LitNet Akademies-resensie-essay: Is Piekniek by Hangklip ’n kriminele oortreding?

  • 1

 

Piekniek by Hangklip
Kerneels Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156035
Prys: R207.95
Klik hier en koop Piekniek by Hangklip nou van Kalahari.net!
 

Piekniek by Hangklip is ’n belangrike roman, maar ek wil, tong in die kies, voorstel dat Kerneels Breytenbach aangekla word daarvan dat hy willens wetens ’n kriminele daad gepleeg het.

Hierdie resensie gaan die bewyse van Breytenbach se kriminele aksies inwin in die hoop dat dit die leser sal stimuleer om sélf verder te delf en dan sélf die speurtog na Breytenbach se verskuilde motiewe aan te pak.

Die betooghoofde sien soos volg daar uit:

  • Die eerste klagte spruit uit Kerneels Breytenbach se verbreking van ’n aantal (vae) reëls oor dít wat die krimi nou eintlik is.
  • Die tweede is dat ons te make het met ’n speurroman sonder enige speurwerk.

Ná hierdie klagtes aanhangig gemaak is, en verkieslik bo redelike twyfel bewys is, sal die verdediging die reg hê om versagtende omstandighede te probeer aantoon, waarop ek vorige oortredings sal uitwys.


Brink oor die krimi se inhoud

Aangesien die reëls vaag is, wil ek my beroep op ’n kenner om die eerste getuienis in hierdie saak te lei.

Ek roep dus André P Brink om te verduidelik hoe die krimi daar uitsien.

In September 2010 het Brink Afrikaanse lesers laat regop sit toe hy met ’n enkele lesing skrywers soos Deon Meyer, Karin Brynard en Margie Orford in die kanon van ernstige literatuur opgeneem het.

Die misdaadverhaal is nie nuut nie, het Brink gesê, ons vind dit reeds in die Gilgamesj-epos. En ook: “Vanaf Schreiner en Sol Plaatje en Leipoldt en Langenhoven, loop ’n bloedspoor deur die Suid-Afrikaanse letterkunde” (Brink 2010).

Die krimi het egter eie reëls, vertel Brink. In hierdie soort roman word “goed en kwaad” deeglik van mekaar geskei:

Een van die beginsels waarop dié soort verhaal deur die eeue berus het, vanaf Beowulf en Sherlock Holmes tot Raka en Karel Kielblock, is die byna Bybelse onderskeid tussen goed en kwaad, onreg en geregtigheid. (Brink 2010)

Van belang vir Brink se definisie is die hoop wat in dié tipe verhaal ingebou word:

Dit het berus op die oortuiging dat hóé verkeerd en ontstellend ons wêreld ook al mag wees, daar uiteindelik reg geskied (al moes daardie “reg” in die proses self opnuut gedefinieer word). (Ibid)

Die populêre misdaadromans gaan egter verder. Hulle is ook bewus van die sosiale uitdagings:

By Meyer is nog iets van ’n gerusstelling: in die meesleurende 13 Uur gáán die skurke aan die pen ry, en Bennie Griessel gáán “sy man kry”. Maar op stuk van sake is die menslike verhouding tussen die wit Griessel en sy swart kollega Vusi, en die spanning tussen hulle twee enersyds en die hoofsaaklik swart topstruktuur van die nuwe polisiemag andersyds tematies belangriker as die spel van goed en kwaad, reg en verkeerd. (Ibid)

In Margie Orford se boeke sukkel Riedwaan Faizal net so met die polisie, tog slaag hy en dr Clare Hart telkens daarin om die sake op te los. En in Karin Brynard se Plaasmoord kan dieselfde van Bert Beeslaar en sy kollegas gesê word.

Kerneels Breytenbach oortree egter hierdie reëls.

Joshua Gumbo kry wel sy mojo terug, maar die skuldige ry nie aan die pen nie. Goed en kwaad word hoegenaamd nie duidelik onderskei nie, en die reg neem beslis nie sy loop nie.

Op hierdie klag sou die leser, op grond van Brink se getuienis, vir Kerneels Breytenbach kon skuldig bevind.


Die gebrek aan ’n speurder

Bennie Griessel se naam is al so tuis in die volksmond soos dié van Piet Byleveld. Of dink aan Riedwaan Faizal, wat deur Margie Orford geskep is. Of wat van Stieg Larsson se Lisbeth Salander? En wie kan vergeet van Alexander McCall Smith se Precious Ramotswe en haar assistent Grace Makutsi? Veel minder bekend in Suid-Afrika is die Nederlandse vader en dogter, Jan en Sanne Terlouw, wat ’n formidabele fiktiewe vader en dogter, Job en Leonie Reders, vir hulle uitsonderlike reeks misdaadromans geskep het. Of wat van Sherlock Holmes en sy getroue Watson?  

