

Die “liefde”, of eerder “voorliefde”, wat hier ter sprake is, het eerder ’n negatiewe betekenis, te make met die feit dat “misdaad” as konsep oorkoepelend en oordonderend te werk gaan: die “boosheid” van die mensdom vind uiting in die uiterstes van die menslike natuur, misdade word gepleeg, en mense word oombliklik vasgevang in ’n web waaruit hul nie kan ontsnap nie – geeneen kan in sy leeftyd onaangeraak bly deur die doen en late van ander nie.

Die bostaande aanhaling het ook baie waarde in die sin dat dit tereg uitwys dat mense altyd deur misdaad in ’n tipe vervoering gebring word, nie net op sekere tye of “oomblikke” nie. Misdaad het te doen met ons drange en ons oervrese, die “sê nou maar”, die nagmerrie waarvan ons nie kan ontsnap nie. Twintig jaar na demokrasie – met die skryf van misdaadfiksie wat die kruin van populariteit ry – vra dat ons begin nadink oor die fenomeen, om ons gedagtes te orden en te probeer sin maak van ’n genre wat hoopvol geflikker het in die 1920’s met C Louis Leipoldt se speurverhale, wat sterk op die invloed van die meesterlike Edgar Allen Poe gesteun het.

Aangesien daar onder apartheid feitlik geen werklike speurverhale was om van te kies in Afrikaans nie, ’n punt wat ek verderaan bespreek, is die vraag oor vernuwing 20 jaar na demokratisering ’n interessante een. Ons kan noodwendig van vernuwing praat in die sin dat die genre nou eers, en veral in die afgelope vyf tot tien jaar, plaaslik tot sy reg kom, en daarop wys dat Deon Meyer die baanbrekerswerk gedoen het, die pad oopgeskryf het vir ander skrywers om hulle tot genrefiksie te wend om goeie stories te vertel en die land waarin hul hulle bevind, oop te skryf.

Soos wat dit egter baie moeilik is om ’n kind tussen vyf en tien se vooruitsigte neer te pen, so is dit ook op hierdie stadium nog te vroeg om enige noemenswaardige oordele oor die genre te vel. Wat ek wel met ’n mate van sekerheid kan sê, is dat dit Meyer die grondslag gelê het vir die opkoms van ’n aantal begaafde skrywers, soos Karin Brynard, Chris Karsten en Rudie Van Rensburg, dat daar skrywers is wat binne die tradisionele konvensies van die speurverhaal – waarop ek net effens klem gaan lê – vernuwend te werk gaan, soos Kerneels Breytenbach en Deborah Steinmair, en dat daar ’n groot aantal skrywers is wat met vrug vervolgkarakters kon skep vir hul dankbare lesers, soos Chanette Paul en Peet Venter, onder andere.

Die genre is perdfris en gesond. Nuwe skrywers maak feitlik maandeliks hul buiging. Dit kan net goeie dinge vir die onmiddellike toekoms van die genre inhou. Voor die slot van hierdie oorsig maak ek spesiale vermelding van LAPA Uitgewers, wat by verre die grootste genre-uitgewer in die land is wat misdaadfiksie betref. Onder leiding van Cecilia Britz, wat jare lank in die Perskor-stal was, het LAPA Uitgewers hulle op genrefiksie toegespits. Liefdesromans en misdaaverhale is die werke wat die meeste uitgegee word.

Wêreldwyd, onder die vaandel van die laat kapitalisme van die afgelope 10 tot 15 jaar in die besonder, dui die hernude belangstelling in en populariteit van die misdaadgenre in die tradisionele “hot spots” soos die VSA, Frankryk en Brittanje, die Skandinawiese lande (“Nordic Noir” gedoop), Ierland, Wallis en Skotland (“Tartan Noir”), en die res van Afrika (algemeen na verwys as “post-colonial detective fiction”) daarop dat die genre soos wat dit voorkom in postapartheid Suid-Afrika na demokratisering dringend aandag verg.

Die opbloei van misdaadfiksie het plaasgevind in ’n tydstip en globale wêreldorde waar die lyn tussen wet en wanorde al hoe meer vervaag – veral sedert die terreur-aanvalle op die World Trade Center op 11 September 2001, die daaropvolgende “War on Terror” en die Amerikaanse en Britse regerings wat volgens party bronne (soos die Tjeggiese Marxisties-psigoanalitiese filosoof Slavoj Žižek en die linguis en politieke ontleder Noam Chomsky) as ’n tipe “rogue state” oftewel skurkstaat optree.

Die genre se populariteit in die postapartheid konteks het klaarblyklik deur die dak geskiet, beslis ook hier, volgens plaaslike verkoopsyfers en die aantal skrywers in Afrikaans en Engels wat hulle daartoe wend, te midde van vuilspel en korrupsie van staatsamptenare wat skouers skuur met xenofobiese aanvalle, verkragting, witboordjiemisdade en moord.1

Dis ongetwyfeld ’n demokratiese samelewing waarin ons ons bevind, maar een van “social disorder”, van ordeloosheid en (waarde)konflik, waar die kodes en tekens waarmee ons die “sosiale” ontsyfer, in die siening van Jean en John Comaroff lelik ontspoor het en “geokkulteer” geraak het.2 Soos die joernalis Kevin Bloom wrang-komies uitwys in sy niefiksie-werk Ways of Staying: “It isn’t 1976, and the culpable are no longer so easy to identify” (2009:59).

In ’n land wat veral ná apartheid deurspek is met wat Judith Butler “precarious life”3 noem, wil ek aanvoer dat die misdaadroman dit in die regte hande (kan) regkry om vir lesers wat die Comaroffs die “deregulation of monopolies over the means of legitimate force” en “an unravelling of the fabric of law and order” (1–2) noem, te verpersoonlik.

Dit is dan ook belangrik om daarop te wys dat die regering sedert 1994 al hoe minder van ’n monopolie op die geregtelike gebruik van geweld het, soos die onlangse tragedie by Marikana so duidelik illustreer. Sonder om dramaties te wees: private weermagte het vir die rykes soos ADT en ander private sekuriteitsfirmas die land se wetstoepassing begin beheer4 bo die polisie (Aldus Altbeker en Steinberg) en terselfdertyd het die lyn tussen goed en kwaad met verwysing na beide regeringsamptenare en die “gewone” misdadiger tot so ’n mate vervaag dat dit al hoe moeiliker is om deesdae met sekerheid te kan se wie reg en wie verkeerd is, wie skuldig en wie onskuldig is. Kyk maar net na Shrien Dewani en Oscar Pistorius.

Soos ander wat werksaam is in die veld (Sam Naidu, Chris Warnes, Leon de Kock en die uwe5), wil ek aanvoer dat die misdaadroman (ook in die Afrikaanse konteks) ’n ondersoekende rol speel na die aard en omvang van misdaad en kriminaliteit, die grootste erkende bron van “bedreiging” vir burgers; dat die misdaadroman postapartheid die oorsprong en gevolge van misdaad in die land ondersoek; en dat die misdaadroman veral ingaan op die wyse waarop wetstoepassing en geregtigheid seëvier, of nie seëvier nie, in die huidige regime.

