COVID-19: Huiswerkers in onrustige tye

  • 1

“Huiswerkers in tye van politieke onrus” is die titel van ’n hoofstuk in Soos familie (2015; 2016).1 In die Engelse Like family (2019) word bloot verwys na “troubled times”. Wanneer Suid-Afrikaners van onrus praat, is die veronderstelling immers byna vanselfsprekend dat dit polities van aard sal wees. Maar hoe het ons moeilikheid en onrus nie die afgelope tien dae verander nie!

In bogenoemde hoofstuk in Soos familie bespreek ek veral romans wat handel oor politieke gebeure van die 1970’s en 1980’s. Boeke soos Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), André P Brink se ’n Droë wit seisoen (1979) en JM Coetzee se Age of iron (1990). Ek analiseer ook Antjie Krog se ontwrigtende reeks gedigte “bediendepraatjies” in Mede-wete (2014) en verwys in die Engelse boek boonop na Marc Lottering se gewilde Aunty Merle wat in 2017–2018 in die Baxter-teater in Kaapstad opgevoer is. Hierin is Lydia van Khayelitsha die bediende wat al twintig jaar lank vir die bruin Abrahams-gesin in Athlone werk.

Die kernkarakters in hierdie belangrike letterkundige tekste is almal huiswerkers, mense wat ek as die belangrikste kontakfigure in Suid-Afrika se verdeelde ongelyke samelewing beskou. Net soos Krotoa wat vir Jan van Riebeeck se gesin gewerk het tydens die 1650’s, is huiswerkers tot op die dag van vandag nie slegs kinderoppassers, huishoudsters en versorgers nie, maar ook tolke tussen groepe wie se omstandighede hemelsbreed verskil.

Joubert se Poppie Nongena is gebaseer op die verhaal van Eunice Ntsatha wat op Kersaand 1976 na haar werkgeefster in Oranjezicht kom om haar hart uit te stort oor die township wat vanweë faksiegevegte in ’n vlammesee verander het. Joubert het onmiddellik besef dat die boek wat sy wou skryf oor die impak van die paswette op swart Suid-Afrikaners toegespits moes word op die persoonlike ervarings van hierdie een vrou. Einde Januarie het Christiaan Olwagen se aangrypende film gebaseer op die roman in première gegaan.

Coetzee se Age of iron speel af in die grimmige winter van 1986 toe geweld weer eens in die townships opgevlam het en Suid-Afrika verwikkel was in die laaste uitbarstings van die stryd teen apartheid. Die hoofkarakter is Mrs Curren. Sy het pas verneem dat sy weens kanker nie meer lank sal lewe nie. Haar huiswerker is een van haar enigste skakels met die buitewêreld wat steeds gewelddadiger word. “What I know about events in Guguletu depends solely on what Florence tells me and on what I can learn by standing on the balcony and peering northeast,” dink Mrs Curren.

Hierdie realistiese romans van Joubert en Coetzee is gebaseer op bekende politieke gebeurtenisse van daardie jare. Maar ek bespreek in die hoofstuk oor onrus ook futuristiese romans: Nadine Gordimer se July’s people (1981) en Coetzee se Life & times of Michael K (1983). Albei boeke speel af in ’n ongespesifiseerde distopiese toekoms. In July’s people vlug ’n wit gesin uit ’n chaotiese Johannesburg saam met hulle huiswerker, July, na sy tuislanddorpie. Hulle het te lank geaarsel om soos die meeste van hulle vriende te emigreer en is nou volledig afhanklik van hom.

Aan die begin van Life & times of Michael K word die ou huiswerker Anna beskryf wat siek is en in angs lewe dat haar werkgewers haar in die pad sal steek. In die bedompige klam ruimte onder die trap wat haar kamer in die Seepuntse woonstelgebou is, voel sy soos “a toad under a stone”: “[S]he saw herself withheld from the gutter only by the unreliable goodwill of the Buhrmanns.” Die dwingelandy van ’n militêre diktatuur en drakoniese burokratiese reëls perk alle stedelinge se bewegingsvryheid in en Michael wag tevergeefs vir ’n permit om die stad te mag verlaat. Ten einde raad laai hy sy ma op ’n kruiwa om aan die chaotiese Kaapstad te probeer ontsnap. Anna sterf in Stellenbosch en na weke bereik Michael uiteindelik Prins Albert in die Karoo en kruip weg op die verlate plaas waar sy ma grootgeword het.

Die verbeelde distopiese omstandighede wat deur Coetzee beskryf word, was uiteraard moontlik en waarskynlik ten tye van Michael K se publikasie in 1983, maar het ook, ondanks die onvolhoubaarheid van die apartheidstelsel, op ’n manier nog as onwaarskynlik voorgekom. Die gevreesde revolusie het ook nooit plaasgevind nie.

Die jaar 1990, en veral die verkiesing van 1994, het uiteindelik ’n dringend-noodsaaklike waterskeiding in Suid-Afrika veroorsaak.

Dat die alledaagse werklikheid nóg ’n keer en selfs nóg meer drasties sou verander, boonop so dramaties, was tot middel-Maart 2020 eintlik ondenkbaar.