Kerneels Breytenbach weier skynbaar om sulke karakters te skep. Aan Joan Hambidge het hy gesê: “Die ware raaisel is nie wie die moord gepleeg het nie, maar hoekom die polisie nie die misdaad kan oplos nie” (Chris 2011).

Op hierdie punt het Breytenbach dus geen verweer nie: hy erken hy het ’n speurroman sonder ’n speurder geskep.


Versagtende omstandighede en vorige veroordelings

Ná Kerneels Breytenbach op twee punte taamlik onomstootlik skuldig bevind is, wil ek vra of daar versagtende omstandighede is, of dalk juis die teenoorgestelde, vorige veroordelings?

Die antwoord op albei hierdie vrae is: Ja.

Vir die verdediging sou ’n advokaat dalk Carel van der Merwe se teks Geldwolf (Umuzi 2009) wou roep. In Geldwolf ontmoet die leser vir Stephen Winter wat op pad is na sy eerste miljard. Die probleem is, hy is uiters skelm en jaag sy miljard op ’n oneerbare wyse. Ook in Geldwolf is geen speurder betrokke nie.

Onder kruisverhoor sou die staat egter kon bewys dat Geldwolf juis vir Breytenbach op die eerste aanklag verder in die moeilikheid sou kon bring. Stephen Winter voldoen in alle opsigte aan die eienskappe van die klassieke Griekse held (sien De Vries 2009 vir ’n verdere verduideliking). Winter sál gestraf word. So is dit bepaal in die antieke geskrifte.

Piekniek by Hangklip is ook geen pikareske roman nie. ’n Onvoorbereide advokaat sou dalk hierdie halm soek om versagtende omstandighede te pleit, maar dit sou vergesog wees. Ja, Joshua is ’n buitestander, ’n swart buitelander wat sonder ’n pa grootgeword het. Die baie lang subtitel van Breytenbach se roman roep ook ’n herinnering op van, byvoorbeeld, George Weideman se pikareske roman Draaijakkals (Tafelberg 1999).


Die feit is egter, Joshua is geen pikaro nie. Hy is ook so slim soos die houtjie van die galg, hy het ’n formidabele voël, hy skiet altyd sekuur, hy kan boks, hy is ’n rekenaarfoendi ... Ons kan aangaan. Joshua Gumbo is nader aan 007 as aan ’n pikaro.

Die oop einde en die gebrek aan ’n samehangende ondersoek is egter al gedoen, dit sou die verdediging wel kon bewys. Dink maar aan George Weideman se Die onderskepper (Queillerie 1997). Of wat van Joan Lindsay se gelyknamige roman Picnic at Hanging Rock (1967), waar die geheim en geweld ook nooit opgelos word nie? Dit mág dus gedoen word, sal die verdediging aanvoer. Kerneels Breytenbach volg in ander se voetspore.

Goed en wel. Die staat sou nou reg wees om na Kerneels Breytenbach se vorige veroordelings te mag verwys.


Skakels met die eerste twee boeke

In 1992 publiseer Kerneels Breytenbach Morsdood van die honger (Human & Rousseau), ’n bundel kortverhale waarmee hy die CNA-prys vir debuutwerke ontvang het. Hier word die spel tussen hoë kuns en platvloersheid, waarna Michiel Heyns (2011) in sy resensie van Piekniek by Hangklip verwys, reeds voor.

’n Jaar later verskyn sy eerste roman, Glimlag (Human & Rousseau, 1993), waarin die dekonstruksie van die krimi reeds te bespeur is. In Glimlag is daar weliswaar ’n ondersoekende joernalis, Trens Phillips, ook bekend as Phillip Trent, wat die saak ondersoek – ’n speurder, dus. Die skuldiges word ook uiteindelik aan die leser geopenbaar. Op hierdie punt word Phillips egter vermoor en die skuldiges kom skotvry. Om die waarheid te sê, hulle spring nie net straf vry nie, hulle leef voort in Piekniek by Hangklip.

Daar is ’n ou gesegde in die letterkunde: “Murder your darlings.” Maar “Murder your investigator” is nie aan te bevole vir skrywers wat ’n reeks krimiverhale wil skryf nie.