Antony Altbeker en Jonny Steinberg het die afgelope aantal jare as leidende akademikus-aktiviste ontluik, wat betref die wet, misdaad en wetteloosheid in Suid-Afrika na demokratisering. Altbeker poog om die kompleksiteit van misdaad in die postapartheid te ontsyfer. Na ’n jaar in die teenwoordigheid van die SANPD het hy The Dirty Work of Democracy (2005) gelewer, ’n wen-kombinasie van joernalistiek en sosiale ontleding wat vir die leser ’n simpatieke blik op die beleërde polisiediens in die land bied. Altbeker se A Country at War with Itself (2007) ontmasker die realiteite van hoe misdaad die psige van die man op straat binnegevaar het oor die grense van ras, klas en gender heen, en hoe dit tot ’n klimaat van vrees en ’n gebrek aan vertroue tussen staatsburgers gelei het. Altbeker se gerekende ondersoek na die misdaad op die student Inge Lotz op Stellenbosch, Fruit of a Poisoned Tree (2010), is ’n metatekstuele vorm van verslaggewing wat die beweerde regsverydeling in die saak aan die kaak stel.

Misdaad as sosiopolitieke konsep6 is nie noodwendig voor die hand liggend nie. Dit is dus belangrik om uit te wys dat verskillende samelewings misdaad anders definieer, aldus Antony Altbeker in sy A Country at War with Itself:

In some countries, it is a crime to insult the president. In others it is legal for a man to beat his wife or worse; in Jordan, generally among the most benign of the Arab states in the treatment of its women, a man may kill an unfaithful wife with legal impunity. Some acts are criminalised in theocracies – idolatry or adultery or homosexuality – but raise barely an eyebrow in secular democracy. Cross-country comparisons of criminality, then, require confining the discussion to specific crimes. But even here are difficulties. (38–9)

Die obsessie met misdaad is in verskeie oorde afgemaak as ’n tipe “white whine”, of eenvoudiger gestel, ’n knaende persepsie deur die wit bevolking van die land wat uitspeel as ’n gevoel van bedreiging aangaande hul ras of sosiale status. Akademiese studies wat handel oor misdaad in Suid-Afrika het tot dusver gereeld gefokus op die hoë misdaadsyfers wat al vir lank (meer as ’n eeu) ’n groot deel uitmaak van die informele nedersettings in die land, en hierdie studies zoem in op die verstedelikte swart bevolking wat deur die polisie en kriminele uitgebuit word.7

Dit is dan uiteindelik moeilik om te stry met die akademici Michael Titlestad, Deborah Posel en Achille Mbembe wanneer hulle die volgende uitwys in Crime and Punishment: “Crime may not be the whole story of South African life, but it is the story most often told.”8

Plummer (255) wys daarop dat die onderafdeling “mystery fiction”, wat ek later bespreek, deesdae ongelooflik populêr is, en dat dit in die meeste lande regoor die wêreld geskryf word. Buiten in die VSA, Verenigde Koninkryk, Frankryk, België, Duitsland, Nederland, Italië, Spanje en die Skandinawiese lande, het daar gereeld nuwe skrywers opgeduik in die genre in Rusland, Turkye, Griekeland, Israel, Japan, Australië en Suid-Afrika.

In sy studie van die genre Fiction, Crime and Empire: Clues to Modernity and Postmodernity (1989) noem Jon Thompson die volgende:

Fictions of crime offer myths of modernity, of what it is like to live in a world dominated by the contradictory forces of renewal and disintegration, progress and destruction, possibility and impossibility. The capacity of crime fiction to evaluate different historical moments in the experience of modernity is not an accidental feature; it is a dominant convention of the genre. (98)

Hierdie fantastiese aanhaling dui op die kern-moontlikhede van misdaadfiksie in ’n sosiopolitieke opset soos postapartheid Suid-Afrika: nie net kan skrywers die “teenstrydige” magte van “renewal and disintegration, progress and destruction, possibility and impossibility” met groot vrug ondersoek nie, maar die evalueringsmoontlikhede inherent tot die genre van fiksie kan volbring word op organiese wyse, dit wil sê op ’n manier waar dit nie vir die leser onnatuurlik voorkom wanneer daar deur die loop van ’n teks uitsprake oor die toestand van die land gemaak word nie.

Ek keer later na hierdie punt terug, maar karakters soos speurders en private ondersoekers wat oral in ons Afrikaanse misdaadgenre opduik, is besonder geskik om as drywers vir die skrywer se insigte oor die “modernity” van postapartheid te funksioneer, deurdat hulle verby die fisiese en simboliese skanse en mure van ons samelewing kan kom. Hulle kan ongeregtigheid en misdaad reguit in die oë kyk, as ’t ware.

Knight se groot studie van die genre, Form and Ideology in Crime Fiction (1980) bevind:

Major examples of crime fiction not only create an idea (or hope, or a dream) about controlling crime, but both realize and validate a whole view of the world, one shared by the people who become the central audience to buy, read and find comfort in a particular variety of crime fiction. (12)

Die genre is dus een waar die publiek wat die misdaadfiksie so graag lees, ook geredelik ’n siening aanvaar van die sosiale bestel wat hulle sal gerus stel, een waar die misdadiger meer kere as nie teen die ontknoping aan die pen ry vir sy of haar wandade. Die genre skep die illusie dat misdaad “beheer” word, dat die dreigende elemente daar buite hokgeslaan kan word, al is dit slegs binne die bestek van die boek self. In ’n samelewing wat so uiters obsessief is oor die bedreiging van misdaad, waar misdaadsyfers so geredelik rondgegooi word, waar diskoers oor geweld en misdaad oor grense strek, is dit nie verbasend dat daar so ’n honger vir misdaadfiksie is nie.

Ons land het sonder twyfel ’n misdaadfiksasie, en dit gaan nie vandag of môre enigsins verminder nie – eerder raai ek dat dit net sal intensiveer met die opkoms van populistiese partye soos die EFF, wat baie mense lekker senuweeagtig maak. Dit daar gelaat.

Christopher Warnes (2012: 989) noem in verband met die postapartheid misdaadriller:

Far from being apolitical, then, the postapartheid crime thriller should be read as negotiating – in the ambivalent sense of the word – the threat and uncertainty that many feel to be part of South African life, creating fantasies of control, restoration and maintenance, and reflecting on the circumstances that gave rise to this unease.

Die vooruitgang van postkoloniale misdaadfiksie sedert die vroeë negentigs bied sowel ’n belofte as ’n uitdaging in ons plaaslike konteks. Gegewe ons onlangse geskiedenis van oneweredige wetstoepassing, die donker gesig van ongelykheid en armoede, en aanvegbare verdeling van regte, lewensmoontlikhede en problematiese handhawing van wet en orde, met en na apartheid, is die tydgleuf bykans perfek vir plaaslike skrywers om die onreg van die verlede en die sosiale kwessies van die hede, veral met betrekking tot ’n minderheidsgroep soos die Afrikaner, in genrefiksie aan te spreek. Geregdoening kan in veelvuldige vorme met vrug gemyn word, en skrywers kan hul eie vaardighede om waardige, eietydse stories met dinamiese karakters as fokuspunte te skep, ten toon stel en verder ontwikkel.

In die inleiding tot Ed Christian se The Postcolonial Detective sê hy:

Postcolonial detectives are: 1) always indigenous to or settlers in the countries where they work; 2) they are usually marginalised in some way, which affects their ability to work at their full potential; 3) they are always central and sympathetic characters; and 4) their creators’ interest usually lies in an exploration of how these detectives’ approaches to criminal investigation are influenced by their cultural attitudes.