Nie net swart mense se bewegings is nou ingeperk soos wat nog in die tyd van Poppie Nongena weens paswette die geval was nie; ’n militêre staatsgreep veroorsaak nie chaos soos in die destyds verbeelde distopiese en apokaliptiese tonele wat deur Gordimer en Coetzee beskryf is nie. Trouens, ook Karel Schoeman en Eben Venter het in hulle toekomsromans Na die geliefde land (1972) en Horrelpoot (2006) soortgelyke omwentelings beskryf.

Nou is dit ’n virus wat die hele wêreld in ’n ystergreep het en al tot bykans 83 000 sterftes wêreldwyd gelei het. Distopiese situasies speel hulle af. COVID-19 lei tot situasies wat deur Gordimer, Coetzee en ander slegs verbeel is: Strate is verlate, hele bevolkings is vasgekluister in hulle huise. Die polisie en weermag word ontplooi om sosiale afstand tussen mense af te dwing; mense isoleer hulleself, is vreesbevange om blootgestel te word aan ander en aan die virus. Die bewegings van álmal, arm en ryk, swart en wit, word beperk op ’n skaal wat niemand voorheen kon bedink nie.

En vir die eerste keer in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is huiswerkers nie meer die land se kontakfigure nie. Sedert die grendelstaat, lockdown, ’n realiteit geword het op Vrydagoggend 27 Maart 2020, is daar geen Poppies of vrouens soos Florence en Anna meer aanwesig in die alledaagse straatbeeld van Suid-Afrika se meer gegoede woonbuurte nie. Reeds meer as ’n week lank vleg geen minibustaxi’s meer deur hierdie wyke soggens vroeg nie, betree geen huiswerkers meer die private ruimtes van meer bevoorregte huishoudings nie.

Vir inligting oor wat aan die ander kant van die grense van hoë mure en heinings gebeur, kry ons nie meer eerstehandse nuus van boodskappers met hulle kopdoeke en voorskote in die vertroude ruimtes van ons kombuise nie, maar maak ons staat slegs op die internet, sosiale media en ander digitale nuusbronne. Alhoewel die virus enigiemand kan tref, maak dit sosiale stratifikasie en ongelykheid wêreldwyd pynlik duidelik. Dit gebeur in New York, maar sekerlik ook in Suid-Afrika waar die armstes die eerste honger ly.

’n Paar dae gelede het die joernalis Musawenkosi Cabe in New Frame2 geskryf dat huiswerkers van die eerste mense was wat uit hulle werkomgewings gedryf is deur vreesbevange werkgewers. Pinky Mashiane, president van die United Domestic Workers of South Africa, het byvoorbeeld vertel van ’n vrou met ’n ligte hoesie wat onmiddellik verbied is om die huis waar sy jare lank welkom was te betree. “They got an Uber for her to take her to the taxi rank [to get home].” Mashiane ontvang voortdurend oproepe van vroue wat angstig en gefrustreerd is oor COVID-19. “Baie vroue het slegs die helfte van hulle loon ontvang en sal eers weer betaal word wanneer hulle terugkom werk toe.”

Die eeue oue verstrengelde Suid-Afrikaanse leefwyse het abrup tot stilstand gekom. Die geweld van die virus maak geen onderskeid tussen klas en ras of geloof en nasionaliteit nie. Op ’n manier is die virus die groot gelykmaker. Huiswerkers is nie meer binne die mure van hulle werkgewers welkom nie, selfs al is hulle as “soos familie” beskryf. Hulle verkies sekerlik om by hulle eie gesinne te wees, maar tog is dit skrynend hoe baie aan hulle eie lot oorgelaat word. Die grendeltoestand veroorsaak armoede en honger vir baie, insluitend die miljoene huiswerkers en hulle afhanklikes.

Alle werkgewers van ’n vrou wat twee weke gelede nog as “soos familie” beskryf is, sal weet dat sy nou meer as ooit hulle solidariteit nodig het. Álmal ervaar verlies en staar ’n onsekere toekoms in die gesig, maar hulp aan die een vrou wat jy van naby ken, kan die een belangrike persoonlike stap van meer bevoorregte mense wees om te probeer verseker dat die virus die gaping en ongelykheid nie vergroot wat Suid-Afrika nog steeds ’n kwarteeu ná die sogenaamde beëindiging van apartheid domineer nie.

Eindnotas

1 Ena Jansen: Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 en 2016. Sien ook Like family. Domestic workers in South African history and literature. Johannesburg: Wits University Press, 2019. Die Nederlandse vertaling, Bijna familie (2016), is gepubliseer deur Cossee in Amsterdam.

2 https://www.newframe.com/domestic-workers-fear-retrenchments-amid-covid-19 (2 April 2020 geraadpleeg)

Lees ook:

Die swerfjare van COVID-19

  • 1

Kommentaar

  • Is daar enige idee wanneer hierdie mense weer wettiglik kan werk? Om vadersnaam waarvan moet hierdie mense leef en dan voorsien hulle ook nog die ander in hulle gesinne, baie keer klein kindertjies...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top