Kerneels Breytenbach skyn dus ’n gewoontemisdadiger te wees. Dit sal alle lesers baat om Kerneels Breytenbach vroeëre werke te bestudeer, maar aangesien hulle moeilik bekombaar is deesdae, sal kort opsommings verstrek word oor drie belangrike raakpunte met die roman onder bespreking.

  • Ten eerste sal die posisie van Jaap Schvantz en sy trawante ondersoek word.
  • Ten tweede sal enkele kriminele aktiwiteite in die setwerk van die boek ondersoek word.
  • Ten derde sal die dekonstruksie van huise en kos ondersoek word in ’n poging om die dekonstruksie van die krimi te verstaan.


Jaap Schvantz se onheilige drie-eenheid

Die leser van Piekniek by Hangklip ontmoet vir Jaap Schvantz ten tyde van ’n ete wat Rius Alvaraalto aanbied om die bemagtingskonsultant Marta Bosch en die kerkman Jaap Schvantz te oorreed om hom miljoene rand te gee vir die aankoop van grond naby Genadendal. Schvantz kelder dan hierdie planne deur vorendag te kom met ’n ware bemagtigingskema, een wat ongetwyfeld die gemeenskap sal help, maar wat ook vir hom en sy kerk verdere miljoene sal inbring.

Schvantz is die finansiële bestuurder van twee predikers, OD Hardon en Die Seun. Dié twee hou charismatiese dienste waartydens miljoene uit die sakke van gewone mense gebid word. Schvantz bestuur hierdie miljoene in ’n poging om homself nog verder te verryk.

Heyns verwys in sy resensie daarna dat dit vreemd is om bemagtigingsplanne uit die mond van Schvantz te hoor – te meer nog as Kerneels Breytenbach self teen die einde van die boek noem dat daardie planne eintlik geskep is deur Kobus Pienaar, ’n anti-apartheidsaktivis en regsgeleerde wat jare lank verbonde was aan die Legal Resources Centre.

Ek dink nie dis vreemd nie. Schvantz is ’n deurtrapte skelm. Hy het eenvoudig Kobus Pienaar se planne gesteel.

Lesers wat nie bekend is met Glimlag nie, sal nie weet hoe diep die skelmstreke van hierdie man loop nie. In Glimlag is Schvantz nog betrokke by die destydse Departement van Samewerking en Ontwikkeling, ’n staatsdepartement wat na swart mense se lewensomstandighede moes omsien. Ten tyde van PW Botha en FW de Klerk se bewind was Schvantz in beheer van ’n magtige organisasie wat nie net vir homself miljoene in die sak gebring het nie, maar wat ook ’n skrikbewind gevoer het teen enigiemand wat dit sou durf waag om Schvantz teen te gaan. Nou, ná die ANC oorgeneem het, sou Schvantz ’n ander heenkome móés soek – en die goedgelowige Christene wat bereid is om hulle salarisse aan skelms te gee, maak hom nou ryk.

Om OD Hardon en Die Seun, die twee predikers wat tans onder Schvantz werk, se modus operandi te verstaan, moet ’n mens teruggaan na Morsdood van die honger, en veral dan die kortverhaal “’n Ligte verassing”. Hier sien die leser hulle twee in aksie, besig met fyn planne om mense op te sweep sodat die geld uit die kerkgangers se sakke kan vlieg.

Ander resensente (Viljoen 2011 en Heyns 2011) het reeds melding gemaak van die interessante name wat Breytenbach gebruik het, maar niemand het skynbaar nog die betekenis agter die name Schvantz, Hardon en Die Seun uitgespel nie.

Lesers mag dalk bewus wees dat schvantz ’n informele Jidiese term is om na ’n penis te verwys. Jaap Schvantz is dus ’n prick.

Die term hard-on hoef hopelik nie aan die volwasse leser verduidelik te word nie.

En iemand wat OD aan énigiets, ook aan die godsdiens, is in gevaar.

Hierdie onheilige drie-eenheid is, volgens die boek, besig om die Heilige Drie-eenheid se mooi woorde vir hulle eie gewin te gebruik. Is dit dan vreemd dat die mooi woorde van ’n kampvegter vir die armes ook misbruik word om Rius Alvaraalto se geld te bekom?


Die vreemde setwerk

’n Redakteur het ’n ondankbare werk. Goeie boeke het altyd goeie outeurs. Boeke met foute het altyd swak redakteurs. In hierdie geval sou die arme redakteur én die proefleser hare op die tande nodig moes hê om Piekniek by Hangklip deur te sien.