Daar is beslis ’n saak uit te maak vir die speurders in Deon Meyer se werk, in die besonder, om as “postcolonial detectives” gelees te word. Dink byvoorbeeld net gou aan Bennie Griessel: 1) hy is deel van die “voorheen bevoordeelde” groep wit mans wat nou noustrop trek in die polisiediens wat bevordering en werksgeleenthede betref; 2) hy is dus beslis gemarginaliseer; 3) hy is veral in romans soos Infanta, Sewe Dae en Kobra ’n sentrale en simpatieke figuur; 4) Meyer se belangstelling/fokus is tot ’n mate geskoei op die manier waarop karakters soos Griessel se “wit” en “manlike” identiteit, tesame met die Afrikanerkultuur, in die postapartheid samelewing neerslag vind.Reeds in 1991 het Eugene Schleh (1991:37) die volgende uitgewys: “Africans are beginning to write detective/mystery fiction in rapidly growing numbers.” Dit is dus drie jaar voor Deon Meyer se Feniks verskyn het, genoem, en antisipeer dus ook die vergestalting van die genre in Afrikaans.

In vergelyking met ’n ander land wat voorheen deel was van die Statebond, Australië, ook een van ons grootste vyande wat sport betref, is dit duidelik dat Suid-Afrika se misdaadfiksie nog in kinderdoeke is. Vanaf Fergus Hume se The Mystery of a Handsome Cab (1886) tot meer onlange misdaadfiksie uit die pen van Peter Coriss, Carter Brown, of die Napoleon Bonaparte-stories van Arthur Upfield, en ook met gerekende skrywers van literêre fiksie wat in die genre skryf, soos Marcus Clarke, Peter Carey, Randolph Stow en Brian Castro, is dit duidelik dat Australië ’n baie ryk tradisie van misdaadskrywers het. Dit word in hierdie konteks dan duidelik hoeveel die genre nog plaaslik kan groei, en dui ook daarop dat daar sonder te veel moeite oor die grense van literêre fiksie en ontspanningslektuur geskryf kan (en behoort te) word.

Parallel met die ontploffing van misdaadfiksie in Suid-Afrika sedert veral 2006 het baie “hoofstroom fiksie”, veral in die Engelse letterkunde, gereeld karakters met verskeie vorme van misdaad gekonfronteer, verwys na trauma en daarmee omgegaan te midde van postapartheid takserings van die sosiale orde, en gedurig implisiet of eksplisiet na “misdaad” in die land verwys.

Dit is veral in skryfwerk wat in die Kaap afspeel die geval, met romans soos Nineveh deur Henrietta Rose-Innes, The Sea of Wise Insects deur Terry Westby-Nunn, Things I Thought I Knew deur Kathryn White, en Home Remedies deur Diane Awerbuck, om nie eers te praat van Imraan Coovadia se The Institute for Taxi Poetry nie. In haar vroeëre werke wat sy baseer in Johannesburg en Kaapstad (Moxyland and Zoo City), gebruik Lauren Beukes ruimskoots “kriminele” en noir-elemente. Onlangs het Afrikaanse skrywers ook baie kreatief met misdaad omgegaan in romans wat beslis nie onder tradisionele takserings van die speurroman sou val nie. Daar is heelwat, alhoewel Jaco Botha se Miskruier, Venter se Horrelpoot soos reeds genoem, Louis de Villiers se Kaapstad Karma-polisie, en veral ’n groot gunsteling, die speelse en dawerend uitdagende “speurverhaal sonder ’n speurder”, Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip. Dan is daar ook onlangs Wilna Adriaanse se Dubbelspel en Bettina Wyngaardt se Vuilspel, waar vroulike hoofkarakters, veral in Wyngaardt se werk, met ras- en gender-kwessies moet omgaan. Bygesê, alhoewel Vuilspel meer afgerond kon gewees het, bied dit beslis stof tot nadenke oor die manier waarop ons vroue in hierdie land behandel, veral dié wat nie hul seksualiteit op heteronormatiewe wyse beoefen nie.

Onder die apartheidsregime was skrywers eenvoudig nie in die posisie om speurders hul simpatieke hoofkarakters te maak nie, weens die feit dat hulle telkemale in die siening van die publiek as deel van ’n korrupte regime geag was. ’n Mens hoef skaars na werke soos André P Brink se Kennis van die aand en John Miles se Kroniek van die doofpot te kyk om te sien hoe verfoeilik die regering van daardie tyd in die letterkunde uitgebeeld is, en die polisie sou oor dieselfde kam geskeer word.

Mike Nicol

Mike Nicol noem dat “come the apartheid state in the late 1940s no self-respecting writer was going to set up with a cop as the main protagonist of a series. It was akin to sleeping with the enemy.”9 Deon Meyer sê weer (Groenewald, 2007): “You could not really have police crime thrillers […] It is very difficult to have a cop as a hero if he works for an evil regime. You don’t tend to find crime thrillers in any community where a ’non-democratic’ situation prevails.” ’n Teenvoeter vir Meyer se punt is dalk hedendaags die feit dat verskeie Afrikalande se “demokratiese” regerings eintlik maar boos is, maar dat die misdaadfiksie al vir baie jare daar gedy.

Daar was wel uitsonderings in die apartheidsjare gewees. Gedurende die vroeë dae van apartheid is June Drummond se The Black Unicorn (1959) erken as die eerste Suid-Afrikaanse misdaadroman in Engels. Daarna het Drummond agt romans oor die sosiopolitieke kwessies in Suid-Afrika neergepen, waarvan Old Bones Buried Under (2007) haar laaste bydrae tot die genre was. Die ander twee uitsonderings op die reël was James McClure en Wessel Ebersohn, twee wit mans.

James McClure

Die man wat onder apartheid en ook daarna die vader van die misdaadroman in Suid-Afrika genoem word, is die Engelse James McClure, wat met die besonderse speurduo van die Afrikaner luitenant Kramer en die swart speursersant Zondi tot in die gitswart hart van die apartheidsregime deurgedring het. McClure, met hope ervaring in joernalistiek, het in 1965 na die Verenigde Koninkryk geëmigreer, en daar hy het agt “betrokke” romans geskryf, waaronder die speurverhale The Steam Pig (1971), The Caterpillar Cop (1972), Gooseberry Fool (1974), The Sunday Hangman (1977) en The Song Dog (1991). Met die opbloei van misdaadfiksie in ons land wek McClure se seminale werke weer kwaai belangstelling.

Tussen 1976 en 1990 ’n belangrike tydperk vir die stryd teen apartheid en vir die weerstandsbeweging, was dit dan ook Wessel Ebersohn, ’n wit Afrikaner, wat in Engels die apartheidsregime die stryd aangesê het met sy anti-apartheid-speurverhale waar daar op ’n land in die middel van verandering gefokus word: die angs van die wit Afrikaner, die perverse ideologie van ’n ver-regse minderheid met mag, en die uiteindelike val van die apartheidregering, almal weergegee met eerlikheid, onverskrokkenheid en oortuigende diepte van gevoel en insig.

Interessant is dat die meganismes van apartheid hier direk verbind word met die werk van die “Special Branch”, wat baie van die “kriminele” elemente in sy boeke uitmaak, en die feit dat die “speurder” en held, Yudel Gordon, nie ’n polisieman is nie, eerder ’n Joodse sielkundige wat vir die Departement van Korrektiewe Dienste werk. Hoe die gewone, “goeie” subjek binne ’n verwronge bestel te werk gaan, staan hier sentraal, en ek wil-wil ’n raakpunt met Chris Karsten se onlange Man van min belang vind. ’n Bietjie later meer oor Karsten.