In Piekniek by Hangklip kom daar telkens ’n vreemde verskynsel voor. Die eerste letter van ’n woord word plek-plek herhaal, met ’n koppelteken tussenin. Hier is drie voorbeelde:

  • “E-en wat meer is ...” (76)
  • “E-en dan begin sy die meubels opmerk ...” (85)
  • “... s-selfs sover gaan om ...” (361).

Dit lyk werklik na setfoute. Die feit is egter dat dit net nóg ’n manier is waarop Breytenbach die orde uitdaag. Reeds in Glimlag het hierdie gebruik voorgekom. (In Glimlag kom die studentikose gebruik van ’n onderstebo vraagteken ook voor om sekere kwessies te beklemtoon.)

Tog kan dit nóg verder teruggespeur word. Lesers kan gerus die kriminele teks “’n Lied in die hart” lees in Morsdood van die honger om die oorsprong hiervan raak te sien.

Ek is onseker wat die werklike nut is van dié verskynsel. Aan die een kant verpersoonlik dit ’n stotterende verteller, of ’n argelose, singende verteller; aan die ander kant is dit gewoon net nóg ’n kriminele oortreding van die gedragkodes waarmee Breytenbach (jare lank self ’n uitgewer) gewoond is.

Die vreemde gebruik van ellipse op bl 468  – iets wat op hoërskoolvlak al ontmoedig word – kom uit Morsdood van die honger en veral dan in die verhaal waar die leser met OD Hardon en Die Seun kennis maak, naamlik “’n Ligte verassing”.

Breytenbach steek tong uit vir die leser, verál vir die leser wat ’n foutlose krimi soek.


Argitektuur en kos word gedekonstrueer

In Morsdood van die honger word argitektuur reeds ’n belangrike interteks en in Glimlag betrek Trens Phillips ’n ou pakstoor en omskep dit in ’n ateljee – talle huise word egter ook in meer besonderhede bespreek in hierdie roman – so ook die argitektuur van die gebou waarin die koerant gevestig is.

Goeie kos word ook in beide boeke verorber.

Dit is egter eers wanneer die dekonstruksie van die argitektuur en kos in Piekniek by Hangklip (as metafore) vergelyk word met die beskrywings van kos en argitektuur in Breytenbach se eerste twee werke dat die dekonstruksie van die krimi duideliker word.

In “Die teater van bloed” in Morsdood van die honger kom die volgende beskrywings van ’n huis voor (op bl 47):

As ’n mens bedags daar onder op die strand staan en jy kyk op hierheen (...) lyk dit of vertikale lyne die huis oorheers. Kyk, net hier langsaan die ruit, weerskante, is daar twee pilare van nege meter hoog. Dit styg op van die vierde vlak af, al langs die glasomhulsel van hierdie trapskag. Die pilare ondersteun die slaapkamer se balkonne.

Op die volgende bladsy staan daar: “Hier in die huis voel dit eerder asof horisontale lyne domineer.”

In Glimlag word die argitektuur van die koerant se hoofkantoor reeds vergelyk met ’n persoonlikheid – en met die koerant se visie (bl 26):

Die Ons Stem-gebou is ontwerp deur die Afrikaner-argitek Paul Kersey. Die gedurfde dog behoudende gees waarmee Kersey dit in die jare sestig as toonbeeld van die Krugersdorp-Bauhaus-styl saamgestel het, was duidelik merkbaar in die voltooide produk.

In Piekniek by Hangklip is daar niks sulke lyne meer oor nie. Let op hoe die argitek, Tertius van Tlön, se huis lyk (ble 82–3):

Dit lyk asof dit van ’n groot sponskoek en baie lekkergoed-versierings gebou is met die uitsluitlike doel om die korset van Aspoestertjie se aaklige ma voor te stel, windskeef vasgetrek met ’n gordel, sodat die balein, wat die dak se nok vorm, een kant in die grond druk en ander kant tussen die blare van die bome wegraak.

Von Tlön skep naamlik metafore, nie bloot wonings nie. Let op hoe Sonja die biblioteek waarneem (bl 84):

Skewe rakke, onegalige rakke, met boeke wat op ’n verbysterende manier die rakke vul. Sonja is nie seker of die permutasies van rakke eintlik net ’n optiese illusie is nie.

Waarop Von Tlön verduidelik (bl 85): “Nou moet jy weer in terme van metafore dink, Sonja. Nè? Is dit rakke, of is dit ’n biblioteek? Sien? Sien jy?”

Die leser word ook verwys na die halfbladsy lange bespreking oor wat ’n deur-as-metafoor nou eintlik is – sien bl 84.