Te midde van ’n ernstige tekort aan die kritiese beskouing van misdaadfiksie onder apartheid lewer Michael Green ’n belangrike bydrae met “The Detective as Historian: A Case for Wessel Ebersohn”, waar hy na Ebersohn se oeuvre kyk om ’n argument daar te stel vir die relevansie van Ebersohn se “betrokke” skryfwerk as sosiopolitieke kommentaar, en waar hy die belang en nut van die speurverhaal as genre om die status quo te bevraagteken, beklemtoon. So ook wys Geoffrey Davis, in sy artikel oor Wessel Ebersohn, “Political loyalties and the intricacies of the criminal mind”, daarop dat Ebersohn se werke om die volgende redes uitstaan en vir lesers insigte kon gee in die “national state of mind” wat onder apartheid geheers het:

[T]he works of Ebersohn are remarkable not only for the skill with which a detective fiction is woven into a complex account of apartheid society, but also for the perceptive psychological and sociological analysis to which that social order is subjected. And indeed, the political insight which informs these novels is, for me, one of their primary attractions. (195)

Met die formele beëindiging van apartheid en die eerste demokratiese verkiesings in 1994 het verskeie grense – beide fisies en psigologies – vervaag. In die sogenaamde nuwe Suid-Afrika, veral met die oorwegend wit middelklas, het ’n dominante vrees vir misdaad en die onbekende en moontlik dreigende “Ander” gemanifesteer. Dit blyk ’n manifestasie te wees van ’n “unique political and existential condition: ‘a constant sense of suspense.’ The apocalyptic threat of a ‘bloody and final conflict’ resides deep within the South African psyche” (Titlestad en Neser 2010:265). Hier sou ’n mens sonder moeite ook in die Engelse letterkunde na die “apokaliptiese fiksie” van Gordimer se July’s People en Coetzee se Life and Times of Michael K verwys, en in Afrikaans na Eben Venter se Horrelpoot, hoewel dit eerder onder literatuur van die postapartheid era val.

Te midde van ’n heersende klimaat van vrees en die “bedreiging” van die “apokaliptiese” in die vorm van oorheersende kriminaliteit, is Altbeker tereg bedag daarop wanneer hy argumenteer: “More so than the issues of service delivery, the eruption of predatory crime has been dislocating and traumatic” (68). Die eerstehandse ondervinding van misdaad is, volgens sy siening, “terrifying and devastating in its own right, but is also an unambiguous confirmation of one’s powerlessness, of the precariousness of one’s existence. And the awareness of powerlessness reinforces the trauma and terror of the act itself” (68).

So ’n “magteloosheid”, tesame met die “konstante sin van spanning” wat deur baie wat die land bewoon, beleef word, vind ’n interessante teenpool met dié dat die land se misdaadfiksie al hoe meer prominent in die land se nasionale literatuur asook die oorsese mark word. As ons nou bietjie spottend wou wees, sou daar gesê kon word dat oorsese lesers, nes hulle plaaslike maats, in ’n konstante “angstoestand” toestand skyn te wees oor die vrystelling van hulle “gunsteling” Suid-Afrikaanse misdaadskrywers se boeke.

Die veelbesproke Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) van die laat negentigs het gepoog om ’n mate van heling of gerusstelling aan ’n getraumatiseerde (grootliks swart) publiek te bied na die gruweldade van die laat apartheidsdae. Vele van die ergste boosdoeners – baie van hulle polisielede in die spesiale magte – moes pa staan vir hul dade deur hul misdade bekend te maak. Op grond daarvan is baie van hierdie “kriminele” dan amnestie toegestaan, met die gevolg dat die publiek se onderliggende vraag om geregtigheid nie volbring is nie.

Wat hierdie postapartheid werklikhede aan die lig bring, is die feit dat die Suid-Afrikaanse samelewing se vertroue in die staat om die meerderheid se belange te beskerm ’n ernstige knou gekry het sedert 1994, eerder as die omgekeerde, wat ’n mens dalk ná die ergste gruwels van apartheid sou verwag het. Ook is dit duidelik dat die publiek se hoop op ’n antwoord op besondere vlakke van misdaad en sosiale misdrywe nie deur die staat of sy wetstoepassers gevind sal word nie.

Rita Barnard

Ek spekuleer nou, maar moet wonder of die publiek se groot honger vir postapartheid geregtigheid en orde wat herstel word, nie tot ’n mate gevoed word met letterkunde wat ’n tipe Aristoteliaanse katarsis en “street justice” vir lesers bied wat hulle nie noodwendig (of enigsins) in die wêreld daar buite sou kry nie.

Rita Barnard, aangehaal op die webwerf SLiPnet wat deur die Departement Engels van die Universiteit Stellenbosch bestuur word, stel dit so: “The prevalence of crime fiction, along with the counter-discourse of law and order it has provoked, has become one of the most important features of postapartheid society […] Crime writing and detective fiction have flourished since 1994” (in Chetty 2012).

Gedurende 2011 is daar op SLiPnet ’n intense en met tye aggressiewe veldtog gevoer oor die meriete van die Engelse genre-model in Suid-Afrika, met die groot vraag of die genre enigsins iets meer kan bied as goedkoop vermaak en voorspelbare kritiek op die huidige sosiopolitieke stand van sake. Dit is buite die bestek van hierdie essay om op besonderhede in te gaan, maar ek wil die vraag dan ook ’n bietjie bekyk vanaf die Afrikaanse oogpunt op die genre.

Die volgende aanhaling van die bekende sosiale antropoloë Jean en John Comaroff bied ’n tersaaklike en bondige insig in hoe die genre grootliks plaaslik (kan) funksioneer:

[It] provides readily available tropes for addressing ironies, for ventilating desires, and above all, for conjuring a moral commonwealth, especially when radical transformation unseats existing norms and robs political language of its meaning. (Comaroff en Comaroff, 807)

Dit is my siening dat die huidige groep Engelse misdaadskrywers, soos Mike Nicol, Margie Orford en Andrew Brown, onder andere, dalk sterker op “politiese” vraagstukke soos korrupsie, bendegeweld en wetteloosheid onder regeringslui ingestel is as baie Afrikaanse eweknieë, wat hul meer op vermaaklikheid en “escapism” toespits. Telkemale het Orford ook deur haar vyf romans, Like Clockwork (2006), Blood Rose (2007), Daddy’s Girl (2009), Gallows Hill (2011) en Water Music (2013) tereg uitgewys dat dit veral joernaliste en speurders is wat met geloofwaardigheid oor die wye spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing kan beweeg sonder om gedurig deur die leser en ander bevraagteken te word. Die populariteit en gereelde verskyning van hierdie figure in ons literatuur behoort dan geensins meer as ’n verbasende of nuwe wending gesien te word nie.

In die Afrikaanse wending is dit egter baie belangrik om te let op die “betrokke” aard van die skryfwerk van veral Karin Brynard (soos bespreek in ’n onlange essay deur Kerneels Breytenbach, met Onse vaders, die vervolg op die broeiende Plaasmoord, wat tereg as die “nuwe gesig” van betrokke literatuur aangewys word), en die onderskatte Chris Karsten, wat eers met Seisoen van sonde en toe later met die Abel Lotz-trilogie groot indruk gemaak het met sy byna forensiese letterkundige ondersoekstyl. Hier plaas Karsten die intelligente en intuïtiewe adjudant Ella Neser as speurder op die voorgrond.

Daar is bitter min skrywers wat dit oor die bestek van drie boeke kan volhou om met soveel eksaktheid, insig en empatie te skryf oor die wyse waarop verwronge samelewings ook verwronge en moorddadige individue kan kweek. Karsten het ook sy ongelooflike skryftalent ten toon gestel met die aangrypende Man van min belang, wat op sonderlinge wyse op apartheidsmisdrywe deur die staat en die lot van families met vermiste persone ingegaan het.

Om die beurt gebruik Brynard die speurduo Beeslaar en Ghaap, een wit, een bruin, om op ’n uitsonderlike wyse metodies en insiggewend met die land se sosiopolitieke vraagstukke soos ras, gendergeweld, armoede, die afwesigheid van vaderfigure, xenofobie, mutimoorde, ongelykheid en transformasie in terme van klas om te gaan. Daar is humor en deernis en emmers vol meegevoel eerder as bloed, alhoewel daar dele in veral Onse vaders is wat die mees geharde misdaadfiksievraat op sy tande sal laat kners.

Terwyl die karakters in betrokke literatuur van veral die sewentigs en tagtigs in die romans van skrywers soos Brink en Miles teen die morele bankrotskap (op menigte vlakke) van die apartheidregime te staan gekom het, in soveel opsigte wat ’n mens ’n “grand crime” of “strukturele misdaad” kon noem, moet die karakters in die mees verwikkelde misdaadromans, soos dié van Brynard, ’n regime konfronteer wat aandadig is aan misdrywe en misdade wat meer as net enkele individue se lewens bedreig.

Dis vir my interessant dat ’n roman deur die swart skrywer Diale Thlolwe getiteld Ancient Rites (2008) ’n uiters treffende blik op die postapartheid samelewing bied, een waar Suid-Afrika gewikkel is in ’n “myriad of complexities and bafflements”, vasgevang tussen “old certainties and new truths” (23, 47). Dis die tipe diagnose van onsekerheid en morele verval wat ook grootliks sy verskyning maak in die Afrikaanse genre-mark, ’n diagnose wat poog om dit wat buite die grense van die sosiaal herkenbare en morele orde, of die selfdefinieerbare en –afbakenbare, lê, uit die duisternis tot in die lig van besinning te dompel.

Wat grootliks debatteerbaar is, wentel om die vraag of skrywers hulle tot die literatuur wend om antwoorde te verkry en ondersoek in te stel, en of dit in party gevalle bloot ’n kwessie van voorafgaande en vooropgestelde idees oor misdaad en verskeie verse oor die toestand van die land is waaraan uiting gegee word.

Diale Thlolwe, Deon Meyer, Margie Orford, Jassy Mackenzie, Roger Smith, Mike Nicol, Joanne Hichens, Peter Church, HJ Golakai, Sifiso Mzobe, Andrew Brown, Trevor R Corbett, Jane Taylor, Andrew Gray, Rob Marsh, Brandon Carstens, Malla Nunn, Tim Keegan, Tracy Gilpin, Muff Anderson, David Dison, Chris Marnewick, Richard Kunzmann, Angela Makholwa, Sue Rabie en Michelle Rowe is die bekendste skrywers wat al boeke in die genre gepen het in Engels sedert 1994.

Meyer weet presies hoe om met genre-konvensies om te gaan, hoe om verskeie elemente dan versigtig bymekaar te voeg en om elke keer vir die leser ’n leeservaring te bied wat hom of haar sal tevrede stel. Ons het hier met niks minder te make nie as ’n stelselmatige (her)besinning oor die aard en gevolge van apartheid en die mees problematiese eienskappe van die postapartheid tydvak. Van die vroeë, grinterige “police procedurals” Feniks en Orion, met die onvergeetlike antihelde Mat Joubert en Zatopek van Heerden, tot die grensverskuiwende Proteus, met die bykans ongehoorde stap van ’n swart hoofkarakter, Thobela Mpayipheli, deur ’n wit, Afrikaanse misdaadfiksieskrywer op ’n mitiese motorfietstog na Angola, van die heerlik aweregse en getraumatiseerde hardekoejawel lyfwag Lemmer tot almal se gunsteling-speurder, die gefolterde Bennie Griessel in Infanta, Sewe dae en Kobra, het ons hier met ’n wêreldklas skrywer te make. Een wat al in 27 tale vertaal is.

Meyer se romans bied keer op keer ’n keur van simpatieke karakters en eiesoortige helde met voete van klei, ’n verpersoonliking van die land se diversiteit en karakter wat “normaliseer” na die trauma van apartheid. Sy werk is beide krities van die huidige bestel en verskeie sosiopolitieke kwessies in die land, en immer hoopvol dat daar oor die grense van kleur en gender saamgewerk kan word om die land se vooruitsigte te verbeter.

Alhoewel verskeie resensente en akademici, soos Andries Wessels (Infanta veral) met oortuiging Meyer se werk takseer het en die skrywer lof toegeswaai het, is dit dalk net Geoffrey Davis (2007:13) wat met die volgende paragraaf Meyer se uitstaande (baanbrekers)werk met mening opsom:

Deon Meyer has proven himself a master of the thriller. He knows how to pace the action, create suspense, and weave an intricate plot. He populates his novels with characters that have credibility and depth. He recognises the importance of the legacy of a past rooted in apartheid while remaining committed to a non-racial future. He addresses issues of importance in the New South Africa whether these concern drugs, crime, child abuse, environmental protection or the presentation of wildlife. And of course, not the least of his talents is that he writes books that are vastly entertaining page-turners. Single-handed, he has created a new literary genre for himself – the Afrikaans thriller.

Chanette Paul verdien spesiale vermelding as ’n skrywer wat oor die grense van ontspanningslektuur in Suid-Afrika skryf. Paul se eerste poging, Wip van die droomvanger (1999), was die naaswenner van die ATKV-Prosaprys. Dit was ’n mengsel tussen ’n sielkundige riller en ’n raaiselroman/whodunit met ’n esoteriese kinkel: die hoofkarakter, Jaini van Schalkwyk, kon in haar drome sien wat 200 jaar gelede met twee susters gebeur het. Speursersant Braam Els was betrokke, asook sy vroulike sidekick, konstabel Vermaas.

Met geen speurders betrokke nie kan Leila word lig (2005) (geskryf onder leiding van Etienne Van Heerden as deel van ’n MA in skeppende skryfwerk) dalk ook as spanningsroman geklassifiseer word, alhoewel dit dalk die naaste is wat haar boeke aan literêre fiksie kom. Leila, die hoofkarakter, probeer op haar eie uitvind of haar vriend en amperse minnaar, Jerome van Niekerk, werklik selfmoord gepleeg het en indien wel, waarom. Die boek was ’n finalis vir die ATKV-Prosaprys in 2005 en glo ’n baie klein kortkoppie agter die wenner, Die swye van Mario Salviati.