Ook kos word só behandel in Piekniek by Hangklip. In Breytenbach se eerste twee werke kom kos telkens voor en word dit liefderyk beskryf, maar dit is in hierdie roman waar die essensie van kos ondersoek word deur dit te dekonstrueer.

Op bl 358 bestel die eters “Traditional Cape Brandy Pudding”. Op die volgende bladsy word dit afgelewer. Onderaan bl 359 en boaan bl 360 staan:

Voor hulle, op netjies vierhoekige borde, lê ’n wit skuimpie met ’n sweem van bruin korreltjies hier en daar sigbaar.

Sonja skep daarvan en proe.

Dit smaak beslis na Kaapse brandewynpoeding.

Maar Rius Alvaraalto, sy gemoed wat heelaand van een uiterste na ’n ander geslinger het terwyl Jaap Schvantz sy wat Rius is se Aeternum-projek gekaap het, afgetakel het en nuut herbou het sodat dit blink met die glinstering van Sionstop, het breekpunt bereik.

Alvaraalto roep dan die kelnerin nader en skree: “Iemand het die poeding gesteel!”

Die leser sal nou, hopelik glimlaggend, besef, dat dit presies die punt was waar ek besluit het om Kerneels Breytenbach aan te kla. Iemand het die krimi gesteel!
 

Ter afsluiting

Ek het, tong in die kies, probeer om die leser op ’n speurtog te lei om ’n klein aantal leidrade in Piekniek by Hangklip beter te verstaan. Dit is hoegenaamd nie ’n volledige verslag nie. Lesers word ook aangemoedig om Viljoen en Heyns resensies te lees.

’n Onlangse gesprek met die digter, akademikus en uitgewer Martjie Bosman moet ook vermeld word. Bosman het my daarop gewys dat die tipiese speurverhaal ’n baie modernistiese teks is, en een waarin sekerhede vasgevang word. Mense wat onseker is, sóék sekerheid, en lees dus graag ’n teks waarin goed wel die kwaad sal oorwin, aldus Bosman (wat hiermee aansluit by Brink 2010).

Dit is die punt. Soos die tradisionele krimi sekerheid verskaf, so is die modernistiese argitektuur strak en duidelik – dit bied ondersteuning (sien die bespreking hier bo).

Lesers in Suid-Afrika, soos ook in die res van die wêreld, gaan gebuk onder onsekere ekonomiese en politieke omstandighede. Dit sou volgens Bosman een van die redes wees waarom die tradisionele krimi, wat volgens die reëls in Brink (2010) se lesing geskryf is, so gewild is.

Waarom sou Breytenbach, wat ’n besondere kennis van die krimi het, kies om ’n teks te skryf wat nie aan die reëls voldoen nie? Of dan, waarom het hy die krimi gesteel?

Dit is eers wanneer die leser met die dekonstruksie van die geliefde medium gekonfronteer word (soos Rius Alvaraalto wat met ’n gedekonstrueerde brandewynpoeding gekonfronteer word nét nadat sy drome van kitsrykdom deur Jaap Schvantz gesteel is) dat die waarde van die verlies, of dan dit wat die dekonstruksie nié is nie, weer na waarde geskat kan word.

Breytenbach wil hê die leser moet weer sélf begin nadink oor die misdaadroman.


Die vonnis?

Aangesien ek as aanklaer opgetree, sal ek ook aan die lesende jurie voorhou dat Breytenbach gevra sal word om ons weer uit te daag met ’n volgende boek.


Bibliografie

Brink, André P. 2010. Land van geweld. Beeld, 25 September 2010.

Chris. 2011. Joan Hambidge gesels met Kerneels Breytenbach by die bekendstelling van Piekniek by Hangklip. BooksLive, 8 November 2011.

De Vries, Izak. 1999. Die onderskepper. LitNet. Desember 1999.

—. 2009. “Geldwolf: ’n Roman vir die nuwe Suid-Afrika” in: LitNet. 24 Junie 2009.

—. 2010. Reaksie op misdaad gryp lesers aan. Rapport, 6 November 2011.

Heyns, Michiel. 2011. Op soek na sy mojo. Beeld, 9 Oktober 2011.

Van der Merwe, Carel. 2009. Geldwolf. Umuzi: Kaapstad.

Viljoen, Louise. 2011. Piekniek by Hangklip ’n seepgladde plesier. LitNet, 8 September 2011.

Weideman, George. 1997. Die Onderskepper. Queillerie: Kaapstad.

—. 1999. Draaijakkals. Tafelberg: Kaapstad.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top