Paul het in 2007 finaal besluit om haar tot spanningsromans te wend en om toeganklik te skryf. Springgety (2007) het gevolg, met ’n sterk romantiese verhaallyn om lesers nie te vervreem nie. Niemand, die speurder wat die moorde ondersoek het, het ’n perspektiefkarakter geword in die tweede weergawe van die roman. Niemand was weer terug in Fortuin (2008) en gou daarna ook te bespeur in Boheem (2009), ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjie in die spanningskategorie. Wat die Gys Niemand-reeks anders maak as tipiese speurromans, is dat Gys nie die hoofkarakter is nie, en dat hy dwarsdeur die reeks ’n sekondêre karakter bly. Hy is ook nie juis ’n wafferse speurder nie. Die vroulike hoofkarakter werk meestal voor hom uit wat eintlik aan die gang is en dan is dit bykans te laat. Die hoofkarakters doen self ook speurwerk. Meetsnoer (2010) en Dryfhout (2011) het ook vir lesers meer van Niemand opgedis.

Die Maanschijnbaai-tweeluik (2012) is nie spanningsromans nie, hoewel daar ’n sterk spanningslyn is en ’n gay speurder, AO Sardyn, wat hand bysit met krisistye. Die tweeluik was ’n finalis in die ATKV-Woordveertjie se liefdesromankategorie en deel een, Jo & Sue, was die Lekkerlit Boek van die Jaar vir 2012.

Daarna blyk daar ’n besliste verandering in Paul se skryfwerk te wees. Hoewel daar ’n speurder, luitenant Chris Croucamp, asook ’n sersant Els betrokke is, is die enkelstaande Labirint (2012) ’n spanningsroman met die hoofkarakter, Vasti de Leeuw, wat die geheime ontrafel met ander se hulp.

Siende blind (2013) is seker die een enkele boek wat Paul aan die grootste gehoor bekendgestel het. Dit is aangewys as die Lekkerlit Boek van die Jaar 2013. Daar is die speurders, inspekteur Macey van die Surrey-speurtak en luitenant Faure in Suid-Afrika, maar die ware speurpersoon is Jojo Richter, ’n redelik komieklike navorser/private speurder wat met ’n gewese speurder, Valk Richter, getroud was. Die hoofkarakter, Cara van der Linde, ontrafel egter finaal wat aangaan.

Chanette Paul

Jojo Richter maak ook ’n vinnige draai in Raaiselspieël (2014), maar die eintlike speurder is AO Boetie Arendse. Dis egter die hoofkarakters, Frieda Fouché en Stas Stassen, wat ontrafel wie die moordenaar is en waarom die moord(e) gepleeg is.

Vele van Paul se spanningsromans het ook ’n esoteriese/spirituele element:

Raaiselspieël – Frieda is heldersiende.
Fortuin – Wicca-hekse speel ’n rol.
Meetsnoer – ’n Christelike sekte wat glo die einde van die aarde is op hande, kom onder die loep. In die Gys Niemand-reeks speel die legende van die visvrou van Kruisbaai deurlopend ’n rol; in Labirint die legende van ’n leeuman.

Mitologie en die kunste is ’n baie sterk tema wat deur feitlik al haar romans loop. Paul het self in 2007 op LitNet geskryf – na aanleiding van Wheat se onderskeid tussen “mystery” en “suspense” – oor die aard van haar fiksie.Wheat tref ’n duidelike onderskeid tussen "mystery" en "suspense" – albei in Afrikaans vertaal as “spanning”. Ons kan moontlik tussen die twee onderskei as enersyds ’n speurverhaal (“mystery”) en andersyds ’n spanningsverhaal (“suspense”). Veral laasgenoemde vertaling is nie baie bevredigend nie, omdat dit steeds tot verwarring kan lei, maar opgesom sien die onderskeid so daar uit:

Speurverhaal

Spanningsverhaal
(suspense)

Die hoofkarakter is ’n professionele of semiprofessionele speurpersoon en in beheer van die situasie – gewoonlik ’n moordsaak.

Die hoofkarakter is nie ’n speurpersoon van beroep nie en word in chaos gedompel wanneer iemand na aan hom/haar vermoor of te na gekom word.

Die verhaal is gekonstrueer soos ’n legkaart.

Die verhaal het die aard van ’n nagmerrie.

Die speurpersoon speel ’n magspel.

Die hoofkarakter is in mindere of meerdere mate ’n slagoffer.

Hy/sy is toegerus vir die taak en het vaardighede en ervaring.

Hy/sy (gewoonlik sy) is aanvanklik nie toegerus vir die taak nie en moet vaardighede aanleer.

Hy hou kop in die situasie.

Sy word onverhoeds deur die situasie oorval.

Hy verskaf logika en insig.

Sy probeer oorleef/seëvier.

Hy beredeneer dinge min of meer objektief, van buite af, en doen dit met sy verstand (“reason”).

Sy beleef die gebeure op emosionele vlak / van binne af.

Denke word vooropgestel.

Gevoel/emosie word vooropgestel.

Die leser is twee treë agter die speurpersoon.

Die leser is twee treë voor die hoofkarakter.

Inligting word van die leser weerhou.

Die leser het meer inligting as die hoofkarakter.

Die speurpersoon werk met leidrade.

Die hoofkarakter word verras / moet verrassende gebeure verwerk.

Die aksie is “off stage”, maw die speurpersoon is nie by wanneer die misdaadaksies plaasvind nie.

Die aksie is “on stage”, maw die karakter is direk of indirek slagoffer van die misdaadaksies en beleef dit op emosionele vlak.

Sy wêreld verklein en sentreer om ’n groep verdagtes.

Haar wêreld verbreed om mense en optredes/dade wat nie deel van haar verwysingsraamwerk is nie, in te sluit.

Die speurpersoon ondergaan geen of min karaktergroei/-ontwikkeling.

Definitiewe karaktergroei/-ontwikkeling. Die hoofkarakter is ’n ryper en ryker mens aan die einde van die verhaal en het haar tekortkominge oorwin of ten minste aangespreek.

Die vraag in die speurverhaal is: Wie het dit gedoen / die moord gepleeg?

Die vraag in die spanningsverhaal: Sal die hoofkarakter oorleef/oorwin /seëvier?

Die speurpersoon werk met verdagtes.

Die hoofkarakter beleef verraaiers.

Vals leidrade (“red herrings”) bemoeilik sake.

Siklusse van wantroue trek die spanningsdrade styf.

Die leser se bevrediging lê op intellektuele vlak.

Die leser se bevrediging lê op emosionele vlak.

Die onderskeid tussen die twee (sub)genres kan natuurlik nie verabsoluteer word nie en Wheat oorvereenvoudig die saak ter wille van die “How to ...”-aard van haar boek. Natuurlik is daar suspense-elemente in die mystery en omgekeerd, maar dis tog ’n nuttige onderskeid waarvan ons in die Afrikaanse literatuur kan kennis neem.

Francois Bloemhof, Barend Vos, Piet Steyn, Carel Van der Merwe, Quintus van der Merwe en Harry Kalmer is die “main manne”wat op hul beurt die genre met groot sukses ontgin, maar ek sal in ’n volgende aflewering na hul afsonderlike werke moet kyk.

Speurdergedrewe romans by LAPA Uitgewers

Isa Konrad

Diva het Janek Baptiste as die speurder in ’n klassieke speurwerk.

Lien Roux-de Jager

Sy het reeds twee speurboeke op die rak: Donker leuens en Gekoopte leuens. Die derde, Slim leuens, verskyn in Augustus. Die hoofkarakter is Kalli Krynauw, ’n forensiese psigofisioloog wat, onder andere, leuenverklikkertoetse doen. Sy werk vir die SAPD by die Special Intelligence Service (SIS). Joe Willemse is die ondersoekbeampte, ’n tipiese speurder, en Kalli help hom. Dan is daar ook De Waal Brink, die vreemde wetenskaplike wat in al haar boeke optree.

Madelein Rust

Die dertiende kaart is ’n sielkundige riller. Belia Bell is die fokalisator, en ’n “profiler”, wat saamwerk met ’n span speurders onder leiding van Jack Butler. Haar pa was ook ’n speurder tot hy geskiet is, en haar peetpa is ook ’n speurder.

Bets Smith

In Bloedspoor is daar twee speurders: Henk Vos en Pieter Taljaard. Mooi damestudente word vermoor by die Universiteit van Pretoria – by elkeen is daar ’n afbeelding van Stonehenge.

Peet Venter

In Venter se drie speurdergedrewe romans, Ou bloed, Dieper as die bloed en Waar boosheid broei, is die speurder Thys Krige aan die spits. In die eerste twee romans is Krige ’n lid van die polisie, maar bedank in die tweede aflewering en werk in die derde een saam met die polisie as privaatondersoeker.

Leon van Nierop

Hy skryf nie die tradisionele speurroman nie, maar in Snydokter is die karakter, George Kellerman, ’n privaatspeurder wat deels op die werklike Kellerman gebaseer is. Dit is egter die hoofkarakter Monique wat die grootste rol speel: sy en Kellerman los saam die verdwyning op. Snydokter is eerstens ’n spanningsroman, maar ook die resultaat van ’n sosialemediaveldtog waarmee LAPA Uitgewers se reklameagentskap in 2012 twee Pendorings gewen het. Die roman het ontstaan as deel van “Die hoofkaraktersoektog” in 2012. Die publiek is uitgenooi om raaisels te ontrafel na aanleiding van leidrade wat via sosiale netwerke en ander media bekend gemaak is. Die drie wenners, Monique Bisschoff (hoofkarakter), George Kellerman en Rozanne Kotzee, se name word nou gebruik, asook hulle karaktertrekke, om die dokter op te spoor. George, die regte speurder, het sekere idees vir die ondersoek gegee.

Insomnia handel oor die spoke in die psige van die hoofkarakter, Louise, en Verklikker oor ’n leuenverklikker, maar dit is meer ’n sielkundige teks as ’n speurteks.

Ander spanningsromans wat nie speurromans is nie

Japie Bogaards

Bogaards debuteer met Tussen middernag en dagbreek. Nie ’n speurverhaal nie, maar ’n sielkundige riller oor ’n dwelmslaaf en twee mense wat mekaar in die tronk ontmoet. ’n Oudregter word dan die teiken.

Michael Green

In Hondsdol word ’n dwelmsindikaat oopgevlek deur ’n kêrel wat ’n kung fu-musical wil skryf. Green leun swaar op die invloed van onder andere Tarantino.

Corlia Fourie

In die sielkundige riller Die geheime kamer word die trauma van ’n vrou wat toegesluit en aangehou word, uitgebeeld.

Isa Konrad

In die sielkundige riller Die soenoffer ondersoek ’n joernalis die storie van ’n negejarige reeksmoordenaar wat reeds haar straf uitgedien het.

Abraham Phillips

Die evangelis van Kaggelsberg is nie ’n speurroman nie. Jaffie, die evangelis, is eerder ’n teenvoeter vir die bose.

Bets Smith

In Skrikkelmaan is Beáte die alleenerfgenaam van ’n sakeryk ná haar pa se noodlottige motorongeluk. Geen speurder nie; wel ’n privaat sekuriteitshoof.

Deborah Steinmair

Poppekas is nie ’n speurverhaal nie, eerder ’n kreatiewe en übercool korporatiewemisdaadverhaal, met ’n joernalis wat navorsing doen en so die misdaad ontbloot. Die neus en Wenkbrou is Steinmair se uitstaande twee raaiselromans, met Moestas wat in 2015 die lig sal sien. Hier word verskeie raaisels, krimineel en persoonlik, deur onder andere Agatha “Aga” Gruber opgelos.

Woutrine Theron

Dans met die rooi rok handel oor die hoofkarakter wat eiehandig ondersoek instel na ’n moord en ander gebeure om haar.

Paul C Venter

In Die geval van die sadistiese swembad is daar ’n tweeling wat probeer uitvind hoekom soveel mense in hulle swembad verdrink.

Irma Venter (nie LAPA-skrywer nie)

Venter se twee romans tot op hede, Skoenlapper en Skrapnel, het die leser weggelei van die tradisionele speurroman na die terrein van die “mystery”/riller. Hier word die perspektiewe afgewissel tussen die joernalis Alex en die fotograaf Ranna, en ’n opwindende drieluik sal binnekort met die publikasie van Sondebok afgesluit word.

Calvyn Van Niekerk (nie LAPA-skrywer nie)

Van Niekerk se speurder is Tromp Faber, wat ’n ou vriend uit die pekel moet help wanneer vermiste persone en ’n groot hoeveelheid diamante dreig om alle nate te laat losbars.

Martin Steyn

Steyn se Donker spoor is ’n debuutwerk wat binnekort die lig sal sien. Jan Magson en Colin Menck is die twee speurders wat ’n reeks wrede moorde in Durbanville oplos. Die polisieprosedures staan sentraal en Magson is ’n lekker outydse speurder.

Ter afsluiting is dit duidelik dat ’n verskeidenheid skrywers op verskillende wyses binne genre-konvensies omgaan. Ek voorspel dat Deon Meyer steeds in die onmiddellike toekoms heel bo aan die verkoopsyfers sal bly, en die onlangse intense fokus op karakter- en dialoog-gedrewe misdaadfiksie uit sy pen maak ’n mens beslis opgewonde oor wat volgende die lig sal sien. Rudie Van Rensburg blyk ’n uiters populêre keuse by lesers en kritici te wees – ek is self gaande oor sy twee Kassie Kasselman-speurromans – en sy derde roman sien eersdaags die lig. Na Slagyster en Kopskoot kan dit net die doepa wees om hom tot heel bo aan die kruin te verplaas. Chris Karsten se werk in die toekoms maak ’n mens opgewonde, en Deborah Steinmair se Moestas sal finaal bepaal of haar unieke raaiselromans eenvoudig te ongewoon, skeppend en radikaal vir die Afrikaanse publiek is.

Die vraag is egter: Wanneer gaan ons iets in die plaaslike Afrikaanse misdaadfiksie sien soos ’n gay, swart speurder wat deelneem aan poetry slams – ’n Afrikaanse Easy Rawlins – of ’n hardgebakte, Moslem-speurder in die tradisie van Margie Orford se Riedwaan Faizal? Is Chris Karsten werklik die enigste skrywer tot ons beskikking wat ’n skitterende soepelheid van taalgebruik met die simpatieke en nugtere karakterisering van die samelewing se “monsters” kan weergee sonder dele wat hinkepink? Het ons ’n Patricia Highsmith, ’n Elmore Leonard, ’n Fred Vargas of Michael Chabon in ons midde wat wag om ontdek te word? Net die tyd sal leer. 

 


Bibliografie

Altbeker, Antony. 2005. The Dirty Work of Democracy. Johannesburg en Kaapstad: Jonathan Ball.

—. 2007. A Country at War with Itself: South Africa’s Crisis of Crime. Johannesburg en Kaapstad: Jonathan Ball.

—. 2010. Fruit of a Poisoned Tree: A True Story of Murder and the Miscarriage of Justice. Kaapstad: Jonathan Ball. Print.

Bloom, Kevin. 2009. Ways of Staying. Johannesburg: Picador Africa.

Butler, Judith. 2004. Precarious Life: The Power of Mourning and Violence. Londen: Verso.

Christian, Ed. 2001. The Postcolonial Detective. Londen: Palgrave Macmillan.

—. 2010. Ethnic postcolonial crime and detection (Anglophone). In Charles J Rzepka en Lee Horsley (reds): A Companion to Crime Fiction. Chichester: Wiley Blackwell.

Comaroff, Jean en John Comaroff. 2006. Law and Disorder in the Postcolony. Chicago: University of Chicago Press.

Davis, Geoffrey. 2006. Political loyalties and the intricacies of the criminal mind: the detective fiction of Wessel Ebersohn. In Christine Matzke en Susanne Muhleisen (reds): Postcolonial Postmortems. Amsterdam en New York: Rodopi.

De Certeau, Michel. 1988. The Practice of Everyday Life. University of California Press: Berkeley.

De Kock, Leon. 2012. Roger Smith and the genre snob debate. SLiPnet, 9 Januarie.

http://slipnet.co.za/view/reviews/crime-fiction-the-new-political-novel.

Green, Michael. 1994. The Detective as Historian: A case for Wessel Ebersohn. Current Writing, 6(2).

Groenewald, Yolandi. 2007. Onsigbaar/Blood Safari, Mail & Guardian. Oktober 2007.

Knight, Stephen. 1980. Form and Ideology in Crime Fiction. Londen: Macmillan.

—. 1997. Continent of Mystery: a Thematic History of Australian Crime Fiction. Melbourne: Melbourne University Press.

Loder, John. 1994. Australian Crime Fiction: A Bibliography 1857-1993. Port Melbourne: Thorpe.

Matzke, Christine en Susanna Muhleise (reds). 2006. Postcolonial Postmortems. Editions Rodopi: Nederland.

—. 2011. A short history of South African crime fiction. Crime [email protected] http://crimebeat.bookslive.co.za/a-shirt-history-of-south-african-crime-fction.

Steinberg, Jonny. 2002. Midlands. Kaapstad en Johannesburg: Jonathan Ball.

—. 2004. The Number: One man’s search for identity in the Cape underworld and prison gangs. Kaapstad en Johannesburg: Jonathan Ball.

—. 2008. Thin Blue: The unwritten rules of policing South Africa. Kaapstad en Johannesburg: Jonathan Ball.

Thlolwe, Diale. 2008. Ancient Rites. Kaapstad: NB-Uitgewers.

—. 2010. Counting the Coffins. Kaapstad: NB-Uitgewers.

Thompson, Jon. 1993. Fiction, Crime and Empire: Clues to Modernity and Postmodernity. Urbana en Chicago: University of Illinois Press.

Titlestad, Michael en Ashlee Neser. 2010. “Turning to Crime”: Mike Nicol’s The Ibis Tapestry and Payback. The Journal of Commonwealth Literature, 45(2):259–73.

Titlestad, Michael, Deborah Posel en Achille Mbembe. 2008. Editorial in Crime and Punishment, The Wiser (Wits Institute for Social and Economic Research) Review #3, Junie 2008, bl 2.

Wheat, Carolyn. 2003. How to Write Killer Fiction: The Funhouse of Mystery & The Rollercoaster of Suspense. Perseverance Press.

 

Eindnotas

1 Benewens die populariteit van die misdaadroman is ’n rits TV-reekse soos Fargo, Breaking Bad, Person of Interest, CSI, The Killing en The Bridge (van die Nordiese lande) almal uiters gewild onder kykers.

2 Comaroff, Jean en John Comaroff. 2006. Law and Disorder in the Postcolony. Chicago: University of Chicago Press, 2006.

3 Precarious Life: The Power of Mourning and Violence. 2004. Londen: Verso.

4 Mike Nicol se Revenge Trilogy bied ’n fassinerende en spannende blik op hoe die situasie moontlik in die werklikheid lyk.

5 Warnes, Christopher. 2012. Writing Crime in the New South Africa: Negotiating Threat in the Novels of Deon Meyer and Margie Orford. Journal of Southern African Studies, 38(4):981–91.

   Naidu, Sam. 2013. Crime fiction, South Africa, A critical introduction. Current Writing: Text and Reception in Southern Africa, 25(2):124–35.

   Amid, Jonathan en Leon De Kock. 2014. The crime novel in post-apartheid South Africa: a preliminary investigation. Scrutiny 2. Issues in English Studies in Southern Africa, 19(1):52–68.

6 Jonny Steinberg het waardevolle werk gelewer aangaande misdaad en polisiëring in Suid-Afrika, veral met betrekking tot die bepalende rol van ras in hierdie opset, veral in Midlands (2005) and in Thin Blue: The Unwritten Rules of Policing South Africa (2008).

7 Sien die volgende bronne vir meer: Charles van Onselen, Studies in the Social and Economic History of the Witwatersrand 1886–1914, Volume 2, New Nineveh, Johannesburg: Ravan Press (1982); Clive Glaser, Bo-Tsotsi: the Youth Gangs of Soweto (1935–1976), Portsmouth: NH, Heinemann (2000); Gary Kynoch, We are Fighting the World: a History of the Marashea gangs in South Africa (1947–1999), Athens, OH: Ohio University Press (2005); Don Pinnock, The Brotherhoods: Street Gangs and State Control in Cape Town. Cape Town: David Philip (1984); Steffen Jensen, Gangs, Politics and Dignity in Cape Town. Chicago: Chicago University Press (2008). Anton Harber se Diepsloot. Johannesburg en Kaapstad: Jonathan Ball Publishers (2011). Daar is ook die Special Issue of African Studies, 63:2 (2004) getiteld Everyday Policing in South Africa.

8 The Wiser (Wits Institute for Social and Economic Research) Review #3, Junie 2008, bl 2.

9 http://crimebeat.bookslive.co.za/a-short-history-ofsouth-african-crime-fiction

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
Young Voices Conference 2004
The accident of home
– Lauren Beukes
2004-10-19
Briewe deur die lug
Die boek, die skrywer en die internet
– Deon Meyer
2000
LitNet Akademies-resensie-essay
Kobra deur Deon Meyer
– Pepler Head
2013-12-18
LitNet Akademies-resensie-essay
Is Piekniek by Hangklip ’n kriminele oortreding?
– Izak de Vries
2012-05-02
Book Chat
Found in translation
– Jaco Botha, Mike Nicol
2013-09-04
Resensies
Kopskoot deur Rudie van Rensburg
– Lien Botha
2014-06-23
Resensies
Vuilspel: ’n Misdaadroman oor haat
– Joan Hambidge
2013-06-26
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die miskruier, hoop en die verlede – Miskruier (2005) deur Jaco Botha as kritiese distopiese roman
– Joan-Mari Barendse
2013-09-04
Resensies
Moord en roof: In die kop van ’n baasspeurder deur Albert Blake
– Jonathan Amid
2014-05-10
Resensies
Ou bloed is uiters boeiend en suksesvol
– Madri Victor
2013-07-19

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Lien Roux-de Jager

    Baie deurdagte en interessante artikel. Dit laat mens dieper dink oor die genre waarin jy skryf. Dankie Jonathan. Ek sou graag meer van jou werk wou lees en ook reaksie op jou artikel wou sien. En ander skrywers se menings wou sien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top